1. Wanneer het jy dié gedig geskryf. Hoe het dit ontstaan? 2. Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel? 3. Hoeveel van dié vers is aan jou”gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van “bloedsweet”? 4. In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander onderdenings beginsel toegepas? 5. Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as”klankbord” gebruik het terwyl jy aan ‘n vers gewerk het? 6. Hoe lank na die vers voltooi is, het jy gepubliseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn? 7. Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers? 8. Is dit ‘n narratiewe vers? 9. Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel? 10. Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ‘n bepaaldeinvloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het? 11. Het jy ‘n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ‘n vers werk?12. In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte? 13. Is daar iets in dié verswat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou? 14. Kon jy dié vers tot ‘nbevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas versaak? 15. Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (ofpublikasie) daarvan? 16. Wanneer het jy jou eerste gedig geskryf?
Die gedig geskryf in Junie 2008, een aand om en by ses uur, net voordat ek huis toe gegaan het: só rapporteer Windows se lêer-inligting. Dit was vir ’n uitstalling wat Bernard Odendaal en Ben Bothma in Bloemfontein wou hou waarin digters en beeldende kunstenaars mekaar (in teorie altans) kreatief ontmoet. (Kyk: http://versindaba.co.za/2009/07/09/uit-die-palm-van-die-land/). Ek sien in en om my werk dikwels die gevolge van motorongelukke, en was poëties gerat om iets rondom hierdie spesifieke tema doen. Die keuse van die motor wat in die ongeluk sou wees, was lukraak. ‘Almera’ klink die mooiste.
Die gedig het homself geskryf en vinnig tot finaliteit gevorder, sover ek onthou. Oorlede Izak de Villiers het ’n vroeë vorm elektronies gelees, maar niks daaroor gesê nie. Ek dink hy het nie baie daarvan gehou nie.
Die lyn tussen feit en fiksie is hier, soos in baie ander verse, maar vaag.Daar het sekerlik nie ’n insident presies soos hierdie gebeur nie, maar dit sou kon. Daarom is dit heilige, en absolute, waarheid. In my kop vind hierdie ongeluk plaas iewers naby Malmesbury in die Kaap.
As agtergrond seker JG Ballard se verhaal Crash, ‘n literêre ontleding van motorongelukke (verfilm deur Harley Cokliss)
- dié een en dieselfde Ballard wat in die 1980’s beïndruk met Empire of the Sun.
Die titel van die vers natuurlik Thomas Eugene“Tom“Robbins se Another Roadside Attraction, Balantine, New York (1971). (Kyk: http://aftrlife23.appspot.com/)
Ek wou dit lank another fatal roadside attraction noem, maar het dit later (bes moontlik onder druk van my redakteur, Francois Smith), net another roadside attration genoem. Die vers handel in wese en voor-die-hand-liggend (uit die palm van die land) oor ’n gesin per motor na ’n onbekende bestemming.Almal is besig met hulle eie dinge - om dié rede is daar reeds afstand by mense wat op die oog af naby aan mekaar is.Die vers gaan oor hierdie mense, oor hierdie afstand, en eindig waar hulle in ’n (noodlottige?) ongeluk kom, waar die baba wat slap in die komberse lê, styf word. Ek probeer in die gedig die gevoel van dreigende onheil wek: ‘n angor animi, daardie simptoom van impending doom wat pasiënte soms kry – die absolute geloof dat hy of sy gaan sterf – soos dikwels by miokard-infarksie, pulmonale embolisme, of angsversteurings met paniekaanvalle.
Ek het geen spesiale leser of gehoor in gedagte gehad nie.
Daar is belangrike/ onbelangrike ooreenkomste met ander van my verse – miskien die opeenstapeling van beelde wat dan lei tot oënskynlike oplossing. Ek het die vers so bevredigend geskryf soos wat ek dink ek kon.Die grys langbroek van die pa kom van poliëster klere van ouers jare terug.
As kind het die tannies van Suid-Afrika gebrei.
Maar in die vers het die wit smallfamilycarbuiltbynissan finaal tot stilstand gekom. Sê William Carlos Williams ‘To Elsie’ (1923):
while the imagination strains
after deer
going by fields of goldenrod in
the stifling heart of September
somehow
it seems to destroy us
It is only in isolate flecks that
something
is given off
No one
to witness
and adjust, not one to drive the car
Die eerste vers wat ek ooit geskryf het, onthou ek gelukkig nie. Ek is daarvan oortuig dit sou swaar dra aan die liefde; dat woorde soos sag, leeg en reën daarin figureer het.Die skrywe daarvan sou maklik gekom het.
Vandag egter, is die skrywe moeiliker.Dit gaan meer langsaam, die drif is minder, en uiteindelike ontknoping bly ontsnap. Ek gebruik net soms ’n klankbord vir ’n komende gedig, soos wanneer ek by die huis iets uit die bloute opsê of aanhaal wat dikwels die res van my gesin verstom met die ontoepaslikheid daarvan.
Gilbert Gibson is in 1963 gebore. Hy word tussen Winburg en Marquard as ’n plaasseun groot en skryf matriek aan die Hoërskool Marquard. Hy studeer medisyne aan die Universiteit van die OVS en praktiseer as internis in Bloemfontein. Hy het ’n belangstelling in kardiovaskulêre risikofaktore en siektes wat met slaap verband hou.
Gibson se eerste verse verskyn in Standpunte en Tydskrif vir Letterkunde terwyl hy nog op skool was. Sy debuutbundel, Boomplaats, verskyn in 2005 en word in 2006 met die Protea Poësieprys bekroon. In 2007 word dit opgevolg met die digbundel Kaplyn. Sy derde digbundel, oogensiklopedie, verskyn in 2009 by Tafelberg.
My puriteinse siel is in beginsel gekant teen iets wat baie geraas maak, baie geld kos, gevaarlik is en ook dikwels onprakties. Sien my dus nie as ’n groot aanhanger van motorfietse nie. Tog word ek geleidelik gewen vir ’n rit af en toe, solank dit iewers heen is en nie net om draaie te gooi nie. Toe die wolke Saterdagoggend dus ’n bietjie ooptrek, toe vat ons die tweewielpad Vrystaat toe. Dis die middel van Paasnaweek en die paaie is stil. Ek kan maar terugsit en vir die wolke kyk. Parys hier kom ons.
Daar’s ’n liedjie, weet nie wie dit sing nie, The ballad of Lucy Jordan:
… At the age of thirty seven
she realised she’d never ride
in a sports car through Paris
with the warm wind in her hair …
Wel, daar ry ek toe, op die ouderdom van sewe en dertig, deur die strate van Parys.
Ons eintlike bestemming was Vredefort – die meteoriet, die koepel, die klippe. Wat kan ek sê? Ons was in Vredefort. Ons het gedink ons sien die middelpunt van die koepel en die berge daaromheen. Want Vredefort het skynbaar vrede met toeriste. Daar was ’n klein bruin bordjie met ’n i vir informasie…
Om terug te kom na die motorfietse. Dis nou nie iets wat my digterlike wiele laat draai nie, maar twee Afrikaanse digters kry dit goed reg. Hier is Sheila Cussons (uit Die swart kombuis (1978)):
Die motorfiets
Verlepte geel laphoede van pampoene
loer nuuskierig paprand
tussen bebaarde dissels deur
waar honde-pie en kakiebos meteens
orenter staan van voorgevoel:
’n afbeensprinkaan hink die dorpspad
agterna, wat rinkhalsnekgerek
doer in die verte iets bespeur –
en als is stilte, hitte, langoor-husse bang gespits…
en dan, o heerlikheid, dan spat
die lug in bloubordskerwe uitmekaar
en honde-pie, pampoene, dissels gryp
vervaard laphoede, pluime en bosgasies vas
want links, regs, knal – o oordeelsdag –
’n flou-van-word verruklikheid –
dan poep-poep-poep die Ding
al dowwer weg en daal die rus
maar weer half valerig neer soos as.
En meer onlangs, Gilbert Gibson (uit oogensiklopedie (2009)):
hoe ’n motorfiets snags verby
ek luister in die donker hoe ’n
motorfiets op die N1 verby, die nag
om die geluid gehul soos olie om ’n rat.
en ’n pols oor die versneller gebuig, die hand
gesper, die wiele deur hul eie skaduwee gejaag, ’n
veraf lyn uit die horison teen aankomende verkeer geëts,
die roete van hier tot in die uiterste ewigheid en die wind kom
om die lyf soos ’n regverdige regter, in die koue van die ooppad
geknus. die motorfiets raak dan stil. en jaag verder uit die voortslaap
weg, die stippelstreep in die middel van die pad gedwaal tot niks. die rooi
van die remlig swem in donker lugspieëlings, in vals fokus van die onsiende
oog. ek luister in die donker. ek luister die donker. ek luister weer deur donker.
Dichters zijn net vampiers. Niet zelden leven ze van andermans poëzie, poëzie die hen raakt of irriteert, en inspireert tot het schrijven van een eigen tekst, als in een antwoord. Poëzie die de dichter laat zien wat al gezegd is, en wat er nog te zeggen valt zonder in herhaling te vallen.
Zelf ben ik eind jaren negentig op het spoor gezet door het werk van de Amerikaan John Ashbery en de Nederlander Nachoem Wijnberg, die vorig jaar nog te gast was op Die Woordfees in Stellenbosch. Daarna kwam daar de Nederlander Kees Ouwens bij. En het Afrikaanse trio Antjie Krog, Charl-Pierre Naudé en Peter Blum. De laatste grote invloeden zijn voorlopig de Australiër Les Murray, de Canadese Anne Carson en de Rus Joseph Brodsky.
