Posts Tagged ‘Fanie Olivier’

Fanie Olivier – vertaling in Engels

Tuesday, December 13th, 2011

Fanie Olivier - vertaal deur/translated by Charl JF Cilliers

 

Fanie Olivier
Fanie Olivier

Fanie Olivier was born in Pretoria, grew up in the Cape and learned to write in Durban. He studied Law and Afrikaans at Stellenbosch, and his first volume of poems was gom uit die sipres. There were further post-graduate studies in Utrecht in the Netherlands, and he obtained his doctorate at Potchefstroom University. He was a lecturer at the old University of Natal and (similarly) at Durban-Westville. He was Arts Editor for Rapport newspaper for three years, and then again a lecturer at the still existing University of Venda. He worked for almost two years at the Adam Mickiewicz University in Poznan in Poland and then again as an advocate in Durban. Since the end of 2007 he returned to the new University of KwaZulu-Natal, but went back to Poland. After his first volume of poems he published five more volumes: om alleen te reis, paradysrigting van die wind, skimmelig, verklarings 1967-1987 and apostroof (2010). He published a couple of celebratory volumes and the distinctive Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte, an anthology of love poems. In 2009 he translated JM Coetzee’s novel Disgrace.

 

 

for travellers signposts are like a prayer

and for an overview of what lies where

possession of a route map is beyond compare.

 

but if one is entangled, trapped here

in urban toil - hound and home so near,

the dearest kith and kin - it would appear

 

a city atlas could be the very thing

to coax one into plotting

 

the overall terrain: with CD’s playing,

blissfully from your bed scrutinise

the scene: alleys a woman would be wise

to skirt; green oases under smoggy skies.

 

i know:  angst freezes you cuts you down to size;

angels lift you into a deeper, darker, sweeter ring

 

(Uncollected)

(Tr. by Charl JF Cilliers)                                  

 

 

orb

            (for ina rousseau)

 

how awesome are you, beautiful sphere

with ravishing soil, loam, malleable clay

dolomite that splinters under the sun,

granite ruptured by a root, huge austere

mountains flaking off into a vlei,

a marsh overnight turned to stone?

 

how you bring forth life from a cocoon that’s spun,

from an egg cell, a succulent finding its place

on a drop of sand! full of  colours you sway

the seasons, full of sound every tree!

 

you blink an eye and the phoenicians are obliterated;

with a flick of the wrist the egyptians are swept away;

whoosh, you shatter the greeks, the roman empire

vanishes like an afterthought your dreams set free.

 

who are we to toy with you like a silver ball

from a station teetering somewhere in space?

who do we think we are, we who continually conspire

to rip apart your innards, throw

smoke up into your clouds, who let forests fall

to slabs of tar, bare botches of a concrete overrun?

 

one move from you and the skyscrapers’ steel

snaps like that shade tree that a worm has made its meal,

a blade of grass cracks concrete, the plight

of aids blights our smug self-sufficiency.

 

a whiplash of hail makes it clear,

a flash of cosmos reveals what you sow.

 

how awesome you are, how beautiful a spot,

bold planet that turns, turns unabated

turns through a million years of light;

how pathetic, how trivial are we

who think we are creation’s crown: what rot! 

 

(Uncollected)

(Tr. by Charl JF Cilliers)                            

 

 

vi

 

the hand, its task complete, lies on the palette

fingers mix colours in a dream’s rich honeycomb

and against the wall, perfect in chrome,

his model is immortalised in her portrait.

 

so softly that a pencil’s light tracery

can be heard she folds the rug to tuck him in

strokes him where sleep’s silver softnesses begin

and in the sweet deep undulations algae drift dreamily.

beside the coast’s dark line lie the harbour’s winking lights.

 

so colours need to intermingle, flow,

words evoke words, stone upon stone.

the wispy sketch against the wall must disappear from sight.

 

her hand and everything within start to bleed and glow

her eyes, his canvas, incomprehensibly becoming one.

 

(From: die kunstenaar kyk na sy model. An unpublished poem, 2010)

(Tr. by Charl JF Cilliers)                                              

 

 

for months my small hamlet lay there safely, still,

i watched the gangly granadillas cling

to the fence i planted as security

against intrusion from outsiders’ shrill

weighing up of joy and agony.

shrubs along the path had grown dense

and songbirds appeared again to sing

slowly everything made sense

and behind shutters i am in charge, the man

planting more windbreaks everywhere i can.

