Posts Tagged ‘gemoedsversteuring’

Gisela Ullyatt. ‘Let evening come’: ’n Huldeblyk aan Jane Kenyon (1947-1995).

Wednesday, January 28th, 2015

Die Amerikaanse digter, Jane Kenyon, is nie alombekend aan poësielesers in Suid-Afrika nie. Met reeds die eerste lees aan haar oeuvre, het haar gedigte se direktheid my onmiddellik opgeval:  persoonlike pyn wat nooit in selfbejammering of ’n narcistiese geween ontaard nie. Haar gebruik van die objective correlative is opmerklik en word nie net met volgehoue poëtiese dissipline aangewend nie; dit laat die leser ook op verrassende maniere na die wêreld kyk. The boat of quiet hours (1986), Let Evening Come (1990) en die postume bundel, Otherwise (1996) is van haar beste digbundels. Constance (1993) karteer hoofsaaklik die ervaring van ander se siekte asook haar eie depressie. Verder was sy ’n gerekende vertaler van die Russiese digter, Anna Akhmatova. Kenyon se oeuvre word egter kortgeknip deur haar voortydige dood.  

Jane Kenyon word gebore op 23 Mei 1947 in Ann Arbor, Michigan, waar sy haar grootwordjare deurbring. Vanweë haar ouma se allesoorheersende hellfire-and-brimstone geloof, neem sy van jongs-af die besluit om nie in tradisionele geloof verstrik te raak nie. Haar ouma het dikwels die jong Jane banggepraat met terme soos ‘The Holy Ghost’ en het haar gedreig met die ewige vagevuur; sy het ’n satan agter elke bos uitgeskop. Dit het moontlik ’n groot rol gespeel in Jane se teruggetrokkenheid. Jare later skryf Kenyon in “Staying at Grandma’s” (2005:175) só oor haar ouma:

“You know,” she’d say, turning

her straight and handsome back to me,

“that the body is the temple

of the Holy Ghost.”

 

The Holy Ghost, the oh, oh … the uh

oh, I thought, studying the toe of my new shoe,

and glad she wasn’t looking at me.

 

Soon I’d be back in school. No more mornings

at Grandma’s side while she swept the walk

or shook the dust mop by the neck.

 

If she loved me why did she say that

two women would be grinding at the mill,

that God would come out of the clouds

when they were at least expecting him,

choose one to be with him in heaven

and leave the other one alone?

Terselfdertyd ontdek die jeugdige Jane ’n dik streep rebellie teen die skoolsisteem en kerk wat sy in ’n essay genaamd “A Gardener of the True Vine” (Timmerman:9) beskryf. Vir die res van haar lewe bly sy ’n rebel en ’n “questioner of things”:

I had put my gold and blue Methodist Youth Fellowship PIN in the bottom of my jewelry box, where I would never see it. Nature and beauty would be my god, and I would be a good person without benefit of the sacraments, just by trying.

Ten spyte hiervan begin sy haar universiteitsloopbaan by die Universiteit van Michigan in 1965 met lae selfwaarde en angstigheid wat bydra dat sy na haar eerste jaar haar studie staak en by ’n geskenkwinkel begin werk. Gedurende hierdie tyd ontdek sy haar sangtalent en toer ’n jaar later, wanneer sy weer by dieselfde universiteit inskryf, na Europa saam met die Michigan Chorale. In 1969 besluit sy om in te skryf vir die digter Donald Hall se gewilde kursus, “Introduction to Poetry for Non-English Majors” (sy neem Frans as hoofvak). Wat as ’n vriendskap tussen haar en Hall ontstaan, ontwikkel drie jaar later tot ’n romanse wat uiteindelik tot ’n huwelik in 1972 lei.

Dit was egter problematies vir Kenyon aan die begin van hulle huwelik, nie omdat daar disharmonie tussen hulle was nie, maar eerder ’n gevoel van verwarring van identiteit: Hall was byna twintig jaar ouer as Jane en ’n reeds gevestigde en gevierde digter asook die professor wat haar gedigte krities bestudeer en help vorm het. Eers nadat hulle na New Hampshire trek om op Hall se familieplaas, Eagle Pond Farm (dit was reeds vir die geslagte in die familie), te woon in 1975, verander hierdie tentatiewe verhouding in terme van skryf tot ’n volwaardige verhouding tussen digters van dieselfde status. Dit is hier waar sy haar persoonlike geloof in God herontdek en talle gedigte, soos die roerende, “Woman, why are you weeping?” skryf.

