Posts Tagged ‘Egonne Roth’

Egonne Roth. Die Dooie See

Saturday, April 6th, 2013

 

And the sea, this sea, 
smaller than its myth, smaller than 
your hands, is a crystalline isthmus. 
Its beginning is like its end[i]

Psoriasis: Voorskrif van die  doktor: Tien dae by die Dooie See

Ons  vertrek na werk en arriveer in Ein Bokek in die donker. Ons eet op ons eie stoepie en verlustig ons in die liggies en die sagte aandlug. Die volgende oggend word Judy voor my wakker en trek die gordyne oop, ‘n onverwagse koel wind waai in by die deur.  “Kyk,” maak sy my wakker. Ek maak my oë oop, lig my kop en daar anderkant die reëling van ons stoepie lê die blou groen see en wag vir ons, lui en rustig. Ek val terug op die kussing en strek uit van pure lekkerheid. Die lug hier in die diepste skeur op aarde is swaar met allerhande elemente waarvan ek maar min weet, maar ek weet wel dat daar baie broom in die lug is. In die ou dae het hulle mens wat aan spanning gely het broom laat drink. Nou asem ek diep in en voel hoe die spanning uit my wegglip.

“Kom ons gaan ontbyt,” stel Judy voor, “en dan kan jy langs die see verder gaan slaap.”

Oor die ontbyt in Israeliese hotelle  sou ek kon ‘n hele blog skryf – dit verdien ‘n boek – of ’n gedig. Die probleem is dat as jy eers die keuses van vis en kaas en groente en vrugte en joghurts en gebak ontdek het, is daar nie tyd of energie vir dinge soos boeke of gedigte skryf nie – dit verg al jou krag en aandag. Dit is die beste maaltyd van die dag glo ek vas.

Gou ontwikkel ons ‘n roetine: stap, ontbyt, poedelkaal in die solarium, ‘n paar lengtes in die hotelswembad – swembroek weer aan, dryf op die Dooie See, siësta in die kamer, ‘n besoek aan die spa met sy verskillende warm poele, halfuur terug in die solarium, ‘n glasie wyn op ons stoep en vroeg aan die slaap. Ons begin wonder wat eintlik help vir die psoriase – die son sonder UV-strale, die sout water of die broom in die lug wat jou forseer om te ontspan en te slaap? Of is dit die magiese interaksie tussen die drie. Hoe dit ookal sy, ons kla nie.

Uiteraard is dit nie ons eerste besoek aan die Dooie See nie, maar dit bly altyd ‘n oomblik van wonder as mens in die koel sagte water instap – die soutkorreltjies steek jou voete  en op ‘n sekere punt trek jy jou knieë op en plop! Daar dryf jy. “A sea you cannot even drown in. / It takes life to take life.[ii]” Dis natuurlik nie heeltemaal waar nie, maar dis verseker moeilik om in hierdie soutwater te verdrink. En ek, van nature lui, kan dryf en dryf sonder om op te let na die tyd of die son of die windjie wat liggies die water versteur.

Op die sonbeddens slaap ons verder of gesels sonder erns oor los gedagtes wat geen rym of rede het nie. Dis vroeg lente en die son is nie juis warm genoeg om skade te doen nie – net om strelend te voel. Elke dan en wan kyk ek rond om te sien of iets êrens gebeur, maar gewoonlik is daar niks om opgewonde oor te raak nie. Dan op die oggend van Obama se finale dag in Israel…

“Kyk,” sê ek vir Judy en wys in die rigting van Jordanië. Die lig en lug is besig om te verander – alles ontwikkel ‘n metaliese glans. Eers kan ons dit nie verstaan nie.  Dan merk ons dat ander mense ook rondkyk en terugkyk na die berge agter ons. Die hemel agter die berg is donker amber – die hotel gloei met ‘n buitengewone lig. Die goud-brons in die lug word al intenser.

Nou verander die atmosfeer. Mense word wakker, pak op en vinnig loop die strand leeg. Ook ons kies kant hotel toe. Dit is omtrent 300m maar teen die tyd wat ons in die koel voorportaal instap begin die wind waai. My oë brand en my keel voel krapperig. By die swembad sien ons hoe die kleiner plastiese stoele en sambrele skielik opgelig en rondgegooi word. Personeel hardloop om alles sekuur te  maak.  

