Posts Tagged ‘Greylingstad’

Andries Bezuidenhout. Restourasie en verval in Greylingstad en Val

Monday, December 26th, 2011

Val Hotel, met skoene oor die telefoondraad

Val Hotel, met skoene oor die telefoondraad

In Val Hotel se kroeg is plakkate wat vertonings deur Gert Vlok Nel en Bacchus Nel adverteer. Daar is skilderye van Bob Dylan (nie deur Bob Dylan nie) en lirieke van Nick Cave teen die muur. Dis nie juis wat ʼn mens in ʼn hotelkroeg hier op die Hoëveldse platteland sal verwag nie. Rita en André Britz, die eienaars van die hotel, het egter die hotel (gebou in 1896) gerestoureer en sommer die ou poskantoor en stasiegebou ingerig as backpackers en selfsorgeenhede. As Rita en André nie die geleentheid raakgesien het nie, sou die geboue waarskynlik heeltemal verval het, soos soveel ander konstruksies wat deur die spoorweë laat staan is na kostebesnoeiing in die 1990s.

Val bestaan nie uit veel meer as die hotel, poskantoor en stasie nie. Alhoewel die treine elke halfuur hier verbyrammel – veral goederetreine tussen Johannesburg en Durban – is die stasie nie meer funksioneel nie. Die voetgangerbrug oor die spoor roes. Van die geboue se mure is gebreek, die vensters is stukkend. Daar is steeds ʼn polisiestasie met die straat af, asook ʼn paar huise, ʼn halfvervalle laerskool en graansuiers aan die ander kant van die spoor. Dis egter die Hoëveld op sy mooiste – massiewe ou bloekoms en populiere, mielielande. En dít skaars ʼn uur en ʼn bietjie se ry uit Johannesburg en Pretoria, op die pad tussen Heidelberg en Standerton.

Bloekoms, voetgangerbrug by die stasie

Bloekoms, voetgangerbrug by die stasie

Ou graansuier langs die treinspoor

Ou graansuier langs die treinspoor

Prinses en padda by Val se laerskool

Prinses en padda by Val se laerskool

Min mense weet dit, maar Val se mees beroemde inwoner was Gandhi, al was dit dan slegs tydelik. Hy is vir een nag hier in die tronk aangehou tydens sy kampanje van lydelike verset. ʼn Entjie buite die dorp is die winkel en petrolstasie van “Latib Janoo and Son”. Legende wil dit hê Mnr. Janoo se oumagrootjie gevra is om vir Gandhi te kook terwyl hy hier in aanhouding was.

 

Latib Janoo and Son - winkel en petrolstasie

Latib Janoo and Son - winkel en petrolstasie

Op Rita se aanbeveling gaan besoek ons Greylingstad se spookdorp. Ek was al voorheen in Greylingstad, maar was nie van hierdie spookdorp bewus nie. Voortrekkers het in 1842 in die gebied aangekom en begin boer. In 1877 is goud ontdek, maar die ontginning daarvan was onekonomies. In 1888 is ʼn poskantoor opgerig en met die voltooiing van die spoorlyn tussen die Witwatersrand en Durban in 1894 ʼn stasie. Die spoorlyn het egter 5 km noord van die dorp verbygeloop. Twee prominente boere, ʼn ene Greyling en ʼn ene Bezuidenhout, het gewedywer oor wie die stasie mog vernoem, asook op wie se plaas ʼn nuwe dorpsgebied – wat nader aan die stasie sou wees – uitgelê sou word. Beide was lede van die Volksraad in Heidelberg en die dispuut het so lelik geraak dat Paul Kruger persoonlik moes bemiddel. ʼn Tafel is onder ʼn boom opgeslaan en die twee here het hul saak gestel. Kruger – sekerlik beïnvloed deur die storie van Koning Salomo – het besleg dat die dorp aan die een kant van die rivier Greylingstad genoem sou word en aan die ander kant Willemsdal (Bezuidenhout se voornaam was Willem).

Met die koms van die stasie het mense stadigaan die ou dorp verlaat en na die nuwe deel getrek, een deel op Greyling se plaas en die ander op Bezuidenhout s’n. Die dorp is in 1914 amptelik tot Greylingstad gedoop, maar het tot en met die 1950s twee poskantore gehad, ʼn kilometer uit mekaar, wat die twee name gedra het.

