Posts Tagged ‘Fernando Pessoa’

Fernando Pessoa - vertaling in Afrikaans

Monday, January 30th, 2012

Fernando Pessoa - vertaal deur De Waal Venter

 

Simbole                       

 

Simbole? Ek is siek vir simbole …

Party mense vertel my alles is simbole.

Hulle vertel my niks.

 

Watter simbole? Drome …

Laat die son ‘n simbool wees, goed …

laat die maan ‘n simbool wees, goed …

laat die aarde ‘n simbool wees, goed …

Maar wie dink aan die son behalwe wanneer die reën ophou

en dit breek deur die wolke en dit wys agter sy rug

na die blou lug?

En wie sien die maan sonder om dit te bewonder

die pragtige lig, nie die maan self nie?

En wie sien die aarde raak waarop ons loop?

Ons sê aarde, maar dink aan die veld, bome en berge

ons verklein dit instinkmatig,

want die see is ook aarde …

 

Goed, laat al hierdie dinge simbole wees …

maar wat is die simbool, nie die son, nie die maan, die aarde nie,

maar in hierdie voortydige sonsondergang in die vervagende blou,

met die son gevang in uitrafelende wolke,

die maan reeds sigbaar, mistiek, aan die ander kant van die lug

en die laaste oorblyfsel van die dag

verguld die kop van die naaldwerkster wat huiwer op die hoek

waar sy altyd gesels het (sy woon naby) met die man wat haar verlaat het?

Simbole? … ek wil nie simbole hê nie …

Al wat ek wil hê - arme swak en verlore persoontjie -

is dat die minnaar terugkom na haar.

 

*

 

- Símbolos; Álvaro de Campos (Fernando Pessoa) -   

Uit Portugees vertaal deur De Waal Venter

 

 

Fernado Pessoa (13 Junie1888, Lissabon - 30 November 1935, Lissabon) is een van die groot digters van die twintigste eeu. Lesers vind dit partykeer verwarrend dat hy onder ‘n reeks ander name geskryf het - hy het dit “heteronieme” genoem.Die gedig “Simbole” staan juis onder die naam van “Álvaro de Campos”

Sy vader het vroeg gesterf en sy moeder het weer getrou. In 1896 het hulle Durban toe getrek. Hy het daar skoolgegaan en sy matriekeksamen aan die “University of the Cape of Good Hope” afgelê, wat later de Universiteit van Kaapstad geword het. Sy eerste literêre werk was kortverhale in Engels. Later het Pessoa na Portugal verhuis. - DWV

Amanda Lourens. Om by die aarde te berus.

Monday, January 2nd, 2012

’n Rukkie gelede het René Bohnen van die digter Fernando Pessoa wat sy skooljare in Suid-Afrika deurgebring het en hier sy liefde vir die literatuur ontdek het.

Ek lees tans die versamelbundel A Little Larger Than the Entire Universe, met Engelse vertalings van Pessoa se gedigte deur Richard Zenith.  Volgens die Los Angeles Times (aanhaling op die agterblad) is hierdie versameling “[t]he largest and richest English-language volume of poetry from “the greatest twentieth-century writer you have never heard of”.

Hiermee deel ek graag die volgende gedig, een van dié wat Pessoa aan een van sy “heteronieme” of personas, naamlik Ricardo Reis, toegedig het.  Die eenvoud en dissipline van die vers het my dadelik opgeval, en daarmee saam die reusagtige omvang van die boodskap.  Seker sou sekere lesers deur die gedig ontstel word.  Deterministies, sou sommiges dalk reken.  Ander kan dit lees as metafoor vir ’n Darwinistiese inperking waar jou gene jou ewig inkluis binne die grense van jou talente of die gebrek daaraan.  Hoekom dan geen reik na die sterre?  Waarom nie die frenetiese soeke na die verbetering van die self nie, in die gees van die kitssielkunde?

 En tog bied hierdie gedig vir my ’n nuwe perspektief op menswees, iets wat ’n mens dalk met ’n soort voorverbale insig raai, maar nie vir jouself kan verwoord nie.  En daarby is die consolatio – as ek dit maar so mag noem by gebrek aan ’n beter woord – in die slot vir my aangrypend in die eenvoud en helderheid van die troostende wete van fisieke lewe. Want wat ’n voorreg is dit nie alreeds nie? 

