Posts Tagged ‘Eugène N. Marais’

Johann Lodewyk Marais. Op Eugène N. Marais se spoor (13)

Thursday, November 11th, 2010
Ringmuur by die begraafplaas

Ringmuur by die begraafplaas

Om die groot begraafplaas op Pelindaba  is daar ‘n gestapelde ringmuur, wat mens laat vermoed dat die Prellers op ‘n groot nageslag gereken het.

In die suidwestelike hoek van die begraafplaas is die grafte van Debora Pretorius en haar man, Swart Martiens Pretorius, asook die graf van Hannie Preller se moeder, Cornelia Magdalena Pretorius (vrou van Piet Pretorius). Die eerste twee persone is hier herbegrawe toe daar in die 1920’s met die bou van die Hartebeespoortdam begin is en gevrees is dat die grafte daar onder die water sou verdwyn.

Die Preller-grafte is in die noordoostelike hoek van die begraafplaas. ‘n Voetpad loop tussen die bome diagonaal deur die begraafplaas vanaf die Pretorius-grafte. In die Preller-deel van die begraafplaas is Gustav en Hannie begrawe, terwyl die as van twee van hulle drie seuns ook hier geplaas is. Van Gustav en Hannie se kleinkinders se as is ook hier. Enkele van die pottebakker Lindsay Preller, Bob Preller se Jamaikaans gebore vrou, se porseleinduiwe is nog op die (geskende) grafte te sien.

Gustav en Hannie Preller

Gustav en Hannie Preller

 

In 1922 is ‘n monument van opgestapelde diabaasklippe (of blouysterklip) in die suidwestelike hoek van die begraafplaas vir Swart Martiens en Debora opgerig. Van hier af het ‘n mens ‘n pragtige uitsig op die dam. Die gedenkplaat op Preller se graf is in 1947 onthul.

Toe ek die eerste keer die begraafplaas saam met Francis Galloway en Martjie Bosman besoek het, het Martjie ‘n kobraslang by die diabasklippe gesien. Ek het daaroor ‘n gedig in Plaaslike kennis (2004) geskryf:

 

 

 

Kerkhof

Pelindaba

 

Die klipmuur om die kerkhof

bewaar verskuilde grafte

teen betreders van die tyd

 

soos ons wat gru vir klitse

in die kouse as ons waad

deur gras in die oorgroeide

 

pad, en blare en peule

van raas- en appelblaar pluk

om in bottels te bêre.

 

In een hoek lê ‘n kleipot,

porseleinduiwe, ‘n klip,

en is die as uitgestrooi.

 

Min begryp ons van die slang

wat hom hier skuilhou en ons

listig na die dood wil rig.

Johann Lodewyk Marais. Op Eugène N. Marais se spoor (12)

Sunday, November 7th, 2010

Die rondawelhuis op Pelindaba is in 1924 deur die Prellers in die Transvaalse styl as naweekhuis gebou. Eugène N. Marais het voor sy laaste verhuising hierheen heelparty kere hier gewoon. Dit is ook die plek waar hy sy laaste nag deurgebring het. Die argitek Albrecht Holm maak die volgende interessante opmerking oor hierdie huis:

“Die huis se vorm het ‘n interessante ooreenkoms met Eugene Marais se waarneming oor die termietnes (Siel van die Mier). Hy het vasgestel dat die geheel, naamlik die termietnes, die organisme is. Die enkele termite in die nes is slegs onderdeeltjies wat funsioneel gebind maar nie fisies saamgegroei is sodat hulle saam die eenheid vorm en alleen saam as eenheid kan bestaan maar tog nog visueel onderskei kan word. Met hierdie ontdekking het Marais wêreldgeskiedenis gemaak. Die rondawelhuis (en ander soortgelyke rondawelhuise) bestaan ook uit herkenbare rondawels, maar saam maak hulle die huis.”

Die rondawelhuis is in 1973 saam met die Preller-huis gerestoureer en tot Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar.

