Posts Tagged ‘Eugene Marais’

Hannalie Taute. ʼn Droomwêreld….

Wednesday, August 1st, 2012

Dit is hoe ek my gunsteling boekwinkel of selfs biblioteek sal beskryf.

My gunsteling biblioteek is natuurlik Port Elizabeth s’n.  Die een in die middestad.  Dit was/is ongelooflik mooi, met die verdiepings wat afkyk na ʼn gesamentlike punt, met die klein trappies en versteekte kamertjies….dit voel asof mens daar kan wegraak, dalk verdwaal…. en ek hoop dit is nog steeds so.  Dit het ʼn atmosfeer.  Die een in ons dorp het n koue onwelkomende atmosfeer en die personeel so ietwat aan die nors kant maar nou ja, ons besoek dit nog gereeld, want kuier immers vir die boeke en nie die personeel.

My gunsteling boekwinkel is ʼn ou skoolvriend se tweedehandse boekwinkel : The Blue Forest Bookshop and Collectibles.

Die atmosfeer heerlik.  Daar is plante, langspeelplate wat speel in die agtergrond.  Elke winkelvenster vertel ʼn storie en dan is daar ook ʼn vistenk (Stephan se gunsteling).

Nie so lank gelede was ek daar op soek na die ‘Siel van die mier’ deur Eugene Marais.  Uit nuuskierigheid na aanleiding van ʼn onlangse kuns uitstalling deur Lisa Grobler getiteld “White termite’ (wat blykbaar losweg geinspireer is deur die boek), en omdat ek ʼn liefde het vir entomologie is die boek bo-aan my leeslys.

Die “Siel van die mier” was beskikbaar by sy winkel in Afrikaans en Engels, maar ek het die engelse weergawe gekies,

Die Afrikaanse weergawe is ʼn derde druk en dus netjies in ʼn plastiek sakkie toegedraai en meer gesog as die engelse sagteband weergawe, maar nietemin….

Hoofstuk twee gee my nog steeds slapelose nagte.

Ek is baie opgewonde om bietjie leestyd in te werk, want daar wag nog leestof op my bedkassie waaroor ek baie opgewonde is:

Die boek het sy pad na my gevind deur Piketberg.

(Die einste eienaar van die boekwinkel het my ook meegedeel dat daar blykbaar n film gemaak word oor Eugene Marais se lewe…wonderlik!)

Ek het die neiging om voordat ek by die Blue Forrest boekwinkel uit te stap- ʼn digbundel op te tel en oop te maak om te sien wat daarin staan.

Dus,  so twee weke gelede het ek die bundel Lykgedigte van Joan Hambridge opgetel.  Die boek het op bladsy 6 oopgeval.:  ek moet hier bieg dat ek net die eerste 3 versreëls onthou want dit is hoe ek voel,  en waarmee  ek myself tans besig hou.

Gianni Versace

“Hy knip lewens uit,

Nes ʼn kind met papierpoppe,

‘n droomwêreld skep”

Die familie

Die familie

Philip de Vos. Moaner Lisa

Tuesday, May 1st, 2012

As daar een woord is wat my irriteer is dit die Engelse woord SMILE. En hier praat ek uit ’n fotograaf se oogpunt. Wie op aarde dink hy gaan beter lyk net omdat hy tande wys? In Prehistoriese tye was dit in elk geval ’n teken van aggressie. En nie dat ons veel verder as destyds gevorder het as ek ons daaglikse koerante lees nie.
Om te glimlag is g’n kuns nie.

Ek ken ’n sangeres – dis altyd tande-wys, maar kyk bietjie na daai oë – dit staan stokstyf van die gebrek aan emosie. En daar is juis ook oor Nancy Reagan gesê: Her smile is a study in frozen insincerity.

Nee, ek hou van foto’s van mense wat smeul. Waar op aarde kry mens ’n foto van ’n glimlaggende James Dean of Marlon Brando of Greta Garbo?

Smile jy, verdwyn alle karakter. Kyk maar net ’n bietjie na die sosiale kolomme in die plaaslike koerant. Hulle lyk almal so dolgelukkig. Meanwhile, back at the ranch …

En wat van foto’s van ons vroeë Afrikaanse digters?

 

 

 

Eugène Marais lyk soos Max Collie wat jou wil hipnotiseer met daardie slang-oë van hom terwyl Jan F. E. Celliers daarenteen lyk soos iemand wat ek graag as oupa sou wou hê.

Dan is daar natuurlik dié wat wegkyk van die kamera asof hulle diep, diep woorde uitdink: A.G. Visser en Boerneef.

 

 

En D.J. Opperman. Met watter foto sou hy wou hê, moet ons hom onthou?

 

 

En die jonge Loftus Marais? Moet hy smile of smeul?

 

 

Of is ’n upside-down smile soos dié van Joan Hambidge miskien ’n beter opsie?

 

 

Toe ek vandag weer in my bokse rondkrap, ontdek ek ’n Engelse versie wat ek alreeds in 1985 geskryf het, pas ’n jaar nadat my eerste Afrikaanse versies gepubliseer is. En dit was juis deur Roald Dahl se Revolting Rhymes dat hierdie tipe versie geïnspireer is. En ek plaas die versie oor ’n vroumens wat agtergekom het om te smile is beter vir haar image, presies soos dit destyds geskryf is, warts and all:

 

MOANER LISA

Four centuries or so ago

there lived a maid in Florence.

