Posts Tagged ‘Hein Viljoen’

Hein Viljoen. Hersiene lemma (Plagiaat) op LTT

Friday, May 25th, 2018

Wat is plagiaat? Die pas hersiene lemma deur Ronél Johl daaroor in Literêre terme en teorieë (LTT) gee ‘n prikkelende ander kyk daarop en bevraagteken onder andere die metafoor van diefstal. Johl skryf ook:

“Die geskiedenis van die moderne literêre gebruik van die term wys dat dit sedert die agtiende eeu selektief in die kritiek aangewend word om groot skrywers se kreatiwiteit en oorspronklikheid aan te prys en mindere skrywers tot die vergetelheid te relegeer.”

Lees verder by

http://www.litterm.co.za/index.php/lemmas/33-p/1574-plagiaat-2.

Literêre terme en teorieë, ‘n omvattende ensiklopedie van literêre terme in Afrikaans onder redaksie van T T Cloete, het in 1992 by HAUM-Literêr verskyn. Dit is lankal uit druk, maar ons het dit  vanaf 2009 gedigitaliseer en dit is sedert 2015 gratis aanlyn beskikbaar by www.litterm.co.za. Die teks van die 2007-uitgawe van Van Gorp et al. se Lexicon van literaire termen maak, met die goedgunstige toestemming van die  outeurs, deel uit van LTT aanlyn. LTT is daarom ‘n onskatbare bron van literêre kennis en literêre begrippe in Afrikaans (en ook in Nederlands).

LTT word tans hersien en bygewerk danksy ‘n ruim finansiële toekenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Plagiaat is die jongste hersiene lemma wat geplaas word.

Kommentaar op Plagiaat en op LTT in die algemeen is welkom. Ek is veral op soek na medewerkers vir die verdere bywerking van LTT. As jy ‘n goeie stuk oor ‘n belangrike literêre begrip êrens in jou rekenaar (of laai) het, laat my weet. Dan kan ons dit vir LTT oorweeg. Ek kan ook vir jou ‘n lys van lemmas stuur waarvoor ons nog skrywers soek.

Hein Viljoen

hein.viljoen@nwu.ac.za

LTT webadres: http://www.litterm.co.za/index.php

 

Hein Viljoen. Groot avonture in die (onlangse) Afrikaanse poësie

Friday, July 1st, 2011

Groot avonture in die (onlangse) Afrikaanse poësie

Hein Viljoen

Bron van hierdie artikel, met vergunning: Stilet, nr 22(2), September 2010

ABSTRACT

In this article I propose that the metaphor of an adventure, a bigger story or project, can be a productive cognitive construct for mapping the landscape of recent Afrikaans poetry. I first survey a number of metaphors of South African literature, including the scrapyard, the archipelago, the colonial apartheid castle as well as the national literature, and then present two arguments for the existence and importance of the proposed adventures, namely the ideas of narrative schemas and of superstructures. I then briefly explore the 14 adventures that I propose, taking examples mainly from Poskaarte (Post cards) – the collection of postmodern poetry in Afrikaans edited by Foster and Viljoen (1997). Finally, I outline the importance of one of the adventures, the modern pilgrim’s progress, in the case of George Louw’s collection Kraai (Crow, 2006).

1. Inleiding

 

Leon de Kock (2005) het onlangs die metafore en analogieë wat die Suid-Afrikaanse literatuurgeskiedskrywing onderlê – trouens die hele projek van die skryf van ‘n Suid-Afrikaanse literatuurgeskiedenis – ironies betrag. Sy punt was dat ‘n analogie of kognitiewe model die skryf van so ‘n geskiedenis bepaal, omdat die metafore wat ‘n mens kies die vorm en emosionele waarde van so ‘n veld help konstrueer. “Cognitive assemblage is the shaping process”, skryf hy (De Kock, 2005:9). Met ander woorde, die analogie skep die persepsies wat die literêre veld tot stand bring.

De Kock demonstreer hierdie opvatting aan die hand van die analogieë wat tot dusver gebruik is om die veld van die Suid-Afrikaanse letterkunde in ‘n transdissiplinêre sin te verstaan. Die eerste is I. Pinchuk se metafoor uit die 1930’s, naamlik die metafoor van die skrootwerf. Pinchuk het die letterkunde in Suid-Afrika beskryf as

a scrapyard where the only seeming relationship between the scattered arrangements of metal, wood, soil and grass is that they are all contained within the same area (aangehaal deur De Kock, 2005:9).

De Kock se argument is dat Stephen Gray hierdie persepsie van die Suid-Afrikaanse letterkunde as tweedehands, koloniaal, afgelei en sonder enige samehang dramaties verander het deur ‘n nuwe metafoor in te voer, naamlik die metafoor van die eilandgroep (of argipel). Die verskillende Suid-Afrikaanse letterkundes is soos eilande wat onder die see aan mekaar en aan nabygeleë landmassas verbind is. Die taak van hierdie soort literatuurgeskiedenis is dan “to chart the internal interconnections” (Gray 1979) tussen oënskynlik geïsoleerde entiteite. Gray se metafoor skakel op ‘n baie interessante wyse met Eduard Glissant se Poetics of relation (2006), wat juis eilandgroepdenke (“archipelagic thought”) as uitgangspunt het.

Derdens haal De Kock Graham Stewart en Johan van Wyk (2000) se siening aan dat die Suid-Afrikaanse literêre veld as ‘n hiperteks beskou moet word. Hy noem dit ‘n seminale nuwe metafoor en ‘n deurbraak, want ‘n hiperteks is nie-geslote, nie-liniêr en multidimensioneel. De Kock meen dit is ‘n model wat reg sal kan laat geskied aan die “linguistic disparateness, the incommensurability of forms, the blinding diversity of topics” (De Kock, 2005:12) op die gebied van die Suid-Afrikaanse letterkunde.

Ongelukkig het hierdie briljante kognitiewe herkartering van die veld tot dusver weinig praktiese gevolge gehad, hoewel die beoogde hiperteks-ensiklopedie van die Suid-Afrikaanse letterkunde tans deel uitmaak van die Encyclopaedia of South African, Arts, Culture and Heritage (vergelyk www.esaach.org) en stadigaan verder ontwikkel word. Denke oor die Suid-Afrikaanse letterkunde bly egter nog steeds vasgevang in wat De Kock (2005:3), in ‘n  metafoor van sy eie, die “colonial-apartheid castle” noem. Hierdie kasteel se voorkamers en deftige ontvangskamers word nog steeds oorheers deur Afrikaanse en Engelse letterkunde. Letterkundes in die Afrikatale bly nog verban tot besemkaste en bediendekamers. Die orale tradisie van die Khoi en die San word nog steeds opgeberg in “musty basement stores” (De Kock, 2005:3). Hierdie toestand duur steeds voort. Ons bly steeds vasgevang in hierdie pseudo-koloniale gebou. En ons tydskrifte, akademiese departemente, letterkunde-verenigings en uitgewerye weerspieël nie net hierdie stand van sake nie, maar versterk dit daagliks.

Daar is natuurlik ‘n ander baie belangrike en meestal stilswyend-aanvaarde kognitiewe metafoor vir die Suid-Afrikaanse literêre terrein, naamlik die idee van ‘n nasionale letterkunde – die letterkunde van ‘n unieke volk wat voortkom uit ‘n unieke grondgebied in ‘n unieke nasionale taal. Hierdie analogie het nog altyd sleg gepas by die Suid-Afrikaanse werklikheid van verskillende tale en mense wat geografiese en politieke grense van allerlei slag oorskry.

 Dat die idee van ‘n veeltalige staat met talle kulture en ‘n koherente veeltalige “republiek van die lettere” in Suid-Afrika nog vir die meeste mense ondenkbaar bly, kan toegeskryf word aan die hegemonie van die idee van die nasiestaat en die idee van ‘n nasionale letterkunde wat daarmee saamhang.

