Posts Tagged ‘George Weideman’

Gisela Ullyatt. Vir ’n pa.

Monday, June 2nd, 2014

 

Junie is die maand van pa’s; 15 Junie is Vadersdag. Jaar na jaar word egter dieselfde sotlikhede op winkelrakke en spesiale uitstallings opgestapel om die skuldige gewete aan te spreek: oorsoet sjokoladetjies en geroosterde neute, die ewige knipmes; wintersokkies. Tydskrifte adverteer glansgeskenke soos ’n peperduur biltongsnyer. Bekendes word glansend saam met pappa afgeneem en soetlike goedjies word gesê oor hulle volmaakte dad.

Maar as jou Junie begroting reeds klaaglik misluk het, kan jy natuurlik altyd ’n beker met ’n gedrukte flou grappie/cliché koop (hopelik nie tweedehands nie) en dit opvul met ’n pers Simba-pakkie grondbone-en-rosyntjie mengsel. Of dalk ’n bierbeker gaps by die Oktoberfest vir volgende jaar se Vatertag.

Hoe dit ook al sy: Junie is die maand van daddy. Die vaderfiguur is een van die bitterste beelde in die poësie. Verder is gedigte oor vaders een van die mees oorwoë temas in die digkuns: alle digters het ’n vader of ’n gebrek aan een.

Stanley Kunitz se “The portrait” (1985:296) getuig van die gebrek aan ’n vader-figuur; die gedig is geperforeer deur ’n disfunksionele familie-dinamika. Ironies genoeg dra die absolute fisiese afwesigheid van die pa daartoe by dat hy in elke ander aspek die lewens van sy gesin oorheers. Die ma, deurdrenk van woede, probeer alles om hom vir goed uit hulle lewens te verban, maar spoke laat hulleself nie verban nie. Die feit dat hy wel geleef het, kan dus nie ontken word nie:

 

My mother never forgave my father

for killing himself,

especially at such an awkward time

and in a public park,

that spring

when I was waiting to be born.

She locked his name

in her deepest cabinet

and would not let him out,

though I could hear him thumping.

When I came down from the attic

with the pastel portrait in my hand

of a long-lipped stranger

with a brave moustache

and deep brown level eyes,

she ripped it into shreds

without a single word

and slapped me hard.

In my sixty-fourth year

I can still feel my cheek

burning.

Disfunksie in die familie-eenheid word baie maal vereenselwig met die “sonde van die vaad’re”. R.D. Laing, ghoeroe in die anti-psigiatriese beweging, noem hierdie disfunksie wat oorspoel van generasie na generasie “the transgenerational transference of neuroses”. Die Amerikaanse digter, Charles Olson, som hierdie filosofie onomwonde op in sy gedig oor vaders en seuns:

 

and if I am his son, this man

is from as far a place and time

as yours is, carries with him

the strangeness you and I will carry

for our sons, and for like reason

Hierdie inter-generasionele verwondheid word veral in Johann de Lange se oeuvre aangespreek; bundels soos Snel grys fantoom (1986) en Die algebra van nood (2009) bevat roerende gedigte oor ’n meestal afwesige maar dwelmverslaafde vader. In “Pa” (2010:36) word die pa-figuur opgeroep in messelaar- en- cowboymetaforiek. Die Anne Sexton-motto omsluit die motief van vergifnis wat herhalend in die gedig “Maar ek vergewe jou” gebruik word. Die vyfde strofe staan veral uit vanweë die uitsigloosheid van die pa se dwelmhel juis omdat dit die verskriklike vervreemding en skeur tussen pa en seun  daarstel:

 

Ander aande het jy mandrax gedrink

& vroeg gaan slaap, moeg,

die woonstel onherbergsaam gemaak

met jou hortende asem. Die kroeg,

enklave waar jy kon ophou kwel,

het sy grys vergetelheid geskink.

In “Petidiendroom” (2010:119) wil die pa intimiteit tussen ouer en kind skep met ’n petidien-ampule, iets wat helaas godsonmoontlik is:

 

Ek loop my pa ná jare raak

& hy probeer weer vrede maak.

 

Hy gee vir my ’n smal ampule –

verdowing met ’n streng skedule,

 

& hoop dit sal ons nader bring

soos die naald intiem deur weefsel dring.

 

Ek soek koorsig na ’n plek om te gebruik,

maar orals vind ek oë, & plekke wat na oorskot ruik.

 

Die versugting na versoening, na heelmaak van die verskerfte en versplinterde pa-kind dinamiek word ook gesien in Lucas Malan (16) se “Versoening”:

 

Ag Pa, laat ons nou vrede maak;

jy raas so in jou kis,

jy skaaf so aan ’n kwas

wat lankal reeds vergete is […]

 

en jy’t jou hawer nooit gesaai nie –

net so min het ek miskien geword

wat Pa dalk wou, maar nietemin,

die saad is klaar gestort

 

Wyle George Weideman skryf ’n reeks gedigte oor sy pa onder die hoofopskrif “Homo Faber” (Uit hierdie grys verblyf:1987). Die subtitel – portret van ’n alchemis en sy werkplek” –  is veelseggend en sluit aan by homo faber wat losweg uit die Duits as ‘die mens as produsent’ vertaal kan word. Dit sou interessant wees om te weet of Weideman Max Frisch se roman, Homo Faber, as vertrekpunt geneem het. Weideman se “Homo Faber” is opgedeel in sewe gedigte: (wyding); (interieur); (transmutasie); (feniks); (konjunktief); (sublimasie), en (slot). Ongelukkig is daar nie spasie in hierdie blog om aandag aan elke afsonderlike titel te skenk nie; ’n aparte blog (of eintlik artikel) sal hieraan gewy kon word.

Wat egter duidelik as baken in hierdie gedigte dien, is die vader as skrynwerker of produsent (‘homo faber’), iemand wie se werkspasie ’n “heiligdom” (59) was waar teen “die mankolieke deur” die spreker hom verbeel die volgende woorde opgeplak is: “strictly private. moet asseblief nie steur/ nie. eintritt verboten”.  In (feniks) het die pa “’n duisternis apparaat” en begin die spreker reeds verval in sy pa opmerk: “al krommer /wordend, my monnik-pa aan’t vonke slaan” (62). Die pa se opgaarsels begin dien as simbole teen die ouderdom, verlies en eindelike dood (sublimasie)(64); dit dien ook as afbakening van persoonlike grense; isolasie:

 

wat vergaar kon word teen die ouderdom:

vragte onvoltooide take wat vreug

en frustrasie bring

 

En dan kulmineer die reeks verse in (slot) waar die pa triomfeer, vry word van die oorlaaide opgaarder “homo faber”, gepuur word tot pa-as-feniks en dan simbolies die vlinder in homself vrylaat (65):

 

uit die grys verblyf durf ’n feniks kom:

aanvanklik nog net ’n moontlikheid

daar rond […]  

dan word die lyf

ligweg tussen die vlerke ingeskuif

en vasgeheg. en florissant verskyn

pa, weliswaar gehawender, triomfantlik

uit die hoogoond. Hy laat die vlinder vry.

 

Olga Kirsch skryf ook ’n reeks gedigte oor haar vader, getiteld “Vyf sonnette aan my vader” (1972). Die vyfde sonnet vergestalt die Joodsheid van die pa soos gesien deur vroeë kinderherinneringe aan die sinagoge, God en gebedsjale (1990:375):

 

Toe ek nog klein was het ek aan jou sy

gestaan in die sinagoge en gevolg

terwyl jou vinger langs die letters gly

van woorde wat ek nog nie kon vertolk.

Die kantor hef sy stem op, yl en soet

wierook die lied omhoog. Rooi, geel en blou

slaan vlamme uit die ruit hom tegemoet –

sou die Voorsienigheid Sy guns weerhou

wanneer daar so gesmeek word? En jy vou

jou syige gebedsjaal weg en hou

jou arm om my en ek staan gedruk

vas teen jou knie en bewe van geluk.

Swaar stemme styg in stadige akkoorde –

Oomblikke veertig jare sonder woorde. 

 

Bernard Odendaal skets ’n menslike woordportret van sy pa in “Pa” (24); sy pa was “voorbanker in kerk en senaatsaal./ Ook ’n voorslag in die kooi,/met vyf voluit familievernoemde seuns”. Sy moeilike geaardheid word metafories baie geslaagd uitgedruk: “jy’t haaks gebou;/ontoeskietlik draad gespan;/jou hande lékker skurf”. Dié moeilike oubaas het dalk voor geen mens die knie gebuig nie, maar voor die Groot K het hy nie ’n keuse gehad nie:

 

tot jy in die kliniek moes wees

–       slaphandig, grootogig;

 voete watersugtig dik –

 maande lank moes kankercocktails drink.

 Rúikend na sweet en sere.

 Al minder besoek ontvangend.

 Later net woordeloos net lêend.

 

Betsie van Niekerk dra Ronkedoor aan haar pa op en in “Kruk” (13) aanvaar die spreker dat sy haar pa slegs kan bystaan, maar nie kan genees nie: “Geen elikser, Pa/of panasee/kan ek jou gee”. Uiteindelike verval van die geheue en liggaam vind plaas en word roerend uitgebeeld deur die skoenlose en tandelose pa. Hy het dus die ronkedoor van sy menslike trop geword:

 

Maar ontskoei en sonder tande

trap pa op gewyde grond

radeloos, onmagtig rond.

 

Joan Hambidge se oeuvre is deurspek van gedigte wat aan haar pa opgedra is en sy skryf só oor hierdie tendens in Dad (57), ’n bundel wat spesiaal oor haar pa geskryf is na sy dood:

 

“Reeds vanaf my debuut Hartskrif (1985) skryf ek oor my vader […] My vader as gespreksgenoot, as spieë, as iemand teen wie ek my kon meet. Op sy manier ’n man wat weens sy werk dikwels verplaas is – dit verklaar waarskynlik my obsessie met reis. As kind van die depressie het hy swaar groot geword en daar was dikwels bitterheid oor sy grootvader se hantering van sy vader Frank. Hulle is uit ’n plaas verneuk”.