Maar je hoeft de verrassing niet altijd ver van huis te zoeken. Laatst had ik dan eindelijk weer eens tijd om wat te grasduinen in nieuwe poëzie, buiten mijn werk als redacteur om. Een goede manier om de schrijfspieren, die nagenoeg verlamd zijn na mijn laatste bundel, wat op te warmen. Ik merk dat ik op dit moment blijf hangen bij poëzie die op het oog direct welsprekend is, zonder eenduidig of clichématig te zijn. Een week of twee terug las ik een nummer van tijdschrift Het Liegend Konijn, van oktober 2009. Een mooie aflevering. Het Liegend Konijn verzamelt uitsluitend nieuw werk van Nederlandstalige dichters, en ook is er ruimte voor enkele debuten. Je vindt altijd iets verrassends. De nieuwe gedichten van Alexis de Roode (geb. 1970) bijvoorbeeld. Een reeks van 10 gedichten, getiteld ‘Dierkunde’. Sprekend werk vond ik het, en ook grappig, voor een Afrikaanse lezer waarschijnlijk niet al te ingewikkeld om te volgen:
De jacht
Ik had een vriendin
haar vader was jager
hij had een eland geschoten
en nu was hij wereldberoemd in Canada
de mensen in het vliegtuig klapten voor hem
Zij hield een keer een spreekbeurt over de jacht
iedereen op school was tegen
maar na afloop was iedereen voor de jacht zei ze
iedereen wilde haar vader ontmoeten
Haar hele huis hing vol hertenkoppen
ik denk wel een stuk of 300 koppen
als ik naar de wc ging ’s nachts
kwam ik zeker vijf herten tegen
de ene nog mooier dan de andere
Ik was gek op herten
niet op een sentimentele manier
ik had wel een hert willen schieten
als je van de natuur houdt hou je ook van jagen
maar ik zou geen hertenvlees eten
dat is een grens die je niet overschrijdt
Als je een gazelle bent op de savanne
heb je genoeg leeuwen om je op te eten
maar hier heb je als hert geen vijanden
je moet het wild een beetje scherp houden
anders gaan ze in de steden wonen
De (gespeelde) naïviteit, de bewust onhandige herhalingen, het geeft het gedicht vaart en beeldende kracht. En het is erg fijn als je ook om poëzie kunt lachen.
Jagen
Heel anders is het korte maar uiterst krachtige gedicht van Mustafa Stitou (geb. 1974), in hetzelfde nummer:
Houd mijn hand vast.
Ik mis een pink. Ik ging,
kind was ik, een dag
uit moorden. Een kleine
eeuw geleden. Een zomerdag.
Zonder reden
herinner ik mij. Hommels.
Mussen. En toen
een zwaan. Aan de rand
van de vijver zag ik
de duivel staan. Grienend
sloeg hij mij gade.
Dit is zo’n gedicht dat ik zelf geschreven zou willen hebben.
Poëzie werkt dikwijls het sterkst als je niet te hard zoekt naar betovering – daarom is het mooi om door een literair tijdschrift van achter naar voren te bladeren. Zo kom je eerst de gedichten tegen, pas daarna de naam die erbij hoort.
Vorige week bladerde ik in een boekhandel door Digitale hemelvaart, de nieuwe bundel van de Irakese dichter Rodaan Al Galidi. Hij woont sinds 1998 in Nederland en schrijft poëzie en proza in het Nederlands. Ik las het volgende:
Het wonderei van Rodaan Al Galidi
Normaal gesproken
leg ik mijn gedachten op papier,
maar twee weken geleden
legde ik een ei.
Uit respect voor mijn gedachten
en wat eruit kon komen,
bouwde ik een nest in de hoek van de kamer
en zat op het ei.
Vrienden en collega’s
geloofden niet dat ik een ei uitbroedde.
Ze dachten dat ik
mijn wereld niet wilde verlaten.
Hoe lang zal mijn broeden nog duren?
Hopelijk niet een leven lang.
Wat komt eruit?
Hopelijk geen mens.
Je moet na het lezen van zo’n gedicht niet wanhopig op zoek naar nog meer moois, maar de bundel dichtslaan, aanschaffen, en rustig de winkel uit lopen. Mensen kijken, een eindje fietsen, een broodje eten, beetje staren naar de boten. Zoiets.
Of nee, misschien toch nog één gedicht dan, ’s nachts voor het slapen. Maar dan een gedicht dat minstens even sterk is. Dus pak ik Kaplyn erbij, van die fenomenale Afrikaanse dichter Gilbert Gibson, die maar gauw eens naar Poetry International moet komen:
hink
in omtrent die jaar van onse
negentien vyf
en sewentig of so het
op ’n reënerige vrydagmiddag
’n melktenker van die
middevrystaatsuiwelkoöperasie wat in die
spruit vasgesit het
oor my pa se bene gery
schalk die lorriebestuurder was angstigrig
vir my ma: tannie
moet nou nie skrik nie,
sê hy, en het hulle twee
met die kar en die handdoeke
en bloedbene winburg
toe gery en toe per ambulans
rooilig gesnel tot die
nasionale hospitaal in
bloemfontein. dieselfde aand
het ek in ’n kinderkrans-
konsert gespeel onder blindes
eenoog die saaier, onder leiding van ’n
paar tannies. en het ek
my voor dit alles verbeel en
geoefen ’n man uit gelykenisse
hy
loop
mank
Maar dan is het genoeg. In een paar dagen tijd een handvol goud, daar moet je zuinig mee zijn. Niet te veel ineens willen. Eerst eens kijken of deze gedichten mijn spieren een beetje hebben kunnen opwarmen.
oogensiklopedie. Deur Gilbert Gibson. Tafelberg. ISBN 978-0-624-04831-2.
oogensiklopedie. gilbert gibson
Gilbert Gibson het met boomplaats (2005), waarvoor hy die Protea-poësieprys ontvang het, en Kaplyn (2007) ‘n reputasie as digter van die minder toeganklike, van die begripsuitdagende, sogenaamd “hermetiese” of “geslote” soort vers opgebou.
Met oogensiklopedie, wat laat verlede jaar verskyn het, versterk hy dié reputasie op oortuigende en kragtige wyse.
Laat my dadelik sê: Nie naastenby al die gedigte in oogensiklopedie is van die geslote soort nie. Verse soos “aisling”, “another roadside attraction”, “daguerreotipe”, “hoe ‘n motorfiets snags verby”, “huis 16″, “interim:”, “locus iste”, “nietig”, “rehabilitasie”, “ruach jahwe”, “sand”, “selakant (ii)”, “swerf”, ensovoorts spreek treffend genoeg as ‘t ware vir hulleself. Vergelyk die volgende gedig, met sy skreiende ironieë:
lamentasie (ii)
welgeluksalig is die wat van die veronderstelling uitgaan
dat alles, ja alles, beter sal word;
diegene van wie die hart van skone skok
in winterswem wil-gaan-staan.
welgeluksalig die wat die reuk van rooigras
as simbool van beterwete onthou,
wat dié gras tussen ander halms kan herken.
welgeluksalig die wie se asem van trappe klim opraak,
naelbyters, angstiges, die wat vroeg soggens wakker word
en nie verder kan slaap nie. welgeluksalig
die wat met die hand skrywe, sampioenplukkers,
horlosieversamelaars, die wat onnodig bang of verlang:
twee vir ‘n stuiwer; die binneste donkerte.
welgeluksalig die wat in vliegtuie vaak raak,
die wat ly aan roomyshoofpyn, oë
soos bloedgestude plasse in die gesig
welgeluksalig die wat bemin
met ‘n mond vol gif. in drome vry
is die geluk so gelede
soos ‘n kwashaal op ‘n skildery[.]
Maar dan staan daar ook ‘n hele aantal gedigte in oogensiklopedie waarvan ek, selfs na herhaalde lees, moet getuig dat hulle my lesersdrang na die lê van samehangende verband, na koherente betekenistoekenning, bly fnuik. ‘n Voorbeeld:
gras
ek vermoed aan die temper van stap
dat vorentoe vaar soos ‘n skip op donker water
en daaronder die rivier retireer soos ‘n oog voor skrik,
‘n oomblik beduidend tussen lig en donder.
ek vermoed dat elke intrek van asem
‘n aalmoes uit die weerkaatsing van terugkyk stroop:
‘n geheim; slitted eyes
die mond ‘n tergende wond
wat wind oper forseer
(deur en vir die wolwe).
bloed is vir my
soos gras vir waltwhitman,
‘n minuskule motief. daaragter,
a long history of madness[.]
Maar: júís, besef ‘n mens skielik. Staan die woorde “geheim” en “a long history of madness” nie daar in die gedig vir almal om te sien nie?
Tot tweemaal toe in die bundel (bladsye 16 en 95) word die haglike verband tussen taal en werklikheid uitgespel. Vergelyk uit die gedig “ataraksie” (’n titel wat waarskynlik ‘n funksionele kontaminasie tussen “attraksie” en “ataksie” behels, waar laasgenoemde term wanorde of ‘n onvermoë aandui om bewegings te beheer as gevolg van senusiekte):
hy verduidelik geduldig hoe taal
die wêreld verwring, hoe die wêreld taal verwring.
Die neerslag van hierdie dilemma in die bundel is ‘n voortdurende spanning tussen helderheid en duisterheid van betekening. En dit gaan nie net om die afwisseling van “begryplike” en “onbegryplike” gedigte nie. Byna elkeen van die meer toeganklike verse bevat ook iets “geheimsinnigs”; let maar op wat in die slotstrofe gebeur van die hierbo aangehaalde “lamentasie (ii)”.
En in elke “duister” gedig is daar minstens moménte van “helder”, onmiddellik treffende formulering, hoewel die implikasie van die gediggeheel mag stribbel teen die leser se begrip. Ek haal maar nog ‘n voorbeeld aan:
triste
die aand daal oor die huis nes lig
wat om vuur sirkel, en primitief in vroegdonker die vlam be-
sweer. dieper gekring het jou jesus
hierdie aand berei soos ‘n teug uit die hiernamaals, ‘n
vlugtige nabootsing van die intieme verhouding tussen lewe
en dood. hy het in die voornag
sinne enduit van asem laat opraak
agter die wrang trek aan die binnekant van die wang
die keel laat snoer tot stil.
hy het julle almal versorg, en toe uitgestap
in die donker en ver
‘n hond hoor blaf, geweerklank,
asof uit ‘n kerk. die donker was wispelturig
nes vuur om nat hout. in die huis
was die afwesige lig soos ‘n lam geslag,
verlos van pyn en poging tot.
en het bo ‘n paar sterre gefladder soos hande as hy
toe-oog sing, hande soos twee parkiete daardie oomblik
voordat die kou finaal oopgaan:
die aand daal oor die huis nes lig
wat om vuur sirkel
tot donker[.]
Motiewe soos slaap (en die afmattende teenstelling daarvan: slapeloosheid), drome, geslote oë, skemertes, donkerte, onthou en vermoed hou opvallend met sodanige spanning, asook met die epistemologiese twyfel wat dit onderlê, verband.