Her conduct filled the Florentines

with loathing and abhorrence.

Her manners were atrocious.

Her manners were quite vile.

She moaned and scowled

the livelong day

and NEVER gave a smile.

She had a double-decker name:

they called her Moaner-Lisa.

To tell the truth – this was a name

that didn’t really please her.

All that anybody saw,

was just her stern exterior.

And no-one in that city knew

that Moaner felt inferior.

Moaner-Lisa had a dream -

she wished that she had fame.

Then everybody in this world

would talk about her name.

(It really is a pity

how parents sometimes name us.

And with a name like Moaner -

could any girl get famous?)

She was a simple-minded girl

who didn’t want prosperity.

The only thing that mattered

was her wish for some posterity

Then she had a bright idea:

I’ll have my picture painted

by Signor L. da Vinci.

With fame I’ll get acquainted!”

(She didn’t look quite half as good

as Marilyn or Bardot

Yet off she marched with angry scowl

to Artist Leonardo.)

He started in the morning,

and painted her all night

but still poor Moaner Lisa

looked an awful, sorry sight.

The reason was most surely

that nasty horrid scowl

that made her look exactly

like a mean old hooty-owl.

“Miss Moaner,” said Da Vinci then,

“Methinks that you should smile.

Otherwise some gentle folk

would surely run a mile!”

“Heigh ho! Hey nonny no!”

said Moaner with a frown.

“I do not want a grinning face

like joker, fool or clown!”

“Prithee, dearest maiden fair,

Pretty, pretty please!

Stretch those lovely lips of yours,

and then you can say: Cheese!”

“No!” screamed Moaner. “I refuse!

I think that I should go

and find another artist then

called Michael Angelo.

He is such a gentleman.

He’ll paint me on a ceiling

And that’s not all –

He’ll paint my scowl

with reverence and feelingl”

Poor Signor L. da Vinci

felt a little bit upset.

He had a funny feeling

that he’d make her famous yet.

Then he thought he’d tickle her

until she screamed and laughed.

But, with a frown, Miss Moaner said:

“Da Vinci! Are you daft?”

So he stood upon his head

and swung from ev’ry rafter.

Hoping that she would collapse

with giggles and with laughter.

He wore a funny face and hat.

He wore an eiderdown.

But all that he could notice,

was old Moaner-Lisa’s frown.

He told her funny stories.

He told her ev’ry joke.

But not one teeny-weeny smile

did any joke evoke.

Then poor old Leonardo thought:

And now for something worse.

So he recited on the spot

four simple lines of verse:

 

“Queen Daisy had a daughter.

Queen Daisy had two sons.

Queen Daisy had some apricots.

And then she had t he runs.”

 

He somehow thought

that Nonsense Verse

was really not her style

But then a great big miracle!

Miss Moaner gave a SMILE.

That smile made her so famous.

and took her to the Louvre,

because of good Queen Daisy

whose bowels once did move.

geskryf: 10 – 11 December 1985

 

En nou moet onse digters maar self besluit, want soos Shakespeare amper gesê het:

To smile or not to smile.

That is the question.

 

 

 

 

Amanda Lourens. Drie Marais’s, ‘n gentleman en Pasteur

Wednesday, December 8th, 2010
Eugéne Marais

Eugène Marais

Oor die groot tradisie van manlike digters – internasionaal en in Afrikaans – is daar al baie geskryf.  Intussen het vroulike (en ook manlike) digters teen hierdie tradisie ingeskryf; hulle met die vaders bemoei in die hoop om ‘n eie digterlike stem te vind.  Nietemin bly die gesprek rondom die manlike en vroulike digterlike tradisies ‘n onderwerp wat my  bly boei; ek het dan ook die liefhebbery (of dalk nuk) om graag deur  ’n gender-bril na die literatuur -  oud en nuut  -  te kyk.  

Terwyl ek dus my Sondagoggendkoffie geniet met Annie Klopper en Daniël du Plessis se comic strip “Drie Marais’s stig ‘n band” (Rapport, 5 Desember) – wat drie gerekende Afrikaanse digters na die zef-wêreld van Die Antwoord transponeer – is die versoeking dus groot om my gedagtes te laat gaan en te filosofeer oor die prominensie van manlike Marais’s in ons digterlike landskap.  

Met Die Antwoord vir eers ter syde gelaat, sal  mens natuurlik kan bespiegel oor die samekoms van juis drie Marais’s in die Afrikaanse digkuns  –  of dit te danke is aan ‘n besondere genepoel waaruit die Marais-familie hulle talente put en of dit bloot toevallig is.  Die feit is nietemin dat die drie Marais’s hulle stewig in die kanon van die Afrikaanse poësie bevind.   Gustav Preller (in Kannemeyer 1984:228) het byvoorbeeld na  Eugène -  die “vader”-digter in hierdie geval – se dood die volgende eksplisiet kanoniserende uitspraak gemaak:  ”Dit is altemit ‘n bietjie te veel gesê, dat daar in A.D. 2139 slegs tien reëls nog orend sal staan van ál wat vandag in Afrikaans geskryf is, maar ek het altoos gemeen dat dié tien reëls van Eugène se ‘Winternag’ daaronder sal wees.”

