Posts Tagged ‘Gert Vlok Nel’
Thursday, October 20th, 2011

Gert Vlok Nel (foto) se segetog in die Lae Lande het steeds nie brieke nie. So is dit onlangs bekend gemaak dat hy vir die duur van September en Oktober aangestel is as die inwonende skrywer tydens die Wintertuin-letterkundefees in Nijmegen: ”Wintertuin maakt producties die zich op het snijvlak begeven van literatuur en andere kunstdisciplines. Omdat Gert Vlok Nel zowel zijn sporen heeft verdiend met zijn poëzie als met zijn muziek, is hij een zeer inspirerende gast die past binnen het kader van de zogenoemde meervoudige geletterdheid. Het werk van Vlok Nel is een voorloper van de veranderingen binnen de literaire cultuur en heeft invloed uitgeoefend op de jonge Nederlandse poëzie en singer-songwritercultuur. Hij maakt bijzondere producties die de grenzen tussen poëzie en muziek doen vervagen.”
Inderdaad. Nog ‘n verrassende aspek van Gert Vlok Nel se residensieskap is dat dit ook gepaard sal gaan met ‘n staande uitstalling van sy kunswerke; meestal pasteltekeninge wat luidens die berig die Nijmeegse landskap verbeeld. As deel van dié uitstalling word daar ook ‘n aantal van Nel se handgeskrewe verse ten toon gestel.
En dan was daar hoeka gisteraand ‘n spesiale huldiging vir Beaufort-Wes se troebadoer met ‘n program waartydens sangers en digters hulde gebring het aan een van die mees uitsonderlike talente wat nóg in ons taal werksaam was.
Maar, voor ek hierdie skrywe sluit met my gunsteling Gert Vlok Nel-gedig, die volgende aanhaling wat ek van die Wintertuin se amptelike-webblad af neem: “Je zou hem willen knuffelen, dit ontwapenende beertje uit de Zuid-Afrikaanse streek de Karoo, vanwege zijn onhandige bescheidenheid en zijn vermogen een wereld op te roepen die ondanks zoveel schoonheid ook zoveel pijn bevat. Zo ver weg klinkt de muziek van Gert Vlok Nel, en tegelijkertijd zo dichtbij.”
Gaan kyk gerus, daar is ook enkele videogrepe op dié webblad om jou aan te verlekker.
Hieronder volg die gedig met die dieptste van diep woorde:
***
Rivier
Rivier, o rivier jy’s die diepste woord wat ek ken
op jou kon ek vaar na die see & na haar in die hoop
om haar hart te wen, maar woestyn is die woord
waardeur ek moet reis om haar hart te wen
Laasnag het ek in Pretoria geslaap
in die verkeerde stad by die verkeerde vrou
wat gemaak het dat
ek moet reis na jou toe in die Kaap met my hoed
in my hand deur die mees vreesaanjaende land
o my Liefling, kan jy my hoor daar waar jy slaap
Laasnag het ek in Bloemfontein geslaap
was bly ek kon in een dag so ver kom was bly
daar is nog blomme wat hikers optel (wou jou bel)
was bly die liefde gaan my nie verby was bly
dis nog net 1000 km vanaf die Kaap
Laasnag het ek in Colesberg geslaap
oorkant daai garage waar die prostitute wat die lorries bring
omdraai
& terug hike na die Kaap ek het deur die lang
nag sommiges gesien
huil ek het enkeles gehoor sing miskien oor die
mixed feelings wat
om om te draai bring
Laasnag het ek in Beaufort-Wes geslaap
in die Wagon Wheel Motel wou jou bel
wou jou vertel ek is droomloos
vuisloos lewensmoeg & het genoeg gehad &
wil vir ewig by jou kom slaap & is nog net
500 km vanaf die Kaap
© Gert Vlok Nel
Tuesday, August 3rd, 2010
1999 is die laaste jaar van die vorige millennium. Die Euro kom tot stand as Europa se nuwe geldeenheid en Hugo Chavez word as Venezuela se president verkies. Gunter Grass wen die Nobelprys vir letterkunde. Daar’s oorlog in Suid-Oos Europa en Thabo Mbeki word Suid-Afrika se president. Allan Boesak word tronk toe gestuur en Edwin Cameron kondig aan dat hy HIV-positief is. Julius Nyerere sterf in Oktober. J.M. Coetzee publiseer Disgrace en Ronelda Kamfer skryf matriek. Gerrit Komrij publiseer sy bloemlesing Die Afrikaanse poësie in ‘n duisend en enkele gedigte.
In 1999 spandeer ek baie tyd by myne in Carletonville, waar ek navorsing vir die National Union of Mineworkers (NUM) doen. Ek dink gereeld aan André Letoit se lied “Swart Transvaal”, waarin hy sing van “ideale” wat “val soos Carletonville…” Ek neem aan hy verwys na die sinkgate, wat ontstaan omdat myne al die grondwater uitpomp.
Op 12 Desember sterf Joseph Heller. Ek teken portrette van Etienne Leroux by Haroldsbaai, waar ons ʼn woonstelletjie huur. Die woonstel is aan ʼn eenvoudige kerkgebou vas. Ons slaap met die venster oop. Die see is reg voor ons. Ons dink nie aan Y2K nie.

Ek lees op die oomblik Terry Eagleton se boek How to read a poem (Blackwell, 2008). Sy definisie vir ʼn gedig: “A poem is a fictional, verbally inventive moral statement in which it is the author, rather than the printer or word processor, who decides where the lines should end.” Ek lees die boek na aanleiding van ʼn gesprek gister, in Stellenbosch, oor vorm en inhoud en die spanning tussen die twee.
Oujaar 1999 moes ons reeds terug gewees het in Johannesburg. Ek onthou ʼn partytjie in Pretoria, teen Muckleneuk se heuwel. ʼn Uitsig oor die Uniegeboue. Ek maak klankkassette vir die geleentheid: Meestal dansmusiek, maar met grepe uit D.F. Malan se “Afrikaner quo vadis” toespraak (”Afrikaner, quo vadis, waar gaan jy heen?”), die liedjie “Daan Desimaal” (wat oor die radio gespeel is toe Suid-Afrika die metriekestelsel in 1960 geïmplementeer het), en ʼn radio-onderhoud met Mev. Ameels, die eienares van die hotel op Laingsburg, wat vertel van die vloed destyds in die 1980s.
Eagleton skryf oor hoe “ondervinding” gekommodifiseer word tot “‘n ondervinding” - iets wat jy verbruik. Elders in die boek skryf hy:
“There is a politics of form as well as a politics of content. Form is not a distraction from history but a mode of access to it. A major crisis in artistic form - let’s say the shift from realism to modernism in the late nineteenth and early twentieth centuries - is almost always bound up with an historical upheaval. In this case, the upheaval in question was the period of economic and political turmoil which culminated in the First World War. This is not to claim that modernism was no more than a symptom of something else. But a deep enough crisis of cultural form is usually an historical crisis as well.”
Ek dink weer oor die reaksie destyds op Gert Vlok Nel se digbundel om te lewe is onnatuurlik. Dis merkwaardig tot hoe ʼn mate resensente op vorm gekonsentreer het, meer so as inhoud. Charl-Pierre Naudé se Die nomadiese oomblik word in dieselfde tyd gepubliseer. Hy werk met die sonnet as vorm, maar buig en breek dit. Ek dink ek sal moet teruggaan en kyk hoe resensente dit evalueer het. Gegewe Eagleton se stelling oor vorm en historiese krisis (seker “oorgang” ook), kan dit dalk insiggewend wees en kan ons dalk ook huidige struwelinge oor vorm beter verstaan.
Weer Oujaar 1999. Twee vriende snuif kokaïen in die badkamer en vra mekaar om te trou. Hulle val in die roosbedding. Ons trek soos figure uit die twintigste eeu aan. Irma is Koningin Victoria, Karien is Che Guevara, Wessel is Lenin, en ek is Albert Einstein. Op 1 Januarie 2000 sukkel ek om die koeke uit my hare te kry, omdat Irma dit getease het om soos Einstein s’n regop te staan.
