Posts Tagged ‘Franz kafka’

Nini Bennett. Doodles en drome

Wednesday, February 14th, 2018

Dis ’n warm somersmiddag in 1963. Stanislaw Ulam sukkel om sy oë oop te hou; die wiskundekongres is vervelig. Gedagteloos begin hy om getalle neer te skryf, gevolg deur krabbels en lyne. Die wiskundige sit en doodle, maar vir die ander lyk dit of hy aandagtig sit en aantekeninge maak. Later sou dié genie uit sy skets vasstel dat die posisies van priemgetalle in ’n hoë digtheid uitgestippel lê in sekere horisontale, diagonale en vertikale lyne, wat bekend sou word as “Ulam se spiraal”.

Ons almal doodle van tyd tot tyd. Studente en skoolkinders doodle tydens klasse; en wie van ons teken nie deur die loop van ’n lang telefoongesprek abstrakte meetkundige konstruksies, spotprente van vriende, landskappe, of ander surreële simbole nie? ’n Doodle (ook bekend as ’n krabbel) kan kortliks beskryf word as ’n tekening wat iemand maak terwyl sy aandag op iets anders gevestig is. Vir die doel van hierdie artikel gebruik ek die woord “doodle”, omdat “krabbel” (vir my gevoel) eerder aan kinderkuns herinner, en moontlik beperkend is as dit kom by die kompleksiteit van visioenêre kreatiwiteit soos Ulam se spiraal, of die doodles van Leonardo da Vinci, waarin hy die wette van friksie neergelê het.

Doodles word bestudeer as onderdeel van handskrifontleding (grafologie), maar ook as kunsvorm (doodle art), byvoorbeeld die werk van Jabson Rodrigues en Jim Bradshaw, wat op hul beurt weer oorvleuel met spotprente en advertensiekuns. Alhoewel grafologie ’n nuttige hulpmiddel is om deur middel van skrifanalise sekere karaktereienskappe inherent aan ’n individu af te lei, word dit steeds as ’n feilbare pseudowetenskap beskou.  Nie almal is ewe begaafd as dit by doodles kom nie: die werk van ’n gewone persoon sal uiteraard verskil van iemand met kunstalent. ’n Doodle is onderworpe aan dieselfde logika as drome. Dit funksioneer soos dagdrome op papier. Die laer intellektuele dele van die brein is werksaam, en in hierdie ontspanne, verveelde, of onbewaakte oomblikke krabbel die persoon, soortgelyk aan ’n kind wat nie sy hand oplig terwyl hy ’n prent inkleur nie, omdat die oog-hand-koördinasie nog nie ten volle ontwikkel het nie. Daarom is doodles simbolies, abstrak, of gelaai met obskure droomsimboliek. In ’n studie wat professor Jackie Andrade, verbonde aan die Universiteit van Plymouth gedoen het, is bevind dat doodles mense help om beter te fokus en die geheue stimuleer. Die tekening tree op as tipe tussenganger tussen gedagteloosheid en gedagtedruk, en dit help om inligting makliker vanuit die geheue te herroep. Die persoon wat doodle se onderliggende bewussynsinhoud speel ’n rol. Die volgende items word dikwels geteken: harte (’n romantiese belewenis); motors en bote (’n begeerte om vakansie te hou, of ’n nomadiese wanderlust); kos (’n begeerte om te eet, veral as die persoon honger of op ’n dieet is); vuurwapens en messe (openlike of onderdrukte aggressie); tralies of webbe (as die persoon vasgekeer voel), ensomeer.

Hoe lyk die doodles van bekende skrywers en digters?

In die onderstaande foto het Vladimir Nabokov aantekeninge gemaak op die eerste bladsy van die Engelse vertaling van Kafka se The Metamorposis. Duidelik het hy ’n paar voorstelle (verbeterings?) in gedagte gehad. En let op die kewers en vlinders: Nabokov was ’n entomoloog van beroep, met spesialisering in Lepidoptera. Ongelukkig is sy navorsing, wat die klassifikasies van nuwe skoenlapperspesies insluit, eers na sy dood ernstig opgeneem.

Vervolgens ’n absurde doodle deur Samuel Beckett, soos uitgekrap in die oorspronklike notaboek van die manuskrip Watt.

Allen Ginsberg was ’n toegewyde Boedhis. Met die blom het hy vermoedelik ’n “Oṃ maṇi padme hūṃ”-lotus geteken, en ’n mens sou kon raai dat “AH” dui op die middelste lettergreep in die bekende “Om Ah Hum”-mantra.

Franz Kafka se angst is ook sigbaar in sy doodles. Alhoewel hy heimlik begeer het om ’n goeie kunstenaar te wees, het hy sy tekeninge weggesteek vir sy vriende en opdrag gegee dat dit verbrand moet word as hy tot sterwe kom. Dit het nie gebeur nie: na sy dood het herdrukke van Kafka se werk verskyn, kompleet met sy doodle-kuns as omslagontwerp, soos “Die man by sy lessenaar” getuig.

