Posts Tagged ‘Gelyke kans’

Gelyke Kanse se hofsaak teen US. Braam de Vries & Breyten Breytenbach se briewe ter ondersteuning

Saturday, August 12th, 2017

Abraham H. de Vries

Jy het seker al kennis geneem van die agteruitgang van Afrikaanse skole en die uitskakeling van byna alle Afrikaanse universiteite in Suid-Afrika. Dis waarskynlik een van die redes vir die groot belangstelling in die hofsaak oor die taalbeleid van die Universiteit van Stellenbosch wat oor ‘n paar dae begin. Bo en behalwe grondwetlike regte is is daar veel meer vir Afrikaans op die spel. Almal besef dit.

Die verhoor is geskeduleer vir 14-16 Augustus in die Kaapse Hoërhof voor regters D V Dlodlo en K M Savage. Dit word ook beskou as ‘n toetssaak vir die gebruik van inheemse tale in die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel en is aanhangig gemaak deur Matie-studente en die beweging Gelyke Kanse, wat deur duisende Afrikaanssprekendes gesteun word.

Die universiteit erken in hofstukke dat Afrikaans nou tweede viool speel. Dit is strydig met die US se stigtingsvoorwaarde, aangesien die weldoener Jannie Marais, wat die totstandkoming van die universiteit met ‘n baie groot skenking moontlik gemaak het, dit gedoen het mits Afrikaans “geen mindere plaats” beklee nie.

Hierdie hofsaak is ‘n geleentheid waar ek my kan voorstel dat skrywers en taalliefhebbers aanwesig sal wil wees, vandaar die bostaande gegewens. Die laaste keer wat ons so by mekaar kon wees, was tydens André en Breyten se hofsake. Hierdie keer is die taal self op die spel.

Probeer kom asseblief.

Abraham (Braam) de Vries

***

Breyten Breytenbach

Vriende, kollegas, kamerade –

Hierdie is nie ‘n manifesto of ‘n politieke brief nie. Dit sou te maklik wees om die land se ontreddering te probeer saamvat en fokus op één fenomeen in ‘n Kaapse, « Zuma se ma… ! »

  (Djille wiet mos.)

Dis ook nie oor wat in die hof mag gebeur nie al is mens hoé erkentlik en dankbaar dat ‘n handjievol moediges  (wat toe nié ‘n skare wou word nie –  om Paul Eluard se wensdenkery op ‘n kritieke moment tydens die Résistance verkeerd aan te haal) by monde van regsverteenwoordigers die kans, nie eens gelyk nie, kry om die absurditeit van Stellenbosch Universiteit se onwettige taalbeleid aan die kaak te stel. Ons kan nie meer maak asof die dood nie in die geldpot is nie.

Nee, dis dalk net die skorre hartkreet van iemand soos julle, ‘n skrywer wat hom probeer bedien het van ‘n variant van ons Kreoolse menswordingsproses, Afrikaans – hopelik met die nodige eerbied en ootmoed teenoor die Groot Voorlopers wat ons bewussyn oop en diep en ryk en soepel en skeppend gemaak het, en met die skrynende wete dat ons besig is om ons verantwoordbaarheid teenoor hulle en ons verantwoordelikheid teenoor die komende geslagte te versaak. Teenoor almal :  die land, die geskiedenis, ons geheue, ons verbeelding… En daarmee saam die droom van menswaardigheid, die eksistensiële vryheid van die kans op regverdige saambestaan as burgers van die Groot Andersmaak, soos Jan Rabie dit genoem het.

En vir wat ?

Daar’s nie eens lensiesop in die dodepot nie.