Tuesday, July 27th, 2010
Ek lees weer Gert Vlok Nel se digbundel om te lewe is onnatuurlik. Dis in 1993 gepubliseer, die jaar voor die verkiesing. Hoe het dit gevoel om in 1993 te wees? Dalk moet ʼn mens ʼn aanloop vat. In Januarie 1992 is Paul Simon die eerste groot internasionale kunstenaar wat Suid-Afrika toe kom na die kulturele boikot. Ons ry van Pretoria af Johannesburg toe - met Smitstraat langs tot by Ellispark - om hom te sien optree. In Maart daardie jaar gaan stem ek in die laaste wit referendum, om apartheid te beëindig. Ek wroeg oor die spesifieke bewoording, maar pragmatisme kry die oorhand. Ek stem “ja”.
Op 17 Junie word 46 mense by Boipatong doodgemaak, klaarblyklik ʼn skermutseling tussen die ANC en Inkatha. Op 7 September word 29 mense by Bisho (nou “Bhisho”) doodgeskiet. Op Kersdag sterf Helen Joseph. In Desember daardie jaar en Januarie die volgende jaar teken ek prente. Ek kan nie onthou waar ek was nie. Swakopmund?

Alhoewel om te lewe is onnatuurlik in 1995 met die Ingrid Jonkerprys bekroon is, kan ʼn mens ʼn sekere mate van ambivalensie bespeur in die onmiddellike reaksie deur resensente; ofskoon daar oorwegend positief oor die bundel geskryf is.
Volgens A.P. Grové maak “onkonvensionele taalgebruik, selfs taalvervorming op baie plekke; die abrupte onderbreking van ʼn gedagtegang; halfvoltooide sinne met gepaardgaande afwykende interpunksie; hebbelikheidjies soos byvoorbeeld die moeilik regverdigbare vervanging deurgaans van ‘’n’ met ‘i’ en ʼn fonetiese skryfwyse wat soms die leser dwing om vooraf te transkribeer,” dat om te lewe is onnatuurlik “met die eerste kennismaking… nie ʼn leser-vriendelike indruk maak nie.” Hy het dit ook teen “taalspeletjies” waarvan “die poëtiese wins tog erg beperk is.” Gert Vlok Nel blyk, volgens Grové, “hom op verskillende maniere teen konvensie [te] verset in ʼn poging om die kreatiewe vermoë van die taal te verhoog; om as ‘t ware ʼn nuwe stuk werklikheid uit die taal te pers.”
Ten spyte van “eksesse”, slaag Gert Vlok Nel tog, volgens Grové, tot ʼn mate daarin om sekere situasies in die taal voelbaar te maak: “Die taal beskryf nie slegs nie, dit produseer ook.” Alle gedigte is nie so “vreemdmakend” nie, skryf hy, met “meer as een goeie gedig” in die bundel “wat wys dat hy [Gert Vlok Nel] dit ook met ʼn meer konvensionele werkswyse kan klaarspeel.” Alhoewel baie van die gedigte anekdoties is, is dit nie slegs “eenvoudige spoorwegstories” nie; ʼn ryk plaaslike konteks en ʼn netwerk van persoonlikhede maak dat “die bundel byna die vorm van ʼn familiekroniek aanneem, ʼn kroniek wat van opwinding en teleurstelling vertel, van spanning en dood en van verydelde verwagtings”. Grové verwys ook positief na die gebruik van onderbeligting en hoe ʼn opeenstapeling van digterlike irrelevansies dramaties ingespan word.
Petra Müller, in ʼn oorweldigend positiewe resensie (”[d]it slaan jou asem weg”, “so opwindend soos ʼn grasbrand”, “‘n moerse liefdesdigter”), verwys na die feit dat Gert Vlok Nel in praattaal skryf, maar dit steeds regkry om daardie taal terug te dwing na die “‘verhoogde spraak’ wat die poësie eintlik maar is.” Sy beskryf die gedigte as “[o]nvergeetlike taferele uit die gewone bestaan wat al hoe vreemder word hoe langer jy aan hulle lees.” Alhoewel Nel se tegniek argeloos voorkom, skryf Müller, het hy by “die beste leermeesters” geleer - spesifiek Ezra Pound en e.e. cummings. Haar besware is egter dat die “leermeesters” soms té sigbaar is, dat die versreëls soms te arbitrêr afgebreek word en dat van die gedigte te kripties is. Sy wys ook daarop dat die bundel baie dun is.
T.T. Cloete waardeer ook die feit dat die spreektaal in die bundel bedrieglik eenvoudig voorkom, maar by nadere ondersoek die onderskeid wat mense tussen “natuurlik-onnatuurlik, spontaan-bedag, beplan-onbeplan” tref, kunsmatig laat voorkom. Cloete beskryf die gedigte as “visueel skerp” en waardeer Nel se vermoë om die bekende en alledaagse vreemd te laat voorkom. Volgens Cloete slaag Nel ook daarin om sy tegniek te “verdoesel”. “[H]oe gemaklik die gedigte ook al lyk, hulle is gewoonlik goed afgerond,” skryf hy. Cloete voel egter dat die vertelswyse soms maak dat die leser die “vertelsel” onthou, eerder as die “vertelde”, hoofsaaklik weens leë slotte en die vassteek van gedigte in die triviale. Die eenvormige andersheid van die gedigte in die bundel gee dit ook ʼn “taamlike eenselwigheid”. Alhoewel nie die reël in die bundel nie, “verloop” sommige verse “in die prosaïese”.
In sy resensie verwys John Kannemeyer eers na die feit dat Gert Vlok Nel se werk as sekuriteitsbeampte by die Universiteit van Stellenbosch hom ʼn onwaarskynlike digter maak, veral binne die ʼn konteks waarin die meeste Afrikaanse digters ook letterkundiges is: “[D]ie publikasie van Nel se debuutbundel herinner ons opnuut daaraan dat ʼn professoraat in die literatuur nog geen waarborg vir goeie poësie is nie, net so min as ʼn betrekking by die Stellenbosse kampusbeheer ʼn ‘dom’ digter of ʼn poësie van handearbeid veronderstel.”
“Nel beskik oor die oor die nodige berekende sluheid om sy domheid literêr aanvaarbaar te maak,” skryf Kannemeyer, en wys op die literêre tradisie wat agter die bundel se rou realisme skuil, spesifiek verwysings na “Tram-ode”, “Karoo-dorp: Someraand” en Joernaal van Jorik, asook die gebruik van “i” in plaas van “‘n” as verwysing na e.e. cummings; ʼn feit wat Gert Vlok Nel dan ook twee weke voor die publikasie van Kannemeyer se resensie in ʼn onderhoud in Die Burger genoem het. In die onderhoud noem Nel ook invloede soos Robert Lowell en Dylan Thomas, en verwys in ʼn latere onderhoude na Alan Ginsberg en Philip Larkin.
Nietemin, ten spyte van Gert Vlok Nel se verwysingsraamwerk, asook “fraai momente en die bekoorlike ruheid waaraan Nel ons in gedig ná gedig voorstel,” voel Kannemeyer dat “die grootste deel van [die] bundel poëties nog te onaf en te rou is en dat in die meeste verse die nodige bindingselemente ontbreek om hulle tot bevredigende eenhede te heg”.
Bernard Odendaal wys daarop dat ander resensente die gedigte as rammelrig, onbenullig, of raaiselagtig beskou het, ʼn oordeel waarmee hy slegs gedeeltelik saamstem. Hy vind die feit dat tragiese situasies op nie-emosionele wyse onderspeel word as een van die bundel se “onthutsende” eienskappe: “Die taal word in die proses op talle wyses verwring om dié wêreld en sy karakters so outentiek of konkreet moontlik weer te gee. Standaard hooflettergebruik, spelling, interpunksie en sinsbou word op verskeie wyses aangetas, byvoorbeeld om die natuurlike spraak van die ongesofistikeerde sprekers na te boots, of om ʼn staat van intense emosionaliteit te suggereer.” Temas word soms met ʼn “grinterige humor” uitgebeeld en, ten spyte van die feit dat die bundel “‘n bietjie monotoon” is, waardeer Odendaal ook ʼn aantal “aantreklike liefdesgedigte”.