 

Bron

Holm, Albrecht. 2005. HOEV se opname van besienswaardighede/HEHA survey of remarkable sites. Hartbeespoortdam: Omgewings- en Erfenisvereniging van Hartbeespoortdam. CD-ROM.

Johann Lodewyk Marais. Op Eugène N. Marais se spoor (11)

Thursday, November 4th, 2010

 

Gustav S. Preller

Gustav S. Preller

In 1932 word Ons Vaderland, waarvan Gustav S. Preller eienaar en redakteur was, na ingryping deur genl. J.B.M. Hertzog om die koerant van finansiële ondergang te red, deur die Noordelike Drukpers Maatskappy oorgeneem en die naam word na Die Vaderland verander. Preller bly tot aan die einde van Februarie 1936 hoofredakteur, maar eintlik net in naam, aangesien sy besluitnemingsmag aansienlik ingekort is.

Ná Preller se uittrede het die gesin besluit om hulle huis in Blackwoodstraat te verhuur en permanent op Pelindaba te gaan woon waar Gustav as geskiedkundige navorser van die Departement van Binnelandse Sake sy geskiedskrywing en insameling van historiese bronne vir die Staatsargief kon voortsit. Lood Pretorius en sy seun was in daardie stadium reeds besig om die huis wat Gustav en Hannie in die Transvaalse styl ontwerp het, te bou. Aangesien die Prellers die huis op 19 Maart wou betrek, is Lood aangepor om vinniger te werk.

Die “Transvaalse styl” (kyk Holm, 2005a) is aangevoor deur argitekte W. de Swaan, F. Soff, J. Burg, G. Moerdijk en andere wat hul bewustelik deur die plaaslike klimaat, omgewing, materiaal, kultuur en tradisie laat lei het. Hierdie argitektuur het hom ook onderskei van die herlewing van die Kaaps-Hollandse styl wat in die 1920’s mode geword het, asook van die Edwardeaanse en ander Europese style. Van die opvallendste kenmerke was:

 

■    Oriëntasie volgens die son en die landskap.

■    Stoepe en dakoorhange wat die mure in die somer koel hou.

■    Die gebruik van plaaslike materiale soos klip en gras en bosveldhout, maar ook vindingryke gebruik van eenvoudige materiaal soos papiervloere, klei van verskillende kleure, afvalhout, ensovoorts.

■    Handgemaakte detail eerder as fabriekvervaardigde detail.

■    Die afwesigheid van “klassieke” versierings soos byvoorbeeld Griekse, Romeinse, Toskaanse en ander kapitele, ensovoorts.

■    “Aardse” of natuurlike kleure eerder as witgekalkte mure en geverfde hout.

■    Die gebruik van rondawels of samevoegings van ronde geboue of geboudele.

■    Die groepering van geboue en die skepping van leefruimtes rondom en tussen geboue.

 

Laasgenoemde twee elemente asook stoepe en lapas is bewustelik afgelei van die boukuns van die swart volke. Baie van hierdie elemente is reeds vroeër deur die Voortrekkers en pioniers as “leengoed” in die blanke volksboukuns ingevoer.

 

Hannes Meiring

Hannes Meiring

In 1973 is die Preller-huis deur die Atoomenergiekorporasie (AEK) onder toesig van die argitek Hannes Meiring en die kultuurhistorikus Elize Labuschagne gerestoureer en as Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar. Die oorspronklike kaggel wat nog gesien kan word, het weer agter pleister te voorskyn gekom en is ooreenkomstig ‘n oorspronklike tekening van Lood Pretorius se seun herstel. Die leiklipblad voor die huis is ook herstel en die oorspronklike sinknok is op die grasdak teruggeplaas. Die kombuis is verander om aan die vereistes van ‘n restourant te voldoen, maar die kelder is ongelukkig toegegooi.

Volgens oorlewering is die trap na die dakkamer smal gebou om te keer dat Hannie Preller daar kan opgaan wanneer die mans daar gekuier het. Interessant is die wêreldkaart in die dakkamer wat deur J.H. Pierneef geskilder is en waarop Bob Preller, die vlieёnier, se vlugte aangemerk is soos wat berig van sy bewegings ontvang is. Bob het glo ‘n keer onderdeur die treinbrug oor die Krokodilrivier stroomop van die Hartebeespoortdam gevlieg.

