Posts Tagged ‘Eugène N. Marais’

Johann Lodewyk Marais. Lucie Möller se Watermerke/Waterberg

Tuesday, October 20th, 2009

Lucie Möller het my gevra om by hierdie bekendstelling van Watermerke (2009) ‘n een en ander oor die Waterberg te sê. Dit is die streek noord van ons, waar sy bevoorreg is om ‘n naweek- en vakansiehuis op ‘n lappie Bosveldplaas met die naam Volmoed, ‘n gedeelte van die oorspronklike Rietvlei, te besit en wat sy in heelparty gedigte in herinnering bring. My belangstelling in Eugène N. Marais sou my, moes ek aflei, met ‘n mate van gesag beklee om iets in hierdie verband by te dra.

Voor ek by die Waterberg uitkom, gaan ek ‘n een en ander oor Lucie sê. Ek het haar ontmoet toe ek as navorser by die destydse Sentrum vir Suid-Afrikaanse Letterkundenavorsing (SENSAL) by die RGN aangestel is. Lucie was toe by die Suid-Afrikaanse Naamkundesentrum werksaam en goed in haar vakgebied ingegrawe. Ek het die soort navorsing waarmee hulle besig was boeiend gevind en reeds in my tweede digbundel, Palimpses (1987), gedigte opgeneem waarin naamkundiges se invloed duidelik was.

Lucie het letterkundiges aangemoedig om van die literêre onomastiek kennis te neem deur daaroor te gesels, artikels oor die onderwerp aan te dra en self oor onder meer die plekname in die verhale van Herman Charles Bosman te skryf. Sedert die 1980’s het letterkundiges soos Johan Jacobs, Charles Malan, Bertie Neethling en Louise Viljoen boeiende artikels oor naamgewing in die Suid-Afrikaanse letterkunde gepubliseer en van die naamkunde ‘n interdissiplinêre dissipline help maak.

Danksy Lucie het ek by twee internasionale naamkundekongresse referate gelewer en artikels gepubliseer oor die naamgewing in Marais se “Klein Riet-alleen-in-die-Roerkuil” en Chris Barnard se Mahala (1971) (daardie roman wat ek elke jaar in die lente herlees wanneer weerlig rondom op die horisonne uitslaan en die eerste reёn begin val).

Tydens my jare by die RGN was Lucie ‘n stimulerende gespreksgenoot. Saam met doktor Peter E. Raper en professor G.S. (Gawie) Nienaber was sy deel van ‘n gedugte span, wat internasionale aansien verwerf het. (Of die besluitnemers wat wild en wakker plekname verander van hulle notisie neem, is ek ongelukkig nie so seker nie.)

Intussen het baie water in damme en in die see geloop. Die enkele gedigte wat Lucie tydens my RGN-dae in haar laai gehad het, het mettertyd aangegroei en ‘n jaar of so gelede het ek tot my groot verbasing en vreugde gehoor van die digbundel wat aan die kom is. Ek was bly dat Lucie volhard het en bereid was om (saam met die redakteur, Martjie Bosman) hard te werk om die bundel tot sy huidige vorm af te rond.

‘n Verdere verrassing was die gedigte in die bundel wat in ‘n meerdere of mindere mate oor die Waterberg handel. Weens my noue kennismaking met die Waterberg, veral tydens my navorsing oor Marais se wetenskaplike prosa en die ontdekking van die Waterbergse broodboom, was ek nuuskierig om te sien hoe Lucie met hierdie streek omgaan. Dit is immers ‘n besondere streek! Peter Raper skryf in Streekname in Suid-Afrika en Suidwes (1972) die Waterberg-streek is “genoem na die Waterberge, wat dit van die suidweste na die noordooste deurkruis. Die Noordelike Pongolo-, die Groot-Palalarivier, en die Nylstroom of Magalakwinrivier het hul oorsprong in hierdie bergreeks, en dit sou op sigself voldoende rede gewees het vir die naam. Toe die naam gegee is, was die gebied besonder waterryk; warm en koue mineraalbronne het by skeure in die bergreeks uitgevloei en uitgeborrel, en dit het tot die benaming aanleiding gegee.”

