Posts Tagged ‘Farouk Hosni’

‘n Nuwe direkteur-generaal vir Unesco

Thursday, October 15th, 2009
Irina Bokova

Irina Bokova

In ‘n vorige Nuuswekker het ek berig van die veldtog wat die Franse filosoof en skrywer, Henri Bernard-Lévy, van stapel gestuur het téén die verkiesing van die omstrede Egiptiese minister van Kultuur, Farouk Hosni, as direkteur-generaal van die invloedryke Unesco. Eintlik het ek hiervan vergeet, maar Saterdag vra iemand my wat toe die verdere verloop was en ja, klaarblyklik was sy (en ander) se veldtog toe suksesvol, want die Bulgaarse diplomaat, Irina Bokova (57), is toe in die pos aangestel. Haar aanstelling het egter gevolg na ‘n bittere stryd en dit het selfs vyf rondtes van stemming geneem alvorens haar kandidatuur genoeg stemme om haar kon verenig. Volgens The Times is dit die hewigste verkiesingsstryd nog in die 65 jaar van die Verenigde Volkere se kultuurafdeling.

Uiteraard is Bokova se aanstelling ‘n oorwinning vir Joodse ondersteuners, en natuurlik ook die Franse intelligentsia wat Hosni se benoeming met hand en tand beveg het as gevolg van anti-semitiestiese uitsprake wat hy in die verlede gemaak het; soos byvoorbeeld dat hy persoonlik alle boeke deur Joodse skrywers uit die Egiptiese biblioteke sal verwyder en laat verbrand. Gerugte dat hy Palestynse terroriste in 1985 in die ambassade in Rome gehuisves het, het ook vrylik gesirkuleer tydens die verkiessingstryd. Dog, ironies genoeg word Bokova se aanstelling in sekere kringe gesien as ‘n terugslag vir die vredes-inisiatiewe in die Midde-Ooste. Volgens Amerikaanse en Europese kommentators sou die aanstelling van ‘n Egiptiese direkteur-generaal by Unesco meegehelp het tot ‘n gees van rekonsiliasie in die Midde-Ooste. Of dit werklik die geval sou wees, is nogtans te betwyfel. Volgens The Times se verslaggewer word Hosni deur die meer radikale islam-groepe verwerp aangesien hy as té liberaal afgemaak word.

***

Etienne van Heerden se bedankingswoord tydens die oorhandiging van die Universiteit van Johannesburg-prys vir Letterkunde sluit in vele opsigte naatloos aan by die gesprek wat Charl-Pierre Naudé onlangs by monde van gasbloggers op sy blogruimte gevoer het oor die onderwerp van provinsie vs metropool. Daarom is ons dankbaar dat Etienne van Heerden dié toespraak ook aan ons beskikbaar gestel het vir plasing. Inderdaad is dit ‘n móét lees indien jy dit nog nie elders onder oë gehad het nie … Dan is ons ook vanoggend verheug om Philip de Vos terug te verwelkom na sy omswerwinge; en hy kondig sy terugkeur aan met ‘n allemintige stuk oor Thomas Linley wat ‘n tydgenoot van Mozart was. Pure leesplesier …

Mag hierdie dag jou verbaas met dit wat in jou hande gelê gaan word.

Mooi bly.

LE

 

 

Dinsdag, 2 Junie 2009

Tuesday, June 2nd, 2009

Bernard-Henri Lévy

Bernard-Henri Lévy

Ons almal weet dat UNESCO ’n enorme rolspeler is op die gebied van Internasionale onderwys- en kultuuraangeleenthede. ’n Herrie het egter intussen ontstaan nadat dit bekend gemaak is dat daar beoog word om die Egiptiese minister van Kultuur, Farouk Hosni, as UNESCO se nuwe direkteur-generaal aan te stel. Drie vooraanstaande intellektuele, synde Bernard-Henri Lévy (Franse skrywer-filosoof), Claude Lanzman (filmregisseur) en Elie Wiesel (skrywer en ontvanger van die Nobelpys vir Vrede), is naamlik besig met ’n internasionale veldtog téén Hosni se aanstelling. Volgens De Papieren Man is hul teenkanting gebaseer op Hosni se gewraakte uitspraak verlede jaar toe hy gesê het dat hy enige Joodse boek wat hy in ’n Egiptiese biblioteek vind, persoonlik sal verbrand. Voorts het hy glo in 2001 al by geleentheid die opmerking gemaak dat Israel nog nooit enige bydrae tot die beskawing gelewer het nie; die Joodse kultuur is ’n onmenslike kultuur, het hy glo gesê, ’n aggressiewe, rassistiese, pretensieuse kultuur wat volgens een enkele riglyn bedryf word: Om elders te steel wat nie hulle s’n is nie, en dit dan aan hulself toe te eien. Volgens die drie intellektuele is dit ondenkbaar dat so ’n kontroversiële persoon in ’n uiters invloedryke pos soos UNESCO se direkteur-generaal aangestel word. Nie net is dit ’n gebaar van provokasie nie, maar dit druis ook in teen die ideale van die organisasie, het hulle in ’n verklaring in Le Monde gesê.

Nog internasionale nuus is dat Antjie Krog hierdie week aan ’n belangrike poësiefees in Marokko deelneem. Die fees, wat van vandag tot Donderdag in Rabat en Kentira plaasvind, is naamlik ’n fees wat gesamentlik deur PEN Marokko, Winternachten (Nederland) en die Nasionale Biblioteek in Rabat georganiseer word. Dit is die eerste keer dat Winternachten betrokke is by ’n fees buite Nederland se landsgrense en hul inset behels Antjie se optrede, asook Christine Otten (Nederland), Gündüz Vassaf (Turkye) en Linda Christanty (Indonesië). Die tema van die fees is Writing between the lines en handel oor die ruimte wat skrywers soek binne die berperkings van sensuur en taboes.

 Ter afsluiting, my gunstelinggedig deur ons eie Joodse konneksie in die wêreld van die digkuns, Olga Kirsch:

Hoe het dit skielik laat geword?
Die oggend was so lank en stil,
die middag ruim en warm en gul.
Die afdraand van die dag is kil.
Hoe het dit skielik laat geword?

 

‘n Lekker dag vir almal, en hou jou linker-oog op die horlosie; daar’s biblioteke wat brand.

Mooi bly.

LE