Posts Tagged ‘George Weideman’
Wednesday, January 20th, 2010
 W.E. Henley
In gister se Nuuswekker het ek melding gemaak van die prominensie wat W.E. Henley (1849 - 1903) se gedig “Invictus” tans vanweë die gelyknamige film oor die Springbokke se wêreldbekersege in 1995 in die gemoed van onwaarskynlike poësieliefhebbers geniet. En getrou aan hul opportunistiese aard is dit veral politici wat munt hieruit probeer slaan.
Voor in die koor is dit hoeka Gordon Brown wat die reëls “In the fell clutch of circumstance / I have not winced nor cried aloud./ Under the bludgeonings of chance / My head is bloody, but unbowed.” as bron tot sy lewensinspirasie voorhou. “It is about determination. It summarises my view [of being prime minister],” het hy aan die London Times se verslaggewer gesê.
Maar, soos Daisy Goodwin in haar berig heel tereg opmerk: miskien moes hy eers die ontstaansgeskiedenis van dié gedig nagevors het alvorens hy dit in navolging van oud-president Nelson Mandela as harts-inspirasie voorgehou het.
Henley het dié gedig naamlik geskryf terwyl hy in 1870 gehospitaliseer was vir bykans twee jaar na die amputasie van sy een been en die stryd om sy oorblywende been te probeer red. Hy het tuberkulose onder lede gehad. Verdermeer is dieselfde gedig deur die bomplanter van Oklahoma, Timothy McVeigh, voorgedra enkele minute voor sy teregstelling in 2001. Selfs Jeffery Archer kon nie die versoeking weerstaan om sy eie tronk-memoirs met ‘n aanhaling uit dié gedig as motto te publiseer nie.
Alhoewel politici al te gretig is om die digkuns by te sleep wanneer hulle indruk probeer maak, geld dieselfde gode sy dank nie vir die digters wanneer hulle oor politici dig nie. Ter illustrasie plaas ek vanoggend ‘n paar aanhalings onder aan die Nuuswekker vir jou leesplesier.
***
Dan is die vreugde vandag dat dit Hennie Aucamp se verjaarsdag is … Veels geluk, Hennie. Mag daar sommer nog heelwat skryfsels voortvloei uit daai kranige pen van jou! (En onthou ook om Hennie se nuwe verse te lees indien jy dit nog nie raakgesien het nie.)
***
Op die webblad is daar wonderlike nuwe inskrywings geplaas deur Carina Stander en Ilse van Staden, terwyl Melt Myburgh op sy blog begin het met ‘n reeks besprekings oor poësie-items tydens die komende Woordfees. (Onthou: die volledige program kan hier beskou word.)
Nog ‘n vreugde vanoggend is nuwe gedigte deur Cas Vos en Marlise Joubert. En dan het ons sommer ‘n hele klomp Afrikaanse gedigte in Engelse vertaling van Tony Ullyatt ontvang. Dié vertalings sal later vanoggend hier te lese wees. Digters wie se verse geplaas gaan word, is: Jeanne Goosen, Antjie Krog, George Weideman, Wilma Stockenström, Phil du Plessis, Wilhelm Knobel, Boerneef, Breyten Breytenbach, Rosa Keet, EWS Hammond en Gisela Weingartz.
Wat ‘n ryke oes! Lekker lees aan alles en hê pret vandag.
Mooi bly.
LE
“Rulers who neither see, nor feel, nor know,
But leech-like to their fainting country cling
Till they drop, blind in blood, without a blow.“
(Shelley, 1819)
“All I have is a voice
To undo the folded lie,
The romantic lie in the brain
Of the sensual man-in-the-street
And the lie of Authority
Whose buildings grope the sky”
(WH Auden, 1920)
“… How it takes the breath away, the piss, makes of your kiss a dropped pound coin,
makes of your promises latin, gibberish, feedback, static,
of your hair a wig, of your gait a plankwalk.
How it says this - politics - to your education education education; shouts this -
Politics! - to your health and wealth; how it roars, to your
conscience moral compass truth, POLITICS POLITICS POLITICS.”
(Carol Ann Duffy, 2009)
“A talented young chimpanzee
Was keen to appear on tv
He wrote to Brooke Bond
But they didn’t respond
So he had to become an MP.”
(Wendy Cope)
“I wanna be the leader
I wanna be the leader
Can I be the leader?
Can I? I can?
Promise? Promise?
Yippee, I’m the leader
I’m the leader
OK what shall we do?”
(Roger McGough)
Tags: Antjie Krog, Boerneef, Breyten Breytenbach, EWS Hammond, George Weideman, Gisela Weingartz, Jeanne Goosen, Phil du Plessis, Rosa Keet, Tony Ullyatt, Wilhelm Knobel, Wilma Stockenström Posted in Nuuswekker | Lewer kommentaar »
Add this post to Del.icio.us - Digg
Tuesday, January 19th, 2010
George Weideman – Vertaal deur Tony Ullyatt
It’s as if the flowers
It’s as if the flowers are crippled this year,
with unclear eyes; the plains dull and ashen-grey –
you must come in good time so that we can search
deep gullies for wild flax and wild roses.
