Posts Tagged ‘Ek wou nog sê…’

Nini Bennett. ’n Polifoniese simfonie van stemme

Friday, October 25th, 2019

 

 

  1. Ek wou nog sê …

 

Die groot aand het uiteindelik aangebreek. Dit is 16 Oktober, die eerste aflewering van Ek wou nog sê …

Ek rig die afstandbeheer en die televisie flits aan op VIA, DStv-kanaal 147. In die atlejee sit Gaireyah Fredericks, tweedepryswenner van die tweede AVBOB Poësiekompetisie. Die gespreksleier is Daniel Hugo. In sy grys baadjie is hy die toonbeeld van kalmte. Hy vra Gaireyeah uit na haar haar digkuns en haar betrokkenheid by die AVBOB inisiatief.

“Die dood het gereeld kom kuier,” sê sy. “Ek het my ma en kinders en susters verloor.” Daniel is ’n goeie luisteraar. Die bekende sonore stem, sinoniem met soveel radioprogramme oor die Afrikaanse poësie, weerklink landswyd oor die kassie. Gaireyah tel die bundel, I wish I’d said… (Vol. 2) op, en lees haar kompetisiegedig, Dood:

Dood is darem vir jou ’n snaakse ding.

Hy sal oppie mes se lem rus.

Saamie vuur dans.

Soese bullet op jou afpyl

of simply sy hand deur jou hare streel.

Som tart hom en klim hange met kaal hanne.

Spring uit aeroplanes en swem saamie sharks.

Som tel affie ure in dosages van morfien en stap saam hom parallel,

signed sealed, but not yet delivered.

(…)

Sy vertel hoe sy aanvanklik begin dig het deur verse vir haar niggie, haar pen pal, te stuur. Die hartseer is verwerk; dit het reeds poësie geword. Ánder mense put nou troos en berusting uit Gaireyah se verlies. En ek dink aan die eindelose siklus van lewe en dood, hoe die dood weer die bloeigrond vir nuwe lewe word …

Dan vertel sy van haar betrokkenheid by poësiewerkswinkels. Sy is deel van Diana Ferrus se Di Mengelmoes Digters wat gereeld by die Breytenbach-sentrum bymekaarkom. Gaireyah beduie geesdriftig: sy wil ’n liefde vir poësie onder die jeug kweek. Sy is stemmig geklee in ’n blou baadjie en bypassende kopdoek, maar sy sprankel. Sy tel nóg ’n bundel op; ’n eie publikasie van haar gedigte getitel Kaaps is Hollands, en begin om ’n gedig voor te dra. “Gevoelig en intens”, het ’n joernalis op ’n keer haar performance poetry beskryf.

Volgende aan die beurt is die veelbekroonde skrywer, Tom Dreyer, wenner van vanjaar se eerste prys in die tweede AVBOB Poësiekompetisie. Hy is geklee in ’n swart baadjie en praat vinnig, soos mens van ’n man met so ’n skerp intellek kan verwag. Hy knyp maar tydjies af om te skryf, vertel hy; hy is ’n rekenaarprogrammeerder van beroep en tans besig met sy tweede MA in skeppende skryfkuns aan die Universiteit Stellenbosch.

Dan vertel Tom van sy geliefde vriend, die skrywer Jaco Botha wat in 2016 tragies sy eie lewe geneem het.

Die Burger het my gevra om ’n huldeblyk oor Jaco te skryf, maar ek kon nie,” bieg hy. Maar dié nagelate huldeblyk het uiteindelik die wengedig, getitel Slaap jy solank, dan hou ek die fort geword. En die slotstrofe tref soos ’n uitknikker:

ek sien jou oplaas op die gewel van jou kothuis staan

en botweg weier om af te kom ek hoor jou kla dis

gevaarlik daaronder en ek weet wat jy bedoel nes daai

aand by die kknk toe jou trane so vryelik soos gemorste

whisky op die kroegtoonbank spat, en jy sê: kom ons gaan

slaap eerder, tom, dan is ons ten minste nie meer wakker nie.

ek verstaan my tjom my tjom slaap jy solank want die nag

is lank en die son sal basically forever oor magersfontein verrys

intussen sal ek nog vir ’n rukkie dié kant die fort probeer hou

solank ek nog onthou solank ek nog onthou solank ek

onthou kan jy met ’n halwe glimlag op jou gewel blý

staan: wagtend op daardie onverstaanbare golf wat toe

meer verwoestend as enige woord oor jou sou breek

Tien was my beste vriend,” sê hy. Jaco se bynaam op universiteit was “Tien”, omdat hy net tien persent sig gehad het. Jaco en Tom was as jeugvriende in die negentigerjare die eerste twee studente wat vir hulle MA-grade in skeppende skryfkuns onder leiding van Etienne van Heerden ingeskryf het.