2. Die nasionale narratief as voorbeeld van ‘n omvattende projek of avontuur

‘n Mens sou kon argumenteer dat om oor die nasie te skryf nog steeds ‘n dominante manier is om ‘n digterlike persona en ‘n self te vorm. Dit was natuurlik die geval in die protespoësie van die onlangse verlede – poësie wat eksplisiet ‘n wapen in die struggle moes wees. Die uitputting van protespoësie volg’n ontwikkeling wat reeds in die Afrikaanse letterkunde plaasgevind het. Die heftige volkspoësie (of wat as heftige volkspoësie beskou is) van die eerste generasie soos Cilliers en Totius is gevolg deur Van Wyk Louw se “lojale verset”. Eers in die 1960’s en 1970’s het Afrikaanse skrywers soos Jan Rabie, André Brink en Breyten Breytenbach teen die Afrikaners se nasionale projek gedraai en dit fel begin kritiseer.

Die Afrikaanse grensliteratuur van die 1980’s was ook sterk antinasionaal. In talle opsigte is die Soweto-poësie van dieselfde tydperk die ander kant van dieselfde munt. Dit is ook ‘n soort oorlogspoësie met dieselfde generiese merkers, dieselfde verpligte tonele en dieselfde oorvereenvoudigde teenstelling van “ons” teenoor “hulle”, maar dan as dalk ewe dubbelsinnige uitings van swart nasionalisme. Uiteindelik kan ‘n breër blik ons dalk laat besef dat dinge veel ingewikkelder is as wat dit dikwels lyk.

Antjie Krog se onlangse loopbaan bewys hoe kompleks die skryf van die nasie, die omskrywing van wat “swart” beteken, verweef is met die kritiek op die eensydig Westerse manier van dink. In Kleur kom nooit alleen nie (2000: 47) skryf sy sarkasties oor die “die ou prostate met die gekroonde tande en die bifocals” wat nog steeds probeer voorskryf wie waar hoort. By die “nuwe barcounter van identities” soos sy dit noem, lyk dit eerder of sy kies om te identifiseer met ‘n taal van “menslikheid en berou” en met die stilswyende meerderheid van werkersvroue in die land. Anders as Max du Preez (2009) dink ek nie haar boek Begging to be Black (Krog 2009) kom neer op identiteit-selfmoord nie. Dit is eerder ‘n ernstige poging om die moontlikheid te oorweeg dat die dominante denkraamwerk in Afrika dalk nie Westers kan wees nie. Dat sy stuit op ‘n aporia as sy die xenofobiese aanvalle ook uit ubuntu (as verbondenheid, “interconnectedness”) probeer verklaar (vergelyk Krog 2009: 235-239), doen nie afbreek aan die eerlikheid van haar poging nie.

Vir my doel is dit egter besonder interessant dat Krog se gespreksgenoot, die filosoof uit Australië, Homi Bhabha se pleidooi vir ‘n mens se reg om jou storie te vertel, aanhaal as getuienis van “the unequal and uneven forces of cultural representation”. Op ‘n baie komplekse manier verweef Krog in Begging to be Black die “relaas van ‘n moord”, die geskiedenis van Moshoeshoe en haar eie wedervarings, briewe en gesprekke in Berlyn met mekaar in ‘n kritiek op apartheid, die koloniale manier van dink en wat sy noem die gebrek aan koherensie in Suid-Afrika. Haar ander werk is ook dikwels ‘n komplekse weefsel van verskillende ander verhale behalwe die nasionale avontuur of die storie van die struggle. Sy neem ook deel aan ander avonture: vrouebevryding, die Afrika-renaissance, die queeste na die Orgasme met ‘n hoofletter; die storie van die lewe en die liefde van die individu. Dit illustreer onder andere Bhabha (1990: 4) se opvatting dat die nasie ‘n Janus-konstruksie is, omdat dit een van die maniere is om moderniteit te regverdig, nes die idee van vooruitgang. In die naam van die nasie word die outoritêre en normaliserende tendense in kulture gerasionaliseer.

Die idee van ‘n nasionale letterkunde is ‘n manifestasie van die nasionale avontuur – wat sy eie helde en spesiale gebeurtenisse het. Die nasionale avontuur interpelleer ons byvoorbeeld om goeie nasionaliste te wees (nie rassiste nie) deur deel te neem aan inhuldigings van presidente, jeugdagvierings of sokkerwêreldbekers – al is daar in Suid-Afrika nie danig sprake van ‘n saambindende nasionale gevoel nie. In Europa was die nasionale avontuur die afgelope 150 tot 200 jaar, sedert dit tydens die Verligting deel geword het van die “selfverstaan van die burgerlike klas” (Böhmer 1976: 349), ‘n uiters suksesvolle projek. Volgens Kloek (1997:7) het daar reeds in die loop van die 18de eeu ‘n sterk proses aan die gang gekom om nasionale identiteite en nasionale karakters te definieer. Dit het die beskrywing en profilering van die eie kultuur en letterkunde ingesluit. In Suid-Afrika dateer die verskillende nasionalismes (met al hulle teenstrydighede) hoofsaaklik uit die laat negentiende eeu.

Die punt is egter dat die nasionale verhaal lank dominant was – en nog dominant is, onder andere in die wyse waarop die letterkunde, musiek en kuns georganiseer (gerasionaliseer, eenders gemaak) word rondom nasies, nasiestate, nasionale tale en nasionale instellings, soos nasionale biblioteke en kunsgalerye en museums. Die punt is ook dat die verhaal van die nasie een van die bekendste omvattende verhale is wat mense gebruik om hulleself en hulle wêreld mee te verstaan. Krog se werk suggereer egter ook dat daar ‘n hele paar ander sulke omvattende verhale bestaan wat as verset teenoor die hegemoniële idee van die nasie verstaan kan word. Die verset teen ‘n enkele verhaal blyk ook uit die onlangse Afrikaanse poësie – en uit die wyse waarop die terrein van die onlangse Afrikaanse poësie gekarteer word.

3. Onlangse karterings van tendense in die Afrikaanse poësie

 

Daar is ‘n hele paar karterings van die onlangse Afrikaanse poësie (onder andere Foster, 2000), waarvan drie waarskynlik die prominentste is, naamlik Ronel Forster en Louise Viljoen se (1997) inleiding tot Poskaarte (1997), J.C. Kannemeyer (2005) se uitgebreide weergawe van sy korter geskiedenis van die Afrikaanse letterkunde en derdens Bernard Odendaal (2005) se oorsig oor tendense in die Afrikaanse poësie sedert 1998 in deel drie van die nuwe Perspektief en profiel.

3.1 Postmoderne tendense

In hulle bloemlesing toon Foster en Viljoen die verskeidenheid van die Afrikaanse poësie sedert 1960 en karteer die veld hoofsaaklik as ‘n versameling van postmoderne tendense wat insig bied in die komplekse “kulturele, artistieke, sosio-politieke, tegnologiese en filosofiese ontwikkelinge van die afgelope tyd” (Foster & Viljoen, 1997: xxiv). In hulle inleiding bespreek hulle elf sulke postmoderne tendense:

  • Die afwys van ‘n finale, afsluitende betekenis. Dit is in ooreenstemming met Lyotard se ongeloof in metanarratiewe en in die oortuiging dat finale waarhede mensgemaakte konstrukte is.
  • Selfrefleksiwiteit. Dit sluit in ‘n soms obsessiewe “gemoeidheid met die self”, die skryfhandeling en met metapoëtiese spekulasie.
  • ‘n Veranderde rol vir die leser. Die leser het die taak om die teks te verwerk en te voltooi – onder andere deur die beroemde gapings te vul – en nie net meer te verbruik nie.
  • Intertekstualiteit. Dit vang byvoorbeeld die neiging vas dat digters van mekaar steel en die outeur neig om bloot ‘n  vertaler, tolk of selfs net ‘n skriba te word, omdat alles eintlik alreeds gesê is.
  • Ontginning van die hedendaagse massakultuur. Populêre tekste, pop- en rock-kultuur, film, advertensies en die ikoniese figure daarvan soos Marilyn Monroe of James Dean word doelbewus gebruik en misbruik in die poësie. Hierdie tendens word byvoorbeeld saamgevat in die titel van E.W.S. Hammond se eerste bundel, Hamburgers en hotdogs (1980).
  • Bevraagtekening van die grens tussen feit en fiksie. Hierdie tendens stel enersyds die fiksionaliteit van die werk voorop, maar trek andersyds ook feite en dokumente in die fiksionele konstruk in.
  • In gesprek tree met die geskiedenis. Hiermee word bedoel die herinterpretasie van die verlede of die herskryf van die geskiedenis in ‘n ander trant.
  • Verwysings na moderne elektroniese tegnologie. Dit strek verder as die gebruik van woorde soos “kamera”, “TV”, of “komper” en sluit ook in die benutting van die kennisontploffing en die bevraagtekening van tradisionele opvattings van oorspronklikheid en die skrywer as sentrum van kreatiwiteit.
  • Belangstelling in randgebiede. Hierby sluit Foster en Viljoen poësie deur vroue, feministiese, gay en struggle-poësie in – poësie wat die belangrikheid van die sentrum bevraagteken en daarheen terugskryf.
  • Laastens wys die skrywers op die prosodiese verskeidenheid en die speelse en karnavaleske aard van baie poësie sedert 1960.