Ons nuwe kamer kyk uit op die berg, maar as ons die gordyne ooptrek, is daar geen berg nie. Vanoggend was dit nog helder, nou is dit spookagtig. Net stof en sand. Dis verstikkend en donker. Ons trek die gordyne styf toe, maar elke dan en wan gee hulle ‘n trilling so asof hulle gril vir al daai stof en wind en lawaai.

Die volgende oggend word ons wakker – daar is ‘n ongemaklike grys stilte en alles is bedek met ‘n lagie vaal stof. So maak die hamsin – die woestynwind.

Hamsin[iii]

(50 days of torrid heat during summer) 

from out of the south
a blast of desert heat, 
blowing hot waves suffocating, 
Dante’s inferno has come to roost, 
hovering enveloping, 

driving Homo Erectus in doors, 
seeking shelter from Sol’s, 
expelling mood, fumes hot and heavy
trees and flora hang listlessly

even the links of man made objects, 
wilt and withdraw, tempo slows to fit, 
the weary element of moods, 
limbo with each breath, 

the hot dirty yellow sun, 
fogged by heat, 
melts the brains dries up the juices of life
seems to say beware

you are not so tall, just finite and small, 
whispering hot winds bring, mantle cover of dirt, 
glass lusterless, smeared and blurred, 
life labors beneath an eiree weird mist, 

grit your sandy teeth, 
you never get accustomed
and still many peoples 
vie for such a pace, 

will the keeper of the winds
and the gods of war, spare us, 
man made calamities greater
than these fifty days 

 



[i]Darwish,  Mahmoud.  On A Canaanite Rock At The Dead Sea 

Egonne Roth. Nuwe komposisie

Monday, August 20th, 2012

Die vrou onder my bed spook by my. Sy is so ver weg en tog weet ek sy sou so graag met my plekke wou ruil.  Toe sy Suid-Afrika na sewe-en-twintig jaar vir die eerste keer besoek het, was dit om die opening van die Taalmonument op Paarlberg by te woon. Die jaar was 1975. Daar het sy onder meer geluister na die toonsettings van gedigte van Boerneef en Ingrid Jonker deur komponiste soos Pieter de Villiers en Rosa Nepgen. Het sy gedroom dat van haar gedigte eendag ook getoonset sou word?

 

Afrikaanse Taalmonument, Paarl

Afrikaanse Taalmonument, Paarl

 

En tog was dit presies die heerlike ervaring wat ons die ander aand in die Baxterteater in Kaapstad te beurt geval het.  Twee komponiste, albei verbonde aan Ikeys se Suid-Afrikaanse Kollege vir Musiek, het werke van Afrikaanse digters getoonset – Engelse komponiste aan ‘n Engelse universiteit toonset Afrikaanse gedigte. Klink soos Olga se storie! Martin Watt het twee siklusse gekomponeer: “Vyf Liedere op Gedigte van Eugene Marais” en “Vier Liefdesliedere op Gedigte van Marlene van Niekerk”. Die donker kilheid van Marais se “Wintersnag” sal my nog lank bybly. Magdalene Minnaar was die sopraan begelei deur Albie van Schalkwyk.

Na die pouse is ons genot verder gevoer deur die jong Vrystaatse komponis Adrian More, ‘n begaafde pianis wat die mezzosopraan Monika Wassung begelei het. Sy sangsiklus “Lewensgang” bestaan uit nege liedere op gedigte deur verskillende digters. Voor die uitvoering vertel Adrian dat hy omtrent die hele Groot Verseboek deurgewerk het. “Ek ken nou my Afrikaanse letterkunde,” spot hy met homself.  Die tweede lied in die siklus is Olga Kirsch se “Huwelik”, wat die jaar na die opening van die Taalmonument in 1976 in Geil Gebied verskyn.

 

Huwelik

 

‘n Jaar of wat van angs en fel verrassing,

                        van leer en afleer, lugtige geluk,

                        dan is daar kinders.  Die pynlike aanpassing

wat diens en arbeid verg, die onderdruk

van self, lang dae en nagte sonder rus

maak dat hul al hoe meer mekaar beskou

as ouers, bondgenote in kommernis

en vreugde, maar bysaaklik man en vrou.

 

Skielik is dit ‘n afgemaakte taak.

In leë kamers sien hul mekaar weer raak –

vergete rykdom.  Albei het diep gely,

veel prysgegee en baie bygekry.

In die stil huis ontdek hul weer mekaar

soos, in ‘n veraf tuin, die eerste paar.