 Die jonger Marais’s se erkenning in die Afrikaanse sisteem is duidelik sigbaar uit toekennings soos die UJ-debuutprys, die Ingrid Jonker-prys  en die Eugène Marais-prys aan Loftus Marais.  Danie Marais is eweneens met die drie genoemde pryse  bekroon, en is ook een van die wenners van die SALA-pryse vir 2010.

 In ‘n tyd waar die jonger Marais’s dus heelwat aandag in die Afrikaanse poësiewêreld geniet en jonger lesers nie altyd meer so vertroud is met die ouer digkuns nie, is dit dalk juis interessant om opnuut aspekte van die ouer Marais se lewe en werk in oënskou te neem – iets waarmee Johann Lodewyk Marais reeds in sy baie interessante bloginskrywings besig is.  Vir diegene wat in genderkwessies belang stel, sou ‘n een invalshoek wees om  na te gaan hoe Marais se lewe moontlik deur  gebeure rondom vrouefigure in sy lewe beïnvloed is.

Lettie Marais

Lettie Marais. Foto uit: Rousseau, L. 1984. Die groot verlange: Die verhaal van Eugène Marais. 3e uitgawe. H & R.

 Alhoewel Marais verskillende verhoudings ná sy vrou se dood aangeknoop het , wil ek in hierdie bespreking op die gebeure rondom sy vrou se dood fokus.  Dit is alombekend dat Marais se lewe geraak is deur die tragiese vroeë dood van Lettie (Aletta) Marais op die ouderdom van 24 jaar.  Hierdie gebeurtenis het talle psigologistiese interpretasies van Marais in die hand gewerk.  So byvoorbeeld het die romantiese mite ontstaan dat  Lettie se ontydige dood die jong wewenaar na morfien gedryf het.  Marais het reeds voor sy huwelik morfien begin gebruik, maar Lettie se dood het waarskynlik ‘n rol gespeel in sy toenemende verslawing  (Rousseau 1984).  Nietemin word die rol van Lettie se dood ten opsigte van Marais se sogenaamde “donker”  lewensbeskouing stellig oorskat, soos Kannemeyer (1984: 224) uitwys.  Dit beteken egter nie dat die ernstige leser die gebeure rondom Lettie se dood terstond na die domein van die toevallige of irrelevante moet verban nie.  Inteendeel, vir die gender-sensitiewe leser open hierdie gebeure ‘n venster op ‘n belangrike medies-historiese kwessie wat die lewens van veel meer gesinne as net die Marais’s beïnvloed het. 

 In Die groot verlange  skryf Leon Rousseau oor die gebeure rondom die geboorte van die Marais-egpaar se seun in 1895 en Lettie se dood sowat tien dae daarna as gevolg van kraamkoors.  Hy  vertel van  Marais se trauma en sy onvermoë om die gebeure suksesvol te verwerk, onder meer deurdat hy die blaam vir Lettie se dood op homself en ander, veral die dronk geneesheer wat Lettie se bevalling behartig het, geplaas het.  Sodoende was sy ervaring een van “[d]roefheid wat met berou , selfverwyt en ‘n skuldgevoel vermeng word, [wat] weerhake [kry]“; dit is “‘n  wond  [wat] versweer” (Rousseau 1984: 93) en op hierdie manier dus sekerlik sy lewe en skryfwerk sou beïnvloed het.  Rousseau bied in sy vertelling dan ook aan die leser ‘n fiktiewe refleksie op die gebeure deur die jong Marais self, wat die innerlike konflik en verwyte in ‘n sensitiewe gemoed weerspieël:  i) “Dr. Kriel was dronk. Hoe nalatig was hy?” en ii)“Geen gevaar nie? Dis selfbedrog. Hy weet hoe baie skynbaar gesonde jong vroue ná skynbaar normale bevallings sterf.”

Hier verwys Rousseau in (i) na die feit dat die mediese dokter wat Lettie se bevalling hanteer het, dronk opgedaag het – waarskynlik dalk vanweë die algemene feesvierings in Pretoria wat die opening van die Delagoabaai-spoor onder die bewind van Paul Kruger vergesel het.  (Ironies genoeg was Marais geen Kruger-aanhanger nie en was hy as redakteur van die koerant Land en Volk bekend vir sy aanvalle op die president van die ZAR.)  Daar word dan deur Rousseau se rekonstruksie van Marais se gedagtes gesuggereer dat die dokter se dronkenskap op ‘n manier met sy vermeende “nalatigheid” verbind kan word.  Dit is in (ii) wat kraamkoors as histories gevreesde komplikasie na geboorte ter sprake kom – waar gesonde vroue op raaiselagtige wyse sou sterf kort na hulle geboorte geskenk het. 