 

then on a night like this it falls apart                        

under your shining lips: blown

away by the wind roaring through the dell

façades scattering, my plan

in tatters like my protected heart

 

friends ask where are this dumb fool’s ears:           

even the piggies learned their lesson well:

in order to survive one always should

use tar, concrete, corrugated iron, stone.

 

how would they know with how much care

i chose the spot where i had planned to stay

the wind a gentle breeze over these many years

and not a hint of perfume in the air

i found out everything i could

to prevent a new beginning and the same despair.

how could i have guessed that you lived all alone

here in the mountains, that my house of cards

of thatch and straw would be blown away?

 

after all, i too am only flesh and bone.

 

(Uncollected)

(Tr. by Charl JF Cilliers) 

 

Translator:

 

Charl JF Cilliers  was born in 1941 in Cape Town. Initially he went into the field of electronics and lectured for 4 years. He then joined Parliament as a translator in 1968 and retired in 1998 as Editor of Hansard. His first volume of poems West-Falling Light appeared in 1971, to be followed by Has Winter No Wisdom in 1978. His Collected Poems 1960 - 2008 appeared in 2008 and The Journey in 2010. His latest volume of poetry, A momentary stay.  was published in 2011. He also published a volume of children’s poems, Fireflies Facing The Moon, in 2008. He has retired to the Cape West Coast where he continues to write.

 

 

 

 

Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte

Monday, January 31st, 2011

Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte. Saamgestel deur Fanie Olivier. Human & Rousseau, Kaapstad en Pretoria. ISBN 978-0-7981-5182-5. Prys: R195,00. 253 bladsye. Sagteband.

 

By terugskoue maak die dekade-en-’n-half tussen ongeveer 1985 en om-en-by 2000 die indruk van ‘n bestekopmakingstyd in die Afrikaanse poësie.

Omslag

Omslag

Daar was byvoorbeeld ‘n hoogbloei in die publikasie van bloemlesings, wat uitgemond het in die samestelling van Groot verseboek 2000. ‘n Mooi klompie tematiese versversamelings - oor religie, kos en drank, musiek, kind-wees, ekologiese bewustheid, die erotiek, die vroulike perspektief, ensovoorts - het ook in hierdie era die lig gesien. Die eerste (1987) en derde (2001) uitgawes van Fanie Olivier se keur uit die Afrikaanse liefdespoësie baken dit as ‘t ware van begin tot einde af.

Toe, rondom die eeuwending, het die uitgee van sulke bloemlesings, soos amper ook van solobundels, tot stilstand geknars. Sedertdien was groei en groeistimulasie egter ‘n belangrike kenmerk van die Afrikaanse poësieveld. Die profilering van (dikwels nuwe) digterskappe in die Nuwe stemme- en Versindaba-reekse is ‘n opvallende uiting hiervan.

In 2008 het ‘n sterk uitgebreide uitgawe van Groot verseboek verskyn, en nou, laat verlede jaar, die vierde uitgawe van Olivier se liefdesvers-keuse, met 85 gedigte meer as voorheen. Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte is die enigste van daardie tematiese versamelings van weleer wat bly voortleef het, maar verteenwoordig saam met Groot verseboek 2008 tog iets van ‘n heropname van ‘voorraad’.

En die stand van sake is ‘n riem onder die hart. Sonder om onnodig ydel te wees: Die liefde bloei in Afrikaans! Dis plein pakkend en roerend om deur Olivier se samestelling te lees.

Tematiese bloemlesings is kenmerkend nogal behoudend en bevestigend met betrekking tot die kanon. Olivier se samestelling is oorwegend ‘n voorbeeld hiervan. Die “mooiste” word gekies - en nié noodwendig die grondverskuiwende of uitdagende nie. En nie verniet nie: Sulke bloemlesings word meestal saamgestel vir ‘n wyer as die goed ingeligte kopersmark. Gehalte en gewildheid is die twee kante van die glansmunt hier.

Vanaf die bundelmotto (die twee slotreëls van Boerneef se alombekende “die berggans het ‘n veer laat val”) tot die laaste bladsy toe is Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte dus deurspek van ‘klassieke’, partymaal getoonsette verse in Afrikaans, of van gedigte wat onderweg lyk om daardie status te verwerf.