 

Toevallig lees ek die deel (ook in Dad) waar Joan oor haar pa se familieverbintenis met Maggie Laubser skryf (Hannah Laubser, sy moeder, was Maggie se suster) op dieselfde dag toe ons ’n skilderytjie van Maggie Laubser laat waardeer. Dié waterverf is vergeel in sy broosheid (en brosheid) en is inderwaarheid ’n bladsy uit een van haar sketsboeke. Groot was ons verstomming toe die bladsy uit sy ewe brose raam gelig word en aan die agterkant ’n horde potloodsketse van katte gevind word!

Om dus aan te sluit by hierdie broosheid van die vergeelde Maggie Laubser, haal ek die volgende gedig, “Tien” (50) aan uit Dad, wat nie net in gesprek staan met die internet as interteks nie, maar ook met Maggie Laubser:

 

Die webruimte na jou weier

halsstarrig om oop te gaan.

Op elke soekruimte met google

staan ek voor dooiemansdeur:

www.vader.com is tans onbeskikbaar.

Elke soekenjin wys my af,

gooi my uit voor ’n grys skerm.

Laat ek nou met die deur

in die huis val: die huis van my vader

had soveel kamers.

In jou klein heiligdom

hang foto’s van jou as sportman,

’n kanon met ’n loodkoeël,

’n skildery (wat ons verpes) van die Sakekamer,

en  ’n beeld van ’n klei Bonsmara-bul.

’n Staalkabinet met papiere, agendas,

aktes en wat nog van die sekretaris

van vele komitees. Altyd tweede in bevel

’n Maggie Laubser-skets van jou as seun

wys jou weerloos op. ’n Groen brugtafel

vir Dinsdagaande, elke vierde week, by ons

staan langs ’n weggestoke drankkabinet met KWV.

En ek? Met besoeke slaap ek op die enkelbed

in die kamer waar jy alles opskryf, liasseer, behou.

Jou tweede kind, ’n andersoortige sekretaris,

soekend, wagtend dat die webruimte oopgaan. 

 

Bibliografie

De Lange, J. 2010. Judasoog. ’n Keur uit die gedigte van Johann de Lange. Kaapstad: Human & Rousseau.

Hambidge, J. 2006. Dad. Kaapstad: genugtig!

Malan, L. 1985. Tydspoor. Kaapstad: Tafelberg.

Odendaal. B. 2007. Onbedoelde land. Kaapstad: Tafelberg.

Olson, C. 1960. The distances. New York: Grove.

Opperman, D.J. (ed). 1990. Groot Verseboek. Kaapstad: Tafelberg.

Poulin, A. (ed). 1985. Contemporary American Poetry. Boston: Houghton Mifflin.

Van Niekerk. 1988. Ronkedoor. Kaapstad: Tafelberg.

Weideman, G. 1987. Uit hierdie grys verblyf. Kaapstad: Tafelberg.

 

 

 

Marni Viviers. Ruimte, identiteit en representasie in George Weideman se ‘n Staning onder sterre (1997)

Thursday, July 21st, 2011

Ruimte, identiteit en representasie in George Weideman se ‘n Staning onder sterre (1997)

 Marni Viviers

Bron van hierdie artikel, met vergunning: Stilet, nr 22(1), Maart 2010, p.62-80

ABSTRACT

George Weideman was raised in the Northwestern Cape. This region, of which the borders are not clearly defined, can be described as the largest part of the Northern Cape, south of the Orange River. Weideman’s description of this area is tinted by his personal connection with it. Although references to the Northwestern Cape can be found in many of Weideman’s literary texts, this article will only deal with Weideman’s ‘n Staning onder sterre (1997) – a text which is widely regarded as Weideman’s best volume of poetry. In this article I will illustrate that Weideman provides the reader with a very subjective depiction of the Northwestern Cape, a depiction distinctly coloured by his own identity. Rather than a ‘real’ geographical space the reader finds an ‘atopia’ that only exists in the mind of the poet and is activated by memories and the imagination. There will be focus on the poem “Homo africanus” in the section titled “Variasies: tussen son en sand“, where the question of depiction and identity especially comes to the forefront as Weideman responds to William Scully’s depiction of the Northwestern Cape in Between Sun and Sand: A Tale of an African Desert, as well as American photographer Roger Ballen’s photos of Afrikaner poor whites.

1. Inleiding

George Weideman het grootgeword in die streek wat bekend staan as die Noordweste. Hierdie gebied is “vaag omlyn” (Odendal & Gouws, 2005) en kan omskryf word as die grootste gedeelte van die Noord-Kaap, suid van die Oranjerivier, asook die noordwestelike dele van die Wes-Kaap. Weideman (2007) self reken dat die “nuwe” Noord-Kaap grotendeels die gebied van die “ou Noordweste” dek. Hoewel bronne soos Perspektief en profiel (Van Coller & Odendaal, 1999:764-785) die woord “Noordwestelik(e)” aanwend wanneer daar na die Noordweste as streek verwys word in die bespreking van Weideman se werk, verkies Weideman (2007) self die byvoeglike naamwoord “Noordwesters(e)”. Hy verklaar hierdie voorkeur aan die hand van die feit dat die term “Noordwestelik” “suiwer geografies of taaldemografies” is, terwyl “Noordwesters” in ‘n mate geografies is, maar ook ‘n “sterk gevoelsmatige betekenis” het.

In die talle onderhoude, artikels en resensies wat George Weideman en sy werk as onderwerp het, kom sy verbintenis met die Noordweste na vore – volgens ‘n onderhoud wat oorspronklik in Beeld (Nieuwoudt, 1999) verskyn, “dwing” ‘n gesprek met Weideman “deurentyd terug na sy jeugjare en sy hartland, die Noord-Kaap en Namibië”. In “George Weideman (1947­-): ‘n Profiel”, ‘n artikel wat deel uitmaak van ‘n spesiale uitgawe van Ensovoort gewy aan dié outeur, wys Marais (2007:6) daarop dat “‘n aantal onderhoude met die skrywer […] ‘n beter begrip [verleen] van hoe sy kinder- en jeugjare in veral die droë dele van die land, en sy aangetrokkenheid tot hierdie landskappe en hulle mense” in sy werk neerslag vind. Hierdie droë ruimtes, met spesifieke verwysing na die Noordweste, figureer dan ook in vele van die tekste wat hy oor meer as veertig jaar publiseer het.

Weideman se eerste twee digbundels, Hondegaloppie (1966) en As die son kliplangs spring (1969), word deur kritici gelees as verse wat ‘n volkse element bevat, kontreikuns waarin Weideman se liefde vir die Noordweste sterk na vore kom (vergelyk onder meer Marais, 2007:16, en Kannemeyer, 2005:410, asook Van Coller en Odendaal, 1999:767). Dit word egter algemeen aanvaar dat daar sedert sy eerste digbundels heelwat progressie in Weideman se werk plaasgevind het. Hoewel ‘n Staning onder sterre (1997) óók ‘n “sintuiglike bemoeienis met Weideman se jeugwêreld en -herinneringe” toon, getuig dit van “tematiese en ruimtelike verruiming”, meen Marais (2007:17). Dit is my argument dat dié verruiming tot gevolg het dat die leser van ‘n Staning onder sterre eerder te make kry met ‘n representasie wat duidelik gekleur is deur die identiteit van die digter-spreker, as met ‘n objektiewe voorstelling van ‘n geografiese gebied (vir sover ‘n representasie ooit objektief kan wees).

Uiteraard kan daar nie veronderstel word dat die “jeugwêreld en -herinneringe” (Marais, 2007:17) wat in die gedigte aangebied word, eksakte voorstellings is van gebeure wat Weideman ervaar het nie. Die teks bestaan uit poësie wat grotendeels gemoeid is met ‘n bepaalde wêrelddeel – nêrens op die voor- of agterblad word aangedui dat die bundel outobiografiese vertellinge bevat nie. Daar kan dus aanvaar word dat die digter George Weideman en die spreker in die gedigte nie een en dieselfde is nie. Soos Whitebrook (2001:10) in Identity, Narrative and Politics aandui, is die narratiewe identiteit egter terselfdertyd subjektief en intersubjektief. Aangesien Weideman hierdie poëtiese narratief oor sy jeugwêreld konstrueer, is daar oorvleuelings tussen die stem van die digter George Weideman en die stem van die spreker in die gedigte. Om hierdie rede, asóók die feit dat kwessies van representasie en identiteit so vooropgestel word in die gedigte, sal die term ‘digter-spreker’ in die artikel ingespan word as daar na die narratiewe identiteit verwys word.

Hierdie artikel het spesifiek ten doel om aan te dui dat die Noordwesterse ruimte wat voorgestel word in George Weideman se digbundel ‘n Staning onder sterre (1997), nie noodwendig ‘n vaste plek is nie, maar, soos die programgedig van dié bundel te kenne gee, ‘n atopiese “ongekaart[e]” ruimte van die gees is, ‘n “toevlugsoord”: / ‘n land van elders, waar / suid vervloei in noord”. Die kwessie van representasie staan dus sentraal, aangesien dit wil voorkom asof die wyse waarop die Noordweste voorgestel word, hier meer te make het met die wese en herkoms van die voorsteller (Weideman as digter-spreker) as met die aard van die voorgestelde (die Noordweste).

In hierdie bespreking sal daar in die besonder gefokus word op die gedig “Homo africanus” (Weideman, 1997:74¹), wat deel uitmaak van die belangrike afdeling “Variasies: tussen son en sand” (67-87), aangesien die kwessie van ruimte, identiteit en representasie veral vooropgestel word in hierdie gedig.

2. Die voorsteller: biografiese agtergrond van George Weideman

George Henry Weideman debuteer in 1966 op agtienjarige leeftyd. In “Kruistog: ‘n Agternawoord oor my verhouding met die poësie”, ‘n essay wat deel uitmaak van die versamelbundel Pella lê ‘n kruistog vêr, gee Weideman (1998:114) te kenne dat hy ‘n groot deel van sy jeug in verskillende Noordwesterse dorpe deurgebring het, aangesien sy ouers baie rondgetrek het. Oor sy persoonlike verbintenis met hierdie streek sê hy in ‘n ander artikel (Weideman, 1980:70):

Die Boesmanland en Namakwaland ís my grootmaak­ouers, aangenaaide lap ofte nie, húlle kan ek nie vergeet nie. Hulle kom in outydse wysies na ‘n mens toe terug, in liedjies van die aarde.