Klik gerus op dié skakel om Tom in aksie met die ontvangs van sy toekenning te sien: https://www.youtube.com/watch?v=UoCYGFAHk4g

Digters wat aan vanjaar se TV-program deelneem, is Hélen Möller, Hannes Visser, Emma Bekker, Fourie Botha, Clinton V du Plessis, Willem S van der Merwe, Danie Marais, Eunice Basson, Jo Prins, Charl-Pierre Naudé, Jannie Malan, Jolyn Phillips, Fanie Olivier, De Waal Venter, Pieter Hugo, Christo van der Westhuizen, asook Leon Gropp en Jak de Priester.

  1. Agter die skerms: Gaireyah Fredericks

 

En met die pas afgelope program skaars op sy rug, is my nuuskierigheid behoorlik geprikkel. Ek besluit om Gaireyah Fredericks te kontak, want ek vermoed dit gaan ’n heerlike gesels afgee.

NB: Gaireyah, vertel ons asseblief meer van jou belewenis van die verfilming van Ek wou nog sê …

GF: Eerstens was ek nie bewus dat ek die tweede plek in die kompetisie gewen het nie, so ek het gevlieg Joburg toe op a sound mind dat ek wel deelgeneem het en my poem Dood dalk gekies is om op die lug gelies te word, but that’s it! Ek’t nooit my emails gekry nie …Techno gremlins sieker. Die program se staff was vriendelik en het mooi na my gekyk met al die grênd reëlings wat getref was net om ‘n mere single poem te lees (I thought in my mind). ’n Chauffeur tel my op by die hotel en ek word na die studio gery. Kom da aan word ek vriendelik ontmoet, maak kennis en na die make-up room word ek ge-escort. Om natuurlik gepoeier en gepaint te word, well, nou nie gepoeier nie, ma ek sê toe oek, “I want it natural, hey?” Issie een ve die fake-face-make-up gedoente nie. Ek is e-natoeraal.

Anyway, ek ken Daniel en sy liewe vrou Marlene al ʼn while, so I am quite comfortable. En so finally is ek saam hom opi set. Nou’s dit ‘n gekrap onne klere virrie soundbox en dit kos nou manouvering ommie invasive ding saam ’n slamse tietie te laat behave. Or so the guy appeared. Got the contraption strapped on en da gat os. Nou sit ek, swinging legs and all want ek’s soe klein ek hang opi stoel, my God, en toe wysit oek opi TV. Lag my klaaaaa. En niemand kon my warn nie, flikkers gooi en, I dunno, ’n gesture skiet om my bientjies aan te spreek nie, none the less, Daniel wish my toe congrats en ek is heel puzzled. “Waavoo?” Meisiepop, ek was over the moon and to Mars. Tweede innie AVBOB-kompetisie. For reals, for reals… En nou wil hulle skiet. Ek’t noggi ees tot verhaal gekomi, ma anyway the rest is mos toe VIA history.

Soe op Daniel. Kyk hie, hy’s a pro. Hy’t kwaai vrae gevra en my blêrrie goed lat lyk. Sal hom en sy vroutjie altyd onne my belt dra. Die nerves wasi rerag a prob nie, want ek’t myself net gesê ek’s saam Daniel en ‘he got me’. I’ll be fine. Een ding het gebeur toe os geshoot het though. My phone het blêrrieville afgegaan en my ring tone was soe a distraction. Vir my at least! En my swaaiende voetjies soes a klein meisie oppe swing was beide embarrassing en adorable at the same time. Liewe Heiland! Ek kan soms soe overdo. What can I say?

As a matter of fact, dai was my ‘gatvol gedig’ wat tweede gekommit. Na ali visits in my past wa dood my ma, my twieling en my twieling sussa weggevat het, was ek net mooi gatvol vir die Reaper se happy trot en skryf toe ’n gedig as ’n direct dialogue in Kaapse sassiness om net ’n piece of my mind te share. En I got to do it on the telly… dai wasse bonus.