Poskaarte toon die rykdom en verskeidenheid van die Afrikaanse poësie sedert 1960 oortuigend aan. Die bloemlesers merk op dat talle postmoderne tendense hulle opgeval het met die lees van die meer as 500 digbundels wat tussen 1960 en 1995 gepubliseer is. Poskaarte is enersyds ‘n tydsdokument en andersyds ‘n kanonisering van postmodernisme in die Afrikaanse poësie. Dit is op die ou end ‘n boeiende en veelfasettige bloemlesing, ryk en divers – onder die leid-ster van weerstand teen meesterverhale.

3.2 ʼn Meer tradisionele siening

In die uitgebreide uitgawe van sy kort literatuurgeskiedenis neem J.C. Kannemeyer (2005: 559-565) rondom 1976 genoeg formele en tematiese vernuwing – en genoeg “verhewigde verset” – waar om ‘n nuwe periode te kan postuleer. Hy toon nege sulke tendense in die letterkunde (ook die poësie) sedert 1976 aan, wat ek kortliks sal noem:

  • Poësie gebaseer op dokumente en “optekeninge”, soos in Komas uit ‘n bamboesstok of in Krog se Lady Anne
  • Strydpoësie in bundels soos Aankoms uit die skemer (1988) of I Qabane Labantu (1989) – ook protes teen die Nuwe Suid-Afrika (wat ook vir hom meer sosiologiese as literêre betekenis het)
  • Straatpoësie wat aansluit by die Beat-generasie, soos in die werk van Koos Kombuis
  • Poësie wat spruit uit die bewoë aktualiteit van 70 en 80, byvoorbeeld die werk van Krog en Breytenbach
  • Poësie van egodokumente en ‘n “emigrasie na binne”
  • Grensliteratuur (ook grenspoësie) in verskillende sinne van die woord
  • Gay poësie, vleeslik en wellustig, byvoorbeeld die werk van Johann de Lange
  • ‘n Duidelike toename in vroueskrywers
  •  Die mens en sy eksistensiële problematiek, sy angste en vrese
  •  ‘n Groter openheid vir invloede soos blyk uit ‘n toename in vertalings

In die afdelings oor die mees resente poësie lyk dit of Kannemeyer sy taak as literatuur-historikus abdikeer. Dit is nie baie duidelik waar hy vernuwing sien nie en hy bly ook vaag oor nuwe tendense. Hy maak glad nie skakels met breër nasionale en internasionale literêre en sosiale bewegings soos postmodernisme, groen poësie of die invloed van elektroniese tegnologie of hiperteks nie en skyn nouliks ‘n teoretiese greep op die materiaal te hê. Die boek verwater uiteindelik tot ‘n kroniek van name en titels met enkele evaluerende opmerkings daartussen.

3.3 ʼn Perspektief op die poësie sedert 1998

In sy oorsig in die derde deel van Perspektief & Profiel dui Bernard Odendaal (2005) ʼn verskuiwing aan in die publikasie van Afrikaanse poësie van hoofstroom- na kleiner uitgewers. Ondanks ‘n sterker marginalisering van poësie sien hy ook tekens van sterker populêre energieë raak, soos podiumpoësie, poësie op kompakskyf, ‘n ontploffing van Afrikaanse popmusiek en die opkoms van populêre versvorme. Soos sedertdien duideliker geword het, beleef Afrikaanse poësie ‘n bloeitydperk.

Hierdie tendens bevraagteken ook die skeiding tussen die literêre en die populêre. Odendaal (2010) noem dit later ‘n demokratiseringstendens en haal André P. Brink se Groot verseboek van 2008 aan as ‘n voorbeeld daarvan.

Odendaal sien tweedens ‘n opvallende toename in die gebruik van niestandaardvariëteite van Afrikaans, met ‘n stuk of drie funksies: om groepsidentiteit te merk, om weerstand teen die standaardvorm uit te druk en om nuwe vryhede te vier. Hierdie toename in die gebruik van “Loslitafrikaans”, hierdie “spreektaligheid”, vorm ook deel van ‘n strewe na dit wat gewoon, plaaslik en outentiek is. Odendaal (2010) noem in sy latere bydrae dat die debat tussen die voorstanders van praatpoësie en die verdedigers van meer formele, gestruktureerde poësie sedert die Versindaba van 2006 hewiger geword het en dat kritici die digters van praatpoësie verwyt het dat hulle die kollig soek en bly steek in die prosaïese en anekdotiese.

Vir Odendaal is ‘n belangrike tema derdens die bemoeienis met die probleme van (Suid-Afrikaanse) identiteit, alhoewel dit meestal vanuit ‘n verskeidenheid van perspektiewe gedoen word, wat die ambivalensie en die relatiwiteit van behoort in Suid-Afrika onderstreep. Nou verwant aan hierdie tendens is die toename in die poësie van reis en romanties swerf (‘n soort rondreisende troebadoerspoësie verteenwoordig deur die werk van Koos Kombuis en Gert Vlok Nel). Odendaal sien ‘n toenemende pessimisme oor Afrikaans en die Afrikaanse kultuur as nog ‘n tendens, wat in sommige gevalle (soos in Ilse van Staden se bundel Watervlerk, 2003) ook lei tot ‘n nuwe kreatiewe ervaring van die gewone wêreld. Namate die digters ouers word, is daar ook ‘n opvallende toename in poësie oor oudword en ouderdom. Odendaal merk verder ‘n nuwe weerstand teen die uitwasse van die jong Suid-Afrikaanse demokrasie op – in sommige opsigte ʼn voortsetting van die versetpoësie van die 70’s en 80’s. Die sosio-politieke implikasies van genderkwessies word in ‘n hele paar bundels ondersoek, beide vanuit ‘n vroulike en ‘n manlike perspektief. Daar is ook ‘n sterk outobiografiese tendens in ‘n hele aantal bundels. Odendaal dui verder aan dat die liefdespoësie, erotiese poësie, groen poësie en religieuse poësie tematies belangrik is in hierdie tydperk.

As ‘n mens na hierdie drie karterings van die terrein kyk, is dit duidelik dat net Foster en Viljoen s’n berus op ‘n sterk vormende kognitiewe metafoor. Odendaal se rigtende metafoor is die sisteem, maar hy het die sistematiek van die jongste poësie nog nie volledig uitgewerk nie. Belangriker vir my argument is egter dat genoemde skrywers ook aandui dat die digters baie verskillende stories op verskillende maniere vertel – nie net die stories van nasiebou of van weerstand teen die bestaande hegemonie nie. Ek meen ook dat selfs die mees hermetiese poësie binne ‘n intensionele verhaalkader verstaan word, sy dit dan, volgens A.P. Grové (s.j.: 12 e.v.) se opvatting, die verhaal van die botsings en spannings tussen die elemente van die gedig self. Die punt is egter ook, soos die voorbeelde van Foster en Viljoen, Odendaal en Kannemeyer illustreer, dat die jongste Afrikaanse poësie kognitief nog nie goed genoeg gekarteer is nie.

4. ʼn Alternatiewe voorstel: Die groot avonture

 

My alternatiewe voorstel is dat ons die Suid-Afrikaanse letterkunde in ʼn breë, veeltalige sin as ‘n storieskap moet beskou – ‘n landskap wat uit sowat 14 verskillende vervlegte en mededingende maar nogtans onderskeibare avonture bestaan.