In ʼn literêre rubriek reageer Joan Hambidge op die bemarking van die bundel deur die uitgewers as ʼn nuwe stem wat “vars en onaangetas [is] deur enige literêre mode,” asook die feit dat die uitgewers hom bemark “as ʼn werksersklasdigter.” Sy verwys onder andere na hoe Nel verwys na N.P. van Wyk Louw se “Karoo-dorp: someraand” en voer aan dat hy ʼn berekende digterlike spel speel. Sy haal ook Nel se universiteitsopleiding op.
Gerrit Olivier voel dat, alhoewel Gert Vlok Nel ʼn vars stem het, hy “soms te hard probeer om onpresies te klink.” Die plattelandse agterplase en kombuise wat Nel bespreek herinner Olivier soms aan die Amerikaanse sanger Tom Waits. Soms ontstaan daar in die bundel “‘n eie sfeer van segging”, maar digterlike “fraaihede” en geleerde terme veroorsaak ʼn “onopgeloste registerprobleem”.
Temas wat in hierdie resensies voorkom is Gert Vlok Nel se skrywerspersona (as sekuriteitsbeampte met die publikasie, ʼn gegewe wat klaarblyklik deur die uitgewers gebruik is om die bundel te bemark), Beaufort-Wes en die wit werkersklas as konteks, die geslaagdheid al dan nie van die benadering tot digterlike konvensies, asook temas soos die liefde, dood, teleurstelling en onvervulde drome as deel van persoonlike verhale. Baie van die resensente het ook die hoop uitgespreek dat Gert Vlok Nel spoedig nog ʼn digbundel sou publiseer, iets wat tot op hede nog nie gebeur het nie.

Die jaar 1993 was ʼn donker jaar. Chris Hani word op 9 April voor sy huis vermoor. Op 24 April sterf Oliver Tambo weens beroerte. In Junie sterf elf mense in die burgeroorlog in Natal, by Estcourt. Vele ander word in die konflik doodgemaak. Bespiegelinge oor ʼn “Derde Mag”. APLA vermoor elf mense in ʼn kerk in Kenilworth, Kaapstad. In Desember vermoor hulle nog vier mense in Observatory in Kaapstad, hierdie keer in ʼn kroeg.
Daar is 26 gedigte in om te lewe is onnatuurlik. Dis merkwaardig dat 26 gedigte soveel reaksie uitgelok het. Ek wonder oor die stand van die digkuns in 2010. Ek wonder hoe ons in 2027 gaan terugkyk na digbundels wat rondom 2010 gepubliseer is. Hoe gaan ons kyk na die resensies wat rondom 2010 geskryf is? Watter van die bundels gaan ons weer lees?
Verwysings:
Cloete, T.T. “Nel lewer ʼn verrassende en welkome nuwe digbundel.” Beeld, 2 Augustus 1993, p. 8.
Grové, A.P. “Om te dig is óók onnatuurlik.” Insig, 30 Junie 1993, p. 3.
Hambidge, Joan. “Oorspronklikheid is ʼn mite: Kan enige digter ‘onaangetas’ of ‘vars’ wees?” Beeld, 26 Mei 1994, p. 13.
Kannemeyer, J.C. “Playboy-digter is slim van ‘dommigheid’.” Rapport, 8 Augustus 1993, p. 18.
Müller, Petra. “Pit van die liefde in debuut: Ontploffing van poësie wat die gewone mens verstaan.” Die Burger, 3 Augustus 1993, p. 7.
Nel, Gert Vlok. 1993. om te lewe is onnatuurlik. Kaapstad: Tafelberg.
Odendaal, Bernard. “Debuut is ‘ontstemmende, eenvoudige spookstories.” Volksblad, 29 Augustus 1994, p. 6.
Oliver, Gerrit. 1994. “Die stemme van digters.” Insig, 54: 42-45.
Steyn, Suzaan. “Gedigte uit die spoorwegwerf.” Die Burger, 23 Julie 1993, p. 7.
Wasserman, Herman. “Sy woorde sing soos wind deur stasie se kragdrade.” Beeld, 18 April 1997, p. 4.
Willoughby, Guy. ”The remaking of Afrikaans poetry.” The Star, 26 Januarie 1998, p. 6.
Thursday, July 15th, 2010
 Buffelsbaai, 1990
Ek sit in Pretoria, dink aan see. Spesifiek Breyten Breytenbach se “Septembersee” - die “see sonder tornyne”, die “see sonder skop”. Mark Behr haal die gedig aan in sy boek Kings of the water. Ek het dit onlangs op Irma se aandrang gelees, ook gaan luister wat Mark Behr daaroor sê by die Boekehuis in Aucklandpark. Hy’t ʼn mus opgehad, gepraat oor sy sessies by die psigoterapeut.
Hy sê hy moes hom indink in die skoene van die mense wat hy veraai het. Hy sê hy’s gelukkig, want daardie mense kon terugpraat, hom konfronteer met wat hy gedoen het. En hulle is sterk mense. Dit help met die helingsproses.
Irma wil weet wat gebeur as die mense wat ons veraai het nie sterk is nie, nie herstel nie.
ʼn Briefie beland in my posbus, van die gawe mense wat ons rekenaarnetwerke administreer. “Soos u bewus is,” skryf hulle, “is daar tans beperkte internasionale bandwydte beskikbaar as gevolg van ‘n fout met die SEACOM ondersee optiese vesel… SEACOM se beraamde tydsduur vir die herstel van die ondersee optiese vesel, is op die stadium 22 Julie 2010…”
O, goeiste!
Die brief verduidelik verder: “Die verlengde tydsduur is weens die feit dat die fout blyk te wees met ‘n segment van die vesel wat meer as 4700 meter onderseevlak lê, en dat uiters gevorderde robotiese tuie gebruik word om dele van die herstelwerk uit te voer, voor die vesel vanaf die seebed gelig word vir finale herstelwerk.”
Dit klink soos iets uit ʼn toekomsfliek uit die sestigs. Flash Gordon, of iets. Of was dit die tagtigs?
Ek verbeel my die uiters gevorderde robotiese tuie, amper vyf kilometer onder die see se oppervlak. Die uiters gevorderde robotiese tuie se knypers vroetel in die seebed se sand.
“Waar’s die f****n optiese kabel nou weer, Mathilda?”
“Moenie my vra nie, Arnoldus, dis jy wat dit jare gelede hier begrawe het!”
“Moet jou nie swaksinnig hou nie, jy weet dit was my vorige model”
“Sug…”
Dis lekker om weer amptelike briewe in Afrikaans te ontvang, met sinsnedes soos “uiters gevorderde robotiese tuie.” Lees dit hardop. Herhaal. Nou kort dit net ʼn stel tromme en ʼn baskitaar, dalk ʼn DJ wat scratch:
uiters gevorderde robotiese tuie
vir die see se koue dra hulle truie
uiters gevorderde robotiese tuie
werk ondersee aan optiese vesel
uiters gevorderde robotiese tuie
vir stip konsentrasie rook hulle kruie
uiters gevorderde robotiese tuie
werk aan optiese vesel ondersee
uiters gevorderde robotiese tuie
vir onderwaterasem kou hulle uie
uiters gevorderde robotiese tuie
werk ondersee aan optiese vesel
Ek lees weer Gert Vlok Nel se enigste digbundel. Ek dink aan “desember & see” op bladsy 13. Dit eindig só:
5-uur het ons verwater & wild op die strand uitgehol,
jeans & truie, saam met windsurfers in wetsuits. dit
was haunting. hemel & fokken aarde toegewrap in wolk. ons
was gou warm, t.s.v. die kak drizzle. ek
wou iets (die oggend) vergestalt in rots of rym
maar het alreeds alles weggegee
aan herinnering & pyn
Ek dink oor Mark Behr. Ek is die laaste persoon wat klippe in sy rigting kan gooi. Ek moes ook dinge uitskryf.