NB: Gaireyah, wat dink jy is die belangrikheid van die AVBOB Poësieprojek tans vir poësie en meertaligheid in Suid-Afrika?

GF: Os sliep mos nog die past van Apartheid-fraaings wat vani mat wat alles onne in gevie was saam currently. Djy sienit innie lug en oral rondom jou. Sou to write about die temas (birth, death, love, hope) wat die kompetisie bied is soes om kaart te speel, ma issie game wat djy bly wen. Whatever topic djy kies grant jou die opportunity om nog meer te filter en te process. Vir jouself! Op ’n personal level. En dan as djyrit share, ve almal. Die temas maak lat djy gaan stap tussen die ruins vani past, ma oek opkyk na die future. Typical in essence, wat mens al verloor het en die nuwe hoop van more, broei in jou hart en dis wat ons land nou need. A clever method and platform wat healing and introspection promote. Djy kani verkeert gani. Djy moet wen! So in essence, wen amal.

  1. AVBOB, aanlynpoësie en ander tendense

 

“Meertaligheid” is vandeesweek die gonswoord op almal se lippe. Die Konstitusionele Hof het op 10 Oktober bevind dat US se 2016-taalbeleid, wat Engels die voorrang gee as onderrigtaal by dié instelling, grondwetlik geregverdig is in die hoop dat dit meertaligheid sal bevorder. Die AVBOB Poësieprojek wat op 1 Augustus vir die derde agtereenvolgende jaar afgeskop het, kan terugskouend as niks minder as visioenêr beskou word nie, en is meer relevant – néé, noodsaaklik – as ooit. In ’n onderhoud (2018) op LitNet met Johann de Lange, een van die samestellers van I wish I’d said, sê Naomi Meyer: “Dit was onlangs (weer) Mandeladag en steeds is daar in hierdie land nog so min vir meertaligheid gedoen. Maar daar is tog ook uitsonderings …”

Die AVBOB Poësieprojek is in 2017 gebore na die dood van ’n seuntjie en sy oupa se onvermoë om by die oop graf sy gevoelens van rou en verlies te verwoord. Christo van der Westhuizen, uitvoerende hoof van die reklameagentskap BRAND et al, wat dié projek namens AVBOB bestuur, het met die konsep vorendag gekom om ’n webwerf te skep waar elegiese gedigte ’n tuiste vind. Digters is al vir eeue lank die spreekwoordelike profete, mitemakers, dromers en sjamaans wat gemeenskappe help heel met die genesende krag van die woord. AVBOB is genader as medewerker, en Frik Rademan, uitvoerende hoof van AVBOB, het ingestem. Voortspruitend uit hierdie webwerf, wat in die 11 landstale geloods sou word, was die TV-gespreksprogram Ek wou nog sê … en die publikasie van gedigte wat op die AVBOB-webwerf verskyn. Naledi het as uitgewer hierdie reuse projek onderneem, en twee lywige bundels naamlik I wish I’d said (volume 1 en 2) het reeds verskyn. Ook ’n derde bundel word in die vooruitsig gestel. Hierdie projek as samebindende en inklusiewe platform is waarskynlik vergelykbaar met sosiale tendense soos die gewilde #I’m staying-beweging, wat al hoe meer momentum kry. Suid-Afrikaanse digters van alle kulture en tale publiseer op een platform. En met die beloning van R10 000 vir die wengedig, asook ’n betaling van R300 vir elke gedig wat op die webwerf verskyn, is dit lonend vir die digter. ’n Mens lees dikwels met nostalgie hoe sommige gevestigde digters se digloopbane dekades gelede begin het ná die instuur van ’n gedig na tydskrifte soos Rooi Rose of Huisgenoot. In meer as een biografiese opgaaf vertel die digters dat hulle byvoorbeeld R5 vir die gedig, wat aanvaar is, ontvang het. Die latere publikasie van poësie in die little magazines het weinig of geen finansiële voordeel vir digters ingehou. En die hedendaagse tendens is véél eerder dat die koste vir die digter se sak is, soos byvoorbeeld om ’n inskrywingsfooi te betaal vir deelname aan poësiekompetisies. Daarom is mens dankbaar vir die reuse belegging wat AVBOB in die poësie ter plaatse gemaak het. Vanjaar se kompetisie sluit op 30 November om middernag. Duisende inskrywings is reeds ontvang, en meer word nog ingewag. Tot en met 20 inskrywings per digter kom in aanmerking vir publikasie op die webwerf.