Die groot verlange

Die groot verlange

Rousseau (1984:93) wys wel daarop dat die jong redakteur as intellektueel met ‘n belangstelling in die natuurwetenskappe goed moes besef het dat kraamkoors nié direk deur die dokter se dronkenskap veroorsaak kon word nie, maar hy suggereer wel dat daar ander, meer geheimsinnige agente was  wat tot Lettie se dood gelei het: “Beter as die meeste mense weet Eugène Marais dat kraamkoors nie deur dronk dokters veroorsaak word nie en dat dit selfs ná die versigtigste, mees puntenerige behandeling intree.” Rousseau se argument kom dus daarop neer dat Marais in sy getraumatiseerde gesteldheid nie daarin kon slaag om die faktore in die tragedie op wetenskaplike wyse van mekaar te skei nie – m.a.w., Marais kon nie raaksien dat dr. Kriel se beskonke toestand nie deur die redelike persoon as oorsaak van die komplikasie gesien kon word nie; ook stel Rousseau dat kraamkoors teen die einde van die negentiende eeu gesien is as ‘n komplikasie wat op  raaiselagtige, onvoorspelbare wyse kon intree.   Hy beskryf dan die heersende persepsies van hierdie siektetoestand kort voor die eeuwending in die ZAR:  “Niemand weet in dié tyd wat kraamkoors is of waardeur dit veroorsaak word nie.  Party vroue kry dit, ander nie.  Die Pretoriane weet wel dat dit selfs ná die versigtigste behandeling kan intree” (Roussseau 1984:92).  Dr. Kriel is uiteindelik volgens Rousseau (1984:92) deur die inwoners van Pretoria uit hulle stad verdryf, maar sonder dat daar melding gemaak word van enige ondersoek na die dood van Lettie Marais en die vrou van die landmeter A.C. Vlok. 

My bespreking wil vervolgens die verskynsel van kraamkoors as belangrike oorsaak van vrouesterftes in vorige eeue belig.  Alhoewel ek geen mediese kenner is nie, reken ek dat diegene wat in genderstudies (ook die literêre komponent daarvan) belangstel, kennis behoort te neem van vrouekwessies waardeur die loop van die geskiedenis direk of indirek geraak is.  Ek sal ook kortliks wil aandag gee aan die vraag of die oorsake van kraamkoors wél teen 1895 nog in ‘n waas van geheimsinnigheid gehul was (soos die leser in alle waarskynlikheid sal aflei uit die lees van Die groot verlange), en of die gerapporteerde persepsies van die Pretorianers wel die stand van wetenskaplike kennis op daardie tydstip weerspieël het.  Die vraag kom dan natuurlik ook na vore of die betrokke dokter nie wél nalatig was nie, alhoewel dit natuurlik onregverdig (en onwetenskaplik) is om vanuit 2010 uitsprake in hierdie verband te wil maak.

Die geskiedkundige feite rondom kraamkoors is ontstellend, veral vanuit ‘n hedendaagse perspektief waar vroue wêreldwyd geboorte kan skenk met ‘n redelike verwagting van ‘n veilige uitkoms.  Kraamkoors[1] (merendeels die gevolg van ‘n bakteriële infeksie van die geboortekanaal wat tot septisemie kan met dikwels fatale gevolge kan lei[2]) was  vroeër tye een van die grootste oorsake van dood onder jong vroue.  Koninklikes en bekendes het hierdie aandoening nie vrygespring nie -   Koning Hendrik VIII van Engeland se moeder  was ‘n slagoffer. ‘n Minder bekende feit is dat Mary Wollstonecraft (1759-1797), feminis en outeur van A Vindication of the Rights of Woman se lewe en skrywersloopbaan ook deur kraamkoors kortgeknip is. (‘n Mens wil jou uiteraard afvra wat die invloed op die agtiende-eeuse feministiese diskoers sou wees as Wollstonecraft ouer as 38 geword het?)

Laat in die agtiende eeu het vermoedens ontstaan dat onhigiëniese praktyke die oorsaak van kraamkoors kon wees, en navorsers in die negentiende eeu het studies onderneem om hierdie hipotese te probeer bewys. Thomas Watson, ‘n Londense hoogleraar in die geneeskunde, het reeds in 1842 aanbeveel dat dokters meer higiënies  in hulle daaglikse praktykbeoefening moet wees.  Hierop het ene Charles Meigs, ‘n destyds bekende verloskundige geantwoord: “Doctors are gentlemen, and gentlemen’s hands are clean” (Meigs in Wertz 1977, aangehaal in Puerperal fever 2010). Hierdie uitpraak is sekerlik ‘n aanduiding van die rol wat genderstereotipes in die aanbring van ‘n lewensbedreigende  toestand gespeel het.  Met hierdie drogredenasie word die kwessie van kraamkoors dan ook volkome binne die kader van “vrouekwessies” gebring. 

Ignaz Semmelweis , ‘n dosent in verloskunde in Wenen, was die pionier wat die gedagte van antiseptiese maatreëls na die kliniese verloskundige praktyk gebring het.  Hy het in 1847 bevind dat kraamkoors drasties verminder het nadat sorggewers in kraaminrigtings instruksies ontvang het om hulle hande met ‘n antiseptikum te was.  Die ironie is egter dat Semmelweis se baanbrekerswerk wyd in die mediese wêreld veroordeel is.  Hy deur die mediese “broederskap” veroordeel, omdat hy dit gewaag het om voor te stel dat dokters se hande met kadawerreste besoedel word tydens outopsies, wat dan die bron van infeksie is wanneer hulle voortgaan met inwendige ondersoeke op vroue in kraam sonder om eers hulle hande te was.  Semmelweis se lewenswerk is uiteindelik in 1861 gepubliseer as Die Ätiologie, der Begriff und die Prophylaxis des Kindbettfiebers [Die etiologie, konsep en voorkoming van kraambedkoors][3]. Ook hierdie werk is oorwegend met skeptisisme en afwysing begroet, en die mediese fakulteit te Würzburg het selfs ‘n prys toegeken aan ‘n monografie waarin Semmelweis se idees verwerp is. Dit was dan eers teen 1876, na Robert Koch die geldigheid van Louis Pasteur se kiemteorie  bevestig het, dat Semmelweis se teenstanders hulle fout besef het.  Semmelweis se baanbrekerswerk ten opsigte van antiseptiese profilakse het dus teen die 1880′s na die praktyk oorgespoel, en het ‘n drastiese afname in sterftes as gevolg van kraamkoors tot gevolg gehad.