Wat sou Gert en sy broer Attie sê as uiters gevorderde robotiese tuie skielik uit die see te voorskyn sou tree, met die optiese vesel in hul kloue wat hierdie gemompel van my rekenaar na joune toe moet dra?
Dis dalk oor die vesels dat my Skype nie werk nie, hoekom ek so afgesny voel. Die teenoorgestelde van die exile waaroor Breyten Breytenbach destyds in “Septembersee” geskryf het. En hier in Pretoria is nie eers ʼn see nie.
Friday, May 21st, 2010
BLOGFOKUS
Aangeheg is my “brief” oor ‘n besondere Afrikaanse digbundel. Goed, ek het die opdrag ‘n bietjie “gerek”. Dit gaan oor Gert Vlok Nel se enigste digbundel, “Om te lewe is onnatuurlik“, maar ek het van sy songs ook betrek. Sy digbundel en sy CD, “om beaufort-wes se beautiful woorde te vergeet”, het kort na mekaar verskyn en is onlosmaaklik aan mekaar verbind, sowel poëties as verteenwoordigend van, dusver, Gert se volle gepubliseerde ouvre.
Julle sal ook my gedig, “Kom in Gert, kom in”, uit “Nuwe Stemme 4“, hierin raaklees, maar hierdie is ‘n laaaaang uitbreiding van genoemde gedig (eintlik is die NS4 gedig ‘n drastiese inkorting van hierdie stuk, maar ek sal julle nie nou met die storie daaragter verveel nie…)
Groete
Pieter Hugo
KOM IN GERT KOM IN
daar kom ‘n man daar kom ‘n man
hy sê gert kom in kom in gert kom in
gert sê hy
hoekom skryf jy nie meer i gedig gedigte nie gert
nie meer ‘n CD vol songs nie gert ons
wag nou al jare en jare maar al
al die treine het gaan staan
ons beautiful afrikaans het net een gert maar al
die lyne is dood tussen my hart en jou mond
se mooiste woorde wat nog wag op geboorte in
die magnificent woord van die môre nee nee nee
daars niks nie gert jy’t jouself argeloos illusieloos
uitgesjant op ‘n sideline spoorloos op beautiful-west
onthou jy gert onthou jy die dag toe jy amper ons grootste
digter sou word gert hoe het jou storie toe verder geloop gert
treine wat sjant treine wat altyd hier in kringe ry
hoekom gert hoekom wat maak in die meantime alles jou bang
dat jy in ‘n taal so ver as moontlik van afrikaans af gaan woon
daar kom ‘n man daar kom ‘n man
hy sê gert ons lees nou bloot in kringe op jou spoor ons
word ongerymd opgeruimd al is jou verse so swart soos bybel
jou verse wat soos i trein inseil in die mooiste vallei jou songs
so beautiful gewas met timotei shampoe jou verse soos ‘n brief
van someone somewhere in my hand so bekend so doodgewoon
so dodelik hartseer soos die lewe soos ‘n storie uit die huisgenoot
soos klein attie in die gang
attie wat huil in die gang van die trein alleen met sy tassie
gert jou verse is die essensie van dié treinrit maar gert
nou moet ons min of meer maar net al hierdie dinge rekonstrueer want
al die treine het gaan staan
daar kom ‘n man daar kom ‘n man
hy sê gert jy is nie afrikaans se grootste digter nie jy
skryf nie slim sonnette nie maar hy lieg wat van oupa op sterwe
jy was nie in die tronk nie jy is nie
‘n letterkunde professor wat eksistensiële
marxistiese leksikale morfologiese & andersinse verbande
tussen disparate dinge en desperate mense verdig nie
maar
ons beautiful afrikaans het net een gert & mooi mooi mooi
was jou woorde wat daai sweet sweet dinge vir ons sê soos
miskien moet ek gelukkiger lyk
want jy is ons leonard cohen gert en ek weet nie of jy ooit
‘n song van cohen geluister het nie gert maar in take this walz skryf hy
there’s a shoulder where death comes to cry on
en gert iemand wat so ‘n reël geskryf het kan tevrede sterf
tevrede eindelik gaan lê onder dun bome in die more anderkant
maar gun jou fans dan nou nog beautiful poetry gert don’t
go gently into that night moenie
dat ons net moet retrace op jou ou steps nie gert
daar kom ‘n man daar kom ‘n man
hy sê gert gert got gert al het jy niks anders
reggekry nie gert het jy ons treine verlos van die transkaroo
na matjiesfontein op die ontstemde uur op die beliggaamde landskap
met jou versskap wat soos i sediment i beautiful sediment in
ons gemoed kom lê en sê om te lewe is onnatuurlik
en dat alle dinge uiteindelik
nie eintlik help nie
nie eintlik help nie
dat niks uiteindelik oorstelp nie
daar kom ‘n man daar kom ‘n man
hy sê gert nee nie dit nie nie noodwendig dit nie gert
mens kan nooit van mense werklik weet nie mense wat
desnieteenstaande i fokken cruel lonely summer veroorsaak
anderster etters warse wetters en ma’s wat uitgehol kom en
ons soos wasgoed inneem voor die reën mense
wat verdig word tot die onredelike blydskap in september
wat alles iets te doen het met hartstog en jare en lyding & leed en
sukses & seks mense wat
weggaan en sterf ίn in die heiliger nag in
toe die liefde nog nie intertekstueel was nie en
alles & god altyd weer gevind kon word
maar mens kan nooit van mense werklik weet nie nooit
van jou werklik weet nie gert
daar kom ‘n man daar kom ‘n man
hy sê gert jy’s donker & lig & lieg ineen gert
jy’s ‘n eenvoudige spoorwegstorie gert jy
interteks beautiful met vanwyklouw gert jy’s black soos label
jy’s kouewateromoskoon jy’s op nightshiftduty jy’s die
diepste woord jy dink jy’s smart met jou alfokkenewige i
likewise interweef jy postmodernistiese poems op jou eie model van
cervantes se versos de cabo rato gert het jy hom al ooit gelees
gert bestorm jy nog windmeulens met jou pen in die hand gert
daar op die laaste stasie op die derde planeet op beautiful-wes
waar jou ou dikwielfiets vanself moeg verbyrym
het jy nog katte & komete op die tong
of is daar nou nog net i trein wat ysig vir jou fluit gert
hoekom sjant jy jou uit
uit uit die gedigte uit
inner inner in die skemer in
hoekom is jy so fokken wel ter stilte gert
daar kom ‘n man daar kom ‘n man
hy sê gert
gert sê hy
dis tyd dat jou wasgoed weer baldadig
wapper in jou vooryard gert
kom uit jou formidabele slaap
uit jou skugtige voortvlugtigheid op die dorp waar
die treine fluit en die sjanters nag na nag die
treinerige treine trein
laat die nag volledig breek
laat ons verlos word op alle vlakke al
kan jy nooit weer so onverwags klink soos met daai eerste
beautiful aweregse treinjazz wat jy uit afrikaans getoor het nie gert
al dink jy jy het jou mooiste plaat klaar van die draaitafel af
laat val weet ons jy kan weer ‘n trein dig wat die nag knip soos ‘n skêr
weer gedigterige omvattendhede dig
ons weer op grafte en op treine laat vry
ons erens subtiel & brutaal in alle erns laat sterf want
jy kan net jy kan presies so die woorde soos waens in
die verstreine sjant gert ons weet dit vat nagte nagte nightshiftduty
om die songs so beautiful oor die spore te laat rol dit lyk
so maklik jy laat dit so doodgewoon beautiful klink gert om al
die liegstories van die kollektiewe siel so terloops met
die duskant van jou hand aan te raak soos van ‘n eenvoudige
poëet maar nee nee dis nagte nagtelank gesjant tot
jy soos ‘n kamma obskure plattelandse digter so kamma
eenvoudig met jou beautiful woorde goël maar so goed
dat ek nou hierdie pleitmosaiek kan konstrueer gert uit die sak
steentjies van jou poëtiese woorde wat klaar klaar almal perfek
geslyp is wat maak dat ons nou
net die rook en die sweet in beaufort-wes onthou
en die lang cream callico gordyne wat soos
hande by die venster uit bye bye waai
en al daai poetry shit soos ‘n overexposed
foto uit ‘n ou familie foto-album moenie
moenie ons hier vergeet nie gert
moenie vir ons alleen agterlaat op
hierdie planeet waar die here nie meer van ons weet nie
want woestyn is die woord waardeur ons nou reis
moenie laat jou woorde leeg in jou hand lê nie gert
anyway laasjaar nou die dag eergister
moet jy weer droom dat jy weer in jou eie mooiste woorde woon
soos op die môre van die agste dag
daar kom ‘n man daar kom ‘n man
hy is van morrison ja daai een gert die einste moerse moerige morrison en
hy sê gert
gert sê hy
the show must go on
© PIETER HUGO
Wednesday, March 17th, 2010

Die een ding wat my steeds van Koos du Plessis verstom, is hoe hy musikale grense in Afrikaanse musiek oorbrug. Dink maar aan sy lied “Gebed,” wat keer op keer deur gospelsangers gesing word. Die mees oortuigende weergawe daarvan, dink ek, is egter Dozi s’n. Sy stem dra iets van die ware kwaliteit van die lied oor: ʼn Desperate kreet om hulp van ʼn alkoholis wat ”elke afdraaipaadjie” kén - “elke keer het U my iewers kom haal, maak dit, Heer, die laaste maal.” Maar hy wéét dis nie die laaste maal nie.