Skildery van Pierneef

Skildery van Pierneef

Preller se vriendekring het invloedryke politici, digters, skrywers en kunstenaars soos Frans Oerder, Erich Mayer, Pierneef en Coert Steynberg ingesluit wat gereeld hier besoek afgelê het. Pelindaba het sodoende ‘n integrale deel van die Afrikaner se geskiedenis en kultuur geword.

 

 

 

 

Bron

Holm, Albrecht. 2005. HOEV se opname van besienswaardighede/HEHA survey of remarkable sites. Hartbeespoortdam: Omgewings- en Erfenisvereniging van Hartbeespoortdam. CD-ROM.

Johann Lodewyk Marais. Op Eugène N. Marais se spoor (10)

Monday, November 1st, 2010
Pelindaba

Pelindaba

Die roete wat ons uit Pretoria na Pelindaba neem, gaan min of meer dieselfde roete wees wat Eugène N.  Marais waarskynlik self ‘n hele aantal kere na Pelindaba geneem het. Die ou pad tussen Pretora en Pelindaba wat verby heelparty kleinhoewes loop, is sedertdien geteer en het na alle waarskynlikheid hier en daar ‘n ander koers as in Marais se tyd ingeslaan. Ons ry met die snelweg om tyd te bespaar en omdat ons in elk geval van die snelweg af die ou pad sal kan sien wat parallel met die snelweg loop.

Die feit dat die pad destyds nie geteer was nie en Pelindaba dus vir alle praktiese doeleindes relatief gesproke “verder” was as vandag, is wel van belang indien ons die gebeure daardie laaste klompie ure in Marais se lewe in oёnskou neem. Dit het in Maart 1936 buitengewoon baie gereёn, sodat dit glad nie maklik sou wees om daardie laaste naweek van Maart 1936 met die grondpad tussen Pretoria en Pelindaba te reis nie.

Marais het op die laaste Saterdag van Maart 1936 teësinnig die Prellers uit die stad na Pelindaba gevolg nadat sy besittings reeds meer as ‘n week vantevore per ossewa saam met die Prellers se trek na Pelindaba geneem is.

Johann Lodewyk Marais. Op Eugène N. Marais se spoor (9)

Monday, November 1st, 2010
Die groot verlange

Die groot verlange

Hoewel Marais ‘n gekwalifiseerde regsgeleerde was en lank as beide advokaat én as prokureur gepraktiseer het, het hy nooit die regte as sy belangrikste nering of roeping beskou nie. Dit was dan ook nie altyd vir hom moontlik om ‘n vaste inkomste uit hierdie professie te verdien nie. In die tydperk tussen 1917 en 1927, toe Marais as advokaat en prokureur gepraktiseer het, was hy nie besonder suksesvol nie en moes hy verskeie kere van praktyk verwissel en selfs op verskillende dorpe gaan woon. Marais se verdediging in 1932 van die vier teer-en-veerders van H.P. Lamont, die skrywer van die destyds opspraakwekkende roman War, wine and women, is as ‘n fiasko beskou (kyk Leon Rousseau, Die groot verlange, 1974, pp. 434-440).

Marais se regsboek, Deeds Office Practice of the Transvaal, dra die subtitel The Deeds Office Proclamations, and Deeds Office Regulations with full Notes and later Amendments, Stamp Act, Authentication Proclamation, etc. Onder Marais se naam word sy titel aangegee as “Of the Inner Temple, Barrister-at-Law, Advocate of the Supreme Court of the Transvaal”. Die boek is in 1903 deur die “‘Land en Volk’ Office” in Pretoria gedruk en gepubliseer.