Gedurende hierdie jare word Kenyon formeel met depressie gediagnoseer, op die relatief laat ouderdom van 38. ’n Diagnose van Bipolêr 2 word gemaak, wat beteken dat sy nie aan die meer ernstige Bipolêr 1 ly nie. Kenyon ervaar egter meestal depressiewe episodes (unipolêr) en kan meeste van haar hipomaniese episodes nie onthou nie. Ten spyte van haar depressiewe episodes, bly Kenyon uiters produktief en werk elke dag vir ure aaneen aan haar gedigte waaraan sy intensief skaaf: veral ten opsigte van beeld en vorm.

Constance (1993) is ’n bundel wat die tema van siekte en gemoedsversteuring deurgaans eksploreer, veral ten opsigte van geliefdes wat Jane in die voorafgaande tydperk aan die dood afgestaan het (sy was haar vader se primêre versorger voor dié aan kanker oorlede is). Ook skryf sy oor Donald se stryd met kanker; ’n deel van sy lewer moes verwyder word. Hy oorleef egter en word vier vanjaar sy 87ste verjaardag. ’n Uitmuntende reeks gedigte oor Kenyon se stryd teen depressie is “Having it out with melancholy” waarvan die motto uit Tsjechof se Kersieboord geleen is: “If many remedies are prescribed for an illness, you may be certain that the illness has no cure”. Deel 2, 3 en 9 is veral roerend en beskryf die siekte op ’n treffende wyse (2005: 232, 235):

2 Bottles

 

Elavil, Ludiomil, Doxepin,

Norpramin, Prozac, Lithium, Xanax,

Wellbutrin, Parnate, Nardil, Zoloft.

The coated ones smell sweet or have

no smell; the powdery ones smell

like the chemistry lab. At school

that made me hold my breath.

 

3 Suggestion from a Friend


You wouldn’t be so depressed

if you really believed in God.

 

 

9 Wood Thrush

 

High on Nardil and June light

I wake at four,

waiting greedily for the first

notes of the wood thrush. Easeful air

presses through the screen

with the wild, complex song

of the bird, and I am overcome

 

by ordinary contentment.

What hurt me so terribly

all my life until this moment?

How I love the small, swiftly

beating heart of the bird

singing in the great maples;

its bright, unequivocal eye.

 

Hierdie “bright, unequivocal eye” vind sy veral in die poësie van John Keats en Anna Akhmatova: portrette van hierdie twee digters hang in haar studeerkamer in Eagle Pond Farm. Haar liefde vir Akhmatova se gedigte spruit uit haar intense identifikasie met hierdie digter (wie ’n tydgenoot van Osip Mandelstam was) se lewe: alhoewel albei se lewensverhale baie van mekaar verskil, vind Kenyon die volgende raakpunte: “At a crucial stage in Kenyon’s maturation as a poet, one observes these pertinent relationships with Akhmatova: an allied sense of poetic principles, a kinship of personality, and a shared spiritual faith” (Timmerman 2002:107).

Die volgende strofe dien as voorbeeld van Kenyon se intensiewe en passievolle arbeid aan Akhmatova se gedigte en hoe uitstekend dit teen ander digters se vertalings gevaar het: Die eerste voorbeeld is Kenyon s’n, die tweede dié van Stanley Kunitz en die derde, Richard McKane se weergawe (“The memory of Sun, Evening, 1912):

The memory of sun weakens in my heart,

grass turns yellow,

wind blows the early flakes of snow

lightly, lightly.

*

Heart’s memory of sun grows fainter,

sallow is the grass;

a few flakes toss in the wind

scarcely, scarcely.

*

The memory of sun weakens in the heart,

the grass is more yellow,

the wind flutters the early snow-flakes

gently, gently.

 

Veral opmerklik hier is dat Kenyon ’n poëtiese ‘ek’ in die gedig gebruik, in teenstelling met die meer onpersoonlike, afstandelike vertalings.  Die vyf jaar wat Kenyon afstaan aan die vertaling van Akhmatova se gedigte verdiep ook die skryfproses van haar eie digkuns geweldig baie.

