Posts Tagged ‘Gert Vlok Nel’

Gisela Ullyatt. Stuur groete aan die reën.

Wednesday, December 9th, 2015

Colesberg

’n Gros woorde sou 2015 kon beskryf: #rhodesmustfall#; #feesmustfall# en ander dergelike hutstekens (of liewer onthuts-tekens?). Terreur, Parys, verset, twis, tweespalt. Afrikaans. Kolonisering, de-kolonisering, neo-liberalisme, Marxisme(s).
Steve Hofmeyr wat country sing. Nathan Trantraal wat op Halloween die Ingrid Jonker-prys wen. Wit patriargie. Swart patriargie.
Open Stellenbosch. Kovsies #Steynmustfall#; NWU #Totiusmustfall#. Oscar Pistorius en die ANC-vroueliga. Suid-Afrikaanse Oorlog. Boer. Grond. Donker donker land. Wye en droewe land.
Twee woorde oorheers egter bostaande begrippe: ‘reën’ en ‘droogte’. Hiermee saam, ‘versengend’; die ‘dieper dors’.
In 6 Desember se Rapport Weekliks skryf Leon Schreiber oor die VN-Klimaatsberaad in Parys (‘’n Droë, warm seisoen’:7). Wat my opval en terselfdertyd nog meer moedeloos laat, is die volgende paragraaf:

Die impak van die klimaatsverandering word inderwaarheid reeds wêreldwyd beleef: 14 van die 15 warmste jare wat tot dusver opgeteken is, het almal sedert 2000 voorgekom. Die Wêreld-Metereologiese Vereniging (WMF) voorspel bowendien dat 2015 verreweg die aarde se warmste jaar gaan wees sedert optekening in 1860 begin het.

Hier sit ons dus, ge-hittegolf. Soos ek hier tik, is dit 35 grade. Maar dit is 20:35. Daar is nie ’n venster of ’n deur wat nie oopgaap nie. Daar is waterbeperkings. Lugverkoeling is te duur vir meeste privaat-huise. Aldus die waaier wat warm lug soos ’n bergwind rondspiraal. Die hitte oordonder alles; die donderstorms bly gerugte.
Veral boere in die Vrystaat en Noordwes word deur die droogte vermink. Daar is nie weiding nie; die aarde is verskroei. Talle moet hul eie diere skiet. Kalfies kry skitterysiekte omdat hulle maagvelletjies nog dun is en nie bestand teen die son is nie: die melk in hul mae word letterlik suur.
Gilbert Gibson, Bloemfonteinse internis wat die Oos-Vrystaatse plaaslewe ken, skryf só oor droogte op ’n plaas (Groot Verseboek, Deel 3:1204):

krit

daar is iets
in die oosvrystaat
marquardsenekalexcelsior
wat uit die ou testament uit peul
iewers in korannaberg
vlam ’n bos toevallig in ’n veldbrand
’n skaapwagter op rietvlei
se stok word ’n slang
steynskraal-beeste se oë
word deur kraaie uitgepik
in sandspruit se waterlose skeut
kniel droogte as profeet

Hans du Plessis dig in ‘Droogte drie en tagtig’ (GV, Deel 2:840) oor ’n knellende droogte van meer as dertig jaar gelede. Die emosionele ondertoon van die gedig (‘diep in die donker van ’n put’ en ‘dié swart gal gaan in my sinne sit’) speel in op die donkerte van moedeloosheid; die ongenade van hitte en son. Let op die wyse waarop die digter as’t ware ’n assosiatiewe spieëlbeeld uit die twee strofes skep: die tweede word ’n emosionele kartering van die eerste se fisiese ruimte:

mielies skuifel skraal skrompeltjies blaar
maer en ritsel teen die droë wind
skalter skewerig skuins en ongekop
op bruin gelit die dorte deur
die draaiwind dribbel uit ’n tregterpot
droë derms uit die dors uitlos
son speel speke teen ’n windpomp vas
as stofstrepe staan waar water was
en diep in die donker van ’n put
bid die son ’n skelm skerfie wit

ek loer flegmaties af
toe stort en staar my kop
uit die wiegende weinig op:
watertjie wikkel wanorde:
lug word water word son word stof:
en word ek ooit weer uitgeput:
dié swart gal gaan in my sinne sit:
iewers in hierdie jammerjaar
het ek nog kop verloor
en die laaste sap
word uit my leë lyf getap

Phil du Plessis se ‘Kalkbaai, Maart 1984’ (uit ‘Asemgedig’:19) eksploreer die verband tussen asemhaling-as-lewegewende ritme van die heelal wat ’n sikliese gang (asem/lug; water/reën) suggereer. Die wisselvalligheid van die kreatiewe proses, hier spesifiek die digproses, is ‘n verdere betekenismoontlikheid ter ontginning.

1

Die heelal haal ritmies asem,
maar hóé
verander die jaar self?

die aarde asem,
verdig die asem tot water,
tog, voor verposing
kom die uitasem
wat dampe weer
die ruimte instuur

soms kom die reën vroeër,
soms later.

Soos met talle van sy ander gedigte, daag Gert Vlok Nel semantiese sowel as strukturele konvensies uit; dit wat ongesê bly en verkap word, moet die leser self invul.
In ‘i sagte reën het agtermiddag’ (10) word die titel in beide openingsreël en laaste reël herhaal en met ’n punt of end stop markeer. Ook word ‘die’ by die openingsreël gevoeg wat spesifisiteit aan die spreker se herinnering verleen.

i sagte reën het die agtermiddag.
ja ons almal het uitgehol, rondgedans in die.
tot Ma natuurlik gesê het kom in julle reën.
julle sal koue.

ekeenAttieenPollie en Vlokkie my vertraagde.
het nie geluister vir Ma nie, ons het.
ons bootjies gery in die sloot langs.
Vlokkie die simpel lag i i i iieeggghh die simpel ding.

in die yard kom Ma uit met die belt kamma.
ons hol in bang kamma. skielik is daar ’n helse.
in die straat is daar i botsing, i bakkie en i.
i sagte reën het agtermiddag.

Christine Barkhuizen le Roux gebruik die garingboom as objektiewe korrelatief in ‘droogteblom’ (55). Die woord ‘pose’ in die slotreël is ’n effektiewe transponering van betekenis vanaf die openingsreël: die kortstondigheid van die garingboom-as-droogteblom. ‘Pose’ is ’n woord wat meestal in onbruik verval het; dit dui ’n vensterperiode of tussenpose aan:

die garingboom het uitgeloop
weerskant aan elke hand
’n diepbord stuifmeel saad en son

drie maande en ’n bietjie tyd
kantel die stingel val die blom

’n droogteplant leef in respyt
tot somer weer één pose kom

Petra Müller se My plek se naam is Waterval (Waterval verwys ook na haar plasie wat in 1984 deur ’n brand verwoes is) se uitgangspunt is geskoei op die Oosterse dig-tradisie; natuur en landskap swaelstert met kalligrafie. Omdigtings en voortdigtings van onder andere Kalligrafie-digters soos Li Po en Riokan word terselfdertyd in konteks met die Afrika-landskap geplaas. So byvoorbeeld word ‘die kersieboom soms ’n pruimboom, die den soms ’n seder’. Ingelyks aktiveer ‘reënroeplied’ (‘Maart, April’:92) Eugène Marais se ‘Die dans van die reën’:

sy hang haar vlae wyd
oor rante oop … draal nog dae
sleep nog ver

o suster van die yl karos
ek roep u uit die vaalte los

met miere, haas en wildegans
begin ek stadig, hortend dans

’n kleinwild wat die tekens lees
om spoortjie van u spoor te wees.

Tradisioneel word die reëndans met die Noord-Amerikaanse Indiane geassosieer. Suid-Afrika het egter Modjadji, die Reënkoningin, wie se tradisionele tuiste Suid van Venda lê. Marais se wêreld skakel dus met hierdie Afrika-legende (’n Engelse Uitgewery wat spesifiek aandag skenk aan vroue-skrywers het hulself na Modjadji vernoem).

Ek sluit af met Marais se alombekende gedig (GV, Deel 1:32): mag ons almal ’n riel kap vir Onse Suster:

Die dans van die reën
Lied van die vioolspeler, Jan Konterdans, uit die Groot Woestyn

O die dans van ons Suster!
Eers oor die bergtop loer sy skelm
en haar oge is skaam;
en sy lag saggies.
En van ver af wink sy met die een hand;
haar armbande blink en haar krale skitter;
saggies roep sy.
Sy vertel die winde van die dans
en sy nooi hulle uit, want die werf is wyd en die bruilof groot.
Die grootwild jaag uit die vlakte,
hulle dam op die bulttop,
wyd rek hulle die neusgate
en hulle sluk die wind;
en hulle buk, om haar fyn spore op die sand te sien.

Die kleinvolk diep onder die grond hoor die sleep van haar voete,
en hulle kruip nader en sing saggies:
“Ons Suster! Ons Suster! Jy het gekom! Jy het gekom!”

En haar krale skud,
en haar koperringe blink in die wegraak van die son.
op haar voorkop is die vuurpluim van die berggier;
sy trap af van die hoogte;
sy sprei die vaal karos met al twee arms uit;
die asem van die wind raak weg.
O, die dans van ons Suster!

Ns.: My hutsteken-mantra vir Suid-Afrika, 2016: #rainmustfall#.
Mag die Groot Lafenis ons almal omarm.

Colesberg2

Bibliografie

Barkhuizen Le Roux, C. 2006. roset. Pretoria: Lapa.
Brink, A.P. (ed). 2008. Groot Verseboek, Dele 1-3. Kaapstad: Tafelberg.
Du Plessis, P. 1986. Ek sing waar ek staan. Kaapstad: Tafelberg.
Müller, P. 1987. My plek se naam is Waterval. Kaapstad: Tafelberg.
Nel, G.V. 1993. om te lewe is onnatuurlik. Kaapstad: Tafelberg.

Christa Morrison. bewus-syn-stroom

Saturday, June 13th, 2015

Gert Vlok Nel sing van “‘n trein riding into rain”. Ek sien die prentjie van gloeiende kole, die stoker se roetbevlekte vel wat soos water oor bultende rivierklippe span-ontspan-span-ontspan, sweetdruppels wat gly en val, hergebore herrys, en voortstoom. Bondels swart en wit rook wapper en alles word een, ingesluk, verdwyn, in ‘n dik grys gordyn van vallende water.