Johann Lodewyk Marais. Op Eugène N. Marais se spoor (8)

Sunday, October 24th, 2010
Paul Kruger

Paul Kruger

Daar is getuienis dat Eugène N. Marais se siening oor Paul Kruger ná die Anglo-Boereoorlog meer positief was. Dit blyk onder meer uit die skets “‘n Vonnis van Paul Kruger” in Spore in die sand en ander vertellings  (1949). In dié skets vertel Marais dat hy “‘n versameling van grappe en wyse gesegdes” van Kruger opgestel het. Marais vertel verder hoe Kruger in “daardie stormagtige tyd” tydens ‘n krygsraadsitting in die Raadzaal die Engelse handelaar en “geestige grapmaker” James Broderick, wat van hoogverraad aangekla is, met sy slim redeneervermoё uitoorlê het. Marais se koerant Land en Volk het ook ‘n krans na Kruger se begrafnis op 16 Desember 1904 gestuur, hoewel die koerant onder Marais “een van Kruger se mees verbete vooroorlogse kritici” was, aldus Paul Zietsman in Paul Kruger se laaste jare: 1899-1904 (2006).

 

Johann Lodewyk Marais. Op Eugène N. Marais se spoor (7)

Sunday, October 24th, 2010
Die Ou raadsaal op Kerkplein Pretoria

Die Ou Raadsaal op Kerkplein in Pretoria

Pretoria het as ‘t ware om Kerkplein ontstaan, waar daar reeds voor 1854 ‘n markplein was. Die eerste strooidakkerk is in 1856 daar gebou. Na hierdie plein en die strooidakkerk het boere vir Nagmaal gekom en met hulle tente en waens uitgekamp. Lank daarna sou die plein nog as belangrike bymekaarkomplek dien en talle belangrike gebeure sou op of om die plein plaasvind: Die Vierkleur is die eerste keer hier gehys, pres. Paul Kruger het die eerste keer in 1883 en drie keer daarna die eed as president hier afgelê, dit was die toneel van pres. Kruger se begrafnis op 16 Desember 1904, Uniewording is op 31 Mei 1910 hier geproklameer, adv. C.R. Swart is op 31 Mei 1961 hier as die Republiek van Suid-Afrika se eerste staatspresident ingehuldig, pres. Nelson Mandela en ander is in 1964 tydens die Rivonia-verhoor in die Paleis van Justisie tronkstraf opgelê en die digter Breyten Breytenbach is twee keer daar verhoor en die eerste keer tot nege jaar gevangenisstraf gevonnis.

Tans is daar nog heelwat van die geboue te sien wat reeds in Eugène N. Marais se tyd opgerig is. Die Ou Raadzaal, waar Marais as verslaggewer vir Land en Volk in die persbank gesit en dikwels met pres. Kruger gebots het, is reeds teen 1890 voltooi en is steeds ‘n indrukwekkende gebou. Volgens Hannes Meiring (in Pretoria 125, 1980) sou hierdie gebou, wat deur Sytse Wopkes Wierda in die vroeё Renaissance- of Italiaanse styl ontwerp is, in enige ander stad van die wêreld ‘n indrukwekkende parlementsgebou kon wees. Voorts is daar aan die oostekant van Kerkplein die Tudor Chambers wat in neo-Gotiese styl gebou is en uit 1904 dateer. Nog geboue wat Marais sou geken het, is die Paleis van Justisie wat tussen 1888 en 1910 opgerig is, die Standard Bank-gebou wat in die vroeё 1930’s opgerig is, die Law Chambers, die ou Hoofposkantoor, die Nederlandse Bank- en Muntgebou en die Café Riche. Die Café Riche word tans graag deur toeriste besoek en bied gereeld diepsinnige besprekings aan. Terloops, die standbeeld van Paul Kruger is in 1913 in Prinsepark opgerig, in 1925 na die stasie verskuif en eers in 1954 op Kerkplein gevestig.