Weideman (1980:70) gee hier ook spesifiek te kenne dat hy as skrywer voel dit is belangrik om oor die wêreld te skryf waar hy vandaan kom, aangesien hy “glo dat die skrywer se eerlikste woord in ‘n besondere verhouding staan tot die gemeenskap waaruit hy kom of waarmee hy identifiseer”. In “Kruistog” meld hy dat dit dikwels sy herinneringe is, en veral ook herinneringe aan “landskappe, en diere en mense binne daardie landskappe”, wat as bron van inspirasie vir hom as digter dien (Weideman, 1998:115).

Weideman het verskeie kreatiewe voorgangerfigure uit hierdie gebied gehad. Hy gee te kenne dat sy familie daarvan gehou het om interessante mense om hulle te versamel en dat hulle ‘n sterk “skeppingsdrang” gehad het (Weideman, 1998:115). Weideman se vader, wat volgens hom “‘n verwondering had oor die seggingskrag van Noordweste-Afrikaans”, het meer as 200 volksliedere in dié geweste opgeteken (Weideman, 1998:113), terwyl hy onderwyser, skrynwerker, goël­kunstenaar, drama­turg en boer in die Noordweste en omgewing was (Nieuwoudt, 1999). Sy moeder, wat afkomstig was uit “die Grootrivierse kontrei”, se familie was groot storievertellers (Nieuwoudt, 1999). Gedigte oor sy moeder en vader word in die laaste afdeling (“Elegiese variasies”, 90-98) van ‘n Staning onder sterre aangetref. Hier vind die leser ook die gedig “Selfgemaak” (91), waarin die ewig-kreatiewe vader reeds drie jaar voor sy dood sy doodskis maak. Weideman se grootmoeder aan moederskant, Ouma Baai, is ook ‘n voor­gangerfiguur aan wie daar ‘n hele afdeling gewy word. In dié afdeling, getiteld “Ouma Baai” (9-17), kom daar opvallende ooreen­komste na vore tussen Weideman se verbeeldingryke, kreatiewe perspektief as digter en Ouma Baai se vermoë om altyd die buitengewone in die gewone raak te sien – ‘n eienskap wat Weideman as ‘n soort “saligheid” beskryf in die gedig “Ouma Baai se streep” (16).

Nog so ‘n kreatiewe voorgangerfiguur met wie Weideman reeds in sy kinderjare kennis gemaak het, is Boerneef. Weideman het as dertienjarige die poësie van Boerneef – wat ook uit ‘n droë wêreld afkomstig is – ontdek. Oor die taalgebruik in Boerneef se werk sê Weideman: “Ek kon my kontrei se mense hóór praat” (Weideman, 1998:113). Streektaal is, soos in die geval van Boerneef se tekste, ‘n belangrike kenmerk van Weideman se werk en verleen dikwels ‘n volkse element aan sy gedigte. In ‘n onderhoud oor die roman Draaijakkals vra Hough (1999) waar dié taal vandaan kom. Weideman se antwoord is die volgende:

Dit is woorde en uitdrukkings wat ek van kindsbeen af onthou. Ek het grootgeword by ouers wat dié soort taal gebruik het. Dit was hul spreektaal. Ek onthou dat daar altyd drama in ons kombuis was en dat mense baie gepraat het.

Weideman bely sy “skatpligtigheid” teenoor Boerneef (Kannemeyer, 1997) in ‘n Staning onder sterre met die motto voorin die bundel. In hierdie Boerneef-vers kom die geografiese pleknaam “Boesmanland” voor, wat as rigtingwyser vir die leser dien aangaande die ruimte wat hy/sy in dié bundel sal aantref.

In ‘n onderhoud blyk die groot invloed wat die Noordweste op Weideman se kreatiwiteit gehad het weer duidelik as hy die “verskillende fasette van sy skrywer- en digterwees” (Nieuwoudt, 1999) beskryf:

Die prosaskrywer is die kind wat destyds gesit en tande tel het tussen die grootmense. Die digter is die kind wat weggehardloop het toe hy saam met sy pa goëltoertjies gedoen en sy snor afgeval het.

Uit talle van die dinge wat Weideman oor homself sê en skryf, blyk dit dat Weideman se kinderjare, sy geliefdes, sy digterlike voorgangerfiguur (Boerneef) en sy kreatiwiteit verband hou met die Noordweste. Hierdie aspekte vorm myns insiens almal aspekte van sy identiteit, terwyl dié Noordwesterse identiteit weer sy representasie van hierdie geweste in sy literêre tekste beïnvloed.

3. Teoretiese agtergrond

Wanneer navorsing oor die konsep ‘ruimte’ gedoen word, blyk dit dat daar uitgebreid oor die onderwerp geskryf is in meer as een vakrigting. Navorsers van verskeie velde is dit eens dat ruimte verskillende dimensies het – volgens letterkundige studies (vergelyk byvoorbeeld Van Gorp et al, 1998:391; Venter, 1992:453-458; Brink, 1989:118) is ruimte in die literatuur nie net die agtergrond tot die narratief nie, maar kan dit vele funksies hê. In uiteenlopende studies kom dit ook na vore dat ruimte veral twee dimensies het: ‘n konkrete, dikwels geografiese dimensie, sowel as ‘n abstrakte, simboliese of allegoriese dimensie. Eersgenoemde besit ‘n sterker objektiewe element en laasgenoemde ‘n sterker subjektiewe element.

Raes (2000) gebruik nuttige terme om hierdie twee vorme van ruimte te omskryf, naamlik ‘geografiese ruimte’ en ‘ruimte van die landskap’. In sy artikel bespreek hy die werk van die Duitser Erwin Straus (wat hierdie konsepte vanuit ‘n psigologiese hoek ondersoek het) en definieer hy landskap daarvolgens as “omgeven […] door een horizon”, ‘n grens of “einder” wat saam met ons verplaas soos ons (en spesifiek ons blik) beweeg. Die geografiese ruimte is egter ‘n geslote, begrensde ruimte met geen horison nie. Hoewel dit ook op waarneming berus (aldus Raes), beweeg dit nie saam met die subjek nie, maar bestaan dit as ‘n vaste afgebakende ruimte (Raes, 2000:319).

Raes (2000:326) dui aan dat die onderskeid tussen gewaarwording en waarneming sentraal staan met betrekking tot die onderskeid tussen die ruimte van die landskap en die geografiese ruimte. Die ruimte van die landskap is naamlik verbonde aan gewaarwording en die geografiese ruimte aan waar­neming. Die verskil tussen gewaarwording en waarneming omskryf hy aan die hand van die feit dat die geografiese ruimte deur die menslike oog geobjektiveer en so represent­eerbaar en kommunikeerbaar word. Die ruimte van die landskap, daarteenoor, is die ruimte van die onmiddellike, poëtiese belewing van die waarneem­bare werklik­heid. Hoewel hy dus onderskei tussen die ruimte van die landskap en geografiese ruimte², is dit tog opmerklik dat beide geaktiveer of opgeroep word via menslike persepsie, wat dui op die aanwesigheid van ‘n subjektiewe element in die voorstelling of ervaring van beide weergawes van ruimte.

Wanneer hierdie twee tipes ruimte in tekste opgeroep word, word daar in die geval van geografiese ruimte dikwels van naamgewing en kaarttekening gebruik gemaak (Viljoen, 1998:77). Daarteenoor word die ruimte van die landskap deur die verbeelding en geheue opgeroep. Die oorsprong van die woord ‘landskap’ dui op die verband tussen die verbeelding en die ruimte van die landskap. Schama (1996:10) gee te kenne dat die term ‘landscape’ in Engels (net soos die Germaanse wortel daarvan – landschaft), die betekenis gekry het van “a unit of human occupation, indeed jurisdiction, as much as anything that might be a pleasing object of depiction”. Dit gee landskap ‘n geïdealiseerde dimensie – dit is iets wat meestal op die een of ander wyse geëstetiseer word. Soos Hirsch en O’ Hanlon (1995:2-3) te kenne gee, is landskapuitbeeldings dikwels ‘n ontmoeting van ‘n geïdealiseerde weergawe en die reële weergawe: “[t]here is a relationship here between an ordinary, workaday life and an ideal, imagined existence, vaguely connected to, but still separate from, that of the everyday”. Hiermee kan die kwessie van geheue ook in verband gebring word, aangesien die ruimtes wat deur die geheue opgeroep word, dikwels geïdealiseerd is, byvoorbeeld die ruimte waarin jy jou kinderjare deurgebring het of ‘n ruimte waar jy baie gelukkig was. Die ruimte van die geheue is dus gewoonlik ‘n ruimte van die landskap – ‘n punt wat sentraal staan in Schama (1996) se omvattende studie, Landscape and Memory.

Die verband tussen verbeelding en herinnering met landskap dui ook op die verbintenis tussen identiteit en landskap (of dan die ruimte van die landskap). Die verbeelding en die geheue speel naamlik ‘n belangrike rol tydens identiteitsvorming, aangesien die konseptualisasie van die ‘ek’ gewoonlik die vorm van ‘n narratief aanneem (Whitebrook, 2001:9) wat uiteraard geskep word met behulp van die verbeelding en herinneringe. Volgens Simon (2004:10) het alle individue as ‘t ware ‘n behoefte daaraan om ‘n narratief oor hulle identiteit te skep en dié ‘verhaal’ kan in die geval van die literatuur die vorm van ‘n tekstuele narratief aanneem. Whitebrook (2001:10) skryf die volgende oor die narratiewe identiteit (dus die ‘ek’ in die verhaal wat ons oor onsself skep):

There is a distinction to be made between self-identity as perceived and indeed constituted by, narrated by, the self and identity in a more general sense, including the perception by others of that which makes the self recognizable to self and to those others. Narrative identity is then at once subjective and intersubjective[.]

Hoe ons onsself beskou en beskryf en hoe ander ons beskou en beskryf, is dus nie dieselfde nie, maar vorm verskillende fasette van ons identiteit. Dieselfde kan gesê word oor die narratiewe identiteit in tekste met ‘n outobiografiese inslag soos ‘n Staning onder sterre, dit bestaan uit verskillende fasette en is terselfdertyd die digter (of skrywer) en die spreker (of verteller).