 

Terwyl ek na Monika se simpatieke vertolking van die woorde luister, word ek herinner aan ‘n gesprek wat ek met Olga se jonger dogter in Jerusalem gehad het. “Michal (haar ouer suster) was already in the army and I was getting ready to go. I remember seeing my mother fall in love with my father. It was very beautiful.” Dit was rondom dié tyd dat Olga weer in Afrikaans begin gedig het, maar haar mooiste verse aan haar man, Joe, skryf sy na sy dood in November,1993. Ek haal slegs een uit ‘n manuskrip van tagtig gedigte aan:

 

Portrait

 

You were mathematician and humanist,

rounded renaissance mind;

you collated and remembered

everything you read, heard and saw;

stored wisdom in anecdote

made your point by humour

no opponent could resist –

they would yield to you smiling.

 

You were generous, gentle, modest

skeptical, ironic

not least against yourself.

It took eighty-two years to make you

instants to annul you.

 

Musiek was sentraal in die lewe van die Kirsch-familie. In Plunge, die gehuggie in Litoue vanwaar Olga se vader in 1910 na Suid-Afrika geëmigreer het, het die dorpsmense smiddae op die Sabbat by die familiewoning gaan staan en luister hoe die gesin die Sabbatsliedere sing en harmoniseer. Olga se ouer suster het gedroom van die operaverhoog en haar ouer dogter het reeds op ‘n vroeë ouderdom pryse as pianis verower. Vandag tree een van haar kleindogters as tjellis op in die Londense Filharmoniese Orkes.

Ek kan my dus Olga se opgewonde, verwonderde glimlag by die aanhoor van Adrian se toonsetting van haar gedig goed voorstel. Sy het enkele klein gediggies vir haar kleinkinders getoonset, maar dié het verlore gegaan. Ek glo sy sou vir Adrian wou vra: Hoe het jy gekies? Hoe het die proses vir jou gewerk?

 

Adrian More

Adrian More

 

Daarom was dit vir my ‘n voorreg om na die konsert dié vrae oor ‘n glasie Shiraz aan Adrian te rig. Hy erken dadelik dat die proses vir hom een van die moeilikste dinge was wat hy nog ooit gedoen het. Aanvanklik wou hy dit ‘n Suid-Afrikaanse liedsiklus maak met gedigte in Engels, Afrikaans en Xhosa, maar toe kom hy tot die besef dat daar baie Afrikaanse poësie is wat vra om getoonset te word. Gevolglik het hy saam met ‘n paar vriende wat kundig is in die Afrikaanse digkuns, deur honderde gedigte van verskillende digters gelees.

“We drank wine and discussed the ones that appealed to me most. Initially I had about thirty or forty poems and we tried to figure out why they appealed more than others, and saw what theme was common to them all. Initially it was eensaamheid but that is what a great deal of poetry is about – that we are alone. It is the biggest challenge of our lives that we are alone, but it has been explored extensively in poetry. I felt I wanted to explore more. And so this theme of the life cycle, or rather a journey through life, evolved.”

Adrian erken dat dit moeilik was om gedigte te vind wat handel oor die kinderjare en gelukkig-wees. Die meeste poësie handel oor die swaarkry in die lewe… en dit het sy taak bemoeilik. Daarom begin die siklus met Adam Small se “Distrik Ses”. Adrian sê: “It is a bit lighter. The words are serious. It is a serious poem, but at least it has a little bit of humour, of youth, a bit of Coloured cynicism that brings a smile to your face. That is why I started with it – it is a bit younger.”

Verder, vertel Adrian, het hy gevind die ouer digters – of liewer die vroeër digters –  het meer liries geskryf, asof hulle bewus was van die moontlikheid van die toonsetting van hul werk. Of miskien het dit te make gehad met die styl van poësievoordrag wat destyds dominant was.

“It’s has to do with form and meter and they seem to have that traditional flow to them. Also, recent poetry seemed more contrived. Older poems tell a story – they are not trying to impress.”

Dit is sekerlik waar van Olga se gedig “Huwelik” – dit vertel ‘n storie van die opoffering en swaarkry wat dikwels gepaard gaan met ouerskap, maar dit eindig stil, tog jubelend, met die idilliese beeld van die paradys.

