Posts Tagged ‘Gilbert Gibson’
Wednesday, October 7th, 2009
 Die program
Dit is met bruisende (en dankbare) vreugde wat ons vanoggend die program vir vanjaar se Versindaba kan bekend maak. Dié fees, wat op 27 en 28 November by die Oude Libertas Amfiteater by Stellenbosch gaan plaasvind, volg weer die beproefde formaat van 4 sessies van drie ure elk. Die twee aandsessies fokus oudergewoonte op poësie saam met aanvullende musiekitems, terwyl die twee dagsessies, wat in die Oude Libertas Auditorium sal plaasvind, weer met op paneelbesprekings, lesings en onderhoude konsentreer.
Vanjaar is daar nie minder nie as 17 digters betrokke by die fees; almal digters van wie daar onlangs nuwe bundels verskyn het, of wie se bundels binnekort op die rakke sal wees nie. Die digters ter sprake (in alfabetiese volgorde) is: Pirow Bekker, Breyten Breytenbach, Johann de Lange, Gilbert Gibson, Joan Hambidge, Daniel Hugo, Antjie Krog, Danie Marais, Loftus Marais, Lucie Möller, Charl-Pierre Naudé, Johannes Prins, Carina Stander, Piet van Rooyen, Jasper van Zyl, Cas Vos en Jelleke Wierenga. Ongelukkig sal Breyten Breytenbach en Gilbert Gibson nie persoonlik teenwoordig kan wees nie; hulle verse sal onderskeidelik deur Stian Bam en Petrus du Preez voorgedra word.
Waar die Versindaba verlede jaar op die poësie as liriek gefokus het, verskuif die fokus vanjaar na die naasbestaan van poësie en die visuele kunste. Ter ondersteuning hiervan sal daar gelyklopend tot die fees ‘n kunsuitstalling in die Oude Libertas Auditorium te sien wees met kunswerke deur digters wat ook skilder. Digters wie se werke uitgestal gaan word, is: Andries Bezuidenhout, Breyten Breytenbach, Christine Barkhuizen le Roux, Sheila Cussons, Heilna du Plooy, Marlise Joubert, Charl-Pierre Naudé, Rosa Smit, Carina Stander en Ilse van Staden. Die kurator vir dié uitstalling is Johan Myburg. Hierdie besonderse uitstalling open amptelik op Vrydag, 27 November, om 17:00.
Items wat die wisselwerking tussen poësie en die visuele kunste verder belig, is die paneelbespreking Met woord & kwas, waaraan Johan Myburg, Carina Stander en Charl-Pierre Naudé onder voorsitterskap van Ampie Coetzee deelneem, asook Philip de Vos en Tertia Visser-Downie se uitvoering van Modest Moessorgski se Prente by ‘n uitstalling, en die spesiale voordragprogram Geskilderde woorde deur die bekende woordkunstenaars Nic de Jager en Antoinette Kellerman.
‘n Besonderse hoogtepunt tydens die fees gaan Antjie Krog se deelname wees. Saam met haar aanbieding is daar twee musiek-uitvoerings van toonsettings van haar gedigte deur Niel van der Watt, naamlik Die Lady Anne Liedboek, met Renette Bouwer as solis en Elna van der Merwe as begeleier, en die uitvoering van sewe koorstukke deur die Scola Cantorum Kamerkoor onder leiding van Rudolf de Beer. Nog musiekitems wat die aandag gaan trek, is beslis David Kramer se optrede waarmee die Versindaba afskop, asook Laurinda Hofmeyr se toonsettings van gedigte deur Breyten Breytenbach se gedigte waarmee die fees weer afsluit. Tussendeur is daar ook nog Luna Paige se uitvoering van Sappho-gedigte wat deur haar getoonset is.
Inderdaad ‘n fees om oor opgewonde te raak. Altans, so hoop ons. Volg gerus die skakel op die tuisblad vir die volledige program en begin solank planne maak om teenwoordig te wees … Dit gaan immers ‘n grote wees, dié ene. En moenie vergeet om hier te gaan kyk wie almal hierdie besonderse geleentheid met hul finansiële ondersteuning moontlik maak nie. Dankie, dankie, dankie.