Hierdie avonture is vergelykbaar met meesterverhale (hoewel minder omvattend) en diskoerse. Ek omskryf hulle as fundamentele stelsels om verhoudings te bepaal tussen agense en aksies in tyd en ruimte, betekenissisteme, gedeelde ervaring en openbare gedrag. Hulle is botsende betekenisskeppende ondernemings of projekte, elk met sy unieke stel karakters, identiteite, betekenisvolle gebeurtenisse, geliefkoosde ruimtes, verpligte tonele en sleutelmetafore, asook distinktiewe woorde, waardes en houdings.

Teoreties wil ek twee redes aanvoer waarom hierdie soort verhale erken en onderskei behoort te word. Die eerste is die (nou reeds algemeen aanvaarde) opvatting dat menslike kennis onder andere georganiseer word in rame (“frames”) en skripte (“scripts”) (vergelyk Minsky, 1975; Schank & Abelson, 1977). Van Dijk en Kintsch (1983), wat skynbaar die enigste erkende model van teksbegrip tot dusver ontwikkel het, praat van skematiese strategieë en superstrukture, wat hulle omskryf as konvensionele strukture op ‘n hoër vlak as grammatika, soos die vyf bedrywe van ‘n tragedie met hulle konvensionele funksies van eksposisie, krisis, klimaks, ensovoorts. Tegnies bestaan hierdie strukture uit konvensionele kategorieë wat verdere struktuur toeken aan die verskillende vlakke van ‘n teks of diskoers (Van Dijk & Kintsch, 1983: 236). Van Dijk en Kintsch onderskei ook metriese, retoriese, argumentatiewe en narratiewe superstrukture. My argument is dat die groot avonture sulke narratiewe superstrukture is wat ons in staat stel om ‘n gedig in ‘n groter singewende narratiewe raamwerk (projek of avontuur) in te pas en daardeur die intensie en betekenis van die gedig beter te verstaan.

Die tweede rede is die idee dat ‘n verhaal ‘n  primêre wyse is waarop kennis georganiseer word. Bundgaard (2007: 248) argumenteer byvoorbeeld dat die skema van ‘n narratief ‘n belangrike kognitiewe skema en beginsel van betekeniskonstruksie is. Hy omskryf ‘n kognitiewe skema as “an internally organized semantic gestalt in terms of which partial significations can be combined into a coherent whole” en meen dat dit op persepsie gegrond is. In sy mees primitiewe vorm bestaan die narratiewe skema uit die verhouding tussen ‘n subjek en die doel van die subjek se handelings. Vir die waarde en bestaan van die narratiewe skema voer Bundgaard veral twee argumente aan. Enersyds bou hy voort op Lévi-Strauss se analise van die mite, wat die semantiese wêreld van die mite verdeel in samehangende stelle opposisies, soos natuur:kultuur, hemel:aarde, manlik:vroulik. Die mite het egter ook ‘n sintaksis nodig wat hierdie teenstellings in konfrontasie bring en die konflik oplos. Daarom is gebeurtenisse waarin hierdie radikaal teenstellende kragte saamgetrek word, soos ploeg, oes of trou, ook van kardinale belang in die alledaagse lewe en word die artikulasie van hierdie “fatally contrary sets of meanings and values” (Bundgaard, 2007: 250) simbolies in die vertel van stories en in rituele uitgedruk. Daarom beskou Bundgaard die narratiewe skema as die natuurlike teenhanger van die mities-teenstellende semantiese organisasie.

Vir Bundgaard gaan die kognitiewe belang van die skema van die narratief nog verder. Uit eksperimente met hoe mense die beweging van geometriese vorms soos driehoeke en sirkels in ‘n video as ‘n storie met botsende karakters verstaan en interpreteer, lei hy af dat die narratiewe skema berus op die direkte waarneming (persepsie) van intensie en as sodanig dus ‘n soort kognitiewe dieptestruktuur uitmaak. As bewys hiervan voer Bundgaard (2007: 253) aan dat “recognizing movements as intentional is tantamount to recognizing basic narrative programs”. Dit stel mens in staat om te onderskei tussen die bewegings van ‘n roofdier of ‘n tak wat val. Basiese narratiewe programme soos vlug, veg, of wegkruip kan dan geaktiveer word. Bundgaard (2007: 253) skryf dat die narratiewe skema op sigself ‘n uiters belangrike betekenis-gestalt is. Narratiewe beweging is op sigself betekenisvol “by virtue of the counterfactual representation it triggers (S is moving with the purpose of obtaining X)”.

My argument is dat sulke intensionele skemas ewe noodsaaklik is vir die verstaan van gedigte en dat verskillende intensies, programme of projekte – avonture of singewende narratiewe skemas – onderskei kan word. Hierdie strukture lê vir my tussen die heel abstrak-logiese narratiewe struktuur van ‘n gedig en die wyse waarop die storie in ‘n spesifieke gedig funksioneer. Dit lê dus tussen verhaal (discours) en storie (récit) en kan ook as ‘n onderliggende en dikwels onbewuste mite beskou word. Die metafoor van die avontuur gebruik ek doelbewus om iets van die meesleurende krag van hierdie skemas mee uit te druk.

Die avonture is afgelei uit die tien meesterverhale van die self wat ons, na aanleiding van Lyotard se idee van meesterverhale, onderskei het in ‘n ondersoek na selfrepresentasie in Suid-Afrikaanse romans, literêr sowel as populêr, in Afrikaans en Engels tussen 1980 en 1985 (vergelyk Viljoen, 1992: 48-53). As oorsig oor die avonture gee ek hieronder ‘n kort beskrywing van hierdie tien meesterverhale met bondige verwysings na bekende romans.

Die verhaal van die selfverwesenliking van ‘n volk (die nasionale avontuur) vorm die sentrale projek in romans soos Blaaskans (1983) van John Miles, To Every Birth its Blood (1981) van Wally Serote of Die laaste Sondag (1983) van Elsa Joubert, hetsy dan as identifikasie daarmee of as verwerping daarvan. Die postkoloniale avontuur, of die ontsnapping uit die Manicheaanse allegorie, maak enersyds deel uit van ‘n (anti-)nasionale avontuur, soos in Sitate om ‘n revolusie (1885) van Jeanette Ferreira of A State of Fear (1985) van Menán du Plessis, maar raak ook dieperliggende opvattings oor self en ander, die dekolonisering van die denke en die verhouding tussen sentrum en periferie, soos in Coetzee se Waiting for the Barbarians (1981) of Nadine Gordimer se July’s People van dieselfde jaar. Die avontuur van die selfverwesenliking van die outonome individu is dominant in hierdie korpus, al staan dit onder druk van die postkoloniale en postmoderne avonture. Selfverwesenliking geskied dikwels deur beproewing en belydenis heen. Voorbeelde daarvan is Brink se Houd-den-Bek (1982), Op die rug van die tier (1981) van Anna M. Louw en Jan Rabie se roman Johanna se storie (1981). Athol Fugard se Tsotsi (1983) as roman van selfontdekking pas ook in hierdie kategorie. Hierdie avontuur is opvallend dominant in populêre romans.

Dikwels gaan selfverwesenliking gepaard met selfontkenning en askese, soos uit Op die rug van die tier blyk, maar ook uit Klaas Steytler se meer populêre roman, Die leeukuil (1982) of uit Louis Krüger se grensroman ‘n Basis oorkant die grens (1984). In hierdie roman is die eksterne gebeure van die operasie anderkant die grens die omraming vir ‘n  intense religieuse avontuur. Die noue verband tussen die religieuse en die nasionale avontuur word in Die laaste Sondag tot gruwelike hoogtes gevoer en gesatiriseer. Die postmoderne avontuur van die fragmentering van die subjek, die spel met figurasies van die ek, staan sentraal in Mourior (1983) van Breytenbach en Sonneskyn en Chevrolet (1980) van Dan Roodt, maar ook in Somer II van André Letoit (1985) en Father Come Home (1984) van Es’kia Mphahlele. Die eksistensiële avontuur, dit is die soeke van die self na ‘n subjektiewe ervaring van eie outentieke bestaan en van die syn van dinge, vorm onder andere die agtergrond in Houd-den-Bek (1982) van Brink. Daarin is die bevrydingstryd en outentieke seksuele ervaring innig vervleg. Selfverwesenliking vind ook plaas deur regeneratiewe of subversiewe seks, wat dui op die vervlegtheid daarvan met die avontuur van die Orgasme-met-‘n-hoofletter, soos by Letoit, Rabie, Brink en Coetzee (in wie se roman seks egter nie hergeboorte beteken nie).