Die gesprek beweeg aan na die wyn en die keuse van wynname – dis soveel makliker om humor daar te vind. “I’ve always wanted to buy a bottle of Fat Bastard”, sê een in die groep wat saam oor poësie en die lied gesels. “And then the next morning you can casually comment – that Fat Bastard I had last night was so delicious, so tasty!” antwoord Adrian met ‘n stoute laggie. Daar moet tog digters wees wat oor die humor and genot van die lewe dig. Wie sou die saak kon regstel?

Egonne Roth. Riva Rubin

Sunday, April 15th, 2012

Die vrou onder my bed begin my lei in my navorsing.

“Jy moet met my ou kennis, Riva Rubin, ‘n onderhoud gaan voer – sy sal jou baie dinge kan verduidelik,” fluister sy.

Ek bel Riva. Sy is besig – ek moet later weer bel. Ek probeer later – sy versorg die proewe van haar nuwe boek. Drie jaar later se die vrou onder die bed, “Bel weer, maar benader haar die keer anders – sê vir haar…”

En so gebeur dit dat ek my die ander dag bevind in Bilu Straat in sentraal Tel Aviv. Dit grens aan die hartjie van toeriste Tel Aviv, maar geen toeriste sal hul ooit daar bevind nie. Die straatjies is nou, die woonstel blokke lyk eenders en dikwels verwaarloos, want die woestynwinde wat in hierdie land waai bedek alles met stof. Maar klop aan ‘n deur en word ingenooi en jy bevind jou in ‘n ander wêreld. Miskien is dit  in ‘n kunstenaarsateljee of in ‘n stukkie Berlyn of Vilnius of Cracow met swaar donker hout meubels en boekbelaaide rakke of dalk maak ‘n jong skryfster vir jou oop. In haar woon/skryfplek lê groot kussings bedek met Midde-Oosterse lappe op die vloer, ‘n rekenaar op die lessenaar en al die belangrikste skrywers uit Israel, Amerika en Europa in tweedehandse slapband uitgawes probeer om in stapels tussen die kussings op die vloer ‘n balans te handhaaf.

Riva maak vir my die deur oop. Sy’s kleiner, fyner as wat ek verwag het. Haar glimlag is groot en sy nooi my hartlik in. Voor my is ‘n ruim vertrek met ‘n studeerhoek aan die eenkant, gemaklike banke om ‘n koffie tafel in ‘n ander hoek en die eetkamer-kombuis in die derde hoek. Oral aan die mure hang kuns, skilderye, afdrukke, foto’s. Van dit erken ek, meestal nie. Sy stel my dadelik bekend aan die werk van haar ou vriend, Joram Kaniuk. Hy is ‘n Israeliese skrywer maar ook soms kunstenaar. Hier hang ‘n poster wat van dosyne vuurhoutjiedose gemaak is. Op elkeen het hy ‘n gesig geteken terwyl hy, soos die gewoonte in hierdie land is, in kafees koffie gedrink en gesels het. Hy’t hulle gehou en dit vorm die mees fassinerende collage van gesigte.

Riva bedien my tee, gemaak soos ons dit in Suid Afrika drink, sterk met melk, want Riva, soos Olga Kirsch, is ‘n dogter van Suid Afrikaanse immigrant Jode. Ook haar pa se familie kom uit Lithuania. Sy is in Johannesburg gebore en het daar grootgeword. Na matriek besoek sy Israel vir die eerste keer in 1949 as deel van ‘n Joods-Israeliese jeugprogram onder die beskerming van Betar. Sy keer terug na Suid Afrika waar sy haar onderwysopleiding voltooi aan die ‘Hebrew Teachers’ Seminary – “I got a good basis in Tenach!” Haar eerste man is op tragiese wyse in ‘n vliegtuigongeluk dood. Sy trou met haar tweede man, Harold Rubin, in Johannesburg in 1957 en uit hierdie huwelik is twee seuns gebore. Harold Rubins was ‘n bekende figuur in Suid-Afrikaanse kunssirkels wat sy verset teen Apartheid uitgeleef het as jazzmusikant – hy speel die klarinet – en na die Sharpeville onluste in a reeks sketse gewy aan die brutaliteit van Apartheid. Later doen hy ook in ‘n kunsprojek “My Jesus“. Dit lei tot inhegtenisname weens ‘n klag op godslastering, maar hy word in die hof vrygespreek. Kort daarna, in 1963, het hy en Riva Suid-Afrika verlaat en hul in Tel Aviv gevestig.

Riva vertel dat sy reeds van jongs af geskryf het- altyd in Engels. “I was born writing! Allow me to talk to you about poetry in poetry,” sê sy.