Aangesien sowel ruimtebeelding as identiteitsvorming dus geknoop word aan verbeelding en die geheue, kan die verband tussen ruimte (en spesifiek ruimte van die landskap) en identiteit dus ook afgelei word. Viljoen et al (2004:12) gee te kenne dat die verhouding tussen ruimte en identiteit simbioties van aard is: “The very spaces we occupy form our identities, and these identities determine our perceptions and representations of those spaces and varying spatial experience”. Soos reeds aangedui, is hierdie tendens dan ook veral sigbaar in tekste waar George Weideman sy hartland, die Noordweste, skets. Fokkema (2003:9) wys ook op die wisselwerking tussen ruimte en identiteit in die voorwoord van ‘n bespreking oor die verband tussen “identiteit en locatie” in die hedendaagse literatuur. Sy gee te kenne dat ‘n identiteit in wisselwerking met ‘n ruimte ontwikkel. ‘n Ruimte kry weer ‘n funksie na aanleiding van die betekenis wat dit vir ‘n identiteit inhou. Sy wys verder daarop dat as die verhouding tussen ruimte en identiteit ter sprake kom, dit nie noodwendig om ‘n geografiese ruimte gaan nie, maar dat dit dikwels om “een intellectuele positie of een metafysische ruimte, een imaginaire plaats of zelfs een niet-plek of ‘atopie'” mag gaan (Fokkema, 2003:11).

Volgens Houppermans (2003:135) kan die begrip “utopie” etimologies teruggevoer word na die term “ou-topie” wat ‘geen plek’ beteken. Dié woord hou egter ook die betekenis in van ‘n ideale of paradyslike ruimte. Daarteenoor staan die begrip “distopie”, wat ‘n binêre opposisie met die begrip “utopie” vorm (Houppermans, 2003:137) – dus ‘n tipe hel, ‘n nagmerrie-agtige ruimte. Opvallend hier is ‘n subjektiewe dimensie verbonde aan hierdie twee opponerende terme, aangesien hemel en hel relatiewe begrippe is: wat een persoon se “utopie” is, is ‘n ander se “distopie” en andersom. Houppermans (2003:143) dui verder aan dat daar in party tekste ruimtes aangetref word waarin daar nie “strikt duale patronen” te onderskei is nie, maar eerder ‘n vermenging van die positiewe (utopiese) en die negatiewe (distopiese). Hy stel voor dat hierdie ruimte(s), wat hy ‘n “utopie-distopie” noem, eerder ‘n “atopie” genoem moet word en omskryf dié term as wiskundig van aard, gebruik om “onbeslisbare verzamelingen” aan te dui (Houppermans, 2003:143).

Na ‘n vergelyking van Houppermans (2003:143) se verklaring van die term “atopie” en die definisie van die “ruimte van die landskap” soos verskaf deur Raes (2000), blyk dié twee begrippe myns insiens ‘n soortgelyke betekenis te hê. Beide dui naamlik op ‘n ruimte wat nie vaspenbaar is nie; wat ‘n element van die utopiese bevat, maar ook van die reële (of geografiese) en selfs die distopiese; ‘n ruimte wat onlosmaaklik verbind is aan persepsie, aan subjektiwiteit en uiteindelik dus aan identiteit.

Wanneer die voorstelling van die Noordwesterse ruimte in ‘n Staning onder sterre ondersoek word, blyk dit duidelik ‘n ruimte van die landskap te wees. Die ‘atopiese’ eienskappe van hierdie Noordwesterse ruimte word in die volgende afdeling uiteengesit.

4. Die voorstelling van die Noordwesterse ruimte in ‘n Staning onder sterre

Die programgedig van ‘n Staning onder sterre het die titel “Die wispelturige uur”. In “Kruistog” gee Weideman (1998:115) te kenne dat hy na die “wonderbaarlike skeppingsoomblik” wat tydens sy kreatiewe proses plaasvind, verwys as die “die uur van wispelturigheid”. Met hierdie inligting in gedagte, kan dus reeds uit die titel van die programgedig afgelei word dat dié gedig metapoëties van aard is. Die feit dat Weideman spesifiek die term wat hy gebruik om sy kreatiewe proses te tipeer, inspan as titel van hierdie metapoëtiese gedig, bring ook die kwessie van identiteit na vore. Iets van die digter, George Weideman, se skeppingsfilosofie kom dus in die eerste gedig van die bundel aan bod.

Weideman koppel die skeppingsmoment nie net aan tyd soos die titel van die programgedig te kenne gee nie, maar ook aan ruimte. In die tweede strofe beskryf hy die ‘skeppingsruimte’ as ‘n verbeeldingsruimte: “Iewers tussen eilande, ongekaart, / dryf skemerig dié toevlugsoord: / ‘n land van elders, waar / suid vervloei in noord”. Die feit dat hierdie ruimte nie-reëel van aard is, kom weer in die laaste strofe na vore: “In dié domein is jy die werklikheid, / goddank, saam met al jou varkies kwyt.” Hierdie domein blyk dus ‘n “atopie” te wees soos Houppermans (2003:144) dit definieer – dit is ‘n “wonderbaarlike” (Weideman, 1998:115) ruimte, maar ook ‘n ruimte waar die digter/kunstenaar van sy sinne beroof kan raak. ‘n Utopie én ‘n distopie dus, en spesifiek ‘n nie-plek wat nie as reële geografiese ruimte bestaan nie, maar wat ‘n geïdealiseerde alternatief vir die reële ruimte bied.

In die afdeling “Variasies: tussen son en sand” word die gedig “Die wispelturige land” (79) aangetref, waarin die ekstreme weersomstandighede van die Noordweste, asook die afwisselende teleurstelling en hoop van die inwoners van dié gebied, veral na vore kom. Deur middel van dié twee gedigte se titels word daar dus ‘n verband gelê tussen die skeppingsruimte van die programgedig en die Noordweste, Weideman se jeugwêreld. Hierdie verband dui daarop dat die leser nie (net) met die geografiese streek bekend as die Noordweste in dié bundel te make kry nie, maar eerder met Weideman se Noordweste, ‘n ruimte van die landskap wat op subjektiewe wyse opgeroep word en, soos Weideman (1980:70) self te kenne gee, ten nouste verband hou met sy identiteit en spesifiek sy kreatiewe identiteit.

Die titel “Verbeelde paradys” (5-8) van die eerste afdeling in die bundel gee ook te kenne gee dat die leser hier te make het met ‘n nie-reële ruimte, aangesien dit ‘n nie-werklike (“verbeelde”) paradys of utopie is. In “Skepping” (5), die eerste gedig in hierdie afdeling, word die metafoor van die ‘verbeelde paradys’ ook aangetref. In die laaste strofe van “Skepping” word daar te kenne gegee dat die skeppingsproses lafenis bied aan die skepper: “Geduldig is papier: soutlek waar jy, misdeeld, / tekorte aanvul en jou telkens ‘n paradys verbeel.” Die verbeelde paradys waaraan daar op papier gestalte gegee word, is dus ‘n tipe ontsnappingsoord vir die skepper. In nog ‘n gedig in hierdie afdeling word die utopie- of paradystema herhaal. In “‘n Stukkie Eden” (7) word daar ook lafenis gevind in ‘n utopiese ruimte wat hierdie keer eksplisiet as die Noordweste voorgestel word. Die “stukkie Eden” blyk ‘n ruimte te wees waar die mens nog rustig in die natuur kan voortbestaan: “waar klip op klip nog asem hou / dat Adam omdraai op sy ander sy”. Geografiese merkers (vergelyk “Boesmanland”, “Richtersveld” en “Grootrivier”, 7) lei die leser om hierdie ruimte as die Noordweste te identifiseer. So word daar dus in dié afdeling ‘n duidelike verband gelê tussen enersyds die op-papier-verbeelde paradys of skeppingsruimte van die skepper/digter, en andersyds die Noordweste, as bestaande geografiese ruimte en heimat van George Weideman. Hierdie verband het tot gevolg dat die leser die Noordweste wat in die digbundel voorgestel word nie eien as die reële Noordweste nie, maar eerder as ‘n ruimte van die landskap gesetel in die verbeeldingswêreld van George Weideman.

Die derde afdeling van die digbundel handel oor Weideman se “Ouma Baai” (10-17) en sluit aan by die laaste afdeling van die bundel wat bekend staan as “Elegiese variasies” (91). Laasgenoemde het die afsterwe van die digter se ouers as onderwerp. Albei afdelings het oënskynlik ‘n outobiografiese inslag. Soos die laaste afdeling, bevat “Ouma Baai” ook ‘n elegiese gedig, getiteld “Ouma Baai se begrafnis” (17), wat handel oor haar afsterwe. Die laaste gedig in die bundel, “Besoek” (93), skets oënskynlik die laaste jare van die digter-spreker se ma waar sy in ‘n inrigting vir persone met Alzheimer-verwante siektes woon. Dit wil voorkom asof sy haar nou permanent in ‘n chaotiese, emosionele ruimte bevind waar tyd, rigting en plek deurmekaar vloei. Dié chaotiese ruimte toon dus ooreenkomste met die skeppingsruimte wat in die programgedig voorgestel word – in albei vervloei tyd en plek sodat ‘n persoon nie meer tussen die reële en die nie-reële kan onderskei nie (1).

Dit is verder opvallend dat die ruimte wat in laasgenoemde gedig geskets word, nie meer êrens in die Noordweste is nie, maar wel Valsbaai. Ma en digter bevind hulle dus nie meer in hulle kontrei nie. Soos die naam van hierdie ander ruimte aandui, is dit nie meer hulle egte heimat nie, maar ‘n kunsmatige of “valse” tuiste. In dié gedigte word nie net die afsterwe van die ouers en grootmoeder betreur nie, maar ook die einde van ‘n era. Die digter se verwydering van die ruimte wat hy as kind bewoon en sterk met die ouerfigure verbind het, word gesuggereer. Die laaste afdeling maak die leser bewus van die nostalgie van die bundel – dit is ‘n treurige terugblik op ‘n tyd en plek wat so onherroeplik verby is dat dit nog net in die verbeelding en in herinneringe bestaan. Weereens kan die ruimte wat in hierdie bundel geskets word dus as ‘n atopie beskryf word: dit is nie-reëel en bied sowel troos aan die digter-spreker as treurige herinneringe aan vervloë tye.

