Posts Tagged ‘fool’

Nini Bennett. Send in the clowns

Saturday, June 29th, 2019

 

1.

 

Ná daardie ysingwekkende nagmerrie oor die hanswors het ek geweet ek moet dringend uitvind wat die simboliek beteken. Ek het die begrippe evil clown, fool, joker en jester in die soekenjin gevoer en hoe meer ek nagelees het, hoe meer het die boeiende narratief ontvou.

Die moderne argetipe van die bose hanswors, oftewel die evil/creepy clown het sy beslag gekry in 1986 met die verskyning van Stephen King se gruwelroman, It. Die antagonis is Pennywise the Dancing Clown, ’n hanswors wat jag maak op kinders. Dis interessant om te noem dat King se bose hanswors-karakter geskoei is op die bestaande reeksmoordenaar, John Wayne Gacy wat in 1978 in Chicago gearresteer is is vir die moorde op 33 tienerseuns. Hy is met die dodelike inspuiting tereggestel. Deel van Gacy se modus operandi was om kinders te vermaak tydens kinderpartytjies, kompleet met ’n hansworskostuum en witgeverfde gesig. Die pers het Gacy die ‘Killer Clown’ gedoop; sy oorspronklike alias was ‘Pogo the Clown’. En gaan ’n mens verder terug op die tydlyn van die bose hanswors, dan merk jy dat Gacy op sy beurt beïnvloed was deur die moorddadige hanswors in ’n strokiesprent, The evil clown, wat in die National Lampoon verskyn het.

 

 

Die herkoms van hierdie anti-sosiale hanswors is nie heeltemal duidelik nie, alhoewel die prototipe volledig deur die populêre kultuur geabsorbeer word in die films, musiek, rekenaarspeletjies en animasiekuns van die onlangse verlede. Vroeëre verwysings na ’n moordenaar-hanswors kom voor in Edgar Allan Poe se kortverhaal, “Hop-Frog” (1849), en kan verder teruggevoer word na die pantomime-kunstenaar, Joseph Grimaldi, wie se alter-ego ’n hanswors genaamd Joey was. Dan dink ’n mens ook aan die koning se hofnar tydens die middeleeue, of die sogenaamde archimimus, daardie wrede mimiekkunstenaars wat die spot met oorledenes gedryf het (op hulle eie begrafnisse!) in antieke Rome. Hoe dit ook al sy: volgens kenners is die bose hanswors as moorddadige psigopaat volledig ’n ikoon van die moderne tyd, gevorm tydens die Inligtingsera – ‘n fassinerende persona wat beter belig kan word aan die hand van Jung se werk of Mikhail Bakhtin se teorie van die karnavaleske.

Die impak van ’n blitsverkoperroman op ’n gemeenskap is enorm. Na die verskyning van It het staaltjies en gerugte van hansworse, wat amok maak dwarsoor die VSA, voorgekom. Op 26 Mei 1990 het Marlene Warren van Wellington, Florida, haar voordeur oopgemaak vir ’n bruinoog-hanswors wat vir haar blomme en ballonne gebring het – en sy is noodlottig gewond. Eers in 2017 is Sheila Keen Warren (wat met Marlene Warren se wewenaar getrou het), gearresteer vir die moord op Marlene Warren. Al hoe meer kinders het voorvalle van bose hansworse begin rapporteer, vrese wat waarskynlik aangevuur is deur die ritualistiese satanistiese ontvoerings en moorde op kinders tydens die tagtigerjare (in omgangstaal bekend as die ‘satanic panic’). Dit is moeilik om te onderskei tussen verbeelding en vrees: die polisie het hulle hande vol gehad met geestesversteurdes en misdadigers se bisarre ‘nuwe’ modus operandi. Al hoe meer hansworse het dorpe of begraafplaas op horings geneem…Van die gerugte van bose hansworse wat kinders in woude of bosse probeer weglok het, toon ’n interessante ooreenkoms met die legende van die Rottevanger van Hamelin. Koulrofobie, ’n irrasionele vrees vir hansworse, het met rasse skrede toegeneem.