 

HOW THE BUTTERFLY GOT ITS COLOURS

She is eight, on the top step by the kitchen door.

The yard is cemented grey,

The shed is corrogated black, the door

and the window wood of the hut in the corner

are servant brown.

She will invent a butterfly. The first story.

 

“There’s a river, I dip watergreen on the wing tip.

There’s s thistle, I dab silvery purple on the throat.

There’s an orchard, I splash yellow and orange as I wish

on the back of my beautiful butterfly.

I take golden feelers from on high.”

 

She is eighty, behind the shutter, looking out.

An old white butterfly presents

itself on the windowpane.

Reeds in 1963 wen sy die Suid Afrikaanse PEN Sentrum Kortverhaaltoekenning. Tog is dit so dat sy, soos vele ander immigrant digters, ‘n groot gevoel van vervreemding beleef wanneer na sy in Israel aankom. Soos hulle staan sy voor die keuse om óf in ‘n landsvreemde taal te bly dig, d.w.s. in Engels in Israel, óf om te probeer aanpas en in Hebreeus te dig – ‘n oorgang wat sy, soos Olga Kirsch, besluit sy nie kan maak nie. Haar werk geniet sukses hier, maar dikwels as ‘n soort ‘tweederangse’ burger. Selfs na sy in 1999 die eerste Engelse digter is om met die Israelse Prys vir Letterkunde bekroon te word, word daar van haar gesê, “Sy’s ‘n goeie digter al is dit in Engels!” Haar werk herinner mens aan Elisabeth Eybers in die sin dat in haar gesprek met haar aangenome land sy haar moedertaal, Suid-Afrikaanse Engels, aanpas by die plaaslike kultuur en beeldspraak. Net soos die Nederlandse invloed hoorbaar in Eybers se Afrikaans is, so is die Hebreeus-Israeliese invloed aanwesig in Rubin se poësie.

 

THE SILENCE

In the inexplicable silence at the heart of my life,

I‘ve shielded my cheeks in a locust storm

I’ve crouched in long grass in my father’s dark night

I’ve touched the blood on my mother’s mouth

I’ve heard the lion’s brusque cough in the bush

I’ve seen my two sons to war

I’ve watched the wall of my house billow inward

I’ve looked into my black dog’s eyes through a gasmask,

in the inexplicable silence at the heart of my life.

In hierdie gedig uit haar nuutste versameling¹, wat vroeër vanjaar gepubliseer is, is die beelde van Afrika en Israel intiem verstrengel. Terwyl Riva diep betrokke is by die kulturele lewe van Israel, het sy nie haar geboorteland vergeet nie. Sy is in kontak met skrywers en die Joodse gemeenskap daar. So byvoorbeeld lewer sy in 2005 die Inleidende Lesing, tydens die Konferensie oor minderheidsliteratuur aan die Universiteit van Kaapstad. In Israel speel sy ‘n kardinale rol in die stryd om die herkenning van minderheidstale in ‘n Hebreeus dominante kultuur en was sy ‘n stigterslid van die ‘Israel Association of Writers in English’ waar sy ook vir etlike jaar as voorsitter gedien het.

 

Ons gesels soos twee vrouens wat mekaar al lankal ken – oor ons kinders, oor ons ouers, my pa uit Berlyn, haar ma uit Vienna. Sy lag lekker as sy sê dat sy my aksent geniet: “It’s home!” Dit lei spontaan tot die issue rondom die keuse van taal – Riva spreek Hebreeus vlot. Sy vul haar inkomste aan deur uit Hebreeus na Engels te vertaal.

“Hoekom kon iemand soos Aron Appelfeld die sprong van sy moedertaal tot Hebreeus maak, maar skrywers en veral digters soos jy en Olga Kirsch nie?” wil ek weet.

“In my opinion the Europeans, but more so the Russians had the culture,” verduidelik sy. “The Hebrew writing of those generations had very little to do with Hebrew, it had more to do with… they brought the idiom from overseas and they made it the idiom here. If was not just writing in Hebrew, but if you didn’t write in Hebrew like the Russians wrote in Hebrew you didn’t stand a chance. It was writing in a certain manner, in a certain voice. Bialik’s Hebrew was very beautiful but it had more to do with Poland or Russia or wherever he came from than it had to do with here. That’s what I’m teasing him about in my little poem.”²

 

BIALIK’S BIRD AT MY WINDOW

 

Little birdie at my window

teases me in Hebrew

tsuktsik, tsutsik

he calls me small fry – I

don’t write about him in Hebrew

like Bialik, but I

did make the journey.

