Posts Tagged ‘Ernst van Heerden’
Friday, June 10th, 2011
 Lucas Malan
Op 15 april 2010 overleed in Kaapstad de Zuid-Afrikaanse dichter Lucas Malan na een hartoperatie. Lucas Malan werd op 19 juli 1946 geboren in Nylstroom. Hij debuteerde in 1981 met de bundel ‘n Bark vir die ontheemdes. Later volgden nog Tydspoor (1985), Edenboom (1987), Kaartehuis (1990), Hongergrond (1994), Afstande (2002) en Vermaning (2008). Zijn werk is sterk geënt op zijn persoonlijke ervaringen. Hij schreef over zijn ouders, zijn eigen gezin, zijn liefdeservaringen en - in zijn later werk - over de angst voor het ouder worden en de dood. Zijn gedichten worden gekenmerkt door een grote stilistische gevoeligheid en het vermogen om vertrouwde woorden en beelden in een nieuwe context te plaatsen.
Malan promoveerde aan de Universiteit van Pretoria op een doctoraat over de poëzie van zijn persoonlijke vriend en mentor, de Zuid-Afrikaanse dichter Ernst van Heerden. Na diens overlijden in 1993 erfde Malan zijn literaire nalatenschap. Op zijn beurt schonk Malan de collectie dichtbundels uit het nalatenschap aan het Poëziecentrum. Door bemiddeling van Prof.dr. Wium Van Zyl, Prof.Dr. Wannie Carstens en Louis Esterhuizen kan ook het nalatenschap van Lucas Malan aan de Collectie Ernst van Heerden worden toegevoegd. De Collectie van Heerden was reeds de grootste collectie Zuid-Afrikaanse poëzie (geschreven in het Afrikaans) buiten Zuid-Afrika. Door deze uitzonderlijke schenking kunnen meer dan 200 titels uit verschillende tijdvakken aan de collectie worden toegevoegd. De boeken zullen zo snel mogelijk via de catalogus ontsloten worden. Geïnteresseerden zijn alvast welkom om in de goedgevulde dozen te komen snuisteren.
 Ernst van Heerden
De Collectie Ernst van Heerden omvat ondertussen ongeveer 1500 boeken, maar ook krantenartikels en geluids- en beeldopnames. De collectie wordt nog steeds verder uitgebreid dankzij de bereidwillige medewerking van de PUK-Kanselierstrust van de Noordwes Universiteit (Witwatersrand), Louis Esterhuizen (Protea Bookshop), Universiteit Stellenbosch, Protea Uitgevers (in het bijzonder Dr. Nicol Stassen) en NB-Uitgevers (in het bijzonder Kerneels Breytenbach).
Het Poëziecentrum dankt alle betrokkenen en hoop de dat Collectie Ernst van Heerden ook in de toekomst mag bijdragen aan de goede verstandhouding tussen Zuid-Afrika, Vlaanderen en Nederland.
Wednesday, May 25th, 2011
 Metafoor
Ons weet almal dat die metafoor die lugdrukboor van die digkuns is, want dit is juis daardeur wat ‘n gewone prosateks resonansie (of is dit nou stoornis?) verkry en as iets poëties beskou word. Daarom dat ‘n artikel oor metaforiese taalgebruik en hoe dit ons denke beïnvloed op Psychology Today se webblad my aandag getrek het. David DiSalvo se artikel handel naamlik oor ‘n reeks van vyf verskillende ekspiremente wat deur Paul Thibodeau en Lera Boroditsky van die Stanford Universiteit gedoen is:
“Researchers Paul Thibodeau and Lera Boroditsky from Stanford University demonstrated how influential metaphors can be through a series of five experiments designed to tease apart the ‘why’ and ‘when’ of a metaphor’s power. First, the researchers asked 482 students to read one of two reports about crime in the City of Addison. Later, they had to suggest solutions for the problem. In the first report, crime was described as a ‘wild beast preying on the city’ and ‘lurking in neighborhoods’. Hierna is hulle gevra watter optrede dié misdade vereis; 75% het gestem ten gunste van swaar strawwe, met ‘n pleidooi ten gunste van meer tronke en selfs die steun van die weermag om die polisie te help om misdaad te bekamp. Net 25% was ten gunste van sosiale programme wat ‘sagter opsies’ soos onderwys en maatskaplike betrokkenheid behels.