Voor ʼn mens by Greylingstad se spookdorp uitkom, ry jy verby ʼn pragtige sandsteenkerk. Dis deur die argitekte Cowin en Powers ontwerp, na ʼn kompetisie wat deur Herbert Baker beoordeel is. Die hoeksteen is in 1913 deur Generaal C.F. Beyers gelê en bouwerk is die volgende jaar voltooi.

NG Kerk, Greylingstad - vooraansig

NG Kerk, Greylingstad - vooraansig

NG Kerk, Greylingstad - syaansig

NG Kerk, Greylingstad - syaansig

NG Kerk, Greylingstad - detail

NG Kerk, Greylingstad - detail

As jy ʼn entjie met die staat af ry, is daar ʼn nuwe kerk, in modernistiese styl. Agter die kerk verby is ʼn grondpad wat jou spookdorp toe vat. ʼn Mens moet ʼn plaashek oopmaak en dan ry jy verby beeste tot in ʼn kloof. In die kloof is die bouvalle van die oorspronklike dorp. Tydens die Anglo-Boereoorlog het die Scottish Rifles hier kamp opgeslaan om die spoorlyn teen aanvalle deur die Boere te beskerm. Bo-op die berg is die grootste dele van hul kamp blykbaar nog ongeskonde.

Die eerste gebou wat ʼn mens sien is ʼn vervalle kerk, wat deur Gerhard Moerdyk ontwerp is. Dit het ʼn gewel bo die ingang en ʼn eenvoudige, maar elegante kloktoring. Die dak, deurrame en kosyne is weg. Binnekort sal daar bitter min van die gebou oor wees. 

Greylingstad spookdorp, Moerdykkerk

Greylingstad spookdorp, Moerdykkerk

Vooraansig

Vooraansig

Kloktoring

Kloktoring

Iemand het die hoeksteen verwyder

Iemand het die hoeksteen verwyder

Uitsig waar 'n venster was

Uitsig waar die venster was

As ʼn mens verder in die kloof opstap, is daar verskeie bouvalle van huise wat teen die hange gebou is. Dit moes eens ʼn pragtige dorp gewees het. Die uitsig oor die Hoëveld se vlaktes is lieflik. Hier en daar staan daar nog vye- en perskebome. Ek kom op ʼn perskeboom af wat dra.

 

Kliphuis bouval met vyeboom, Greylingstad se spookdorp

Kliphuis bouval met vyeboom, Greylingstad se spookdorp

Perskeboom by Greylingstad se spookdorp

Perskeboom by Greylingstad se spookdorp

Bouval teen koppie

Bouval teen koppie

Ek sukkel om betroubare inligting oor die spookdorp te bekom. Dit wil voorkom asof mense dit verlaat het om nader aan die spoorlyn en die stasie te wees. ʼn Ander weergawe is dat daar nie water is nie. Die Moerdykkerk is waarskynlik ná die sandsteengebou opgerig, te oordeel aan die geel sierstene in die fondament. Blykbaar is swart inwoners later hiervandaan na die township op die vlakte buite die dorp verskuif in die tye van apartheid se gedwonge verskuiwings. Die plek voel spookagtig hartseer.

Met die bou van die N4 nasionale pad in die 1960s, het die nuwe pad, soos die spoorlyn van weleer, ʼn paar kilometer buite die Greylingstad verbygery. Soos soveel ander klein dorpies, het dit die plaaslike ekonomie geknak. Eens winsgewende winkels – soos Melmans en Hendrik Morsner s’n, en koffiewinkels soos dié van Tina Fourie – se deure is gesluit. In 1990 het ʼn brand by die geboue van die plaaslike owerheid groot dele van die dorp se argief uitgewis.

Ons vertrek met die cliché van meer vrae as antwoorde. Hoekom is daar nie meer oor die dorp se geskiedenis beskikbaar nie? Hoekom is daar nie toegangsbeheer by die spookdorp en die historiese Skotse oorlogskamp nie? Hoeveel van die geskiedkundige artefakte hier is nie al deur mense weggedra nie? Hoekom gebruik Greylingstad se plaaslike owerhede nie die plek en die geskiedenis om toerisme aan te moedig nie? (As Rita Britz ons nie van die spookdorp vertel het nie, sou ons nooit daarvan uitgevind het nie.)

Of is die geskiedenis só donker dat Greylingstad eerder daarvan wil vergeet?

Greylingstad se spookdorp - uitsig

Greylingstad se spookdorp - uitsig

Erkenning:
Webwerf van Val Hotel, asook Nuusbrief Nr. 178 (Julie-Augustus 2010) van die Boksburg and East Rand Historical Association.