***
En die MAN Booker-prys? Nou ja, sy was die beroepswenners se gunsteling, sy was die lesers se gunsteling en gisteraand was sy ook die vyf beoordelaars se gunsteling: Hilary Mantel met haar lywige Tudor-sage, Wolf Hall. “Our decision was based on the sheer bigness of the book, the boldness of its narrative and scene-setting, the gleam that there is in its detail,” het Jim Naughtie, sameroeper van die paneel beoordelaars gisteraand tydens die prysoorhandiging gesê. En Hilary Mantel se reaksie? ”If winning the Booker Prize was like being in a train crash, at this moment I am happily flying through the air.” Die prysgeld beloop £50,000, gepaardgaande natuurlik met ‘n massiewe sprong in boekverkope wêreldwyd. Lees The Guardian se volledige berig hier.
Ten slotte vestig ek graag jou aandag op Desmond Painter se nuwe blog-inskrywing wat ‘n verdere reaksie is op die kwessie van poësie vs politiek; die gedig van WH Auden wat Desmond ter illustrasie aanhaal, is eweneens ‘n móét lees.
Geniet dit en hê ‘n jubilante dag hier in die middel van die week.
Mooi bly.
LE
Tags: Andries Bezuidenhout, Antjie Krog, Breyten Breytenbach, Carina Stander, Cas Vos., Charl-Pierre Naudé, Christine Barkhuizen le Roux, Danie Marais, Daniel Hugo, David Kramer, Gilbert Gibson, Heilna du Plooy, Hilary Mantel, Ilse van Staden, Jasper van Zyl, Jelleke Wierenga, Joan Hambidge, Johan Myburg, Johannes Prins, Laurinda Hofmeyr, Loftus Marais, Lucie Möller, Luna Paige, marlise joubert, Piet van Rooyen, Pirow Bekker, Program, Rosa Smit, Sheila Cussons, Versindaba 2009 Posted in Nuuswekker | Lewer kommentaar »
Add this post to Del.icio.us - Digg
Thursday, September 3rd, 2009
 Christine Barkhuizen le Roux
Ek het al by ‘n vorige geleentheid berig oor die vreugde wat die Poëziecentrum in Gent se amptelike publikasie, Poëziekrant, is. En die nuwe uitgawe wat ek onlangs ontvang het (Junie-Julie 2009), is géén uitsondering nie. Hoe dan anders met ‘n A4-formaat tydskrif van 96 bladsye wat gepak is met prikkelende leesstof wat jou paragraaf na paragraaf laat besef watter enorme krag die digkuns inderdaad is. (Gaan kyk gerus hier na die inhoudsopgawe.)
Maar dit is nie waaroor my Nuuswekker vanoggend handel nie. Nee, vanoggend handel dit oor ongebreidelde, “provinsialistiese” trots. (Hoe dan anders, komende van ‘n oud-Vrystater?) Nietemin, daar bestaan by my bykans geen groter vreugde as om deur my speurlees na brokkies inligting vir die daaglikse Nuuswekker skielik te stuit teen die teenwoordigheid van een van ons digters op die Groot Verhoog nie. Ai, ai, ai. So tref ek toe ‘n omvattende resensie op Meander - waarskynlik die langslewende poësie-webblad in Nederland - aan deur Joop Leibbrand oor Danie Marais se Al is die maan ‘n misverstand. En dan nou die dag in Poeziekrant, twéé artikels: Jooris van Hulle oor Christine Barkhuizen le Roux (met vertaalde verse daarby) en Luc Renders se insiggewende artikel oor Gilbert Gibson se digkuns. (Ook met etlike gedigte wat aangehaal word.)
Ongelukkig ontbreek tyd en ruimte om indringend op dié drie artikels in te gaan, maar as lusmaker die volgende aanhaling uit Joop Leibbrand se resensie oor Danie se bundel: “Longen vol ‘petrolpsalms’ heeft deze dichter, en het is geen vuur dat hem verteert, maar hem kracht geeft zijn bestemming te bereiken … Marais’ gedichten zijn inderdaad nauwelijks gelaagd en hebben zeker geen veld van betekenismogelijkheden dat bij iedere nieuwe lezing uitgebreider wordt en zich moeilijker laat ontginnen. Maar ze zijn scherp en helder en worden bij herlezing beslist pregnanter. Hoe langer de beschreven gebeurtenissen op je inwerken, hoe dieper ze worden geëtst.”