Maar dis nie net skoolkore en gospelsangers wat deur Koos du Plessis betower word nie. Een van my gunsteling interpretasies van ʼn Koos Doep is Battery 9 se weergawe van “Kouevuur”. Paul Riekert gooi die wysie weg en werk net met die ritme van die liriek, een wat jy kan spoeg en grom. Absoluut asemrowend. Luister hier, sommer ook na “Lie if you have to”.
Dan het Johannes Kerkorrel ʼn hele CD met Koos du Plessis covers opgeneem. Hy het dit weer op sy manier geïnterpreteer, iets waaroor ek baie dankbaar is, aangesien Kerkorrel een van die groot geeste van een van die ander rewolusies in Afrikaanse musiek was. Ek is bly hy het op so ʼn manier hulde gebring aan ʼn voorganger.
Dan is daar natuurlik Gert Vlok Nel se pragtige afskeid aan Koos du Plessis - “Waarom ek roep na jou vanaand”… “Gert bo die grond roep na Koos onder die grond, kom in Koos, kom in, kom in…”
En nou voeg Francois van Coke ʼn nuwe generasie se stem by die res van die left field koor wat Koos du Plessis se songs laat aanhou sing. Nóg een van die voorlopers van ʼn nuwe rewolusie in Afrikaanse musiek. ʼn Nuwe interpretasie van “Skadu’s teen die muur” is te vinde op Van Coke Kartel se pas uitgereikte CD Skop, skiet en donner. Van Coke Kartel is die meer ongeskikte off shoot van Fokofpolisiekar, maar met hierdie album doen hulle amper wat die Fokofs met Monoloog in stereo gedoen het. Hulle gebruik akoestiese kitare en minder aggressiewe klanke. In sommige gevalle gebruik hulle geprogrammeerde perkussie en ander klanke. Ek dink ek hou daarvan.
Benewens “Skadu’s teen die muur” is daar twee ander covers - vreemde keuses - “Maniac”, wat in die 80s in fliek Flashdance te hore was, en JJ Cale se “Cocaine” uit die 70s. Ek weet nie heeltemal hoe diep Van Coke Kartel se tonge in hulle kieste met hierdie keuses sit nie, of selfs in wie se kieste hulle hul tonge ingedruk het nie. Maar van een ding is ek seker. Ek hou baie van hulle weergawe van “Skadu’s teen die muur”. Hulle maak ʼn anthem van ʼn bitter siniese liriek.
Monday, February 15th, 2010
Self kon ek nog nooit ʼn liefdesgedig of -lied skryf nie. Gaan dit oor die feit dat dit so maklik soetsappig klink in Afrikaans? Miskien is ek net nie ʼn ware digter nie. Die stomme Aphrodite se ruggraat het in elk geval lankal geknak onder die gewig van elke tweede (of dalk eerder elke) wannabe popster wat haar opsaal en laat rym met “you”, “blue”, “true”, “do” en “doobee doobee dooohooo”. In Afrikaans is dit “jaai”, “blaai”, “baai”, “maai” (”jy”, “bly”, “by”, “my”, maar dis nie hoe sangers dit deesdae uitspreek nie; die “s” word ook as “sh” uitgespreek).
Soos met populêre lirieke, is die liefde seker die onderwerp waaroor die meeste gedigte geskryf is. Dis waarskynlik ook die onderwerp waaroor die meeste swak gedigte geskryf is. Dit is dus juis ʼn onderwerp waarvoor ek besonders lugtig is, deels omdat daar reeds so tussen al die suiker en pienk blommetjies deur sulke mooi liefdespoësie geskryf is.
Ek lees op die oomblik terug. Sondag was Abjater wat so lag se dag. Dis seker nie die tipe boek wat ʼn mens op Valentynsdag moet lees nie. Pluk later ewe lukraak bundels van die rak af, blaai rond.
Een van die eerstes wat ek raakvat is Jeanne Goosen se bundel, ʼn Uil vlieg weg. Natuurlik blaai ʼn mens eerste na “ons huil nooit nie/ ons twee huil nooit nie…” tot by “snags lê ons lywe inmekaar/ en ons vra nie vrae nie/ ons is mekaar se droefnis”. In Elders aan diens is daar ʼn lieflike, dubbelsinnige gedig wat Jeanne Goosen aan die waitress wat een aand vir haar kabeljou gebraai het in Stellenbosch skryf:
Sweetness
kom bly by my vannag
dan leer ek jou die rumba
die Charleston en die samba
Ek leer jou die jitterbug
die hush hush en die cha cha cha
en dan
daarna?
Dan croon ons tot dagbreek
Only the lonely
Hoe kan ʼn mens dan ook nie Die huis van die dowe raakvat nie? Veral die eerste afdeling; “Eet my woorde, trooswoorde”. Ag, hoe kry Breyten Breytenbach dit net so reg?
In teenstelling met Breytenbach se volmaakte liefdesgedigte staan Gert Vlok Nel s’n op krukke op ʼn perron iewers in die Karoo. Maar dis ewe mooi. Kan ʼn mens dit gedigte oor die liefde noem? Ek praat nou nie van die een met die lang titel waarin daar onder andere na “hart” en “smart” verwys word nie. Of sy tannie Rita, met haar “3 kinders en i treindrywerman met i wrok” en geloof, hoop en liefde wat oorbly, “maar die grootste hiervan was die hoop”. Of ”nee nee nie dit nie, nie noodwendig dít nie”:
dertig die dag toe hy laaste uit die kerk kom.
vaag in die wete en volop in vermoedens soos die confetti.
hoekom so? vra sy vrou, hoekom so donkerder in jou oë.
is my rok dan nie wit nie? en sy lag die vraag die mense in.
mens kan nooit van mense werklik weet nie.
wát weet nie? of hulle groei-of-nut-het-of-goed-is nie?
nee nee nie dit nie, nie noodwendig dít nie
Dalk is dit anti-liefdesgedigte. Selfs in “die koms van Ligia” is sy “donker & lig & lieg ineen”. Maar dit praat met ʼn mens op ʼn sekere vlak. Ek weet nie. Dalk is dit maar na Abjater wat so lag dat ek ʼn behoefte gehad het om weer Gert Vlok Nel te lees.
Gepraat van geloof, hoop, liefde en Gert Vlok Nel. Daar is natuurlik Raymond Carver se gedig “Hope”. Sjoe! Dalk kan ʼn mens dit ʼn haatgedig noem. Heel aan die einde van sy lewe kon hy darem skryf:
And did you get what
you wanted from this life, even so?
I did.
And what did you want?
