Posts Tagged ‘George Washington’

Nini Bennett. Die digter Phillis Wheatley.

Sunday, May 14th, 2017

On Being Brought From Africa To America

‘Twas mercy brought me from my Pagan land,

Taught my benighted soul to understand

That there’s a God, that there’s a Saviour too:

Once I redemption neither sought nor knew.

Some view our sable race with scornful eye,

“Their colour is a diabolic die.”

Remember, Christians, Negro’s, black as Cain,

May be refin’d, and join th’ angelic train.

Phillis Wheatley

Die laaste herinnering wat die slawedigter, Phillis Wheatley aan haar geboorteland gehad het, was van die ondergaande son in Senegal terwyl haar moeder water geskep het in ’n rivier.

Augustus 1761 het Susanna Wheatley, vrou van die welgestelde handelsreisiger, John Wheatley, die skip Phillis in die hawe van Boston ingewag. Susanna het gehoop op ’n jong meisie wat haar kon help met huishoudelike takies — en haar hart het ineengekrimp toe sy ’n agtjarige dogtertjie, nakend onder ’n vuil mat gewaar. Die kind was siek en het aanhoudend gehoes: die kaptein van die skip het die minimum vir die bloedjong slaaf gevra, want hy het gereken dat sy nie lank sou leef nie. Sy het nie ’n naam gehad nie. John en Susanna het haar “Phillis” gedoop, vernoem na die skip wat die ‘vlugtelingslawe’ vervoer het (d.w.s. diegene wat nie geskik was vir swaar arbeid nie.) Phillis se van was Wheatley, want soos die koloniale gebruik van die 1700’s vereis het, moes slawe hulle eienaars se vanne aanneem.

Spoedig het die Wheatley-houshouding Phillis se buitengewone intelligensie raakgesien. John, Susanna, en die kinders Nathaniel en Mary het die dogtertjie leer lees en skryf en haar tuisstudie is opgevolg deur ’n grondige kennis van die Bybel, sterrekunde, aardrykskunde, die Engelse letterkunde, asook klassieke Latynse en Griekse tekste. John Milton en Alexander Pope was die leergierige Phillis se gunstelinge, en haar insig in die werk van Virgilius, Ovidius en Homerus het hulle verbaas. To the University of Cambridge in New England was die eerste gedig was Phillis ooit geskryf het (op 13), en waarin haar smagting na ’n ‘regte’ akademiese omgewing uitdrukking vind. Hierdie gedig het eers jare later in 1773 in haar debuutbundel verskyn.

John en Susanna Wheatley was ingenome met hulle “genius slave”, en het haar soos ’n trofee afgewys: sy het die gaste beïndruk met haar kwinkslae en wysheid, wye algemene kennis en besondere beheersing van die Engelse taal. Alhoewel Phillis onbeperkte toegang tot die huishouding se privaatbiblioteek in die studeerkamer gehad het, het sy steeds in die slawekwartiere geslaap. Haar eienaars het egter besluit dat sy vir meer as net huishoudelike takies bestem was en het hierdie werk na ander slawe gedelegeer; hulle het vir Phillis aangemoedig om bedags poësie te skryf. As ’n slaaf in die Amerikaanse kolonies van die 1700’s was Phillis Wheatley ’n anomalie: die praktyk om slawe te leer en skryf is ontmoedig (en ten sterkste afgekeur.) Dit was die era van koloniale Britse onderdrukking, die Amerikaanse rewolusie en die Amerikaanse Onafhanklikheidsoorlog.