Applous! En mag ‘n mens maar so skuinsweg vanagter jou hand fluister dat die provinsie besig is om te mobiliseer, of is dit dalk nog te vroeg daarvoor? Mmm, ek weet nie. Veral as ‘n mens die onlangse verering van Breyten Breytenbach en Antjie Krog in gedagte hou … Ook nog Charl-Pierre Naudé en Gert Vlok Nel se suksesvolle optredes tydens poësiefeeste in Nederland vroeër vanjaar. Myns insiens kan ons digkuns net baat by hierdie blootstelling aan ‘n groter gehoor.
Gaan lees gerus ook die onderhoud wat Meander se Sander de Vaan met Danie Marais gevoer het.
Dan kan ‘n mens mos maar net sê: Doe zo voort. Of iets in dié lyn.
Vir jou leesplesier vanoggend, een van Christine Barkhuizen le Roux se verse in die Nederlandse vertaling deur Jooris van Hulle.
Mooi bly.
LE
Schreef
voor Daniel F
medisch omschreven
als syndroom van Down
een extra chromosoom
tekent je ogen schuin
je handen stomp
verdomp
binnen je vingers bloeit
een zaad nog onontkiemd
alleen het oog gespleten
ziet ongeboren bloemen
(c) Christine Barkhuizen le Roux (vertaling: Jooris van Hulle)
Thursday, July 9th, 2009
Uit die palm van die land:
Beeld- en woordkuns uit die Vrystaat
’n Uitstalling wat besoekers op 2008 se Volksblad-kunstefees (8-12 Julie) aan die praat gehad het, was een waarin beeld- en woordkunswerke met mekaar in gesprek tree.
Die projektitel “Uit die palm van die land” dui eerstens aan dat die deelnemers almal kunstenaars uit die sentraal geleë Vrystaatpovinsie was. Terselfdertyd beklemtoon dit die kreatiewe handewerk wat verrig is. Soos uit die kunswerke gesien kon word, het ’n paar van die deelnemers ook die woord “land” in die projektitel ernstig opgeneem, en is Vrystaatse landskappe en landmerke, en kwessie soos grondbesit, uitgebeeld.
Die inisieerders van die projek was, naas myself, Ben Botma (hoof van die departement Beeldende Kunste aan die Universiteit van die Vrystaat) en Gilbert Gibson (internis en digter en, soos ons ander twee, woonagtig in Bloemfontein).
Ses beeldende en ses woordkunstenaars het deelgeneem. Hulle is, in ’n eerste stap, genooi om elk een nuwe kunswerk te lewer met “die Vrystaat” as impuls, maar waarop hulle dan totaal vry kon reageer. En, soos die gesegde lui: Soveel hoofde, soveel sinne.
Konkrete en aktuele sake, soos die genoemde landmerke en grondkwessies, maar ook meer algemeen-menslike vraagstukke soos verlies en verganklikheid, en kreatiwiteit en lewensdrif as teendele dáárvan, is aangepak.
Ewe uiteenlopend is die media wat benut is: olieverfwerk op doek en sintetiese oppervlaktes (Janine Allen en Pauline Gutter); gemengde beeldmedia in gevarieerde kombinasies (Ben Botma, Jaco Spies en Markus Steinmann); beeldhouwerk uit hout en alledaagse dinge soos ’n persketak, ’n klakson, ’n kwartsklip en ’n oogdruppelflessie (Charlayn von Solms). Tradisionele sowel as vormlik meer eksperimentele gedigte is geskryf deur Stef Cilliers, Gilbert Gibson, Bernard Odendaal en Hennie van Coller; ook ’n paar prosavertellings was te sien (Jaco Jacobs en J.C. Steyn).
Nadat die eerste 12 kunswerke voltooi is, is deur middel van loting voortgegaan om die deelnemers in pare van een beeldende en een woordkunstenaar elk te verdeel. Daarna moes die pare kunstenaars telkens op mekaar se eersterondte-kunswerke reageer deur, eweneens in vrye respons, elkeen ’n verdere kunswerk te skep.
So het uiteindelik 24 nuwe kunswerke tot stand gekom wat nie net (met mekaar) oor Vrystaatse werklikhede gepraat het nie, maar ook veel te sê gehad het oor mens- en kunstenaarswees in die algemeen. Opvallend was hoe die samewerking tot grensoorskrydende reaksies aanleiding gegee het. Beeldende kunswerke het soms woordmateriaal geïnkorporeer, en woordkunswerke plek-plek visuele kenmerke begin uitbuit.