Kort na die verskyning van die eerste uitgawe het kritici al gewag gemaak van die “veiligheid” van Olivier se gedigkeuses. “[J]a,” erken hy aldus in die jongste woord vooraf, “ek het gedigte wat swaar in die erotiek lê, destyds bewustelik weggelaat en hulle het daarom en daardeur ‘n wonderlike tuiste gekry in Johann de Lange en Antjie Krog se bloemlesing Die dye trek die dye aan.”

Gelukkig kon hy “die versoeking” hierdie keer “nie heeltemal weerstaan [...] nie”, en kan ‘n mens strofes soos die volgende van Breyten Breytenbach te lese kry:

 

as my peester ooit die magiese

voering van jou kont sou vergeet

die diepberg en die knobbeltjie kittelaar

en die polsende grootmaak van jou tong -

mag dit dan verdor soos ‘n dooie vyeloot

mag dit stom word soos ‘n mondnar sonder tong

mag dit per ongeluk deur ‘n hond

ingesluk en uitgekak word op die strand

 

en indien my hart ooit die aanraak

van jou hande sou vergeet

sou verraai die golwing van jou hare

die ontvanklike oopgaan van jou dye nie onthou -

mag die skerpregter se mes dit deurboor

mag dit versmoor in die rooivloed van bloed

mag dit deur die eeue woed van pyn

want dan het ek jou hart nooit geken nie

 

en ek het vir wind en sotword gelewe

ja, ook dan sal die dood te genadig vir my wees[.]

 

(Slotstrofes van “die eed”, uit die windvanger, 2007 - ‘n gedig en bron wat nie in die kopieregerkenningslys agterin die bloemlesing vermeld word nie.)

 

Olivier stof dus nie maar net die vertroude Afrikaanse minneversskat af met hierdie uitgawe nie. Ek het genoem dat sowat 85 gedigte toegevoeg is tot die 2001-keur. 17 digters se name verskyn nou ook die eerste keer in die erkenningslys.

En die gedigte is hierdie keer volgens ‘n heeltemal ander beginsel gerangskik as in die vorige uitgawes: chronologies volgens eerste publikasiedatums in plaas van alfabeties volgens die digtersvanne. Dít bring myns insiens ‘n (gesonde) relativering van die kwalifisering “mooiste” teweeg. Olivier noem in die bloemlesinginleiding dat resensente voorheen “‘n verduideliking van die arrogante titel van die versameling” gevra het. Ek reken hulle het in minstens een opsig tereg hierop aangedring: Tematiese bloemlesings is tipies hede-gerig - ook wat in die verlede geskryf is, word in die lig van vandag se poësieopvattings beoordeel. Die alfabetiese plasing volgens outeursname van voorheen het die tydgebondenheid van style en literêre smake probeer ignoreer.

Die nuwe rangskikking vee nie die bepaling “die mooiste” uit nie; dit laat ‘n mens ‘skoonheid’ ewewigtiger in die lig van periodekodes sien. En laat ‘n mens des te meer respek kry vir wat mooi bly oor prosodiese en stilistiese eragrense heen - soos vir die volgende strofes uit A.G. Visser se “Rosa Rosarum”:

 

Kom na my tuin waar die donkerrooi rose

Duist’re geheime vertrou aan die nag;

Sonnestraal-kusse en suidewind-kose.

Drome en liefde die lang somerdag.

 

[...]

 

Daar in die vywer, bestraal deur Arjana,

Open die lotus haar heilige kelk,

Dan eers bereik sy die hoogste - Nirvana -

As sy in glorie van songloed verwelk.

 

[...]

 

Kom as dit skitter van dou-diamante,

Rosa Rosarum, in my Paradys,

Dat ek my blomme, my bome, my plante,

Roos van my hart, hulle weerga kan wys!

 

Onvermydelik, vanuit so ‘n literêr-historiese hoek gesien, begin ‘n mens dan wonder oor die ‘verteenwoordigendheid’ van die keuse. Nie omdat ‘n mens krities wíl wees nie; gewoon uit entoesiastiese meelewing. (Olivier nooi ‘n mens juis, en tereg ietwat tong-in-die-kies, in sy inleiding uit om hom te “vermaan”, waar nodig; om hom te “laat weet [...] wat ek misgekyk het”.)