Die tweede verslag wat die groep studente moes lees, het meer getemperde metafore bevat: “The second report was exactly the same, except it described crime as a ‘virus infecting the city’ and ‘plaguing’ communities. After reading this version, only 56% opted for great law enforcement, while 44% suggested social reforms.”
Interessant genoeg het die toetsgroep glo self nie besef in welke mate hul standpunt deur die bepaalde gebruik van metafore beïnvloed is nie. Toe hulle deur Thibodeau en Boroditsky gevra was om aan te toon watter gedeelte van die verslag hul standpunt bepaal het, het 97% na die misdaadstatistiek verwys en nié na die taalgebruik nie. Hierdie bevinding is dan glo ook deur verskeie ander eksperimente bevestig.
Maar watter gedig om hierby aan te haak? Natuurlik is daar sommer ‘n hele boekrak vol kontemporêre digters wat die metafoor met groot sukses gebruik … Myns insiens is dit egter Ernst van Heerden wat die metafoor soos min ander kon hanteer en na alle waarskynlikheid nog nooit die nodige erkenning voor gekry het nie.
Daarom, ‘n gedig van hom.
Lekker lees.
***
Vlermuis
Karoo-aand -
en ‘n pieper wat sy dun gil-drade
om die stoeppaal hang;
‘n klein sambreel word soos ‘n mantel
toegevou
en hou
die donserige bors-pels toegedek.
Sien hy deur windsels van die ewenaar
ontsaglik groot die poolstreek omgekeer
as maan,
en heel die duister- aardse meganiek
van vierkant, driehoek, sirkel,
in enkele stippelpunt gevang?
Hy fladder lomp
en vleg deur digte weefsels van gevaar,
en hang,
onduiselig en nugter,
waar donker warmte is
en hy met piep en kras
aan sagte tepels van die sterre drink.
© Ernst van Heerden (Uit: Kleur van donkerte: Verse 1942 - 1956 )
Tuesday, November 9th, 2010
 Ernst van Heerden
Ek en Claire verhuis tans – van die woonstel na ‘n huisie in Stellenbosch. As ‘n mens in ag neem hoeveel werk so ‘n verhuising behels, en hoeveel emosionele spanning daarmee gepaardgaan, is dit nogal verbasend dat daar so min gedigte oor hierdie ervaring geskryf word!
Digters skryf alte graag oor hulle huise en die huisies by die see wat hulle begeer, maar waar is die gedigte oor die nagmerrie van trek! Goeie aarde, ek het nooit kon raai ek sou wens ek het minder boeke besit nie… In elk geval, ek kan op hierdie oomblik net aan een gedig dink wat hierdie onderwerp aanroer, Ernst van Heerden se ‘Aan die Verhuisingsmanne’ (uit Tyd van Verhuising, 1975) — en dis sommer ‘n ou classic ook:
Aan die Verhuisingsmanne - Ernst van Heerden
Dra saggies, vriende,
want sierpotte en erdewerk,
keurborde en fyn glas
sluit ‘n hele lewe
met sy drome
en verlangens in;
Dra saggies, mededraers,
want die drag
van veerbed,
tafels, lessenaar
druk teen die bors
se dun skelet;
Dra saggies, regters,
want die oordeel
oor my klein bedryf
lê vasgevang
in prente, boeke
en ‘n eie ou gemakstoel;
Dra saggies, gode,
want die hart se porselein
is broos en tot veel seer
en kwesbaarheid geneig:
die kratte van ‘n lewe
kan so maklik breek.
Monday, August 23rd, 2010
I
Ek het my skool- en vroeë universiteitsopleiding ontvang in die jare toe Suid-Afrika as gevolg van sy binnelandse beleid beperkte akademiese en kulturele kontak met die buiteland gehad het. Op universiteit was ek gelukkig nog deel van ‘n generasie studente wat in die kursus Afrikaans en Nederlands deeglik in die Nederlandstalige letterkunde geskool is. Ek kon indringend leer van die Nederlandse kultuurgeskiedenis, terwyl meer as die helfte van my wysbegeerte-handboeke in Nederlands was. Hoewel ek geen Nederlandse taalkursus bygewoon het nie, het ek dit reeds van my hoërskooldae af maklik gevind om Nederlands te lees en te verstaan.