In 1771 het die gedig An Elegiac Poem, On the Death of that Celebrated Divine, and Eminent Servant of Jesus Christ, the Late Reverend, and Pious George Whitefield vir Phillis Wheatley internasionale roem besorg. Hierdie elegie is tydens Whitefield se begrafnis voorgedra, maar ook in pamfletvorm en in koerante in Boston, Newport en Philadelphia gepubliseer. Met die hulp van Susanna het Phillis begin adverteer vir intekenaars in die Boston-koerante, ’n algemene praktyk daardie dae om lersers se belangstelling in ’n voorgenome publikasie te toets. Ongelukkig het die Amerikaanse leserspubliek nie belang gestel nie — en die twintigjarige Phillis, begelei deur haar eienaar se seun, Nathaniel Wheatley, het na Londen vertek om voorbrand te maak vir die jong digter se debuut.  Selina Hastings, die Gravin van Huntingdon en die boekhandelaar, Archibald Bell was Wheatley simpatiek gesind, en Phillis se droom is bewaarheid: Poems on Various Subjects, Religious and Moral het in 1773 verskyn. Spoedig het Phillis Wheatley die bekendste persoon van Afrosentriese herkoms op aarde geword, asook die eerste Afro-Amerikaanse digter wat ooit kon debuteer en ’n lewe uit poësie kon maak. Die digter was ’n sensasie in Londen, en het skouers geskuur met hooggeplaastes soos John Thorton, Baron George Lyttleton en Benjamin Franklin.

Tiperend van Wheatley se poësie was haar voorliefde vir elegieë, die vernuftige hantering van die jambiese pentameter, koeplette, en die aanwend van Bybelse simboliek as ’n evangeliserende diskoers tot slawerny. Haar liefde vir die Amerikaanse kolonies was eg, die uitdrukking van ’n ‘rein patriotisme’, soos George Washington daarna verwys het toe hy met die digter begin korrespondeer het en voor latere ontmoetings tussen hulle gevolg het. Wheatley het graag oor die son geskryf, haar laaste herinnering aan Senegal; en afwisselend die sinonieme “Aurora, Apollo, Phoebus, en Sol” gebruik. Sy het ook die woorde Sun / Son as homofone vir Christus as lewegende Ligdraer gesien. Oor slawerny was Wheatley ambivalent: sy het enersyds die koloniale kodes van die dag rondom slawepraktyke onderskryf, maar andersyds kritiek gelewer op die onmenslikheid en wreedheid waarmee slawe behandel word — ’n dualisme wat, volgens kritici, dui op die digter se (verdeelde) lojaliteit wat sy jeens die Wheatleys gekoester het. Haar kerstening met haar aankoms in Amerika blyk ’n hoogtepunt in haar lewe te wees. Die spirituele vrywording in Christus word parallel geplaas met die vrystelling van slawe wat in die vooruitsig gestel word. Hierdie tema figureer dikwels in die slawediskoers, ook in die werk van koloniale skrywers wat hulle beywer het vir die afskaffing van slawerny.

Voor die verskyning van Wheatley se debuut is sy voor die hof gedaag om haar outeurskap te bewys. Daar het twyfel onder lede van die leserspubliek bestaan of ’n slaaf uit Afrika die digter van sulke sonderlinge poësie kon wees. In 1772 is Wheatley se lees- en skryfvaardighede, asook haar algemene kennis getoets — en ’n paneel van 17 mans (waaronder John Erving, John Hancock en Thomas Hutchinson) het ’n vrywaring geteken dat Wheatley wél die digter van die verse onder verdenking is, en dat sy dit sonder ‘enige koloniale hulp’ geskryf het. Hierdie vernederende dokument, wat voorin Poems on Various Subjects, Religious and Moral verskyn het, is met latere herdrukke verwyder.

Maar Phillis Wheatley se glorie was van korte duur. Na die afsterwe van onderskeidelik Susanna Wheatley (1774) en John Wheatley (1778) het haar droom om vry te wees ironies in vervulling gegaan: volgens testamentêre bepalings was Wheatley nie langer ’n slaaf nie. Sy het in die huwelik getree met John Peters, ’n vry man, maar die nasleep van die rewolusie, oorlog, en gevolglike depressie het die Amerikaanse ekonomie geknou. Die arbeidsmark was uiters mededingend, en vrygestelde slawe het oor weinig vaardighede beskik om te kon oorleef; ook was hulle nie voorbereid op die vlaag seksisme en rassisme wat op hulle gewag het nie. John Peters, ’n waagmoedige entrepeneur en sy bruid Phillis het chronies verhuis om te vlug vir Peters se skuldeisers. Uit die huwelik is drie kinders gebore, waarvan twee kort na geboorte oorlede is.