Wat meer is daar te sê vir ’n nuwe jaar, waar ons bekommerd is of ons teikens gaan haal, aan ons eie en ander se verwagtinge gaan voldoen?

 

You’ll become only who you always were.

What the gods give they give at the start.

            Only once does Fate give you

            Your fate, for you’re but one.

Little is attained by the effort you exert

In accord with your native ability.

            Little, if you were not

            Conceived for more.

Be glad to be who you cannot resist

Being. You will still have the vast

Sky to cover you, and the earth,

Green or dry, given the season.

 

René Bohnen. Verder as die somer

Friday, November 11th, 2011

Die hittegolf tref die Hoëveld op ʼn Dinsdag. Heelweek hang ʼn soelte oor die N1 terwyl ek pendel tussen ʼn pers Pretoria en die jakarandas in Johannesburg. In Tauruslaan is drie Indiese kleure deurmekaargevleg: bloedrooi vlambome, cerise bougainvilleas en ‘n tapyt van pers bloeisels op die teer. So twee weke of wat gelede was dit Deepavali, onthou ek, met my gedagtes in bont, warm Durban.

Eienaardig hoe elemente soms op mekaar inwerk, want heel onbeplan duik Durban met ʼn ompad Vrydagaand weer op. Lam en tam is ons lus vir lekker onopgesmukte kos en ons val by ons naaste Portugese eetplek in. Hier woel dit en oumas sit aan tafel met babatjies op die skoot. Swartkopkinders hardloop rond, buite loop ʼn ligbruin hond en ons kry ‘n tafel in die hoek.  Yskoue drinkgoed word voor ons neergesit en die kelner skryf sy naam met ʼn filtpen op die bruinpapiertafeldoek.  Die spyskaart open vistas van ander plekke waar menige garnaal verorber is: Mpumalanga, Mosambiek…en Durban.

Fernando Pessoa is op 13 Junie 1888 in Lissabon gebore. Sy pa sterf in 1893, toe Fernando vyf jaar oud is. In 1895 trou Fernando se ma met ‘n weermagoffisier. In 1896 word Fernando se stiefpa aangestel as Portugese Konsul en die gesin verhuis na Durban.  In 1899, aan die Durban High School, raak hy vlot in Engels en raak hy geïnteresseerd in die literatuur. In 1903, in sy matriekjaar, wen hy die Queen Victoria Memorial Prize  vir Engels. Op 6 Julie 1904, plaas The Natal Mercury  sy gedig “Hillier did first usurp the realms of rhyme” onder die naam Charles Robert Anon en tussen Februarie en Junie 1905 plaas die koerant minstens vier sonette deur Fernando Pessoa.  Op ʼn vroeë ouderdom reeds het die digter verskillende name, oftewel personas begin gebruik, waarvan “Chevalier de Pas” waarskynlik die eerste was. Op sewentienjarige ouderdom verlaat Pessoa Durban, en Suid-Afrika, vir altyd en keer terug na Lissabon, waar hy in 1935 sterf.

Op skool in die destydse Natal, het ons nie van Fernando Pessoa geleer nie en ek het baie later eers uitgevind dat hierdie “Durbaniet” gereken word as ʼn groot Portugese digter. Ek leer nou nog maar sy werk so stadigaan ken. Miskien is dit hoekom ek op ʼn drukkende aand in Johannesburg, so oor  ʼn lieflike piri-piri-hoendertjie met kokos- en lemmetjiesous, dink aan enigmatiese tweetalige digters wat waarskynlik sou tuis voel so tussen die Portugese mama’s en Espatadas. My gedagtes dwaal ook na ʼn wandeling tussen kleurvolle Portugese huisies, ʼn klein Mosambiek-dorpie en ʼn dagbreekstrand, iewers in 2003.

sonsopkoms op die strand in Mosambiek, 2003

sonsopkoms op die strand in Mosambiek, 2003

 

o wat ‘n plesier… (bron Google)

Op die hoek van Pine en Gardiner-strate in Durban is daar ʼn standbeeld ter herdenking aan hierdie Portugese digter.