Dit wil dus voorkom asof die belangrikheid antiseptiese maatreëls in die verloskundige praktyk, tesame met die verband tussen higiëne en kraamkoors,  teen 1895 redelik wyd bekend moes wees.  Dit laat die hedendaagse leser dus met die vrae:  Het die Pretorianers van destyds nie van die internasionaal bekende wetenskaplike feite kennis geneem nie, of was die mitevorming rondom ‘n raaiselagtige siekte wat slegs vroue tref, nét te sensasioneel om prys te gee?  Berus Rousseau se uitspraak oor die Pretorianers se persepsies op navorsing oor siektepersepsies teen die eeuwending?  En het Marais, met sy sterk belangstelling in die natuurwetenskap, nie vrae gestel oor dr. Kriel se higiëniese maatreëls nie?  Waarom het niemand klaarblyklik verdere vrae oor die presiese aard van dr. Kriel se nalatigheid gestel nie, veral toe Marais se vriend A. C. Vlok se vrou  vyf weke na Lettie Marais sterf, ook as gevolg van kraamkoors na die einste dr. Kriel haar bevalling hanteer het?  Verder ook: Was dr. Kriel se beskonke toestand dalk die rede vir sy versuim om higiëniese voorsorgmaatreëls te tref?  Of, vra die feminis in my: Het hy hom dalk as ‘n gentleman beskou? 

 Ons sal die meeste van hierdie vrae waarskynlik nooit kan beantwoord nie.  Waarom dan, hieroor nadink, meer as ‘n honderd jaar na die gebeure?  Waarom ons kwel oor ‘n toestand wat vir moderne vroue nie meer ‘n wesenlike bedreiging inhou nie, en wat danksy antibiotika behandelbaar is?   

 Ek reken die antwoord lê hierin: Dat ons moet bly waak teen die handhawing van stereotipes en aanhou vra of ons nie aan uitgediende idees vashou nie, selfs al druis die nuwe idees in teen alles waarin ons glo.  Dat geen persoon, ongeag sy of haar geslag, ooit weer durf reken dat stand of geleerdheid ‘n skans teen die dood kan bied nie.  En uiteindelik, sodat die wetenskap sonder vooroordeel ingespan kan word om die lewens van skrywendes en nieskrywendes te verbeter en te verleng, sodat die Mary Wollstonecrafts kan voortskryf teen alle vorme van onderdrukking.  Oplaas, sodat die reëls wat Marais na Lettie se dood geskryf het, nie weer hoef te resoneer by één voortydige sterfte wat deur die toepassing van wetenskaplike maatreëls verhoed kon word nie:

A starless night is closing round.

Farewell, my Love, for thou wert lost

Ere yet thy love I found.

  

Bronnelys

Aansteeklike siektes – tydlyn.  S.j. Myfundi [Internet]. Beskikbaar: http://myfundi.co.za/a/Aansteeklike_siektes_Tydlyn. [2010, 6 Desember].

 Die siel van Eugène. 2004. Die Burger argief [Internet].  Beskikbaar: http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/2004/04/10/BY/07/01.html. [2010, 6 Desember].

 Etienne van Heerden en Loftus Marais wen die 2009 Universiteit van Johannesburg-pryse. 2009.  Beskikbaar: http://book.co.za/blog/2009/05/20/etienne-van-heerden-en-loftus-marais-wen-die-2009-universiteit-van-johannesburg-pryse/. [2010, 6 Desember].

 Eugène Maraisprys. 2010. Wikipedia [Internet]. Beskikbaar:   http://af.wikipedia.org/wiki/Eug%C3%A8ne_Maraisprys. [2010, 6 Desember].

 Ignaz Semmelweis. 2010.  Wikipedia [Internet]. Beskikbaar:   http://en.wikipedia.org/wiki/Ignaz_Semmelweis#Response_by_the_medical_community. [2010, 6 Desember].

 Kannemeyer, J.C.  1984.  Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur I. Pretoria & Kaapstad: Academica.

 Puerperal fever. 2010. Wikipedia [Internet]. Beskikbaar:   http://en.wikipedia.org/wiki/Puerperal_fever#cite_note-wertz-16. [2010, 6 Desember].

 Robert Koch. 2010. History learning site [Internet]. Beskikbaar: http://www.historylearningsite.co.uk/robert_koch.htm. [2010, 6 Desember].

 Rousseau, L. 1984. Die groot verlange: Die verhaal van Eugène N. Marais. 3de uitgawe. Kaapstad & Pretoria: Tafelberg.

 SALA Toekenning.  Boekemakranka – ‘n Virtuele leeskring.  2010. http://leeskring.lefora.com/2010/11/11/sala-toekenning/. [2010, 6 Desember].

 Semmelweis, Ignaz Philipp (1818-1865). S.j. Myfundi [Internet]. Beskikbaar: http://www.myfundi.mobi/a/Ignaz_Philipp_(1818-1865)_Semmelweis.  [2010, 6 Desember].

