Posts Tagged ‘Ewigdurende uit die vlietende Breyten Breytenbach’

Andries Bezuidenhout. Ewigdurende uit die vlietende

Monday, September 16th, 2019

Ewigdurende uit die vlietende

Andries Bezuidenhout, Boodskap ter herdenking van Breyten Breytenbach se tagtigste verjaarsdag, Tuin van Digters, Breytenbach-sentrum, Wellington
13 September 2019

Ek sien so daarna uit om te hoor wat ander mense gaan sê en gaan sing dat ek hierdie inleiding kort en lig gaan hou – ʼn voorgereg, of  ʼn aperitief. Dis egter nie so kort soos Breyten Breytenbach se gedig “Andries se besinning” nie. [1] Ek het my besinning neergeskryf om dit die sweem van gewigtigheid te gee, maar ook omdat ek die geleentheid om vanaand iets te sê so intens waardeer. Wat ek sê kom uit die hart, omdat dit is waar gedigte, skilderye en sketse uiteindelik kom lê.

Wat kom eerste: die beeld of die woord? Grotendeels lees ʼn brief van Breytenbach, per elektroniese pos of soms gebundel, eerder soos ʼn gedig. Soms is gedigte briewe, soms dra skilderye woorde saam. Gedigte word soms met etswerk, skildery of foto gebundel. Meestal, met ʼn kunstenaarsverbeelding soos dié van Breytenbach, sukkel jy met kanon, klassifikasie, of die netjiese verpakking van sy gedigte, opstelle, skilderye, briewe en klankopnames in kartondose met etikette. Met die kunstenaarsverbeelding gaan dit nie oor beeld of woord, hoender of eier, pampoen of pit nie, nee, dit gaan oor dít wat jy sukkel om vás te vát.

Vir Breytenbach kan jy dus nie vasvat nie. Hy’s die nomadiese kunstenaar, wat sy verbeelding in tussenin ruimtes vind. Hy’s die een met vele mombakkies en name, hy’s die reisiger, hy’s die nie-burger van die middelwêreld, soos hy self daaroor skryf – die drywende wêreld, “the floating world”, soos daarna in Japan verwys word, dalk die vlietende wêreld in Afrikaans. Die ewigdurende, die standhoudende, kom vir Breytenbach as kunstenaar juis uit die vlietende, uit die besef dat die niet solied is, dat die niks ook als behels.

Nee man, gee ʼn oorsig van sy lewe, sê Francois Lötter. Vir diegene wat jonger as tagtig is, of selfs veel jonger, dus ʼn kort oorsig, as onbeholpe poging om tóg iets vas te vat:

Gebore op Bonnievale op 16 September 1939, ouers Hans en Kitty Breytenbach (Oubaas en Ounooi), broers Jan, Cloete, Sebastiaan (Basjan), suster Rachel. Verhuis op ouderdom vyf na die plaas Kafferkuilsrivier, distrik Riversdale, en in 1948 na Wellington, waar die familie ʼn winkel en ʼn losieshuis – hierdie huis – tot en met 1970 bedryf.

Matrikuleer in 1957, studeer daarna Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Kaapstad (Boerneef en Opperman as dosente), asook beeldende kunste aan die Michaelis-kunsskool.

Werk in ʼn boekwinkel, by ʼn uitgewer, ontmoet mense soos Jan Rabie en Marjorie Wallace, Peter Clarke, Ingrid Jonker, Abraham de Vries en Marius Schoon.

Reis in 1960 per skip na Europa, rondom die Middellandse see, gee Engels by ʼn skool in Noorweë.

Begin in Junie 1961 om in Parys te skilder, hoe dan anders?

Ontmoet vir Huâng Liên Ngo, of Yolande, wat ook aan die Sorbonne studeer, hulle trou in 1962 in Londen. Hulle koop ʼn woonstelletjie in Parys, het dit maar skraps. Skilder, raak in die anti-Apartheidsbeweging betrokke.

Chris Barnard kom kuier in Parys, por Breyten oor skryfwerk, stuur twee manuskripte Suid-Afrika toe. Dit word in 1964 as Die ysterkoei moet sweet en Katastrofes gepubliseer, albei bekroon met broodnodige kontantpryse.