Digters wat nog nie geregistreer het of gedigte ingestuur het nie, moet opskud! Besoek https://www.avbobpoetry.co.za/ of AVBOB se Facebook-blad vir besonderhede.

Ten spyte van die tanende ekonomiese klimaat in Suid-Afrika is die individuele vergoeding vir gedigte nie vreemd nie, en heeltemal in lyn met hedendaagse oorsese tendense. In ’n onlangse artikel op Make Money skryf die sakevrou en skrywer, Laurie Blank, oor 30 verskillende internasionele webtuistes waar digters hulle werk kan voorlê teen vergoeding. Dit sluit die immergroen Kanadese Arc Poetry Magazine, asook die gewilde Chicken Soup for the Soul in. Maar dit is nie die enigste goeie nuus vir poësieliefhebbers nie. Die Suid-Afrikaanse gemeenskap is net ’n diorama van ’n groter wêreldbeeld. In die VSA was daar ’n 21% toename in die verkope van digbundels van 2015 tot 2017, wat poësie kenmerk as een van die snelgroeiendste genres in die uitgewersbedryf. In tandem hiermee het Naledi sedert die begin van 2019 reeds 13 digbundels uitgegee, wat hulle vestig as die voorste uitgewer van poësie in Suid-Afrika. Naledi het ook die twee meertalige I wish I’d said (Vol. 1 en 2) uitgegee, bloemlesings wat sowel die AVBOB-wengedigte, asook enkele opdraggedigte van gevierde digters bevat. Klik gerus op die volgende skakels om hierdie bundels teen R220 stuk aan te skaf: info@naledi.online of tertiaswart@naledi.online / (078) 648-8616. Daar is tans ’n spesiale aanbod vir albei hierdie pragbundels teen slegs R300.

Volgens die gesaghebbende American Academy of Poets is skryftradisies en teksproduksie patroonmatig en herhalend, soos modes. Tegnologiese vooruitgang en die gebruik van multimediafunksies speel ’n groot rol in die hedendaagse herlewing van poësie. Die nuwe internasionele gier is om gedigte op Instagram te plaas (die sogenaamde “Insta-digters”); en nie te lank gelede nie het die Net nog gegons met die werk van Twitter-digters. Duisende lesers wêreldwyd wag daagliks op hulle kwota aanlynpoësie, wat sommer op ’n selfoon gelees word. Die meeste mense is mobiel geletterd. En danksy die deelfunksies van webwerwe en mediaplatforms het poësie ’n verbruikersvriendelike kommoditeit geword wat die lees en verspreiding van digters se werk binne sekondes moontlik maak. Die blootstelling vir die digter is uitstekend. Op AVBOB se poësiewebwerf, byvoorbeeld, is die getal views of besoeke by die gedigte sigbaar. En dit is vir enige digter bemoedigend om te weet sy werk word gelees, en om ’n rekord daarvan te sien, is ’n bonus. Ook met hierdie derde poësiekompetisie skep AVBOB ’n platform wat ongepubliseerde, aspirant-, gevestigde en bekroonde digters op een webwerf akkomodeer – Johann de Lange het dit tereg “’n polifoniese simfonie van stemme” genoem. En dit is inderdaad goeie nuus vir meertaligheid en vir Suid-Afrikaanse poësie.

 

Verwysings

https://blog.publishdrive.com/publishing-poetry-2018/?fbclid=IwAR29nTdkY9n03kZl5OX-zg2TFlpP_qrPtpYn-mJG3oDrxi_Km1KNFAvfarg

https://wellkeptwallet.com/get-paid-write-poetry/?fbclid=IwAR3gVA9W23B4T_aLJQBu0Yxlq_Djt5kX9Itcm25-ZSDp_TmZ1ZsTR1IonBo

https://www.avbobpoetry.co.za/

De Lange, J. en M. Maphumulo (reds.). I wish I’d said…Vol. 2. 2019. Kaapstad: Naledi.