Ek noem ‘n paar vrae en gedagtes wat, al lesende, in hierdie verband by my opgekom het.

Kon daar nie ‘n skeutjie volkspoësie toegevoeg gewees het nie - byvoorbeeld uit die volkskwatryneskat wat Pieter W. Grobbelaar in Die rooilappieskombers (1997) versamel het, en waarvan talle met vryery en die liefde te doen het? Die gerf wat hier geoes is van vóór Dertig, lyk hoeka skraal.

Van die Dertigers gepraat: Verdien Uys Krige om so totaal afwesig te wees hier? Haal sy “Swaels bo die kamp”, uit Hart sonder hawe van 1949, nie dalk die paal nie?

Pirow Bekker is nog ‘n naam wat opvallend ontbreek. Die liefdesvers-afdelings in sy ‘ouderdomsbundels’ Stillerlewe (2002) en Van roes en amarant (2008) het mý egter ontroer.

Toe ek die keuse uit Ina Rousseau se oeuvre betrag, het ek dadelik die onthou-vers “Jan” uit ‘n Onbekende jaartal (1995) gemis:

 

Terwyl sy vir haar gesin ‘n broodjie

van water en witmeel maak,

dink sy weer aan ‘n man met die naam

Jan. Hoe hy eens op ‘n tyd ‘n baadjie

gedra het van bruin riffelferweel

en die woord dadelik

stukkend gebreek het tot drie enkelklanke

een dodelike stormdonker dag. So: daa de lik -

en sy gedink het, aanvanklik, sy stil blik

is onskadelik. Sy plaas die pan

in die oond en gaan na die hoofslaapkamer.

Baie stadig kam sy haar hare

terwyl sy deur die raam

na die sonsondergang staar.

So baie herinneringe,

so baie herinneringe deur so baie jare

van haar bestaan,

aan ‘n man met die naam

 

Jan - [.]

 

Lina Spies se “Groet in pers” het my na Van Wyk Louw se “Groet in bruin” laat soek - en toe ek deur Tristia (1962) blaai, kom ek vier bladsye vroeër op die onvergeetlike liefdesverlatenheid-vers “Sy sal nooit kom nie” af, wat ek óók in die bloemlesing sou wou sien:

 

Sy sal nooit kom nie. Moenie luister.

Moenie wag. Moet niks verwag nie.

Leer die verwagting af. Leer die wág af.

Leer áf om te luister. Leer af.

 

Die genot wat Danie Marais my met sy vlerksleeppoësie in die eerste afdeling van Al is die maan ‘n misverstand (2009 ) besorg het, sou, indien ek in Olivier se skoene was, hom ‘n tweede gedig in die bloemlesing laat verdien het. En ek sou iets uit Johannes Prins se Een hart (2009) ingesluit het; en ek sou …

Publikasieruimte is nie onbeperk nie, ook nie goedkoop nie, soos Olivier en sy uitgewer seker selfs beter weet as ek. (Waarskynlik vandaar die slapband-baadjie wat hierdie uitgawe dra; die tweede druk van die vorige het al dusdanig in die boekwinkels verskyn.) En keuses kan nooit sonder persoonlike voorkeure uitgeoefen word nie.

Ten spyte van kommersiële beperkings het die samesteller en sy uitgewer kon regkry om kennelike liefdeswerk te verrig.

Daarom: Duim gelig vir hulle!

 

Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

 

Jelleke Wierenga. Oor die liefde en die leegte

Wednesday, October 27th, 2010

Dis Oktober, die mooiste, mooiste maand – nog ’n paar dae – en dus mag ’n normaalweg siniese mens nie te veel verkwalik word as sy oor die liefde skryf nie.

Ek kry die bundel Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte, saamgestel deur Fanie Olivier, ter hand gestop deur “daardie god wat hom verlustig in verandering” (Peter Blum, “jou sintuie wil ek toesluit een vir een”, Steenbok tot poolsee). Ek maak die bundel lukraak oop, soos dit hoort.