Nog bundels volg, groot drama rondom sensuur en komitees oor pryse, veral die ontwykende Hertzogprys.

Breyten en Yolande kan Suid-Afrika nie besoek nie weens die Wet op Gemengde Huwelike (1949). ʼn Visum word toegestaan in 1973. Lewer ʼn toespraak: “Ons is ʼn bastervolk met ʼn bastertaal. Ons aard is basterskap. Dis goed en mooi so. Ons moet kompos wees, ontbindend om weer in ander vorme te kan ontbind.” Pandemonium.

Stig terug in Frankryk Okhela, besoek Suid-Afrika in 1975 as Christian Galaska, word gevang en gevonnis, tronk toe, twee jaar in eensame aanhouding. Mag skryf, maar nie skilder nie.

Ounooi sterf in 1978, mag nie die begrafnis bywoon nie, hulle hou die sel se lig aan, kyk deur die loergat.

Publiseer gedigte, pryse oorsee, plaaslik verban.

Op 2 Desember 1982 verbygelaat, terug Frankryk toe, word Franse burger in 1983.

In 1984 kom die Hertzogprys uiteindelik, maar nee dankie. [2]

Besoek Suid-Afrika saam met Yolande in 1986 vir die Rapport-prys.

Speel in die laat-1980s ʼn belangrike rol om gesprekvoering tussen Suid-Afrikaanse opponente aan te help, geskiedkundige ontmoeting by Dakar.

In 1989 weer ʼn gestoei oor visums om Oubaas se begrafnis by te woon.

Belangrike toesprake vanaf 1990, bedank uit die openbare lewe.

Stal in 1993 vir die eerste keer in Suid-Afrika uit.

Kwessies oor taal: “Net omdat die Fascis in ons midde in die water gepis het, beteken nie julle mag nie meer die woord water in die mond neem nie.”

Poetry International in 1994 in Rotterdam, te veel pryse om op te noem volg.

Die toneelstuk Boklied in 1998 by die KKNK, pandemonium.

In die 2000s, klasgee in New York, Kaapstad, voortgesette betrokkenheid by die Goreé-instituut.

Word in die 2000s ʼn rockster, met klankopnames soos Mondmusiek en Lady One.

Wys in 2005 weer ʼn toekenning van die hand, dié keer aan die hand van Pallo Jordan.

In Februarie 2007 word die Breytenbach-sentrum in Wellington geopen, Yolande stal van haar werk uit.

Sedertdien nuwe digbundels, essays, versamelbundels, pryse, al gaan hy net sy gedigte aan ʼn paar vriende wys. [3]

Dat die Breytenbach-sentrum hier in Wellington ʼn kunsgalery het, is dus nie om dowe neute nie. Ek het twee jaar gelede by die Johannesburgse Kunsbeurs in Sandton ʼn plesierige oomblik beleef, toe ek William Kentridge stip na ʼn akrielskildery van Breyten Breytenbach sien staar het. Ek wou ʼn foto met my selfoon neem, maar ek is bly dat ek daarteen besluit het – jy respekteer ander mense se tweegesprekke met kunswerke. Is dit effe banaal om die oomblik dan in woorde te beskryf? Ek hoop so. As Kentridge na ʼn kunswerk kyk, kyk hy stip – hy staan terug, sit dan sy neus amper teenaan die werk, bestudeer die tegniek. Sy gesigsuitdrukking verraai nie wat hy dink of voel nie.

Met Breytenbach se eerste kunsuitstalling in Suid Afrika is ʼn pragtige bundel, Painting the Eye, met afdrukke van skilderye en opstelle oor Breytenbach se kuns gepubliseer. In sy opstel gebruik John Miles die beeld van ʼn blinde bergklimmer uit ʼn Breytenbach gedig om oor sy kuns te skryf. Hoe kan ʼn blinde mens dan ʼn landskap waardeer? Miles skryf oor hoe Breytenbach in sy kuns probeer wys wat ons nie kan sien nie – die wind, liefde, toeval, verhoudings. As die wind jou hoed van jou kop af waai, gryp jy die hoed, nie die wind nie. Hoe skilder jy dít wat ons nie kan sien nie? Hoe skryf jy oor dít wat ons nie kan sê nie. Jy skilder daaroor, jy skryf daaroor. John Miles kom tot die gevolgtrekking: “Dit alles word geldig gemaak op die utopie van die papier en die doek. Utopie: die nie-plek, die groot ontstellende leegte. Want daar is niks buiten die bewussyn nie en die bewussyn is niks.” [4]