Trekke van wat al tot afslyting toe as postmodernistiese literatuurkenmerke bestempel is (en ek leen so stuk-stuk uit Hein Viljoen en Chris van der Merwe se Alkant Olifant. ‘n Inleiding tot die literatuurwetenskap), deurspek dus (die lees van) oogensiklopedie: onbepaaldheid (betekenisfragmentering en -onsekerheid); die gevolglike aktiewe rol van die leser in die konstruksie van die teks; beklemtoning van die ironiese en absurde; die problematisering en radikale relativering van werklikheidsbelewing en van die grense tussen literêre genres; vooropstelling van intertekstualiteit (besonder opvallend gemaak in die reeks “sewe dubbelsinnighede”) en van vasgevangenheid in taal (en literêre vorme, byvoorbeeld vooropgestel in die herhaaldelike benutting van die Shakespeariaanse sonnetvorm in die bundel).
Nie verniet nie lui die slotstrofe van die openingsgedig:
[...] ‘n woordige lei: interspasie taal
die oopveld atonaal[.]
Die bundeltitel suggereer ook ‘n spanning tussen die subjektiewe (oog, manier van kyk) en die objektiewe (ensiklopediese kennis, wetenskap) - ‘n teenstrydigheid wat ewe kenmerkend is van die postmodernisme, waar narcisme(ekkerigheid, selffokus deur die skrywer) en selfverlies (leegheid, platheid en fragmentasie van die ek) as ‘t ware meeding as gereflekteerde lewenshoudings.
Die “metafoor van die oog” waarvan daar in die genoemde “ataraksie” gewag gemaak word, slaan op die manier van kyk, op visie, dit wil sê op die beperkte, nie-omvattende, nie-allespeilende kyk (waarneming en gewaarwording) waartoe die menslike subjek gedoem is - die oomblik voor die visioenêre, soos in die woordelys agterin die bundel verduidelik word. Die herhaalde voorkoms van woorde soos kyk, sien, loer, oog, lig, donker, skemer, oftalmologiese, visie en foto’s stippel die deurlopendheid van dié motief in die bundel uit.
Dis eintlik ironies dat die openingsgedig “visioenêr” van inslag is - “uit fragment / tot resonansie geswiep”, hoewel daar ook maar net gevorder word van “onskuld” tot “onkunde”.
28°47′S; 27°19′O
daar is ‘n plek iktaal
‘n plek waarvan jy weet
waar jy jou geografiese einde
met die ope arms van epilepsie
omhels. die plek het gras uit fragment neuropoëse
tot resonansie geswiep, die spriet anoniem
en weerskante marginale sipresse
wat in die aand konfrontasies vermy
onder voed ‘n gefermenteerde reuk soos
aan die binnewand van ‘n populierbos
na reën: eers onskuld, toe onkunde,
die smalle en die breede weg
en all that shit. daar is ‘n plek in temporale
afstand in geheime relaas tot gras,
die lug gegrys die lig laag op laag
soos ‘n woordige lei: interspasie taal
die oopveld atonaal[.]
Twee gedigte verder word die waan van die interpretatiewe, begrypende blik (ook - ironieserwys - gesuggeer deur “interspasie” aan die einde van bostaande gedig?) egter skouspelagtig ondermyn as onder meer geykte religieuse sienings en retoriese stelwyses ortografies ontwrig word:
ama tis
diehe reis ‘n lig en ‘n heil
virwie souek vrees?
diehe reis dietoe vlugvanmyl ewe
virwie vervaar dwees?
‘n droo mgaanver bys oos
wat er wat vallens
kuurt een my
hoë rop hoë rop
jaso os ‘n doods kaduwee
so os ‘n groe ndal:[.]
Ook die digter bly beperk tot “die kyk se singende lens”, soos dit in deel (ii) van die reeks “://_mezangelle” gestel word. Dié gedigreeks, asook die gedig “ex libris”, kan uitgesonder word as gedigte waarin die problematiek van die digterlike vertolking op die spits gedryf word, juis ook deur die verregaande aandagvestiging (deur middel van kantaantekeninge en die benutting van allerlei tekens uit die rekenaar- en internettaal) op die tekenmatige, manipulatiewe aard van taal en poësie.
Dat die wyse “whereby visible Objects are represented to the Mind” (uit die aanhaling wat in die bundelmottoposisie staan) ingrypend deur die talige en poëtiese vergestalting daarvan geraak word, word op ‘n hele paar maniere in die bundel beklemtoon.
Eerstens kom ‘n rykdom aan intertekstuele verwysings, toespelings en aanhalings voor, met die Bybel en die tradisionele Afrikaanse geestelike liedereskat wat uitstaan as bronne in hierdie verband. (Onder meer word ook die volgende outeursname genoem of iets van hul werk geëggo: e.e. cummings, James Joyce, Michael Ondaatje, Van Wyk Louw, Borges, Margaret Atwood, Ingrid Jonker, Gert Vlok Nel, W.H. Auden, Wallace Stevens, D.J. Opperman, Breytenbach, Eugène Marais en Jan Celliers.)
Tweedens is kantaantekeninge en/of voetnotas by party gedigte aangebring, onder meer in die vorm van verklarings, uitbreidings en geassosieerde interteksvermeldings. Soms is die gesuggereerde verbande hier (doelbewus) yl, indien nie misleidend nie (soos by die gedig “hipostase”, wat hierna aangehaal word).
‘n Lys van woorde met verklarings is, in die derde plek, aan die einde van die bundel opgeneem, terwyl dié lys ook afgedruk staan op die voor- én agterplat van die bundelomslag. Ook hier is elemente van “onbetroubaarheid” te bespeur: Sommige inskrywings is nie werklik verklarend van aard nie, terwyl enkele verklarings slegs gedeeltelike toeligting bevat.
Die verduidelik van die betekenis van die gedigtitel “hipostase” as “onderliggend tot” is van laasgenoemde ‘n voorbeeld. Eers as ‘n mens in woordeboeke naslaan dat dié term slaan op ‘n “fundamentele beginsel, basis, grondslag”, maar ook op ‘n “enkelvoudige substansie” en op ‘n “substansiëring van ‘n goddelike eienskap”, word iets meer aangaande die gedig duidelik.
hipostase
nes asof in ‘n ongedroomde lê voor dorpe
die wind onder my vingerafdruk vas:
afdraaipaaie dreigend,1 verweerde mure nog warm
van gister se son.2 na die droom
is die kneusing op my kussing soos die kleur van ploegskaar, alles
in the name of the lord
1. die arbeid van wind oor dorpe is goedkoop, is seisoenaal: ‘n fisant se opvlieg na onverwagte reën; murasies; die besleg van verskille
2. in die skemer is trekvoëls oor die donkerwordende die dorp se dialoog. en bleek die witskrif tot wolk soos ‘n vingernael reg van voor; ‘n maan oor die dorp
Vierdens is daar die reeds genoemde benutting van rekenaar- en internettaal en -tekens in bepaalde gedigte.
In die vyfde plek moet in hierdie verband die ontwrigting van die normatiewe en geykte woordgebruik- (byvoorbeeld deur woordsoortfunksiewisselings, of deur ortografiese verskrywings, soos in “ama tis” hierbo) en sinsboupatrone (veral ellipse) genoem word, asook ongewone beeldingswyses wat oral in die bundel voorkom. Die reeds vermelde “ataraksie” haal ek hier ter illustrasie in sy geheel aan:
hy verduidelik geduldig hoe taal
die wêreld verwring, hoe die wêreld taal verwring.
skets iets uit ‘n coen-film, vinnige nadertrek-
skote, in die voorgrond die gehuil
van ‘n deur wat oop- of
toegaan. hy wag op onsekerheid, of meer
gru nog, gewisse dood,
die element van verrassing. die woord
is ‘n hond van god. liefde is ‘n doek. hy
glo in die heilige maagd
soos aan die metafoor van die oog
die film is ‘n straal, ‘n pad na boek. verban; berou
die verinnerde vanwyklouw[.]
‘n Sesde opvallendmaking van die talige en poëtiese ingreep op die werklikheid(-swaarneming) is die benutting van (min of meer) vaster digvorme, soos die reeds vermelde Engelse sonnetvorm, en selfs enkele voorbeelde van Opperman-agtige verse opgebou uit rymende distigons. Meermale eindig andersins eindrymlose gedigte op ‘n nadruklike paarrym - iets wat ook in Gibson se vorige bundels voorgekom het, soos ook enkele voorbeelde van sonnetagtige gedigte en ‘n paarrymende vers in boomplaats.
‘n Besonder sprekende uiting van die taalmatige en derhalwe werklikheidsverwringende afdwinging van orde is die wyse waarop die gedigte in oogensiklopedie alfabeties volgens die beginletters van die bundeltitels gerangskik is. So ‘n alfabetiese rangskikking, byvoorbeeld van bestaande kenniseenhede en velde in ‘n ensiklopedie, is in wese ‘n buite-epistemologiese beginsel, iets heel arbitrêrs dus. Die (manipulerende, maar eintlik magtelose) arbitrariteit van só ‘n ordening word bykomend kenbaar gemaak in die gedig “ideografie” (waar dié titel blykens die woordelys agterin onder meer ironies slaan op “grafiese tekens wat idee [...] uitbeeld”). Dis opgebou uit ‘n lysting van die gedigtitels tot (nogal genommerde!) “versreëls” wat telkens een van die benutte alfabetletters dek.
Van die bekende wyses van bundelrangskikking (byvoorbeeld op sikliese en/of reeksmatige grondslag) het ‘n parodie oorgebly - selfs al kom ‘n aantal gedigreekse in die bundel voor, en al lyk dit of daar breedweg van ‘n meer spesifiek gelokaliseerde konteks aan die begin (vergelyk die kartografiese posisieaanduiding as titel van die openingsgedig soos hierbo aangehaal) na ‘n groter, selfs kosmiese verband aan die einde van die bundel gevorder word (waar die mens-God-verhouding in die slotgedig “wat die mens” ter sprake kom).
Hierdie “arbitrêre” bundelrangskikking stel egter juis ‘n funksionele gestalte daar met betrekking tot die strekking van die bundel.