Dit val oop by TT Cloete se “uniseks”:

 

ons het mekaar
se tagtig plus jaar
lief sonder onderskeid
van man- en vroulikheid
sonder sterkste en eerste
sonder taaiste of teerste
of mooiste ons yl hare is ewe lank:
en dun ons roosblaarhuid is ewe blank
en gevrat nooit vantevore só nie seer
seker het ons mekaar só liefgehad nie en nooit meer
en meer getrou as nou nie as een nou moet doodgaan
hou die ander een sommer op om te bestaan
albei se arms is vlerkewyd gebak
vir mekaar om mekaar in te haak
as een se voet nou sou swik
is die ander een ook gewrik
ons gaan eensgesind geklee
die eenders is altwee

 

Net nou die dag sê ek vir iemand: “Die liefde is dood – dalk nie die ouer-kind-liefde nie – maar die ander soort. Die mens is die mees wispelturige, onbetroubare wese wat ooit geskep is, tot die dood toe nie in staat tot durende liefde nie. Ek sluit myself daarby in.”

Maar nou lees ek die teendeel. Liefde tot in die grysheid toe, verby liggaam en ego, ydelheid en die sug na anders en nuut.

Vandag sien ek hoe grysheid nuwe lewe liefhet. In die koemkwatboompie het twee kwikstertjies ’n nessie saamgeflans, van bo beskerm deur ’n paar varsnuwe blare. Ek klim tot op die boonste sport van die trapleer en loer in. Daar lê die drie bondeltjies, skaars herkenbaar as toekomstige parmantige kwikkies. En waarop lê hulle? ’n Snoesige onderlaken van grys hare. Sommer ’n klomp hare, nie net hier of daar ingevleg nie. Die pa- en ma-kwikkie moes omtrent in hul skik gewees het met hul vonds – waar hulle dit ook al opgespoor het. Die hare lyk afgeknip en nie soos ’n bondel wat uit ’n borsel getrek is nie – waar sou mense nou hul hare stort indien nie reguit in ’n vullisblik nie? Glo mense nie meer aan toordery nie?

Op hul harige onderlaken, skaars herkenbaar as kwikkies.

Op hul harige onderlaken, skaars herkenbaar as toekomstige kwikkies.

Die hare laat my toe dink aan my eerste ernstige kêrel, VL, wat op op ’n haar na Woody Allen gelyk het en inderdaad deur mense in die straat gegroet is as “Mister Allen”. Hy het dieselfde ernstige Joodse neuroses as Mister Allen gehad … maar net so pittig daarby.

My Woody het ’n ding oor hare gehad. Gelukkig net sy eies – nie soos die ander Joodse kêrel wat ereksies oor my goue beenhare gekry het en alle skeermesse in ons woonstel verbied het nie. (Hy’t ook ’n fobie oor skuim gehad, maar dis ’n skinder vir later.)

Die eerste keer toe ek VL se hand vashou – op ’n bus, ons was albei joernaliste op pad terug van ’n funksie – kon ek nie verstaan waarom hy agterstevoor eelte het nie. Later het ek talle demonstrasies van die ontstaan van die verskynsel van agterstevoor eelte aanskou, tot malwordens toe. Hy het naamlik vuis in die mond gesit en al die haartjies aan die agterkant van sy vingers afgebyt totdat rooi, skubbige eelte gevorm het.

Die ander hare aan sy vreemde wese was ook nie bestand teen sy aanslae nie. Hy het orals kaal kolle op sy kop gehad waar hy sy mooi kastaiingbruin hare in orgies van neurotiese denke uitgepluk het. Hy het dikwels voor die spieël van die badkamerkassie gaan staan, sy onnatuurlike en natuurlike blesse betrag en dan gelamenteer: “As ek die dag hieroor gaan begin skree, sal die Here self moet afkom en my moet vashou.” Ter kalmering druk hy dan sy neusporieë uit.

Ek skinder nou lelik en aanhoudend, maar hy het ook dikwels hand in die hemp gesit, Napoleon-styl, en die hare op sy bors gemolesteer. Elke boek of tydskrif wat hy gelees het, het boekmerke van hare gehad.

Omdat hy ook so ’n ontevrede man was, het ek ’n kortverhaal geskryf met die titel “Die man wat aan ontevredenheid gely het en wat met hom gebeur het (’n moderne sprokie)”. Inderdaad het die ontevrede man aan ’n aaklige einde gekom, soos dit in ongesensorde, bloeddorstige sprokies hoort.