Marais sou Kerkplein baie goed geken het. As pas gekwalifiseerde regsgeleerde het hy hom in 1902, kort ná die Anglo-Boereoorlog, as advolaat in ‘n gehuurde kantoor in die ou Nederlandse Bank-gebou op Kerkplein gevestig. In later jare sou Marais meermale oor Kerkplein stap om by die Peacock-apteek net anderkant die Café Riche sy morfien te koop; ‘n mens het jare later nog die inskrywings in die register kon sien. Die apteek het, soos talle apteke in die middestad van Pretoria, enkele jare gelede gesluit en tans het ‘n Indiёr-geneesheer sy spreekkamer daar.

 

Johann Lodewyk Marais. Op Eugène N. Marais se spoor (6)

Tuesday, October 19th, 2010
Die Brandwag

Die Brandwag

Eugène N. Marais het sy werk in ‘n verskeidenheid koerante en tydskrifte gepubliseer, naamlik Die Boerevrou, Die Huisgenoot, Die Brandwag, Ons/Die Vaderland, Die Volkstem, Die Burger en The Star. Sy verbintenis met Ons Vaderland het veral verstewig nadat hy uit Heidelberg teruggekeer en hom in Pretoria gevestig het. Gustav S. Preller, wat die hoofredakteur van die koerant was en ‘n hoë dunk van Marais gehad het, het hom oor sy vriend ontferm en Marais in Februarie 1928 as subredakteur by Ons Vaderland aangestel. ‘n Jaar later het die koerant ‘n dagblad geword. Benewens die skryf van verhale en artikels (soos die reeks “Burgers van die berge”, wat tussen 26 Maart en 4 Junie 1932 in die koerant geplaas is en in 1938 onder dieselfde titel in boekvorm verskyn het), was dit Marais se taak om nuusberigte van die Duitse nuusdiens Transozean te vertaal en te verwerk. Marais se betrokkenheid by Die Vaderland onder Preller se redakteurskap het ten einde geloop toe sy verhaal “Spore in die sand” omstreeks Maart 1935 deur die assistentredakteur, Willem van Heerden, vir publikasie geweier is.

As gevolg van Marais se morfienverslawing en swak gesondheidstoestand het sy skryfwerk dikwels in uiters ongunstige omstandighede ontstaan. A.M. van Schoor het die volgende vertel:

“So gereeld soos klokslag het dit gebeur dat ons die hele koerant, die hoofnuusblad inkluis, klaar gegiet het en dat die vervolgverhaalblad op die steen lê en wag terwyl ons oom Eugène na die werklikheid probeer terugroep. Male sonder tal het hy dan op die steen die hoofstuk klaar geskryf. Dit is dan feitlik sin vir sin van die skryfblok afgeskeur en in aller yl geset.”

Die Huisgenoot

Die Huisgenoot

In Die Huisgenoot publiseer Marais in 1925, 1926 en 1931 sy reeks artikels wat later as Die siel van die mier in boekvorm uitgegee is. Op die hakke van dié sukses publiseer hy ook ‘n reeks artikels oor bobbejane, getiteld “Die siel van die aap” (later opgeneem in ‘n Paradys van weleer en ander geskrifte). In dié jare het Die Huisgenoot onder redakteurskap van slegs twee redakteurs, naamlik H.G. Viljoen (1923-1931) en J.M.H. (Markus) Viljoen (1931-1949), gestaan. Volgens C.F.J. Muller het Die Huisgenoot in die twintiger- en dertigerjare van die vorige eeu die Afrikaner só gehelp om te lees “dat hy sy kulturele en intellektuele horison aansienlik verruim het”. Die publikasie van talle artikels met ‘n leersame en/of opvoedkundige strekking het grootliks hiertoe bygedra. Die hedendaagse navorser merk benewens die groot aantal geskiedkundige artikels ook ‘n beduidende aantal bydraes van ‘n natuurwetenskaplike aard op. Benewens die artikels van Marais verskyn daar ook bydraes soos dié van die entomoloë A.J. Hesse en S.H. Skaife en die herpetoloog F.W. FitzSimons. Marais se werk word saam met ander wetenskaplikes s’n gepubliseer en nie as kuriositeite of “rubrieke” oor allerlei wetenswaardighede soos dié wat later meermale in die Afrikaanse pers sou verskyn nie.