 

Soos ons kuier en gesels, begin ek dinge verstaan wat vir my tot noutoe onseker was – dinge rondom immigrant wees en skrywer wees en vrou wees. Dinge waaroor ek mooi sal moet dink voor ek verder kan skryf.

 


¹Al drie Gedigte kom uit haar nuwe bundel:  Rubin, Riva.  Bialik’s Bird.  2012 KESHEV Publishing House, Israel.

²Hierdie is ‘n direkte kwotasie wat ek digitaal opgeneem het en nie graag sou wou vertaal nie.

Egonne Roth. Die vreemde vrou onder my bed.

Wednesday, March 21st, 2012

So drie jaar gelede het ‘n vreemde vrou onder my bed ingetrek. Al was sy onbekend aan my het ek haar genooi. Ek het ‘n kontrak met haar gesluit – ek sal haar weer onder die aandag van haar gehoor bring, sy sal haarself aan my bekend maak – sy sal my lei om van haar geheime te ontdek. Niemand vertel ‘n ander al hul geheime nie, maar as mens ‘n vertrouensverhouding kan opbou, dan deel jy tog ‘n paar van jou geheime met ‘n vriendin.
Toe ek haar ingenooi het, het ek min van haar geweet – Jodin, digteres, Vrystaat gebore, in Israel gewoon en gesterwe. Haar naam – Olga Kirsch. Sy’t my glad nie geken nie, maar haar suster en twee dogters, na ek hulle opgespoor het, het namens haar opgetree. Hulle het besluit Olga sal my probeer vertrou.
Al waarmee sy onder die bed ingetrek het, was een bundel gedigte: Mure van die Hart, gepubliseer in 1948. Die het ek by my ma geërf en sy by haar tante wat nie ver van Olga se geboortedorp gewoon het nie. Die tante, Sussie Buckle, het op Kroonstad drama doseer. Met die bundel as inspirasie moes ek begin soek – die internet het nie veel opgelewer nie – een kort Wikipedia berig. Toe google ek haar man – Prof Dr Joe Gillis, wiskundige. Die inligting het ek in die Wikipedia-artikeltjie gevind. Joe lei my na Ted, medewiskundige wat aan Joe ‘n huldeblyk geskryf het. Ted lei my na ‘n fisikus, die fisikus lei my na Prof Ada Zohar, sy nooi my om haar in persoon aan haar tante se huis Olga se jonger suster te kom ontmoet. Ada is Olga se jonger dogter. Een ding lei na ‘n ander en voor ek my kom kry plaas Olga fotokopieë van haar ses ander bundels langs Mure van die Hart onder my bed.
“O terloops,” sê Janette die jonger suster van Olga, “hier is ‘n ongepubliseerde manuskrip maar dis Engels.” Ons maak ‘n kopie en ek gaan lê bo-op die bed met die Engelse manuskrip, Nevertheless. ‘n Lang epiese gedig oor die aankoms van die nuwe immigrante uit oorlog-verskeurde Europa. Dis by tye aangrypend, by tye hartverskeurend, selfs soms regtig amusant veral as mens Israel ken. Die manuskrip gaan kruip onder die bed in langs haar Afrikaanse sussies. Ons probeer vasstel wie is ouer.
Die soektog duur voort. John Kannemeyer, nog fiks en flink, besig met John Coetzee, antwoord al my vrae en verwys my na Daniel Hugo. “Daniel weet meer as enigiemand anders in Suid Afrika oor Olga – praat met hom,” stel groot John voor. “O ja en jy moet met Lina ook praat,” voeg hy by.
Daniel help, gee raad, stuur fotokopieë van allerhande artikels en weier dat ek hom betaal daarvoor – “Skryf net asseblief ‘n biografie oor Olga – ons soek nie nog ‘n doktoraal nie,” is al wat hy vra.
Lina vra niks, gee niks. “Ek skryf my eie memoir oor Olga,” sê sy, “dus kan ek nie my materiaal deel nie!” Stilte. “In elk geval gaan jy seker in Ingels skryf,” voeg sy verwytend by.
Die soektog gaan verder.
Ek gaan gereeld vir Janette in Haifa kuier. Ons raak bevriend en die vrou onder my bed versamel al hoe meer besittings. Nou het sy al ‘n stapel foto’s – van haar kinderdae, van haar ma en pa, haar broers en susters. Ek ontmoet haar niggies en een nefie, gaan kuier by haar skoonsuster.
“Kom kuier in Jerusalem,” sê haar dogter Ada, “my ma het baie van haar gedigte na Engels vertaal.”
Judy en ek gaan na Jerusalem. Ada oorhandig ‘n pak vertalings. Judy begin hulle afneem sodat ek kopieë sal hê. Ek begin lees – ek raak al hoe meer opgewonde. Ada hou my gesig dop. “Ag sê tog iets,” pleit sy terwyl ek al hoe breër glimlag.
“Hier’s nie een vertaling by nie – dis alles oorspronklike gedigte,” sê ek. Ons tel vinnig – seker dertig of meer. Ada lees voor:

