Posts Tagged ‘fokofpolisiekar’

Andries Bezuidenhout. Rockers en digters, vervolg…

Thursday, July 22nd, 2010

ʼn Rukkie gelede het ek ʼn paar eiers gelê oor rockers wat digters wil word. Dis nou nadat Hunter Kennedy (Fokofpolisiekar, aKing, Die Heuwels Fantasties) as digter in Nuwe Stemme gepubliseer is. Dit lyk asof Antjie Krog nie meer bekommerd hoef te wees oor die feit dat digters nou eerder rockers wil wees nie. Woorde vloei in die ander rigting ook.

En nou kom Opppikoppi met grofgeskut om poësie heeltemal op die voorgrond te plaas by hulle jaarlikse rock festival. In plaas van advertensies, gaan die speaker towers wat weerskante van die verhoë staan met gedigte opgevrolik word. Mense wie se gedigte op die torings gaan pryk is, Lesego Rampolokeng, Danie Marais, Gabeba Baderoon, Mbongeni Khumalo, Nadine Botha, Siphiwe Ka Ngwenya, Richard Fox, Donald Parenzee, Ingrid de Kok en ekke.

Hoe’s daai?

In ʼn persverklaring sê die mense van Oppikoppi: “Instead of just staring at the wall of sound: we thought you might as well read something.” ‘n Mens sou dit seker “wall of words” kon noem.

Maar dis nie al nie. Die musiekkanaal MK op DSTV het ʼn aantal “picture poems” gemaak, wat op die skerms agter die verhoë gewys gaan word, met kunswerke van mense soos Ronelda Kamfer, Toast Coetzer se The Buckfever Underground, Jax Panik, Straatligkinders, Sean Brand, Fokofpolisiekar, Tamara Dey, Liam Lynch en ʼn paar ander.

Ek het die mense van Oppikoppi gevra of ek ʼn voorskou hier kan plaas, so hier is twee van die panele wat teen die speaker towers gaan hang.

Klik op die prente om dit vergroot. Ek hoop dit werk.

Ja, dis reg, die gulsige Danie Marais kry sowaar sy eie toring!

Besoek Oppikoppi hier. Daar’s baie meer inligting oor die festival – die naweek van 6-8 Augustus. Hierdie jaar se plakkaat is deur Anton Kannemeyer ontwerp.

Annie Klopper. Blum het iets anders bedoel, maar kom ons braai

Tuesday, February 23rd, 2010

Jack Parow (© Annie Klopper)

Die meeste van my vriende woon in Kaapstad. Hulle gaan kyk flieks by die Labia, eet die early bird special by Arnold’s in Kloofstraat, koop klere by beide YDE en muwwerige tweedehandse winkels, versamel ou langspeelplate met belaglike omslae, sit op balkonne, sing saam met Die Antwoord en Jack Parow, stage dive by music festivals, rook Marlboro Lights, suig aan die tuite van Jägermeister-bottels, gaan na Fokofpolisiekarkonserte, dans op die musiek van The Wedding DJ’s by Assembly, ry in bome vas, surf oor naweke, draf op die promenade, gee R2 vir car guards, kry verkeersboetes, benodig nuwe ruitveërs, kyk e-posse op BlackBerry’s, blog oor straatkuns, eet rocket in slaai, blaai soms verveeld deur die Vice-tydskrif, kyk oor en oor (en oor) The Big Lebowski, verloor gereeld hulle selfone en is bereid om te betaal vir geel-en-pers sneakers. Die meeste van my vriende lees nie gedigte nie.

Maar ék lees gedigte en dit het gelukkig nog nooit tussen my en my vriende gekom nie. 

Ek meen nie dat geel-en-pers sneakers en ‘n voorliefde vir Jack Parow jou outomaties in ‘n ander kamp as die deursnee-digliefhebber plaas nie. Allesbehalwe. Maar as dit so is dat die mens ’n oerbehoefte het aan vers en klank, vervul die meerderheid mense wat ek ken genoemde behoefte met musiek. En hoekom dan nou nie?

Daar is natuurlik tye wat ek wens meer van my vriende lees gedigte. Soos terwyl ek op ’n stoep by ’n deurnagpartytjie sit en ’n gedeelte van Peter Blum (1925 – 1990) se “Drosterhonde bo Oranjesig” in my agterkop resoneer:

Vannag klink hulle deurmekaar geblaf
wild-vreesaanjaend van die hoër hang
se digte dennebosse af

[…]

Wat kan hul tog makeer? Is hulle dol?

(© Peter Blum)

En selfs al weet ek Blum het iets heel anders bedoel, skryf ek tog:

 ’n deurnagbraai in Oranjezicht

met Oros en vodka veg ons teen die daglig
en dros ons soos honde in Oranjezicht
ons wys tande en gooi ons koppe terug
teen die duifgrys glasure van die eerste lig

ons vyl ons tonge skerp teen growwe woorde,
ys klingel kil teen die dawerende akkoorde
van ons uitrafelende strontpraatsinode –
deur die donker omsingel, is ons die nag se gode

of net rompies en bene en longe en leuens
en stompies en biere en wyfies en reuns
wat blaf en sug en gluur en kreun
teen die eerste sig van oranje lig

(© Annie Klopper)

 