Die kulturele boikot wat in 1979 deur Nederland teen Suid-Afrika ingestel is, is kort daarna deur Afrikaanstalige akademici en kultuurleiers nog meer effektief gemaak toe hulle met mening probeer én grootliks daarin geslaag het om van Nederlands as universiteitsvak ontslae te raak. Baie van ons wou al minder met die Nederlandstalige wêreld te doen hê. Binne hierdie gewaande sfeer van kulturele selfstandigheid is Nederlands al minder in Suid-Afrika gehoor (byvoorbeeld oor die radio) en het die Nederlandstalige boek as ’t ware van die rakke af verdwyn. Die afkoeling van verhoudings tussen Suid-Afrika en Nederland wat reeds rondom die Tweede Wêreldoorlog begin het, is toe voltrek.
Gedurende die 1980’s en begin van die 1990’s was dit vir my generasie al moeiliker om met die Nederlandstalige wêreld kontak te behou (en byvoorbeeld in Nederland te gaan studeer). Om hierdie rede moes ek tot so laat as 1994 wag voordat ek met ‘n lewende Nederlandse digter en akademikus, Ad Zuiderent, kon kennis maak. In dieselfde jaar was dit ook moontlik om Nederland en België te besoek en eerstehands met hulle uitgebreide boekebedryf kennis te maak. Ek het soos ons krieketspelers gevoel wat ná jare van afsondering weer die geleentheid gehad het om internasionaal gesig te wys. Dit was ‘n besonder bevrydende ervaring.
Reeds in 1995 het ek en Renée Marais as die redakteurs van Ensovoort ‘n nommer van die tydskrif aan perspektiewe op die bande tussen Afrikaans en die Nederlandstalige wêreld gewy. Dit was ‘n voorreg om kennis te maak met akademici van verskillende lande wat byna almal die waarde van die hernieude betrekkinge tussen hierdie taalgemeenskappe ingesien het. Wat my betref, het dit die grondslag help lê vir die verstewiging van die bande tussen skrywers, akademici en lesers in Suid-Afrika, Nederland en België. Dit was dan in 1997 ook vir my en Ad Zuiderent moontlik om die bundel Ons klein en silwerige planeet: Afrikaanse en Nederlandstalige gedigte oor die omgewing die lig te laat sien. Altesaam 70 vooraanstaande digters uit die twee taalgebiede het saam gedigte in een bundel gepubliseer. In 2009 het hierdie bundel ‘n agtste druk beleef.
Toe dit weer moontlik was om kulturele bande met die Nederlandstalige wêreld aan te knoop, was dit vir my duidelik dat daar literêr gesproke ‘n aantal dinge nodig was om hierdie projek te laat slaag. Ten eerste was dit noodsaaklik dat Afrikaanse boeke en ander leesstof in die Lae Lande beskikbaar moet wees en eweneens dat Nederlandse boeke en ander leesstof in Suid-Afrika redelik algemeen en bekostigbaar beskikbaar moet wees. Die vertaling oor en weer tussen die twee tale het sekerlik waarde, maar die tekste moes ideaal gesproke in die oorspronklike tale beskikbaar wees. Indien nie, sou hulle totaal van mekaar vervreemd raak en sou daar kwalik nog van ‘n spesiale band sprake wees. Waarom dan nie ook maar boeke uit enige ander taal (soos Duits, isiZulu, Kiswahili, Russies en Sweeds) vertaal nie?
II
 Ernst van Heerden
Gedurende Junie en Julie 1997 het ek ‘n kursus oor die taal en kultuur van Nederland en Vlaandere aan die Rijksuniversiteit Gent en die Universiteit Utrecht bygewoon. Die kursus was ‘n inisiatief van die Nederlandse Taalunie om Suid-Afrikaanse Neerlandici die geleentheid te bied om ná jare van afsondering met die Lae Lande kennis te maak en byskoling in die taal en kultuur in Gent en Utrecht te ontvang. In Gent het die groep van vyftien Suid-Afrikaanse Neerlandici ‘n keer die Poëziecentrum besoek. Ek was aangenaam verras oor die groot versameling Nederlandstalige digbundels, literêre tydskrifte en kritiek wat in die sentrum gehou en vir die publiek beskikbaar was. Ons gids het vertel dat min of meer alle Nederlandstalige digbundels in hierdie versameling opgeneem is. Aangesien die versameling in een gebou gehuisves is, was dit boonop maklik toeganklik vir navorsers. So byvoorbeeld het Gerrit Komrij sy navorsing vir al sy bloemlesings hoofsaaklik in die Poëziecentrum gedoen. Hy het ‘n gunstelingstoel en -plek in die sentrum wanneer hy daar navorsing doen.