Kenyon se reis in 1992 na Indië verander haar uitkyk oor die lewe op ’n dramatiese wyse en  begin sy weereens twyfel oor haar Christelike geloof: sy kon nie vrede maak met die ontsettende lyding wat op dié sub-kontinent plaasvind nie. Daar was veral ’n gebeurtenis waaroor sy nooit afsluiting kon vind nie en waaroor sy dikwels geskryf het in briewe aan vriende: Terwyl sy en haar Indiese gids, Rajiv, op die Ganges vaar, merk sy ’n dooie baba op (Timmerman 2002:45):

Among the sticks and junk I saw the body of a newborn, lapping against the shore. I. Looked away. That is a chicken, not a baby, I said to myself. Looked again. Baby, legs still not uncurled from the womb […]

Só skryf sy uiteindelik poëties oor hierdie ervaring in “Woman, why are you weeping?” (2005:295-296):

 

[…]

 

Rajiv did not weep. He did not cover

his face with his hands when we rowed past.

the dead body of a newborn nudging the grassy

banks at Benares – close by a snake

rearing up, and a cast-off garland of flowers.

 

He explained. When a family are too poor

to cremate their dead, they bring the body

here, and slip it into the waters of the Ganges

and Yamuna rivers.

 

 

Perhaps the child was dead

at birth; perhaps it had the misfortune

to be born a girl. The mother may have walked

two days with her baby’s body to this place

where Ghandi’s ashes once struck the waves

with a sound like gravel being scuffed

over the edge of a bridge.

 

“What shall we do about this?” I asked

my God, WHO even then was leaving me. The reply

was scorching wind, lapping of water. Pull

of the black oarsmen on the oars …

 

Op 31 Januarie 1993 ontvang Kenyon die nuus van persoonlike tragedie: sy word met leukemie gediagnoseer. Vir vyftien maande trotseer sy verskeie uitmergelende mediese behandelings wat Hall, haar man, in ’n 1995-essay beskryf (Timmerman 2002:226):

 For more than a year, she endured spasms of chemotherapy, a pneumonia that leukemics get, shingles, delirium, loss of remission and its brief restoration, total body irradiation, a bone-marrow transplant, and ‘graft versus host’ disease of the stomach. Side effects included neuropathies in hands and feet, mouth agony from the radiation, loss of mentation, a brief psychotic episode, loss of control in her fingers, fatigue, bone pain and constant nausea.

            During all this time I remained at her side, and most days I worked on poems.

Ten spyte van Kenyon se intense lyding, werk sy en Hall byna koorsagtig aan haar laaste gedigte, wat later postuum gepubliseer word as Otherwise (1996). Sy sterf op 22 April 1995.

“Let Evening Come” (1990) is ’n gedig wat onder andere  Kenyon se lewe op die familieplaas en haar intense liefde vir die natuur opsom asook haar opmerksaamheid teenoor haar omgewing. Vir Kenyon, “poetry matters” en het sy getrou gebly aan haar roeping as digter en intense liefhebber van poësie. Ten spyte van die donker periodes in haar lewe, was poësie altyd haar reddingsboei, haar raison d’être.

 

Let Evening Come

 

Let the light of late afternoon

shine through chinks in the barn, moving

up the bales as the sun moves down.

 

Let the cricket take up chafing

as a woman takes up her needles

and her yarn. Let evening come.

 

Let dew collect on the hoe abandoned

in long grass. Let the stars appear

and the moon disclose her silver horn.

 

Let the fox go back to its sandy den.

Let the wind die down. Let the shed

go black inside. Let evening come.

 

To the bottle in the ditch, to the scoop

in the oats, to air in the lung

let evening come.

 

Let it come, as it will, and don’t

be afraid. God does not leave us

comfortless, so let evening come.

’n Uitstekende dokumentêr oor Jane Kenyon en Donald Hall word in 1993 gemaak waarin die bekende Bill Moyers ’n onderhoud met hulle voer. Ook is daar uittreksels waar Kenyon en Hall uit hulle gedigte by Eagle Pond Farm en aan gehore voorlees. Die skakel is  vimeo.com/33656887. (Die titel is ’n “A Bill Moyers Journal: A life together”)

Bibliografie

Kenyon, J. 2005. Jane Kenyon. Collected Poems. Minneapolis: Graywolf Press

Timmerman, J.H. 2002. Jane Kenyon. A Literary Life. Michigan: Wm. B. Eerdmans Publishing Co.