Jaco Jacobs en Markus Steinmann het uiteindelik ’n totaal geïntegreerde kunswerkkompleks daargestel wat uitgesproke gemeenskapsbetrokke wou wees. Hulle het byvoorbeeld blikkieskos, met prosavertellings wat soos etikette daarom gedraai was, aan die feesgangers beskikbaar gestel, op voorwaarde dat elke geneemde blikkie met twee volles vervang word. Laasgenoemde is na afloop van die fees aan hulpbehoewendes in en om Bloemfontein geskenk.
Ewe belangrik as die beklemtoning van kuns se sosiale rol, was die nadenke wat die uitstalling wou stimuleer oor die plek en rol van die kultuurmens, oor die kuns self en oor die grense tussen kunssoorte.
Onderstaande werk (gemengde media en objekte, 156 x 250 cm) deur Janine Allen, ’n dosent in Beeldende Kunste aan die Universiteit van die Vrystaat, het aanleiding gegee tot die konfigurasiegedig “Wat vergeet word, het vergaan” wat onder my naam in die gedigtekamer hiernaas op die Versindaba-webwerf verskyn.

Janine het die volgende oor bostaande werk van haar mee te deel gehad: “Inkarnasie van die puti handel oor die inherente werking van skilderkunstige prosesse en oor die aard van die skilderkuns self. Die spesifieke werk is gewortel in my belangstelling in pigment. Min hedendaagse skilders het nog kennis hiervan. Vervreemding en verabstrahering het plaasgevind in die ‘magiese’ verhouding wat die skilder voorheen met die skilderkunsmateriaal gehad het. Inkarnasie van die puti is een werk uit ’n reeks, getiteld Nekropolis, waarin ek skilderprosesse, beelde en selfs die konkrete skilderye verlewendig.”
Gilbert Gibson en Ben Botma het as paar saamgewerk. Ben het die werk Komeet (olie op digitale druk, 120 x 90 cm) gemaak na aanleiding van “die Vrystaat” as inisiële impuls. Oor dié werk skryf hy: “Geïnspireer deur ’n gedenkkruis langs die pad. Die sentrale deel van die werk behels ’n digitale foto waarom daar ’n energieveld of stralekrans van helder kleur in olieverf aangebring is. Die verfproses was ’n moeisame een, met groot sorg (met ’n baie dun kwassie) uitgevoer. Die doelbewuste ‘mooiheid’ van die kruis en die kleure staan in skrille kontras met die smart en pyn wat dit verteenwoordig.

Na aanleiding hiervan het Gilbert die gedig “another fatal roadside attraction” geskryf, en daarby opgemerk: “Die gedig speel toe op Another Roadside Attraction, Tom Robbins se eerste roman (1971; Doubleday), en vertel hier die verhaal van ’n motorongeluk waarin minstens een kind dood is, ook as (fataalste) weggaan en verlies.”
Another fatal roadside attraction
die motor was ‘n wit almera ses jaar oud
met ‘n honderd en sewe duisend kilo’s op
bande effe afgeloop (veral regs agter)
en ’n duik in die deur. die ma het voor gesit
die pa agter die wiel die boetie
agter die ma en die babasussie plat
op die bank in ’n kombers toegedraai
aan die slaap. die boetie het met ’n
tafeltennisballetjie gespeel en
probeer om die headrest voor
hom met die balletjie raak te spoeg
elke tien sekondes ’n sagte plofgeluid
die ma was besig om
te brei penne wat klikklik terwyl
sy die speedometer uit die hoek van
haar oog dophou
die pa het ’n grys langbroek aangehad
en met sy toon sy been wat jeuk probeer krap
die baba was van die dreun aan die slaap gesus
wange van te warm toe rooi
een van die boetie se spoegslae het die
balletjie by ma se wang verby laat trek
teen die truspieël vas af tot in die pa se skoot
sy oë op sy bobeen neergeslaan
die hande gewar
die sussie het
in haar kombers verstyf.
die lorrie was vandeventer vervoer, ingelyf
Tags: Ben Botma, Bernard Odendaal, Charlayn von Solms, Gilbert Gibson, Hennie van Coller, J.C. Steyn, Jaco Jacobs, Jaco Spies, Janine Allen, Markus Steinmann, Pauline Gutter, Stef Cilliers Posted in Uncategorized | Lewer kommentaar »
Add this post to Del.icio.us - Digg
Thursday, July 9th, 2009
ALLOOI
van woord en beeld
Uitstalling: Volksblad-kunstefees, 14-19 Julie 2009
Produksies waarin woord- en toonkuns saamspan, is redelik bekend op Afrikaanse kunstefeeste. Minder algemeen tot dusver was egter produksies waarin tweegesprekke gevoer word tussen beeldende en woordkunswerke.