Maar is/wás ’n hanswors ooit ‘goed’, om mee te begin? Volgens Wolfgang M. Zucker, wat hansworse bestudeer, is die antwoord nee. Mense hou as ’n reël nie veel van hansworse nie, al is dit ook ’n ‘goeie’ een. Veral kinders voel ambivalent teenoor die onpeilbare figuur met die vreemde, ouwêreldse kostuum en witgeverfde gesig wat insgelyks aan ’n dodemasker herinner, maar wat op donker humor en die eksploitasie van ander kapitaliseer. ’n Hanswors is altyd in beheer; hy sê net wat hy wil en hy kom weg met die gevolge daarvan. Laasgenoemde is ook die eienskappe van die koninklike hofnar. Voorts beskik ’n hanswors oor die vermoë om soos ’n kulkunstenaar van gedaante te verander; hy is ’n klassieke metamorf of shapeshifter. Zucker beweer dat die bose hanswors met verloop van tyd gereïnkarneer het tot die internettrol, soos ons dit vandag ken. Die (vals) skuilprofiel is figuurlik gesproke die kostuum/masker – en die trol kom weg met sy wrede poetse, geterg en emosionele aftakeling van ander internetgebruikers, alles vir die trol se eie “vermaak”.

Die gesigsverf van ’n hanswors herinner aan verskeie kulturele uitbeeldings van demone. Volgens antieke Gnostiese sienings is die trickster-god ’n wese wat van gedaante kan verwissel, soos reeds genoem; en hy kan enersyds kinderlik en saggeaard, of andersyds vreesaanjaend en konflikterend optree – ’n verwronge god wat op ’n diaboliese wyse teer op die onskuld van mense. Die begrip trickster-god is so oud soos die mens self en het vele gesigte en name, byvoorbeeld die Sumeriese god Nergal, die Noorse god Loki, Pan, die god van chaos, ensovoort.

Die bose hanswors word ook as wisselterm gebruik vir die begrippe jester, fool, trickster en joker. In ’n pak speelkaarte is die joker bekend as die verkleurmannetjie, die kaart wat kan instaan vir die waarde van enige ander kaart. En in ’n pak Tarot-kaarte word die joker die ‘fool’  genoem: die kaart beskik oor ’n nul-waarde, dit kan dui op die begin of die einde van die Arkana. Dit is alles of niks.

En van die diaboliese na die dualistiese. Die Switserse Gotiese musiekgroep, Lacrimosa, se logo op al hulle musiekalbums vertoon ’n hanswors, wat op sy beurt die lewe in al sy tragikomiese fasette voorstel.

 

 

Die Brechtiaanse punk-kabaretgroep, The Tiger Lillies, se voorsanger, Martyn Jacques tree altyd op in ’n hansworskostuum en bypassend geverfde gesig. Jacques is bekend (of berug) vir sy satiriese, onthutsende en soms erg ontstellende lirieke.

 

 

En van lirieke gepraat: die Nobelpryswenner, Bob Dylan se oeuvre word al vir jare deur akademici en literêre kenners bestudeer vir die simboliese koderings van die begrippe clown, fool of joker.

Van die musiek na die poësie. In Jaco Barnard-Naudé se eksistensialistiese lesing van Marais se “Skoppensboer” maak hy hierdie interessante slotopmerking: Tog is daar in die poging om die lewe as ’n ‘komedie’ voor te stel steeds ’n tragiek: ons is ‘geblinddoek met ’n lamfer-lap’. Die wrang opgewekte luim van die slot gee aan die gedig ’n soort groteske lading, ’n versteurdheid, iets soos die grynsende, geraamte-mombakkies waarmee die Dood konvensioneel esteties verpersoonlik word.