Opvallende voorbeelde van die semiotiese avontuur, die spel met tekens en nie-realistiese karakters wat eerder simbole of self teks is, is onder andere die genoemde romans van Breytenbach, Miles, Roodt en Serote. Speel met name is ‘n belangrike faset van hierdie avontuur. ‘n Ander belangrike fasette is die opvallende gebruik van montage en intertekstualiteit. Die ekologiese avontuur, die reis met ruimteskip Gaia of Aarde, ontbreek in die korpus romans, maar vorm wel die sentrale lyn in Peter Wilhelm se jeugroman Summer’s End (1984). In hierdie roman is die ekologiese avontuur ‘n middel om uit die impasse in rasseverhoudinge te ontsnap in ‘n soort fantasie (wat ook die wyse is waarop Gordimer en Miles se romans eindig).

Vervolgens sal ek hierdie groot avonture in die onlangse Afrikaanse poësie kortliks uitstippel met voorbeelde hoofsaaklik uit Poskaarte (aangedui met die outeur se naam en die bladsynommer). In die korpus gedigte na 1980 kan myns insiens vyf verdere avonture onderskei word, naamlik die asketiese avontuur, die feministiese avontuur, die avontuur van lewenstyl, die avontuur van liggaamlike stilering en sport en die avontuur van moderniteit.

5. Die groot avonture

 

5.1 Die nasionale avontuur

Dit is die avontuur van die bou van ‘n nasie, die selfverwesenliking van ‘n volk. Drie sub-avonture kan onderskei word:

  • Identifikasie met die nasie (wat satire insluit) – “‘n Nuwe liedjie…” (Joan Hambidge, 461).
  • Kontra-identifikasie met die nasie (protes, weerstand, stryd) – “hasejag, September 1984” (Breyten Breytenbach, 531); “Wraakgedagte” (Willie Adams, 476).
  •  Disidentifikasie (transformasie) – “Vlugtelinge” (Charl-Pierre Naudé, 587). Daniel Hugo, Leon Rousseau en Phil du Plessis (reds). 2000. Nuwe verset. (Hugo et al., 2000).

Naudé se “Vlugtelinge” vertel die verhaal van ‘n vriend se besoek aan ‘n spookdorp in Turkye, ‘n “leë geraamte-dorpie, versaak deur vlugtelinge/ van 1922 wat uit hulle nedersettings verjaag/ en uitgemoor is deur die Turke, omdat hulle Grieke was”. Die vriend beskryf hoedat “die rollende bord van [sy] stamgeheue” “met die keerkant na bo tot rus gekom het”, en op daardie keerkant is die verhaal van die Hugenote geverf. In die loop van die gedig kry hierdie gevoel dan geleidelik naam: dit is ‘n verplaas-wees, wat al sterker word en uiteindelik ‘n universele “vlugteling-geheue” in hom wakker maak:

….
Die taaierige kuswind wat klap in my broekspype
was die soebattende hande van kinders,
meer teenwoordig as enigiets wat ek voorheen ervaar het.
Met die kleur van skaduwee. Met die kleur van die kinders
van Sophiatown, Distrik Ses, die Winterveld.
Elk met ‘n naam en ‘n gesig. Die vlugteling-geheue
so orent in my nekhare, was nie meer my eie nie.
Ek het uit daardie dorp van murasies gevlug:
Slegte dinge het al gebeur in Turkye.

Die sterk identifikasie met universele vlugtelinge is ook ‘n ervaring van disidentifikasie met maghebbers en ‘n vrees vir eie vlugtelingskap. Dit bevat ‘n  implisiete kritiek op die nasie en die onregte wat in naam van die nasie gepleeg word, maar dit is ook ‘n tema in ‘n ander avontuur wat ‘n mens dalk moet erken, naamlik die avontuur van migrasie en vervreemding.

5.2 Die asketiese avontuur (of: Die monnik se reis)

Dit is die avontuur van die toets en die vind van die self deur opsluiting, askese, blootstelling, toetsing, insluitend gevangeneskap en bevryding (tronkpoësie). Die asketisme van die self – ‘n masochistiese reis – word soms deur omstandighede afgedwing. “Uitsig op die kade” (Elisabeth Eybers, 544); “herfsmeditasie” (Marlene van Niekerk, Versindaba 2008 (Joubert, 2008: 74) is voorbeelde daarvan.

In haar gedig lê Marlene van Niekerk eksplisiet ‘n verband tussen haar tuin en die Boeddhistiese tegnieke van meditasie. Die tuin word metafories ‘n monnik waarin die insig in die samehang van alle dinge tot in die fynste besonderhede gestalte kry. Die afstand tussen waarnemende self en tuin raak opgeskort in ‘n wedersydse identifikasie, tegelyk verdingliking en personifikasie, waarin die mistieke ervaring van selfopskorting en selfverlies uitgedruk word. Die laaste strofe is redelik eksplisiet daaroor:

In die binneste van my tuin hoog en geel
agter die grys borsbeen van die vyeboom
maak ‘n  laaste blaar hom reg om te ontheg
onder die sitvlak van my tuin
berei molle en erdwurms die grond vir die ontvangenis
van ‘n hart lig en droog genoeg om te val.

Die self word tuin; die tuin word self. Die blaar word hart (of omgekeerd), “gereed om te ontheg”, “lig en droog genoeg om te val”. Dit is effekte wat begryp kan word binne die raamwerk van die monnik se asketiese reis na ‘n toestand van selfloosheid in totale identifikasie met die Al.

5.3 Die postkoloniale avontuur

Dit is die avontuur van die dekolonisering van die self, die denke: bevryding uit onderdrukking, uit die Manicheaanse allegorie; toe-eiening en doodtrek van die Westerse tradisie; ontslae raak van die “wit mitologie” (Westerse etnosentrisme) maar ook die voortsetting daarvan. “Apollo Smintheus” (Pirow Bekker, 529) en Marius Crous se Brief uit die kolonies (2003) is voorbeelde daarvan.

In haar analise van “Apollo Smintheus” as historiografiese metagedig, toon Ronel Foster (2000) ook die postkoloniale trekke van hierdie gedig aan. De la Guerre se avontuur van koloniale ontdekking en drome van Vigiti Magna en Monomotapa word opgestuur. Sy menslike waan en fantasie word genadeloos blootgelê en Apollo, as die god wat plae en epidemies bestry, tree ironies in die slot na vore om “die veldmuise op hul bliksem [te] speel” – en met die postkoloniale avontuur af te reken.

5.4 Die ekologiese avontuur (of: Weg, breek weg).

Dit is die verhaal van Gaia, Ruimteskip Aarde. Vandag word hierdie avontuur dikwels nie beskryf as ‘n jagekspedisie nie, maar as ‘n Afrika-avontuur – nie meer op safari gaan nie, maar ‘n  fotografie-, bos-en-boendoe- ekologiese of toeristereis (of sport) onderneem om verre en eksotiese plekke te verken. Voorbeelde hiervan is Johann Lodewyk Marais se “Afrika” (523), Johann de Lange se “Koos Prinsloo” (572) en Ilse van Staden se bundel Watervlerk (Van Staden, 2003). Ook Krog se reeks “van litteken tot rivier” (Krog, 2000), “Fantasie van die dame met die verkyker” (Martjie Bosman, 477) of die streekspoësie van Jacob Oerson (537 e.v.) kan hier genoem word.