In opvolging van die visuele en woordkunsuitstalling “Uit die palm van die land” wat tydens die Volksblad-kunstefees van 2008 groot getalle toeskouers gelok het, word ’n soortgelyke uitstalling vir 2009 se fees beplan. Dis geïnisieer deur my en Ben Botma (hoof: Beeldende Kunste aan die Universiteit van die Vrystaat) en die titel daarvan is ALLOOI.
Vanjaar se deelnemende kunstenaars is gevra om indiwidueel en/of in pare (van 1 beeldende kunstenaar en 1 woordkunstenaar elk) telkens 2 nuwe kunswerke te lewer waarin beeld en woord geïntegreerd funksioneer. Laasgenoemde is wat die uitstallingtitel wil aandui. Dit gaan om ’n “samesmelting” van woord en beeld.
Ek hoop om mettertyd visuele materiaal oor die uitstalling op my blog te wys.
Geen riglyne t.o.v. tema, media, styl, en derglike is voorgeskryf nie. Die enigste voorwaarde wat gestel is, is dat elemente van sowel visuele as woordkuns in elke kunswerk moet voorkom.
Waar net Vrystaatse kunstenaars aan verlede jaar se uitstalling meegewerk het, word die net hierdie keer wyer gespan. Bekende Afrikaanse kunstenaars uit ander dele van die land, asook twee digters uit België en Nederland, het ingestem om mee te werk.
Een van hulle is Ingrid Winterbach. Sy is al herhaaldelik vir haar Afrikaanse romans bekroon, maar is ook as beeldende kunstenaar werksaam. Dieselfde geld vir Carina Stander, ’n opgeleide beeldhouer wat in 2006 met die geprese bundel die vloedbos sal weer vlieg as digter gedebuteer het. Hulle lewer op indiwiduele basis werke waarin woord en beeld “saampraat”. (Een voorbeeld is te sien in ’n onlangse blogbyrae deur Carina op die Versindaba-webwerf hiernaas.)
Die Kaapse digter Danie Marais het drie pryse vir sy debuutdigbundel in die buitenste ruimte gekry, en span met die animasiekunstenaar Diek Grobler saam om twee van die verse daarin visueel voor te stel.
Luuk Gruwez en Willem van Toorn, die een uit België en die ander uit Nederland, het reeds baie louere ingeoes vir hul digwerk. Gruwez munt onder meer as portretdigter uit. Hy is gevra om Nederlandse woordkunsekwivalente daar te stel van twee Suid-Afrikaanse portreskilderye uit die kosbare versameling van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Dieselfde uitdaging is aan Van Toorn gestel, maar na aanleiding van twee Suid-Afrikaanse landskapskilderye.
Uit die groep Vrystaters wat verlede jaar met “Uit die palm van die land” vorendag gekom het, het die volgende dié keer as pare saamgewerk: Ben Botma en ek; Markus Steinmann en Hennie van Coller; Pauline Gutter en Jaco Jacobs; Janine Allen en Gilbert Gibson.
My en Ben se werk dra die titel Vlugskrifte uit ’n onverklaarde burgeroorlog. Dit bestaan uit pare selfoonbeelde en –tekste wat oor net 12 onlangse voorvalle van ernstige geweld in die sentrale Vrystaat-streek ‘berig’. Die essensie van koerantberigte is telkens as haikoes in sms-taal vasgelê. So wou ons, d.m.v. die ‘geweld’ van die gedronge vers- en taalvorme, iets vergestalt van die fisiese en psigiese geweldpleging wat mense moes ervaar.
In my gedigtekamer elders op die Versindabawerf is die 14 sms-haikoes te sien wat ek met die oog op die projek geskryf het.