 

Thorns and Thistles

Their beauty is not
in the greenness and succulence
of summer,
but in the meagerness of season’s end
when rigid, grey, dry to the very pith
robbed of corolla and colour’s camouflage
each etches with a fine style on air
the delicate skeleton
of its florescence.

 

 

“Besef jy hoe lief my moeder die natuur gehad het?”
“Dis tog duidelik uit baie van haar Afrikaanse gedigte,” vertel ek haar dogter wat geen woord Afrikaans verstaan nie. “Sy’t ook ‘n sagte plekkie vir ons tuisgebied gehad,” voeg ek by.
“Wel, sy’t amper daar gaan woon,” se Ada. Dis waar. Die feite ken ek al. Ek weet sy was lief vir Galilea en daarom nooi sy haar geliefde man om saam met haar weer daar te gaan kuier.

Kom, my beminde, laat ons ry
ver van die laagland langs die kus
waar saans en soggens roetswaar mis,
die einder grimmig verf; verby
fabrieke en teer-versmoorde grond
wag van die Middellandse See –
Saffo se glasklaar see, nou mond
gedwing om slyk en vuil te sluk,
al die uitwerpsels van die land,
totdat die troebel dieptes ruk
en vullis uitbraak op die strand.
Laat ons opgaan na Galilea,
klim tot die lelike en die groue
wegduik agter blou heuwelvoue:
Hoogte – swart skagte kloof aan kloof,
stilte-insekgebrom verdoof,
vry aarde nooit getem deur teer,
bome wat op die rante buk
voor wind wat slegs berge keer,
wolke alleen tuur op ons neer.
Saans, omgeskep deur ruimte en lug
keer ons tot vreemde kamers terug
en reik in blinde oergebaar
arms en lippe vir mekaar.
Buite die skemerige gordyn
rankende takke van die Tuin.

(Ruie Tuin, 1983 p7)

 

Egonne Roth. Vanessa Fogel

Thursday, October 6th, 2011

 

Ek onthou die eerste klas van ons M-program in Kreatiewe Skryfkuns. Daar was elf van ons – nommer twaalf se pa het op sterwe in Ierland gelê – hy’t nooit opgedaag nie. Ek was spyt want ek is baie lief vir die Ierse stem en humor. Ek was nie die oudste student in die klas nie, maar die meeste was wel so jonk soos my kinders. Ek het hulle versigtig bestudeer. ‘n Paar het uitgestaan, een omdat sy so klein en maer was dat dit moeilik was om te glo sy’s oud genoeg om daar te wees. Sy’s ‘n geslypte koerantredakteur ontdek ek later. Die ander ding wat uitgestaan het is dat sy ‘n Duitse dirndl rok in rooi en wit aangehad het en toe sê sy wil ‘n roman skryf. Almal wil ‘n roman skryf! Wel, ek het toe al geweet dat ek nie ‘n roman wil skryf nie, maar dit is soort van die doel van sulke programme, nie waar nie?! So my nie-fiksie drome was my geheim … vir eers.
Maar Vanessa, die meisie in die rooi en wit dirndl rok wat dit duidelik gemaak het sy gaan ʼn roman skryf , het stil haar droom, haar opdrag gevolg. Haar kortverhale wat sy onder protes geskryf het, was anders, nes haar klere anders was – een dag uiters modern en sexy, die volgende dag outyds Duits en effe preuts, maar sy het altyd mooi gelyk want sy is mooi. As groep ontwikkel ons vinnig ‘n groepsgebondenheid: ons eet saam op die gras tussen ons klasse, elke dan en wan gaan drink ons ‘n bier  êrens in Tel Aviv saam. Die enigste man in die klas woon nes ek in die noorde van Israel. Ons ry dus elke Dinsdag 45 minute bus en dan ‘n uur en ‘n half trein saam en al die pad huis toe bespreek ons klasse, klasmaats, lektore en wat ons wil skryf. Sy eerste kortverhaal het geëindig met die woorde: “He looked into the mirror and saw the face of a man who had killed another man.” Daaroor het ons ook lank gesels.
 