5. “Variasies: tussen son en sand”

Die afdeling “Variasies: tussen son en sand” (67-87) word deur Van Coller en Odendaal (1999:773) beskryf as ‘n “sentrale reeks in sy [Weideman se – MV] oeuvre” waarin hy “sy deurleefde kennis aangaande die eiesoortighede, maar ook algemeen-geldighede van dié wêrelddeel en sy mense onderhoudend en meestal besonder treffend deur […] gee”. Soos hieruit afgelei kan word, staan die Noordwesterse ruimte én Weideman se subjektiewe ervaring daarvan, sentraal in dié afdeling.

Die onderskrif van die afdeling lui soos volg: “n.a.v. William Charles Scully: Between Sun and Sand: a Tale of an African Desert (s.j.)”. Die gedigte in hierdie afdeling begin telkens met ‘n aanhaling uit Scully se teks Between Sun and Sand. Dit word gevolg deur Weideman se gedigte waarin hy kommentaar lewer op Scully se voorstelling van die Noordwesterse ruimte en inwoners. Van Vuuren (1999:256-257) beskryf “Variasies: tussen son en sand” gevolglik as “‘n reeks satiriese gedigte oor die skeefgetrekte waarneming van die boermense van ‘sy [Weideman se – MV] kontrei’ deur die Skot William Scully”.

Volgens Van Vuuren (1997) het W.C. Scully op twaalfjarige ouderdom saam met sy familie na Suid-Afrika geëmigreer. Nadat hy ‘n diamantdelwer by Kimberley was, ‘n goud­prospekteerder by Pelgrimsrus en ‘n ekspedisielid na Delagoabaai, word hy ‘n staats­amptenaar. In 1892 word hy aangestel as siviele kommissaris van Namakwaland. Hy baseer Between Sun and Sand: A Tale of an African Desert op sy ervarings in Namakwaland.

Between Sun and Sand: A Tale of an African Desert vorm dus ‘n belangrike intertekstuele grondslag vir die afdeling “Variasies: tussen son en sand”. By nadere bestudering van Scully se teks blyk dit dat dit nie nét uit beskrywings van die Noordwesterse omgewing en sy inwoners bestaan nie, maar dat die beskrywings toegespits is op ‘n sentrale verhaallyn. In die teks word ‘n eksterne verteller benut en dit handel oor ‘n verbode liefdesverhouding tussen twee inwoners van die Boesmanlandse dorpie Namies. ‘n Jood genaamd Max Steinmetz, wat by sy broer, Nathan Steinmetz, die algemene handelaar in Namies werk, raak verlief op “Susannah”, die “grandniece” van die “Trek-Boer”, “Old Schalk Hattingh”. Schalk Hattingh is ‘n leiersfiguur onder die trekboere. Hy, soos die ander trekboere, word as agterlik en onbetroubaar voorgestel. Susannah blyk hier ‘n uitsondering te wees, maar Scully verklaar dit aan die hand van die feit dat daar “some mystery in connection with her parentage” is (Scully, s.a.:24).

Aan die einde van die verhaal oorkom Max en Susannah verskeie struikelblokke om te trou en saam ‘n nuwe lewe weg van Namies af te begin. Daar is die suggestie dat Max van plan is om sy vrou te oorreed om haar “beloved” (Scully, s.a.:236) Boesmanland te verlaat vir Engeland. Dit blyk dus dat die protagonis (Max) en sy geliefde se ‘paradys’ nie binne die grense van die Noordweste lê nie, maar in Engeland.

Soos Van Vuuren (1999:256-257) in Perspektief en profiel aandui, reageer Weideman op Scully se “skeefgetrekte waarneming” van dié omgewing en inwoners. Die kwessie van die representasie (Weideman sowel as Scully se representasie) kom dus veral in hierdie afdeling aan bod – in die gedig “William Scully” (85) kritiseer die digter-spreker Scully byvoorbeeld oor sy voorstelling(s) van die inwoners van die Noordweste. Die digter-spreker vra Scully: “Wat is dit / wat jou met soveel hovaardy, soveel ysigheid / laat skryf? Het dit jou opgeval hoe dié / wat jy bekyk asof hul parias / is, hul laaste bietjie bokmelk bied?” Die digter-spreker beskou Scully se representasie van dié groep mense dus as verkleinerend en subjektief – Scully ignoreer hulle goedhartigheid en konsentreer net op hul eenvoud, hulle ‘agterlikheid’. Die feit dat dit hier om representasie gaan, kan verklaar waarom Weideman net aanhaal uit die eerste vyf bladsye van Scully se eerste hoofstuk, getiteld “The Land of the Trek-Boer”, waar daar algemene beskrywings van die omgewing en inwoners van hierdie gebied gegee word wat klaarblyklik vir die leser as agtergrond moet dien tot die verhaal wat volg³.

Hoewel daar in Between Sun and Sand dikwels na die “Trek-Boer” (Scully, s.a.:72, 74, 75, 79, 82, 87) verwys word, blyk dit dat dit nie noodwendig hier om die oorspronklike trekpioniers gaan wat uit die Kaapkolonie na die Noordweste getrek het nie. Hierdie term verwys eerder na die algemene boeregemeenskap van dié streek wat by tye ‘n nomadiese bestaan gevoer het. Dit wil egter voorkom asof Weideman die betekenis van hierdie term in dié afdeling selfs verder verruim – in “Kruistog” gee hy te kenne dat hy hom in ‘n Staning onder sterre deur sy “gesprek” met Scully rig “tot diegene wat die Afrikaner minag” (Weideman, 1998:117). Laasgenoemde verklaar hy aan die hand daarvan dat dit die digter se plig is om nie polities korrek te wees nie, maar dat die digter “téén die kruisvaart” in moet gaan. Die digter moet die heersende establishment bevraagteken, ondersoek en kritiseer. Wanneer Scully dus neerhalend verwys na die “Trek-Boer” en Weideman in sy gedigte hierdie mense ‘verdedig’, verdedig hy ook die gewone Afrikaner, die nasate van die destydse trekpioniers wat vandag nog in plekke soos die Noordweste ‘n bestaan maak. Weereens kom die kwessie van identiteit dus aan bod: Weideman beskou dit as sy plig om Scully se “skeefgetrekte” voorstelling reg te stel deur middel van ‘n korrektiewe representasie wat beklemtoon dat “sy” (Van Vuuren, 1998:256-257) mense (met inbegrip hier van Weideman se eie voorgeslagte wat óók boorlinge van die Noordweste is) nie so agterlik is as wat Scully te kenne gee nie.

6. “Homo africanus”

“Homo africanus” (74) kan beskou word as ‘n gedig waar Weideman se identifikasie met die Noordweste en sy gevolglike subjektiewe beskouing daarvan sterk na vore kom. Wat hierdie gedig veral interessant maak, is die feit dat die digter-spreker hier met ‘n tweede party in gesprek tree, ‘n sekere “Amerikaanse fotograaf” wat ook ‘n representasie bied – hierdie keer van eietydse Afrikaners. Die gedig begin met ‘n aanhaling wat dui op die trekboer se ‘onbeskaafdheid’, gevolg deur Weideman se ironiserende kommentaar daarop:

The Trek-Boer … is usually ignorant to a degree unknown among men called civilised. He is untruthful,

 prejudiced, superstitious, cunning, lazy and dirty.

 

Onnooslik. In so ‘n graad dat die beskaafde gril.

Onlangs nog het ‘n Amerikaanse fotograaf

presiés dit probeer wys. Al die ou skarminkels                

wat die Liewe Here êrens in ‘n kamertjie begraaf

het, opgediep. Met lens- en hoekverstellings

die skewe neuse, vratte, skopgraafore

en al die ander aberrasies tot metafore

vir Afrikanerskap verwring. Goed en gaaf,

vriend Scully, jy het dit tóé ook al gesê.

Ons rym nie met die Skepping nie. Vals

is ons en bevooroordeeld. Ons lê

heeldag voor die TV, en ‘n jakkals

kan loop slaap, so loop ons almal in.

Daarby slof ons met krullers rond

en was selde agter die ore. Begin

die dag nooit sonder die Sterre of ‘n bidstond

nie. Nee, ek moet toegee, ons lyk nogal

wanstaltig. Onsigbaar nét in ‘n maskerbal.

Weideman trek duidelik in hierdie gedig ‘n verband tussen Scully se kras beskrywing van die trekboere in Between Sun and Sand: A Tale of an African Desert en die Amerikaanse fotograaf se foto’s van eietydse Afrikaners. Hier kom die doelwit wat Weideman in “Kruistog” uiteensit, naamlik om hom deur sy gesprek met Scully te rig “tot diegene wat die Afrikaner minag” (Weideman, 1998:117), dus eksplisiet na vore. Dié Amerikaanse fotograaf is, volgens ‘n persoonlike mededeling deur Weideman (2007), Roger Ballen. Die foto’s waarna verwys word, is waarskynlik foto’s wat in Platteland (1994), wat drie jaar voor ‘n Staning onder sterre gepubliseer is, verskyn het.

Die sterk ironiese toon van “Homo africanus” kom reeds in die titel van die gedig aan bod. Die Afrikaner word naamlik voorgestel as ‘n tipe oermens, ‘n primitiewe spesie. Die feit dat Weideman hier besig is om Scully, wat as “vriend” aangespreek word, sowel as Ballen se voorstelling, te ironiseer, blyk uit talle frases in die gedig, byvoorbeeld die verwysings na die Afrikaners wat gefotografeer is as “skarminkels” met “skewe neuse, vratte, skopgraafore” wat die “Liewe Here êrens in ‘n kamertjie begraaf” het, asook die (byna grappige) voorstelling van die “ons” wat meer skelm as ‘n “jakkals” is, rond-“slof” met “krullers” en “selde agter die ore” was. Veral in die laaste twee reëls waar daar (oënskynlik) saamgestem word met die feit dat die “ons” nogal “wanstaltig” is, is die digter-spreker duidelik besig om die fotograaf en Scully se voorstelling(s) te satiriseer.