It’s as if the sunbird and the rain bird are silent
as stones in the desert, and stones do not grow either –
you must come, as long as my heart is still warm
and my tears can still heal.
It’s as if the days fly by like migrant birds
after a summer that we no longer know –
you must come, because you can give me wings
so that we can flee together.
It’s as if night is getting darker, sweetheart
and the stars dwindle; the moon is aloof –
you must come as long as there is light, and time
– the almond tree is white with snow.
Sunday, August 30th, 2009
Lank, lank gelede was ek een aand teenwoordig by ‘n funksie aan die Universiteit van Pretoria, wat aangebied is na afloop van die oorhandiging van die pryse aan die studente wat in die jaarlikse skryfkompetisie as wenners in die drie hoofkategorieë aangewys is.
Nadat die toesprake afgehandel is, het ons gesellig om die tafels met vingerhappies verkeer en vir ons wyn en ander drinkgoed geskink. Tussen die studente, wat al hoe luidrugtiger geword het, was die gestaltes van ‘n hele paar skrywers sigbaar: H.J. Pieterse, wat kort-kort ‘n glasie hanepoot wegslaan. Pirow Bekker, iewers onder sy bont pet. Joan Hambidge, wat ‘n lesing oor die postmodernisme kom aanbied het, en wat ek bo die geroesemoes van stemme hoor lag. Alexander Strachan, wat oral hand gee, sy hemp onder sy lang, donker jas laag oor sy borshare oopgeknoop.
Tussendeur wens ons die wenners geluk en poseer vir De Kat se fotograaf.
En skielik, tussen al die ander deur, kom daar ‘n student na my toe en sy sê:
“U het na Fransi Phillips verwys toe u gepraat het van die skrywers wat aan hierdie universiteit gestudeer het. Waar is sy?”
“Hoe bedoel u?” vra ek.
“Waar kan ek haar in die hande kry?”
“Hoekom?”
“Sy is die enigste Afrikaanse skrywer wat ek lees, want sy glo aan unicorns.”
Toe soek ek om my rond, want Fransi was vroeër die aand onder die gaste wat geduldig geluister het. Loop ‘n slag heen en weer om te kyk of ek haar nie kan opspoor nie.
“Juffrou, sy was netnou nog hier,” sê ek en kyk weer rond, maar toe het sy al verdwyn.
En Melanie Grobler kom vertel aan my dat daar glo so baie kremetartbome in Afrika is omdat gestorwenes altyd met ‘n pit in die hand begrawe word.
Toe ek ’n paar dae later by Fransi die boek getiteld Magical beasts gaan haal het en haar van die student vertel, het sy lakonies opgemerk: “‘n Mens soek verniet na die eenhoring.”
Voor ek daar weg is, het sy my in ‘n ander boek ‘n kaart gewys waarop presies aangedui word waar drake in Europa voorgekom het.
Dit was juis Fransi Phillips wat my nog in ons studentedae daarvan bewus gemaak het dat daar ‘n plek is vir bespiegeling oor die fantastiese. Hoe ons ons in talle gesprekke daaroor uitgespreek het, kan ek net vaagweg onthou, en hoe meer ‘n mens oor die fantastiese nadink, hoe onsekerder is jy van wat die aard daarvan nou eintlik is.
Die spoor van die eenhoring loop reeds voor die begin van ons jaartelling deur Oosterse en Midde-Oosterse literatuur. Gedurende die Middeleeue het hy sy afdruk in boeke, op kunswerke en in die Christelike simboliek gelaat. Vroeë reisigers deur die Suid-Afrikaanse binneland het opnuut die spoor van oorlewering, gerugte en rotstekeninge opgeneem op soek na die dier waarvan die verband tussen teken en betekende steeds onseker was. Maar soos wat die landskap verder verken is, het die eenhoring telkens agter ‘n nuwe horison verdwyn. Hy maak egter ‘n onverwagse herverskyning in die streke van die Afrikaanse letterkunde van die laat-twintigste eeu in die werk van onder andere D.J. Opperman, N.P. van Wyk Louw, Jacques Loots, George Weideman, Barend J. Toerien, Wilma Stockenström, Johann Lodewyk Marais, Karel Prinsloo en Martjie Bosman. (Ek en Martjie het ‘n artikel oor hierdie gedigte geskryf.) Die vraag kan egter gestel word of die eietydse leser die eenhoring buite die bladsye van ‘n boek sal herken.