‘n Groot deel van Marais se werk het ontstaan toe die vestiging en standaardisering van Afrikaans hoë voorkeur geniet het.

 

Johann Lodewyk Marais. Op Eugène N. Marais se spoor (5)

Tuesday, October 19th, 2010
Gustav S. Preller
Gustav S. Preller

In Blackwoodstraat 176, Prertoria, het Eugène N. Marais van 1927 af sporadies in die stoepkamer by die Prellers gewoon.

 

In April 1927 rig Marais in ‘n brief ‘n desperate versoek aan Gustav Preller om aan hom ‘n heenkome te bied. Die brief wat Marais op 30.4.1927 aan Preller geskryf het, lui soos volg:

 

“Waarde Gustav, ek het jou brief eergister ontvang. Net een ding het by my voortgeleef - dat jy geen woord sê van na Pretoria oorkom nie; instede: my versoek om nog te skryf as of die saak nogmaals op die lange baan geskuiwe is. Gustav, ek bid jou, ek smeek jou om my nie langer in die ellende te laat voortgaan nie. Ek kan nie meer nie!”

 

In Mei 1927 neem hy sy intrek by Preller en sy vrou, Hannie, in Blackwoodstraat, nie ver van die Uniegebou nie. Daar rig hulle vir hom ‘n stoepkamer in. Later gaan woon Marais by mev. Jessie Cross en haar gesin in Arcadiastraat 733, vanwaar hy nog later saam met hulle na Vermeulenstraat 420 verhuis. Met mev. Cross se twee dogters (veral Edna) ontwikkel Marais, soos vroeër met talle ander jong kinders, ‘n soort vader-dogterverhouding. Op mev. Cross se erf hou Marais ‘n versameling vetplante aan en besoek in dié tyd sy susterskind Inez Verdoorn by die Nasionale Herbarium, waar hy haar van die Waterbergse broodboom vertel.

 

Die Preller-huis in Blackwoodsraat is in 1989 afgebreek om plek te maak vir die huidige Duitse ambassadegebou.

 

Johann Lodewyk Marais. Op Eugène N. Marais se spoor (4)

Monday, September 20th, 2010

 

Gustav S. Preller

Gustav S. Preller

Gustav S. Preller (1875–1943) en Eugène N. Marais het ’n besonder hegte verhouding gehad. Preller het op die platteland van die ZAR grootgeword, voltooi nie sy skoolopleiding nie en begin as staatsamptenaar by die Departement van Mynwese werk. In 1898 trou hy met Hannie Preller, afstammeling van ’n familie wat ’n groot rol tydens die negentiende eeu gespeel het. Tydens die Anglo-Boereoorlog veg hy as artilleris in Natal en later in Oos-Transvaal. Vier maande voor die vredesluiting word hy as krygsgevangene na Indiё gestuur. Na sy terugkeer word hy deur Marais oorreed om nie na Argentiniё te emigreer nie, maar as joernalis by Land en Volk aan te sluit. Kort hierna gaan werk hy by De Volksstem totdat hy in 1925 redakteur van Ons/Die Vaderland word. Hy tree in 1936 in hierdie pos af en vestig hom op sy plaas Pelindaba. Hy sit sy geskiedskrywing en insameling van historiese bronne vir die Staatsargiefdiens hier voort. Na sy dood op 6 Oktober 1943 word hy op sy plaas begrawe.

 

 

 

 

Preller het ’n belangrike rol op kulturele en politieke terrein gespeel. Deur bydraes op verskeie terreine beywer hy hom vir die bevordering van Afrikaans. Hy is onder meer betrokke by die stigting van die Afrikaanse Taalgenootskap en die Z.A. Akademie voor Taal, Letteren en Kunst. In 1910 bring hy ’n Afrikaanse tydskrif, Die Brandwag, tot stand. Benewens sy joernalistieke bydrae, lewer hy ook beduidende werk as prosaïs (Oorlogsoormag en ander sketse en verhale, 1923, en Ons parool, 1938), literêre kritikus, historikus (studies oor Piet Retief, 1906, en Andries Pretorius, 1937) en vertaler. Hy beywer hom vir sowel natuur- as kultuurhistoriese bewaring, byvoorbeeld deur die versorging en uitgee van ou dagboeke soos dié van Louis Tregardt (1917). Hy neem ook aan die Afrikaanse toneel deel en skryf die draaiboek vir die rolprent De Voortrekkers (1916).

