Posts Tagged ‘gemeenskapsaal’

Andries Bezuidenhout. Dorpsaal van dertigs (waarskuwing: kru taal in van die foto’s)

Thursday, August 25th, 2016

20160818_111423

Daar’s ʼn hele fotografieveld wat as “ruin porn” bekendstaan. Sommige van hierdie pornograwe neem foto’s van vervalle geboue in transisiesamelewings, plekke wat iewers heen op pad is vanaf kommunisme, kolonialisme en ander (nou) onwelvoeglike moderniseringsprojekte. Al wat bly staan, maar wat aan die verval is, is eertydse modernistiese betonmonumente. In die toekoms lê demokrasie, kredietkaarte en winkelsentrums.

In die Afrika-konteks kan mens seker na die werk van iemand soos Guy Tillim verwys, wat vervalle betonkonstruksies en omgevalle standbeelde in plekke soos Hillbrow, die Demokratiese Republiek van die Kongo en Mosambiek afneem (ek moet byvoeg dat Tillim ook mense afneem en dat mens hom daarom nie eintlik van ruin porn kan beskuldig nie – ruin porn gaan juis oor verval weens die afwesigheid van mense).

Die genre is nie net tot transisiesamelewings beperk nie. Ook in die VSA, waar demokrasie, kredietkaarte en winkelsentrums nou al gevestig is, is daar fotograwe wat tussen die beendere van reeds uitgediende winkelsentrums gaan rondmik, op soek na ʼn ongewone hoek, ʼn ligstraal wat teen ʼn gebreekte roltrap weerkaats, die afarm van ʼn lendelam winkelpop.

20160818_111202

Dis nie wat ek hier probeer doen nie, al ruik die foto’s dalk soos ruin porn. Die gebou het my diep geraak. Dis in Belfast, nou bekend as eMakhazeni, op die Hoëveld, ʼn entjie van die hoofpad wat Walvisbaai aan Maputo verbind. Mens ry die dorp binne en draai by die polisiestasie links. Daar’s ʼn park in die middel van die dorp. Munisipale werkers is besig om winterblare op te hark en dit aan die brand te steek. Outentieke Hoëveld wintertoneel. Daar’s ʼn klinkersteenkerk, seker uit die veertigs, en ʼn klokboog wat waarskynlik veel ouer is. Die bel is nie meer daaraan vas nie.

20160818_111528

Draai jy om, sien jy dit. Glenn Adler, wat jare gelede saam met my aan die Universiteit van die Witwatersrand gewerk het, het die styl “Highveld municipal deco” gedoop, met verwysing na Melville se openbare swembad wat plek moes maak vir ʼn winkelsentrum. Hierdie gebou was seker ʼn dorpsaal, maar is nou plek-plek sonder dak en heeltemal sonder deure of vensters. Dit het waarskynlik afgebrand. Eens was dit ʼn openbare ruimte. Anders gestel, dit was ʼn openbare ruimte vir sommige, nie almal nie. Twee graniettablette teen die muur – een in Afrikaans, een in Engels – beweer dat die gebou in 1934 voltooi is en deur Raadslid F.C. de Wit, Voorsitter van die Raad, “aangebied” is.

20160818_111740

Ek is nie seker of dit die dorpsaal was nie. Ek kry geen inligting oor die gebou – of bouval – opgespoor nie. ʼn Naambord bo die voordeur dui aan dat dit eens die Funda Community Hall was. Dalk is daar in Afrikaans na verwys as “gemeenskapsaal”. ʼn Ander kennisgewing verwys na die “Funda Development & Human Rights Resource Centre”. Daar’s ʼn tipe wapen wat ʼn gebalde vuis en ʼn ster voorstel. Verder lees dit: “Peace, Justice and Prosperity”, gevolg deur twee telefoonnommers en dan ʼn aanduiding dat befondsing van die National Development Agency af gekom het. Onderaan die kennisgewing staan: “Vera Stimulation Centre” (met ʼn latere draai deur die dorp het ek weer op die naam afgekom en dit blyk na ʼn kleuterskool, in die ou taal, te verwys).

Belfast is vernoem na Richard Charles O’Neill, op wie se plaas die dorp aangelê is – hy was ʼn Ier van Belfast afkomstig. Die dorp is in 1890 gestig. Die Ierse naam was waarskynlik in die Zuid-Afrikaansche Republiek aanvaarbaar weens die Iere se politieke goedgesindheid, of dalk eerder omdat die twee entiteite ʼn gemeenskaplike vyand gehad het. Twee belangrike veldslae, die Slag van Leliefontein en die Slag van Bergendal, het tydens die Anglo-Boereoorlog hier plaasgevind. Laasgenoemde was die laaste konvensionele veldslag tussen Brit en Boer, aan die einde van 1900, toe die Boere se tydelike hoofstad na Machadodorp en uiteindelik na Nelspruit teruggeval het en die oorlog tot die guerrilla-fase oorgegaan het. Hier was ʼn konsentrasiekamp.

Ek vind twee historiese foto’s. Die eerste is van ʼn spoorwegkanon wat blykbaar te laat aangekom het om deur die Britte tydens die Slag van Bergendal gebruik te word. Dit was nie nodig nie – die Britte het in elk geval gewen (bron).

BL_9.2_inch_railway_gun_Belfast_August_1900

Die tweede is van ʼn treinwa wat met “Boer refugees” by Belfast aankom, waarskynlik om hulle by die konsentrasiekamp af te laai (bron).

Telfer-dunbar_J_Q72488

Deesdae boer hulle met tulpe hier. Die verkeer van die jaarlikse Tulpfees het een keer veroorsaak dat ons vir twee ure op die hoofweg in ʼn verkeersknoop verstrengel geraak het en dat ons Kaapse vriende hul vlug ná ʼn naweek in Maputo verpas het. Hier’s ook steenkoolmyne en graniet word ontgin. Toeriste uit Johannesburg vang forel in die omgewing se damme.

Ek voel nie lus om woorde aan die dorp se bevolkingsamestelling af te staan nie – belangstellendes kan hier daarna gaan kyk.

Die bevolkingsamestelling se kategorieë is egter heel lewendig in die gesprek wat teen die bouval se mure gevoer word. Alhoewel die ruimte nie meer amptelik as gemeenskapsaal dien nie, gebruik die gemeenskap dit ruimskoots om met mekaar te kommunikeer. Een gesprek vind in die bouval se eertydse voorportaal plaas, teen vier muurpanele (in die foto’s hier bo). Oor wat mens van die kommunikasie kan maak, is ek onseker. ʼn Interpretasie hang seker af van hoeveel outeurs daarby betrokke is. Indien dit meer as een outeur is, is dit ʼn gesprek. Indien dit slegs een outeur is, is dit ʼn boodskap. Ek sukkel om van die handskrif(te) afleidings oor outeurskap te maak.

ʼn Teks of gebou kan op verskillende maniere gelees word. Een manier om hierdie gebou te lees – as gedig, of andersins – is seker maar om dit as metafoor vir ʼn bouvallige en gebroke nasie aan te bied. Die buitekant praat van vrede, geregtigheid en voorspoed. Die binnekant is eerliker en praat van onopgelosde trauma, ewigdurende haat en oorlog. Ek sou ‘n gedig hieroor wou skryf, maar ek dink nie ek is nou in staat om dit te doen nie. Dis ‘n pragtige bouval. Dalk hoef mens niks by te voeg nie.