Dís my ervaring wanneer ek sekere werk van Allen Ginsberg, Jack Kerouac, Federico García Lorca of Leonard Cohen lees/luister, ook Bob Dylan en Nel. Hul gewaarwordinge neem my, sleur my, ek word een, ek behoort (nie meer aan myself nie).

Waar vind mens ’n bewussynstroom – die konstante voortdurende vloei van idees, waarnemings en emosies?

Die wetenskaplike vraag na die bergplek, fontein, en verloop van hierdie stroom gewaarwordinge is onopgeklaar. Waar en hoe in die brein en senuweefsel bestaan dit? Beweeg dit in ‘n stroom? In ‘n stroom neurons? Hou dit ooit op? Hoe bring mens dié kloutjie by die oor?

Ek vermoed dís waar ons die stemme wat in elkeen van ons smeek, troos of woed die helderste hoor. Dís die gang waar ek die son oor ‘n soutpan sien opkom en ondergaan, my doodgebore baba hoor lag of huil, herinneringe troostend of seer vinger teen my wang – dít is waar ervarings soos kunswerke staan en hang.

“The artist, and particularly the poet,…must heed only the call that arises within him from three strong voices:

the voice of death, with all its forboding,

the voice of love and

the voice of art.”

~ Federico García Lorca

Bewussynstroom as literêre styl

Bewussynstroom word op writershistory.com gedefinieer as “a literary style in which the author follows visual, auditory, tactile, associative, and subliminal impressions and expresses them using ‘interior monologue’ of characters either as a writing technique or as a writing style that mingles thoughts and impressions in an illogical order, and violates grammar norms.

The phrase ‘stream of consciousness’ was first used in 1890 by William James in Principles of Psychology. In literature it records character’s feelings and thoughts through stream of consciousness in attempt to capture all the external and internal forces that influence their psychology at a single moment. Any logical or sequential approach is disregarded.”

Hoe bewus is digters (en ander kunstenaars) van mekaar, waar stroom hul temas, tegniek, styl, gedagtes of invloed saam?

Leonard Cohen & Federico García Lorca

Cohen het in ‘n 2011-onderhoud genoem dat hy hordes Engelse digters behoorlik gelees het, maar dat dit die stem is van die Spaanse digter Federico García Lorca wat in sy gedagtegang weerklink. Hy sing onder andere ‘n los Engelse vertaling van Lorca se gedig Pequeño vals viené uit Poeta en Nueva York (A Poet in New York).

Leonard Cohen sing ‘n Engelse vertaling van Lorca se gedig Paqueno Vals Vienes (Take this waltz)

In ‘n Your Flesh Magazine-onderhoud in 1992 verduidelik hy:

“With the Lorca poem, the translation took 150 hours, just to get it into English that resembled – I would never presume to say duplicated – the greatness of Lorca’s poem. It was a long, drawn-out affair, and the only reason I would even attempt it is my love for Lorca. I loved him as a kid; I named my daughter Lorca, so you can see this is not a casual figure in my life.”

Allen Ginsberg & Federico García Lorca

In Ginsberg se gedig A Supermarket in California verewig hy van sy poëtiese gesprekke met onder andere García Lorca: 

          “What thoughts I have of you tonight, Walt Whitman, for

I walked down the sidestreets under the trees with a headache

self-conscious looking at the full moon.

          In my hungry fatigue, and shopping for images, I went

into the neon fruit supermarket, dreaming of your enumerations!

          What peaches and what penumbras!  Whole families

shopping at night!  Aisles full of husbands!  Wives in the

avocados, babies in the tomatoes!–and you, Garcia Lorca, what

were you doing down by the watermelons?…”

 ~ Berkeley, 1955

Allen Ginsberg & Bob Dylan

Ginsberg en Bob Dylan het nie net saam getoer nie, maar ook saam gewerk aan onder andere Vomit Express:

 Bob Dylan & Allen Ginsberg – Vomit Express

Bob Dylan en Allen Ginsberg by Jack Kerouac se graf, 1975
(Foto: Ken Regan via: ginsbergblog.blogspot.ca)

Dylan had come to hear a poetry reading at NYU’s Loeb Auditorium, standing in the back of the crowded hall with David Amram. We were on stage with a gang of musician friends, and Peter improvised, singing, ‘You shouldn’t write poetry down but carol it in the air, because to use paper you have to cut down trees.’ I picked up on that, and we spent a half an hour making up tuneful words on the spot. I didn’t know 12-bar blues, it was just a free-form rhyming extravaganza. We packed up, said goodbye to the musicians, thanked them and gave them a little money, went home, and then the phone rang. 

It was Dylan asking, ‘Do you always improvise like that?’ And I said, ‘Not always, but I can. I used to do that with Kerouac under the Brooklyn Bridge all the time.’ He came to our apartment with Amram and a guitar, we began inventing something about ‘Vomit Express,’ jamming for quite awhile, but didn’t finish it. He said, ‘Oh, we ought to get together in a studio and do it,’ then showed me the three-chord blues pattern on my pump organ. A week later in the studio Dylan actually did the arrangement, told people when to do choruses and when to take breaks, and suggested the musicians cut a few endings on their own to be spliced in.

‘Vomit Express’ was a phrase I got from my friend Lucien Carr, who talked about going to Puerto Rico, went often, and we were planning to take an overnight plane a couple of weeks later, my first trip there. He spoke of it as the ‘vomit express’ – poor people flying at night for cheap fares, not used to airplanes, throwing up airsick.”

Daar is wyd geskryf oor Ginsberg se invloed op die skryf en publikasie van Dylan se eerste boek Tarantula op die jong ouderdom van 23 jaar.

Bob Dylan & Jack Kerouac

In Dylan se outobiografie Chronicles, en die dokumentêre film No Direction Home, beskryf hy Kerouac se invloed op hom: “On the Road had been like a bible for me. I loved the breathless, dynamic bop poetry phrases that flowed from Jack’s pen . . . I fell into that atmosphere of everything Kerouac was saying about the world being completely mad, and the only people for him that were interesting were the mad people, the mad ones, the ones who were mad to live, mad to talk, mad to be saved, desirous of everything at the same time, the ones who never yawn, all of those mad ones, and I felt like I fit right into that bunch.”

Ook: “Someone handed me Mexico City Blues in St. Paul (Minnesota) in 1959 and it blew my mind. It was the first poetry that spoke my own language.”

Gert Vlok Nel (Foto: Tessa Louw)

 

Gert Vlok Nel, Ginsberg, e.a.

In ‘n handgeskrewe brief laat weet Gert Vlok Nel vir my: “Ek is baie lief vir die skrywers wat jy noem, buiten Lorca wat ek nooit gelees het nie. Al die skrywers het seker ‘n invloed gehad op my werk, en in my lewe het hulle werk my getroos in donker tye.

Van Ginsberg het ek Howl gelees en Kaddish. Van Kerouac het ek On the road, The Subterraneans en Dr Sax (my favourite) gelees.

Mr Tambourine Man van Dylan is my gunsteling van alle tye. Dis ‘n song wat duidelik deur Kerouac beïnvloed is, rëels soos ‘though you might hear laughin’ spinnin’ swingin’ madly across the sun, it’s not aimed at anyone, it’s just escapin’ on the run’ en ‘far from the twisted reach of crazy sorrow’ (pure Kerouac).

Cohen is in staat tot suiwer skoonheid.

My invloede is nie Suid-Afrikaans of Afrikaans nie, alhoewel ek in my jonger jare baie lief was vir David Kramer en André le Toit.”

 

Gedigte

“My gedigte en songs verskil heeltemal van mekaar. Ek het my gedigte probeer skryf met groot liefde en groot koudheid.’’

Nadat ek Nel se bundel Om te lewe is onnatuurlik herhaaldelik gelees het en ook die Nederlandse dokumentêre film oor hom Beautiful in Beaufort-Wes gekyk het, begin ek ‘n goeie gevoel kry vir wat hy met “groot liefde” en “groot koudheid” bedoel. Nie net word die gestroopte landskap beklemtoon en baie bedag en vaardig uitgebeeld nie, maar die karakters word ook van hul maskers en hul klere gestroop. Die waarheid word tot op die been oopgekerf, maak nie saak hoe seer dit maak nie.

Tafelberg Uitgewers, 1993/2006

In ‘n Skype-onderhoud met Walter Stokman, die vervaardiger van die dokumetêre film Beautiful in Beaufort-Wes, verduidelik hy waarom die film asook Nel so goed en gul ontvang is en hoog geag word in kuns- en kultuurkringe in Nederland: “Die film en Gert se werk is nie net ‘n portret van Gert en Beaufort-Wes nie, dis ‘n portret van Suid-Afrika, ‘n samespel van alles. Dis romanties, eksoties, hartseer en vol belofte.”

Meer oor Nel se bande met Nederland en ook ‘n paar van sy gedigte.

en

‘n Pragtige animasiefilm van Nel se gedig Timotei Shampoo.

 

Songs

“My songs is warmer en lyk meer ‘stream of conscious’, dalk omdat hulle dikwels in gesprekvorm is met ‘n aangesprokene (‘Gert bo die grond roep na Koos onder die grond kom in Koos, kom in kom in’ – beïnvloed deur die radio-kommunikasie by Kampusbeheer).”

Nel het Waarom ek roep na jou vanaand (op sy Beaufort-Wes se Beautiful woorde CD) geskryf in 1997, die jaar waarin Ginsberg gesterf het. “Dis pure ‘stream of consciousness,” skryf hy: “Ek het vir 2 maande aan die song gewerk tydens nagskofte by Kampusbeheer om daai effort-lose effek te kry. Die song wemel van refleksies na ander skrywers se werk.”

Uit Ginsberg se Howl herken ek:

“’n impulse van winter, midnight street light,
Small-town rain amongst other things”

Uit Claude ‘Curly’ Putman se Green, green grass of home (ek wonder of Nel dit in Tom Jones of Johnny Cash se stem hoor):

“The old hometown look the same
As you step down from the train
En daar’s jou ma en jou pa en Mary down the lane”

en sou

“So sail slowly slowly
All ye ships of the night”

reflekteer na Ovidius, T.S. Eliot of Henry Wadsworth Longfellow? Is beauty en west, selfs Mary ook verwysings na Jack Kerouac?