In dieselfde bundel skryf Breytenbach oor die kunsmaakproses as anargie: “Only anarchy can save us from mayhem. Our innocence was to believe in the kindness of the human spirit and the perfectibility of the human intellect. The anarchy I’m proposing has to do with the unremitting questioning of all shapes and exercises of power. The human condition, as far as I’m concerned, ought to be that self-incendiary moment of uprising and derision in the no-time void. You have to work through the layering of painting to attain the nakedness of non-being. Along the way the I must be ceaselessly invented, if only to have a (disintegrating) observation post.” [5] Ek dink hierdie aanhaling praat oor kuns, maar ook oor ʼn politieke verbeelding. Is dit waaraan Kentridge staan en dink het? Jy vat Breytenbach se kuns nie maklik vas nie.

Tóg is hierdie ontwykende Breytenbach ook lyflik. Hy’s gebore en soos almal van ons het hy met sy geboorte reeds begin sterf. As hy skryf oor toe hy op 16 September 1939 op Bonnievale uit sy ma se skoot gebeur het, was die verderf reeds in sy pa se saad. Sy heel eerste gedigte gaan oor doodgaan – ons weet die dood begin by die voete – en sy heel laaste gedigte, oor so paar dekades, sal steeds oor die dood gaan. Hy moet sy vyandige voete paai, skryf Breyten, “want ek moet nog leer om te sterf/ want ek moet nog besluit omtrent die wyse waarop”. [6]

Telkens bewonder ek hierdie sterwende Breytenbach wat so met sy vyandige voete kan dans, wat so soepel beweeg. Ek onthou hoe Breyten en Bibi Slippers by die Dansende Digters-fees kon dans, Ko Un wat al Koreaans om hulle draai. Is daardie gedigte oor die dood ʼn tipe portret van Dorian Greyten Greytenbach? Nee, ek dink dit het meer met die dissipline van joga te doen. Om immers vir die dood reg te maak, is juis om te lewe.

As Breytenbach oor die middelwêreld skryf – daardie wêreld van nie-burgers, diegene sonder staat, vlugtelinge, kunstenaars wat deur hul eie mense onteien is – verwys hy na Hannah Arendt se beskrywing van Heimatlosen en Jacques Derrida wat beskryf hoe die wêreld se gasvryheid teenoor vreemdelinge taan. [7] Ontheemdes as kunstenaars, as reisigers, as mense wat aansukkel sonder visums en ander papiere. Juis uit daardie vlietende wêreld kom betekenis, nuwe vorme van bestaan en begrip – ʼn kunstenaarsverbeelding, maar ook ʼn politieke verbeelding.

Breytenbach is Parys, waar hy skilder, hy’s Vietnam, van waar hy liefde vind en voorvadergrafte besoek, hy’s New York, waar hy in kreatiewe skryfkuns klas gee, hy’s Goreé Eiland, waar hy help om kerkers en kettings in ontmoeting en verbeelding te omvorm, hy’s Spanje, waar, vermoed ek, hy werklik tuis voel as sy buurman hom uiteindelik nooi om uit sy eie vaatjie wyn te drink, maar ook ʼn plek is waar taal en identiteit so onverbiddelik aan die vorm van die nasiestaat beur soos hier ter plaatse, sodat mens daaraan herinner word dat ʼn tuiskoms altyd tentatief is.