 

Johann Lodewyk Marais. Op Eugène N. Marais se spoor (2)

Friday, June 25th, 2010

DIE ROETE

Tydens vandag se uitstappie op Eugène N. Marais se spoor gaan ons begin deur deur Pretoria te ry. Die strate (soos Kerk-, Blackwood-, Beatrix- en Proesstraat) wat ons gaan gebruik, het reeds in Marais se tyd bestaan, al het hulle sedertdien ‘n gedaanteverwisseling ondergaan. Ek sal tydens die toer ‘n aantal besienswaardighede uitwys wat op sy lewe betrekking het. Tydens die toer sal ons enkele afklimpunte besoek. Net een hiervan is in Pretoria. In die Kerkstraatse begraafplaas gaan ons naamlik na Marais en sy vrou se graf langs die Heldeakker kyk. Daar is natuurlik heelwat ander plekke in Pretoria wat met Marais verbind word, maar vandag gaan ons nie daaraan aandag gee nie. Dit regverdig eintlik ‘n toer op sy eie. Van die begraafplaas af ry ons weswaarts na Pelindaba waar ons besoek bring aan Gustav en Hannie Preller se huis, die rondawelhuis daarnaas waar Marais gewoon het, Lood Pretorius se huis waar Marais die geweer geleen het en die plek waar Marais homself geskiet het.

Johann Lodewyk Marais. Op Eugène N. Marais se spoor (1)

Monday, June 21st, 2010

Jare gelede het ek een middag in my motor geklim om die eerste keer na die plekke te gaan kyk waar die digter, prosaïs, joernalis, regsgeleerde, amateurwetenskaplike, morfinis en kindervriend Eugène N. Marais in die Waterberg gebly het. Dié dag was Leon Rousseau se Die groot verlange: Die verhaal van Eugène N. Marais (1974) op die sitplek langs my, saam met twee of drie topografiese kaarte en ‘n aantekeningboek.

Oor sy Waterbergse ervarings het Marais baie geskryf en van dié boeke het hom beroemd gemaak. Die Waterberg met sy fauna, flora en mense het Marais besiel (vandaar waarskynlik sy boektitels Die siel van die mier en The soul of the ape) en hom heel aan die einde vergeefs laat hunker om soontoe terug te keer. Miskien daarom het die Waterberg my reeds as jong leser geboei en was dit die plek waar my reise op Marais se spore begin het.

Daardie middag in die Waterberg het ek ‘n bietjie koersloos na die Rietfontein van die gedig “Wanneer dit reёn op Rietfontein” tussen al die ander Rietfonteine op die kaart op my knie gesoek. Kort-kort het ek by die venster uitgeleun en by ‘n voetganger of fietsryer probeer hoor: “Waar is Rietfontein?”

Dié middag op die savanne het vir een van die unieke ervarings tydens my navoring oor Marais gesorg: Op ‘n werf buite Naboomspruit het ek hoopvol afgeklim en na die huis gestap waarheen ‘n jong man beduie het. “My ma het hom geken,” het hy tussen sy malende boelhonde agter my aan gesê. Op die agterstoep het ek die enigste persoon in al my navorsing oor Marais ontmoet wat hom nog uit die tyd van sy Waterbergse verblyf, 1907 tot 1916, self geken het. ‘n Ouerige mev. Van Heerden het vertel hoe sy meer as sestig jaar vantevore as dogtertjie op die Wonderdokter se skoot gesit en hoe hy met sy vinger liggies oor haar voorkop gevryf en haar “gemesmeraais” het.