Posts Tagged ‘Harry Kalmer’

René Bohnen. 100 000 digters vir verandering

Monday, October 1st, 2012

Hierdie afgelope Saterdag, 29 September 2012, het ʼn klompie digters in Johannesburg deelgeneem aan die wêreldwye 100 000 Poets for Change geleentheid. Die Engelse digter en uitgewer/eienaar by Dye Hard Press, Gary Cummiskey, het die harde werk gedoen om ons op ‘n Saterdag in ‘n restaurant in Melville gehuisves te kry. Elf digters het gelees en almal het agterna hulle vreugde uitgespreek dat die Afrikaanse en Engelse digters in gemengde volgorde opgetree het. Sodoende is die gehoor (asook die digters self) blootgestel aan verse wat hulle andersins nie te hore kry nie.

Die amptelike blad vir hierdie geleentheid is http://100tpc.org/

die 11 digters wat gelees het en ons plakkaat

die 11 digters wat gelees het en ons plakkaat

Die gehoor was waarderend en meelewend, ons het gekuier en gesels, saam wyn gedrink en foccacia geëet, boeke gekoop en verkoop en nuwe vriende gemaak.

Tydens hierdie geleentheid is Hans Pienaar se nuwe boek, Chaos, ook bekendgestel. Harry Kalmer het ʼn kort, interessante gesprek met Hans gevoer en Hans het tot groot genot van die gehoor uit sy boek voorgelees. Heerlik!

Harry Kalmer in gesprek met Hans Pienaar

Harry Kalmer in gesprek met Hans Pienaar

Andries Bezuidenhout. Hul laaste dae in Johannesburg, skets 2b

Wednesday, November 18th, 2009

1
En die sixpack skree: Kom hier! Kom hier! Kom hier! 

2
Hy ry weer huis toe. Met Empireweg tot in Louis Bothalaan. Skuins deur Hillbrow. Draai by Yeoville in. Met Ecksteinstraat verby Sacred Heart College. Dan in Kloofstraat af tot by die woonstel. Hy luister na Battery 9 se “Kom hier!

3
ek sien hom te laat om te probeer
briek
sy lyf kraak dof en dit maak
my siek
toe ek sien hoe hy spat na die kant van
die pad
en ek kan sien sy lyf is nat
van die bloed wat gesmeer is oor
die bonnet van my kar
ek raak baie ongemaklik want sy oë
het verstar
in ‘n waas in ‘n waas soos ‘n blinde haas

4
Jos, die hoofkarakter in Harry Kalmer se “Die man met die dertien kinders”, ry ook ʼn man dood. Hy en sy vrou neem die man se kinders aan. Die Molois. Dis deels hoekom hulle dertien kinders het. Dis een van sy gunstelingboeke. Jos is ook ʼn alkoholis.

5
o my fok wat op aarde nou
wat de moer gaan ek sê vir sy kinders en sy vrou
wat sal ween sal praat en sal aanhou haat
en ek kyk oor my skouer want dis
dalk te laat
maar die vlakte gaap kaal asof
niks gebeur het
asof dit sê “so much vir jou groot probleem”

6
Soho Eckstein ry óók ʼn man raak. Hy het glad nie verwag om iets van Suid-Afrika daar raak te loop nie. Dit was in die Tate Modern. Hy onthou hoe hy “The History of the Main Complaint” van William Kentridge die eerste keer gesien het. Daar was ʼn donker kamer afgesonder vir die animasiefilm, wat oor en oor gewys het. Steenkool rofweg gekrap, uitgevee, afgeneem, film van gemaak. Tydsame proses. Hy het op die vloer gaan sit. Dit vyf keer gekyk.

7
met hierdie nuwe insig klim ek terug in my kar
maar my hande bewe en ek is in die war
wat was sy naam? waar kom hy vandaan?
ek raak paranoid dat die kar sal gaan staan
en elke sekonde ry ek verder weg
en voel bekommerd en bedonnerd
selfs die bier smaak sleg
die son brand my oë
dis heeltemal te vroeg vir nog ‘n bier
maar die sixpack skree:
kom hier! kom hier! kom hier!

8
“Die man met die dertien kinders” is in Japan te koop.

9
kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hier! kom hiiiiiiieeeeeeeeeeeeeeeeerrrrrrrr!

10
Bronne:
Battery 9. 1995. “Kom hier!” Protskrog. Klankopname, Tic Tic Bang/One F Music.
Harry Kalmer. 1998. Die man met die dertien kinders. Kaapstad: Queillerie.
William Kentridge. 1996. History of the Main Complaint. Animasiefilm.