Tog sukkel ek met die idee van Breyten Breytenbach as ʼn ligvoetige kosmopoliet, iemand wat van nêrens vandaan kom nie en daarom orals tuis kan wees. Ek beleef hom as ʼn Bolander – jy hoor dit in hoe hy praat, jy sien dit in hoe hy lyk – niemand kan die Boland in Breyten mis hoor of mis kyk nie. Dis in sy brei, dis in hoe hy beweeg, dis in sy wynglas. Telkens is ek jaloers op daardie tipe behoort aan ʼn plek met ʼn diep geskiedenis – ewenwel een van baasskap en slawerny, maar ook een van ʼn wedersydse verstaan en verstandhouding, gevorm deur berge en plase waar die sakrament van brood en wyn in die seisoenale ritme van winterreën verbou word. Dis ʼn stuk Mediterreense beskawing wat die noorde van Afrika, die suide van Europa en die weste van Asië hier in die suide van Afrika oorvertel. Daardie klimaat, daardie boustyl, daardie handelsroetige hibriditeit van menswees, is ég Boland. My indruk van Breytenbach is dat hy so nomadies kan wees júis omdat sy menswees so diep in die Boland lê.

Dis net dat die see hier rond so anders as die Middellandse See is, soos Breytenbach in “Septembersee”, ʼn gedig oor exile, skryf: “onthou jy hoe witmaan-hoë branders/ flink agtermekaar/ soos muilspanne op ʼn skou/ af kon donder op die Strand se sand …” Dit teenoor die exile see, die een aan die Italiaanse kus, “ʼn ander, platter see, ʼn see sonder tornyne, ʼn see sonder skop” waar ʼn vissersboot “oor die einder kraal […] ʼn druppel aan die wimper van ʼn groen oog”. [8]

Om een van die belangrikste digters uit die vlietende wêreld effe aan te pas: ʼn Mens sou seker kon sê dat die Boland aan Breyten ʼn wonderlike reis geskenk het, sonder die Boland se helder berge sou hy nooit vertrek het nie, ook dat die Boland nou niks meer oor het om aan Breyten terug te gee nie. Om te kan vertrek, moet jy behoort. Deur te vertrek, behoort jy egter aan baie plekke – elk met ooreenkomste, maar ook ʼn eiesoortigheid wat die verbeelding op hol neem – ʼn wêreld met losieshuise, of dit nou Wellington of Ithaka is.

Laat ek dan afsluit met ʼn verwysing na ʼn gedig oor jeug en oudword, daardie gedig as vorm van berou, die een oor die “babelaasoggende” waar Breytenbach skryf oor toe hy en sy vriend “uit kon stap met ge-oliede koppe en lywe met nuwe krake in iedere sit en lit.” Waar hy skryf oor ’n “bliksemse son” wat “naaldskerp ’n wit doek aan die aarde probeer stik”:

om met spesiale lippe ’n eerste

bewerige koppie koffie af te sluk –

destyds, tjom, toe ons nog jonk genoeg was

om ons dronk vás te kon vát! [9]

Notas

[1] Uit die bundel Huis van die dowe (1967)

[2] Breytenbach het die prys van die hand gewys, omdat hy nie ʼn prys van die Akademie wou ontvang terwyl Nelson Mandela in die tronk was nie. Toe die Hertzogprys vir poësie veel later weer aan hom toegeken is, het Mandela hom persoonlik gebel om hom te oortuig om die prys in ontvangs te neem. Sien ook Francis Galloway se hoofstuk hieroor in breyten breytenbach: woordenaar woordnar (2019, Protea), hoofstuk 9.

[3] Hierdie kort oorsig saamgestel uit LitNet se biografie van Breytenbach, asook Francis Galloway se Breyten Breytenbach as openbare figuur (1990, HAUM-Literêr) en haar meer onlangse hoofstuk in breyten breytenbach: woordenaar woordnar (2019, Protea), hoofstuk 8.

[4] John Miles, “Ons reis deur die landskap, die groot-groot nie-plek.” Painting the Eye (1993, David Philip), pp. 51-52.

[5] Breyten Breytenbach, “The first hand-story (working notes).” Painting the Eye (1993, David Philip), p. 70-72.

[6] “Die dood begin by die voete” en “geb. 16 Sept. 1939, Bonnievale” uit Die ysterkoei moet sweet (1964).

[7] Sien Breyten Breytenbach, Notes from the middle world (2009, Haymarket Books), pp. 138-139.

[8] Uit die bundel Kouevuur (1969).

[9] Uit nege landskappe van ons tye bemaak aan ’n beminde (1993).