To call myself beloved, to feel myself
beloved on the earth.
Ek weet die idee is vir ons om oor een gedig te skryf. Ek kan nie kies nie. Daar is te veel en elke week voel ek anders daaroor. Dalk moet ek maar afsluit met Leonard Cohen, die digter-musikant wat skynbaar nog nooit Die Liefde kon vind nie, maar op so ʼn onthutsende manier oor liefde en woorde kan skryf:
I heard of a man
who says words so beautifully
that if he only speaks their name
women give themselves to him.
If I am dumb beside your body
while silence blossoms like tumours on our lips
it is because I hear a man climb the stairs
and clear his throat outside our door.
Van een ding is ek seker: Daardie man op die trap is nie ek nie.
Tuesday, October 13th, 2009

Groete uit die lieflike stad Windhoek. Ek luister musiek op my rekenaar. By Aardklop stop Angola Badprop my ʼn CD in die hand: “Twintig Jaar Later: Van Voëlvry tot Fokof.” Laasgenoemde verwys natuurlik na Fokofpolisiekar.
Angola, oor bekend as Jaco Nel, het veertig songs versamel om Afrikaanse rock die twintig jaar na die Voëlvrytoer te verteenwoordig. Ek skat hy is reg as hy Fokofpolisiekar as die grootste fenomeen ná Voëlvry beskryf. My eie projek – die Brixton Moord & Roof Orkes – kry ook darem ʼn plekkie in die geskiedenis.
Die kassie bevat twee CD’s. Die eerste een verteenwoordig die rock bands voor daar video’s op MK (aanvanklik MK89) was. Dit sluit mense soos Koos Kombuis, Johannes Kerkorrel, Anton Goosen, Gert Vlok Nel, Jan Blohm, Bacchus Nel, Karen Zoid, Beeskraal, Diff-olie, Trike, Riku Lätti, ens. in. My orkes word ook hier ingegooi. Op die tweede CD is die meer onlangse rebelle, soos Fokofpolisiekar, Straatligkinders, Zinkplaat, Foto Na Dans, Willim Welsyn en NuL. Sommige van die ouer en standhoudende bands, soos Battery 9 en Kobus!, is op albei CD’s verteenwoordig.
Dis natuurlik altyd moeilik met die samestelling van sulke versamelings. CD’s kan net ʼn beperkte massa data akkommodeer. Wie sluit jy in, wie laat jy uit? Van wie sluit jy meer as een song in? Ek hou nogal van die keuses – van my persoonlike gunstelinge is daar, soos Bacchus Nel se “Herfsman” en Piet Botha se “Goeienag Generaal.”
Ek wonder egter oor een ding. Soos Mr Mac and the Genuines destyds uit die Voëlvry-geskiedenis gelaat is, vind ons ook byvoorbeeld nie vir Prophets of da City, Brasse vannie Kaap, of Kallitz in die versameling nie.
Is dit omdat hip-hop nie as rock beskou word nie? Ek wonder maar net.
Gaan luister ʼn bietjie na Kallitz hier.
Tags: Angola Badprop, Anton Goosen, Bacchus Nel, Battery 9, Beeskraal, Brasse vannie Kaap, Brixton Moord & Roof Orkes, Diff-olie, fokofpolisiekar, Foto Na Dans, Gert Vlok Nel, Jan Blohm, Johannes Kerkorrel, Kallitz, Karen Zoid, Kobus!, Koos Kombuis, Mr Mac and the Genuines, Nul, Piet Botha, Prophets of da City, Riku Latti, Straatligkinders, Trike, Twintig jaar later: Van Voëlvry tot Fokof, Willim Welsyn Posted in Andries Bezuidenhout | Lewer kommentaar »
Add this post to Del.icio.us - Digg
Saturday, June 27th, 2009
Die grootste oomblik vir my op my huidige Europese besoek was om saam met Breyten Breytenbach en Gert Vlok Nel in die Nederlandse stad Hengelo op die verhoog te verskyn ter herdenking van die sewentigste verjaardag van Breyten later vanjaar.
Hieroor gaan ek nie skryf nie, Rapport se Boekebylae gaan twee groot artikels oor hierdie heugelike gebeurtenis eersdaags dra. Hou die Augustus- en September-weergawes van die Boekebylae dop.
Vanaf Vrydag 19 Junie tot Maandag 22 Junie het die jaarlikse Internationales Literaturfestival Bremen, ook bekend as Poetry On The Road, plaasgevind.
Dit was ryke ervaring om saam met digters soos Michael Kruger, Hans Magnus Enzensberger en die wonderlike prosagedigskrywer, Michael Augustin, op ’n verhoog te kan verskyn. Al drie hierdie digters is van Duitsland. Enzensberger is ’n legende, en die grand old man van die Duitse digkuns. Hy tree lankal nie meer op die verhoog op nie, maar het vanjaar, uit die bloute, ingestem om by Poetry On The Road voor te lees. Hy is ’n lang man met ’n seunsgesig, selfs nog op tagtig, en met ’n skugter uitstraling ondanks die kragtige, baie “manlike“ aard van sy reëls.
Ek volg nie eintlik Duits nie, wel so ’n bietjie, so ek moes maar raap en skraap wat ek kon wat betref Engelse vertalings op die internet en andersins. Hier en daar het ek my maar aan die stroom klanke oorgegee, soos ’n witwaterwipplankryer.
Daar Ramsy Nasr, die Nederlandse Dichter des Vaderlands, wat my geweldig beïndruk het met sy begeesterde lewerings. Nasr staan effens vooroor gebuk terwyl hy lees, asof hy probeer byhou by sy woorde, agter hulle aanhardloop, agter die ’n stortvloed van beeld en klank aan wat sputterend en wapperend vooruit beur, met die arme digter op sleeptou, agterna.
Op een stadium het hy vir my gelyk soos ’n marionette wat aan onsigbare toutjies genadeloos deur sy woorde rondgepluk word, sy ledemate soos papiere wat in ’n vuur brand.
Baie van die anderstalige digters, soos Nasr en Nora Iuga wat in Roemeens skryf, het hul werk in Duitse vertaling voorgelees. In Nasr se geval het hy darem ’n paar Nederlandse weergawes naas die Duits gelees, so ek was nie heeltemal verlore in my stoel nie.
In my eie geval het ek in Afrikaans voorgelees, gedigte uit my bundel In die geheim van die dag en ’n paar nuwes, met agter my op ’n skerm die Duitse vertalings deur Ulrike Draesner geprojekteer.
Nasr is gedeeltelik van Palestynse agtergrond en die Palestynse lewe en kultuur - ook die oënskynlike sistematiese volksmoord van daardie nasie - speel ’n rol in sy werk en dinkwêreld. Hy is akteur van beroep en sy gedigte put ryklik hieruit.
Poetry On The Road, waaroor die digter Danie Marais ook ’n vers geskryf het, is ’n top fees in Europa. Dis ‘n vooreg om daar te kon voorlees. Die saal was elke aand volgepak.
Die hoogtepunt van die fees vir my was die verskyning van Ernesto Cardenal op die laaste aand van die fees, die vuriglik anti-kapitalistiese priester-digter van Nicaragua. Sy vroeër verse het ’n blywende indruk op wêreldpoësie gelaat, en dis veel meer as bloot aktivistiese gedigte. Sy onlangse gedigte toon ’n insinking. Ondanks die heldeverering vir die man - Bremen is ’n stad wat histories met linkse politieke simpatieë verbind word - was daar fluisterings van „tyd om af te tree“ en „liewers nooit as te laat“.
Maar Cardenal is 85 jaar oud! Die konsert was ’n uur en half lank, nee, langer! Daarna het hy nog energie genoeg gehad om ’n wyntjie of wat te gaan geniet. Klaarblyklik ’n man wat gewoond is aan „die gemeente“ sowel as die Nagmaal. Ek het hom dopgehou, hoe hy die druif proe-proe, asof dit ’n soort heilige water is. Wat dit natuurlik is.