Gisela Ullyatt. ‘Wintermuil’: Die gedig as gestig.

Tuesday, October 28th, 2014

 

Foto: Christopher Payne

’n Ruk terug delf ek diep in oer-uitgawes van De Kat en Insig (dié wat genadelose seleksie oorleef het deur die jare). Onthou die ou De Kat? Die De Kat van hope resensies, kortverhaalwedstryde (waarvan Koos Prinsloo byvoorbeeld die eerste prys aan toegeken is vir Die wond) en literêre onderhoude? Let wel: onderhoudende onderhoude. Waar sou ’n mens deesdae tog sulke onderhoude in die gedrukte media aantref? Met wonderbaarlike droë humor wat deursypel in vrae aan skrywers soos Ingrid Winterbach (toe nog Lettie Viljoen). Selfs haar lang stiltes op sommige vrae word tussendeur gedokumenteer. Ongelukkig sou meer as die helfte van so ’n onderhoud se spasie deesdae kortgeknip en aan ene Madame L’Oreal afgestaan moes word.

Onthou Insig? Die kortstondige Boeke-Insig? Albei ook lankal tot vergetelheid gekis deur ‘n populistiese mark wat eerder nuwe selfone en duur viertrekvoertuie verkies. Die enigste merkers van hulle bestaan is artikels soos “Vloek van die muse” deur Linette Retief waarin sy die verband tussen kunstenaarskap, skrywerskap (veral digterskap), gemoedsversteuring en selfdood ondersoek. Ter illustrasie verwys sy na Barrie Hough, Ingrid Jonker en Johannes Kerkorrel. Daar is ook foto’s van Sylvia Plath en Ernest Hemingway.

’n Aanhaling uit hierdie artikel wat steeds na al die jare by my bly spook is, lui as volg: “’n Jaar voor sy selfmoord het Johannes Kerkorrel vir sy hartsvriendin Amanda Strydom gesê: ‘Miss Mandy, die dokter sê ek kan vir ewig lewe, maar hoe lank moet ons nog so aankarring?’” (2004:37). Self het Amanda natuurlik ook die bitterste heuning van die lewe as bipolêr-lyer leer proe. Deesdae word daar natuurlik eerder van ‘vegters’ as ‘lyers’ gepraat. Die catch-22 van depressie is egter dat die individu daarteen wil ‘veg’ maar vir lang tye nie oor die broodnodige emosionele en fisiese krag besit nie, maar steeds ongenadiglik deur kennisse en familie gepols word om hulleself spoedig reg te ruk. Stapel die verlies aan kreatiwiteit op saam met werksdruk asook enorme druk tot ‘normale’ sosiale verkeer en dit word ’n resep vir selfdood vir die kreatiewe ‘lyer’ wat aanhoudend moet ‘veg’ maar nie meer kan nie. Word daar soveel onsimpatieke reaksies op ‘normale’ siekte (byvoorbeeld kanker) gegenereer? Word pasiënte aanhoudend gemaan om nie ‘lui’ te wees nie? Word hulle tot verantwoording geroep vir hul eie siekte? Dit sou tog verregaande wees.

In haar Insig-artikel som Retief ook navorsing op (helaas nou al tien jaar oud, maar steeds aangrypend) wat suggereer dat die kreatiewe groep wat die ergste onder selfdood en gemoedsversteuring gebuk gaan, digters is.

Bestaan daar dus ’n direkte verband tussen digterskap, gemoedsversteuring en selfdood? Indringende navorsing word steeds benodig, maar dalk lê die ironie juis in die moontlikheid dat die vraag nooit opgelos behoort te word nie, omdat die digkuns juis armer sal wees aan briljante gedigte wat hieroor handel en ’n blik aan die oningeligte leser verskaf. Miskien is die titaniese Jakob-en-die-engel rofstoei met depressie juis wat gedigte laat ontknoop? Ek dink die vraag is uiters debatteerbaar, maar ongelukkig is die oplosbaarheid daarvan meer op die vlak van ’n Zen koan.