Soos aangedui, sinjaleer die ensiklopedie-deel van die bundeltitelwoord ‘n meer objektiewe kennispool, as teenhanger van die uitgelewerdheid aan die subjektiewe persepsie van die indiwidu. Die uitdrukking “kenosis van die oogensiklopedie” in die reeds vermelde sentrale gedig “://mezangelle” (’n titel wat luidens die woordverklaringslys agterin op “poëtiese kodering” dui) vertolk die strewe in hierdie verband. “Kenosis” word soos volg in dieselfde woordverklaringslys verduidelik: “die gedeeltelike verlies van die goddelike natuur by die christus as mens. leegmaak; lediging (gr.), soos die afstanddoening van die eie ek in die skryf van ‘n gedig”.
Vandaar die (pretensie van) ‘n ensiklopediese aanslag, van die aanwending van wat gewoonlik as “tipies wetenskaplike” stylkenmerke geag word: begrippeverklaring, bronverwysings, voetnotas, nommering van sommige gedigtitels, strofes en verwysings.
Die woord “iktaal” word in beide die openingsgedig en die tweede laaste gedig in die bundel (”wantroue in die lettertipe”) gebruik om hierdie dubbelslagtigheid of polariteit tussen subjektiwiteit en objektiwiteit verder te beklemtoon. “Iktaal” is luidens die verklarende woordelys agterin ‘n woord afgelei uit die Latyns iktus, wat na sowel “aanval, soos in epilepsie” (= verlies van die “eie ek”) as na “klemtoon, soos in aksent” (= die persoonlike nuanse) verwys.
Via die Nederlands “ik” koppel Gibson die woord ook aan “‘n plek iktaal”:
[...]
‘n plek waarvan jy weet
waar jy die spasie wat in windgreep vou
met die warrelende arms van onheil omhels
die plek altoosdurend en by verstek
eie; ek[.]
(”wantroue in die lettertipe i”)
Die subjektiewe beperktheid blý geld. Geen wonder dat die antiek-Griekse siklope-mite oor die eenoogreuse in die bundel betrek word nie (in die sewedelige reeks “sikloop”).
‘n Besonder boeiende element in oogensiklopedie, gesien die postmodernistiese gees en die radikale epistemologiese twyfel wat so sterk daarin figureer, is die waarneembare religieuse inslag van dele daarvan, byvoorbeeld in gedigte waarin daar van gebed sprake is. Myns insiens kan die religieuse belewing, veral die menslike siening van en kennis oor die Godheid of ‘n godheid, analoog gesien word aan die algemene waarnemings- en kennisproblematiek wat so sterk in die bundel figureer. Die spanning tussen (die hoop op of vertroue in) ‘n samehangende, betekenisvolle beskouingsraamwerk, al is dit dan metafisies gefundeer, en die subjektiwiteit, ontoereikendheid en gefragmenteerdheid van die belewing van die goddelike teenwoordigheid en bestiering in die hiermaalse, bestaan ook hier. Vandaar frases soos die volgende:
‘n snellende gebed agter
toe ruite. maar ons here
was besig met die ewige
["die kind (ii)"]
u vind vreugde in klip
u gee guns aan stof
u naam keer terug tot die gebede van verwerptes
u kom snel
u is selfde (ek veronderstel)
["mariamagdala (iii)"]
daar is ‘n geluidlose verlange
uit die middelpunt
van ons, die bang gemoed,
en donkerte, ‘n herinnering
aan lig.
["tjernobil (ii)"]
geloof, die sluipende suspisie
[...]
die stil gebed van prosac
(”wat die mens”)
In die lig hiervan is daar ‘n akute besef van die menslike nietigheid. Gras (en die verwante halms en kaf), ‘n ander opvallende motief van Bybelse oorsprong in die bundel, is simbolies hiervan.
Op die “skeel kyk” en “wegskramsê” van Gibson se debuutbundel, op die problematisering van die verwysende funksie in (digterlike) kommunikasie, word, soos gesê, kragtig en buitengewoon boeiend voortgebou in oogensiklopedie. Die leser word dikwels uitgedaag tot die invul van betekenisgapings, en selfs mislei in die proses, om die sentrale problematiek as ‘t ware aan eie lyf te voel.
Die bundel is ook ‘n uitstaande voorbeeld in Afrikaans (soos ook byvoorbeeld Antjie Krog se Lady Anne uit 1989) van poësie waarvan sommige gedigte buite die bundelverband heel moeilik leesbaar sou wees.
Nie ‘n bundel vir Jan en alleman nie. Maar ‘n unieke bydrae wat nie gemis kan word in Afrikaans nie.
‘n Mens is dus dankbaar dat ‘n “ruim subsidie” van die LW Hiemstra Trust (blykens die kolofon) die publikasie daarvan moontlik gemaak het. Dis ‘n subsidie wat nie aldag vir die uitgee van solodigbundels beskikbaar gestel word nie, en ook nie Gibson se vorige twee bundels beskore was nie.
Hierdie is ‘n relatief lang resensie. Maar veel val nog te sê oor die bundel, waarskynlik dikwels andersluidend as mý poging.
Bernard Odendaal, Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat
Nou ja, toe. Daar is dit wat ons altyd vermoed het, nou bo alle twyfel bewys deur ‘n groep sielkundiges wat aan die Universiteite van Dundee en St Andrews in Skotland verbonde is: Poësie versterk breinkrag. Volgens die betrokke sielkundiges genereer die lees van ‘n gedig véél meer oogbewegings as wanneer prosa gelees word; ‘n verskynsel wat met meer diepgaande gedagtegang geassosiseer word. Richard Gray van Scotland on Sunday, het dit soos volg gestel: “Subjects were found to read poems slowly, concentrating and re-reading individual lines more than they did with prose. Preliminary studies using brain-imaging technology also showed greater levels of cerebral activity when people listened to poems being read aloud.”
Dr. Jane Stabler, letterkundige en lid van die groep navorsers, beweer dat die ritmes en (rym)klanke van ‘n gedig latente prosesse in die brein her-aktiveer wat sedert die vroeë kinderjare daarin vasgelê is. Voorts dwing die gebruik van verstegniese aspekte soos assosiatiewe beeldgebruik die leser om meer noukeurig te besin oor dit wat gelees, of gehoor, word. “There seems to be an almost immediate recognition that this is a different sort of language that needs to be approached in a way that will be more attentive to the density of words in poetry,” het sy gesê en bygevoeg: “It may be because readers are trying to hear the words or recreate the imaginary event the poet has provided a script for.”
Hierdie ontdekking van andersoortige breinprosesse tydens die lees van poësie, veroorsaak dat die sielkundiges nou begin om poësie in te span in die behandeling van probleme wat veral met die geheue te make het, waaronder byvoorbeeld disleksie: ”It certainly has implications for children who have certain difficulties, like in dyslexia where a rhyming deficiency could be compensated for by exposing them to more poetry,” het dr. Martin Fischer, nog ‘n lid van die span navorsers, onder andere gesê.
Ai. Nou hoop ‘n mens net dat die enkele onderwysers wat bogenoemde nog nie besef nie, hul holruggeryde tegniek van “eksamen-afrigting” sal laat vaar en eerder begin met die daadwérklike onderrig van poësie op skoolvlak. En dat die Groot Kinderverseboek dapper langs elke Bybel in ons land sal staan … Of wat praat ek alles? En wat van die “prosadigting” waarmee Charl-Pierre Naudé op sy blog mee doenig is? Hoe lyk dit - wil jy nie Lucas Malan se voorstel volg en ‘n eie, gunsteling prosagedeelte na digvorm oorhewel en vir ons stuur nie?
Vir jou breinprikkel plaas ek vanoggend “Ama tis” uit Gilbert Gibson se nuutste bundel. Lekker kopkrap. En onthou: Poetry gives you wii-i-i-i-ings!!!
***
Opwindende plasings gedurende die naweek is Nicol Stassen se voorwoord tot vanjaar Versindaba-gedenkbundel. Onthou - dié versamelstuk, asook die kaartjies vir vanjaar se fees, is reeds te koop … So, wat wag jy? Maak vroegtydig seker dat al jou reëlbreuke in plek is vir vanjaar se fees! Dan het ons ook De Contrabas se nuutste Nuusbrief ontvang met heerlike leesbrokkies oor onder andere Gerrit Komrij en Hugo Claus. Veral Hugo Claus se gedig “Nu nog” is ‘n moet lees. Ten slotte - nuwe blog-inskrywings is Melt Myburgh s’n met ‘n gedig oor Derek Jarman en Desmond Painter s’n wat ons weer met gedigte deur Tony Hoagland oorrompel. Ai, soveel dinge, soveel dinge …
Lekker lees aan alles en voorspoed met die week wat op hande is.
Vir etlike jare al is Roel Richelieu Van Londersele een van my gunsteling digters in Vlaandere. Daarom dat ek met groot vreugde via ‘n berig op De Contrabas kon kennis neem van sy nuwe digbundel: Tot zij de wijn is. Van Londersele, wat reeds in 1973 gedebuteer het met die digbundel Marie Sans Toiltette, is bekend as romanskrywer én digter. Sy voorlaaste bundel was Een mens op de bodem wat in 2005 verskyn het.
Nietemin, op De Contrabas word ‘n kort onderhoud met hom gevoer en op die vraag na die aard van die bundel, het die man met die musikale naam soos volg geantwoord: “Ik kan in deze bundel weer niet anders dan mezelf zijn. Dat wil zeggen dat ik niet voorbij kan aan een romantische ondertoon, noem het een zekere blues. Maar sentimentaliteit is de grootste vijand van het gedicht. Daarom moet het taalkunstwerk altijd primeren en moet de mooie-woordjes- poëzie zeker worden vermeden. Ik heb niets wereldschokkends te vertellen. De grote thema’s liggen weer op mijn weg. Ze werden mij door de urgentie opgedrongen. Door mij alweer te buigen over liefde, dood, eenzaamheid, verdwenen ouders en nageslacht rest mij alleen nog de taal om er toch weer ‘iets anders’ van te maken.”
Sjoe. Só eenvoudig gestel en tog só waar. Die allemintige uitdaging om iets “gewoon” iets anders te maak deur middel van taal … Ter illustrasie, en vir jóú leesplesier, plaas ek die pragtige gedig ‘Ik zal je nabootsen’ onderaan vandag se Nuuswekker.