Aangesien daar onder die groep Suid-Afrikaners wat daardie dag die Poëziecentrum besoek het heelparty letterkundiges was, was daar meer as gesonde belangstelling in die versameling. Ek het dit nogtans ‘n groot jammerte gevind dat daar nie ook in die sentrum ‘n volledige of ten minste betreklik volledige versameling Afrikaanse digbundels, tydskrifte en kritiek bestaan het nie. Ons gids dié dag, me. Van der Perre, en later die hoof, mnr. Willy Tibergien, het positief op die gedagte aan so ‘n versameling Afrikaanse digbundels gereageer. So ook my kollegas proff. Wannie Carstens van die Potchefstroomse Universiteit vir CHO (deesdae die Noordwes-Universiteit) en Dorothea van Zyl van die Universiteit van Stellenbosch.
Vir my was die uitdaging om ‘n redelik uitgebreide bestaande versameling Afrikaanse digbundels in die hande te kry om aan die Poëziecentrum te skenk. Terwyl ek nog in die sentrum rondgekyk het, het ek onthou van Ernst van Heerden se versameling digbundels wat ek ‘n keer tydens ‘n besoek aan sy huis te siene gekry het. Van Heerden het genoem dat sy bundels in die twee groterige boekrakke in sy studeerkamer naastenby volledig is en dat baie daarvan deur die digters geteken is en persoonlike opdragte aan hom bevat het. Tydens my besoek aan België was Van Heerden reeds ernstig siek en het ek geweet dat die digter Lucas Malan na sy afsterwe sy literêre kurator en die erfgenaam van sy boekery gaan wees.
In gesprekke daarna tussen my, Carstens, Van Zyl en Anton Basson (met heelwat Belgiese bier daarby!) het die opgewondenheid toegeneem om ‘n Ernst van Heerden-versameling in Gent te vestig. Ek het onderneem om Ernst van Heerden en Lucas Malan te probeer oorreed om die digbundels aan die Poëziecentrum te skenk. Van Heerden het boonop in 1953 op ‘n proefskrif oor die beeldgebruik in N.P. van Wyk Louw se poësie aan die Rijksuniversiteit Gent gepromoveer. Dit sou dus heeltemal gepas wees om die versameling daar te huisves en om op dié manier hulde aan Van Heerden te bring wat saam met heelparty ander verdien om wyer bekend te wees.
Ek het Lucas Malan gebel en hom gevra of hy my versoek aan Van Heerden sal oordra. Dit het min oorreding geverg om Malan se goedkeuring te kry en hy het onderneem om met Van Heerden daaroor te gaan praat. Hy kon my kort daarna meedeel dat ‘n erg verswakte Van Heerden ingestem het en dit as ‘n goeie gedagte beskou het. Ek het die besluit aan Carstens oorgedra. Van Heerden het in September 1997 gesterf en die taak is aan Basson, destyds verbonde aan die Universiteit van Vista, opgelê om die versameling te katalogiseer.
Met die hulp van die Algemeen Nederlands Verbond, die Orde van den Prince, die Vlaamse Instituut voor Zuidelijk Afrika (VIZA) en die Gentse tak van die Marnixring is die versameling van 609 bundels na België geneem. Met die steun van die Kanselierstrust van die Noordwes-Universiteit en Protea-boekwinkel op Stellenbosch word die versameling gereeld aangevul.