Klik gerus op dié skakel vir die volledige blog:   http://versindaba.co.za/2014/03/19/jaco-barnard-naude-eksistensialisme-in-skoppensboer/?fbclid=IwAR2sgJpDz55L-tbjUnJdsd_UahelJ8VXokW2UhO3pq_kE1CjUTkC5Wq1cq8

 

Skoppensboer

 

I

 

’n Druppel gal is in die soetste wyn;

’n traan is op elk’ vrolik’ snaar,

in elke lag ’n sug van pyn,

in elke roos ’n dowwe blaar.

Die een wat deur die nag

ons pret beloer

en laaste lag,

is Skoppensboer.

 

II

 

Gewis en seker is die woord:

die skatte wat ons opvergaar,

ondanks die sterkste slot en koord

word net vir mot en roes bewaar.

Net pagters ons

van stof en dons

om oor te voer

aan Skoppensboer.

 

III

 

Die heerlikheid van vlees en bloed;

die hare wat die sonlig vang

en weergee in ’n goue gloed:

die dagbreek op elk’ sagte wang

en oge vol van sterreprag

is weerloos teen sy groter mag.

Alreeds begint die rimpel sny;

oor alles hou die wurm wag

en stof en as is al wat bly:

Want swart en droef,

die hoogste troef

oor ál wat roer,

is Skoppensboer.

 

IV

L’ENVOI

 

Gewis is alles net ’n grap!

Ons speel in die komedie mee

geblinddoek met ’n lamfer-lap

wat selfs die son ’n skadu gee.

Wat treur ons tog?

Viool en fluit maak nog geluid;

en lank die nag wat voorlê nog.

Al kan ons nooit volmaaktheid raak,

nog blink die oog en gloei die huid

wat heel die winter blomtyd maak.

Dus onverlee

lag ons maar mee

met elke toer

van Skoppensboer!

 

Eugène N. Marais

 

Hierdie ikoniese gedig kan waarskynlik ook gelees word as ’n tipe spel (‘toer’) van die trickster (of trickster-god).

 

2.

 

G 1 2 3 4 3 2 1

 

Die eerste blok, en nog een. My asem brand, maar die hanswors bly op my spoor; hy kom koggelend nader soos ’n Daddy Long Legs met sy groot, dwars voete en lenige treë.

Ek kyk om na die witgeverfde gesig met die rooi neus en hare, die Renaissance-krawat, en versnel. Hy hardloop geluidloos en ék nael — die intervalle tussen my tekkies rek.

Verby ’n huis met ’n hoë palissade en die Rottweiler met die vlammende tande en skuim om die bek. Toe die hond die hanswors gewaar, gaan sit hy tjankend op sy agterstewe. Om ’n blinde draai gee ek vet, swenk in ’n stuk veld in, kortpad hospitaal toe. Dáár is mense, hulle sal my help.

Ek kyk om. Die hanswors het afgedraai in die teenoorgestelde straat.

In die verte dyns die silwer en blou spreiligte. Ek hardloop; ’n stukkende wekker, ’n metronoom waarvan die hart onreëlmatig begin afloop en my lyf verdwyn tot ek net voete is, een-voor-een-agter-een-voor-een-

In die hospitaal se parkeerarea is daar nie ’n mens in sig nie. Motors glim in die bleeklig, die getuie van ’n verskriklike ontruiming. Niemand. Dan, die geronk van ’n enjin. ’n Ambulans! Die agterste deure is oop, maar daar is nie ’n siel nie. Ek buk vorentoe; betrag die donker kolle soos motorolie op die sement. Die tekstuur is taai as ek daaraan raak. Bloed, al is daar geen teken van die bestuurder of pasiënt nie. Maar ek het nie tyd om te verspeel nie. Ek moet skuiling vind, die hanswors sou kon raai dat ek hierheen gekom het.