Ter illustrasie haal ek haal ’n paar Afrikaanse digters aan wat spesifiek oor ervarings in psigiatriese eenhede gedig het, veral in staatshospitale.

In die tagtigerjare het Koos Kombuis opgang as digter gemaak onder die naam André le Roux du Toit (hy beklemtoon dat hy die naam gekies het om die literêre establishment se pretensie uit te wys en dat die letters daarvan eintlik bedoel was om ‘toilet’ te spel.) In Seks & drugs & boeremusiek. die memoires van ’n volksverraaier (2000) beskryf Kombuis sy tyd in die ‘malhuis’ (Weskoppies) as skisofreen. Dit blyk dat hy aspris die vorms verkeerd ingevul het en dat hy nooit werklik stemme in sy kop gehoor het nie. Hy is wel opgeneem en het skokbehandeling (in die Astrid-kliniek) ontvang gedurende 1977 (104-105):

Skokbehandeling is ’n redelike uitgediende vorm van sielkundige behandeling. In die ou tyd is dit sonder narkose toegedien, en was dit volgens oorlewering nogal pynlik. Daar is ’n baie bekende scene in die fliek One Flew Over The Cuckoo’s Nest, waar skokbehandeling toegedien word op ’n pasiënt, gespeel deur Jack Nicolson, en waarná hy ’n zombie uitdraai. Ek moet erken dat daardie toneel is ietwat buite verband geruk. ’n Mens moet ’n geweldige oordosis skokbehandeling kry voor jy ’n zombie word […] In my geval is ek tien skokke toegedien, die een na die ander op agtereenvolgende dae. Ook weliswaar ’n oordosis, maar nie genoeg van ’n oordosis om my ’n zombie te maak nie.

Nota bene: Ongelukkig pleeg Koos hier ’n feite-fout: In One Flew Over The Cuckoo’s Nest, ontvang die protagonis Randle McMurphy skokbehandeling. Net daarna gee hy voor dat hy ’n zombie is (weliswaar vir ’n baie kort rukkie), tot die ontsteltenis van almal. Dit is egter nie die skokbehandeling wat hom katatonies gemaak het nie. Wat Kombuis eintlik na verwys is die eindtoneel: McMurphy word ‘gestraf’ deur die psigiatriese establishment omdat hy daarteen gerebelleer en dus homself as ‘moeilikheidmaker’ gevestig het (veral omdat hy Big Nurse se onleefbare roetines omverwerp). Sy ‘straf’ en ‘regstelling’ word in die vorm van ’n lobotomie uitgevoer: die konneksies tussen die pre-frontale korteks en die talamus word permanent afgesny en dus verbreek. Ken Kesey, die skrywer van die gelyknamige boek, lewer dus uitstekende sosiale kommentaar oor die lobotomie via die McMurphy-karakter, ’n uiters omstrede asook wreedaardige metode wat deur Dr. Walter Jackson Freeman ‘vervolmaak’ is: binne vier dekades het hy meer as drieduisend lobotomies uitgevoer, meeste van hulle met ’n yspik. Wat ek uiters ontstellend en skrikwekkend vind is dat hy (en ander) geglo het dat pasiënte se lewens daadwerklik daardeur verbeter is. Ongelukkig is meeste in afgestomptheid gedompel of selfs, soos McMurphy, in hulpelose katatone omskep.

Terug na Kombuis aka Le Roux du Toit: hy  debuteer in Brekfis met vier (1980) en sy gedig “Ek Dood” (7) verhaal sy ‘skisofreniese’ ervaring lank voor sy memoires:

ek dood

ek kom by die hemelse poorte

ek klop aan relings

ek sien petrus vroetel met bos sleutels

ek vra

meneer god tuis?

petrus mompel

ek geloofsoortuigings?

invul op pienk vorm drievoud […]

 

ek na weskoppies

ek skisofreen

ek roomskatoliek anglikaan […]

Kombuis se taal is weliswaar nie dié van ’n hebefreniese skisofreen nie (dit sou meestal net ’n onherkenbare gebrabbel wees; onleesbaar dus); maar die feit dat hy grammatikaal die gedig manipuleer deur sommige werkwoorde uit te haal en op ’n strukturele vlak daarmee  te speel, dra by tot die gevoel van skisofrenies taalgebruik. In Black Sun. Depression and Melancholia (1989), beskryf Julia Kristeva Marguerite Duras se werk as ‘An Aesthetic of Awkwardness’ (225): “[…] the distorted speech sounds strange, unexpected, and above all painful”. Miskien is hierdie ”awkwardness” ook op toepassing van hierdie gedig?