Ballen (http://www.rogerballen.com/) het volgens sy webtuiste vir ongeveer 20 jaar die Suid-Afrikaanse platteland gefotografeer op soek na estetiese simbole wat die “sense of the place and the people” kon oordra. Volgens dié webtuiste het die boek Platteland (1994) ontstaan as gevolg van die “profound irony” dat, hoewel blankes in Suid-Afrika bevoordeel is tydens Apartheid, daar “in the physical heart of the land […] inescapable testimony to the failure of the regime even to secure the well-being of the privileged minority” is. Die volgende word gesê oor baie van die mense wat die fotograaf teëgekom het: “[they] feel strangled by poverty and preconception, rejected and downgraded” (Ballen, http://www.rogerballen.com/).

Ironies genoeg reken baie kritici dat Ballen se foto’s juis bydra tot die ontwikkeling van bepaalde negatiewe vooroordele met betrekking tot hierdie groep mense. Theron (2006) gee in ‘n artikel oor fotografie in Die Burger te kenne dat as daar na die foto’s van ‘n “geselekteerde groep” gekyk word, Ballen se Platteland een van die bekendste reekse is wat in die voorafgaande 20 jaar van Afrikaners geneem is. Met dié publikasie het Ballen hom volgens Theron (2006) “felle kritiek op die hals gehaal” – veral Suid-Afrikaners was ontsteld “oor hoe die boek ‘agterlike Afrikaners’ uitbeeld”. Sy voeg die volgende by oor Ballen se benadering tot sy werk en die voorstelling wat hy van hierdie groep mense gee (Theron, 2006):

Hy noem homself ‘n dokumentêre fotograaf, in die media word na die boek verwys as “maatskaplike kommentaar”, maar ‘n mens kan nie help om te dink die mense in die foto’s is in ‘n mate misbruik om ‘n nare-gevoel-op-die-maag-uitwerking op die kyker te hê nie.

Ook die digter-spreker in ‘n Staning onder sterre gee te kenne dat Ballen die voorstelling van hierdie armoedige Afrikaners manipuleer om ‘n tipe politieke boodskap oor te dra, of liewer om ‘n sekere uitwerking op die kyker te hê, aangesien hy “[m]et lens- en hoekverstellings” hulle “aberrasies tot metafore / vir Afrikanerskap verwring”. Die feit dat Ballen eksplisiet met hierdie boek “a sense of the place and the people” (Ballen, http://www.rogerballen.com/) van die Suid-Afrikaanse platteland wou gee, illustreer dat dit in sy werk, net soos in die werke van Scully en Weideman, om die representasie van ‘n bepaalde ruimte gaan. Deur Ballen se foto’s met Scully se teks in verband te bring, beklemtoon Weideman dus dat Scully sy representasie van die trekboere en van die Noordweste ‘manipuleer’ op grond van eie motiewe en vooroordele. Dit is dus as ‘t ware Ballen en Scully wie se voorstellings “wanstaltig” is en die eensydigheid en subjektiwiteit van hierdie voorstellings kom duidelik aan bod.

Aangesien dit hier om representasie gaan, dig Weideman die opinies van die verteller in Between Sun and Sand aan Scully toe, hoewel die verhaal oënskynlik nie oor outobiografiese elemente beskik nie. Om dieselfde rede word Scully in “Homo africanus” (74), soos in talle ander gedigte in hierdie afdeling, direk deur die digter-spreker aangespreek. Weideman se benadering tot die skrywer-verteller Scully lei die leser om die afleiding te maak dat Weideman op dieselfde wyse as die digter-spreker benader kan word. Opvallend hier is ook die herhaaldelike gebruik van die woord “ons” as die digter-spreker na dié groep Afrikaners verwys, wat dui op sy identifikasie met hulle. Die laaste reël gee dan ook te kenne dat die “ons” “[o]nsigbaar nét in ‘n maskerbal” is. Dit wil voorkom asof die digter hiermee erken dat hy ook een van hierdie Afrikaners is en hierdie identiteit bloot verhul word deur die ‘masker’ van sy digterskap, die stem van die spreker in die gedigte. Weereens kom die kompleksiteit van die narratiewe identiteit in dié bundel hier na vore: die stem van die digter skemer as ‘t ware deur terwyl die spreker in die gedigte praat.

Daar kan dus afgelei word dat, net soos die Britse staatsdiensamptenaar en skrywer W.C. Scully (sowel as die Amerikaanse fotograaf Ballen) hier ‘n subjektiewe representasie van ‘n bepaalde ruimte en sy inwoners bied, bied George Weideman, oud-inwoner van die Noordweste en Afrikaanse digter/skrywer, óók ‘n subjektiewe representasie van dieselfde ruimte. Identiteit kom daarom sterk ter sprake, aangesien die verhouding tussen identiteit en ruimte, soos Viljoen et al (2004:12) aandui, simbioties van aard is. Die feit dat Scully en Ballen vanaf ander ruimtes afkomstig is (onderskeidelik Brittanje en Amerika) veroorsaak dat die Noordweste vir hulle vreemd is en die inwoners van dié geweste vreemdelinge, met vreemde gebruike. Hulle kyk dus met ‘n ander oog na hierdie mense as Weideman wat ‘n gelukkige jeug in die Noordweste spandeer het en verwant is aan die mense van dié gebied.

In “Post Scriptum: The Daily Chronicle” (69) kom hierdie kwessie spesifiek ter sprake as die digter-spreker kommentaar lewer op die destydse Britse resensies van Between Sun and Sand. Hy gee te kenne dat diegene wat uit ‘n ander (‘groener’) ruimte afkomstig is, nie werklik ‘n oordeel oor hierdie eiesoortige, woestynagtige wêreld kan lewer nie, aangesien hulle dit nie verstaan nie:

Wat weet hulle wat uit die sagte groen

gevoude heuwels kyk van dié seisoen;

wat weet hulle wat met vrees praat

oor vuil Marokkane en met versuikerde haat

oor die vlugtelinge uit Afrika –

wat weet hulle van liefde en van trou,

van die sagte spel van aandskemerblou;

wat weet hulle van hierdie karma.

Die digter-spreker betrek hier ook hedendaagse Westerlinge, aangesien daar na die huidige problematiek aangaande die toenemende emigrasie van Afrikane na Westerse lande verwys word. Weereens maak die digter-spreker dit duidelik dat hierdie Westerlinge ‘n negatiewe perspektief op die ‘vreemdelinge’ het – hy beskryf dit as meer as net “hovaardy” (85), maar as “vrees” en “versuikerde haat” (69).

Scully, Ballen en Weideman se onderskeie agtergronde (of dan die landskappe waar hulle vandaan kom) bepaal dus hul identiteite, terwyl die wyse waarop hulle die Noordweste voorstel, weer ‘n refleksie is van hulle identiteite en hulle verskillende perspektiewe op dié geweste. Dit is ook opvallend dat beide Scully en Weideman die voorstelling van die Noordwesterse ruimte in hulle onderskeie tekste baseer op hulle persoonlike herinneringe aan die streek. Soos Schama (1996:6-7) te kenne gee, is landskapstonele “built up as much from strata of memory as from layers of rock”. Herinneringe is dus die boustene van die ruimte van die landskap – ‘n ruimte wat gesetel is in die blik van die subjek. Verder beklemtoon die aanwesigheid van herinneringe die feit dat hierdie ruimte as ‘t ware ‘n atopie is – dit bestaan net in herinnering en kreatiewe skepping(s) (hier Scully en Weideman se tekste) en word meer positief (utopies) ervaar deur Weideman, terwyl Scully fokus op die negatiewe (distopiese).

7. Slot

Ten slotte: George Weideman se ‘n Staning onder sterre funksioneer nie bloot as ‘n dokument waarin ‘n objektiewe voorstelling van ‘n gebied en sy inwoners verskaf word nie. Hy bied eerder ‘n blik op ‘n atopie of ‘n ruimte van die landskap wat onlosmaaklik geknoop is aan sy herkoms, sy geliefdes en sy kreatiwiteit – dus: sy identiteit. Hierdie element kom in die hele bundel na vore, maar veral in die reeks “Variasies: tussen son en sand” en spesifiek die gedig “Homo africanus” waar die kwessie van representasie en identiteit vooropgestel word. Die gebruik van intertekste soos Scully se Between Sun and Sand en ook Ballen se foto’s beklemtoon die subjektiewe aard van Weideman se voorstelling, aangesien beide Scully en Ballen self in hulle onderskeie werke voorstellings bied wat sterk gekleur is deur hul identiteite en subjektiewe beskouings van ‘n bepaalde streek en ‘n bepaalde groep mense. Dit raak dus duidelik dat dit hier om representasie gaan, eerder as die objektiewe, geografiese werklikheid. Uiteindelik bied Weideman se bundel, soos Scully se teks én Ballen se foto’s, eerder ‘n blik op die outeur en die landskap van die gees as ‘n voorstelling van ‘n geografiese ruimte.

Noordwes-Universiteit

 

AANTEKENINGE

1. As daar in die vervolg na die digbundel ‘n Staning onder sterre verwys word, sal daar bloot van die bladsynommer(s) gebruik gemaak word.

2. Vir meer oor die aanwesigheid van hierdie twee tipes ruimte in ‘n Staning onder sterre vergelyk Viviers en Foster, 2007: 70-82.

3. ‘n Enkele aanhaling in “Variasies: tussen son en sand” kom uit die bladsy teenoor die titelblad wat, soos die opskrif “Opinions of the Press” te kenne gee, brokkies uit resensies oor die boek bevat waarin die joernaliste van destyds weer op hul beurt representasies van Scully se bied teks.

VERWYSINGS

 

Ballen, R. Books. Platteland. http://www.rogerballen.com/ (Toegang: 21 Oktober 2007).

Brink, A.P. 1989. Vertelkunde. ‘n Inleiding tot die lees van verhalende tekste. Pretoria: Academica.

Fokkema, A. 2003. Inleiding. In: Fokkema, Aleid & Maarten Steenmeijer (reds.). Identiteit en locatie in hedendaagse literatuur. VanTilt: Nijmegen.

Hirsch, E. & O’ Hanlon, M. (eds.). 1995. The Anthropology of Landscape. Perspectives on Place and Space. Oxford: Clarendon.