Temas, tegniek, styl, gedagtes, invloed en verwysings stroom saam – in riviere, treine, die oop pad, uit en in alle windrigtings.

Die suidpunt van Afrika, die uitgestrekte vlaktes van die Karoo, die N1, die treinspoor, Gert Vlok Nel en die taal Afrikaans loop nie afsonderlik of alleen nie, is nie kaal nie, nie onaangeraak deur hierdie digters/sangers nie.

 

When the railroad trains moaned, and river-winds blew, bringing echoes through the vale, it was as if a wild hum of voices, the dear voices of everybody he had known, were crying…”

~

“I hope it is true that a man can die
and yet not only live in others

but give them life,

and not only life,
but that great consciousness

of life.”

~ Jack Kerouac

 

Bedanking:
Baie dankie vir bydraes en hulp aan: Gert Vlok Nel, Walter Stokman, Johann Lodewyk Marais, Piet Croucamp, Annemarie van Niekerk, Ingrid Glorie, David Morrison en Tessa Louw. (Christa Morrison, 13 Junie 2015)

.

Christa Morrison

Christa Morrison het aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer, waar sy ’n M.Phil.-graad in Joernalistiek behaal het. Sedertdien het sy in Botswana en Kanada gewoon. Tans spesialiseer sy in Nuwe Media en is ’n dosent aan die Sheridan Institute of Technology and Advanced Learning. Sy neem deel aan verskeie multikulturele poësiebyeenkomste in die groter Toronto area, onder meer die Lit Café in Oakville, Poetry Salons en Pakaraima in Toronto, en die Indiese/Pakistanse Mushaira in Milton.

Christa is tans een van Versindaba se gasbloggers.  (mj)

Louis Esterhuizen. Gert Vlok Nel in koningsblou

Wednesday, October 17th, 2012

Die poësiereeks genaamd Koningsblauw is ‘n reisende poësieprogram wat om die beurt in vier stede in Vlaandere aangebied word, te wete Antwerpen, Gent, Genk en Leuven. Vyf jaar na die geliefde Vlaamse digter, Herman de Coninck, se onverwagse afsterwe het die kultuurorganisasie Behoud de Begeerte in 2002 met dié inisiatief begin; die voorneme was aanvanklik dat dit ‘n jaarlikse fees sal wees, maar helaas, dit het nie so gebeur nie: “KONINGSBLAUW bracht elk jaar het kruim van de Nederlandstalige poëzie naar Genk. Maar de voorbije twee jaar koos Behoud de Begeerte er voor om Koningsblauw even in de koelkast te stoppen. Tien jaar na de eerste Koningsblauw is er opnieuw een editie en het is meteen de laatste editie.” (Aldus die berig op die Kultuursentrum se webblad.)

En tydens dié swanesang van Koningsblauw sal daar egter aan veertien digters blootstelling gegee word, met niemand minder nie as Gert Vlok Nel (foto) as musikale toevoeging om dié bitter pil ietwat te versoet nie.

Plakkaat

Plakkaat

Volgens Behoud de Begeerte se mediaverklaring die volgende: “In 2002 ging, vijf jaar na het overlijden van Herman de Coninck in Lissabon, de poëziereeks Koningsblauw van start. Nu, tien jaar en acht edities later, wordt deze reeks feestelijk afgesloten met vier poëzieavonden waarin dichters uit de voorbije edities aantreden (o.a. Anna Enquist, Judith Herzberg, Joke van Leeuwen en Leonard Nolens), samen met dichters die niet eerder aan Koningsblauw deelnamen of net zijn gedebuteerd (o.a. Tonnus Oosterhoff, Andy Fierens, Marjolijn van Heemstra, Lieke Marsman, Maud Vanhauwaert en Stijn Vranken). In een programma dat per stad varieert, is ook plaats voor hommages aan Herman de Coninck, Gerrit Komrij en Rutger Kopland, naast muziek van cellist Romek Maniewski en de Zuid-Afrikaanse zanger-dichter Gert Vlok Nel.”

Dié fees begin op 22 November in Antwerpen en eindig op 2 Desember in Leuven.

Maar vir jou leesplesier wil ek nog ‘n paragraaf uit die Kultuursentrum se berig aanhaal, veral vanweë die lieflike woord “klepper” en die parallel wat tussen Gert Vlok Nel en Tom Waits getrek word: “Het programma brengt een mooie mix van bekende en ervaren dichters met jong talent. Kleppers zijn in elk geval Bart Moeyaert, Joke van Leeuwen en Judith Herzberg. Het wordt ook vooral heerlijk luisteren naar de Zuid-Afrikaanse Tom Waits, Gert Vlok Nel. Deze dichter en singer-songwriter is weinig bekend in onze contreien, maar brengt pakkende liedjes over zijn land en over de liefde. Een absolute aanrader!”

Gewis, ‘n absolute aanrader; mits jy jou in daardie gewestes bevind, natuurlik.

Maar volgens die berig wat onlangs in Die Burger verskyn het, strek die Suid-Afrikaanse bande met dié fees nog selfs verder: “Elke poësieaand word in ‘n ander stad aangebied met huldeblyke aan De Coninck, Gerrit Komrij en Rutger Kopland, digters wie se werk deur Daniel Hugo in Afrikaans vertaal is […] Leonard Nolens en Anna Enquist, albei skrywers wat voorheen gaste van die US Woordfees op Stellenbosch was, is op die program. Delphine Lecompte, ‘n ­digter en blogger op die Versindaba-ruimte, gaan ook optree. In Genk gaan die Versindaba-blogger en digter Astrid Lampe, Joke van Leeuwen en Luuk Gruwez optree. Al drie was almal ­voorheen gaste van die Woordfees.”

Vir jou leesplesier volg die liriek van Gert Vlok Nel se immergroen “Beautiful in Beaufort-Wes”, met as toegif my persoonlike gunsteling daarna.

***

En jy was beautiful in Beaufort-Wes
en ek was so verskrik en verskriklik lief vir jou
en jy het op grafte en op treine
en op Ford Fairlaine se agterseats gevry
en nou is jy en jou man both computer analysts
en laas winter you tried to slit your wrists
en nou kan jy nie meer slaap nie,
nie meer lag nie,
nie meer iets vir jouself doen nie,
nooit ooit weer vir my soen nie

En mooi mooi mooi was jou woorde ook
terwyl jy menthol sigarette rook
en daai sweet sweet dinge vir my sê
terwyl jy sweet sweet in my arms lê
en die presiese woorde het ek presies vergeet
ek onthou net die rook en die sweet in Beaufort-Wes
en jou kaal liggaam onder ‘n cool summer cotton dress
nie meer slaap nie, nie meer lag nie
nie meer iets vir mekaar doen nie
nooit ooit weer vir mekaar soen nie

En dis miskien soos ‘n storie uit die Huisgenoot,
maar jy’t een aand skielik vir my weggestoot
en in die rear view mirror jou gesig gekyk
en gesê “miskien moet ek gelukkiger lyk”
daardie aand kon ek nie aan die slaap raak nie
en het gevoel hoe my hart losruk uit my lyf
en soos ‘n roeiboot in die rivier afdryf
ek kon nie meer slaap nie, nie meer lag nie,
nie meer iets ooit reg doen nie,
nooit ooit weer vir jou soen nie

En die laaste herinnering waaroor ek sing
is die nag toe ek en jy die melktrein aan en aan in die nag in ry
tot anderkant die ding dong gong
van die breakfast waiter in die gang verby
en dit was my wake-up call my lief
jy’t gesê wees asseblief lief vir my
maar ek het gedroom ons het in Beaufort-Wes gaan woon
en ek kon nie meer slaap nie, nie meer lag nie,
nie meer so iets doen nie,
nooit ooit weer vir jou soen nie

© Gert Vlok Nel

***

Rivier

 

Rivier, o rivier jy’s die diepste woord wat ek ken
op jou kon ek vaar na die see & na haar in die hoop
om haar hart te wen, maar woestyn is die woord
waardeur ek moet reis om haar hart te wen

Laasnag het ek in Pretoria geslaap
in die verkeerde stad by die verkeerde vrou
wat gemaak het dat
ek moet reis na jou toe in die Kaap met my hoed
in my hand deur die mees vreesaanjaende land
o my Liefling, kan jy my hoor daar waar jy slaap

Laasnag het ek in Bloemfontein geslaap
was bly ek kon in een dag so ver kom was bly
daar is nog blomme wat hikers optel (wou jou bel)
was bly die liefde gaan my nie verby was bly
dis nog net 1000 km vanaf die Kaap

Laasnag het ek in Colesberg geslaap
oorkant daai garage waar die prostitute wat die lorries bring
omdraai & terug hike na die Kaap ek het deur die lang
nag sommiges gesien
huil ek het enkeles gehoor sing miskien oor die
mixed feelings wat
om om te draai bring

Laasnag het ek in Beaufort-Wes geslaap
in die Wagon Wheel Motel wou jou bel
wou jou vertel ek is droomloos
vuisloos lewensmoeg & het genoeg gehad &
wil vir ewig by jou kom slaap & is nog net
500 km vanaf die Kaap

 

© Gert Vlok Nel

 

Andries Bezuidenhout. Gert se plek: ʼn Bondige geskiedenis van Beaufort-Wes

Friday, August 31st, 2012

Beaufort-Wes – die dorp, die landskap – speel ʼn belangrike rol in Gert Vlok Nel se digbundel om te lewe is onnatuurlik. Beaufort-Wes, aanvanklik bekend as slegs Beaufort, is in 1818 as setel vir ʼn adjunk-landros op die plaas Hooyvlakte aangelê. Die plaas was naby die Nieuweveldbergreeks, waarvan die pieke gereeld in die winter met sneeu bedek is. Dis is in 1760 aan Jacob de Clercq (aanvanklik Le Clercq en later De Klerk) en sy seun Abraham toegeken. Hulle het vooruit geboer, deels weens die Gamkafontein, wat verseker het dat die rivier in daardie tyd standhoudend was, asook vier fonteine in die Kuilsrivier. Abraham de Clercq was ʼn kranige jagter en het op die ouderdom van vyftig reeds “31 leeus en 9 tiers” van kant gemaak. Op die vlaktes het gras, karoobos en ganna gegroei en op die rante granaatbos en noem-noem. Die noordelike gedeeltes van die plaas was ruig, met renosterbos, harpuisbos, kriedoring, rooigras en suurgras. Langs die Gamkarivier het doringbome en wildetabak gegroei. Wild het wyd voorgekom. Daar was voëls soos wilde volstruise, patryse en sekretarisvoëls en bokke soos koedoes, duikers, springbokke, steenbokke, ribbokke en klipspringers, asook kwaggas. Leeus en tiers (meer korrek, luiperds), asook jagluiperds, was volop.