Veral Marais word sterk met die Waterberg geassossieer. In sy opstel “‘n Paradys van weleer” – in ‘n Paradys van weleer en ander geskrifte (1965) – skryf hy oor sy eerste jare en hoe hy gefassineer was deur die landstreek Agter-die-Berg (”ten noorde van Magaliesberg, vanaf Hornsnek tot ver by Wolhuterskop verby”). Hy maak vroeg reeds met die Waterberg kennis en in “The road to Waterberg” – in The road to Waterberg and other essays (1972) – skryf hy hartstogtelik oor hierdie streek, wat hy “the mystery region of my boyhood” en ‘n “wonderland” noem.

Marais het in die loop van 1907 op die plaas Doornhoek, naby Erasmus in die distrik Naboomspruit (tans in die Limpopo-provinsie), gaan bly en vir tin en platina begin prospekteer. Kort daarna het Marais saam met ‘n ander prospekteerder, Alec Austin, in hutte gaan woon wat hulle vir hulleself in die sogenaamde Bobbejaankloof op die plaas gebou het. Hier het Marais oor ‘n tydperk van drie jaar die waarnemings van bobbejane in hulle natuurlike omgewing gemaak waarop hy Burgers van die berge (1938), die reeks artikels oor “Die siel van die aap” en The soul of the ape (1969) gegrond het.

Tydens Marais se verblyf in die Waterberg besoek hy talle plase en dorpe in die streek en leer hy kleurryke karakters ken (onder andere die veldkenner Jan Wessel Wessels, die wildvanger Emil Tamsen, die Nylstroomse kruiedokter Ebrahim Ravat en “‘n ou Boesman, outa Hendrik”, by wie hy Dwaalstories (1959/1927) gehoor het). Hy leer ook die omgewing goed ken deur aan jagtogte deel te neem en wyd te reis. Hy trek deur Bokpoort in die Hanglipberg na die Palala-plato, waar hy enkele maande op die plaas Purekrans bly en in hierdie gebied die Waterbergse broodboom (Encephalartos eugene-maraisii Verdoorn) sien en laat navors: ‘n broodboom wat in 1944 na hom vernoem sou word. By geleentheid besoek hy ook die Soutpansberg en die Limpoporivier.

Byna al sy waarnemings oor die gedrag van diere en talle ander natuurkundige verskynsels het Marais in die Waterberg gemaak. Talle van sy publikasies, wat sedert die 1920’s verskyn, vestig vir die eerste keer die aandag op hierdie besondere streek en sodoende stel hy die Waterberg aan ‘n wye publiek bekend. In sy artikels en bellettristiese prosa figureer hierdie streek as ‘n opvallende ruimte en maak die leser met talle figure kennis wat hy daar leer ken het of pertinent in dié ruimte geplaas het (soos dié wat ek reeds genoem het).

Lucie betrek Marais eksplisiet in een van haar gedigte, wat oorspronklik in Honderd jaar later: Ter viering van die publikasie van Eugène N. Marais se “Winternag” op 23 Junie 1903 (2006) verskyn het.

 

‘N MINDER BEKENDE RELAAS

 

By Tamsen tap ons vol

en swenk êrens by Tweestroom af

na die voetheuwels van die Waterberg.

 

Kort voor die Donkerhoekpoort

kry ons die afrit na Rietvlei

tussen fluitjiesriet en populier.

 

Saans steek ons kerse aan

en hang die stormlantern buite op,

gooi sekelbosstompe in die stoof;

lees pik-pik soos kuikengoed pik

na wit larwes van termiete.

Ons wag vir die besoeker.

 

Doodluiters en tydsaam kom hy

uit die kweperlaning aangestap oor die werf

tot in die binnekring van stemme en spore

van so ver as Swaershoek en Diepkuil.

 

Deur die klein vensterruit

van die witgekalte huis

sien ons hom later sit en skryf:

moontlik oor die siel van die mier,

die melancholie van primate, en leer

hoe hy woord vir woord verdig

tot elke latente winternag.

 

In talle ander gedigte in Watermerke kry ek die gevoel dat dit juis die Waterberg is waaraan Marais hom so verwonder het wat hier ter sprake is en wat aanvullend deur hierdie bundel in kaart gebring word. Talle van die gedigte verwys na plekke in dié streek en die waterryke landskap met sy fauna en flora word skouspelagtig aan die leser voorgestel. Uit hierdie gedigte spreek daar meermale verwondering oor die verrassings wat die landskap bied en daar word stip gekyk om soveel moontlik hiervan raak te sien en te beskryf. Nie verniet nie is daar dikwels sprake van spore op die grond en ‘n voortdurende bewustheid van die skeppingsproses.