Houppermans, S. 2003. Utopie, distopie, atopie. Een zwerftocht in de Franse literatuur. In: Fokkema, Aleid & Maarten Steenmeijer (reds.). Identiteit en locatie in de hedendaagse literatuur. VanTilt: Nijmegen.

Hough, B. 1999. Weideman-figure soek na ‘n eie plek. Rapport, 24 Oktober.

Kannemeyer, J.C. 1997. Weideman ‘keer terug’ met beweeglike verse. Die droë Noordweste word hier ‘n paradys. Rapport, 25 Junie.

Kannemeyer, J.C. 2005. Die Afrikaanse literatuur. 1652-1987. Kaapstad: Human & Rousseau.

Marais, J.L. 2007. George Weideman (1947 -): ‘n Profiel. Ensovoort 11(1): 5-23.

Nieuwoudt, S. 1999. Ons herontken ou Afrikaans. Beeld, 21 Oktober.

Odendal, F.F. & Gouws, R.H. 2005. HAT: Verklarende handwoordeboek van die Afrikaanse taal. Kaapstad: Pearson Education & Maskew Miller Longman.

Raes, P. 2000. Erwin Straus over de ruimte van het landschap en de geografische ruimte. Tijdschrift voor Filosofie 62: 313-340.

Schama, S. 1996. Landscape and Memory. London: Fontana.

Scully, W.C. s.a. Between Sun and Sand: A Tale of an African Desert. Capetown/Port Elizabeth/Grahamstown/Johannesburg/East London/Stellenbosch: J.C. Juta.

Simon, B. 2004. Identity in Modern Society. A Social Psychological Perspective. Oxford: Blackwell.

Theron, M. 2006. Soos ‘n handgranaat in die hand van ‘n kind. Die Burger, 11 November.

Van Coller, H.P. & Odendaal, B.J.. 1999. George Weideman. In: Van Coller, H.P. (red.). Perspektief en profiel: ‘n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 2. Pretoria: Van Schaik.

Van Gorp, H.R., Ghesquiere, R., Delabastita, D. & Flamend, J. (reds.).1998. Lexicon van literaire termen. Groningen: Nijhoff.

Van Vuuren, H. 1997. Poësie reageer op vervloë verlede. Die Burger, 10 September.

Van Vuuren, H. 1999. In: Van Coller, H.P. (red.) Perspektief en profiel: ‘n

Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Deel 2. Pretoria: Van Schaik.

Venter, L.S. 1992. Ruimte (epiek). In: Cloete, T.T. (red.). Literêre terme en teorieë. Pretoria: HAUM-Literêr.

Viljoen, H,. Lewis, M. & Van der Merwe, C. 2004. Learning about Space – and about Ourselves. In: Viljoen, Hein & Chris van der Merwe. Storyscapes. South African Perspectives on Literature, Space & Identity. New York: Peter Lang.

Viljoen, L. 1998. Plek, landskap en die postkolonialisme in twee Afrikaanse romans. Stilet 10(1): 73-92.

Viviers, M. & Foster, R. 2007. Die voorstelling van die Noordweste as ruimte in George Weideman se ‘n Staning onder sterre. Ensovoort 11(1): 70-82.

Weideman, G. 1980. Voëlent, wurgvy of ligeen? Verset deur vereenselwiging. Standpunte 33(6): 70-72.

Weideman, G. 1997. ‘n Staning onder sterre. Kaapstad: Tafelberg.

Weideman, G. 1998. Kruistog: ‘n Agternawoord oor my verhouding met die poësie. In: Pella lê ‘n kruistog vêr. ‘n Keuse uit sy poësie. 1966-1987. Kaapstad: Tafelberg.

Weideman, G. 2007. Persoonlike mededeling. Bellville, 15 Oktober.

Weideman, G.H. 1966. Hondegaloppie. Johannesburg: Voortrekkerpers.

Weideman, G.H. 1969. As die son kliplangs spring. Johannesburg: Voortrekkerpers.

Whitebrook, M.. 2001. Identity, Narrative and Politics. London and New York: Routledge.

Ek sal jou liefhê heel my lewe lank

Monday, February 14th, 2011
Hartstog

Hartstog

Synde die dag van die liefde is dit seker gepas dat The Guardian vir John Stammers, samesteller van die Picador Book of Love Poems, genader het om sy 10 gunsteling liefdesgedigte te lys. En ja, Die Liefde is sekerlik van die vroegste tye af een van die gróót temas in die digkuns: “If ever two were made for each other surely it is love and poetry: the infinite variety of love meeting the boundless capacity of poetry to embrace it. There is something both sweet and intense about all aspects of romantic love, a combination that is ideally suited to poetry’s marriage of the music of speech with compressed content. This is true from love’s first blush through to its heady consummation.”

Tog vind Stammers dit vreemd dat liefdespoësie so selde oor die ekstase van die liefde handel; veeleer oor “wily courtship, unrequited love, or the bitterest regret”. Hy verklaar dié toedrag van sake soos volg: “There is something delicious about these marginal states in which Desire (for it is he) is constantly unsatisfied, confounded or denied. I would hazard a shaft that it is just this strange quality of desire to persist in the face of its own negation that we find compelling.”

Nietemin, die eerste vyf van sy lysie 10 gunsteling liefdesverse is die volgende: “To his coy mistress” (Andrew Marvell), “The love-song of J Alfred Prufrock” (T.S. Eliot), “Arracombe Wood” (Charlotte Mew), “A subaltern’s love-song” (John Betjeman) en “Whoso list to hunt” (Thomas Whyatt). Die volledige lys, met skakels na die betrokke gedigte, kan op The Guardian se webtuiste gevind word.

Vir jou leesplesier volg ‘n liefdesvers deur een van ons vernaamste minnedigters onder aan vanoggend se Nuuswekker.

***

Sedert Vrydag het Desmond Painter ‘n blog geplaas wat handel oor die Brasiliaanse digkuns in vertaling. Ook Marcelle Olivier en Pieter Odendaal het nuwe bydraes gelewer; Marcelle met nuusbrokkies uit New Delhi en Pieter oor hoe ‘n mens deur selle ontroer kan word. En dan het Jelleke Wierenga se fotobeeld ook gedurende die naweek bygekom.

Geniet dit alles; so ook die week wat op hande is.

Mooi bly.

LE 

 

Al sou

 

Ek sal jou liefhê heel my lewe lank

selfs al sou die t’nouroevygie

in droë jare skaarser rank

 

al sou die sleepmis vroeg insleep

van die see af en die wilde-anys

toe-oog bly en die son vergeefs

ander wang vir die wêreld wys

 

al sou die ooswind knaend waai

en om ons net blylêgoe bly lê

net knapveld waar daar opslag was

en ons vergeefs grawe aan ‘n gorê

 

al sou ons sleepvoet en doevoet loop

hande krom soos haakdoringbos

al het die wind die gousblom gestoop

 

al het die jare ons uitoorlê

ek sal jou heel my lewe lank bly liefhê

 

© George Weideman (Uit: Staning onder die sterre)

 

 

Politieke opportunisme

Wednesday, January 20th, 2010
W.E. Henley

W.E. Henley

In gister se Nuuswekker het ek melding gemaak van die prominensie wat W.E. Henley (1849 – 1903) se gedig “Invictus” tans vanweë die gelyknamige film oor die Springbokke se wêreldbekersege in 1995 in die gemoed van onwaarskynlike poësieliefhebbers geniet. En getrou aan hul opportunistiese aard is dit veral politici wat munt hieruit probeer slaan.

Voor in die koor is dit hoeka Gordon Brown wat die reëls “In the fell clutch of circumstance / I have not winced nor cried aloud./ Under the bludgeonings of chance / My head is bloody, but unbowed.” as bron tot sy lewensinspirasie voorhou. “It is about determination. It summarises my view [of being prime minister],” het hy aan die London Times se verslaggewer gesê.

Maar, soos Daisy Goodwin in haar berig heel tereg opmerk: miskien moes hy eers die ontstaansgeskiedenis van dié gedig nagevors het alvorens hy dit in navolging van oud-president Nelson Mandela as harts-inspirasie voorgehou het.

Henley het dié gedig naamlik geskryf terwyl hy in 1870 gehospitaliseer was vir bykans twee jaar na die amputasie van sy een been en die stryd om sy oorblywende been te probeer red. Hy het tuberkulose onder lede gehad. Verdermeer is dieselfde gedig deur die bomplanter van Oklahoma, Timothy McVeigh, voorgedra enkele minute voor sy teregstelling in 2001. Selfs Jeffery Archer kon nie die versoeking weerstaan om sy eie tronk-memoirs met ‘n aanhaling uit dié gedig as motto te publiseer nie.

Alhoewel politici al te gretig is om die digkuns by te sleep wanneer hulle indruk probeer maak, geld dieselfde gode sy dank nie vir die digters wanneer hulle oor politici dig nie. Ter illustrasie plaas ek vanoggend ‘n paar aanhalings onder aan die Nuuswekker vir jou leesplesier.

***

Dan is die vreugde vandag dat dit Hennie Aucamp se verjaarsdag is … Veels geluk, Hennie. Mag daar sommer nog heelwat skryfsels voortvloei uit daai kranige pen van jou! (En onthou ook om Hennie se nuwe verse te lees indien jy dit nog nie raakgesien het nie.)

***

Op die webblad is daar wonderlike nuwe inskrywings geplaas deur Carina Stander en Ilse van Staden, terwyl Melt Myburgh op sy blog begin het met ‘n reeks besprekings oor poësie-items tydens die komende Woordfees. (Onthou: die volledige program kan hier beskou word.)

Nog ‘n vreugde vanoggend is nuwe gedigte deur Cas Vos en Marlise Joubert. En dan het ons sommer ‘n hele klomp Afrikaanse gedigte in Engelse vertaling van Tony Ullyatt ontvang. Dié vertalings sal later vanoggend hier te lese wees. Digters wie se verse geplaas gaan word, is: Jeanne Goosen, Antjie Krog, George Weideman, Wilma Stockenström, Phil du Plessis, Wilhelm Knobel, Boerneef, Breyten Breytenbach, Rosa Keet, EWS Hammond en Gisela Weingartz.