Martjie Bosman se spreker treur oor die verbygaan van tyd toe daar nog eenhorings was, maar ontdek dan in die voëls om haar, en in hulle kleurryke name en geluide, “ringduif en blouvalk, hadida en witkruisarend”, ‘n ander rykdom – een wat sy nie hoef te besit nie. In die slot mitologiseer sy die voëls tot mistieke ekologiese tekens van goedheid en seker ook waarheid:

Gegroet! Julle wat ons vereer met onverwagte besoeke,
julle wat ons ontglip, julle wat ons nie ken nie,
julle wat leef in die grasse, die blare, die hemel,
gegroet! Julle tekens van onuitputlike bronne
van goedheid en rykdom, gegroet!

5.5 “Agter die woord aan reis”

Dit is die semiotiese of taalavontuur: om die tekens te herrangskik en te permuteer (in die poësie self, advertensies of grafiese ontwerp). Die betekenaars raak aan die dans, soos in die advertensie “Met eish”. Gedigte waarin hierdie avontuur opvallend is, is “Twis”, “Jan” (Ina Rousseau, 590-1) of “Taalles” (Daniel Hugo, 580).

Ina Rousseau speel heerlik met die s’e van is en issie en ses en Sis Genis, maar gaan ook op soek na die betekenis van twis en haar assosiasies daarmee:

Twis, twis, twis-twis. En toe ‘n hele
swetterjoel: duisende deursigtige
sappige waterbessies
wat piets en bots teen vensterglas
en sissend oopbars: twis-twis-twis-twis-twis-twis…

Sy ontdek so die heerlike “lispelklanke” van reën in die woordjie twis, wat “blinknuut en sappig/ my lewe binnegespat het/ op die dag van my twis met Sis Genis”. Die reis agter die tekens aan, op die woord af, lewer skitterende digterlike resultate op.

5.6 Die liberale avontuur

Hierdie projek gaan oor die selfverwesenliking van die bevryde, outonome individu met sy of haar regte (die avontuur van “liberal humanism”). Tony Leon of dr. Phil is verteenwoordigers daarvan en die Suid-Afrikaanse Grondwet ‘n eietydse formulering daarvan. Dit is ‘n projek wat met die Verligting begin het en ook nou verwant is aan die avontuur van moderniteit en vooruitgang (nr. 9). Die bekendste manifestasie daarvan vandag is waarskynlik die verhaal van die bevryding van vroue, oftewel die feministiese avontuur.

Die oorheersende belang van die ek en die self blyk byvoorbeeld uit M.M. Walters se gedig “By Sutherland volg die grootoog” (Joubert, 2007: 54). In kontras met die godsdiens, wat hom al eeue lank aanraai om ‘n tuiste in die hemel te soek, raai die spreker die mens aan om eerder binne-toe te kyk:

Soek binnetoe, diep in die éie oog
se donker onbekende agterin:
dis waar die mens se heimwee
en sy sterredroom begin.

As ‘n manifestasie van die projek van die Verligting en van moderniteit is die liberale avontuur wat onder andere krities teenoor religie. Dit kry ons ook by Walters. In hierdie gedig word die ideaal van selfverwesenliking direk teenoor die religieuse avontuur geplaas.

5.7 Die feministiese avontuur

Die avontuur van bevryding en emansipasie van die vrou en die omkering van die patriargie is sterk aanwesig in die jongste Afrikaanse poësie. Dit hang ook saam met avontuur nr. 6 en nr. 14. “ek staan op ‘n moerse rots langs die see by paternoster” (Antjie Krog, 585) is een van die duidelikste voorbeelde daarvan.

Krog se gedig is ‘n uitdaging van die gesag van Onse Vader (Pater Noster) en ʼn verwerping van die patriargie in ‘n sterk identifikasie met die natuur. “Se moer”, skryf sy, “ek is rots ek is klip ek is duin”. Die ironie is egter dat hierdie bevrydingsverklaring van die vrou net in sterk, manlike en selfs gewelddadige taal uitgedruk word – en met moer: die sterk vloek oor vroue:

helder sing my tiete ‘n koperklepgeluid
my hande pak Moordbaai en Bekbaai
my arms skeur ekstaties bo my kop:
ek is
ek is
die here hoor my
‘n vry fokken vrou

Die triomfantlike geskal van koperblaasinstrumente begelei hierdie oorlogsverklaring, en dit is skynbaar net met gelyke geweld dat die uitgelewerde posisie van die vrou, gesuggereer in die name Moordbaai en Bekbaai, omgekeer sal kan word.

Deesdae kry ‘n mens ‘n sterk manlike teenhanger van hierdie avontuur, naamlik die aartappelboer se reis na tradisionele definisies van manlikheid en die reis van die self na ‘n manlike identiteit met manlike avonture en drifte. Dit skakel onder andere met die jag-deel van die ekologiese avontuur, maar andersyds – en weer as teenpool – uiteraard ook met gay reise en vaarte soos in die werk van Johann de Lange (vergelyk nr. 14).

5.8 Die avontuur van lewenstyl (of: Feng Shui jou lewe)

Hierdie avontuur omvat die drif om jou lewe en jou omgewing te stileer. Dit is ‘n reis na innerlike waardes, innerlike sekuriteit, terugtrek in jou veilige, pragtig gestileerde kokon, soos in die talle huisgedigte uit die 70-erjare. Dit word skrynend geïroniseer in “Prys van armoede” van Peter Snyders in Versindaba 2008 (Joubert, 2008: 66) (ek haal die twee slotstrofes aan):

‘n Halwe bruinbrood is nou skielik twie rand –
Nei man! Daai’s ‘n lae, gemiëne hou!
Wat wil djy my na ‘n maerplaas toe stuur?
            You see, my dear lady … daai’s ‘n baie goeie vraag
            maar daar’s geen antwoord daarop nie.
Maar niemand werk in die hys!
Waar moet ons die geld kry”
Ag, betaal maar, Joanie.

Sjoe! Na sukke bloederige werklikheid
makeer ‘n mens ‘n sigaret –
Wat! Tien rand vir ‘n pakkie!
Moet ek nog boenop soe duur betaal
om myself dood te maak met ‘n bietjie plesier?!
            Ag, betaal maar, Joanie.

 Verskillende stemme van gewone mense stel hier harde ekonomiese werklikhede ligweg aan die orde, maar by implikasie word ‘n ander variant van hierdie avontuur, naamlik die verbruikers­avontuur (die idee dat jy is wat jy koop; dat jy deur wat jy koop jou outentieke self demonstreer), skerp gekritiseer.

5.9 Die avontuur van moderniteit

‘n Mens kan dit ook die avontuur van vooruitgang noem, en dit het raakpunte met die liberale avontuur. Vandag ken ons dit veral as die opmars van die managers, of die “(computer) hack’s progress”. Dit vergestalt die ideaal van vooruitgang deur die rede en die wetenskap, veral deur tegnologie en tegnologiese ontwikkeling. (Kry die nuutste 3G-kameraselfoon.) Sukses word gewaarborg deur alles te bestuur. Dit word byvoorbeeld gesatiriseer in “Lanseerprogram: Apollo 1” (Carl Mischke, 347).

Hierdie gedig ontmasker die oormoedige vertroue in tegnologie as die lanseerprogram aan die einde ontspoor en oorgaan in ‘n onlogiese gebrabbel waaruit net enkele smeekbedes om bevryding nog verstaan kan word:

Bhatara Kala vang
 die son &£&£&£&
 tussen atoom(U235)klein tande vas

 VerMetel wonder Ons !??
waarvandaan hierdie sonsverduistering
 so onverwags . . . – – – . . . . . . – – – . . .
 te voorskyn kom
50 FORMAT (1X,’
                                     libera me /
                                     libera me /
                                     libera me /)
STOP
END

Die rede het sy einde bereik; vooruitgang het uitgeloop op vernietiging; die program bereik sy voorafbepaalde einde. Die gedig het as subtitel “6 & 9 Augustus 1945” – die datums waarop die atoombomme op Hirosjima en Nagasaki gegooi is. In die figuur van Batara Kala, die god van die onderwêreld in tradisionele Balinese mitologie, maar ook die skepper van die aarde en van lig, vang die digter skepping en tegelyk vernietiging vas – maar dan in Oosterse en nie Westerse terme nie.