Maar ja, die Duitse gehoor was nie bang om kritiek te lewer nie, selfs op ’n ikoon as dit moes. Cardenal het met sy eie band opgetree, meestal Suid-Amerikaanse uitgewekens veral uit Chile afkomstig. Baie Chilene het hul ná die staatsgreep van Pinochet in 1973 in Bremen kom vestig.
’n Groot deel van die belangstelling vir Cardenal het te doen met sy oënskynlik teenstrydige lewe. Sy lewensdilemma val in dieselfde kader van enigma as dié van Breyten Breytenbach of Majakofski of Lorca, maar natuurlik om heel ander redes as hierdie uiteenlopende digters.
Cardenal is ’n Katolieke priester wat verruklike uitinge kon maak oor sy liefde vir die mensdom. Hy straal daardie liefde uit. Dis voelbaar. Maar hy was ook op sy dag guerrillavegter wat die wapen opgeneem het vir die sosialistiese Sandinistas en die bewind van Nicaragua help omverwerp het. Hy is later ontnugter en het hom van die Sandinista-bewind gedistansieer.
Die voormalige Pous, die een uit Pole, het Cardenal op ’n keer in die openbaar geroskam, met laasgenoemde op sy knieë voor hom oor die priester se steun vir Bevrydingsteologie. Die gebeurtenis is op film vasgelê.
Cardenal is een van die wêreldwye ikone van die Bevrydingsteologie. Sowel as van die sosialisme.
Hy het in Spaans voorgelees, daarna sou ’n Duitse vertaling deur iemand anders gelees word, en dan sou die orkes lostrek, om die beurt.
Dit was ’n uiters memorabele gebeurtenis om mee te maak, veral vir iemand uit Suid-Afrika. Ek het die aand bygewoon met my ou skoolvriend Uwe Hummel, vandag ’n teoloog in Wuppertal, in sy geboorteland Duitsland. Uwe en sy vrou, pas getroud, en ook teoloog, kon in die tagtigerjare nie terugkeer na Suid-Afrika waar Uwe sy grootwordjare geslyt het en waar hy op universiteit ’n anti-apartheid aktivis was. Hy het Duitsland toe gegaan op ouderdom 22 om sy M-graad te doen. En tot onlangs het ek hom meer as 25 jaar gelede laas gesien. Sy vrou is Fillipyns, en onder apartheid het dit beteken “nie-blank“.
Dit was vir my opvallend hoe nuuskierig die ou man (Ernesto Cardinal) is! Hy het van tyd tot tyd homself in sy stoel opgepluk om oor die voetligte van die verhoog te kan loer (die ouderdom het hom maar kort gelaat), die oë op skrefies, na die mense in die voorste rye. Hy het ons een vir een gefynkam. Hy het so bietjie soos my knorrige ou houtwerk-onderwyser gelyk. Ek sou nie sommer van hom verskil, as ek kon verhelp, oor die aard van die sonde nie …
Wié is hulle? Wáár kom hulle vandaan? Waarheen gaan hulle? Hierdie was van die vrae leesbaar op die ou bebaarde gesig.
En miskien was dit van so teen die voetligte inkyk, ek weet nie. Miskien omdat dit laat geword het. Maar ondanks ’n sekere onwrikbaarheid was daar soms trane in sy oë.
Monday, June 22nd, 2009

- Simon Vinkenoog
Hierdie naweek het die jaarlikse Felix Poetry Festival in Antwerp ten einde geloop. Simon Vinkenoog (81), wat veronderstel was om die hoofrede te lewer, kon egter nie deelneem nie, aangesien hy hom tans in die hospitaal bevind na ’n onderbeen-amputasie enkele dae vantevore. Volgens sy vrou se inskrywing op sy webblad gaan dit onder omstandighede goed met hom. Ons korrespondent in Antwerp berig dat Peter Holvoet-Hanssen toe die hoofrede moes lewer en dat hy hom uitstekend van sy taak gekwyt het. Hy het die aanwesiges blykbaar in vervoering gehad met sy Pleidooi voor de poezie waarin hy ’n ernstige beroep gedoen het op groter betrokkenheid by die digkuns en die uitdagings wat dit in die gesig staar. Nuuswekker is bly om te kan berig dat onderhandelings reeds met Peter begin is om dié toespraak ook op die Versindaba-webblad geplaas te kry. (Lees gerus weer die Nuuswekker van 8 Mei 2009 waarin daar oor Holvoet-Hanssen berig is.) Dan wil dit voorkom asof Gert Vlok Nel besig is om soos ’n siedende veldbrand deur die noorde te trek: nie net was hy verlede week by Poetry International se fees in Rotterdam betrokke nie, maar ook Raakruimtes se huldiging van Breyten Breytenbach in Hengelo, sowel as hierdie fees in Antwerp. (Lees gerus De Papieren Man se oorskouende berig oor die Felix Poetry Festival en meegaande program hier.)
Nog opwindende nuus is dat Luuk Gruwez pas in Suid-Afrika aangeland het. Hy gaan naamlik deel vorm van die program ter viering van die Akademie vir Wetenskap en Kuns se eeufeesviering in Bloemfontein. Welkom in die ander halfrond, Luuk! En onthou, jou gasheer se wyne is óú wyne. Geniet jou kuier. Terselfdertyd is ons bly om Carina Stander terug te verwelkom na háár oorsese reis; en geoordeel aan haar nuwe blog-inskrywing, is sy vars en vrolik en lús om die dinge weer raak te vat.
As ’n kopknik na Simon Vinkenoog, ongetwyfeld een van die gróót geeste in wêreldliteratuur, plaas ons vanoggend ’n toepaslike vers van hom hieronder. En onthou: wees onverbiddelik hierdie week. Die poësie is immers ’n ding wat verdien om gelééf te word!
Mooi bly.
LE
Ware poëzie is een energie-overdracht uit de hoorn des overvloeds,
een daad van bevestiging, een teken van overlevingskunst.
Geen hobby, maar een passie. Geen luxe, maar noodzaak.
Levende adem, waaiende. geest, bewogen ziel.
Poëzie dient onverbiddeiljk te zijn, of niet.
(c) Simon Vinkenoog
Thursday, June 18th, 2009

- Gert Vlok Nel
Die veertigste Poetry International te Rotterdam loop môre ten einde. By De Contrabas kan ’n kostelike berig hieromtrent gelees word. So is daar byvoorbeeld die volgende verbluffende eerlikheid deur Martin Mooij (78) wat dié wêreldberoemde poësiefees in 1969 geïnisieer het; toe hy gevra is wat vir hom die vernaamste indruk is van die 26 jaar wat hy as hoof-organiseerder van die fees opgetree het, was sy antwoord: “Mijn onvermogen. Ik was niet zo’n goede organisator”. Op ’n vraag na die belang van die fees vir die stad Rotterdam het hy soos volg geantwoord: “Dit is de haven van de poëzie, met import en export.’ Inmiddels zijn er dichtregels gestold in neon op kantoren in de stad en trekken ze op vuilniswagens van de Roteb door de wijken.” (’n Meer uitgebreide berig kan by De Volkskrant gelees word.) Digters wat aan vanjaar se fees deelgeneem het, is onder andere Jacques Roubaud (Frankryk), Bei Dao (China), Gerrit Kouwenaar (Nederland), Matthew Sweeney (Ierland) en Valzhyna Mort (Rusland). Ons eie digkuns is verteenwoordig deur ons literêre ambassadeur, Charl-Pierre Naudé, en soos vroeër berig: ons immergroen troebadoer, Gert Vlok Nel. Terugvoer wat ek reeds ontvang het van iemand wat hul sessie bygewoon het, is dat hulle albei skitterend was en algemeen byval gevind het. (Gaan lees hul gedigte op hierdie webblad en luister veral na Gert se voordrag van “in die begin was die woord”.)
Terloops, die relletjie rondom die “Rotterdamse aand” waaroor Nuuswekker op 12 Mei berig het, het toe sonder voorval plaasgevind; Rien Vroegindeweij en Jules Deelder ten spyt. Lyk my asof Martin Mooij reg was toe hy in bovermelde onderhoud die opmerking gemaak het dat “de poëzie in de harten van de Rotterdammers (zit).”