***
Op die plaaslike front is die gróót nuus dat Gilbert Gibson se langverwagte nuwe bundel, oogensiklopedie, gister in die winkels afgelewer is. En watter pronkwerk is dit nie! ‘n Meesterlike werk deur ‘n besonder begaafde digter. Om die waarheid te sê, ‘n mens kan Van Londersele se uitspraak jeens sy eie bundel hierbo nét so van toepassing maak op Gilbert s’n. Gaan lees gerus die onderhoud wat met hom gevoer is, asook die inligtingstuk by publikasies. Onder die bloggers het Andries Bezuidenhout ‘n bietjie pret met Francois Bourne en Jason Pienaar terwyl Bernard Odendaal weer die volgende aflewering in sy besprekings vir voorgeskrewe gedigte geplaas het. Dié keer bespreek hy Breyten Breytenbach se “die geheue ‘n kou vol voëltjies”.
Lekker lees en onthou tog om jouself effentjies te bederf hierdie naweek. Nuuswekker hervat weer Maandag.
Mooi bly.
LE
ik zal je nabootsen, een mal gieten voor
de gebrekkige dagen, de stoel kleden met je trui,
de koffie sterker zetten, luidkeels
klaar roepen, beneden aan de trap
ik zal je opslaan in elk vindbaar bestand,
een wereldwijd web spannen over je geur,
buiten mij om praten met het behang,
dat je vanmorgen nog heeft gezien
ik zal dag, nacht en uur ontruimen
om plaats te maken voor je komst.
alles neem ik terug: mijn haastige lach,
mijn onhandig woord, mijn oude vingers
nee, er is verraad noch twijfel:
ik wil door jou gevonden worden
Gilbert Gibson is in 1963 gebore. Hy word tussen Winburg en Marquard as ’n plaasseun groot en skryf matriek aan die Hoërskool Marquard. Hy studeer medisyne aan die Universiteit van die OVS en praktiseer as internis in Bloemfontein. Hy het ’n belangstelling in kardiovaskulêre risikofaktore en siektes wat met slaap verband hou.
Gibson se eerste verse verskyn in Standpunte en Tydskrif vir Letterkunde terwyl hy nog op skool was. Sy debuutbundel, Boomplaats, verskyn in 2005 en word in 2006 met die Protea Poësieprys bekroon. In 2007 word dit opgevolg metdie digbundel Kaplyn. Sy derde digbundel, oogensiklopedie, verskyn in 2009 by Tafelberg.
Gilbert, met jou eerste twee digbundels, Boomplaats en Kaplyn, het jy jou reeds gevestig as een van ons mees gedurfde digters wat sy ambag met gróót omsigtigheid en vernuf benader. ʼn Titel soos oogensiklopedie is dus nié lukraak gekies nie; watter betekenisse wens jy met dié titel op te vang?
die titel verwys my na die byeenbring van verspreide kennis (’n periodiese ofsikliese kennis) in en deur die oog. met wetenskaplike inligting wat ’n halflewe van sowat vyf jaar het, is die ensiklopedie as bron van/ vir kennis maar treurig. as aanduider van die stand van kennis vanuit ’n sekere tydgleuf, is dit voortreflik. die oog is daardie vreemde orgaan wat lig waarneem en elektriese impulse via die optiese senuwee na die visuele-en ander areas in die brein stuur, sodat die persepsie van sig ontstaan.ons sien nie met ’n oog nie, maar met die brein.die oog is die om-kodering van waarneming, sodatdie eksterne sein in visuele chaos tot ’n gevormde elektriese sinjaal kom waaruit die binneste (soms) sin (kan) maak.oogensiklopedie probeer my visuele wêreld poëties kodeer.verwys Dickinson “I’ve seen a dying eye/ Run round and round a room/ In search of something, as it seemed,/ Then cloudier become;/ And then, obscure with fog,/ And then be soldered down,/ Without disclosing what it be,/ ‘T were blessed to have seen.”
Een van die hoofkenmerke van jou digkuns is die eiesoortige hantering van taal. Dit is asof jy die taal verwring en buig tot dit amper soos ʼn kodetaal begin funksioneer wat enersyds die leser op ʼn afstand hou, maar andersyds by die “privaatwêreld” van die gedig inlyf. Kan jy kommentaar lewer op dié vreemde teenstrydigheid van vervreemding en intimiteit?
die teenstrydigheid tussen afstand en nadering, tussen vervreemding en intimiteit,ontstaan dalk toevallig uit die psigodinamiese hoek vanwaar ’n mens skryf.en hoe jy die wêreld sien. in die proses van skryf gaan ek met myself om, en nie met die toekomstige leser nie.klink so bietjie voor-die-hand liggend, maar hierdie proses lei tot afsondering, en daarom ’n onwillekeurige neiging om die leser eintlik as’t ware weg te hou. jare terug vertel Petra Müller my: “ niemand val die naakte man aan nie”, of iets in dier voege.dink baie daaraan: in die oop vlakte van ’n vers, waar skrywer weerloos word, is hy/ sy meeste bestand teen die oë van die leser.desnieteenstaande is hierdie verhouding tussen skrywer en leser onoorkomelik kompleks. taal is slegs die tuig.woorde het nie inherent magiese eienskappe nie.die buig van taal is toelaatbaar, en intuïtief, onopsetlik.
Hiermee sluit jy aan by nog ’n vreemde teenstrydigheid in jou poësie, Gilbert. Die kwessie van intuïsie. Vanweë die digte netwerk van verwysings en taalverwringing sou iemand wat oppervlakkig lees, jou verse as serebrale poësie beskou en tog is dit juis nié. Jou verse werk besonder assosiatief en met ’n haas onfeilbare intuïsie. Hoe belangrik is dié werkswyse vir jou? Jy is immers ook ’n skilder, is jy nie?
om intuïtief te werk is vir my taamlik moeilik om te beskryf.sou makliker wees om te spekuleer hoekom iemand op jeugdige ouderdom reeds grys is, of koffie bo tee verkies. dit is bloot net so.ek dink Jung het veronderstel dat intuïsie een van die vier psigologiese ‘funksies’ is wat in die Myers-Briggs model vandag nog gebruik word (twee waarnemende funksies -intuïsie, en wat ’n mens noem “sensing”,en twee funksies van besluitneming, naamlik denke en gevoel).hierdie vier funksies is in ʼn poëtiese model redelik na aan mekaar, maar intuïsie het miskien meer as die ander te doen met ’n aangebore meganisme van insameling en verwerking van informasie.die inligting van intuïsie is dikwels abstrak, en word onwillekeurig toegepas op ’n konkrete model of probleem wat voor die skrywer lê.miskien sal dit beter wees om in hierdie konteks te praat van instink. jare terug het ’n buurman van ons beeste uit Holsteen ingevoer. na ’n lang tog per skip het hulle in die hawe op Port Elizabeth aangekom, en daar vir die eerste keer in geslagte kennis gemaak met die reuk van ’n leeu wat opdryf uit die nabygeleë Boswell Wilkie – die daaropvolgende chaos kan nie in eenvoudige terme beskryf word nie.die digter is so bietjie soos ʼn frieskoei.hy reageer blindelings op dinge waarvan hy nog nie weet nie, anders as ander modaliteite van skeppende kuns waar die kunstenaar omgaan met modaliteite waarvan hy dikwels baie weet.ek weet hoe om verf te meng en het ’n versameling kwasse en allerhande stelle waterverf en papier en akriele en olies en leë doeke en prente deur die uwe wat in my huis of in my kantoor hang. ek het dus al geverf, maar ’n skilder is ek nie.
Uit ʼn vorige onderhoud wat jy met Joan Hambidge gevoer het op LitNet, weet ek dat die emotiewe lading van ʼn gedig vir jou baie belangrik is. “Die emosie van gedigte (anders as die tegniek) is ʼn primordiale ding wat opkom as mens met jou eie binnekant in taal (of met taal as werktuig) omgaan,” het jy gesê. Ter wille van volledigheid: kan jy dalk op hierdie uiters belangrike stelling van jou uitbrei?
as ’n mens gedig maak, dan vertaal jy sekere impulse sodat die leser dit vertolk en as ’n emotiewe opwekking of ’n emosionele uitdrukking kan ervaar.iets anders as tegniek, want diesulke is aangeleerde en soms geposeerde dinge wat jy uit ’n boek kan naslaan.die emosionele opwekking uit die gedig kom uit bloed.die bloed van die skrywer; die bloed van die gedig; die bloed van die leser. die oriëntasie in daardie bloed word bepaal deur die vertolking van skrywer (die slaap ’n nagtelike dood) teenoor die leesvermoë van die betragter (die slaap as ’n uitweg tot droom). Sê Eliot: “Poetry is not a turning loose of emotion, but an escape from emotion; it is not the expression of personality, but an escape from personality. But, of course, only those who have personality and emotions know what it means to want to escape from these things.” taal het sekere gebreke, en sal in beginsel gebuk gaan onder die babelse juk van verwarring. in die ideale gedig sal daar geen grens tussen die leser en die skrywer wees nie - die woord sal dus in hierdie ontmoeting verdwyn.ek verbeel my daarom dat die ideale gedig ’n wit papier is. Die onlangse verwysings tussen poësie en prosa kom ook hier aan die bod: prosa dra inligting oor, poësie iets emosioneel.
oogensiklopedie. gilbert gibson
Die deurlopende toon van die verse in oogensiklopedie is myns insiens die van angs: ʼn angstigheid wat gevoed word deur onsekerheid en die gepaardgaande bevraagtekening van waarneming. Iets wat natuurlik met ongelooflike resultate deur die verwringing van taal in jou verse gerugsteun word. Stem jy saam, of lees ek verkeerd?
die toon van verse is dalk ge-angs omdat dit in daardie verse alleen is. en gedurig delf na vervreemding, gemarginaliseerdheid, veral daardie tipe van “een tussen baie”.angs is dikwels die eerste tree of die eerste hoeksteen van ander affekversteurings. en ánders as vrees (’n bang gevoel teenoor iets gespesifiseer: weerlig; slange). dit is die paniek voor die onnoembare, vir die onsienlike, en volg al te dikwels op alleen.is die lewe nie op sy beste juis ’n verlies aan dinge nie - asof jy volmaak gebore word, en daarna progressief guur onder noodwendige biologiese afbraak tot die einde in en van stof? angs is vir myikonies onder die emosies. en hoort in gedigte soms ook net omdat dit in die wêreld so is. as jy angsloos is, is dit net omdat jy nie die feite het nie.