En omdat Ferdando Pessoa my verder kon laat sien as die Hoëveldse hitte, plaas ek VI uit The Keeper of Flocks, geskryf onder die heteroniem Alberto Caeiro da Silva.

 

“From my village I see as much in the Universe as you can see from earth…
So my village is as big as any other land
Because I’m the size of what I see,
Not the size of my height…
In the cities life is smaller
Than here in my house on top of this hill.
In the city the big houses shut your sight with a key,
Hide the horizon, push your eyes far away from all the sky,
Make us smaller because they take away what our eyes can give us,
And make us poor because our only wealth is seeing. “
 

Fernando Pessoa in Durban 1898 (bron Google)

 

 *****

René Bohnen

René Bohnen

Ons verwelkom een van ons nuwe digters wat aangesluit het by die groep SA (Binneblik) bloggers: René Bohnen skryf en neem foto’s. Soms tree sy op as fassiliteerder by kreatiwiteitswerkswinkels of spanbougeleenthede.  Sy woon in Johannesburg, is ʼn Nataller van geboorte, het al in 13 dorpe en 5 provinsies gewoon en dalk is dit nog het einde niet. Sy behaal in 2009 die graad M.A. Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van Pretoria. Haar debuutdigbundel, Spoorsny verskyn in 2000 en in 2011 publiseer LAPA-Uitgewers haar tweede digbundel, in die niks al om.  (- Red.) 

 

 

Die foto wat ek wou geneem het

Tuesday, August 10th, 2010
Die foto wat ek wou geneem het

Die foto wat ek wou geneem het: Fernando Pessoa in Durban

Ek het verlede week die jaarlikse kongres van die Psychological Society of South Africa (PsySSA/SaaiSSA) by die International Convention Centre (ICC/Ai Sisi) in Durban bygewoon. Dit was maar my tweede keer in Durban, en die eerste keer sedert 1997.

Dit is nog maar vroeg in Augustus en die lug is al louwarm daar, niks van die Kaap se skerp koue nie. ‘n Stad soos ‘n natgeswete oksel: effe eroties, effe stink. Ek sien die nuwe sokkerstadion in die verbyry. ‘n Indrukwekkende ontwerp. Ek gaan eet een aand saam met kollegas by ‘n restaurant in die ‘trendy’ Florida Road. Ek koop ‘n armvol boeke op uitverkoping by die Exclusive Books in die nuwe lughawegebou. Maar ek kry ongelukkig nie veel kans om in die stad rond te loop nie; en rondloop, veral doellose rondloop, is myns insiens die enigste manier om ‘n plek te verken.

Ek is veral spyt dat ek nie ‘n foto geneem het van die borsbeeld van Fernando Pessoa nie. Hierdie beeld is in Durban opgerig omdat Pessoa (1888-1935) ‘n groot deel van sy jeug hier deurgebring het. Die foto hierbo is die een wat ek sou geneem het as ek meer tyd gehad het om rond te loop. En die gedig hieronder het ‘n ’sielkundige’ strekking, maar is veel interessanter as enigiets waarmee enige sielkundige (ai, die sielkudde, die sielskunniges darem…) by die ICC vorendag gekom het:

 

Autopsychography - Fernando Pessoa

 

The poet is a faker
Who’s so good at his act
He even fakes the pain
Of pain he feels in fact.

 

And those who read his words
Will feel in his writing
Neither of the pains he has
But just the one they’re missing.

 

And so around its track
This thing called the heart winds,
A little clockwork train
To entertain our minds.

Johann Lodewyk Marais. Portugese digters en die see

Tuesday, September 22nd, 2009

In Mosambiek en al die ander Lusofone lande is die see belangrik. Eenkeer het ek ‘n plakkaatuitstalling bygewoon oor Portugees en die lande waar dit ‘n amptelike taal is. Op die onderskeie plakkate was aanhalings oor die see uit gedigte van figure soos Fernando Pessoa (die grootste digter wat Portugal gedurende die twintigste eeu opgelewer het), Augustinho Neto (die voormalige president van Angola) en José Craveirinha (die enigste digter wat in herkenbare Mosambiekse Portugees skryf) op seetonele afgedruk. Ek was ontroer. In Portugees word die see soos in min ander tale besing.

Uit: Lae wolke oor Mosambiek: ‘n Reisboek (2003)