Posts Tagged ‘Hein Viljoen gedigte’

Hein Viljoen. Drie gedigte

Thursday, November 30th, 2017

Koki bepeins sy swembad

in die kil blou helderte
kan skaars ʼn kiem oorleef skaars
ʼn repie paddaslyk  gechloor
en gealgdood  die pH perfek doodreg

hoe waglik groen was dit verlede week
dik alge die water swartgroen
byna giftig geskik vir Raka
om in te waad te rol te swelg
paddaslyk oor sy vet pens
stringe aaklig groen in sy baard

nie dat Raka juis huis
in hierdie wit voorstad nie
boomryk en groen  die fyngemanikuurde
fyntjiesvatters  geldjagters  knakkers
van mense nie in hulle pasoppens
se laaste spaargeldjies ontfutsel
van kontantjies en leefruimtetjies
luise en uitsuiers van onwaaksames
voorstedelike alfa-leeus meedoënlose
afmakers afmaaiers van die hulle teenstanders
Raka en nogeens Raka

Koki weer die lomerige windjie van sy blaaie
maak seker sy muur is hoog sy hek is heel

bekruipers van agtelose prooi
vroumense oumense swakkeres desperates
hulle wat blikkies hondevleis moet eet
die belt stywer moet trek oor ʼn maag
wat grom van net ʼn koppie water

hy sal sy skouers reguittrek
uitry by sy hek vasgegord in sy BMW
die oerwoud van wolkekrabbers betree
al die Rakas die stryd aansê
bebloed en gebreek in die ISE beland
in ʼn yskas met ʼn kaartjie aan sy toon

reg en geregtigheid
vreemde begrippe maar mooi en kwesbaar

**

Vloed

reën val al heeldag  sif soms
fyntjies-fyntjies neer nouliks voelbaar
op die wang  of stort andersins neer
soos nou  watergeluide klots spoel
plas suis drup oral ʼn wêreld van reën
gorrel guts spoel klater  maak mens
bang dat dit nooit gaan ophou nie
alles gaan oorspoel soos met Noag se vloed
en almal sal verdrink  verskriklike
versmorende dood  hoeveel angs voordat
jou long en maag vol water is en jy versmoor
hoe lank sal dit vat? vyf, tien minute?

reën nou sagter  druppels plens water loop
klots plons spat borrel  eers styg
die angs jou om die hart  jy probeer desperaat
asem kry  versluk spartel dom  is dit
verby jy gee jou oor asem die water
in  gee jou oor aan ʼn ander medium
verloor jou bewussyn sluk vir sluk
liggie vir liggie tot net ʼn donker watergraf
oorbly  swart water swart bewussyn
geen lig  dood  of spook en spartel jy
tot op die laaste  tot jou kragte
jou begewe  spiere verslap  wil uitdoof
jy roerlose materie word
dalk nog dryf in ʼn donker medium
waaruit jou longe geen suurstof kan haal nie

gesuis van die reën nou net ʼn fyn gefluister
hier en daar ʼn gedrup  ons is gespaar

guts borrel klater drup plens spoel verdrink ek
in jou groot water  see  waterwêr-ek waterwerk

**

vinvis Leo

doodgestamp deur ʼn vrugteskip
geraamte uitgestoom aanmekaargesit
opgehys  publieke spektakel
in die katedraal  my baleine
waardeur oseane gevloei het
filtreer nou die dowwe wierooklug van Sint Baafs
my ribbes onbenullig onder die katedraal se boë
gemaakte teken van Jona dalk
diep in my maag aan’t bid  seegras
om sy hoof gedraai – drie dae in die graf
ʼn lam asof hy geslag is  wat die sondes
van die wêreld wegneem  verlosser
eerder ʼn tulband ʼn weerbarstige versetteling
met die sagte oë van Bin Ladin  teken
van die mens se vernuf  doodmaak en red
gesond maak en tot vlamme verdoem
mense met masjiengewere afmaai  of met
te veel suiker, sonneblom-olie  skaaptjops
weer bymekaarmaak rekonstrueer
die beendere aandagtig lees
ek is ʼn aanklag teen daardie wreed-vernuftige dier

..
Kyk https://www.hln.be/regio/gent/vinvis-leo-opgehangen-in-sint-baafskathedraal~a5188d17/

 

© Hein Viljoen / 2017

Hein Viljoen. Teddiebere

Thursday, May 5th, 2016

Teddiebere

.

beertjie in Berlyn in die uitstalkas
van die Joodse museum – by Hambidge
en haar leerling vind ek ʼn swaai-etiket
van The Baby Company – newborn
die gedig word gebore in die gapings
tussen woorde soos ‘n beertjie
uit die Niet verloor geval op straat
glimlag geel swart en geel
glimlag must have baby blue

tussen die blaaie
van Hambidge se Kladboek

 

bruin seker die kind se oë
die teddie se oë geelbruin
helder vasgewerk op sy kop

die kind klou aan die beertjie
klikkeklik oor wissels mamma
die dors mamma waarheen gaan ons mamma
my beer op klassieke teddie-patroon
motgevreet sonder hare oë blinkbruin