Daar word genoem dat Abraham de Clercq ʼn groot aantal slawe besit het en dat daar ʼn groot Boesmankamp “net wes van die Gamka, bokant die fontein” was. Volgens Vivier en Vivier, wat oor die dorp se geskiedenis geskryf het, sou De Clercq die kamp nie daar “geduld het as die Boesmans nie vir hom gewerk het nie.” Die agtergrond waarteen hierdie stelling gelees moet word, is die aaneenlopende guerrillaoorlog wat tussen koloniste en “Bosjesmans” in die Groot Karoo gevoer is, veral sedert die 1770s, wat van die kommandostelsel en die gepaardgaande gemilitariseerde, wit manlikheid ʼn instelling met ʼn lang aanloop en diep historiese wortels in die Groot Karoo gemaak het. Dis nie toevallig dat De Clercq se ander plaas Bosjesmansberg geheet het nie.

Fischer en Stockenström, as landdroste van Tulbagh en Graaff-Reinet, het met De Clercq onderhandel om die grond te bekom. Die motivering hiervoor was die bekamping van smokkelary, die genoemde konflik en veediefstal, asook algemene wetteloosheid in die Groot Karoo. Erwe is tussen die Gamka- en Kuilsriviere aangelê, tussen en weerskante van Donkin- en Birdstraat. Die twee strate het noord na suid geloop en albei is vernoem na goewerneurs. Leivore het huise van water voorsien en slawe het hul eienaars se wasgoed die rivier gewas.

In 1837, kort na die vrystelling van slawe, het die dorp munisipaliteitstatus gekry. Die eerste bank is in 1854 gestig en ʼn biblioteek in 1861. Koetse en waens het van Kaapstad af Kimberley toe deur Beaufort-Wes gery, ʼn belangrike roete na die ontdekking van diamante in 1871. In 1885 kry die dorp ʼn telegraaflyn en in Februarie 1880 is die spoorwegstasie amptelik geopen. Die koms van die spoorweg en stoomtreine het ingrypende veranderings veroorsaak.

Teen 1881 was daar reeds twaalf woonhuise langs die spoorlyn, oorkant die stasieperron. Dit het aanvanklik as die “Railway Camp”, of Spoorwegkamp, bekend gestaan. Eerste Laan en Tweede Laan is as formele strate aangelê. In 1900 was daar 400 inwoners in die Kamp. In 1917 is Derde tot Sesde Laan aangelê, ook die tyd toe inwoners die naam Hillside begin gebruik het. Van daar het die buurt uitgebrei tot teenaan Stasiekoppie. In 1952 is die NG Kerkgebou ingewei en in 1954 ʼn voorbereidende skool, wat in 1962 as laerskool uitgebrei is. In 1968 is die Eric Louwburg poskantoorgebou oorkant die kerk opgerig. ʼn Spoorlyn, sowel as die Gamkarivier, skei nou die dorp en die Spoorwegkamp.

Volgens Vivier en Vivier is Hillside “eintlik ʼn dorpie op sigself”. Hulle verduidelik verder: “Hoewel dit aan die hoofdorp grens, is dit nie ʼn geproklameerde uitbreiding nie, maar spoorwegeiendom. Al die inwoners is spoorwegmanne, en geen grond word aan die publiek verkoop nie.” In die 1950s kry Hillside dus ʼn eie kerk en ʼn skool. Nuwe strate kry nie meer neutrale syfers as name nie, maar word na politieke figure soos D.F. Malan, Paul Sauer en Eric Louw vernoem, asook die historiese figuur Jan van Riebeeck. Eric Louw as vir jare Beaufort-Wes se parlementslid, asook Minister van Buitelandse Sake, sowel as Ekonomiese Sake. Sy pa was ʼn plaaslike winkeleienaar. Paul Sauer was die Minister van Vervoer. Die Afrikaanse Taal en Kultuurvereniging van die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens speel sedert 1933/4 ʼn aktiewe rol in Beaufort-Wes, sowel as ʼn Voortrekkerkommando, vanaf 1932; die Vroue-Landbouvereniging, ook vanaf 1932; en die Rapportryerskorps, vanaf 1962. Die huise om Paul Sauerstraat se soom is aan die voet van Spoorwegkoppie – ʼn natuurlike grens. In 1961 is die spoorlyn tussen Kaapstad en Beaufort-Wes geëlektrifiseer, maar stoomlokomotiewe word nog tot die laat-1970s gebruik, toe die spoorlyn Kimberley toe ook geëlektrifiseer is. Vir sommige van die spoorlyne het diesellokomotiewe stoomtreine mettertyd vervang. In Gert Vlok Nel se kinderdae is stoomtreine dus nog wyd in gebruik.

Hillside as woonbuurt vir spoorwegwerkers ontstaan dus in 1880. In daardie jaar en in 1881 neem inwoners van die dorp aan die Basotho-oorlog deel. Tot en met 1880 was daar egter ook nie ʼn aparte woonbuurt vir swart inwoners nie. Laasgenoemde het meestal in Birdstraat en Nuwestraat gewoon. Nuwestraat loop parallel met Donkinstraat aan die westekant en het ontstaan toe die Gamkarivier deur ʼn kombinasie van rommelstorting en meer beplande drooglegging verder wes geskuif is. Waar die natuur aanvanklik die dorpsuitleg bepaal het, begin menslike intervensie in die landskap nou natuurlike grense verskuif. In 1880 is die dorp se plaaslike geografie dus nie net deur die ingebruikname van die spoorwegstasie verander nie, maar rasseskeiding is bewustelik toegepas. In daardie jaar is ʼn terrein suid van die dorp, op die Gamka se westelike oewer, uitgelê vir “zwart schepsels”. In 1925 is die gebied formeel as “Bantoe-lokasie” verklaar, “alhoewel die inwoners nog merendeels Kleurlinge was.”

Die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) het ʼn dramatiese impak op die dorp gehad. Beaufort-Wes was ʼn strategiese spoorwegnodus vir die Britse weermag, wat ʼn aantal blokhuise gebou het. Een van hierdie blokhuise staan vandag nog langs ʼn spoorwegbrug ten noorde van die dorp. Die getal Britse troepe, asook hul perde, het waterbronne uitgeput, wat bitterheid veroorsaak het. Boonop is ʼn aantal “ongewenstes”, wat met die Boererepublieke gesimpatiseer het, onder krygswet in die plaaslike tronk en ʼn interneringskamp wes van die spoorwegstasie aangehou. Soos in groot dele van die res van die Kaapkolonie, het die oorlog bitterheid en verdeling onder Afrikaners veroorsaak en bygedra tot die opkoms van nasionalisme.

Die Rebellie van 1914 en die nadraai van die Eerste Wêreldoorlog het verder tot die aanblaas van Afrikanernasionalisme bygedra. Die stigting van ʼn aantal kultuur-politiese organisasies wat hulself vir Afrikanerbelange beywer het, is reeds genoem – die ATKV, die Voortrekkers, ens. Soos in die res van Suid-Afrika, het hierdie bewussyn in die 1930s momentum gekry, deels rondom die eeufeesvieringe van die Slag van Bloedrivier. Alhoewel Beaufort-Wes binne die grense van die destydse Kaapkolonie geval het, is plaaslike mitologieë rondom die dorp se “besonderse verhouding” met die Groot Trek ontwikkel. Hiervolgens het verskeie van die betrokkenes by die Slagtersnek rebellie van 1815 hulself op Beaufort-Wes gevestig, ná hulle uit die Graaff-Reinetdistrik verban is. Hulle sou die kern vorm van ʼn groep boere uit Beaufort-Wes wat aan die Groot Trek deelgeneem het. Saam met bitterheid oor die vroeër gebruik van Engels in die NG Kerk, asook die ontwrigting wat die Anglo-Boereoorlog op die dorp gehad het, het die 1938-vieringe Afrikanernasionalisme in Beaufort-Wes aangewakker. Die aanloop tot die Tweede Wêreldoorlog het hier ook neerslag gevind. Furlong noem byvoorbeeld die vurige anti-Semitisme van iemand soos Eric Louw, ʼn kwessie waaroor Vivier en Vivier eerder swyg.

Tydens die feesvieringe in 1938 is sekere straatname gewysig, waarvan die mees prominente die verandering van Markstraat na Voortrekkerstraat was. In hierdie tyd het die ou dorp verder suid, aan die oostekant van die Gamkarivier se loop uitgebrei na ʼn area genaamd die Lande. Die bure oorkant die rivier, in wat as die Lokasie bekend gestaan het (of Sakkiesbaai, soos dit informeel genoem is), het “ʼn groot bron van ergernis vir die dorp geword.” As gevolg hiervan is daar in 1942 ʼn gebied verder wes as Rustdene, ʼn “Kleurlingbuurt”, wat ook Visblikkies genoem is, uitgelê.

Hierdie ruimtelike segregasie vind plaas voor die Nasionale Party in 1948 aan bewind kom. In Beaufort-Wes is Eric Louw hard aan die werk met die aanloop tot die 1948 verkiesing. Hy skryf ʼn dokument getiteld “Wenke vir huisbesoek”, waarin die “kleurvraagstuk” as die verkiesing se belangrikste kwessie uitgewys word. Die probleem, volgens die dokument, is dat kommunistiese agitators swart mense aanmoedig om uit “kaffer-gebiede” na wit areas te beweeg en dat dit tot “verbastering” sal lei. Wetgewing soos die Groepsgebiedewet (1950) en die Bevolkingsregistrasiewet (1950) trek dus skerper geografiese grense tussen mense en woonbuurte.