Jou verse ontstaan allermins in ’n vakuum; daar is ’n besonder sterk buitegerigtheid ten opsigte van lokaliteit en sosiale bewussyn; sonder om kommentaar te lewer of oordeel te vel. Lê die onsekerheid jeens ons sosiaal-aktuele problematiek na aan die wortels van genoemde “angstigheid”, of probeer jy juis wégskryf daarvan?
angs kom lê in die bewussyn omdat die wêreld en sy inherente probleme nie ’n oplosbare probleemstelling is nie.dit skep angs.die gaping tussen die wat het en die wat nie het nie, elke dag groterwordende. onderliggende grondstof elke dag minder. nuttelose toestroom van inligting elke dag meer. die mens as ‘een tussen baie’ elke dag eensamer. as daar ’n aardse oplossing vir angs is, was hierdie wêreld die hemel. ek is dus nie altyd seker of die skrywer skryf na die waarheid toe (in poging om die waarheid te vind) of weg van die waarheid af (om van waarheid te vlug) nie.poësie interpreteer nie noodwendig eksterne inligting nie, maar sal altyd emosie daar-rondom ondersoek en weergee.
In hierdie bundel maak jy selfs nog meer as in jou vorige bundels gebruik van woordverklarings, indekse en semantiese (poëtiese) koderings in die kantlyn langs die gedigte. Hou hierdie werkswyse verband met die kodifisering van taal vir jou, of het jy iets anders in gedagte?
woordverklarings, indekse, voetnotas en diesulke gebruik ek om die taal op te splyt vir ’n meerlagigheid in woorde.dit amper asof vir elke woord ’n interne waarheid (die woordeboek), ’n eksterne waarheid (wat ek dink dit beteken), en ’n interpretatiewe waarheid (wat die leser daarvan/ daaruit dink). dit het ook tipografiese impak – byvoorbeeld. as jy die oë van links na regs in ’n reël beweeg, en dan terugspring tot die volgende reël, gebeur daar selfs dan vir ’n breukdeel iets emosioneel in die brein. tipografie van poësie is dus nie so lukraak as wat dit op die oog (if you’ll excuse en daardie) af lyk nie. in Idea of Prose skryf Giorgio Agamben (en dit sluit aan by die prosa/ poësie klief)“No definition of verse is perfectly satisfying unless it asserts an identity for poetry against prose through the possibility of enjambement.Quantity, rhythm, and the number of syllables – all elements that can equally well occur in prose – do not, from this standpoint, provide sufficient criteria.But we shall call poetry the discourse in which it is possible to set a metrical limit against a syntactic one (verse in which enjambement is not actually present is to be seen as verse with zero enjambement).Prose is the discourse in which this is impossible. Enjambement reveals a mismatch, a disconnection between the metrical and syntactic elements, between sounding rhythm and meaning, such that (contrary to the received opinion that sees in poetry the locus of an accomplished and a perfect fit between sound and meaning) poetry lives, instead, only in their inner disagreement. voetnotas, indekse, lywaartse verwysings en diesulke breek natuurlik daardie enjambement in ’n mate op, verdoesel die interne vaart van die gedig. interessant genoeg kom voetnotas uitgebreid in fiksie voor (Paul Auster, Oracle Night; Jorge Luis Borges, Ficcione; Michael Chabon, The Amazing Adventures of Kavalier & Clay;James Joyce, die “lessons” hoofstuk uit Finnegans Wake; Georges Perec, Life A User’s Manual (La Vie mode d’emploi); en so aan…)
Bybelse verwysings en – inspelings kom vry algemeen voor in jou verse. Vorm hierdie tendens deel van “die geding met God” vir jou, of probeer jy hiermee die privaat-persoonlike belewenis van die enkeling plaas teen ’n groter bestel van wat ’n mens “noodlotsbepaling” kan noem?
ek het gepoog om die landskap bokant die skrywer te ontgin, anders as die landskap in byvoorbeeld Boomplaats waar die landskap langs my in taal omgeskakel is. hierdie soeke na “God” is eintlik’n teenstrydigheid. die persoon wat soek na God impliseer eintlik dat God voor sy soeke reeds daar is, en het dus reeds die eerste tree, daardie blinde sprong waarvan Paulus praat (die hoop op die onsienlike), gegee. die mens soek dikwels dus nie na God nie, maar na die manifestasies van God: die stok wat ’n slang word; die bos wat begin brand; die water wat oopkloof. so asof dit jou sou oorhaal tot bevestiging van ’n eksterne waarheid wat vir jou troos bring in die gang van elke dag.die wêreld is nie ons woning nie. en die Bybel is teks.
Iets wat ek besonder interessant vind, is die struktuur van jou bundel: sonder afdelings, met die gedigte wat alfabeties volgens titel geplaas is, vanaf die sterk geografies-gelokaliseerde openingsvers (28°47’S, 27°19’O) tot die algemeen besinnende slotvers wat die mens; ’n werkswyse wat enersyds die ensiklopedie-matigheid van die titel ondervang, dog andersyds die vermoede plaas dat die verse geïsoleerd naas mekaar geplaas is en as sulks gelees moet word. Maar wanneer ’n mens die bundel lees, besef jy alte gou dat daar wél van progressiewe groepering sprake is: soos gesê, die verse beweeg myns insiens van ’n “nabykyk” na ’n “verafkyk”; van persoonlike tot meer algemeen-besinnende verse. Kommentaar?
inderdaad is hulle gekies om te loop vanaf die hier en nou tot by die toe en daar. die weggaan van die ek in die mitologiese lug; die asem van God.die groot verskil tussen prosa en poësie het te doen met presies daardie beweging: in prosa word ’n kleine dikwels beskryf en omgebou met meer en meer woorde. in poësie word ’n groot handeling beskryf in al hoe minder woorde (die kleiner tot die groter, soos die groter tot die hele gedeelte – amper ’n literêre Fibonacci). om dieselfde rede is poësie waarskynlik meer ontoeganklik en bietjie elitisties. maar dan, natuurlik moet poësie elitisties wees, want dit is die hoogste vorm van taal, en taal is die suiwerste werktuig in kuns: “Poetry, whose material is language, is perhaps the most human and least worldly of the arts, the one in which the end product remains closest to the thought that inspired it.” (Hannah Arendt).om die rede eien ek poësie altyd met agting, en gaan ek metontsag met die skryfproses om. per slot van rekening sien jy nooit Mediterreense vissers sonbaai nie. op hulle strande is hulle besig om te werk.
Verstegnies beskou, vind ek oogensiklopedie ’n uiters opwindende bundel; nie net vanweë die tematiese gevarieerdheid nie, maar ook in stilistiese aanbod. ’n Voorbeeld hiervan is die gedig “glimlag” (p. 45) wat tipografies aan Bybelteks herinner. In dié vers is daar ten slotte sprake van verraad: “ … maar ook ten dele, soos grepe grammatika tot die prul van inkyk gemaan; dit wat woorde wek, selfs die obskure, in vele herhalings van verraad. ek soen die jesus op sy lippe. glimlag. toe was dit aand. toe nag” Sinspeel hierdie “verraad” gewoon op ’n verraad teenoor taal of het jy iets anders in gedagte, hier?
let op dat Judas nie ’n dissipel geword het met eie intensie om Christus te verraai nie - hy het inteendeel daardie sosiale kontrak aangegaan om goed te doen, min wetende dat. verraad verwys na die onwetende toekomstige breuk in daardie kontrak. verraad in hierdie geval nie net teenoor die Christus nie, maar ook teenoor Judas self, daar dat twee partye betrokke was, nes skrywer en leser.taal word eintlik (double bind) deur sy onderlinge woorde verraai.taal is die skriftelike en ouditiewe simbole van kommunikasie. woorde verraai soms daardie simbole in die weergee van wat nie bedoel is/ word nie.hierdie meervoudige taligheid of veelbetekenis-eienskap van taal is vir my soms ’n groot probleem in die skryf van ’n gedig.in die lees van ’n gedig is dit natuurlik glad geen probleem nie, maar eerder ’n redding.verraad egter noodwendig, net soos by Judas.
Nog ’n tegniek wat jy met groot sukses gebruik, is die sogenaamde uitsteltegniek, soos in die besonder treffende vers “another roadside attraction” (p.13). Hierdie vers het ook deel gevorm van Allooi – ’n woord / visuele kunste-projek tydens die Volksblad-kunstefees verlede jaar. Hoe belangrik is dié “buitekurrikulêre” aktiwiteite vir jou as digter?
uitsteltegniek laat my dink aan iemand wat ek geken het wat soms sy asem vinnig ingetrek het asof hy iets wou sê, en dan op die nippertjie daarteen besluit.dan sou jy as luisteraar al in gespanne afwagting woorde hoor wat nie gaan kom nie. uitsteltegniek. Cartier-Bresson het geskryf dat dit meer belangrik is wat buite die foto hoort, as wat binne die foto is.dit is sekerlik in gedigte ook so - dit wat ongesê is, die spasie tussen die reëls, die oomblikke voor en die oomblikke na die gedig, die verwagte gebeurtenis wat nooit gebeur nie, dit alles skep daardie heerlike en tragiese interne spanning binne ʼn gedig, so asof daar meer nog is wat kom, meer nog wat kom, meer nog wat kom, nes ’n kind se gedagte oor die lewe self. ‘buite- kurrikulêre’ aktiwiteite rondom digkuns en letterkunde is vir my merendeels vreemd. ek’s viervoetig in ’n ander wêreld waar ek my daaglikse sweet in die aanskyn van wetenskaplike brood verdien.ek spandeer dus nie tyd in die openbare oog, of koester belangrike opinie rondom ander digte en digters nie.ek skryf. en vir rekreasie drink ek eerder ʼn koppie koffie, of luister na Glenn Gould se asemhaling tussen die Goldberg variasies deur.
Nou praat jy! Toevallig is Glenn Gould een van my ’n gunsteling pianiste … Terloops, watter opname van die Goldberg variasies is jou gunsteling? Die 1955 opname met my frenetiese aanslag, of die 1981 opname met sy teruggehoue, bykans bewoë stryd teen stuwing? Speel musiek ’n belangrike rol in jou skryfwerk?
ek kan nie na Gould luister sonder om te dink aan Kasper Krone nie (The Quiet Girl: A Novel - Peter Hoeg; Farrar, Straus and Giroux; 2007), met sy verstommende “ability to access people’s acoustic essence, especially children’s”. hou van die ’81 opname meer, die een van toewyding, waar hy die aria met variasies as ’n enkel passie-en-passasie (!) hanteer; teenoor die meer voortstuwende styl van die ’55. musiek is amper meer nog basies in die kreatiewe wêreld as poësie (eerste was per slot van rekening klank, toe woord). en by my ’n groot belangstelling. ken jy daardie gedig van Conrad Aitken, The House Of Dust: Part 03: 13: The half-shut doors through which we heard that music?