Mens het deernis en medelye, al klink dit nie so nie, met De Villiers en Schoonwinkel en Koopman en die arme Mnr. Steyn en al die ander hansgatte vasgekeer in eiewaan en hoogmoed en hubris agter Stellenbosch se witgepleisterde grafmure. Soos die blinde sieners van ouds is hulle uile op die kluite van ‘n besoedelde en gekompromiteerde ‘morele hoëgrond’ , die ywerige eierbrekers ter wille van die omelet-nasie wat nooit bestaan het en nie eens meer ‘n vooruitvlug kan bied of selfs ‘n etiese verbeeldingsruimte van opregte bedoelings kan vergestalt nie.

Hulle is in die kak. Net soos ons almal maar. Want dit raak ons almal.

Hoekom volhard hulle in die eie-verwoesting wat veronderstel is om ruimte te skep vir ander-vervulling ? Is hulle slagoffers van selfhaat ? Die ‘daders’ – en uiteindelik die doodsbodes – vir demokrasie ? Die tyd sal leer, die geskiedenis dalk afreken met misdade teen die verlede, die doodmaak van ‘n droom van volwaardige burgerskap se saamskepping.

Maar het ons tyd ? Want intussen word mêtjies vlytig aangedra vir die aansteek van die brandstapel waarop die tale – Afrikaans – vernietig moet word.

Is dit dan nie genoeg van ‘n uitdaging vir ons wat twee-been is om regop in die duister met kop gelig na die lewende niet daar bo die onkenbare en tydlose en onverbeeldbare bewuswees te moet aftas met al ons sintuie nie ? Is die mens nie reeds onseker en begrensd genoeg nie ? Waarom die verdere verminking van sy vermoëns ? Is wat ons ‘taal’ noem dan nie ook die geheue aan ons patetiese poging om te bestaan in die groot waan van syn nie ? Is ons bydrae nie juis die omskrywing van die verskrikking wat ons belewe nie ?

Hoe is dit moontlik dat die implikasie sou wees dat Afrikaans – die enigste inheemse tongval/begripsoeke op die kontinent met die utopiese uitreik om haarself Afrikaans te wil noem (en roep) – net onthou sal word as  anomalie, ‘n gebrabbelde ‘kombuistaaltjie’ (asof dit alles sou sê !), die skending van ander se aanspraak op waardige ruimte ? Wie sal so oneerlik wees om te beweer die taal kom neer op ‘n generiese othering ?

Hoe het ons beland waar die mag van die sterkeres en hulle oorlewing (wat ook ons oorlewing is) berus op uitskakeling, verdowing, verkleinering, verbanning en ontkenning ?

Ons is almal mense. Ons is almal net mense. Hoe het ons as mense daarby uitgekom dat ons die beswadderde taal as die vreemdeling in die pad van vooruitgang dood moet gooi met klippe ? Omdat ons die uitdaging van respek-vir-ander-en-self nie kon akkomodeer nie ? Watter erkenning is dit dan van beneweling, bestaansangs en verwarring, en daardie magsvraatsug wat Afrikaans sien as die doring in die vlees van realisme !

Ons wéét immers dat ruimte slegs in beweging kan groei en net aan die omvang van ons empatie en die kontoere van gesonde menseverstand geken sal word. Daar is ruimte vir die méérheid van verskeidenheid soos teenoor die minderheid en minderwees en minderword en uiteindelike verstening in die gewaande éénheidsstrewe na één nasiestaat, daardie Rat deur die Party voor die volk se oë gedraai.

Moet ons dan waaragtig aanvaar ons beskik nie oor die billikheid, morele verbeeldingskrag en vernuf of vermoëns, of net die potensiaal van goeie begrip en buurmanskap, of eenvoudig die liefde om Afrikaans ook te laat lewe as gemeenskaplike bate nie ? As dit so moet wees kap ons mos die bastervolk – ons eie mense wat uit hierdie sterre en grond geboetseer is, plaaslik getaal is om uiting te gee aan die universele soeke na sin – se hande af en steek hulle oë uit.