Andries Bezuidenhout. Voëlvry tot Fokofpolisiekar

Monday, October 26th, 2009

Ek het gisteraand die nuwe doccie oor Fokofpolisiekar gesien – die titel is Fokofpolisiekar: Forgive them for they know not what they do. Toevallig het ek ook die naweek Koos Kombuis se Tyd van die Kombi’s gelees. Dis vreemd hoeveel ooreenkomste daar is, veral as dit kom by die liefde-haat verhouding met ʼn sekere rigiede definisie van Afrikanerdom. As iemand wat so tussen die twee fenomene sit (Voëlvry en Fokofpolisiekar), is dit vir my vreemd hoe elke generasie dieselfde ou demone (of is dit nou engele?) moet doodmaak, maar ook hoe elke generasie dink hulle doen dit vir die eerste keer. Ek was verstom toe die lede van Fokofpolisiekar praat oor hoe hulle gelag het oor die moontlikheid van punk in Afrikaans. Maar dan weer, toe Koos  (dis nou Neil Goedhals, Marcel van Heerden en kie.) gespeel het, was hulle nog baie jonk. En Plank, Joburg tydgenote, het in ware punktradisie nooit so ver gekom om iets op te neem en dit wyd te bemark nie. Wat Fokofpolisiekar baie beter reggekry het as voorgangers soos Koos of Plank, is uitstekende bemarking. Nietemin, die feit dat soveel temas van Voëlvry tot Fokofpolisiekar herhaal, wys dalk net hoe sterk rigiede Afrikaneridentiteite is en dat die instellings wat dit in stand hou (kerke, skole, suburbs) veel lewenskragtiger is as wat ʼn mens as buitstaander sou dink.

Andries Bezuidenhout. Twintig jaar na Voëlvry

Tuesday, October 13th, 2009

Groete uit die lieflike stad Windhoek. Ek luister musiek op my rekenaar. By Aardklop stop Angola Badprop my ʼn CD in die hand: “Twintig Jaar Later: Van Voëlvry tot Fokof.” Laasgenoemde verwys natuurlik na Fokofpolisiekar.

Angola, oor bekend as Jaco Nel, het veertig songs versamel om Afrikaanse rock die twintig jaar na die Voëlvrytoer te verteenwoordig. Ek skat hy is reg as hy Fokofpolisiekar as die grootste fenomeen ná Voëlvry beskryf. My eie projek – die Brixton Moord & Roof Orkes – kry ook darem ʼn plekkie in die geskiedenis.

Die kassie bevat twee CD’s. Die eerste een verteenwoordig die rock bands voor daar video’s op MK (aanvanklik MK89) was. Dit sluit mense soos Koos Kombuis, Johannes Kerkorrel, Anton Goosen, Gert Vlok Nel, Jan Blohm, Bacchus Nel, Karen Zoid, Beeskraal, Diff-olie, Trike, Riku Lätti, ens. in. My orkes word ook hier ingegooi. Op die tweede CD is die meer onlangse rebelle, soos Fokofpolisiekar, Straatligkinders, Zinkplaat, Foto Na Dans, Willim Welsyn en NuL. Sommige van die ouer en standhoudende bands, soos Battery 9 en Kobus!, is op albei CD’s verteenwoordig.

Dis natuurlik altyd moeilik met die samestelling van sulke versamelings. CD’s kan net ʼn beperkte massa data akkommodeer. Wie sluit jy in, wie laat jy uit? Van wie sluit jy meer as een song in? Ek hou nogal van die keuses – van my persoonlike gunstelinge is daar, soos Bacchus Nel se “Herfsman” en Piet Botha se “Goeienag Generaal.”

Ek wonder egter oor een ding. Soos Mr Mac and the Genuines destyds uit die Voëlvry-geskiedenis gelaat is, vind ons ook byvoorbeeld nie vir Prophets of da City, Brasse vannie Kaap, of Kallitz in die versameling nie.

Is dit omdat hip-hop nie as rock beskou word nie? Ek wonder maar net.

Gaan luister ʼn bietjie na Kallitz hier.

Andries Bezuidenhout. Kan jy Aberdeen spel?

Friday, October 9th, 2009

kan jy my skroewe vir my vasdraai
kan jy my albasters vir my vind
kan jy jou idee van normaal by jou gat opdruk
kan jy
kan jy “apatie” spel?

kan iemand dalk ‘n god bel
en vir hom sê ons het hom nie meer nodig nie
kan jy
kan jy “apatie” spel?

reguleer my
roetineer my
plaas my in ‘n boks en merk dit “veilig”
stuur my dan waarheen al die dose gaan
stuur my hemel toe
ek dink dis in die platteland

dis hemel op die platteland
dis hemel op die platteland
dis hemel op die platteland

Op soek na bogenoemde liriek op die web (ek’s te lui om dit te tik) kom ek toe af op ʼn weergawe wat lees: “Kan jy Aberdeen spel?” Dis natuurlik Fokofpolisiekar se “Hemel op die platteland,” en dis apatie, nie Aberdeen nie.

Daar’s twee weergawes van “Hemel op die platteland” opgeneem; ‘n rock weergawe en ʼn akoestiese weergawe. Ook twee video’s.

Kyk die oorspronklike rock weergawe hier:

En die akoestiese een hier:

Hoekom is dit dat die tweede een my steeds so vang? Die trompoppies, die soldate, rugby, Zoeloedansers? Dis vreemd hoe ʼn liriek soveel meer sê as jy ʼn paar eenvoudige beelde byvoeg.