The half-shut doors through which we heard that music
Are softly closed. Horns mutter down to silence.
The stars whirl out, the night grows deep.
Darkness settles upon us. A vague refrain
Drowsily teases at the drowsy brain.
In numberless rooms we stretch ourselves and sleep.Where have we been? What savage chaos of music
Whirls in our dreams?—We suddenly rise in darkness,
Open our eyes, cry out, and sleep once more.
We dream we are numberless sea-waves languidly foaming
A warm white moonlit shore;
Or clouds blown windily over a sky at midnight,
Or chords of music scattered in hurrying darkness,
Or a singing sound of rain . . .
We open our eyes and stare at the coiling darkness,
And enter our dreams again
Jy is inderdaad bekend as iemand wat besonder wyd lees … Is daar spesifieke skrywers wat vir jou persoonlik van belang is? Digters na wie se werk jy telkens sal terugkeer en by wie jy ’n mate van aanklank vind?
die skrywers wat al emosioneel op my impakteer het, is te veel om op te noem.die afgelope tyd het ek stil gestaan by post-apokaliptiese fiksie soos die van Bruce Sterling, William (Neuromancer) Gibson, China Miéville, Walter M. Miller, Jr. (A Canticle for Leibowitz), en Cormac McCarthy (The Road). die gedigte van WS Mervin en die prosa van James Salter maak iets binne wakker.ek loer altyd terug na die werke van Michael Ondaatje, na Frank Stanford en Galway Kinnel. die nuwe Atwood (The Door; Virago: 2007) is aangrypend. Opperman maak my bang, so noukeurig is sy woord.en Jacques Elluil lees ek nou, ook omdat hy die uiteindelike ondergang van woorde teen visuele media voorspel. dit is wat ek lees.
In die Junie-Julie uitgawe van Poeziekrant vanjaar het daar ’n omvattende artikel oor jou werk deur Luc Renders verskyn. Bestaan daar dalk ’n moontlikheid dat jou verse in Nederlands vertaal gaan word?
ek twyfel. ek sukkel genoeg onder die keurende blik van Francois Smith (my redakteur) om my verse in Afrikaans te vertaal.
Luc Renders sluit bogenoemde artikel af met ’n verwysing na jou as ’n “meesterdichter” – met goeie reg - met ’n “boeiende en eigenzinnige” stem. Net so het jy belangrike pryse met jou vorige bundels verwerf en ek vermoed dat oogensiklopedie ’n soortgelyke roemryke paadjie gaan loop … Ervaar jy dat hierdie hoë verwagting (en verering) jeens jou werk jou des te meer inspireer of dalk intimideer?
ek dink ‘meesterdichter’ het dalk in Nederlands ander emotiewe waarde as in Afrikaans.Zandra Bezuidenhout skryf in ’n onlangse artikel juis “Bowendien het ons in die geval van hierdie twee tale te kampe met ‘n groot aantal “valse vriende”, dit wil sê woorde wat in albei tale eenders lyk, maar nie noodwendig dieselfde betekenis dra nie. Etlike voorbeelde is aan ons bekend, soos dat ‘n “beest” op Nederlands beslis nie na ‘n bees of koei verwys nie, maar na ‘n dier in die algemeen. En dat ‘n “beestje” geen jong kalfie is nie, maar ‘n gogga van een of ander geaardheid, of enige klein diertjie.” nee wat – ek soek onmeesterlik op/ in my eie na die ‘verlore woord’, so bietjie soos die Moody Blues In search of the Lost Chord. vir die Protea wat ek vir Boomplaats gewen het, is ek baie dankbaar – dit het ’n (kunsmatige) sin tot behoort (sense of belonging) in die boekwêreld geskep. soos jy nog beter weet as ek, dit het nie baie te doen met die literêre meriete van skryfwerk of skrynwerk nie. die reaksie van ander op eie gedigte is sonnestelsels verwyder van die woord self.
Baie dankie vir die geleentheid tot gesprek, Gilbert, en veels geluk met ’n bundel wat myns insiens ’n uiters belangrike bydrae tot ons digkuns lewer. Met jou vergunning plaas ons hieronder die slotgedig uit oogensiklopedie; ’n vers wat eintlik die hele bundel op treffende manier “sluit”:
wat die mens
wat is die mens dat u
verby die duister ondergrond van ʼn vrou, verby
die vermindering van gevoel, verby die bekken so leeg soos die knersvlakte
(dofheid van elke dag se opstaan die elektriese sleep van wakkerword;
kinders van skaapdiewe en uitgestorwe lammergiere;
verhale uit lapland;
ʼn leë silo se koringkafreuk;
die whooii-whooii van ’n paniekerige ambulans;
intervensie tot droom
geloof, die sluipende suspisie;
bome wat in die wind buig soos rek agter ʼn kettiemik, uitgestrekte;
grys, soos gemengde verf of die vooraansig van septisemie;
die mite dat die tyd genees;
kragte van toordokters sonder grense;
ʼn kapskoot op die grassy knoll, tsafendas se innerlike okapi;
aandete, en ingeligte gesprek;
die ritsel van blaaie bloupers soos stormwolke in die skemer;
mistige oorde uit ouer, verhalende gedigte;
bauhaus;
ongelukke naby leeu-gamka;
die stil gebed van prozac;
en ʼn onstuimige hart wat in woorde soos in water sink)
Dit is met bruisende (en dankbare) vreugde wat ons vanoggend die program vir vanjaar se Versindaba kan bekend maak. Dié fees, wat op 27 en 28 November by die Oude Libertas Amfiteater by Stellenbosch gaan plaasvind, volg weer die beproefde formaat van 4 sessies van drie ure elk. Die twee aandsessies fokus oudergewoonte op poësie saam met aanvullende musiekitems, terwyl die twee dagsessies, wat in die Oude Libertas Auditorium sal plaasvind, weer met op paneelbesprekings, lesings en onderhoude konsentreer.
Vanjaar is daar nie minder nie as 17 digters betrokke by die fees; almal digters van wie daar onlangs nuwe bundels verskyn het, of wie se bundels binnekort op die rakke sal wees nie. Die digters ter sprake (in alfabetiese volgorde) is: Pirow Bekker, Breyten Breytenbach, Johann de Lange, Gilbert Gibson, Joan Hambidge, Daniel Hugo, Antjie Krog, Danie Marais, Loftus Marais, Lucie Möller, Charl-Pierre Naudé, Johannes Prins, Carina Stander, Piet van Rooyen, Jasper van Zyl, Cas Vos en Jelleke Wierenga. Ongelukkig sal Breyten Breytenbach en Gilbert Gibson nie persoonlik teenwoordig kan wees nie; hulle verse sal onderskeidelik deur Stian Bam en Petrus du Preez voorgedra word.
Waar die Versindaba verlede jaar op die poësie as liriek gefokus het, verskuif die fokus vanjaar na die naasbestaan van poësie en die visuele kunste. Ter ondersteuning hiervan sal daar gelyklopend tot die fees ‘n kunsuitstalling in die Oude Libertas Auditorium te sien wees met kunswerke deur digters wat ook skilder. Digters wie se werke uitgestal gaan word, is: Andries Bezuidenhout, Breyten Breytenbach, Christine Barkhuizen le Roux, Sheila Cussons, Heilna du Plooy, Marlise Joubert, Charl-Pierre Naudé, Rosa Smit, Carina Stander en Ilse van Staden. Die kurator vir dié uitstalling is Johan Myburg. Hierdie besonderse uitstalling open amptelik op Vrydag, 27 November, om 17:00.
Items wat die wisselwerking tussen poësie en die visuele kunste verder belig, is die paneelbespreking Met woord & kwas, waaraan Johan Myburg, Carina Stander en Charl-Pierre Naudé onder voorsitterskap van Ampie Coetzee deelneem, asook Philip de Vos en Tertia Visser-Downie se uitvoering van Modest Moessorgski se Prente by ‘n uitstalling, en die spesiale voordragprogram Geskilderde woorde deur die bekende woordkunstenaars Nic de Jager en Antoinette Kellerman.
‘n Besonderse hoogtepunt tydens die fees gaan Antjie Krog se deelname wees. Saam met haar aanbieding is daar twee musiek-uitvoerings van toonsettings van haar gedigte deur Niel van der Watt, naamlik Die Lady Anne Liedboek, met Renette Bouwer as solis en Elna van der Merwe as begeleier, en die uitvoering van sewe koorstukke deur die Scola Cantorum Kamerkoor onder leiding van Rudolf de Beer. Nog musiekitems wat die aandag gaan trek, is beslis David Kramer se optrede waarmee die Versindaba afskop, asook Laurinda Hofmeyr se toonsettings van gedigte deur Breyten Breytenbach se gedigte waarmee die fees weer afsluit. Tussendeur is daar ook nog Luna Paige se uitvoering van Sappho-gedigte wat deur haar getoonset is.
Inderdaad ‘n fees om oor opgewonde te raak. Altans, so hoop ons. Volg gerus die skakel op die tuisblad vir die volledige program en begin solank planne maak om teenwoordig te wees … Dit gaan immers ‘n grote wees, dié ene. En moenie vergeet om hier te gaan kyk wie almal hierdie besonderse geleentheid met hul finansiële ondersteuning moontlik maak nie. Dankie, dankie, dankie.
***
En die MAN Booker-prys? Nou ja, sy was die beroepswenners se gunsteling, sy was die lesers se gunsteling en gisteraand was sy ook die vyf beoordelaars se gunsteling: Hilary Mantel met haar lywige Tudor-sage, Wolf Hall. “Our decision was based on the sheer bigness of the book, the boldness of its narrative and scene-setting, the gleam that there is in its detail,” het Jim Naughtie, sameroeper van die paneel beoordelaars gisteraand tydens die prysoorhandiging gesê. En Hilary Mantel se reaksie? ”If winning the Booker Prize was like being in a train crash, at this moment I am happily flying through the air.” Die prysgeld beloop £50,000, gepaardgaande natuurlik met ‘n massiewe sprong in boekverkope wêreldwyd. Lees The Guardian se volledige berig hier.