 Poëziecentrum
Die Ernst van Heerden-versameling is op 27 November 1998 amptelik aan die Poëziecentrum oorgedra. Die geleentheid is deur Carstens en Van Zyl bygewoon. Hulle het ook die tiende herdenking van die bestaan van die versameling bygewoon, wat gereeld met nuwe bundels aangevul word. Carstens noem die versameling “die grootste erflating vir Afrikaans van die Taalunieprojek, wat eintlik ingestel was op die uitbou van Nederlands in Suid-Afrika. Dit demonstreer die waardevolle wedersydse gevolge van ‘n sinergie tussen Afrikaans en Nederlands.” Vir my is dit nog steeds ‘n wonderlike gedagte dat daar so ‘n versameling tot stand gekom het waarin Afrikaanse poësie, die belangrikste enkele skepping in die Afrikaanse kultuur, opgeneem is.
III
Die afgelope paar jaar is daar ‘n lewendige debat oor die voortbestaan van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) in Bloemfontein. (Ensovoort het verlede jaar ‘n hele nommer daaraan gewy.) Uit dié gesprek en my eie betrokkenheid by die destydse Sentrum vir Suid-Afrikaanse Letterkundenavorsing (SENSAL) weet ek hoe riskant die bewaring van ons kulturele erfenis is. Ek het immers beleef hoedat die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) Africanaboeke wat vroeër onder spesiale toestande bewaar is vir R1 stuk verkoop het. Die instandhouding, voortbestaan en gebruik van sulke versamelings is op die spel.
In ‘n era waarin duisende Suid-Afrikaners (onder andere ‘n groot aantal Afrikaanssprekendes) hulle in die buiteland bevind, is dit gewens om Afrikaanse (en Suid-Afrikaanse) boeke daar beskikbaar te hê. Saam met die akademiese belangstelling in Afrikaans by ‘n twintigtal buitelandse universiteite kan dit daartoe bydra om die belangstelling in en bestudering van Afrikaans lewendig te hou. My droom is dus dat daar selfs meer versamelings soos dié in Gent tot stand sal kom. Dit behoort wonderlik te wees om ten minste één boekery (benewens die versameling in die Suid-Afrikaanse Instituut in Keizersgracht 141, Amsterdam) in die buiteland te hê waarin ‘n uitgebreide versameling Afrikaanse boeke in alle genres bewaar word. Hopelik sal ons die nodige befondsing vir sulke inisiatiewe en skenkings bekom.
(Aangebied vir die Marnixring van Johannesburg op 12 Augustus 2010. Johann Lodewyk Marais.)
Monday, June 14th, 2010
 Platrand Gedenkteken
By Platrand, digby Ladysmith in KwaZulu-Natal, waar op 6 Januarie 1900 ‘n bloedige slag tydens die Anglo-Boereoorlog plaasgevind het, is ‘n kwatryn van Ernst van Heerden op een van die mure van die gedenkteken aangebring. Dit lees soos volg:
Deur hierdie hande het ‘n groter Hand
gestorte bloed so mildelik gesprei,
dat vingertoppe oor die heuwelland
na akkers wys waaruit die vryheid groei.
Die digter D.J. Opperman, wat in Noord-Natal gebore en grootgeword het, het die volgende kwatryn oor Platrand geskryf, wat moontlik as ‘n enigsins geïrriteerde ‘antwoord’ op Van Heerden se kwatryn beskou kan word:
PLATRAND BY LADYSMITH
Met vergesigte oor ‘n ou slagveld
lig ons beskermend en diep ontsteld,
O Heer, bo hierdie Burgerbeendere:
betongebare uit die groot geweld.
In die 1970’s het daar byna op Platrand ‘n Afrikaanse universiteit tot stand gekom. Die grond is deur die kinderlose mnr. Thys Jacobs, ‘n welgestelde boer van die distrik en oudstudent van die Universiteit van Stellenbosch, en sy vrou vir ‘n takkampus van die Universiteit van die Oranje-Vrystaat beskikbaar gestel. Volgens oorlewering was Jacobs so vermoënd die Stadsraad van Kaapstad het by hom ‘n lening gehad!
Thursday, April 15th, 2010
Ek het, benewens ‘n vlugtige interaksie op hierdie webblad, nooit enige kontak met Lucas Malan gehad nie. Ek het hom trouens nooit ontmoet of hom sy gedigte hoor voorlees nie. Ek het hom egter geag as digter, en sy Edenboom is steeds een van my gunsteling bundels in Afrikaans.