Onderstaande doodle vorm deel van ’n brief wat Charles Bukowski geskryf het aan die Sycamore Review, uitgawe 3.2. ’n Man met ’n groot neus en bottel whisky…

Hierdie bedrywige doodle het die Amerikaanse skrywer, Henry Miller, wat bipolêr was, tydens ’n maniese fase gemaak. Die skrywer was ook omstrede weens die seksueel eksplisiete inhoud van sy romans.

Alexander Pushkin was ’n begaafde kunstenaar, bekend vir die talle doodles in die kantlyne van sy manuskripnotaboeke. Hy het graag vriende, politici, hande en voete geskets. Sy doodles is later apart gebundel as Drawings by Alexander Pushkin.

Dit verbaas seker nie dat die Bengaalse digter, filosoof, dramaturg en mistikus, Rabindranath Tagore, ook ’n kunstenaar in eie reg was nie – hy het graag sy handgeskrewe gedigte geïllustreer.

Die digter-skilder, Breyten Breytenbach doen die omslagkuns van sy bundels self. Sketse, doodles en ander grafika vergesel ook sy poësie.

Verwysings: 

http://spierpoetryfestival.co.za/poet/breyten-breytenbach-2/

http://jayce-o.blogspot.com/2012/05/doodle-art-introduction.html

https://en.wikipedia.org/wiki/Doodle

http://flavorwire.com/147177/idle-doodles-by-famous-authors

https://www.amazon.com/Drawings-Alexander-Pushkin/dp/B00MD73F1E

http://isharethese.com/doodles-by-rabindranath-tagore/

Dispuut oor Kafka-manuskrip

Monday, November 2nd, 2009
Franz Kafka - Der Prozess

Franz Kafka - Der Prozess

Die Israeliese Nasionale Biblioteekdienste het die Duitse Museum van Moderne Literatuur te Marbach gedagvaar om die oorspronklike manuskrip van Franz Kafka se roman Der Prozess (“The trial”) aan hulle terug te besorg. Dié manuskrip is in 1988 deur Sotheby’s tydens ‘n veiling vir die bedrag van 2 miljoen US dollar aan die museum te Marbach verkoop. Die Nasionale Biblioteekdienste van Israel probeer egter nou om deur middel van ‘n regsgeding weer die manuskrip in hul sorg te kry, aangesien Kafka dié manuskrip aan sy jarelange vriend, Max Brod, nagelaat het en laasgenoemde die wens uitgespreek het dat dit na sý dood aan die Israeliese Biblioteekdienste geskenk moet word vir bewaring. En dít nadat Kafka, wat in 1924 aan tuberkulose beswyk het, by monde van sy testament dit onomwonde gestel het dat al sy manuskripte verbrand moet word.

Brod het egter sy vriend se versoek geïgnoreer en voortgegaan met die publikasie van The Trial, The Castle en Amerika. In 1939 moes Brod Praag egter inderhaas verlaat en het na Tel Aviv voor die Nazis uit gevlug. Na die dood van sy vrou het hy ‘n verhouding met sy assistent, Esther Hoffe, begin wat na sý dood in 1968 klaarblyklik voordeel uit Brod se niksseggende testament getrek het deur haar eienaarskap van die betrokke manuskrip te verkondig as synde ‘n geskenk deur Brod aan haar. 

Meir Heller, die Israeliese Biblioteekdienste se regsverteenwoordiger, het hul saak soos volg gemotiveer: “The National Library of Israel, which is a library of the Jewish people too, understands that in the will of Dr Max Brod he asks that these documents should be placed in a public archive and he names the National Library as the first option for that.” Hierop het Ulrich Raulff, direkteur van die Duitse Literêre Argief heftig gereageer en gesê dat die manuskrip op ‘n wettige manier in 1988 bekom is. “As far as I’m aware, [the inheritance] was reviewed and deemed legitimate by an Israeli court in the 1970s. In which case, the fact that the papers were delivered to Sotheby’s cannot be considered illegal,” het hy bygevoeg.

Nou ja, toe. Kafkaeske in die ekstreme, lyk dit my. Gaan lees gerus die volledige berig op Haaretz se webblad, of by The Guardian.

***

Goeie nuus is dat die kaartjies vir vanjaar se Versindaba nou beskikbaar is. Dit kan van vandag af by enige Computicket gekoop word en van môre af, direk by die Oude Libertas Amfiteater, óf by Protea Boekwinkel op Stellenbosch. Aangesien die twee dagsessies, naamlik Sessie 3 & 4, in ‘n kleinerige lokaal met beperkte sitplek plaasvind, sal dit raadsaam wees om jou kaartjies vir dié twee sessies vroegtydig aan te skaf.

Nuwe plasings op die webblad is ‘n heerlike inskrywing deur Philip de Vos oor limerieke terwyl Andries Bezuidenhout ons weer met ‘n gedig oor mev. Buitendag se blou Maandag verras.

Lekker lees en hou maar die blou eenkant weggesluit in ‘n kas, hoor. (Behalwe as jy ‘n ondersteuner van die Blou Bulle is, natuurlik. Dan mag jy maar in jou blou frokkies pronk vir hierdie week. Ons sal verstaan …)

Mooi bly.

LE