Posts Tagged ‘Eet Kreef’

Gisela Ullyatt. “In ’n niemandsland het ek verdwaal”: Johannes Kerkorrel (27 Maart 1960-12 Nov. 2002)

Monday, November 10th, 2014

November 2002. Ons is op pad Suid-kus toe. Ek kry ’n SMS-boodskap van ’n ou vriendin. “Johannes Kerkorrel dood”.

Die hele karrit daarnatoe en terug luister ons na Kerkorrel-kassette. By Van Reenenspas begin Eet Kreef uitrafel; die kassetspeler spu bruin lint uit. Onherroeplik beskadig. Ek koop ’n plaasvervangende CD in Look ’n Listen Pavilion se piepklein Afrikaanse afdeling. My kop loop draaie wanneer ek op die strand is:

 

Hier kom die somer die son

hier kom die somer die son

dae soos heuning warm en lou

 

My kop rewind tyd soos ek ander kassette in die karradio terugspeel: 1991. Pas in die hoërskool, te jonk om by die 1989 Voëlvry-konsert te kon wees, stig ek en my beste pel, E, ons eie alternatiewe groep. Ons koop Eet Kreef en luister ook na Koos Kombuis. By sokkies blêr die nuutste Roxette se Joy ride, maar ons, ons luister na Kerkorrel. Ons is alternatief. Ons maak vir ons alternatiewe name op. Ons wens Houtstok het nog bestaan. ’n Jaar later koop ek Bloudruk met karige sakgeld wat ek vir maande spaar.  Later kom Cyanide in die beefcake; sommige van Kerkorrel se mees aangrypende lirieke. Daarna verval hy in die rave-kultuur met lirieke wat steeds aangryp soos “my ewige ontwykende beminde” en “sirkusdier”, maar helaas, die musiek het net nie meer die impak van byvoorbeeld Bloudruk nie. Dis ’n natuurlike fenomeen onder sangers en hulle volgelinge: die eerste generasie luisteraars en aanhangers identifiseer bloot meer met die eerste albums van die kunstenaar. Dink maar hoe Bob Dylan uitgejou is veral tydens ’n toer in Engeland toe hy van folk hero in elektriese hero ontpop het. Die wêreld gaan aan.

Forward: 2003. Kerkorrel. ’n jaar later … in die staatsteater, ’n mooi rymende titel van die DVD van die konsert wat vir Kerkorrel gehou is, ‘n jaar na sy selfdood naby Kleinmond. Talle van sy songs word gesing; Karen Zoid, toe nog die jong-opkomende-zoid, ontroer veral met haar song “Foto teen die muur” wat sy vir hom geskryf het. Haar woede oor sy selfdood is sigbaar. Haar weergawes van sy “Sit dit af” en “Ek ry ’n BMW” is rouer as rou. Die skok, steeds immer aanwesig. Stef Bos se weergawe van “Hillbrow” ontroer geweldig met sy Nederlandse aanslag. Valiant Swart (wat deur Kerkorrel as die opvolger of fakkeldraer van die post-Voëlvrybeweging beskou is) se “Kleinmond goodbye” is sag, is seer. Maar Amanda Strydom se weergawe van “Hoe ek voel” laat ’n mens voel asof hy iewers in die omstreke was. Strydom se rou pyn word veral saamgevat wanneer sy die woorde van hierdie song verander na ‘ons’ in plaas van die oorspronklike ‘ek’:

 

Sou jy weet, jy sou weet

as jy teen die tyd nog vergeet

hoe ons voel, hoe ons voel

oor jou

 

Strydom se lirieke wat sy ter herinnering geskryf het, ontruk nie die alter ego Kerkorrel aan die vergetelheid nie, maar wel Ralph Rabie, vriend en vertroueling. Die volgende lirieke (eerste drie verse) is in Kaalvoet (2004:53) gepubliseer:

 

Ek het gedroom (vir Ralph)

 

Ek het gedroom jy het opgestaan

uit jou dood

en aan my deur kom klop soos

altyd met blomme

wyn en brood

Jy sê: “Ek moes net vinnig

wegkom,” en jy maak die

bottel oop

“Ek is jammer oor die drama,

maar dis die pad wat ek

moes loop…”

 

En jy gaan sit op die rusbank

Jy glimlag verleë

My mond is droog, my hande

Beef as ek die glase vir jou gee

“Het jy enige idéé hoe ons gevoel

het met jou dood?

Jy was selfsugtig, jy was wreed.”

Jy sê: “Miss Mandy, sny die brood.”

 

En so hard soos ek probeer, kan

ek nie uit hierdie droom ontsnap

En ek sê vir God: “Meester

hierdie droom is ’n siek grap.”

Maar hier sit ons op die rusbank

en jy kyk my in die oë

en jy sê ek moet vir altyd in die

liefde bly glo

jy sê ek moet vir altyd in die

liefde bly glo

 

Daar is verbasend min Afrikaanse gedigte geskryf in die twaalf jaar sedert JK se dood, maar die leser vind wel ’n roerende lykdig in Johann de Lange se Stil punt van die aarde (2014:98):

 

Die ander kant

Vir Ralph

Jou laaste songs het somber ondertone

van ’n finale kleedrepetisie:

in “Die ander kant” sing jy in sober swart

ontwapen voor jou demone

in ’n naamlose bos, in & uit

fokus met oë wat ontroosbaar pleit.

sommiges onder ons weet

voortydig van ons dood.

 

Jy het jou aan ’n wattelboom

vasgemaak, van alles losgemaak

& jou woorde geword,

& ’n naam op ’n dossier. Ook hiér

in die bos van die verbeelding

het die middag botstil geraak.

 

Vir sommige was hy Johnny K, vir ander die ewige ontwykende Kerkorrel van die laaste doodsrukke en -snikke van apartheid; die vergestalting van die weermag-generasie wat jong seuns soos Ralph Rabie ingestuur het en ironies genoeg apartheidsrebelle soos Johannes Kerkorrel ontketen en teruggestuur het. Vir ander was hy Ralph, die introverte joernalis, met die skerp brein en foutlose Afrikaans. Hoe dit ook al sy, hy was nie net ’n popster nie; sy lirieke was soms meer soos gedigte.

Ons het ’n nuwe protes-generasie nodig, een wat nie verswelg in sy eie plesierige vette nie. Is dit hoegenaamd moontlik? Of koes hulle vir hul BMW’s, goue plate en vintage kitaar-altare in hierdie deurmekaar en Eskom-bedonderde niemandsland? Ek gee die laaste woord aan Ralph/Johannes:

 

Derde Wêreld (Bloudruk)

Lente in die ou Transvaal

môredou en oggendlig

eerste son op sink en staal

en kolle nat groen gras

klavier se note hou my vas

gisteraand weer donderweer

 

in niemandsland het ek verdwaal

sal ons ooit weer die daglig haal

die toergids gee die reisplan aan

sê totsiens Azanië

ek groet my vriende een vir een

versigtig elke tree

en ek stap deur die spieël se raam

die derde wêreld in

 

Van die allerlaaste beeldmateriaal van Kerkorrel

is te sien op http://www.youtube.com/watch?v=cGTiynJ8pqA deur Tiny Laubscher

 

Bibliografie

 

De Lange, J. 2014. stil punt van die aarde. Kaapstad: Human & Rousseau.

Strydom, A. 2004. Kaalvoet. Liriektekste. Parklands: Genugtig!