Ten slotte vestig ek graag jou aandag op Desmond Painter se nuwe blog-inskrywing wat ‘n verdere reaksie is op die kwessie van poësie vs politiek; die gedig van WH Auden wat Desmond ter illustrasie aanhaal, is eweneens ‘n móét lees.
Geniet dit en hê ‘n jubilante dag hier in die middel van die week.
Ek het al by ‘n vorige geleentheid berig oor die vreugde wat die Poëziecentrum in Gent se amptelike publikasie, Poëziekrant, is. En die nuwe uitgawe wat ek onlangs ontvang het (Junie-Julie 2009), is géén uitsondering nie. Hoe dan anders met ‘n A4-formaat tydskrif van 96 bladsye wat gepak is met prikkelende leesstof wat jou paragraaf na paragraaf laat besef watter enorme krag die digkuns inderdaad is. (Gaan kyk gerus hier na die inhoudsopgawe.)
Maar dit is nie waaroor my Nuuswekker vanoggend handel nie. Nee, vanoggend handel dit oor ongebreidelde, “provinsialistiese” trots. (Hoe dan anders, komende van ‘n oud-Vrystater?) Nietemin, daar bestaan by my bykans geen groter vreugde as om deur my speurlees na brokkies inligting vir die daaglikse Nuuswekker skielik te stuit teen die teenwoordigheid van een van ons digters op die Groot Verhoog nie. Ai, ai, ai. So tref ek toe ‘n omvattende resensie op Meander - waarskynlik die langslewende poësie-webblad in Nederland - aan deur Joop Leibbrand oor Danie Marais se Al is die maan ‘n misverstand. En dan nou die dag in Poeziekrant, twéé artikels: Jooris van Hulle oor Christine Barkhuizen le Roux (met vertaalde verse daarby) en Luc Renders se insiggewende artikel oor Gilbert Gibson se digkuns. (Ook met etlike gedigte wat aangehaal word.)
Ongelukkig ontbreek tyd en ruimte om indringend op dié drie artikels in te gaan, maar as lusmaker die volgende aanhaling uit Joop Leibbrand se resensie oor Danie se bundel: “Longen vol ‘petrolpsalms’ heeft deze dichter, en het is geen vuur dat hem verteert, maar hem kracht geeft zijn bestemming te bereiken … Marais’ gedichten zijn inderdaad nauwelijks gelaagd en hebben zeker geen veld van betekenismogelijkheden dat bij iedere nieuwe lezing uitgebreider wordt en zich moeilijker laat ontginnen. Maar ze zijn scherp en helder en worden bij herlezing beslist pregnanter. Hoe langer de beschreven gebeurtenissen op je inwerken, hoe dieper ze worden geëtst.”
Applous! En mag ‘n mens maar so skuinsweg vanagter jou hand fluister dat die provinsie besig is om te mobiliseer, of is dit dalk nog te vroeg daarvoor? Mmm, ek weet nie. Veral as ‘n mens die onlangse verering van Breyten Breytenbach en Antjie Krog in gedagte hou … Ook nog Charl-Pierre Naudé en Gert Vlok Nel se suksesvolle optredes tydens poësiefeeste in Nederland vroeër vanjaar. Myns insiens kan ons digkuns net baat by hierdie blootstelling aan ‘n groter gehoor.
Gaan lees gerus ook die onderhoud wat Meanderse Sander de Vaan met Danie Marais gevoer het.
Dan kan ‘n mens mos maar net sê: Doe zo voort. Of iets in dié lyn.
Vir jou leesplesier vanoggend, een van Christine Barkhuizen le Roux se verse in die Nederlandse vertaling deur Jooris van Hulle.
Mooi bly.
LE
Schreef
voor Daniel F
medisch omschreven
als syndroom van Down
een extra chromosoom
tekent je ogen schuin
je handen stomp
verdomp
binnen je vingers bloeit
een zaad nog onontkiemd
alleen het oog gespleten
ziet ongeboren bloemen
(c) Christine Barkhuizen le Roux (vertaling: Jooris van Hulle)
’n Uitstalling wat besoekers op 2008 se Volksblad-kunstefees (8-12 Julie) aan die praat gehad het, was een waarin beeld- en woordkunswerke met mekaar in gesprek tree.
Die projektitel “Uit die palm van die land” dui eerstens aan dat die deelnemers almal kunstenaars uit die sentraal geleë Vrystaatpovinsie was. Terselfdertyd beklemtoon dit die kreatiewe handewerk wat verrig is. Soos uit die kunswerke gesien kon word, het ’n paar van die deelnemers ook die woord “land” in die projektitel ernstig opgeneem, en is Vrystaatse landskappe en landmerke, en kwessie soos grondbesit, uitgebeeld.
Die inisieerders van die projek was, naas myself, Ben Botma (hoof van die departement Beeldende Kunste aan die Universiteit van die Vrystaat) en Gilbert Gibson (internis en digter en, soos ons ander twee, woonagtig in Bloemfontein).
Ses beeldende en ses woordkunstenaars het deelgeneem. Hulle is, in ’n eerste stap, genooi om elk een nuwe kunswerk te lewer met “die Vrystaat” as impuls, maar waarop hulle dan totaal vry kon reageer. En, soos die gesegde lui: Soveel hoofde, soveel sinne.
Konkrete en aktuele sake, soos die genoemde landmerke en grondkwessies, maar ook meer algemeen-menslike vraagstukke soos verlies en verganklikheid, en kreatiwiteit en lewensdrif as teendele dáárvan, is aangepak.
Ewe uiteenlopend is die media wat benut is: olieverfwerk op doek en sintetiese oppervlaktes (Janine Allen en Pauline Gutter); gemengde beeldmedia in gevarieerde kombinasies (Ben Botma, Jaco Spies en Markus Steinmann); beeldhouwerk uit hout en alledaagse dinge soos ’n persketak, ’n klakson, ’n kwartsklip en ’n oogdruppelflessie (Charlayn von Solms). Tradisionele sowel as vormlik meer eksperimentele gedigte is geskryf deur Stef Cilliers, Gilbert Gibson, Bernard Odendaal en Hennie van Coller; ook ’n paar prosavertellings was te sien (Jaco Jacobs en J.C. Steyn).
Nadat die eerste 12 kunswerke voltooi is, is deur middel van loting voortgegaan om die deelnemers in pare van een beeldende en een woordkunstenaar elk te verdeel. Daarna moes die pare kunstenaars telkens op mekaar se eersterondte-kunswerke reageer deur, eweneens in vrye respons, elkeen ’n verdere kunswerk te skep.
So het uiteindelik 24 nuwe kunswerke tot stand gekom wat nie net (met mekaar) oor Vrystaatse werklikhede gepraat het nie, maar ook veel te sê gehad het oor mens- en kunstenaarswees in die algemeen.Opvallend was hoe die samewerking tot grensoorskrydende reaksies aanleiding gegee het. Beeldende kunswerke het soms woordmateriaal geïnkorporeer, en woordkunswerke plek-plek visuele kenmerke begin uitbuit.
Jaco Jacobs en Markus Steinmann het uiteindelik ’n totaal geïntegreerde kunswerkkompleks daargestel wat uitgesproke gemeenskapsbetrokke wou wees.Hulle het byvoorbeeld blikkieskos, met prosavertellings wat soos etikette daarom gedraai was, aan die feesgangers beskikbaar gestel, op voorwaarde dat elke geneemde blikkie met twee volles vervang word.Laasgenoemde is na afloop van die fees aan hulpbehoewendes in en om Bloemfontein geskenk.
Ewe belangrik as die beklemtoning van kuns se sosiale rol, was die nadenke wat die uitstalling wou stimuleer oor die plek en rol van die kultuurmens, oor die kuns self en oor die grense tussen kunssoorte.
Onderstaande werk (gemengde media en objekte, 156 x 250 cm) deur Janine Allen, ’n dosent in Beeldende Kunste aan die Universiteit van die Vrystaat, het aanleiding gegee tot die konfigurasiegedig “Wat vergeet word, het vergaan” wat onder my naam in die gedigtekamer hiernaas op die Versindaba-webwerf verskyn.
Janine het die volgende oor bostaande werk van haar mee te deel gehad: “Inkarnasie van die puti handel oor die inherente werking van skilderkunstige prosesse en oor die aard van die skilderkuns self. Die spesifieke werk is gewortel in my belangstelling in pigment. Min hedendaagse skilders het nog kennis hiervan.Vervreemding en verabstrahering het plaasgevind in die ‘magiese’ verhouding wat die skilder voorheen met die skilderkunsmateriaal gehad het.Inkarnasie van die puti is een werk uit ’n reeks, getiteld Nekropolis, waarin ek skilderprosesse, beelde en selfs die konkrete skilderye verlewendig.”
Gilbert Gibson en Ben Botma het as paar saamgewerk. Ben het die werk Komeet (olie op digitale druk, 120 x 90 cm) gemaak na aanleiding van “die Vrystaat” as inisiële impuls. Oor dié werk skryf hy: “Geïnspireer deur ’n gedenkkruis langs die pad. Die sentrale deel van die werk behels ’n digitale foto waarom daar ’n energieveld of stralekrans van helder kleur in olieverf aangebring is. Die verfproses was ’n moeisame een, met groot sorg (met ’n baie dun kwassie) uitgevoer. Die doelbewuste ‘mooiheid’ van die kruis en die kleure staan in skrille kontras met die smart en pyn wat dit verteenwoordig.
Na aanleiding hiervan het Gilbert die gedig “another fatal roadside attraction” geskryf, en daarby opgemerk: “Die gedig speel toe op Another Roadside Attraction,Tom Robbins se eerste roman (1971; Doubleday), en vertel hier die verhaal van ’n motorongeluk waarin minstens een kind dood is, ook as (fataalste) weggaan en verlies.”
Desmond: Joan, ek stem natuurlik saam. Dit het darem net te maklik...
KOLOFON
Onder redaksie van Marlise Joubert [Webmeester] & Louis Esterhuizen [Inhoudsbestuurder]. Toepaslike kommentare word verwelkom. Enige onwelvoeglike of beledigende kommentare & bydraes sal sonder kennisgewing verwyder word.