Elke oggend skud sy lankmoedige vrou sy beddegoed uit – hulle het natuurlik teen dié tyd al apart geslaap weens haar aanstootlike gewoonte om asem te haal wanneer sy slaap. Dit het die ontevrede man baie gepla. Wanneer sy dan nou soggens haar man se beddegoed op die gras uitskud, wag die voëls haar in. Orals glinster oë op takke en tussen struike. Wanneer die vrou na die huis terugstap, sak ’n piepende en krysende wolk op die gras neer. Gevegte ontstaan te midde van oorvloed. Gou staan die grasperk bekend onder die stad se voëls as die eldorado van nesmateriaal.

Sien, hier’s ek nou terug by die kwikstertjies en hul harige onderlaken.

O, en wat het verder gebeur met die Woody Allen-kloon? Hy was ook in my “Gal-ery van gewese geliefdes” (in my bundel Bloot mens), maar ek het dit voor publikasie uitgehaal. Te veel, te veel. Ek meen, hoeveel aaklige refleksies op jouself kan ’n mens hanteer? Hier’s die einde dan – die laaste paar strofes van nog ’n lang epos sonder helde of heldinne:

 

Ek wou jou trou,
maar die woord het jou
in diarree laat borrel en brou:
dan op knieë Imodium-grou
het jy gesmeek: Ek moet jou hou.

Hoe het dit geëindig dan
die storie van die Dopper en die Joodman?
Ironies soos net die lewe kan,
word hy ’n Jew for Jesus, ’n nuwe man:
en ek word na die kombuis geban.

My twee woordjies: “Love you”
was ter afskeid: “Fuck you”.

Tien jaar later sien ek jou toevallig
in Vishoek: vet en onbevallig
pankop onderstebo kou jy jou vingers swartgallig
langs vroutjie in tentrok voltallig.
Goddank ek’s jou gespaar: ontoevallig.

 

Maar daar’s nog ’n paar dae van Oktober oor … laat ek dus nou op die pers noot van die eerste jakarandabloeisels eindig. Dis mos mooi as iemand vir jou skryf: “Ek wil nog vir jou slaaptydstories lees uit vergete kinderboeke ek wil nog vir jou oordadig kook en wyn skink kruisbeen langs jou sit voor ’n kaggelvuur met winter buite ek wil nog saam met jou loop en stap tot ons beenmoeg is ek wil nog saam met jou foto’s neem wat my asem wegslaan ek wil saam met jou lag en huil oor stories en mensdinge ek wil nog deel van jou lewe wees, ek wil nog.”

Joan Hambidge. “gom uit die sipres” (Fanie Olivier)

Wednesday, June 2nd, 2010
Fanie Olivier

Fanie Olivier

My blou bundeltjie van Fanie Olivier se lieflike debuutbundel Gom uit die sipres is met plastiek oorgetrek. Buite-om is die prysomslag: ‘n manuskrip van hierdie bundel is bekroon met die Reina Prinsen Geerligs-prys in 1971 en binne-in is daar ‘n foto van die digter wat ek uitgesny het van ‘n jong, laggende Stefaans Olivier. My naam in blou in ‘n ronde vetskrif met die datum: 1975. My eerstejaar aan die US. Die prys: R3, 50.

Die waarde van hierdie bundel: duursaam - prysloos.

Daar is min bundels wat so met my gepraat het as hierdie debuut van Olivier. Dat so ‘n jong mens ‘n stem kon hê, het my aangegryp. Boonop het ek gevoel dat hy alles presies verwoord soos wat ek as ‘n jong mens gevoel het. En die surrealistiese gedig “vroeë mis” (10) het ek uit my kop uit geken. Daardie eekhorinkies wat die verakkerde tone wegdra, het dae lank by my gespook. En die spel met Totius kon ek via my blou Groot Verseboek-uitgawe ook opspoor, lank voordat intertekstualiteit ‘n mode-woord was. Veral die gevoel dat hierdie digter nie bang was om sosiale ongerymdhede aan te spreek nie, het my ook aangespreek. Sy trefseker verwoording van jeugdige melancholie en nostalgie het my verder bekoor. Soos ook die gedig “jeugliefde” (34) waar die spreker bely:

 

maar ek sal bewend oor ons stil geheim die fraai

blou petrea tot blink helikopters draai.

 

In my bundeltjie is daar regmerkies en aantekeninge in die kantlyn met ‘n potlood. “Hebban olla vogala” (30) kan ek steeds opsê:

 

lief lief

ek tree die ringmuur wit-wit

af; staan by die hek

en sien die duiwe parend

op die gewel sit:

het alle voëls hul nessies reeds begin lief lief

behalwe jy en ek?