En toe’s dit alles verby. Ons het graad gevang en spat uitmekaar.
 
Eendag kry ek ‘n brief van Vanessa – haar roman is in Duits vertaal en word in Duitsland uitgegee. Dis ‘n reuse sukses – baie van die groot Duitse dagblaaie wei hele bladsye aan haar en sy praat hier en daar en oral oor haar boek. Ons ontmoet mekaar nog soms in Tel Aviv en gesels oor haar sukses, oor haar nuwe roman, oor my Olga Kirsch biografie. My Judy lees haar boek in Duits en is baie beïndruk. Ek gaan luister as sy by die Internasionale Boekfees in Jerusalem praat.
 

Vanessa lees voor

Vanessa lees voor

Sy stuur vir my die oorspronklike wat in Engels geskryf is en as tesis vir haar MA gedien het – ek lees dit dwarsdeur die nag. Vroeg in die teks is daar ‘n stukkie digkuns…

 

From between my shutting and opening eyelids, I see his eyes fixed on me.

He takes my hands, I let him take my hands.

He leads, I let him lead, I want him to lead. I take control, guide him.

I take his hands, he lets me take his hands.

 

I lead, he lets me lead, he wants me to lead. He takes control, guides me.

I search, he searches, we search.

 

From between my shutting and opening eyelids, I see his shutting and opening eyelids.

Our eyes fix on the ceiling. On my ceiling. On the lines of my ceiling.

 

The sex, just like the rest of the night, felt like a flashback and a flashforward at once.

 

Op ander plekke in die boek sou mens die teks as ‘n gedig kon oor tik. Dit sou net so goed werk.  
Ek onthou dat ek dit een maal met Mongwane Wally Serote gedoen het: in ‘n digkuns werkswinkel het ek ‘n Serote gedig en ‘n stukkie van sy prosa, getik soos ‘n gedig, voorgelê en die deelnemers gevra watter die gedig en watter die prosa was. Die helfte het verkeerd geraai. So sou mens met Vanessa se skryfwerk ook kon maak.

Vanessa, na die voorlesing

Vanessa, na die voorlesing

Sy vertel my dat die storie van haar boek gedeeltelik waar is en die res fiksie – soos so dikwels met  eerste novelles gebeur. Omdat ons teen die tyd al baie ure gesels het, kan ek raai watter gebeure in die boek werklik plaasgevind het en watter nie. Net voor ons mekaar die eerste keer ontmoet het, was sy in Poland saam met haar Oupa. Hy het haar soontoe gevat sodat sy kon sien vanwaar haar grootouers kom, wat hulle as gevolg van die Nazi’s alles verloor het; sodat sy kan verstaan hoekom haar ma is soos wat sy is en waarom haar ouma nooit stories uit die ‘goeie ou dae’ vertel nie. Hulle was nie goed nie. Hy vra haar om sy storie te boek te stel.

Vanessa se roman dra by tot ʼn nuwe aspek in die Holocaust genre – “third generation survivors.” Dit het te make met dood en verlies, met leiding en oorlewing, maar die grootste van alles is die verlies aan onskuld – the loss of innocence. Die verlies van onskuld tot in die derde en dalk nog die vierde geslag.
 
Ek besef dat almal van ons in die klas oor ʼn soort verlies geskryf het. Dis die realiteit van in Israel skryf – oorlog, verlies, oorlewing is altyd sentraal tot waaroor hier geskryf word, want dis deel van hoe ons hier leef. Miskien is dit maar waaroor geskryf word. Punt!

 

Frank Kermode in sy pragtige aangrypende outobiografie, Not Entitled: A Memoir, stel dit so duidelik: “The story of  life must, insofar as it is truthful, be at least in part a story of loss and desertion inflicted and received.” Ja, ek dink dis waaroor alle skrywes gaan – ook Vanessa se pragtige debuutroman.

 

Vanessa se boek