Wat ‘n ryke oes! Lekker lees aan alles en hê pret vandag.

Mooi bly.

LE

 

“Rulers who neither see, nor feel, nor know,
But leech-like to their fainting country cling
Till they drop, blind in blood, without a blow.

(Shelley, 1819)

“All I have is a voice
To undo the folded lie,
The romantic lie in the brain
Of the sensual man-in-the-street
And the lie of Authority
Whose buildings grope the sky

(WH Auden, 1920)

“… How it takes the breath away, the piss, makes of your kiss a dropped pound coin,
makes of your promises latin, gibberish, feedback, static,
of your hair a wig, of your gait a plankwalk.
How it says this – politics – to your education education education; shouts this –
Politics! – to your health and wealth; how it roars, to your
conscience moral compass truth, POLITICS POLITICS POLITICS.

(Carol Ann Duffy, 2009)

“A talented young chimpanzee
Was keen to appear on tv
He wrote to Brooke Bond
But they didn’t respond
So he had to become an MP.

(Wendy Cope)

“I wanna be the leader
I wanna be the leader
Can I be the leader?
Can I? I can?
Promise? Promise?
Yippee, I’m the leader
I’m the leader

OK what shall we do?”

(Roger McGough)

 

 

 

George Weideman – vertaling in Engels

Tuesday, January 19th, 2010

George Weideman – vertaal deur Tony Ullyatt

 

 
It’s as if the flowers

 

It’s as if the flowers are crippled this year,
with unclear eyes; the plains dull and ashen-grey –
you must come in good time so that we can search
        deep gullies for wild flax and wild roses.

It’s as if the sunbird and the rain bird are silent
as stones in the desert, and stones do not grow either –
you must come, as long as my heart is still warm
        and my tears can still heal.

It’s as if the days fly by like migrant birds
after a summer that we no longer know –
you must come, because you can give me wings
        so that we can flee together.

It’s as if night is getting darker, sweetheart
and the stars dwindle; the moon is aloof –
you must come as long as there is light, and time
        – the almond tree is white with snow.

Johann Lodewyk Marais. Van eenhorings gepraat

Sunday, August 30th, 2009

Lank, lank gelede was ek een aand teenwoordig by ‘n funksie aan die Universiteit van Pretoria, wat aangebied is na afloop van die oorhandiging van die pryse aan die studente wat in die jaarlikse skryfkompetisie as wenners in die drie hoofkategorieë aangewys is. 

Nadat die toesprake afgehandel is, het ons gesellig om die tafels met vingerhappies verkeer en vir ons wyn en ander drinkgoed geskink. Tussen die studente, wat al hoe luidrugtiger geword het, was die gestaltes van ‘n hele paar skrywers sigbaar: H.J. Pieterse, wat kort-kort ‘n glasie hanepoot wegslaan. Pirow Bekker, iewers onder sy bont pet. Joan Hambidge, wat ‘n lesing oor die postmodernisme kom aanbied het, en wat ek bo die geroesemoes van stemme hoor lag. Alexander Strachan, wat oral hand gee, sy hemp onder sy lang, donker jas laag oor sy borshare oopgeknoop.

Tussendeur wens ons die wenners geluk en poseer vir De Kat se fotograaf.

En skielik, tussen al die ander deur, kom daar ‘n student na my toe en sy sê:

“U het na Fransi Phillips verwys toe u gepraat het van die skrywers wat aan hierdie universiteit gestudeer het. Waar is sy?”

“Hoe bedoel u?” vra ek.

“Waar kan ek haar in die hande kry?”

“Hoekom?”

“Sy is die enigste Afrikaanse skrywer wat ek lees, want sy glo aan unicorns.”

Toe soek ek om my rond, want Fransi was vroeër die aand onder die gaste wat geduldig geluister het. Loop ‘n slag heen en weer om te kyk of ek haar nie kan opspoor nie.

“Juffrou, sy was netnou nog hier,” sê ek en kyk weer rond, maar toe het sy al verdwyn.

En Melanie Grobler kom vertel aan my dat daar glo so baie kremetartbome in Afrika is omdat gestorwenes altyd met ‘n pit in die hand begrawe word.

Toe ek ‘n paar dae later by Fransi die boek getiteld Magical beasts gaan haal het en haar van die student vertel, het sy lakonies opgemerk: “‘n Mens soek verniet na die eenhoring.”

Voor ek daar weg is, het sy my in ‘n ander boek ‘n kaart gewys waarop presies aangedui word waar drake in Europa voorgekom het.

Dit was juis Fransi Phillips wat my nog in ons studentedae daarvan bewus gemaak het dat daar ‘n plek is vir bespiegeling oor die fantastiese. Hoe ons ons in talle gesprekke daaroor uitgespreek het, kan ek net vaagweg onthou, en hoe meer ‘n mens oor die fantastiese nadink, hoe onsekerder is jy van wat die aard daarvan nou eintlik is.

Die spoor van die eenhoring loop reeds voor die begin van ons jaartelling deur Oosterse en Midde-Oosterse literatuur. Gedurende die Middeleeue het hy sy afdruk in boeke, op kunswerke en in die Christelike simboliek gelaat. Vroeë reisigers deur die Suid-Afrikaanse binneland het opnuut die spoor van oorlewering, gerugte en rotstekeninge opgeneem op soek na die dier waarvan die verband tussen teken en betekende steeds onseker was. Maar soos wat die landskap verder verken is, het die eenhoring telkens agter ‘n nuwe horison verdwyn. Hy maak egter ‘n onverwagse herverskyning in die streke van die Afrikaanse letterkunde van die laat-twintigste eeu in die werk van onder andere D.J. Opperman, N.P. van Wyk Louw, Jacques Loots, George Weideman, Barend J. Toerien, Wilma Stockenström, Johann Lodewyk Marais, Karel Prinsloo en Martjie Bosman. (Ek en Martjie het ‘n artikel oor hierdie gedigte geskryf.) Die vraag kan egter gestel word of die eietydse leser die eenhoring buite die bladsye van ‘n boek sal herken.

Johann Lodewyk Marais. Wilhelm Knobel van Bethlehem

Saturday, July 18th, 2009

Johann Lodewyk Marais

 

Met Wilhelm Knobel (1935–1974) het ek die eerste keer in koerantberigte oor die Sestigers kennis gemaak toe ek op hoërskool op Harrismith was. In daardie jare was skrywers op grond van hul teenkanting teen apartheid en sensuur baie in die nuus. Dink maar aan Breyten Breytenbach se toespraak in Februarie 1973 by die Sestigerkongres by die Somerskool van die Universiteit van Kaapstad, wat tot groot omstredenheid gelei het. Veral die nuwe, verligte Sondagkoerant, Rapport, het die leser op die hoogte van die woelinge gehou.

 

Tydens die Sestigerkongres is ’n foto van Breytenbach saam met Chris Barnard, John Miles, P.G. du Plessis, Lina Spies, Jan Rabie, Berta Smit, Hennie Aucamp, George Weideman en (byna eenkant) Wilhelm Knobel geneem. Op die foto het Knobel soos tewens byna al die ander mans ’n pak klere en ’n das aan en dra hy ’n sonbril. Dit was ’n era toe skrywers nog ’n “sense of occasion” moes gehad het. Breytenbach en Miles was die enigstes sonder das! Hierdie foto het lank my visuele beeld van Knobel bepaal.

 

In hierdie tyd, waarskynlik in 1973, het Knobel ’n keer in my klas ter sprake gekom. Die skoolhoof, mnr. Johan Steyl, ’n oud-Vrystaatse rugbyspeler, het met die st. 8-klas oor die vorige kwartaal se punte en ons vakkeuses kom praat. Met sy borselkop, staalblou oë en regop houding het Steyl gesag afgedwing en dissipline streng toegepas.

 

Steyl was sterk partydig vir wiskunde. Ter illustrasie het hy verwys na ’n leerling wat op Bethehem, die buurdorp waar hy elf jaar lank wiskundeonderwyser aan die Hoërskool Voortrekker was, hom gevra het waarom jy wiskunde op skool moet neem as jy nie in hierdie rigting gaan studeer nie. Steyl het nie van die vraag gehou nie, waarmee seker nie fout gevind kan word nie, en duidelik onvleiend verwys na een van die Sestigerskrywers en dié se foto wat onlangs in die koerant saam met dié van die ander Sestigers verskyn het. Die Sestigerskrywer waarna Steyl verwys het, was gewis Wilhelm Knobel.

 

Sestigerskrywers was in daardie jare omstrede, selfs op skool. In my Afrikaans-onderwyser, mnr. Cas Steenekamp, se klas was daar iets van ’n openlike stryd teen hierdie skrywers. Behalwe die berigte in die pers het die Broederbond agter die skerms ’n verbete stryd teen die invloed van die Sestigers gevoer, wat tot in die Afrikaans-klaskamer deurgewerk het. (Dit is ’n stuk geskiedenis waaroor ek nog uitvoeriger wil skryf.) Ek volstaan egter deur te sê dat Knobel ’n vae bekende was toe ek van sy onverwagse dood in Januarie 1974 gehoor het.

 

Die eerste bundel wat ek van Knobel besit het, het ek by die lank reeds vergete tak van Perskor in Andriesstraat in Pretoria gekoop. Dit was die Nagelate gedigte wat deur Knobel se jongste broer, Deon Knobel, versorg is en in 1976 deur Perskor gepubliseer is. Veral die biografiese inleiding tot die bundel het my belangstelling in hierdie skrander man geprikkel, terwyl die voorbeelde van sy handskrif my gefassineer het. (Die gedigte was ongelukkig nie op dieselfde peil as dié in die twee bundels wat tydens sy leeftyd verskyn het nie.) Uit die inleiding en die gedigte self kon ’n mens aflei dat Knobel ’n nogal moeilike lewe gehad het en dat veral sy laaste lewensjare nie maklik was nie.

 

As boorling van die Oos-Vrystaat het Knobel my nog altyd geboei, maar tot dusver is geen indringende aandag aan sy werk gegee nie. Selfs sy mede-Sestigers wat oor sy dood getreur en gesê het dat hy ’n betekenisvolle bydrae gelewer het, het min gedoen om sy lewe en werk aan ons bekend te maak nie.