Dit was ook een van die eerste bundels wat ek ooit gekoop het: by ‘n CNA-uitverkoping, dieselfde dag wat ek, soos ek al vantervore vertel het, Ernst van Heerden se Amulet teen die vuur aangeskaf het. Die oorspronklike prys voor in my kopie van Edenboom is doodgekrap: R16.95 — met die destydse AVB bygetel sou dit in totaal seker so ‘n raps meer as R18 gekos het. Die eerste afslagprys, sien ek, was R7.99, en is later weer ‘n keer verminder na 99c.
Ek voel eintlik sleg dat ek so ‘n mooi bundel vir 99c gekoop het, en ek skaam my ‘n bietjie dat Brackenfell se CNA ‘n boek, wat op daardie stadium maar twee jaar oud was, twee keer drasties moes ‘afmerk’ voordat dit verkoop is.
Gelukkig het dit ‘n gretige en bewonderende eienaar gekry. Ek het daardie relatief dun bundel voos gelees. Nou nog maak ek dit soms oop, lees ek ‘n paar gedigte, en ruik ek daaraan. Ek weet nie wat die uitgewers gedoen het nie, maar die boek het vandag, 23 jaar later, steeds ‘n skerp, onmiskenbare reuk van gom en papier. ‘n Reuk wat my altyd laat dink aan Sondagmiddae in Brackenfell in die winter.
Twee van my gunstelinggedigte in Edenboom het juis gehandel oor die dood:
Lugtig
Waar iemand doodgaan, skeur die lug,
snak die uur na asem en dit sug: ver-
by. ‘n Deur gaan oop, die mure skud
en iewers gaan ‘n voël neerstort –
Die dag ruim plek in, ongemerk,
en bome buig in nabetragting, vlug
hul aardsheid binne, word weer groen
‘n laning langs ‘n landery of straat.
Jy sou dit skaars aan lug of bome merk
as iemand doodgaan, stiptelik ‘n bed ont-
ruim, die voordag soos ‘n laken skeur –
maar luister hoe dit oral oor gebeur:
Kring
Onbeholpe en van stryk gebring hier saamgetrek
dié wat oorleef het die winters tot nou
toe, soos oorslag-lemoene behoue;
plek-plek ontbering se skaafmerke sigbaar,
nogtans uitgespaar. ‘n Paar met hul kinders,
onmondig, maar ‘n kworum desnieteenstaande.
Vandag weer versamel en plegtig geskaar
om te groet: naas mekaar, ook dié ene minder,
bestem vir die grond, die inskep met grawe
in wierook van stof – begin kyk hulle bedug
na die kring wat so kwyn en tog groei; kyk hulle
rond, na die niggies en ooms: onthou die ravot
somersaande op die kweek, ‘n dam en die kaalgatbaljaar –
so pas die ondraaglike las van soliede oorskot.
Thursday, February 11th, 2010
 Paul Wittgenstein
Ek het in ‘n vorige inskrywing vertel van my ontdekking, op skool, van Ernst van Heerden se poësie, en van die rol wat hierdie ontdekking gespeel het in die aanwakkering van my eie belangstelling in die digkuns.
Sedertdien het ek weer ‘n slag deur sy bundels geblaai, hier en daar gelees, en opnuut onder die indruk gekom van hóé goed Van Heerden op sy beste was; en tot watter mate hy steeds – en dalk toenemend – ‘n onregverdig afgeskeepte stem in die Afrikaanse letterkunde is. Heelparty van sy bundels is immers nie meer in druk nie, en sover my wete strek is ‘n versamelde werke, of selfs net ‘n keur uit sy voltooide oeuvre, nog nooit gepubliseer nie.
Ernst van Heerden was, soos Hennie Aucamp, Johann de Lange en Joan Hambidge na hom (om enkeles te noem), ‘n verteenwoordiger van ‘n soort ‘estetisisme’ in die Afrikaanse poësie. Ek verwys hiermee na digters (en skrywers) wat die estetiese (eenvoudig gestel: uitgebreide verwysings na die letterkunde en ander kunsvorme) as temas en onderwerpe in hulle werk ontgin – of eerder, by wie hierdie soort poëtiese ontginning en omploeging van ‘n estetiese verwsyingsraamwerk ‘n (of dalk díé) sleutelkomponent is in hulle digterskap.