In die 1940s en 1950s brei Rustdene verder noord uit, met Nuweland langs die nasionale pad en Newtown aan die oorkant, wat ʼn meer gegoede stratum van die “Kleurling” bevolking huisves. Teen 1968, in die tyd wat Gert Vlok Nel as leerling in sy eerste skooljaar na Beaufort-Wes verhuis, skryf Vivier en Vivier, benewens die feit dat teerstrate vir Rustdene oorweeg word, die volgende: “By ter perse gaan is daar nog 23 nie-blanke gesinne in die blanke gebied woonagtig. Hulle sal na hulle eie milieu verskuif word sodra huise beskikbaar is. So gou doenlik sal ook die oorblywende 155 Kleurlinggesinne in die ou Bantoe-lokasie na Rustdene verhuis.”

In 1963 is die Ossewatrek van 1938 weer op die dorp herdenk, asook ʼn weeklange viering van Republiekwording in 1966. In die 1960s en 1970s word poginge om algehele rasseskeiding op die dorp te bewerkstellig dus geïntensiveer, wat weer tot teenstand vanuit die swart gemeenskap lei. In die 1960s kry Rustdene ʼn aparte munisipaliteit en word openbare geriewe verder geskei. In 1977, byvoorbeeld, kry Rustdene ʼn aparte biblioteek. Regeringsgesinde koerante berig in hierdie tyd hoe Beaufort-Wes kon “spog” met “die enigste hotel vir bruinmense tussen Oudtshoorn en Kimberley”. In hierdie konteks van plaaslike rasseskeiding, haal ʼn netbalwedstryd tussen “blankes” en ʼn “Kleurlingspan” op Beaufort-Wes die nasionale nuus. Die volgende jaar is segregasie in sport weer in die nuus toe Solly Essop, ʼn plaaslike besigheidsman en lid van die Kleurling Verteenwoordigende Raad (KVR) vir Bokkeveld, ʼn krieketwedstryd tussen twee spanne op die krieketveld stopsit, omdat dit deur ʼn “non-racial” span vir ʼn oefening bespreek is. Die saak is vererger deur die feit dat een van die “non-racial” spanne betrokke by die wit krieketliga aangesluit het. In 1978 loods Essop ook ʼn aksie teen aparte geriewe op die stasie en slaag daarin om vir een maand van apartheidsbordjies ontslae te raak, maar word weens hierdie aksie deur die stasiemeester van die stasieperseel verban. In 1979 word Essop die eerste swart lid van die plaaslike hospitaal se bestuursraad en neem onmiddellik die gebrek aan behoorlike geriewe vir swart pasiënte op.

Solly Essop se aksies om sekere elemente van die apartheidsbestel teen te staan word gedoen vanuit ʼn elite posisie. Hy is ʼn gerespekteerde besigheidsman, wat as onafhanklike lid van die KVR, die stelsel teen sigself gebruik. Hy word uit die stasiegebou verban, maar word nogtans uitgenooi om op die hospitaal se raad te dien. Dít alles in die 1970s.

Solly Essop was ʼn belangrike figuur in Beaufort-Wes se plaaslike politiek in die 1970s en 1980s. Hy was egter vol kontradiksies. Hy het ʼn Mercedes en ʼn BMW gehad, met die registrasienommers CZ 2 en CZ 4. Sy huis was in Essopville en was bekend vir die massiewe eetkamertafel. Die familiebesighede het bioskope, drankwinkels, spekulering met eiendom en konstruksiebedrywighede ingesluit. Sy pa het in 1902 uit Indië na Suid-Afrika geëmigreer en homself as sakeman op Beaufort-Wes gevestig. Solly Essop self het na skool ekonomie in Bombaai studeer. Hierna het hy Nelson Mandela en Walter Sisulu bevriend en saam met hulle aan politieke aktiwiteite deelgeneem. Anwar Essop, Solly se seun, het later beweer dat sy pa saam met Mandela, Sisulu en Oliver Tambo in die tronk was. Solly Essop se afkeur in kommunisme het hom egter polities van hulle verwyder. Alhoewel Essop ʼn lid was van die KVR, later ʼn lid van die Arbeidersparty, asook ʼn beroep op die regering gedoen het vir die stigting van ʼn “Kleurlingkorps” op Beaufort-Wes, staan hy in 1980 ʼn klousule in die konstitusie van “Building a Better Society”, ʼn gemeenskapsorganisasie in Beaufort-Wes, teen wat die organisasie eksklusief vir “kleurlinge” sou maak. Dit wys dat Essop tog sensitief was vir die skeiding wat apartheidswetgewing tussen “bruin” en “swart” probeer bring het. In 1981 slaag hy daarin om die dorpsraad te oorreed om R50 000 aan inwoners van die dorp terug te betaal, ná foutiewe meterlesings. In 1981 spreek hy sy teleurstelling uit oor die feit dat die NG Sendingkerk die dorp se Republiekfeesvieringe boikot.

Die 1980s word deur ʼn nuwe tipe politieke aktivisme ingelui, toe 200 jeugdiges uit wat steeds slegs as die “Lokasie” bekend staan, besluit om ʼn opmars na die dorp te hou. Hulle probeer twee keer om die Gamka-brug, wat die wit en swart dele van die dorp skei, oor te steek. Die polisie verwilder hulle met traangas en word met klippe bestook. Volgens ʼn mediaberig is baie van die dorp se wit werkers huis toe om hul vroue aan te sê om hulself met rewolwers te bewapen. By ʼn kafee is ʼn barrikade met aartappelsakke gebou, terwyl die kafee-eienaar die betogers met ʼn haelgeweer ingewag het.

In die 1980s vind daar dus ernstige polarisasie in die dorp plaas. Soos aktivisme teen apartheid toeneem, vind die breër verdeling tussen “verligtes” en “verkramptes” in Afrikanergeledere ook in Beaufort-Wes ʼn inslag. In die “Lokasie” en Rustdene kom daar ook groter verdeling tussen diegene wat aan apartheidsinstellings deelneem en meer radikale bewegings. So byvoorbeeld word die dorp se “Kleurlingbestuurskomitee” in 1981 na ʼn toneeluitvoering ter viering van Republiekwording uitgenooi. Sekere wit dorpsbewoners gee hul kaartjies uit protes terug. Alhoewel die komiteelede die uitvoering bywoon, word die fees deur die NG Sendinggemeente geboikot.

In 1983 is daar sprake van ʼn staking deur padwerkers in Beaufort-Wes, wat deur die General Workers’ Union (GWU), ʼn ongeregistreerde vakbond wat aan die United Democratic Front (UDF) verbonde was, asook deur die Karoo Farm Workers’ Union (KFWU), waarvan niemand anders as Solly Essop die voorsitter was nie, georganiseer is. Die UDF, of ten minste een van die organisasie se vakbonde, is dus reeds teen 1983 aktief op Beaufort-Wes. In Augustus 1984 hou die UDF hul eerste formele byeenkoms op Beaufort-Wes. Die vergadering, in die Rooms-Katolieke Kerksaal in Rustdene, is deur onder andere Louise Boesak en Chris Nissen bygewoon en die Arbeidersparty se deelname aan apartheidsinstellings is skerp gekritiseer.

In 1984 is Solly Essop oorlede en sy seun Anwar (soms as Anver gespel) het, op die ouderdom van 27, sy plek in die verkiesingsveldtog vir die Raad van Verteenwoordigers ingeneem. Hy sou dit egter as een van drie opposisielede van die Demokratiese Arbeidersparty doen. In 1984, waarskynlik in reaksie op die UDF se aktiwiteite, is die “Lokasie” se naam na Sidesaviwa (“daar is na ons geluister”) verander en ʼn Gemeenskapskomitee is verkies om inwoners te verteenwoordig. Die naam sou, volgens die amptelike weergawe, verwys na die feit dat inwoners gevoel het dat daar gehoor gegee is aan hul versoeke om die woongebied op te gradeer. Die wit dorpsraad het moontlik ʼn tikkie ironie gemis, of dalk verkies om dit te ignoreer.

Op 22 Januarie 1985, om 7:30 die oggend, is Mandlenkosi (ook bekend as William) Kratshi, 25 jaar, uitvoerende lid van die UDF se landelike komitee (“rural committee”) deur die polisie by sy huis doodgeskiet. Die polisie het beweer dat hy hulle gebyt het en met ʼn eetvurk aangeval het. Volgens Anwar Essop, wat op die toneel was, het die polisie traangas by die huis ingepomp en toe begin skiet. Kratshi was besig om sy kind te voer. Essop, in sy hoedanigheid as lid van die Raad van Verteenwoordigers vir Nuweveld, het ʼn beroep op die regering gedoen om ʼn volskaalse ondersoek te loods. Kratshi se dood het onmiddellike protesaksie tot gevolg gehad. Die middag van die insident het die polisie ʼn groep betogers met traangas uitmekaar gejaag. ʼn Polisieman, konstabel J. Nappies, se huis is die aand met ʼn petrolbomme bestook en die volgende oggend aan die brand gesteek. Jeugaktiviste het druk op Gemeenskapsraadslede gesit om te bedank. Vier het onmiddellik gehoor gegee, en nadat ʼn tweede huis later die dag aan die brand gesteek is, het die res ingestem. Op 23 Januarie, het Sidesaviwa se hele Gemeenskapsraad dus uit hul poste bedank. Die regering het byeenkomste op die dorp vir ʼn week verbied. Daar is ook besluit om Sidesaviwa na Kwa-Mandlenkosi (“Mandlenkosi se plek”) toe te herdoop.

In Augustus is nog drie huise in Kwa-Mandlenkosi aan die brand gesteek en twee mense is in die hospitaal opgeneem. Na die voorval is Anwar Essop se huis deur die polisie bewaak. Op 17 Augustus is daar besluit om alle wit besighede op die dorp te boikot. Die polisie se reaksie was om aktiviste in hegtenis te neem en sommige moes uit die omgewing vlug. Op 18 Oktober, wat deur inwoners van Kwa-Mandlenkosi “helikopterdag” genoem word, het ʼn seun op een van die gehuggies se dakke geklim en na ʼn polisiehelikopter met sy kettie geskiet. Dit het een van die lemme getref en die helikopter moes ʼn noodlanding doen. Die seun het ʼn plaaslike legende geword.