‘n handelsmerk in ‘n boek  sagte
appél van ‘n glimlaggende snoet
’n sagte lyfie – koop vir my ‘n hempie
om oor my kop te trek  bruin oë
must have baby blue

beertjie agtergelaat die wissels klik
beertjie glimlag stil doodsherdenking

herdink
sagte doodsherinnering

die trein klikklak storte sonder water
sonder ‘n druppel water
skoorstene rook

bruin oë van my kleinkind
bruin deurskynende glasoog van my
ou teddie – motgevreet hare afgevryf
het die Joodse kind nog iets geweet
in die stort – sy lyfie platgedruk
onder ‘n piramide van groteres sterkeres
sy beertjie nagelaat as laaste herinnering

dode denkmal
amulet

 

Fourie noem sy beertjie opgetel
in die straat in Berlyn King Kong
ek haal weer my teddie uit die kas
bene krom, sy groen truitjie verweer
sy lyfie motgevreet en kaal  sy
oë blinkbruin aan draadjies in sy spits gesig

die merk van The Baby Company
sagte beertjie must have baby blue
bruin oë
motgevrete verweerde teddie
doodsrekwisiet vir my, Fourie, Hambidge en die kind

 

© Hein Viljoen 2016

Hein Viljoen. Gekraakte pot

Friday, April 29th, 2016

Gekraakte pot

in memoriam  Herman van Wyk

wat as die pot misluk
of van die hitte kraak deur gebruik
bars stukkend val
sal die pottebakker dalk nuwe klei
op die skyf gooi ’n nuwe vorm
met sy vingers uitforseer
geglasuur simmetries volmaak gevuur?

nee, dit is die gekraakte pot wat lewe saai
sover hy gedra word die stukkende een
wat weet van uitdeel en gee die onvolmaakte
wat water uitstort mors geil groente gee

wat weet die snotkop-predikantjie eintlik
van hande vol bulte krukke wat vorentoe beur
van voete gebreek sodat jy kon loop
van hoe een voet die trap opsukkel en dan die ander

sy eie parabel leer hom die les
jy is die mislukte kruik seer en gekraak
die lekkende pot wat water in oorvloed uitstort
die gekraakte pot wat geil groei mors
die gekraakte pot wat gebreek lê by die fontein
die gebuigde wiel wat stukkend geval het in die put

 

© Hein Viljoen / 2016

Hein Viljoen. Parys

Monday, April 25th, 2016

Parys

ek is in die grys donkerte afgevoer
in die ingewande van jou terminaal
met ’n pyp langs gesluk in ’n bus uitgespoeg
ek het deur tonnels geslinger in jou
rasende moltrein in ’n breë straat daglig aanskou
my tas agter my aangesleep

ek het in notre dame die mis beleef
die orrel gehoor pragtige sang en die hele gedoe
met wierook u woord in twee tale
en die hostie droog op my tong tussen duisende
pelgrims nuuskieriges toeriste en ’n sakkeroller of twee
my hoof gebuig en die oomblik beleef
swaar en dik en heilig of iets
ek weet nie meer wat

ek het motors om jou arc sien jaag
wonderbaarlik sonder om te bots met die champs
elyssee langs geslenter die winkels aangegaap
jou obelisk beskou van egipte gesteel tot eer
van die Franse Republiek en ek het macdonalds geëet
tot my skande maar darem goedkoop

ek het jou vroue bewonder donker
en sensueel in lang toue verby jean cocteau
se werk gestrompel vol onbegrip
hier en daar gesigte begin herken
’n beeldskone blondine oorkant die straat sien loop

in d’orsay het ek in die hoë lig
langs manet en monet en toulouse lautrec afgestap
olympia se smeulende blik probeer ontwyk
my in jou grotte ingewaag waar monsters knarsend
op staalspore om die draai in die donker wegraak

ek het onder die eiffel gestaan sy fondasies
bewonder sy dik staalbalke langs
die fonteine wat wit in jou sonlig spuit
gesinne verby sien rollerblade ’n arabier
wat poskaarte vir vier euro verkoop

ek het in les halles beangs na my perron gesoek
deur ’n golf jasse meegesleur aan my tas bly klou
verward na die regte trein gevra my rug amper
teen die muur ’n droë toebroodjie probeer sluk

een in die hoek se oog vlugtig gevang
nog een se handjie was klein toe ons groet
o ja bruin uiesoep soos ’n werker geëet
en ’n oester ook maar die res alles vergeet

© Hein Viljoen / 2016

Hein Viljoen. Matriksiaal

Thursday, September 10th, 2015

Matriksiaal

Vir Bracha Lichtenberg Ettinger

miskien sou dit waar kon wees dat ons wie weet
tog êrens spore, resonansies deel van ʼn tyd
van saam-wording en groei geborge in die baarmoeder
aan’t swel en sweef in ʼn warm paradys

as man kan ek my dit nouliks indink behalwe dalk
’n vae gemis aan ʼn knus warmte, die dartel spel
in die buik van ʼn grot, klein akrobaat wat swaai
’n duiker vrymoedig aan sy naelstring vas

dalk saam dink aan ʼn tyd van voor die ek
bloedskandelike simbiose met haar
moeder en vreemdeling in pyn van wording
terwyl jy as vrou liggaamlik die pyn van wording
altyd saamvoel en elke maand herhaal

verbintenis met jou verlang ek na
na saamsweef in die vertroude donkerte
byna geslagloos die vruggrot binnegaan
die gebare herhaal wat lei tot die saamsmelt
van eier en paddavis  die minuskuulste hart laat klop

 

© Hein Viljoen / September 2015