Daar is natuurlik belangrike verskille in hoe liggaamlikheid en seksualiteit (byvoorbeeld) by Van Heerden en De Lange onderskeidelik uitgebeeld word; of hoe Van Heerden en die meer postmodernistiese Hambidge onderskeidelik met kulturele verwysings omgaan. Nogtans dink ek hierdie latere digters behoort, wat hulle posisie in die Afrikaanse literatuur (en die verskillende tradisies en tendense wat dit kenmerk) betref, met Ernst van Heerden in gedagte gelees word.
Van Heerden se oeuvre inkorporeer al sedert sy heel eerste bundel ‘n uitgebreide estetiese verwysingsraamwerk. Sy oeuvre is ryk aan verse oor digters, die skilderkuns en, wat my veral aanspreek, musiek. As jy gedigte soos ‘Symphonie Pathétique’, ‘Prélude à l’après-midi d’un faune’, ‘Nocturne’ en ‘Chopin’ lees (en daar is vele meer), is dit baie duidelik dat Van Heerden ‘n indringende kennis van en groot liefde vir die musiek moes gehad het.
Een van sy latere en beste gedigte oor die musiek is te vinde in my gunsteling Van Heerden-bundel, Amulet teen die vuur (ek sal by ‘n later geleentheid iets skryf oor hierdie bundel, wat ek tans weer aan die lees is). Die gedig is ‘Paul Wittgenstein’. Wittgenstein (broer van die beroemde filosoof met dieselfde van) was ‘n bekende vroeë twintigste-eeuse pianis. Hy het sy regterarm verloor in die Eerste Wêreldoorlog, en was dus, soos Van Heerden, ‘n ‘geamputeerde’ (Van Heerden het beide sy bene in die 1970s verloor).
Na afloop van die oorlog het etlike komponiste werke ‘vir die linkerhand’ gekomponeer, wat dit moontlik gemaak het vir Wittgenstein om sy loopbaan as konsertpianis voort te sit. In Van Heerden se gedig is dit Maurice Ravel se ‘Klavierkonsert vir die linkerhand’ wat ter sprake is. Op briljante wyse versoen Van Heerden die tema van die geamputeerde ledemaat met ‘n hoogs evokatiewe uitbeelding van die stuwing, ritme, toonaard en kleur van daardie musiekstuk.
Paul Wittgenstein
Klavierkonsert vir die linkerhand (Ravel)
Wanneer ‘n ongevulde regtermou
die snyerslanfer onderstreep
en skielik aandag opeis,
bedaar geroesemoes;
algaande minder soberend
deur wilder sproeisels heen,
word tarantella-vuur gestook,
‘n teistering, ‘n woede opgewek;
wanneer weemoed en bravour
hul eie bane uitstip,
word deur gekerm en gesnater
‘n waterval van ánder kleur gebou
en vredes sprokkelwys opeengehoop.
Wilgers ruis in kontrapunt
en seë slaan ‘n hele klankbord los,
terwyl ‘n volle somer
aan die son se tepel suig.
Triomf en dawering!
Die mou buig saam
voor ‘n dubbelhandige applous.
Monday, February 1st, 2010
 Ernst van Heerden
Ek het nie besef, toe dit begin gebeur het, dat ek tot die digkuns verlei word nie… As ek het, het ek dalk beter weerstand gebied!
Maar nee, ek was jonk, ek was weerloos, en ek het nie van beter geweet nie.
Dit het alles met musiek begin – eers (in chronologies orde) Anton Goosen, David Kramer, en Bruce Springsteen; en toe, deur hulle toedoen, Bob Dylan, Jim Morrison, Leonard Cohen en ‘n rits ander troebadoere – en al te gou het dit gelei tot gesteelde uurtjies in die dorpsbiblioteek, ‘n stadig groeiende persoonlike versameling digbundels, en, natuurlik, die skryf van selfbewuste gediggies op bladsye wat ek versigtig uit my skool-skryfboeke geskeur het…
Oor hierdie klas vergrype het ek natuurlik aanvanklik maar by die skool en op rugbytoere geswyg – ‘n mens kon spog dat jy U2 se nogals poëtiese The Joshua Tree besit het, maar nie juis dat jy Ernst van Heerden se Amulet teen die vuur op uitverkoping by die CNA aangeskaf het nie… ongeag hoe bitter gelukkig daardie aanwins jou ook al gemaak het!