Op 26 Oktober is Andile Amos Klassen tydens onluste deur die polisie doodgeskiet. Streng beperkings is op die begrafnisreëlings geplaas. Van die besighede het probeer om met die gemeenskap te onderhandel, maar die boikot het nogtans vir ʼn paar maande geduur. Wit besighede se winste het gevolglik met tussen 25% en 50% gedaal. Die situasie op die dorp was so desperaat dat die NG Kerk ʼn beroep op lidmate gedoen het om vir die owerheid te bid. Ten einde laas het die Afrikaanse Sakekamer ingestem om ʼn brief te skryf waarin ʼn beroep op lede gedoen word om diskriminasie in die werksplek tot ʼn einde te bring, insluitende verskillende besoldigingsvlakke vir wit en swart werknemers. Sekere ontwikkelingsprogramme, soos ʼn behuisingsprogram ter waarde van R4 miljoen, is in Kwa-Mandlenkosi geloods. Die boikot is op 7 November 1985 afgelas.

Die Afrikaanse Sakekamer se brief het ʼn onmiddellike verregse reaksie ontlok. ʼn Vergadering van die Afrikaner Weerstandsbeweging (AWB) is goed bygewoon en besigheidsmense wat aan die onderhandelings deelgeneem het, is sekere hotelle op die dorp belet. Tewens, Beaufort-Wes was reeds voor die boikot ʼn paar keer in die nuus weens ras-insidente. In 1984 is die dorp in die nuus toe ʼn hokkiespan van ʼn “veelrassige skool” uit ʼn “onafhanklike tuisland” nie toegelaat word om in die munisipale woonwapark te oornag nie. Ook in 1984 het ene Frikkie Bekker, voorsitter van die Afrikanervolkswag op die dorp, ʼn aksie teen die FAK begin, nadat “’n hele aantal Kleurlinge” aan ʼn kunskompetisie deelgeneem het. Bekker skryf die volgende jaar in ʼn brief aan Die Burger: “Ek het die afgelope vakansie met my gesin in Seepunt vakansie gehou. Die toestande daar het my so geskok dat nie ek of my gesin die heerlike seewater kon geniet nie. Die strande was so oorstroom deur nie-blankes dat die blankes die wyk moes neem. […] Geen ordentlike vrou of kind kan dit meer daar waag nie! Is dit nie ironies om te dink dat die hart van die blankedom, dié strand waar die blankedom gebore is, nou só besoedel word nie?”

In Augustus 1985 het Karoo-park, die Spoorweë se ontspanningsgeriewe, steeds nie “people of colour” toegelaat nie. In 1987, die jaar wat Gert Vlok Nel aan sy digbundel begin skryf, stig die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) ʼn gemeente op die dorp, alhoewel dit klaarblyklik nie groot aftrek kry nie. Ook in 1987, waarskynlik om die verregse reaksie op die dorp teen te werk, ken die dorp ereburgerskap aan die Staatspresident, P.W. Botha toe tydens ʼn onthaal in Karoo-park. In 1988 is die Groot Trek met ʼn hernude ossewatrek gevier en ʼn nuwe monument daarvoor in die hoofstraat opgerig.

In 1988 skiet die polisie vir Jerry Ndishe tydens ʼn arrestasie dood. Daar word weer streng beperkings op die begrafnisreëlings geplaas. In 1989 poog verregse groepe om ʼn veelrassige kleuterskool te sluit en kondig planne aan om ʼn alternatiewe Sakekamer – die Afrikaner-Sakekamer – op die dorp te stig. Frikkie Bekker is by beide hierdie aksies betrokke. Die 1980s op Beaufort-Wes eindig met ʼn protesoptog waaraan 5 000 mense uit Kwa-Mandlenkosi en Rustdene deelneem. ʼn Kerkdiens word gehou en ʼn lys griewe word aan die dorpsraad oorhandig. Hierdie keer is daar geen geweld nie.

Die apartheidsbestel het stadig maar seker, soos die dorp se leuse sê (“Festina Lente”), stoom verloor. As geografiese projek het dit egter die plaaslike landskap op ingrypende wyse herdefinieer. Die dorp se plaaslike geografie is gevolglik deur ʼn kombinasie van faktore bepaal, deels rivierlope, deels rasseskeiding. Vandag beweeg die dorp se wit middelklasse oos, met die N1 langs. Aan Hillside se westekant is ʼn RDP-tipe woonbuurt bygevoeg en aan Restdene se suide ʼn nuwe uitbreiding, genaamd Prince Valley, vernoem na die dorp se kontroversiële munisipale bestuurder Truman Prince. 1990, die jaar toe die ANC ontban is, is ook die laaste jaar waarin Gert Vlok Nel aan sy digbundel werk. Die wêreld waaroor hy skryf is Beaufort-Wes van die 1960s, die 1970s en die laat-1980s – Afrikanernasionalisme se hoogtepunt, maar ook die einde daarvan.

Bronne:

Furlong, Patrick. 2003. “Apartheid, Afrikaner Nationalism and the Radical Right: Historical Revisionism in Hermann Giliomee’s The Afrikaners.” South African Historical Journal, 49(1): 207-222.

Giliomee, H. 2003. The Afrikaners: Biography of a people. Kaapstad: Tafelberg & Charlottesville: University of Virginia Press.

Nel, Gert Vlok. 1993. om te lewe is onnatuurlik. Kaapstad: Tafelberg.

O’Meara, Dan. 1996. Forty lost years: The apartheid state and the politics of the National Party, 1948-1994. Athens: Ohio University Press.

Vivier, W.G.H. en S. Vivier. 1969. Hooyvlakte: Die verhaal van Beaufort-Wes 1818-1968. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.

Koerante: Cape Herald, Beeld, Daily Dispatch, Die Afrikaner, Die Burger, Die Patriot, Die Vaderland, Eastern Province Herald, Rand Daily Mail, Rapport, Rapport Ekstra, Sunday Times, The Argus, The Cape Times, The Citizen, Weekend Argus

Louis Esterhuizen. Gert Vlok Nel het nie brieke nie …

Thursday, October 20th, 2011

Gert Vlok Nel

 

Gert Vlok Nel (foto) se segetog in die Lae Lande het steeds nie brieke nie. So is dit onlangs bekend gemaak dat hy vir die duur van September en Oktober aangestel is as die inwonende skrywer tydens die Wintertuin-letterkundefees in Nijmegen:  “Wintertuin maakt producties die zich op het snijvlak begeven van literatuur en andere kunstdisciplines. Omdat Gert Vlok Nel zowel zijn sporen heeft verdiend met zijn poëzie als met zijn muziek, is hij een zeer inspirerende gast die past binnen het kader van de zogenoemde meervoudige geletterdheid. Het werk van Vlok Nel is een voorloper van de veranderingen binnen de literaire cultuur en heeft invloed uitgeoefend op de jonge Nederlandse poëzie en singer-songwritercultuur. Hij maakt bijzondere producties die de grenzen tussen poëzie en muziek doen vervagen.”

Inderdaad. Nog ‘n verrassende aspek van Gert Vlok Nel se residensieskap is dat dit ook gepaard sal gaan met ‘n staande uitstalling van sy kunswerke; meestal pasteltekeninge wat luidens die berig die Nijmeegse landskap verbeeld. As deel van dié uitstalling word daar ook ‘n aantal van Nel se handgeskrewe verse ten toon gestel.

En dan was daar hoeka gisteraand ‘n spesiale huldiging vir Beaufort-Wes se troebadoer met ‘n program waartydens sangers en digters hulde gebring het aan een van die mees uitsonderlike talente wat nóg in ons taal werksaam was.

Maar, voor ek hierdie skrywe sluit met my gunsteling Gert Vlok Nel-gedig, die volgende aanhaling wat ek van die Wintertuin se amptelike-webblad af neem: Je zou hem willen knuffelen, dit ontwapenende beertje uit de Zuid-Afrikaanse streek de Karoo, vanwege zijn onhandige bescheidenheid en zijn vermogen een wereld op te roepen die ondanks zoveel schoonheid ook zoveel pijn bevat. Zo ver weg klinkt de muziek van Gert Vlok Nel, en tegelijkertijd zo dichtbij.”

Gaan kyk gerus, daar is ook enkele videogrepe op dié webblad om jou aan te verlekker.

Hieronder volg die gedig met die dieptste van diep woorde:

*** 

Rivier

 

Rivier, o rivier jy’s die diepste woord wat ek ken
op jou kon ek vaar na die see & na haar in die hoop
om haar hart te wen, maar woestyn is die woord
waardeur ek moet reis om haar hart te wen

Laasnag het ek in Pretoria geslaap
in die verkeerde stad by die verkeerde vrou
wat gemaak het dat
ek moet reis na jou toe in die Kaap met my hoed
in my hand deur die mees vreesaanjaende land
o my Liefling, kan jy my hoor daar waar jy slaap

Laasnag het ek in Bloemfontein geslaap
was bly ek kon in een dag so ver kom was bly
daar is nog blomme wat hikers optel (wou jou bel)
was bly die liefde gaan my nie verby was bly
dis nog net 1000 km vanaf die Kaap

Laasnag het ek in Colesberg geslaap
oorkant daai garage waar die prostitute wat die lorries bring
omdraai
& terug hike na die Kaap ek het deur die lang
nag sommiges gesien
huil ek het enkeles gehoor sing miskien oor die
mixed feelings wat
om om te draai bring

Laasnag het ek in Beaufort-Wes geslaap
in die Wagon Wheel Motel wou jou bel
wou jou vertel ek is droomloos
vuisloos lewensmoeg & het genoeg gehad &
wil vir ewig by jou kom slaap & is nog net
500 km vanaf die Kaap

 

© Gert Vlok Nel

 

 

Andries Bezuidenhout. Die jaar 1999, eindes en beginne

Tuesday, August 3rd, 2010

1999 is die laaste jaar van die vorige millennium. Die Euro kom tot stand as Europa se nuwe geldeenheid en Hugo Chavez word as Venezuela se president verkies. Gunter Grass wen die Nobelprys vir letterkunde. Daar’s oorlog in Suid-Oos Europa en Thabo Mbeki word Suid-Afrika se president. Allan Boesak word tronk toe gestuur en Edwin Cameron kondig aan dat hy HIV-positief is. Julius Nyerere sterf in Oktober. J.M. Coetzee publiseer Disgrace en Ronelda Kamfer skryf matriek. Gerrit Komrij publiseer sy bloemlesing Die Afrikaanse poësie in ‘n duisend en enkele gedigte.