 

En die gedig “eerste aand” (25) bly maar ‘n klein klassiek in Afrikaans, net soos “kyk god ek bou vir jou ‘n katedraal”(24) ‘n gedig wat my nooit verloor het nie, al het ek later in daardie einste 1975 my geloof verloor, begin dobbel met die Eksistensialisme, die NG-Kerk verlaat het weens hul diskriminasie teen mense soos ek. Genadiglik toe ek later, via die Boeddhisme, weer kon terugkeer na die spirituele, het hierdie gedig voor my opgedoem:

 

kyk god ek bou vir jou ‘n katedraal

met my gebarste oë en vingertoringpunte

wat 18 duim kan oorhel in die wind.

kyk god ek gaan vir jou my visnet haal

 

om mense mee te vang en met die taal

te huisves in die baiewoningskerk.

(…)

 

En die digter blokkie met sy raket se snare ‘n klein dorpstoneel.

Die liriese aard en binnespraak het my altyd bygebly:

 

bring die doek en bring die kis

ons kyk die hele lewe mis (15)

 

Daar is maar een Stefaans Olivier en met sy suiwer debuut het hy die jongmensellendes vir my verklank. Die hel is nie ander mense nie. Die hel is ‘n plek sonder digters soos Olivier.

 

Joan Hambidge

 

 

Oor Fanie Olivier se nuwe bundel

Monday, March 8th, 2010

‘n Kort onderhoud wat ek per e-pos met Fanie Olivier gevoer het oor sy jongste bundel, Apostroof, is gister in Rapport Boeke gepubliseer. Ek kan dit egter nie op die elektroniese weergawe van die boekeblad opspoor nie, so ek plaas dit hier ook.

Requiem vol vuur en lig

Met sy jongste bundel, Apostroof, verbreek Fanie Olivier ’n swye van 21 jaar. Die boekbemarkers sal natuurlik wil kapitaliseer op hierdie feit, en inderdaad, dit is ’n noemenswaardige gebeurtenis. Fanie Olivier is immers al vir goed drie dekades ’n gerespekteerde digter en ’n bekende literêre persoonlikheid. En Apostroof, sy sesde bundel, is in alle waarskynlikheid die hoogtepunt in sy oeuvre tot op hede.

Dit is ’n onderbeklemtoonde, intieme en dikwels oorrompelende bundel verse oor sy vrou Rike, wat drie jaar gelede ná ’n lang stryd teen primêre progressiewe afasie oorlede is. Dit is ’n requiem vol lig en vuur, ’n werk wat getuig van die krag maar ook onmag van woorde in die aangesig van liefde en verlies. Dit is, in kort, ’n bundel wat verdien om met eerbied en vreugde, en baie wyd, gelees te word.

Olivier het self egter nie veel erg aan die bemarkingswaarde van hierdie sogenaamde verbreking van 21 jaar se swye nie. “ ‘Swye’ klink so deftig!”, skryf hy per e-pos. “Ek het oor die jare nooit ophou skryf nie: Skryf is vir my baie belangrik en baie lekker, en ek deel graag gedigte met mense rondom wie gedigte ontstaan het. En ek het wel gepubliseer in geleentheidsbundels en tydskrifte.”

Maar skryf met die oog op publikasie het, om verskeie redes, oor die jare minder belangrik geword vir hom. “Of miskien was ek net nie lus vir die regpak van die volgepropte laai nie … Daar was belangriker dinge waarmee ek my besig moes hou, nog altyd die dapperdwaas ridder wat sonder ’n prinses of blink horlosie in gedagte, die nare ou draak van korrupsie en leuens en sluwe mag gaan aanvat. Maak mens nogal moeg.” Dat Olivier meedoënloos kan baklei vir geregtigheid blyk uit sy uitgerekte stryd in die laat 1990s teen die rektor en bestuur van die destydse Universiteit van Venda, ‘n saak wat wye mediadekking gekry het, meermale in die hof gaan draai het, en Olivier uiteindelik sy werk gekos het.