Mag jy pret hê vandag in alles wat jy doen. Of nié doen nie. En gaan kyk en luister na die video-grepe wat ons webmeester onder “Lees meer” begin plaas het. Dié lysie sal met verloop van tyd aangevul word.
Mooi bly.
LE
Friday, June 12th, 2009
 Breyten Breytenbach
Hierdie naweek is alle oë op Hengelo in Nederland waar hul fees vanjaar op die kuns van Breyten Breytenbach fokus. Die Raakruimtes-fees, wat van 14 Junie tot 26 Julie duur, bestaan naamlik uit veertien nuutgeskryfde sonnette deur Breyten (in Afrikaans) wat verspreid deur die stad op mure geverf is; ’n spesiale poësieroete – met aforismes as rigtingwysers – lei dan die besoeker vanaf die stasie na dié gedigte, asook die drie lokale waar Breyten se kunswerke vertoon word. Verdermeer sal HC ten Berge ’n lesing oor Breyten se digkuns lewer by die Beursplein se Openbare Biblioteek te Beursplein, tesame met ’n uitstalling van al sy boeke … Die hooffokus is egter Breyten se werk as skilder, met ’n uitstalling waartydens bykans al sy werke van die afgelope veertig jaar te sien sal wees, bestaande uit twee-en-twintig grootskaalwerke, ’n reeks etse en gemengde media, asook tien nuwe doeke wat kuns en poësie op ’n speelse manier by mekaar betrek. In totaal sal daar meer as een honderd werke uit die kwas van een van ons mees vername digters te sien wees. Boonop word ’n spesiale uitgawe van die plaaslike koerant met ’n sirkulasie van 10,000 in die vooruitsig gestel.
Maar dit is nie al nie – die organiseerder het ook bekend gemaak dat Gert Vlok Nel en Charl-Pierre Naudé op 17 Junie saam met Breyten sal optree in die Raboteater. Musiek sal deur Jeroen van Vliet verskaf word terwyl die bekende Amsterdamse podiumdigter, Krijn Peter Hesselink, sal probeer om darem ook ’n Nederlandse kleurtjie tot dié Afrikaanse segetog by te dra. (Gaan lees die amptelike persverklaring hieren die berig op Hengelo se webblad hier.) Ai, wat ‘n geleentheid!
As verdere toegif vanoggend, dié pragtige reëls in Nederlandse vertaling uit Breyten se nege landskappe van ons tye bemaak aan ‘n beminde.
Laat die naweek dawer van vreugde! Nuuswekker hervat weer Maandag.
Mooi bly.
LE
de maan is gevallen en de sterren
zijn gesnoten, vogels deftig in grijze
feesttooi uiten een haastige groet van
zilveren olijf tot groene kurkeik. bij Don Ve cino
kraait een bantammer onder de lege vijgenboom,
wijd en veel verder naar het noorden, dicht bij de
grens
(c) Breyten Breytenbach
Tuesday, May 26th, 2009

…Mavis Vermaak se nuwe EP. Dis moeilik om dit te beskryf. Miskien kan ek sê mense wat van The Buckfever Underground hou sal dit aangenaam vind. Musiek uit die “flipside of the fairest Cape” dalk, alhoewel die flipside hier nie na die vlaktes verwys nie, maar die suburbs.
Ek hou op die oomblik die meeste van “Diep Kaleidoskoop”. Hier is ʼn uittreksel uit die liriek:
“ʼn palmboom dra ʼn dik bruin jas verbloem dun en moedig die uitkyk op ʼn raserige straathoek skaam en dom sou jy kon raai lewens tol daarom negentig bloedlose grade van taai en soet en rond soos gesteelde lekkers soos ʼn brandsiek ek steek my tong uit gee nie om wat jy van my dink nie my pels blink my pote lig hoog ek hardloop langs ʼn gawe see.”
Dit laat my ʼn bietjie aan Gert Vlok Nel dink. Ek hou ook baie van “16 Februarie 2007”:
“wie sit die kartel in die mofskaap se wol wie span die bult oor die afrikanerbees se voorkop wie sit die krul in die mofram se horing wie trek die springbok se pronk oop.”
En:
“op 16 februarie 2007 in die jaar van jou here het ons op ʼn vliegtuig geklim het ons in roodepoort gauteng gebraai geswem gedrink.”
Hierdie een laat my weer aan The Buckfever Underground se “The Highveld is a shit place to be in winter” dink.
Vir meer oor Mavis Vermaak gaan loer en luister gerus hier.
Friday, May 15th, 2009
 Dirk van Bastelaere, Erwin Jans & Patrick Peeters
In die nuutste uitgawe van die Poeziekrant (Nommer 2, Maart-April, Jaargang 33) lees ek dat daar omtrent ‘n geskrop in die hoenderhok ontstaan het rondom die publikasie van Hotel New Flanders - 60 jaar Vlaamse poëzie: 1945 - 2005 (Poeziecentrum, Gent). Die samestellers van dié omvattende bloemlesing (752 bladsye, 672 gedigte, 266 digters), is Dirk van Bastelaere (digter), Erwin Jans (dramaturg) en Patrick Peeters (kritikus). Hulle word tans heftig gekritiseer oor die relatiewe prominensie wat hulle aan bepaalde digters gegee het volgens die aantal gedigte per digter wat opgeneem is. Sug. Is daar ooit iets nuuts onder die son?! Nietemin, hul werkwyse was heel eenvoudig (altans, só het hulle gedink …): Die digters is in vyf kategoerieë ingedeel, elk met ‘n stertoekenning.
Van vyfsterdigters is daar dan soveel as nege gedigte opgeneem. Verdermeer is daar ‘n bepaalde kriterium of riglyn gestel by elke kategorie; so moet die digter genoegsaam “vernuwend” wees ten einde vir vyfsterstatus te kwalifiseer. Die gevolg is dat daar in bepaalde gevalle meer gedigte van ‘n digter met enkele bundels op sy kerfstok opgeneem is, as van digters met ‘n veel meer uitgebreide oeuvre wat slegs vir vier of drie sterre kwalifiseer. Dit het uiteraard aanleiding gegee tot ‘n hele debat oor die kwessie van “vernuwing”. Kan ‘n digter met net een of twee bundels agter sy naam, byvoorbeeld, as “vernuwend” beskou word? Volgens die kritici van die bloemlesing is daar eers daadwerklik vernuwing ter sprake wanneer ’n mate van groepering, of navolging, rondom ‘n bepaalde digter se werk ontstaan het.
Nietemin, dié relletjie het my toe meteens laat besef hoevéél “vernuwende” stemme daar in Afrikaans is wie se totale statuur (tans) nog net op een of twee digbundels gebaseer is: Marlene van Niekerk, Gert Vlok Nel, HJ Pieterse, Gilbert Gibson, Charl-Pierre Naudé, Danie Marais, en natuurlik die twee debutante Ronelda Kamfer en Loftus Marais. Indien ons dan spesifiek na ons eie geblikte Verseboek kyk, wil dit voorkom asof die samesteller tóg daarin kon slaag om meer van ‘n balans tussen produksie en vernuwing te vind; ten spyte van die kritiek wat uit bepaalde oorde geopper is. Maar hoe gemaak met een van ons ware vernuwers wat nie tot bundel wíl kom nie?! Kom aan, Toast, die volk vra na jou!
‘n Lekker naweek vir almal en onthou - Nuuswekker sal Maandag weer hervat.
Intussen kan jy gerus by Facebook of Twitter ‘n draai maak ten einde aan te sluit by ons woelinge dáár.
Mooi bly.
LE
Tags: Charl-Pierre Naudé, Danie Marais, Dirk van Bastelaere, Erwin Jans, Gert Vlok Nel, Gilbert Gibson, HJ Pieterse, Hotel New Flanders, Loftus Marais, Marlene van Niekerk, Patrick Peeters, Poeziekrant, Ronelda Kamfer Posted in Nuuswekker | Lewer kommentaar »
Add this post to Del.icio.us - Digg
|
|