In 1999 spandeer ek baie tyd by myne in Carletonville, waar ek navorsing vir die National Union of Mineworkers (NUM) doen. Ek dink gereeld aan André Letoit se lied “Swart Transvaal”, waarin hy sing van “ideale” wat “val soos Carletonville…” Ek neem aan hy verwys na die sinkgate, wat ontstaan omdat myne al die grondwater uitpomp.

Op 12 Desember sterf Joseph Heller. Ek teken portrette van Etienne Leroux by Haroldsbaai, waar ons ʼn woonstelletjie huur. Die woonstel is aan ʼn eenvoudige kerkgebou vas. Ons slaap met die venster oop. Die see is reg voor ons. Ons dink nie aan Y2K nie.

Ek lees op die oomblik Terry Eagleton se boek How to read a poem (Blackwell, 2008). Sy definisie vir ʼn gedig: “A poem is a fictional, verbally inventive moral statement in which it is the author, rather than the printer or word processor, who decides where the lines should end.” Ek lees die boek na aanleiding van ʼn gesprek gister, in Stellenbosch, oor vorm en inhoud en die spanning tussen die twee.

Oujaar 1999 moes ons reeds terug gewees het in Johannesburg. Ek onthou ʼn partytjie in Pretoria, teen Muckleneuk se heuwel. ʼn Uitsig oor die Uniegeboue. Ek maak klankkassette vir die geleentheid: Meestal dansmusiek, maar met grepe uit D.F. Malan se “Afrikaner quo vadis” toespraak (“Afrikaner, quo vadis, waar gaan jy heen?”), die liedjie “Daan Desimaal” (wat oor die radio gespeel is toe Suid-Afrika die metriekestelsel in 1960 geïmplementeer het), en ʼn radio-onderhoud met Mev. Ameels, die eienares van die hotel op Laingsburg, wat vertel van die vloed destyds in die 1980s.

Eagleton skryf oor hoe “ondervinding” gekommodifiseer word tot “‘n ondervinding” – iets wat jy verbruik. Elders in die boek skryf hy:

“There is a politics of form as well as a politics of content. Form is not a distraction from history but a mode of access to it. A major crisis in artistic form – let’s say the shift from realism to modernism in the late nineteenth and early twentieth centuries – is almost always bound up with an historical upheaval. In this case, the upheaval in question was the period of economic and political turmoil which culminated in the First World War. This is not to claim that modernism was no more than a symptom of something else. But a deep enough crisis of cultural form is usually an historical crisis as well.”

Ek dink weer oor die reaksie destyds op Gert Vlok Nel se digbundel om te lewe is onnatuurlik. Dis merkwaardig tot hoe ʼn mate resensente op vorm gekonsentreer het, meer so as inhoud. Charl-Pierre Naudé se Die nomadiese oomblik word in dieselfde tyd gepubliseer. Hy werk met die sonnet as vorm, maar buig en breek dit. Ek dink ek sal moet teruggaan en kyk hoe resensente dit evalueer het. Gegewe Eagleton se stelling oor vorm en historiese krisis (seker “oorgang” ook), kan dit dalk insiggewend wees en kan ons dalk ook huidige struwelinge oor vorm beter verstaan.

Weer Oujaar 1999. Twee vriende snuif kokaïen in die badkamer en vra mekaar om te trou. Hulle val in die roosbedding. Ons trek soos figure uit die twintigste eeu aan. Irma is Koningin Victoria, Karien is Che Guevara, Wessel is Lenin, en ek is Albert Einstein. Op 1 Januarie 2000 sukkel ek om die koeke uit my hare te kry, omdat Irma dit getease het om soos Einstein s’n regop te staan.

Andries Bezuidenhout. Hoe 1993 in 2010 lyk

Tuesday, July 27th, 2010

Ek lees weer Gert Vlok Nel se digbundel om te lewe is onnatuurlik. Dis in 1993 gepubliseer, die jaar voor die verkiesing. Hoe het dit gevoel om in 1993 te wees? Dalk moet ʼn mens ʼn aanloop vat. In Januarie 1992 is Paul Simon die eerste groot internasionale kunstenaar wat Suid-Afrika toe kom na die kulturele boikot. Ons ry van Pretoria af Johannesburg toe – met Smitstraat langs tot by Ellispark – om hom te sien optree. In Maart daardie jaar gaan stem ek in die laaste wit referendum, om apartheid te beëindig. Ek wroeg oor die spesifieke bewoording, maar pragmatisme kry die oorhand. Ek stem “ja”.

Op 17 Junie word 46 mense by Boipatong doodgemaak, klaarblyklik ʼn skermutseling tussen die ANC en Inkatha. Op 7 September word 29 mense by Bisho (nou “Bhisho”) doodgeskiet. Op Kersdag sterf Helen Joseph. In Desember daardie jaar en Januarie die volgende jaar teken ek prente. Ek kan nie onthou waar ek was nie. Swakopmund?

Alhoewel om te lewe is onnatuurlik in 1995 met die Ingrid Jonkerprys bekroon is, kan ʼn mens ʼn sekere mate van ambivalensie bespeur in die onmiddellike reaksie deur resensente; ofskoon daar oorwegend positief oor die bundel geskryf is.

Volgens A.P. Grové maak “onkonvensionele taalgebruik, selfs taalvervorming op baie plekke; die abrupte onderbreking van ʼn gedagtegang; halfvoltooide sinne met gepaardgaande afwykende interpunksie; hebbelikheidjies soos byvoorbeeld die moeilik regverdigbare vervanging deurgaans van ‘’n’ met ‘i’ en ʼn fonetiese skryfwyse wat soms die leser dwing om vooraf te transkribeer,” dat om te lewe is onnatuurlik “met die eerste kennismaking… nie ʼn leser-vriendelike indruk maak nie.” Hy het dit ook teen “taalspeletjies” waarvan “die poëtiese wins tog erg beperk is.” Gert Vlok Nel blyk, volgens Grové, “hom op verskillende maniere teen konvensie [te] verset in ʼn poging om die kreatiewe vermoë van die taal te verhoog; om as ‘t ware ʼn nuwe stuk werklikheid uit die taal te pers.”

Ten spyte van “eksesse”, slaag Gert Vlok Nel tog, volgens Grové, tot ʼn mate daarin om sekere situasies in die taal voelbaar te maak: “Die taal beskryf nie slegs nie, dit produseer ook.” Alle gedigte is nie so “vreemdmakend” nie, skryf hy, met “meer as een goeie gedig” in die bundel “wat wys dat hy [Gert Vlok Nel] dit ook met ʼn meer konvensionele werkswyse kan klaarspeel.” Alhoewel baie van die gedigte anekdoties is, is dit nie slegs “eenvoudige spoorwegstories” nie; ʼn ryk plaaslike konteks en ʼn netwerk van persoonlikhede maak dat “die bundel byna die vorm van ʼn familiekroniek aanneem, ʼn kroniek wat van opwinding en teleurstelling vertel, van spanning en dood en van verydelde verwagtings”. Grové verwys ook positief na die gebruik van onderbeligting en hoe ʼn opeenstapeling van digterlike irrelevansies dramaties ingespan word.

Petra Müller, in ʼn oorweldigend positiewe resensie (“[d]it slaan jou asem weg”, “so opwindend soos ʼn grasbrand”, “‘n moerse liefdesdigter”), verwys na die feit dat Gert Vlok Nel in praattaal skryf, maar dit steeds regkry om daardie taal terug te dwing na die “‘verhoogde spraak’ wat die poësie eintlik maar is.” Sy beskryf die gedigte as “[o]nvergeetlike taferele uit die gewone bestaan wat al hoe vreemder word hoe langer jy aan hulle lees.” Alhoewel Nel se tegniek argeloos voorkom, skryf Müller, het hy by “die beste leermeesters” geleer – spesifiek Ezra Pound en e.e. cummings. Haar besware is egter dat die “leermeesters” soms té sigbaar is, dat die versreëls soms te arbitrêr afgebreek word en dat van die gedigte te kripties is. Sy wys ook daarop dat die bundel baie dun is.

T.T. Cloete waardeer ook die feit dat die spreektaal in die bundel bedrieglik eenvoudig voorkom, maar by nadere ondersoek die onderskeid wat mense tussen “natuurlik-onnatuurlik, spontaan-bedag, beplan-onbeplan” tref, kunsmatig laat voorkom. Cloete beskryf die gedigte as “visueel skerp” en waardeer Nel se vermoë om die bekende en alledaagse vreemd te laat voorkom. Volgens Cloete slaag Nel ook daarin om sy tegniek te “verdoesel”. “[H]oe gemaklik die gedigte ook al lyk, hulle is gewoonlik goed afgerond,” skryf hy. Cloete voel egter dat die vertelswyse soms maak dat die leser die “vertelsel” onthou, eerder as die “vertelde”, hoofsaaklik weens leë slotte en die vassteek van gedigte in die triviale. Die eenvormige andersheid van die gedigte in die bundel gee dit ook ʼn “taamlike eenselwigheid”. Alhoewel nie die reël in die bundel nie, “verloop” sommige verse “in die prosaïese”.

In sy resensie verwys John Kannemeyer eers na die feit dat Gert Vlok Nel se werk as sekuriteitsbeampte by die Universiteit van Stellenbosch hom ʼn onwaarskynlike digter maak, veral binne die ʼn konteks waarin die meeste Afrikaanse digters ook letterkundiges is: “[D]ie publikasie van Nel se debuutbundel herinner ons opnuut daaraan dat ʼn professoraat in die literatuur nog geen waarborg vir goeie poësie is nie, net so min as ʼn betrekking by die Stellenbosse kampusbeheer ʼn ‘dom’ digter of ʼn poësie van handearbeid veronderstel.”