Betekenisvol is die wyse waarop die fauna en flora noukeurig met hulle volksname voorgestel word (daar is byvoorbeeld gedigte oor die woudvaring, moepel, grysappel, wildepeer, janfiskaal, kolgans, woestynolifant, aardvark, aardwolf en bruinhiёna).

 

PYLVLEKKATLAGTERS

 

Die swerm spring

gespikkel teen die skemer in,

raserig van tak tot tak

in boekenhout en wildesering.

 

Die nag hou asem op:

volmaak eers as die stilte sak.

 

Soos reeds gesuggereer, is Lucie ‘n fyn waarnemer en gaan sy sorgsaam met haar Waterbergse ervarings om. Sy is nie in wese ‘n ‘groen’ digter nie, maar sy is op dieselfde manier as die ekodigter bewus van die rol wat plek en spesieverskeidenheid in ons aardse bestaan speel.

Een van die gedigte, “Bosvarke”, vir my een van die bestes in die bundel, illustreer mooi wat Lucie met haar waarnemings maak.

 

BOSVARKE

 

Toe die bergnewels laatnag uit die klowe sak,

draf die bosvarke kop onderstebo

soos skimme uit die groot sloot

met maanhare skuins in die wind.

 

In die donker hou ons asem op:

Hoor hoe kou hulle bolle van rankplante

los tussen raasblaar en rosyntjiebos

en wei aan wortelknolle.

 

Ons hoor hulle snorkend peule dop.

Al langs die kante van die donker

verloor ons uiteindelik die spoor

en misgis ons met die geheime

van dié omnivoor.

 

Hierdie is een van ‘n hand vol gedigte oor diere. In dié gedig word enkele kenmerke van die bosvark gegee. Dit is egter nie ‘n beskrywing wat ‘genoeg’ wetenskaplike kenmerke van hierdie spesie aan die leser voorhou nie. Die digter probeer iets anders doen. Die mense luister aandagtig na die geluide wat die vretende bosvarke in die donker maak. Hierdie waarnemenings word opgeteken en sinvol georden. Maar die bosvarke verdwyn weer in die nag in en uit die gedig. Die slotsom waartoe die digter kom, is dat die mens hom met “die geheime / van dié omnivoor” misgis. Die digter erken die eiesoortigheid van hierdie diere en dus ook hulle reg om naas en saam met die mens in hierdie landskap te bestaan.

Plek- en persoonsname kom in baie gedigte voor; asook kaarte, wat van die belangrikste bronne vir die bestudering van name is. Een van die fassinerende prosesse wat in die bundel voltrek word, is bowendien die wyse waarop die professionele naamkundige die dinge en hulle gekatalogiseerde name as ‘t ware aan die geheime werking van die poёsie teruggee. Daar is genoeg hiervan om die lees van die bundel ‘n besondere estetiese ervaring te maak en ons opnuut na ons Suiderland, waaronder die Waterberg, te laat kyk. My eie ervaring van (onder meer) die Waterberg is deur hierdie bundel verryk. Dit is ‘n publikasie waarmee Lucie, net soos op haar gedugte akademiese bydrae, trots kan wees.

Rede gelewer tydens die bekendstelling van Lucie Möller se Watermerke (Pretoria: Protea Boekhuis, 2009) by die Huis vir Afrikaanse Poёsie (hAp) in Capital Park, Pretoria, op 17 Oktober 2009.

Johann Lodewyk Marais. Voortreflike poësiekritiek

Thursday, October 15th, 2009

Die vraag kom meermale by my op wat die mooiste, insiggewendste of bes geskrewe stuk literêre kritiek in Afrikaans is. ‘n Mens sou natuurlik eers goed moet besin oor die maatstawwe vir jou keuse en net so goed moet motiveer waarom die keuse op ‘n bepaalde stuk val. Hieroor gaan ek nie in soveel besonderhede uitwei nie.

Oor die jare heen was daar in Afrikaans kritici wat met besondere werk vorendag gekom het. Een van dié is Elize Botha, wat met haar voortreflike geselsstyl insiggewend en baie onderhoudend skryf. Dit is ‘n groot vreugde om te sien hoe sy met haar belesenheid, kennis van heersende literêre strominge en benaderings, en met groot respek oor skrywers en boeke skryf. Die leser het ook waardering daarvoor dat sy selde ‘n byl te slyp het, wat so dikwels die bydraes van ander prominente figure met groot gebare kenmerk en vertroebel.

