Posts Tagged ‘Groot Zimbabwe’

Johann Lodewyk Marais. Groter Zimbabwe

Wednesday, June 24th, 2009

Gedurende 1996 was ek bevoorreg om deel te wees van ’n toergeselskap wat vandag bykans ondenkbaar lyk: Ek het saam met agt volwassenes en twintig kinders in twee kombi’s en drie motors ’n tien dae lange reis deur ons noordelike buurland Zimbabwe (en later ook Botswana) onderneem. Die meeste lede van hierdie toergeselskap was verbonde aan die Christiaan de Wet Voortrekkerkommando.

 

Ons eerste kampplek anderkant Suid-Afrika se noordelike grens, die Limpoporivier, was digby Groot Zimbabwe, wat vir baie van ons beter as die Zimbabwe-ruïnes bekend is. Hier het ons die tweede aand ná ’n lang reis van Musina af aangekom toe dit reeds donker was en tussen die bome ons kamp opgeslaan. Ons sou twee dae daar bly om na die uitsonderlike bouwerk daar naby te gaan kyk.

 

Groot Zimbabwe is dwarsoor die wêreld bekend en is vandag een van UNESCO se Wêrelderfenisgebiede. Daar is ook groot belangstelling in die geskiedenis van hierdie gebouekompleks. Die naam Zimbabwe kom waarskynlik van “Dzimba we bahwe”, wat “plek van stene” beteken, en daar word wyd aanvaar dat swart mense vir die bou daarvan verantwoordelik was.

 

Groot Zimbabwe bestaan uit drie groepe ruïnes. Eerstens is daar die sogenaamde Akropolis of Fort, wat op ’n koppie gebou is en bestaan uit hoë mure wat om groot rotste gebou is. Onderkant die koppie is daar ’n gelyk stuk grond met verspreide bouvalle wat die Vallei van Ruïnes genoem word. Derdens is daar die sogenaamde Tempel, ’n onreëlmatige, elipsvormige gebou met ’n muur wat op plekke tot 10 m hoog en 5 m breed is. In die elips is daar gangetjies, afskortings en twee keëlvormige torings – een 10 m hoog met ’n omtrek van 24,9 m en ’n kleiner een wat sowat 2 m hoog is. Die doel en funksie van die torings is onbekend.

 

Groot onsekerheid bestaan oor die oorsprong van Groot Zimbabwe. Daar is byvoorbeeld al beweer dat koning Salomo, die koningin van Skeba en verskeie ander persone die geboue opgerig het. Wetenskaplikes het egter bepaal dat die geboue nie meer as 800 jaar oud is nie en dat sommige dele slegs 500 jaar oud is. Uit die talle goue voorwerpe wat daar gevind is, word aanvaar dat Zimbawe ’n belangrike handelsentrum in die gebied was en besoekers uit ander dele van die wêreld ontvang het.

 

Een van die interessante kenmerke van die ruïnes is die agt voorstellings van die sogenaamde Zimbabwe-voël uit seepsteen wat daar gevind is. Die voël is later in die land se wapenskild (en op die land se vlag en muntstukke) opgeneem en stem baie met ou Egiptiese tekeninge van voëls ooreen. Die voëls kan by die plaaslike museum besigtig word.

 

Ná die besoek aan Groot Zimbabwe het ons die Matobo-heuwels oos van Bulawayo besoek waar ons weer uitgekamp en ’n verdere twee dae in tente onder ’n koppie met groot rotsblokke gebly het. By die Matobo-heuwels het ek sommer die heel eerste dag al twee witkruisarende bo die koppies sien vlieg. Party van ons het ook na Cecil John Rhodes se graf gaan kyk en Bulawayo toe gegaan. Ek het die Natural History Museum (waar belangrike navorsing gedoen is) met sy ryk geskiedenis besonder interessant gevind.

 

Hierna het ons verder noord tussen pragtige bome deur tot by die Victoria-waterval in die Zambezirivier gereis. Enigiemand wat al hierdie natuurwonder besoek het, weet dat dit een van die grootste ervarings is wat ’n mens kan hê. Ja, Zimbabwe het heelwat wat hy die toeris kan bied.

 

Vandag lyk daardie reis van 1996 saam met die Voortrekkers van die Christiaan de Wet-kommando byna ondenkbaar weens die chaos waarin die land verval het. Maar dit was enkele jare gelede inderdaad heeltemal moontlik. Die dinge wat ons daar ervaar het, het ons ’n kykie gegee in die wel en wee van een van Afrika se baie interessante lande.

 

GROOT ZIMBABWE

 

            Oor die savanne sak die sluimering.

            Die bobbejaan spring van die wildevy

            tot op die klipmuur aan die oostekant

            met wit, geel en grys ligene gevlek.

 

            Draal die nag nog, dan staan die luiperd op

            en sluip al hoe nader. Die wind gaan lê.

            Die brandwag trap in sy paniek ’n klip

            af wat tuimel en nog klippers losruk.

 

            Onaangeraak wag die agt seepsteenvoёls

            tussen die mure om gevind te word

            en uit dié klippe tot totem te groei

wat mense mekaar van hand tot hand reik.

           

            Uit: Aves: Gedigte (2002)