“Nel beskik oor die oor die nodige berekende sluheid om sy domheid literêr aanvaarbaar te maak,” skryf Kannemeyer, en wys op die literêre tradisie wat agter die bundel se rou realisme skuil, spesifiek verwysings na “Tram-ode”, “Karoo-dorp: Someraand” en Joernaal van Jorik, asook die gebruik van “i” in plaas van “‘n” as verwysing na e.e. cummings; ʼn feit wat Gert Vlok Nel dan ook twee weke voor die publikasie van Kannemeyer se resensie in ʼn onderhoud in Die Burger genoem het. In die onderhoud noem Nel ook invloede soos Robert Lowell en Dylan Thomas, en verwys in ʼn latere onderhoude na Alan Ginsberg en Philip Larkin.

Nietemin, ten spyte van Gert Vlok Nel se verwysingsraamwerk, asook “fraai momente en die bekoorlike ruheid waaraan Nel ons in gedig ná gedig voorstel,” voel Kannemeyer dat “die grootste deel van [die] bundel poëties nog te onaf en te rou is en dat in die meeste verse die nodige bindingselemente ontbreek om hulle tot bevredigende eenhede te heg”.

Bernard Odendaal wys daarop dat ander resensente die gedigte as rammelrig, onbenullig, of raaiselagtig beskou het, ʼn oordeel waarmee hy slegs gedeeltelik saamstem. Hy vind die feit dat tragiese situasies op nie-emosionele wyse onderspeel word as een van die bundel se “onthutsende” eienskappe: “Die taal word in die proses op talle wyses verwring om dié wêreld en sy karakters so outentiek of konkreet moontlik weer te gee. Standaard hooflettergebruik, spelling, interpunksie en sinsbou word op verskeie wyses aangetas, byvoorbeeld om die natuurlike spraak van die ongesofistikeerde sprekers na te boots, of om ʼn staat van intense emosionaliteit te suggereer.” Temas word soms met ʼn “grinterige humor” uitgebeeld en, ten spyte van die feit dat die bundel “‘n bietjie monotoon” is, waardeer Odendaal ook ʼn aantal “aantreklike liefdesgedigte”.

In ʼn literêre rubriek reageer Joan Hambidge op die bemarking van die bundel deur die uitgewers as ʼn nuwe stem wat “vars en onaangetas [is] deur enige literêre mode,” asook die feit dat die uitgewers hom bemark “as ʼn werksersklasdigter.” Sy verwys onder andere na hoe Nel verwys na N.P. van Wyk Louw se “Karoo-dorp: someraand” en voer aan dat hy ʼn berekende digterlike spel speel. Sy haal ook Nel se universiteitsopleiding op.

Gerrit Olivier voel dat, alhoewel Gert Vlok Nel ʼn vars stem het, hy “soms te hard probeer om onpresies te klink.” Die plattelandse agterplase en kombuise wat Nel bespreek herinner Olivier soms aan die Amerikaanse sanger Tom Waits. Soms ontstaan daar in die bundel “‘n eie sfeer van segging”, maar digterlike “fraaihede” en geleerde terme veroorsaak ʼn “onopgeloste registerprobleem”.

Temas wat in hierdie resensies voorkom is Gert Vlok Nel se skrywerspersona (as sekuriteitsbeampte met die publikasie, ʼn gegewe wat klaarblyklik deur die uitgewers gebruik is om die bundel te bemark), Beaufort-Wes en die wit werkersklas as konteks, die geslaagdheid al dan nie van die benadering tot digterlike konvensies, asook temas soos die liefde, dood, teleurstelling en onvervulde drome as deel van persoonlike verhale. Baie van die resensente het ook die hoop uitgespreek dat Gert Vlok Nel spoedig nog ʼn digbundel sou publiseer, iets wat tot op hede nog nie gebeur het nie.

Die jaar 1993 was ʼn donker jaar. Chris Hani word op 9 April voor sy huis vermoor. Op 24 April sterf Oliver Tambo weens beroerte. In Junie sterf elf mense in die burgeroorlog in Natal, by Estcourt. Vele ander word in die konflik doodgemaak. Bespiegelinge oor ʼn “Derde Mag”. APLA vermoor elf mense in ʼn kerk in Kenilworth, Kaapstad. In Desember vermoor hulle nog vier mense in Observatory in Kaapstad, hierdie keer in ʼn kroeg.

Daar is 26 gedigte in om te lewe is onnatuurlik. Dis merkwaardig dat 26 gedigte soveel reaksie uitgelok het. Ek wonder oor die stand van die digkuns in 2010. Ek wonder hoe ons in 2027 gaan terugkyk na digbundels wat rondom 2010 gepubliseer is. Hoe gaan ons kyk na die resensies wat rondom 2010 geskryf is? Watter van die bundels gaan ons weer lees?

Verwysings:

Cloete, T.T. “Nel lewer ʼn verrassende en welkome nuwe digbundel.” Beeld, 2 Augustus 1993, p. 8.

Grové, A.P. “Om te dig is óók onnatuurlik.” Insig, 30 Junie 1993, p. 3.

Hambidge, Joan. “Oorspronklikheid is ʼn mite: Kan enige digter ‘onaangetas’ of ‘vars’ wees?” Beeld, 26 Mei 1994, p. 13.

Kannemeyer, J.C. “Playboy-digter is slim van ‘dommigheid’.” Rapport, 8 Augustus 1993, p. 18.

Müller, Petra. “Pit van die liefde in debuut: Ontploffing van poësie wat die gewone mens verstaan.” Die Burger, 3 Augustus 1993, p. 7.

Nel, Gert Vlok. 1993. om te lewe is onnatuurlik. Kaapstad: Tafelberg.

Odendaal, Bernard. “Debuut is ‘ontstemmende, eenvoudige spookstories.” Volksblad, 29 Augustus 1994, p. 6.

Oliver, Gerrit. 1994. “Die stemme van digters.” Insig, 54: 42-45.

Steyn, Suzaan. “Gedigte uit die spoorwegwerf.” Die Burger, 23 Julie 1993, p. 7.

Wasserman, Herman. “Sy woorde sing soos wind deur stasie se kragdrade.” Beeld, 18 April 1997, p. 4.

Willoughby, Guy.  “The remaking of Afrikaans poetry.” The Star, 26 Januarie 1998, p. 6.

Andries Bezuidenhout. In die knypers van uiters gevorderde robotiese tuie

Thursday, July 15th, 2010
Buffelsbaai, 1990

Buffelsbaai, 1990

Ek sit in Pretoria, dink aan see. Spesifiek Breyten Breytenbach se “Septembersee” – die “see sonder tornyne”, die “see sonder skop”. Mark Behr haal die gedig aan in sy boek Kings of the water. Ek het dit onlangs op Irma se aandrang gelees, ook gaan luister wat Mark Behr daaroor sê by die Boekehuis in Aucklandpark. Hy’t ʼn mus opgehad, gepraat oor sy sessies by die psigoterapeut.

Hy sê hy moes hom indink in die skoene van die mense wat hy veraai het. Hy sê hy’s gelukkig, want daardie mense kon terugpraat, hom konfronteer met wat hy gedoen het. En hulle is sterk mense. Dit help met die helingsproses.

Irma wil weet wat gebeur as die mense wat ons veraai het nie sterk is nie, nie herstel nie.

ʼn Briefie beland in my posbus, van die gawe mense wat ons rekenaarnetwerke administreer. “Soos u bewus is,” skryf hulle, “is daar tans beperkte internasionale bandwydte beskikbaar as gevolg van ‘n fout met die SEACOM ondersee optiese vesel… SEACOM se beraamde tydsduur vir die herstel van die ondersee optiese vesel, is op die stadium 22 Julie 2010…”

O, goeiste!

Die brief verduidelik verder: “Die verlengde tydsduur is weens die feit dat die fout blyk te wees met ‘n segment van die vesel wat meer as 4700 meter onderseevlak lê, en dat uiters gevorderde robotiese tuie gebruik word om dele van die herstelwerk uit te voer, voor die vesel vanaf die seebed gelig word vir finale herstelwerk.”

Dit klink soos iets uit ʼn toekomsfliek uit die sestigs. Flash Gordon, of iets. Of was dit die tagtigs?

Ek verbeel my die uiters gevorderde robotiese tuie, amper vyf kilometer onder die see se oppervlak. Die uiters gevorderde robotiese tuie se knypers vroetel in die seebed se sand.

“Waar’s die f****n optiese kabel nou weer, Mathilda?”

“Moenie my vra nie, Arnoldus, dis jy wat dit jare gelede hier begrawe het!”

“Moet jou nie swaksinnig hou nie, jy weet dit was my vorige model”

“Sug…”

Dis lekker om weer amptelike briewe in Afrikaans te ontvang, met sinsnedes soos “uiters gevorderde robotiese tuie.” Lees dit hardop. Herhaal. Nou kort dit net ʼn stel tromme en ʼn baskitaar, dalk ʼn DJ wat scratch:

uiters gevorderde robotiese tuie
vir die see se koue dra hulle truie

uiters gevorderde robotiese tuie
werk ondersee aan optiese vesel

uiters gevorderde robotiese tuie
vir stip konsentrasie rook hulle kruie

uiters gevorderde robotiese tuie
werk aan optiese vesel ondersee

uiters gevorderde robotiese tuie
vir onderwaterasem kou hulle uie

uiters gevorderde robotiese tuie
werk ondersee aan optiese vesel

Ek lees weer Gert Vlok Nel se enigste digbundel. Ek dink aan “desember & see” op bladsy 13. Dit eindig só:

5-uur het ons verwater & wild op die strand uitgehol,
jeans & truie, saam met windsurfers in wetsuits. dit
was haunting. hemel & fokken aarde toegewrap in wolk. ons
was gou warm, t.s.v. die kak drizzle. ek
wou iets (die oggend) vergestalt in rots of rym
maar het alreeds alles weggegee
aan herinnering & pyn

Ek dink oor Mark Behr. Ek is die laaste persoon wat klippe in sy rigting kan gooi. Ek moes ook dinge uitskryf.

Wat sou Gert en sy broer Attie sê as uiters gevorderde robotiese tuie skielik uit die see te voorskyn sou tree, met die optiese vesel in hul kloue wat hierdie gemompel van my rekenaar na joune toe moet dra?

Dis dalk oor die vesels dat my Skype nie werk nie, hoekom ek so afgesny voel. Die teenoorgestelde van die exile waaroor Breyten Breytenbach destyds in “Septembersee” geskryf het. En hier in Pretoria is nie eers ʼn see nie.