Botha het die beste opstelle oor figure soos Eugène N. Marais, Jochem van Bruggen, Etienne Leroux en Henriette Grové geskryf, wat sedert die 1960’s daartoe bygedra het om aan die Afrikaanse prosakritiek ‘n prominente plek te besorg. Toe ek ‘n keer gekla het omdat ouer kritici kritiekbundels so oorheers, het die oud-Akademieman en -uitgewer Danie van Niekerk tereg opgemerk: “As jy Elize Botha vra, weet jy ten minste dat jy ‘n goeie bydrae gaan kry.” My gunsteling onder Botha se opstelle is haar bespreking van D.J. Opperman se gedig “Blom van die baaierd” in Merwe Scholtz (red.) se Woord en wederwoord: Bundel aangebied aan D.J. Opperman by geleentheid van sy sestigste verjaardag, 29 September 1974 (1974).

Nog kritici wat ek graag lees, is Merwe Scholtz en T.T. Cloete. Scholtz was benewens kritikus ook ‘n digter van onder meer die vernuftige Grimas: 1969-1973 (1976), een van my gunsteling Afrikaanse digbundels. Dit verbaas nie dat Scholtz gedigte geskryf het nie, want sy opstelle is spitsvondig, speels en taalgevoelig. Hy slaag daarin om met verrassende insigte ‘n mens verwonderd te laat oor die werkinge van taal en taalvirtuose. Wie kan ooit sy ontleding van N.P. van Wyk Louw se “Dood in die berge” in Nuwe verse (1954) vergeet? Dit slaan die leser se asem as ‘t ware weg. Cloete weer is doodgewoon een van ons oorspronklikste lesers (kyk byvoorbeeld sy opstel oor “Die taalavontuur van ‘Die swart luiperd’” in Op die woord af: Opstelle oor die poёsie van N.P. van Wyk Louw (1963)).

Ek sou nog die name van, op hulle beste, E. Lindenberg, Louise Viljoen, Daniel Hugo, Joan Hambidge en Charl-Pierre Naudé wou noem, maar oor elkeen van hulle behoort ‘n mens by ‘n later geleentheid te skryf. Hoe veral die Afrikaanse poësiekritiek op die oomblik daar uitsien, is in elk geval ‘n onderwerp om (nog steeds!) oor te besin. Miskien is dit genoeg om te sê dat indien dit nie vir Bernard Odendaal se deeglike en ingeligte oorsig oor die onlangse poësie in Perspektief en profiel: ‘n Afrikaanse literatuurgeskiedenis, Deel 3 (2006), Louise Viljoen se Ons ongehoorde soort (2009) oor Antjie Krog se poёsie en Ronel Foster, Yves T’Sjoen en Thomas Vaessens (reds.) se Over grenzen: Een vergelijkende studie van Nederlandse, Vlaamse en Afrikaanse poёzie/Oor grense: ‘n Vergelykende studie van Nederlandse, Vlaamse en Afrikaanse poёsie (2009) was nie, ons vandag veel minder sou gehad het om oor opgewonde te wees.

Maar ek wil eintlik iets sê oor my gunsteling stuk kritiek in Afrikaans! Dit is naamlik drie bladsye in Opperman se Digters van Dertig (1954), spesifiek die inleiding tot “Die hooffiguur van Dertig: N.P. van Wyk Louw”. In hierdie evokatiewe bladsye gee Opperman sketsmatig biografiese inligting oor Van Wyk Louw se jeugjare en maak ‘n byna tasbare voorstelling van hoe die Louws se Rôeveldse wêreld gelyk het. Hy beskryf dit op so ‘n manier dat dit as ‘n sleutel by die interpretasie van Van Wyk Louw se gedigte kan dien. Lees byvoorbeeld hoedat die bokkoppe in die (Lord Milner-)hotel op Matjiesfontein die eerste prikkeling vir Raka (1941) geword het. Min woorde, maar slim!

Johann Lodewyk Marais. Had Eugène N. Marais iets teen my?