Toe ek David Kramer, Anton Goosen en daarna Bruce Springsteen ontdek het (tydens my laaste jaar of twee op laerskool), was dit van meet af aan die lirieke, wat hierdie kunstenaars met blote Afrikaanse en Engelse woorde kon vermag, wat hulle vir my onderskei het van die popgroepe wat ek aanvanklik saam met die kudde na geluister het: Wham!, Duran Duran, Modern Talking, A-ha – ja-ja, wat kan ek sê, ek is ‘n kind van die 1980s!
Maar dat dit poësie was wat hierdie kunstenaars gepleeg het – dít het ek glad nie besef nie. Ek was ‘n niksvermoedende slagoffer! Popmusiek was toe wél gevaarlik, soos hulle op skool soms gewaarsku het, maar vir geheel en al ander redes: dit was ‘n soort Trojaanse Perd wat die poësie losgelaat het in my binnekamer; wat my verbeelding aangetas het en woorde vreemd gaan staan en maak het!
Dus, al ek het dit nie geweet nie, dit was ‘n klomp folksangers en rock ‘n rollers wat my verlei het tot die digkuns, nog lank voordat ek besef het gedigte, soos hokkie, klavierlesse en die debatsvereniging, is nie net vir bleeksiele nie. (Wel, ek moet bieg, ek is nou nog nie seker oor die debatsvereniging nie.)
Die saadjie was dus geplant, en al wat dit gekos het om dit te laat ontkiem, was daardie onafwendbare, onthutsende eerste ontmoeting met Breyten Breytenbach in Opperman se geel (as ek reg onthou) Verseboek in Standerd 6.
Ja, my storie begin ook, soos so baie Afrikaanse lesers van ‘n sekere ouderdom s’n, by BB en ‘n bietjie Krog; trouens, die eerste digbundels wat ek ooit vir myself gekoop het, was Breytenbach se Katastrofes (ja, dit is ‘n digbundel!) en Die huis van die dowe.
En tog was dit nie Breytenbach wat my die spreekwoordelike doodskoot gegee het nie. Dit was ‘n ander, miskien minder vanselfsprekende Afrikaanse digter wat seker gemaak het dat my aanvanklike belangstelling in die digkuns nie beperk sou bly tot ‘n tydelike kultus van persoonlikheid nie, maar sou lei tot ‘n langdurige belangstelling en liefde: die reeds genoemde Ernst van Heerden.
Ek weet nie meer presies hoe dit gebeur het nie, maar ek het ‘n versameling van sy eerste ses bundels in een band, Die kleur van donkerte, in die hande gekry en obsessief begin gelees. Ek weet nie presies wat die aantrekkingskrag was nie, maar Die kleur van donkerte het my as 14-jarige heeltemal onkant betrap. Skielik was ek nie net gefassineerd deur ‘n digter nie, maar deur gedigte en die skryfproses self. Skielik het ek besef woorde kan sing; en dat ek hulle dalk ook kan laat sing.
‘n Jaar of twee later het ek Amulet teen die vuur (ja, op uitverkoping) in die hande gekry… Ek het daardie bundel seker meer as enige ander bundel gelees, en probeer om daardie uitgesponne, filosofiese vrye vers-gedigte na te doen. Met min sukses, ongelukkig!
Ek lees nie juis meer die gedigte in Kleur van donkerte nie. Baie van hulle neig na die sentimentele, is dalk ietwat selfbewus verestetiseerd, of vertoon gewoon swak teen die beste verse wat Opperman, Van Wyk Louw, Eybers en ander op daardie stadium geproduseer het. Van Heerden het sy blywende bydrae (en dit is nie ‘n geringe bydrae nie) tot die Afrikaanse poësie, myns insiens, met sy latere bundels gelewer – rofweg, die bundels vanaf Tyd van verhuising.
Hoe ook al, Ernst van Heerden is steeds disproporsioneel verteenwoordig op my boekrak; sy digbundels en ook sy outobiografiese werke en reisverhale, was ‘n konstante teenwoordigheid gedurende my skooljare. En of ek dit nou lees of nie, Die kleur van donkerte, met sy nou reeds gebleikte blou omslag, staan trots tussen al die ander bundels wat ek sedertdien gekoop en gelees het.
Dit herinner my aan ‘n vroeë verleiding.
|
|