Posts Tagged ‘G.A. Watermeyer’

Pieter Kleynhans. “Bitter brood”

Monday, May 10th, 2010

Blogfokus

 

Die opdrag vir hierdie maand is nie so voor die hand liggend soos wat die redaksie mag dink nie, want as poësieliefhebber het ‘n mens tog seker meer as een “gunstelingbundel”. So sal ek altyd graag NP Van Wyk Louw se “Tristia” of Breyten Breytenbach se “Lotus” optel en met groot plesier daarin lees. Meer onlangs sekerlik HJ Pieterse se “Die burg van Hertog Bloubaard” en ‘n bietjie verder terug Johan van Wyk se “Heldedade kom nie dikwels voor nie.” Om natuurlik ook nie van Antjie Krog te vergeet nie; bykans ál haar bundels is uitsonderlik, maar haar bundel “Kleur kom nooit alleen nie” sal altyd ‘n gunsteling bly. So ook “Otters in bronslaai.”

Om ‘n nommer 1 gunsteling uit te sonder, is dus vir my ‘n onmoontlike taak.

Daarom sal ek eerder konsentreer op een van die “vergete digters” van Afrikaans en dit is GA Watermeyer. Sy gedigte het my nog altyd getref vanweë die aardsheid daarvan. Ongelukkig het hy hom tydens die opswaai van Nasionalisme baie sterk en direk aan die kant van die Nasionaliste geskaar en te midde van ‘n koppestamp met DJ Opperman en andere hom aan die verkeerde kant van die literêre spektrum bevind as gevolg van sy politieke agenda.

Dit is egter wanneer dié man liefdes- en erotiese verse geskryf het, wat sy ware krag volgens my na vore gekom het. Hierin is sy bundel “Bitter brood” (1965) vir my onvergeetlik en beslis ‘n gunsteling. Veral die gedigtereeks “Klein siklus” lees ek so gereeld as wat ek kan; sedert my skooljare al toe ek nog ‘n tjokkertjie was.

As voorbeeld:

 

I

 

Twee heuwels en die een vallei

kan nie ‘n man se dors bevry,

 

kan nie die donker bloed besweer

tot altyd helder wederkeer;

 

tussen die roosknop en die roos

styg die begeerte asemloos,

 

maar in die later, voller weet

dring dit terug in die vroeër leed:

 

word weer die wonding, die oop verlang -

dolk in die sterre, hoef teen die hang.

 

En dan ook nog die pragtige vers waarmee hy dié reeks afsluit:

 

Vir my vrou

 

Van al my heuwels van verlang

bly jy alleen die elder hang:

 

vallei van stilte en verskiet

wat wilgers stoot uit my verdriet

 

windbreek van deernis waar ek skuil

wanneer die nanag om my huil

 

die laagte se dorings en fontein

waar ek weer opstaan uit my pyn

 

om somersterk teen hierdie son

my gang te beitel uit beton.

 

 

Ek besef dat hierdie gedigte in vandag se tye maar ietwat “verouderd” klink, maar tog bly dit na al die jare nog steeds een van die mooiste voorbeelde van wat mense bedoel wanneer hulle praat van “suiwer poësie”; onopgesmuk, eerlik en vol van die wonderlikste sensitiwiteit.

 

Of ons digters van vandag nog hieraan voldoen? Ek weet nie. Ons digkuns het vir my so hard en berekenend geword. En tog, dalk is dit wat die tyd vandag van ons digters vra, is dit nie? Want waar kry ons vandag nog die rustige landelikheid waaroor Watermeyer byvoorbeeld in sy bekendste gedigte, “Reën in die voorwinter”, “Oestyd” en “Hings”  kon dig?

 

Dankie vir die geleentheid om aan ‘n mooi inisiatief te kon deelneem.

 

Pieter Kleynhans

Verwoesting

Tuesday, November 10th, 2009

 Vanoggend wonder ek oor die Engelse woord “devastation” – verwoesting, sê die woordeboek. Neergeslaan en kaalgestroop. Vanoggend weet ek wat dit beteken.

   Daar lê ’n haelhoop op my stoep, ’n halwe meter hoog. Ek reken dit gaan ’n dag of wat neem om te smelt, ek sou ’n ysman kon bou. My strelitzias lyk soos palmbome, slierterig aan flarde geskeur en van die sonneblomme is daar nie veel meer as stammetjies oor nie. My groentetuin, ag – verwoesting.

   Min mense lees seker nog die ou Afrikaanse digters. Te verstane. “Klaas Geswind en syn perd” het seker nog vermaaklikheidswaarde, maar as selfs Van Wyk Louw vir die jonger garde onbereikbaar is, wat dan van Totius en A.G. Visser? Ek mag verkeerd wees.

   Iewers uit my kleintyd, iewers toe die aande vol kerslig was en die weer meer as hoflike geselsies, onthou ek A.D. Keet se “Lied van die koringboer”. Sentimenteel, ek weet. Droogte, die uiteindelike reën, maar ook hael en dan weerlig wat die hooimied tref:

En dit is die lied van die koringboer

    Wat die hele jaar se gesaaie –

Sy brokkie brood, en sy vee se voer,

    Sien vergaan ‘t in ligte laaie.

   Daar is ander en beter gedigte oor storms en reën, selfs uit daardie era. Eugène Marais se “Die dans van die reën” en Jan F.E. Cilliers se “Die vlakte” of die wonderlike “Reën in die voorwinter” van G.A. Watermeyer. Maar oor verwoesting? Vertel my.

   Miskien nou dat die aarde kwaad word, nou sal sy ons weer grond toe dwing. Kaalgestroop, neergeslaan, maar hopelik gewortel. Dis nie in teer en beton waar dinge groei nie, maar daardéúr. Sê Van Wyk Louw:

Toe jy kind was, het jy gedink:

daar sal groot dinge kom uit my,

groot dinge, grotes en goeies –

soos ’n seun moet dink, natuurlik.

En: die groot is gesplits, én die goeie,

nou:

en in plaas van net groot en net goed,

het daar verskriklikheid en eenvoud

en boosheid en eenvoud

en eenvoud en nederigheid

-          gesprikkelde sampioene,

deur die teer, uit die teer van die straat,

keiserlik rooi en wit

by die breuk uit wat jy is, kom peul.

Die aarde is nie eenvoudig nie.

Wees gewaarsku. Die aarde is nie eenvoudig nie.