Dan is daar ook, heel tereg, ’n bietjie misnoeë te bespeur oor hoe die Afrikaanse literatuurgeskiedenis en literêre kritiek hom by tye behandel het. “In Perspektief en Profiel bestaan ek gewoon nie as ’n digter nie, word glad nie genoem nie: Publikasie is dus nie van enige betekenis nie …” En tog is daar hierdie nuwe bundel; en dalk selfs meer wat op ons wag: “Miskien is dit nou tyd om weer bestek te neem: Ek het darem twee titels waarmee ek sou kon werk.” ’n Mens kan inderdaad maar net hoop dat hy van hierdie woorde werk sal maak.

Apostroof was egter glad nie met die oog op publikasie geskryf en saamgestel nie. Dit was aanvanklik bedoel as ’n soort persoonlike gedenkskrif, ’n intieme dokument wat met vriende en familie gedeel moes word. “Die manuskrip is in die paar maande na Rike se dood gemaak om vir oulaas saam met ons vriende en families haar te gedenk – soos in ‘blommetjie gedenk aan my’. Ons het op ’n paar plekke in die land wonderlik partytjie gehou en ek het gevoel dat die manuskrip (ongelyk soos dit is) gedeelde besit is en vir elkeen iets persoonliks beteken het. Een of twee van hulle het gemeen dat dit wyer gelees moet word.”

Olivier het gehoor gegee en die bundel gepubliseer, maar hy is self klaarblyklik nog nie heeltemal oortuig dat dit die beste besluit was nie. “Ek voel werklik ambivalent oor die publikasie. Die openbare hart op die mou, en ook omdat dit weer dinge byroep wat ek probeer besweer het. Eintlik was dit vir my verby skryf, soos die gedig ‘geding’ agter op die bundel (dus: daar buite) dit uitspel.”

Miskien is dit juis omdat die verse nie oorspronklik vir onbekende oë bedoel is nie wat die lees van die bundel so ’n intieme, roerende ervaring maak. In hierdie opsig, verduidelik Olivier, moet ’n mens die verskillende betekenisse van die titel in gedagte hou. ’n Apostroof is eerstens ’n leesteken wat daarop dui dat “iets ontbreek, en dié afwesigheid kry gestalte, word verteenwoordig, in daardie klein boonste komma/aanhalingsteken wat ons in Afrikaans ook ’n ‘afkappingsteken’ noem. Die bundel as ’n apostroof moet dus in die plek van Rike staan – dis presies wat die manuskrip tussen ons as vriende en familie moes wees.”

Maar in die Griekse retoriese tradisie verwys “apostroof” ook na die aanspreek van ’n afwesige persoon. Dit was volgens Olivier “ ’n bitter belangrike beginsel by die maak van die manuskrip en ’’n hele paar gedigte. Die afwesige persoon, die aangesprokene tot wie die retorikus hom wend (en hom so van ander mense afsluit), is uiteraard Rike, maar terselfdertyd word die leser (deur die feit van die bundel) die afwesige aangesprokene.”

Olivier ontgin hierdie nuanses verder: “ ’n Mens sou hierdie kwasi-geleerde gesprek ook verder kan voer: Oor die gesprek tussen lewe en dood (die afwesige, maar altyd aanwesige dood) of liefde en dood (die afwesige, maar altyd aanwesige liefde) en die afkappingsteken wat orals huiwer. En is elke woord nie ook maar ’n soort apostroof nie, iets wat ons herinner aan alles wat agter daardie woord in die lug hang nie …? Maar nou begin die bundel na ’n groot intellektuele en vermoeiende en moeisame ding klink, terwyl dit eintlik maar sentimentele gedigte is.”

Dat die digter hom verset teen die oor-teoretisering van sy “sentimentele gedigte” is duidelik wanneer hy in ’n laaste e-pos aan my só op sy eie antwoorde reflekteer: “Noudat ek klaar daarmee is: Hemel, kan ’n mens so presieus wees? Antwoorde is heeltemal te lank. Hoop eintlik maar net dat ’n gedig hier en daar iemand aan die hart sal kom gryp.”

Met reëls soos híérdie, hoe kan dit anders:

 

…en hoe
pikant lek die liefde nie uit die hart

en kom sit op die mou nie: toe,

toe jy kan dit nie ontken nie: verward

het veel minder betekenis as eers, rol

soos wyn van die tong af. klaar

met die dinge van ’n kind, word jy vol

van die soelte van soveel te wees, soveel

te weet, soveel, helaas, ook te verlang.