 Spesiale Nuuswekker.  Nog ‘n prys vir Loftus Marais. 2009. Versindab [Internet]. Beskikbaar: http://versindaba.co.za/tag/ingrid-jonker-prys/. [2010, 6 Desember].

  


[1] Soms ook na verwys as “kraambedkoors”.

[2] “Kraamkoors” word deedae nie meer erken as diagnostiese kategorie nie, maar vir die doeleindes van hierdie bespreking word dit as sambreelterm gebruik vir verskillende infeksies as komplikasies van die geboorteproses.

[3] My vertaling.

Johann Lodewyk Marais. Op Eugène N. Marais se spoor (9)

Monday, November 1st, 2010
Die groot verlange

Die groot verlange

Hoewel Marais ‘n gekwalifiseerde regsgeleerde was en lank as beide advokaat én as prokureur gepraktiseer het, het hy nooit die regte as sy belangrikste nering of roeping beskou nie. Dit was dan ook nie altyd vir hom moontlik om ‘n vaste inkomste uit hierdie professie te verdien nie. In die tydperk tussen 1917 en 1927, toe Marais as advokaat en prokureur gepraktiseer het, was hy nie besonder suksesvol nie en moes hy verskeie kere van praktyk verwissel en selfs op verskillende dorpe gaan woon. Marais se verdediging in 1932 van die vier teer-en-veerders van H.P. Lamont, die skrywer van die destyds opspraakwekkende roman War, wine and women, is as ‘n fiasko beskou (kyk Leon Rousseau, Die groot verlange, 1974, pp. 434-440).

Marais se regsboek, Deeds Office Practice of the Transvaal, dra die subtitel The Deeds Office Proclamations, and Deeds Office Regulations with full Notes and later Amendments, Stamp Act, Authentication Proclamation, etc. Onder Marais se naam word sy titel aangegee as “Of the Inner Temple, Barrister-at-Law, Advocate of the Supreme Court of the Transvaal”. Die boek is in 1903 deur die “‘Land en Volk’ Office” in Pretoria gedruk en gepubliseer.

Johann Lodewyk Marais. Op Eugène N. Marais se spoor (3)

Thursday, August 19th, 2010
Eugène Marais

Eugène Marais

Eugène Nielen Marais se ouers trek elf jaar voor sy geboorte van die plaas Nektar in Jonkershoek, Stellenbosch, weg en woon daarna ‘n aantal jare in Bloemfontein, in die Republiek van de Oranje-Vrijstaat. Ongeveer drie jaar voor Marais se geboorte vestig sy ouers hulle in die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR), ofskoon heelparty van Marais se broers en susters in die Boland of in die Vrystaat agterbly.

Marais is op 9 Januarie 1871 op die plaas Les Marais by Daspoort net buite die destydse Pretoria gebore. Ek kon tot dusver nog nie vasstel presies waar Marais gebore is nie. Gedurende die eerste tien jaar van sy lewe woon Marais in Pretoria by sy ouers: eers op die geboorteplaas by Daspoort, en daarna in Lynnwood House aan die westelike oewer van die Apiesrivier. Op vyfjarige ouderdom begin hy sy skoolopleiding by ‘n Nederlandstalige onderwyseres, mej. Anna Pottger, in die konsistorie van die ou grasdakkerkie op Kerkplein. Daarna ontvang hy onderrig van ‘n Engelse predikant, aartsdeken A. Roberts. Sy eerste Nederlands-onderrig (“feitlik as ‘n vreemde taal”, volgens M. Nienaber-Luitingh) ontvang hy een keer per week van ds. A.J. Begemann.

As leerling aan die First Class Public School in Paarl (later die Hoër Jongenskool Paarl) publiseer hy vroeg reeds gedigte in Engels, volg daarna ‘n joernalistieke loopbaan en word op negentienjarige ouderdom redakteur en, die jaar daarna, eienaar van Land en Volk, ‘n koerant wat krities teenoor pres. Paul Kruger was. In 1894 trou Marais met Aletta (Lettie) Beyers wat uit Natal gekom het. Sy sterf elf maande later met die geboorte van hulle seun, Eugène Charles Gerard Marais. Reeds voor haar dood raak Marais aan morfien verslaaf, wat ‘n ingrypende invloed op sy lewe sou hê, maar waarvan die rol in sy lewe dalk oorbeklemtoon word.

Sedert 1896 studeer hy aan die Inner Temple in Londen in die regte. Hy toon ook belangstelling in die medisyne, hiёrogliewe, dierenavorsing, hipnotisme, spiritisme en goёlery en maak met die laat-negentiende eeuse lewens- en wêreldbeskouing en wetenskapsopvattings kennis. Gedurende die Anglo-Boereoorlog neem hy deel aan ‘n geheime ekspedisie om medisyne en plofstowwe na die Boeremagte te neem, maar onderweg in die huidige Mosambiek ontvang hulle berig van die vredesluiting. Tydens die reis doen hy malaria op, wat hom daarna telkens weer pla, volgens hom.