5.10 Op pad na die werkersutopie

Die klassestryd (of die histories-materialistiese avontuur). Dit kan beskryf word as die “proletariat’s progress”, histories-materialisties gesien, of as die reis van die gemeenskap, die verhaal van heropbou en ontwikkeling. SA in poësie/SA in poetry (Van Wyk et al., 1988) is eksplisiet ‘n versameling van Suid-Afrikaanse werkerspoësie. Die opmars van die laer klas misluk telkens in Ronelda Kamfer se bundel Noudat slapende honde (Kamfer, 2009), byvoorbeeld in die gedig “goeie meisies” (p. 43):

goeie meisies join nie gangs nie

hulle raakie pregnant op dertien nie

hulle dra nie tjappies nie

hulle roekie weed nie

hulle tik nie
hulle djol nie saam met onderwysers nie
hulle speen nie saam met taxi drivers nie
hulle werk nie vir Shoprite nie
hulle is nie die cleaners nie

goeie meisies bly nie oppie Cape Flats nie

Die meisies se omstandighede keer hulle onvermydelik vas en maak enige vooruitgang na ‘n  beter lewe onmoontlik.

5.11 Die postmoderne avontuur

Kerneienskappe van hierdie avontuur is die splitsing en fragmentering van die self en die bevraagtekening van vooruitgang en die idee van moderniteit. “Curriculum vitae” (André Letoit, 436) is ‘n sprekende voorbeeld van die disintegrasie van die moderne Westerse rassuiwere burgerlike self en tewens ‘n guitige portret van die postmoderne kondisie:

My nooi is in ‘n nartjie
My ouma in die tronk
My oupa is ‘n try-for-white
My pa is altyd dronk

My oom is in die Broederbond
My boetie saag net meter maids
My neef studeer nog vrugteloos
En my beste vriend het AIDS

Die freaks dink ek is plastic
Die fuzz meen: skisofreen
My predikant voel ek’s ‘n bietjie regs
Maar in my hart ‘n goeie seun

My nooi is in ‘n nartjie
My ma vrees elke kommunis
My oom het ‘n jacuzzi
En ek weet nie wie de fok ek is.

Die ek plaas homself teenoor die avonture van die nasie (“Broederbond”), van die “goeie seun” (die religie), van welvaart en verbruik (“Jacuzzi”), die digterlike avontuur (“my nooi is in ‘n  nartjie”) en nog ‘n hele paar ander, maar kan homself nie ken of verstaan nie. Met enkele woorde roep die spreker hier dus ‘n hele rits selwe op – saam met die avonture waarbinne hulle gevorm word – maar verwerp hulle almal.

5.12 Vinniger, hoër, verder (of, Chariots of the Gods)

Hiermee bedoel ek die avontuur van spel en sport, die stilering van die liggaam en die self deur dieselfde proses byvoorbeeld in die gimnasium. Dit sluit aan by die avontuur van lewenstyl. Krog se gedig “Lady Ann by die mikrogolfoond” (1989: 73) vang hierdie strewe goed vas:

o my susters in kombi’s en stasiewaens
met stylvolle donkerbrille en hare teen die grys getint
liggame wat soggens in fleurige leotards
jog en gym en joga
verbete klou aan soepelheid en Pil

Hier gee Krog aan hierdie avontuur ‘n desperate toon deur die onsekerheid en die vermoede dat hierdie leefstyl aan die verbygaan is binne die konteks van Suid-Afrika in die 1970’s en 1980’s, sterk voorop te stel. Dit is inteendeel egter aan die floreer, soos ʼn mens daagliks in Men’s Health of Longevity kan lees of in die gimnasium kan ervaar.

5.13 Die pelgrim se reis (of, die religieuse avontuur)

Hier is die self op pad na die hemelstad of na ‘n mistieke eenwording met God. Voorbeelde is “Tale”; “Digter”, (Sheila Cussons, 482, 428); Ps. “121” (Hans du Plessis, 346), Fransi Phillips se bundel, My lied van die niet (2002) of Kraai van George Louw (2006), wat ek hieronder verder sal bespreek.

5.14 Die avontuur van begeerte

Die soeke na Orgasme-met-‘n-hooflettter, die Big O, die erotiese avontuur (seks, verlange, vervulling) is ‘n avontuur waaroor die onlangse digters baie openhartig skryf. Kyk byvoorbeeld na “Cruise I” (De Lange, 508); “man ek lus ‘n twakkie” (Krog, 583); “Writing as fucking” (Hambidge, 578); of “Voël” (Barend Toerien, 516).

Barend Toerien spreek sy voël openhartig aan, onthul sy “onbeskaamlike” en “onbetaamlike” aspekte, maar hou vol dat hy nie net lyflik ingestel was nie, maar “daardie tergende wolkskadu Liefde/ sonder ophou na gebéúr [het]”. Woorde soos “rondtastinge” en frases soos “jou kop aanhou bly stamp”, is aanduidings van die primitiewe krag van hierdie avontuur.

Hierdie avontuur, en die geweld en vernietiging waartoe dit kan lei, is die oerpatroon in Hennie Aucamp se gedigreeks “Die wederkoms: variasies op temas uit Raka” (Joubert 2006:16 e.v.). Nr. 5, “Orgie op die plein”, druk dit so uit:

Wie gesteld is op kermisattraksies
en alles wat fun is en queer,
kan ‘n vanghok besoek op die markplein
waar Raka vir Koki onteer.

Die Bees spuit geil oor die blaaie
van Koki wat bloei op die grond:
ook skree is dié teenstem geweier –
sy tong is geruk uit sy mond.

Die rym en die afgemete ritme suggereer hier dat die afloop onafwendbaar is; dat almal moet swyg voor die geweld van ongebreidelde lus.

6. ʼn Moderne pelgrim se reis

 

Die idee van groot avonture kan ‘n bepaalde bundel, soos George Louw se bundel Kraai (2006), baie verhelder. Die bundel is as geheel (en heel letterlik) ‘n voorbeeld van die religieuse avontuur van die pelgrim se reis, maar dit kry resonansie teen die agtergrond van ander verhale soos die verhale van die kraai in die ark, Jakkals en Wolf en meer eietydse verhale soos dié van Marat, Mozart of Maria Callas. Soos die kritici tereg aandui, vorm die verhaal van die Florentynse bedelmonnik Savonarola wat die digter in die laaste afdeling verwerk, die hoogtepunt in die bundel. Joan Hambidge (2006) noem die bundel “‘n verrassing” en “‘n uitmuntende bundel deur ‘n beleë digter”. Sy stel veral die komplekse verhouding tussen die spreker en Savonarola aan die orde, en sien daarin ‘n parallel met Krog en Lady Anne. Die figuur van Savonarola en die vrae wat die digter oproep, is vir haar boeiend – was hy skisofreen, diabolies of werklik in staat om die onsienlike te sien? Sy bewonder egter ook Louw se korter verse, soos die openingsgedig “Marat”, vir hulle helderheid en ekonomie.

Etienne Britz (2006) wy byna sy hele bespreking aan Savonarola, wat hy as die een hoofmotief in die bundel beskou. Die ander hoofmotief is die kraai, wat hy beskryf as die boodskapper en krassende verkondiger van God, maar ook as simbool van “die innerlike donkerheid van die siel”. As molesmaker en vergaarder kan hy ook toor met woorde. Britz sien Louw se verwerking van die verhaal van Savonarola as “betreklik onmodern”, sonder die moderne weersin in wat sommiges beskou as die monnik se “patologiese manlikheid”. Die versvorm en woordeskat is vir hom ook onmodern, hoewel hy die bundel beskryf as “goed afgewerk, eerlik, volwasse, wys, soms satiries, maar dikwels gelate of bewoë”. Die digter is dus, kan ‘n mens aflei, nie soseer geïnteresseerd in die verhaal van manlike selfverwesenliking nie, maar in iets anders.

Fanie Olivier (2006) het veral waardering vir die verskillende gesprekke en verskuiwende perspektiewe in die laaste afdeling. Soms spreek die digterstem vir Savonarola aan. Dan is die monnik weer in ‘n openhartige gesprek met God of met sy moeder oor sy persoonlike worsteling. Hy tree selfs na sy dood nog in gesprek met die mense van die blommestad.