Andries Bezuidenhout. Radoma Court in Yeoville se storie

Tuesday, November 10th, 2009

Brendon Croft het die mooi foto van Clive Chipkin hier bo geneem. Dis saam met ʼn storie oor Clive se boek Johannesburg Transition: Architecture and Society from the 1950s in Rapport gebruik. Wat die onderskrif in die koerant nie noem nie, is dat die foto reg langs Radoma Court geneem is, waaroor daar in die artikel geskryf word. In die agtergrond kan ʼn mens Bedford Flats sien, waar Chipkin grootgeword het.

ʼn Mens het soms maar min woorde om oor baie interessante dinge verslag te doen. Daar is ‘n ander storie oor Radoma Court, wat ek eers ná my onderhoud met Clive uitgevind het. Ek het met Harry Kalmer oor die onderhoud gepraat en oor die feit dat Clive as kind in Yeoville gewoon het. Clive kan steeds onthou wie destyds op watter straathoeke gewoon het, hoe hy as kind oor Louis Bothalaan skool toe gestap het – die King Edward VII-skool in Houghton. Ongeveer 60% van Yeoville se inwoners was toe Joods.

Harry vertel dat hy in die 1980s in Radoma Court gewoon het. So ook James Phillips (ook bekend as Bernoldus Niemand) en Hanepoot (Jannie) van Tonder, tromslaner en tromboonblaser van die Gereformeerde Blues Band. Die gebou is dus ook belangrik vir die underground Afrikaanse movement van die tagtigs.

Radoma Court is nou heeltemal vervalle. Toe ek en Clive Chipkin dit besoek het, het hy so half by homself geprewel dat dit waarskynlik te laat is om die gebou te red. Hier onder is ‘n foto van hoe dit lank gelede gelyk het – ‘n monument vir modernistiese ontwerp.

Kyk byvoorbeeld hoe praat die gebou met Le Corbusier en Pierre Jeanneret se Pavillon Suisse (die Switserse paviljoen) in Parys (in 1932 ontwerp, in die foto hier onder). 

Gaan kyk gerus hoe Radoma Court vandag lyk. Dis op die hoek van Cavendish- en Yeostraat. Die gebou word deur die Stadsraad as ‘n gebou van historiese belang gelys, maar helaas, dit lyk nie of dit veel in die praktyk beteken nie. Ek wonder of iemand eendag sal kans sien om ʼn biografie van die merkwaardige gebou te skryf. Ek wens ek het die tyd en geld gehad om dit self te doen.

Andries Bezuidenhout. Ons ouers se melankolie

Monday, July 27th, 2009

Dis so koud in die woonstel dat ek in die bed sit en lees.

Ek lees verlede week weer Harry Kalmer se X-Ray Visagie en die vingers van God, asook Die man met die dertien kinders. Ek dink laasgenoemde bly Harry se beste boek. Dis ʼn storie met soveel menslikheid en diepte. Dit boul my van voor af om. Ek hou ook van die verwysings na die gedigte van Philip Larkin (“They fuck you up, your mum and dad./ They may not mean to, but they do./ They fill you with the faults they had/ And add some extra, just for you.”) en Michael Ondaatje. Ek lees nou al vir maande lank aan die gedigte in The Cinnamon Peeler.

Al verskil ek en Hennie van Coller oor die relatiewe gewig wat Karel Schoeman se romans in die letterkunde dra (sien eerskomende Sondag se Boeke-Rapport), weet ek darem dat ons albei Harry Kalmer se werk waardeer. (Ek weet nie wat my besiel het om my vingers aan die sleutelbord te waag oor sulke sake nie, maar nou ja. Die bylae vir volgende week is seker al uitgelê en wag om gedruk te word. Ek is voortvarend en die koeël is deur die pers.)

X-Ray waardeer ek met hierdie keer se lees op ʼn ander manier. Ek ken die omgewing waar die boek afspeel soveel beter as toe ek dit destyds gelees het – Burgersdorp en dele van Johannesburg. En dan is daar Baader-Meinhof, wat so ʼn belangrike verwysingspunt vir die storie is.

Hoekom is daar juis nou weer ʼn herondersoek na die rol van Andreas Baader en Ulrike Meinhof en die geslag na hulle? Ek dink aan die onlangse film daaroor. Dalk omdat baie van die repertoires van terreur tóé uitgevind is. Dalk omdat regerings steeds nie (wil) verstaan hoekom mense hul tot geweld wend nie.

Ek dink weer aan die punkband Koos se musiek uit die tyd wat die boek afspeel. En aan Marcel van Heerden se liriek “Die Suid-Afrikaanse herfs”, met sy verwysings na die Baader-Meinhof-hofsaak. Dis die 1980s. In Yeoville is daar ʼn hele scene met rebelse Afrikaners. Terwyl ek X-Ray lees, draai die liriek deur my kop: “Wie is hierdie kinders met die toekoms in hulle oë… Wat hul ouers se melankolie wil verlig in die Suid-Afrikaanse herfs…”