Terug in Pretoria hervat hy sy joernalistieke werk by Land en Volk en praktiseer as advokaat in Pretoria en Johannesburg. Op lord Alfred Milner, met wie Marais korrespondeer, maak hy ‘n besondere indruk en dié noem pertinent sy naam wanneer hy sy opvolger per brief oor die Transvaal oriёnteer. Marais maak tussen 1907 en 1916 in die Waterberg ‘n studie van die gedrag van bobbejane, termiete en slange en tree as “wonderdokter” en vrederegter op. Ervarings wat Marais daar opdoen, lei onder meer tot die publikasie van Die siel van die mier (1934), Burgers van die berge (1938), The soul of the ape (1969) en Dwaalstories (1927).

In 1917 vestig Marais hom as prokureur in Pretoria en daarna op Erasmus (later Bronkhorstspruit), waar hy met die geneesheer en digter A.G. Visser bevriend raak. Sedert 1927 woon hy in Pretoria, onder meer by sy vriend Gustav S. Preller en sy vrou Hannie; hy verhuis later saam met die Prellers na Pelindaba. Hy lewer in hierdie jare heelwat bydraes vir (Ons) Die Vaderland. Op 29 Maart 1936 neem hy sy eie lewe op Pelindaba.

Behalwe die wetenskaplike werk waarna reeds verwys is, verskyn daar uit Marais se pen ook onder meer Versamelde gedigte (1933). In 1956 verskyn ‘n bundel Engelse vertalings van sy poёsie deur Anthony Emerson Thorpe. Verhaalbundels van hom sluit in Die huis van die vier winde (1933) en Die leeus van Magoeba (1934). Hy het ook dramas geskryf, byvoorbeeld Nag: Drama in vier bedrywe (1937).

 

Verlore gunsteling

Monday, May 17th, 2010

Wanneer ek ’n gunsteling Afrikaanse digbundel moet kies, gaan dit vir my meer oor sentimentele waarde as verdienste. Dit is nou die een wat ek sal gryp as die huis afbrand, eerder as die een waarmee ek op ’n eiland wil uitspoel.

   Soos ek reeds iewers genoem het, het ek my eerste digbundel gekry as Kersgeskenk aan die einde van graad een. Dit was ’n roomkleurige hardeband bundel en as ek reg onthou was dit net getitel Gedigte – ’n versamelbundel van Elisabeth Eybers, met gedigte waarskynlik tot en met Kruis of Munt (1973) of Einder (1977). Op daardie stadium was ek skaars sewe jaar oud en my ma het voorin iets geskryf soos dat ek dit dalk nog nie sal verstaan nie, maar dat dit van die beste gedigte in Afrikaans is. Natuurlik onthou ek daaruit “Maria”, “Wes-Transvaal”, “Die eerste nag” en veral “Bome”. Iewers in my studentejare het my ma die bundel geleen en toe uitgeleen. Aan wie, kon sy later nie meer onthou nie en so is ek my geliefde bundel kwyt. Ek hoop maar dat dit aan iemand nog vreugde verskaf.

   Met my drie-en-twintigste verjaarsdag kry ek weer ’n bundel – Versamelde Gedigte van Elisabeth Eybers. Voorin skryf my ma: Aan my liefste Blom. Om op te maak.

   ’n Ander sentimentele geliefde is D.J. Opperman se Junior Verseboek, wat ek aan die einde van graad twee as boekprys kry. Voorin is ’n plakker op Laerskool Melkrivier se briefhoof: Vir beste prestasie in Gr ii. Om een of ander onverklaarbare rede het ek met ’n dik groen pen daarin gedigte afgemerk en ook die name van die digters onderstreep (en genommer, tot by nr. 60!). Jy kan sê wat jy wil oor vernuwing, party gedigte bly maar mooi, al kom dit uit ’n ver verlede en ’n sentimentele geheue – “Mabalêl” van Eugène Marais, Totius se “Repos ailleurs”, “Die strandjutwolf” van Van Wyk Louw, “Klara Majola” en “Sproeireën” van Opperman.

   Maar miskien is daar plek vir nuwe gunstelinge. Dis lanklaas dat iemand my ’n digbundel present gegee het…

Philip de Vos. Raka & Mabalel

Thursday, April 29th, 2010

Blogfokus

 

Mabalel  

(baie verkort)

 

Vinnig langs die paadjie trippel Mabalêl;
vrolik klink die liedjie
wat die klingelinge van haar enkelringe vergesel.
Op die voetpad sy alleen,
met die skadu’s om haar heen;
op haar kop die kruik gelig
in gedienstig’ ewewig…

Wag, wag, Mabelêl!
Is daar niks wat jou vertel-
is daar niks wat deur die duister
bang en dringend in jou ore fluister
van die vreeslike gesel
wat jou vrolik’ lied beluister,
wat jou spoor hou, Mabalêl?
 
Ver benee die palmietstele
in die bloue duister wag Lalele,
kwintessens van alles boos,
die Wreedheid self, meedoënloos;
ongeroer deur al die groot krakele
in sy diepte wag Lalele!

Droom sy op die kantjie, Mabalêl,
tot haar hart verlangend swel;
in haar peinse ongedeer,
staar sy in die diepte neer,
 
Stadig deur die rietpensele
opwaarts uit die diepte rys Lalele.
Skud jou wakker, Mabalêl!
Sien jy nie die skadu opwaarts wel?

Uit die spieëlvlak omhoog
bars ‘n skuimend’ waterboog;
Oor Rakwena, kalm en breed,
Galm ‘n enkel angsvol’ kreet;
en dan saggies weer
oor alles sak die stilte neer.
Stadig deur die rietpensele
naar die diepte sak Lalele.