Thursday, September 10th, 2009

Leon Rousseau, die skrywer van Die groot verlange, die wyd geprese en gelese lewensverhaal van Eugène N. Marais, noem in Eugène Marais and the Darwin syndrome/Die dowwe spoor van Eugène Marais (1998) ‘n aantal voorbeelde van sogenaamde sinchronisme. Hy beskryf sinchronisme in laasgenoemde boek as “Jung se woord vir min of meer gelyktydige gebeurtenisse of belewenisse sonder aantoonbare kousale verband” (p. 111). Wat die leser veral intrigeer, is die wyse waarop Rousseau sy ervarings aan ons voorhou as bewys dat Marais hom (d.w.s. Rousseau) “op soveel onverwagte maniere gedwarsboom” (p. 112) het om navorsing oor hom te doen en die resultate daarvan bekend te stel. Ek is egter skepties hieroor en beskou dit as niks anders as ‘n mistifisering van sy werk oor Eugène Marais nie. Maar soms moet ’n mens darem wonder …

Soos omstandighede (of die noodlot?) dit wou hê, was my naamgenoot, die bekende herpetoloog Johan Marais, op 4 Maart 2004 elders in Pretoria op presies dieselfde tyd besig om sý ‘n Volledige gids tot die slange van Suider-Afrika/A complete guide to the snakes of Southern Africa (2004) bekend te stel toe my bundel, Plaaslike kennis (2004), by die hAp bekend gestel is. Volgens die uitnodiging wat ek per e-pos van Fascination Books Menlyn ontvang het, had die dapperes ook “the opportunity to have their PHOTO TAKEN with a snake!”. In die lig van die rol wat slange in die werk van die ander Marais (d.w.s. Eugène Marais) speel, sou iemand wat in sinchronisme glo moontlik dié aand die werking van sinistere magte kon vermoed.

Had Marais iets teen my? Was daar dalk êrens ‘n slang in die gras?

Smile

Johann Lodewyk Marais. Eugène N. Marais se vissershut

Thursday, June 25th, 2009

Dit is merkwaardig dat nuwe inligting oor Eugène N. Marais nog steeds na vore kom. Onlangs het mnr. Frikkie Briel van plot 16 by Elandsfontein naby Pelindaba my meegedeel dat Marais van tyd tot tyd ’n vissershut langs die Krokodilrivier besoek het. Briel was lid van die ontbinde Pelindaba-kommando wat tot in 2005 bestaan het. Die kommando het twee of drie keer in die tyd toe hy lid van die kommando was daar gaan uitkamp om vis te vang en na die voёls te kyk.

 

Aangesien die hut op die skeiding tussen die Hoёveld en die Bosveld is, kom voёls en plante van albei hierdie streke daar voor. Die inheemse plantegroei rondom die hut is ruig omdat dit in die Necsa-bewaringsgebied is en dus nie deur vee of landbouaktiwiteite versteur word nie. Die Krokodilrivier vloei by die hut verby en gaan verder af deur ’n kloof met hoё kranse. Langs die Elandsfonteinspruit wat verder af in die rivier vloei, het ons op ’n klipbank afgekom wat nes die plek op ’n foto (nommer 58 in Leon Rousseau se Die groot verlange) lyk waar Marais in sy swemklere sit. Daar is ook ’n leikliptafel wat baie soos die een by die Preller-woning lyk.

 

Volgens Briel het hulle bevelvoerder, lt.-kol. R.W. du Preez, broer van die rugbylegende Frik du Preez, vertel dat Marais in die hut kom bly het en van sy boeke daar geskryf het. Dit maak die hut vir Briel iets besonders en hy wil graag hê dat dit bewaar word. Hy is bang Necsa kan besluit om dit as ’n pakstoor te gebruik. Briel, ’n boukontrakteur, meen ook die hut se boustyl is dieselfde as dié van die Preller-woning en die rondawelhuis daarnaas waarin Marais onder meer sy laaste nag deurgebring het.

 

Die voordeur van die hut is van Amerikaanse greinhout (of Oregon pine) wat uit die tyd voor ongeveer 1942 dateer toe dit algemeen in die boubedryf gebruik is. Die hut het egter dieselfde staalraamvensters as die Preller-woning, sowat een en half kilometer daarvandaan. Volgens Briel is staalraamvensters eers sedert die Tweede Wêreldoorlog algemeen in die boubedryf gebruik.

 

Briel is een van baie mense rondom Pelindaba wat weet dat Marais homself op 29 Maart 1936 verder af langs die Krokodilrivier om die lewe gebring het; sy spore hier het nog nie doodgewaai nie. Heelparty van die mense het egter nog nie iets van Marais gelees nie.

 

Johann Lodewyk Marais