Phillis Wheatley kon slegs werk kry as skoonmaker, maar het steeds bly dig en daarin geslaag om enkele verse in internasionele tydskrifte te publiseer. Ongelukkig was die belangstelling in haar werk in Boston (weer eens) vir ’n tweede bundel beperk, en die intekenaars het swak gereageer. Ondertussen het John Peters begin om tronkstraf uit te dien vir skuld, en Phillis het in uiterste armoede verval. Sy is op 31 oorlede as gevolg van swak gesondheid en wanvoeding. Haar derde en enigste oorlewende seun het vier ure ná haar gesterf.

Verskeie herdrukke van Wheatley se werk, asook ongepubliseerde verse, memoirs, en haar korrespondensie met hooggeplaastes het na haar dood die lig gesien. Sy word steeds in die VSA en Brittanje vereer vir haar nalatenskap en as simbool van bevryding as slaaf en as vrou. Talle skole, strate, geboue en sentra dra haar naam, en in 2003 is sy verewig in die Boston Women’s Memorial toe ’n gedenkbeeld tot haar nagedagtenis  opgerig is in Boston, Massachussets.

On Imagination

THY various works, imperial queen, we see,

How bright their forms! how deck’d with pomp

by thee!

Thy wond’rous acts in beauteous order stand,

And all attest how potent is thine hand.

From Helicon’s refulgent heights attend,

Ye sacred choir, and my attempts befriend:

To tell her glories with a faithful tongue,

Ye blooming graces, triumph in my song.

Now here, now there, the roving Fancy flies,

Till some lov’d object strikes her wand’ring eyes,

Whose silken fetters all the senses bind,

And soft captivity involves the mind.

Imagination! who can sing thy force?

Or who describe the swiftness of thy course?

Soaring through air to find the bright abode,

Th’ empyreal palace of the thund’ring God,

We on thy pinions can surpass the wind,

And leave the rolling universe behind:

From star to star the mental optics rove,

Measure the skies, and range the realms above.

There in one view we grasp the mighty whole,

Or with new worlds amaze th’ unbounded soul.

Though Winter frowns to Fancy’s raptur’d eyes

The fields may flourish, and gay scenes arise;

The frozen deeps may break their iron bands,

And bid their waters murmur o’er the sands.

Fair Flora may resume her fragrant reign,

And with her flow’ry riches deck the plain;

Sylvanus may diffuse his honours round,

And all the forest may with leaves be crown’d:

Show’rs may descend, and dews their gems disclose,

And nectar sparkle on the blooming rose.

Such is thy pow’r, nor are thine orders vain,

O thou the leader of the mental train:

In full perfection all thy works are wrought,

And thine the sceptre o’er the realms of thought.

Before thy throne the subject-passions bow,

Of subject-passions sov’reign ruler thou;

At thy command joy rushes on the heart,

And through the glowing veins the spirits dart.

Fancy might now her silken pinions try

To rise from earth, and sweep th’ expanse on high:

From Tithon’s bed now might Aurora rise,

Her cheeks all glowing with celestial dies,

While a pure stream of light o’erflows the skies.

The monarch of the day I might behold,

And all the mountains tipt with radiant gold,

But I reluctant leave the pleasing views,

Which Fancy dresses to delight the Muse;

Winter austere forbids me to aspire,

And northern tempests damp the rising fire;

They chill the tides of Fancy’s flowing sea,

Cease then, my song, cease the unequal lay.

Phillis Wheatley

Verwysings

https://en.wikipedia.org/wiki/Phillis_Wheatley

https://www.poetryfoundation.org/poems-and-poets/poets/detail/phillis-wheatley

http://www.biography.com/people/phillis-wheatley-9528784

https://www.poets.org/poetsorg/poet/phillis-wheatley