 

- Eugène N. Marais

 

***

 

Die koms van Raka

(baie, baie baie verkort)

 

Die vroue het hom die eerste gewaar

in die loom namiddag toe die arbeid klaar

was – aan die stampblok, in die jong-groen landerye -

en hulle gedrie, geviere, in dun rye

met kruik en geel, wind-ligte kalbas

op heup en skouer deur die stekerige gras

rustig gestap het na die koel seekoegate

om daar te drentel tot die bruin en laat

skemering en die eerste sterre, met klam sand

en sagte modder om die enkels, in die hand,

om veel te lag en ure te praat,

of skugterig soms een-een uit te waad

deur die taai waterblomme, naak en blink…

Raka, die aap-mens, hy wat nie kan dink,

wat swart en donker is, van been en spier

‘n lening boog, en enkeld dier.

Oorkant die water het hy uitgestap

uit die gebreek te riete, en soos ‘n kind wat om die grap

van ‘n bont kalbassie tandeloos en stil lag,

wit gegryns en, neergehurk gewag.

 

- N.P. Van Wyk Louw

 

 

Raka

(met apologie aan Marais en Van Wyk Louw)

 

‘n Vroumens het hom eers gewaar

waar Raka na sy spieëlbeeld staar

dromend by ‘n waterpoel …

(Sý lyf was vir homself bedoel).

Sug Mabalêl: “Ek móét hom hê -

met Raka wil ek lepellê …

Dan kan ons druk; dan kan ons soen

en daarna ander dinge doen!”

‘n Krokodil het haar gewaar

waar sy na Raka staan en staar;

en gaan dié krokkie aan’t bewe

oor haar volronde agterstewe …

Sy loop verby – en sing “Tra-la! Sikelele Afrika!”

Maar Raka  (darie dom Adonis)

dink dat haar sang maar doodgewoon is.

Dus met dieper introspeksie

staar hy weer na sy refleksie

en wens die vroumens wil nou wyk,

terwyl hy na sy spiere kyk.

En toe sy buk om hom te druk,

dink die krok: “Hier kom geluk …”

Maar hy was skeel, ja, heel beslis;

aldus het hy sy doel gemis.

En daar sien Mabalêl vir Raka

in die bruin reptiel se kake,

en snik toe al haar drome kwyn

toe hy die dieptes in verdwyn.

G’n krokodil het óóit respek nie.

Sug M: “Ek’s bly dit was nie ék nie!”

Toe voel sy vir ‘n halfuur sleg

en stap weer klingelingend weg.

 

 

- Philip de Vos

 

 

 

Verwoesting

Tuesday, November 10th, 2009

 Vanoggend wonder ek oor die Engelse woord “devastation” – verwoesting, sê die woordeboek. Neergeslaan en kaalgestroop. Vanoggend weet ek wat dit beteken.

   Daar lê ’n haelhoop op my stoep, ’n halwe meter hoog. Ek reken dit gaan ’n dag of wat neem om te smelt, ek sou ’n ysman kon bou. My strelitzias lyk soos palmbome, slierterig aan flarde geskeur en van die sonneblomme is daar nie veel meer as stammetjies oor nie. My groentetuin, ag – verwoesting.

   Min mense lees seker nog die ou Afrikaanse digters. Te verstane. “Klaas Geswind en syn perd” het seker nog vermaaklikheidswaarde, maar as selfs Van Wyk Louw vir die jonger garde onbereikbaar is, wat dan van Totius en A.G. Visser? Ek mag verkeerd wees.

   Iewers uit my kleintyd, iewers toe die aande vol kerslig was en die weer meer as hoflike geselsies, onthou ek A.D. Keet se “Lied van die koringboer”. Sentimenteel, ek weet. Droogte, die uiteindelike reën, maar ook hael en dan weerlig wat die hooimied tref:

En dit is die lied van die koringboer

    Wat die hele jaar se gesaaie –

Sy brokkie brood, en sy vee se voer,

    Sien vergaan ‘t in ligte laaie.

   Daar is ander en beter gedigte oor storms en reën, selfs uit daardie era. Eugène Marais se “Die dans van die reën” en Jan F.E. Cilliers se “Die vlakte” of die wonderlike “Reën in die voorwinter” van G.A. Watermeyer. Maar oor verwoesting? Vertel my.

   Miskien nou dat die aarde kwaad word, nou sal sy ons weer grond toe dwing. Kaalgestroop, neergeslaan, maar hopelik gewortel. Dis nie in teer en beton waar dinge groei nie, maar daardéúr. Sê Van Wyk Louw:

Toe jy kind was, het jy gedink:

daar sal groot dinge kom uit my,

groot dinge, grotes en goeies –

soos ’n seun moet dink, natuurlik.

En: die groot is gesplits, én die goeie,

nou:

en in plaas van net groot en net goed,

het daar verskriklikheid en eenvoud

en boosheid en eenvoud

en eenvoud en nederigheid

-          gesprikkelde sampioene,

deur die teer, uit die teer van die straat,

keiserlik rooi en wit

by die breuk uit wat jy is, kom peul.

Die aarde is nie eenvoudig nie.

Wees gewaarsku. Die aarde is nie eenvoudig nie.