‘n Afrikaanse digter wat die institusionele ervaring uiters geslaagd satiriseer, maar ook op ‘n roerende wyse karteer, is Jeanne Goosen.  Skreiende ironie slaan deur in  ‘gedigte vir die mond’ (’n Uil vlieg weg:35) waarin Goosen die psigiatriese hospitaal voorstel soos die Suid-Afrika gedurende apartheidsjare:

i

in hierdie saal haal die mense asem soos groente

die verpleegster buig hulle lywe reguit lit vir lit

elke ras ruik anders

die malles na muwwe voëls, soos ’n nasie op hulle eie

ek ontrafel soos ’n ou wasrok

[…]

Ook konformering en onderwerping van die individu deur middel van institusionele regulasies word in haar verse geëggo; die self word as’t ware geoblitereer (‘Brief’:35):

In die gestig gaan die lewe sy gewone gang

en word elke malle toegelaat

om normaalweg voort te gaan

Dis buite waar die dae versplinter lê

en die son in sy eie strale verstrik.

Hier is die water koud

en daar is geen seep nie

ek het my onderklere verbrand …

(U weet tog self ek het nie ’n strik vir my hare nie.)

Die suster is wit en internasionaal

soos ’n teepot

Sy klee ons eenders

In hierdie jurk

is dit maklik om jou enigiets te verbeel

Die laaste versreël van hierdie gedig reïtereer die idee dat gesondwording siklies van aard is soos die ironiese teenoormekaarstelling van “afstomp” en “herstel”: “Geleidelik sal ek afstomp tot algehele herstel”. Afstomping en vervlakking is sekerlik die grootste vrees vir enige digter; hier is die vrees wesentlik as gevolg van die psigiatriese ervaring wat stimulasie uitsluit veral as medikasie ter sprake is.

In “Ontslag uit die gestig” (36) (Orrelpunte:1975) wys Goosen die leser op die ervaring van die ontslaande psigiatriese pasiënt. Meestal aanvaar die gemeenskap dat die persoon nou wonderbaarlik genees is, maar meestal is dit maar net die beginpunt van die herstel-en-regressie siklus:

[…]

Die bediende vryf die vloere

en ek ruik nie meer dat ek weg was nie

Sy was die skottelgoed

en ek hoor ek is terug

Sy was die reuk van die malhuis uit my trui.

[…]

In die derde deel van hierdie gedig (36) word die verraderlikheid van so ’n  herstelproses selfs verder beklemtoon deur die skryfproses in te sluit. Let op na  ongewone metafore soos ‘my tikmasjien is ’n wintermuil’:

iii

die vetplante verdof, winter is hier

die kaktus se dagsêkwas slaap in skubbe

alles is ingekeer onder wol, sonder sap

ek leer die droefheid ken soos vreugde

oplaas is daar versoening

tussen die mond en die breinspons, maar tydelik

tydelik en verradelik

my tikmasjien is ’n wintermuil

dit trek my deur die triestigheid van leë planete

ek word neergeskryf – passief en sonder mond

atonaal: hierdie is nie ’n gedig nie

hierdie is ’n vlugtige dood

Deel twee van hierdie blog stel die leser aan verdere Afrikaanse digters bekend wat die verband tussen gemoedsversteuring, kreatiwiteit, selfdood en die institusionele ervaring oopskryf. Hou dus Versindaba dop.

 

Bibliografie

 

Brekfis met vier. 2005. Kaapstad: Human & Rousseau.

Goosen, J. 1971. ’n Uil vlieg weg. Kaapstad: Tafelberg.

Goosen, J. 1975. Orrelpunte. Johannesburg: Perskor.

Kombuis, A.K. 2000. Seks & drugs & boeremusiek. die memoires van ’n volksverraaier. Kaapstad: Human & Rousseau.