Wat is ons mensetaal anders as ‘n eindelose en heldhaftige stryd om die groot-andersmaak-van-self, om ook ‘n veranderaar te mag wees en dusdoende die teksture van wat ons léwe en werklikheid noem te ervaar, verstaan, huldig, eerbiedig, omvorm en op te mag pas ? Ook sodat daardie lewe en werklikheidsontdekking met vuur en drif aangegee kan word aan hulle wat na ons kom !

Deur Afrikaans kleiner te wil maak, te stigmatiseer en demoniseer, maak ons die gemeenskap van mense armer. Dis inderdaad ‘n moedswillige misdaad teen die genetiese besef van die mensdom ontvang in ‘n droom van agentskap én evolusie, die groei na verandering wat wil doen om te mag weet ons is.

Moenie dat daar van ons gesê sal word : julle het meegehelp, al was dit ook net uit stilbly, om die mens in ons stil te maak en uiteindelik stil te laat word nie.

Afrikaans/Afferkaans vra nie om bevoorregting of verskansing nie ; Afrikaans eis net die grondwetlike vryheid om nié uitgerangeer, ingeperk, ge-ghetto, en daarom ‘n dooie zombie te word nie. As bontvolk verbonde tot die aanhou baklei vir geregtigheid, menswaardigheid, respek, gelyke kanse om vryheidskepping te verwesenlik in die saamdra van verskeidenhede as bestaans-imperatief, dring ons aan op die reg tot voortbestaan en die verwérkliking van kreolisering. Dit vra en verwag ons namens die oermoeders en die abbavaders, namens almal van ons wat miskien eenmalig hier is om saam te mag strewe en verder te kan skrywe aan die etos van ‘n daarstelling van omvorming. En ons vra dit vir die nakomelinge.

Ja, ons vra dit ook vir die Kakiebos élite : hulle met die maskers van straffelose anonimiteit en die agterstewes vernaam van sit op alle stoele, wat hoër probeer sing as hul eie poepholisme. Agterspoed is hulle voorland !

Maar net soos ons onderhandel hulle ook met die ewigheid van verantwoordelikheid. Wat sou ons ook anders kon doen ? Hoe power is ons middele tog nie… (En dit help nie dat ‘power’ in die imperiale taal mag beteken nie : ‘mag’ is nog altyd die weergee van swakheid.)

Al dra die boer ‘n goue koloniale ring bly selfverloëning steeds ‘n lelike ding.)

Wat gaan oorbly om aan te gee as omvormingsverantwoordelikheid ?

Indien ons nie vasstaan op ons reg as skrywers tot andersmaak nie – laat ander dit op hulle manier doen – gaan ons enigste oorblyfsel dalk ‘n kramat teen die hang van Vlaeberg moet wees, ‘n wegsteekgraf vir die taal waar die wind alle woorde wegwaai. (Solank daar nog iemand is wat weet van ‘kramat’.) En miskien sal daar op die geborduurde lap oor die afwesigheid uitgespel staan :

Hier lê ons geliefde bastertaal, in haar fleur genadiglik uit die lewe gewurg deur die daddies van die volk sodat sy jakkalskaal en onbeskaamd as versoeningsofferende sondebok geparadeer mag word om ons van alle sterwensskuld te onthef, tot in die vryheid van ewige stilte en vergeet.

(Solank iemand nog die taal sou kon skryf.)

Gun my die hoop om te glo my versugting word algemeen gedeel deur ons wat bywoners en stukwerkers van ons eie lot is. Dat dit ook so ervaar word deur ander. Daarom wil ek graag versoek dat my skor kreet van die uitgespoegde hart nie gepersonaliseer word deur ‘n naam nie. So-iets sal dit net maklik maak vir hulle/julle/ons wat nié wil lees wat ons almal weet nie. Djille wiet wie ek is (wat meer is as wat ek ooit sal waag om van myself of van julle te beweer) :

Jan Alleman

aka Blackface Buiteblaf

 

12 Augustus, 2017