Die opname-area is heeltemal vakant. Geen sekuriteit; net ’n stompie wat verlate op die randsteen lê en smeul.

Geen personeel tussen die hokkies met die rekenaars met die flikkerende groen oë nie. ’n Halfgedrinkte beker koffie langs ’n telefoon.

In die wagarea is ’n strooikussing op ’n rusbank ingeduik, asof iemand nog flussies daarop gesit het. ’n Oop tydskrif; bladsye in ’n rolnaat na buite gevou.

Skielik raak ek bewus dat ek bloei — ek trek die sintetiese stof van my pienk bloes weg van die wond, dit kleef daaraan, dit syg dieper in die sypelende maagwond, dit suig. Ek het nog nooit van pienk gehou nie. Nóú is my grootste bekommernis die wond in my buik. Of loop ek al vir lank daarmee — dalk jare — dat die hospitaal bloot ’n kataklismiese sneller in die sigbaarmaking daarvan is? En waarom ervaar ek hoegenaamd geen pyn nie? Ek het nie ’n benul hoe ernstig dit is nie (dit mag fataal ook wees): ek sal ’n drukverband of iets in dier voege in die hande moet kry.

Ek loop na die hysbakke toe, kyk op, die rooi syfers wat ongeduldig bly flits.

Tjieng. Die deure ruis oop. Ek voel die temperatuurverandering, die koel trek wat die geopende staaldeure gewoonlik meebring.

Voor my staan ’n verpleegster met ’n onverbiddelike gesig en groot bril soos dié wat vrouens in die tagtigerjare gedra het en wat haar donker oë nog broeiender laat vertoon. Op ’n trollie ets ’n blou laken die kontoere van ’n lyf. Die gesig is bedek. Ek weet. Ek weet wat dit is. Maar daar is genoeg plek vir ons altwee in die hysbak, waarom gluur sy so na my? Of waarom stap sy nie uit nie, sy en haar trollie? En: waarom gaan sy weer óp as die hysbak in die eerste plek vir die grondvloer bestem was?

Ek kyk na haar groeiende indeksvinger tot sy ’n knoppie druk en die deure weer toesuig. Die volgende oomblik is daar ’n helse slag, soos ’n skag wat val: die reuk van gebrande rubber en metaal gevolg deur ’n oomblikfloute.

Kragonderbreking. Ek voel ’n trilling onder my voete, dan flits die ligte weer aan, Eskom ten volle funksioneel. Vir die eerste keer gewaar ek die geel staandriehoek met die rooi letters: DANGER. Dit was nie voorheen daar nie, of was dit? Was dit?

Die haaigrys deure suis oop, maar waar die hysbak se vloer moet wees, is daar nou net vallende duisternis. ’n Afgrond gaan oop in my keel en ek gil en gil sonder enige geluid.

Voor my staan die hanswors. Hy takseer my lank; dan glimlag hy met sy skerp gevylde tandjies en sê uiteindelik: Hierdie hysbak gaan net áf.

 

Verwysings:

 

https://www.groundzeromedia.org/evil-clown-evil/?fbclid=IwAR3fr_3UCkIaxobsyruNct_–8hVTXEWqLDNJtbYYifISOIeZaA9BIcLbfs

http://www.bbc.com/culture/story/20161019-a-surprising-history-of-the-bad-clown?fbclid=IwAR2kKYImlmw9cIk_TaqGB8MO4eLjhtTuA_q1FI8DW3Ln9wGYZMOvKcuUfaY

https://en.m.wikipedia.org/wiki/Evil_clown?fbclid=IwAR3A6BOSC3H8JbAoGfnwGFrzK_nFTmt7dVXc3Swe5Du-fIjlXwk-ABzo4QA

https://www.trickedbythelight.com/tbtl/TricksterGod.shtml?fbclid=IwAR2RxlW4P-Fw8eUWfMpqkvxMj7fOpMpXEM1EYud3712-lGbAZw_BZQJLwFg