Die uitstalling was reeds te sien tydens die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se eeufeessimposium op 24-27 Junie 2009 in Bloemfontein (soos Carina reeds op haar blog vertel het). Die moontlikheid bestaan dat die uitstalling na afloop van die Volksblad-kunstefees na Stellenbosch vervoer sal word vir ’n uitstaltydperk by die Universiteit van Stellenbosch.
Tags: Ben Botma, Bernard Odendaal, Carina Stander, Danie Marais, Diek Grobler, Gilbert Gibson, Hennie van Coller, Ingrid Winterbach, Jaco Jacobs, Janine Allen, Luuk Gruwez, Markus Steinmann, Pauline utter, Willem van Toorn Posted in Uncategorized | Lewer kommentaar »
Add this post to Del.icio.us - Digg
Friday, May 15th, 2009
 Dirk van Bastelaere, Erwin Jans & Patrick Peeters
In die nuutste uitgawe van die Poeziekrant (Nommer 2, Maart-April, Jaargang 33) lees ek dat daar omtrent ‘n geskrop in die hoenderhok ontstaan het rondom die publikasie van Hotel New Flanders - 60 jaar Vlaamse poëzie: 1945 - 2005 (Poeziecentrum, Gent). Die samestellers van dié omvattende bloemlesing (752 bladsye, 672 gedigte, 266 digters), is Dirk van Bastelaere (digter), Erwin Jans (dramaturg) en Patrick Peeters (kritikus). Hulle word tans heftig gekritiseer oor die relatiewe prominensie wat hulle aan bepaalde digters gegee het volgens die aantal gedigte per digter wat opgeneem is. Sug. Is daar ooit iets nuuts onder die son?! Nietemin, hul werkwyse was heel eenvoudig (altans, só het hulle gedink …): Die digters is in vyf kategoerieë ingedeel, elk met ‘n stertoekenning.
Van vyfsterdigters is daar dan soveel as nege gedigte opgeneem. Verdermeer is daar ‘n bepaalde kriterium of riglyn gestel by elke kategorie; so moet die digter genoegsaam “vernuwend” wees ten einde vir vyfsterstatus te kwalifiseer. Die gevolg is dat daar in bepaalde gevalle meer gedigte van ‘n digter met enkele bundels op sy kerfstok opgeneem is, as van digters met ‘n veel meer uitgebreide oeuvre wat slegs vir vier of drie sterre kwalifiseer. Dit het uiteraard aanleiding gegee tot ‘n hele debat oor die kwessie van “vernuwing”. Kan ‘n digter met net een of twee bundels agter sy naam, byvoorbeeld, as “vernuwend” beskou word? Volgens die kritici van die bloemlesing is daar eers daadwerklik vernuwing ter sprake wanneer ’n mate van groepering, of navolging, rondom ‘n bepaalde digter se werk ontstaan het.
Nietemin, dié relletjie het my toe meteens laat besef hoevéél “vernuwende” stemme daar in Afrikaans is wie se totale statuur (tans) nog net op een of twee digbundels gebaseer is: Marlene van Niekerk, Gert Vlok Nel, HJ Pieterse, Gilbert Gibson, Charl-Pierre Naudé, Danie Marais, en natuurlik die twee debutante Ronelda Kamfer en Loftus Marais. Indien ons dan spesifiek na ons eie geblikte Verseboek kyk, wil dit voorkom asof die samesteller tóg daarin kon slaag om meer van ‘n balans tussen produksie en vernuwing te vind; ten spyte van die kritiek wat uit bepaalde oorde geopper is. Maar hoe gemaak met een van ons ware vernuwers wat nie tot bundel wíl kom nie?! Kom aan, Toast, die volk vra na jou!
‘n Lekker naweek vir almal en onthou - Nuuswekker sal Maandag weer hervat.
Intussen kan jy gerus by Facebook of Twitter ‘n draai maak ten einde aan te sluit by ons woelinge dáár.
Mooi bly.
LE
Tags: Charl-Pierre Naudé, Danie Marais, Dirk van Bastelaere, Erwin Jans, Gert Vlok Nel, Gilbert Gibson, HJ Pieterse, Hotel New Flanders, Loftus Marais, Marlene van Niekerk, Patrick Peeters, Poeziekrant, Ronelda Kamfer Posted in Nuuswekker | Lewer kommentaar »
Add this post to Del.icio.us - Digg
|
|