Tags: Afrikaanse letterkunde, Alexander Strachan, Barend J. Toerien, Christelike simboliek, DJ Opperman, Drake, Eenhoring, Fantastiese, Fransi Phillips, George Weideman, HJ Pieterse, Jacques Loots, Joan Hambidge, Johann Lodewyk Marais, Karel Prinsloo, Kremetartboom, Magical beasts, Martjie Bosman, Melanie Grobler, NP van Wyk Louw, Pirow Bekker, Postmodernisme, Rotstekeninge, Wilma Stockenström Posted in Johann Lodewyk Marais | Lewer kommentaar »
Add this post to Del.icio.us - Digg
Saturday, July 18th, 2009
Johann Lodewyk Marais
Met Wilhelm Knobel (1935–1974) het ek die eerste keer in koerantberigte oor die Sestigers kennis gemaak toe ek op hoërskool op Harrismith was. In daardie jare was skrywers op grond van hul teenkanting teen apartheid en sensuur baie in die nuus. Dink maar aan Breyten Breytenbach se toespraak in Februarie 1973 by die Sestigerkongres by die Somerskool van die Universiteit van Kaapstad, wat tot groot omstredenheid gelei het. Veral die nuwe, verligte Sondagkoerant, Rapport, het die leser op die hoogte van die woelinge gehou.
Tydens die Sestigerkongres is ’n foto van Breytenbach saam met Chris Barnard, John Miles, P.G. du Plessis, Lina Spies, Jan Rabie, Berta Smit, Hennie Aucamp, George Weideman en (byna eenkant) Wilhelm Knobel geneem. Op die foto het Knobel soos tewens byna al die ander mans ’n pak klere en ’n das aan en dra hy ’n sonbril. Dit was ’n era toe skrywers nog ’n “sense of occasion” moes gehad het. Breytenbach en Miles was die enigstes sonder das! Hierdie foto het lank my visuele beeld van Knobel bepaal.
In hierdie tyd, waarskynlik in 1973, het Knobel ’n keer in my klas ter sprake gekom. Die skoolhoof, mnr. Johan Steyl, ’n oud-Vrystaatse rugbyspeler, het met die st. 8-klas oor die vorige kwartaal se punte en ons vakkeuses kom praat. Met sy borselkop, staalblou oë en regop houding het Steyl gesag afgedwing en dissipline streng toegepas.
Steyl was sterk partydig vir wiskunde. Ter illustrasie het hy verwys na ’n leerling wat op Bethehem, die buurdorp waar hy elf jaar lank wiskundeonderwyser aan die Hoërskool Voortrekker was, hom gevra het waarom jy wiskunde op skool moet neem as jy nie in hierdie rigting gaan studeer nie. Steyl het nie van die vraag gehou nie, waarmee seker nie fout gevind kan word nie, en duidelik onvleiend verwys na een van die Sestigerskrywers en dié se foto wat onlangs in die koerant saam met dié van die ander Sestigers verskyn het. Die Sestigerskrywer waarna Steyl verwys het, was gewis Wilhelm Knobel.
Sestigerskrywers was in daardie jare omstrede, selfs op skool. In my Afrikaans-onderwyser, mnr. Cas Steenekamp, se klas was daar iets van ’n openlike stryd teen hierdie skrywers. Behalwe die berigte in die pers het die Broederbond agter die skerms ’n verbete stryd teen die invloed van die Sestigers gevoer, wat tot in die Afrikaans-klaskamer deurgewerk het. (Dit is ’n stuk geskiedenis waaroor ek nog uitvoeriger wil skryf.) Ek volstaan egter deur te sê dat Knobel ’n vae bekende was toe ek van sy onverwagse dood in Januarie 1974 gehoor het.
Die eerste bundel wat ek van Knobel besit het, het ek by die lank reeds vergete tak van Perskor in Andriesstraat in Pretoria gekoop. Dit was die Nagelate gedigte wat deur Knobel se jongste broer, Deon Knobel, versorg is en in 1976 deur Perskor gepubliseer is. Veral die biografiese inleiding tot die bundel het my belangstelling in hierdie skrander man geprikkel, terwyl die voorbeelde van sy handskrif my gefassineer het. (Die gedigte was ongelukkig nie op dieselfde peil as dié in die twee bundels wat tydens sy leeftyd verskyn het nie.) Uit die inleiding en die gedigte self kon ’n mens aflei dat Knobel ’n nogal moeilike lewe gehad het en dat veral sy laaste lewensjare nie maklik was nie.
As boorling van die Oos-Vrystaat het Knobel my nog altyd geboei, maar tot dusver is geen indringende aandag aan sy werk gegee nie. Selfs sy mede-Sestigers wat oor sy dood getreur en gesê het dat hy ’n betekenisvolle bydrae gelewer het, het min gedoen om sy lewe en werk aan ons bekend te maak nie.
Tags: Berta Smit, Bethlehem, Breyten Breytenbach, Cas Steenekamp, Chris Barnard, George Weideman, Harrismith, Hennie Aucamp, Jan Rabie, Johan Steyl, John Miles, Lina Spies, Nagelate gedigte, P.G. du Plessis, Perskor, Rapport, Sestigers, Wilhelm Knobel Posted in Johann Lodewyk Marais | Lewer kommentaar »
Add this post to Del.icio.us - Digg
|
|