Olivier beskou die mistieke afdeling 2 as suiwerder as die Savonarola-siklus, omdat die gesprek met God vir hom ligter, maar ook beduidend en ryk aan Bybelse verwysings en die Afrikaanse taalwêreld is. Die digter se subtiele gebruik van binnerym is verstegnies ook vir hom knap.

Van die gedigte ondersteun inderdaad my siening dat gedigte geweef word uit verskillende groot avonture of storieskappe. Olivier dui tereg ook verskillende stories aan waaruit die bundel ontwikkel, en haal die gedig “Koeksisters” (p. 43) aan, wat stel dat ons (die digter en sy lesers) gevleg word uit verskillende ineengestrengelde verhale:

Koeksister

 Uit stories moes ons leer, gelykenisse,
nie weens gebrek aan verhewe
of vername woorde – nee,
gewoon omdat ons self storie is:
verhale, koeksisters ineengestrengel,
die een op die ander aangewese,
diachronies afgestem op die verbale.

Vir Olivier bestryk die stories ‘n wye reeks ruimtes: van Sutherland en die Kaap tot by “die dorbeenvlaktes van Afganistan”. Daar is heelwat ander verhale wat ‘n mens kan byvoeg, soms baie subtiel opgeroep. Televisieverhale soos “Touched by an angel” (bl. 23) of “Amazing race” (bl. 25) word omvorm tot gedigte oor die reis van die lyf en van geboorte tot by “grysland”. Die verhale van Hans en Grietjie en Adam en Eva is ingeweef in jeugherinneringe (“Had ek maar”, bl. 29). Simson word al pratende met homself ten tonele gevoer (bl. 50). Deel van Savonarola se verhaal is ook die historiese verhaal van die korrupsie en praalsug van die Florentyne, hulle bekering en deemoed, maar ook hulle opstand. Natuurlik is die bundel ook ‘n avontuur van woorde, ‘n getoor met woorde. Die spel met woorde is byvoorbeeld opvallend in die inkantasie en die spel met verskillende benoemings – “my bleskop-oom van Sitterland”, “oum Japie-kopsku”, “oum Japie-van-passede jaar – in “Rympie vir oum Japie” (bl. 14). Selfs die koloniale avontuur word ironies betrag, en wel in “Beleg” (bl. 38), wat die wit slak beskryf as “verbete, volhardend,/ soos dit ‘n wit kolonis met dryf/ betaam”.

Olivier noem verder die verhale van Mozart en Marat, maar dui ook ‘n groter, omvattender religieuse verhaal aan wat vir hom reeds voorop staan in afdeling 2, naamlik dat die mens ‘n  “skerf van God” is.

Dit is hierdie groter verhaal wat Hans Ester (2007) in sy resensie uitspel. Hy sien naamlik in die bundel (weliswaar “met enige goede wil”) ‘n beweging vanaf die aarde en al haar geweld en probleme na die goddelike wêreld en sy gesante toe, waarna dit spesifiek op Suid-Afrika fokus voordat dit eindig by die hoogtepunt van die individu Savonarola en sy pogings om die wêreld te herskep deur sy woord.

In die voorafgaande afdelings wys Ester egter ook “indrukwekkende gedigte” uit, soos “Kompos” of die eerste gedig van afdeling twee, waarin God “vanuit het verborgene” spreek:

In diep stilte
sal jy My vind:
tussen sterre,
gehul in wit

 in ragfyn vesel,
omgewe deur
mistieke stof,
distillaat
van lewe

nader as asem,
verder as vervloë
tyd, verborge
in my self
is Ek.

 

Ester beskou dit as ‘n soort motto vir die tweede afdeling, en tereg, want die tweede afdeling beskryf ‘n nuwe religieuse avontuur – ‘n soeke na die God wat aktief weggesteek is in die hele skepping, verborge soos hier, maar wat hom ook in talle klein natuurdinge binne groter gehele openbaar. Mens en natuur is “deel van die Proses” (“Wie sou kon dink”, bl. 39) of is selfs in hulle verskeidenheid “karakters in ‘n baie ou verhaal”. Selfs dan bly God “meer as julle alte arrogante somtotaal” (“Oor verskeidenheid”, bl. 52). Alles en almal raak uiteindelik, soos in die gedig “Involusie” (bl. 54) verklaar, “in die geheime hart van God vergader”. Die ek is “nié in sonde ontvang” (bl. 53)

maar in liefde, ekstaties,
Karoolangs met die eerste
reëns, oor platklip,
noorsdoring, katstert
en kambro

 

as resultaat van u
verbeelding, uitbundig
op hierdie knersvlak
losgelaat.

Die mens is saam met die diere in die vierde afdeling – kraai, jakkals, dikkop, seeperdjie, kameelperd, strandloper of paradysvoël – “sterstof” of “sigbare skerf van u geheiligde liggaam” (“Die verloop van sake”, bl. 51). Die Skepper moet hom dus, soos In “Hokslaan” (bl. 56), op sy beperkinge en sy plek in die groter bestel wys; op hok slaan soos ‘n lastige kalf. God is die ewig onbegryplike wat ontsnap uit al die mens se jakkalsdraaie en bedenksels. Die bundel vertel kortom die groot verhaal van die mens as deel van God in ‘n omvattende verband – as ‘t ware die reis van kraai tot by paradysvoël wat eindig in mistieke lig.

Die bundel se titel verwys na Girolamo Savonarola (1452-1498) self, want in sy swart tuniek het sy kort gestalte met ‘n prominente neus nes ‘n kraai gelyk, soos die voorblad van die bundel ook suggereer. In die slotafdeling identifiseer die digterlike ek hom baie sterk met die 15de-eeuse hervormer, maar die bundel eindig met ‘n visioen waarin alle onderskeidings en alle kognitiewe rasters (natuurlik ook my poging tot ‘n klassifikasie van avonture) oplos in ‘n skittering van heilige lig:

 Nawoord

 Nou stap ons op handgeplooide aarde,
dongas van vergetelheid:
oerkraters skuiwe in- en oormekaar,
lewenslyne dobber in bibberson,
bewend soos wegdeinende rasters,
are in die wind, spieël op spieël
en altyd verder, tot als versmelt,
verblindend saf – terug in homogene
Wit

Deur Savonarola na Afrikaans toe te vertaal, kruis die digter dus twee vastelande en ‘n hele paar eeue en skep implisiet ‘n parallel tussen Florence en die geskiedenis van Savonarola en sy eie ervarings in die nuwe Suid-Afrika. Deur met Savonarola te identifiseer word hy as ‘t ware ʼn 21ste-eeuse pelgrim. Die pelgrim se reis eindig in mistieke eenwording met die Al, die geheel. Die bundel druk ‘n simboliese poëtika uit, wat dalk die rede is waarom Britz die bundel as onmodern ervaar.

7. Slotsom

Kraai is gevleg uit verskillende verhale, maar die pelgrim se reis is kennelik die dominante draad. Uit die bundel, en uit die ander voorbeelde wat ek genoem het, is dit duidelik dat bundels, die Afrikaanse poësie, en dalk ook die hele Suid-Afrikaanse letterkunde produktief met die metafoor van ‘n storieskap beskryf kan word. Daar is ook ander metafore vir die Suid-Afrikaanse letterkunde in omloop, onder andere die metafoor van chaos. Die metafoor van ineengestrengelde stories, soos ‘n dubbele of driedubbele koeksister, kan ons egter help om hierdie veld duideliker en oorsigteliker te verstaan.

VERWYSINGS

 

Bhabha, H.K. 1990. Introduction: Narrating the Nation. (In Bhabha, H.K. (ed.). Nation and Narration. London;

New York: Routledge. pp. 1-7

Bekker, P. 1980. Manna kommering. Kaapstad: Tafelberg.

Böhmer, H. 1976. Nationalliteratur (In: Krywalski, D. (red.). 1976. Handlexikon zur Literaturwissenschaft. 2de hersiene uitgawe. München: Ehrenwirth, pp. 349-357).

Breytenbach, B. 1983. Mourior. Emmarentia: Taurus.

Brink, A.P.1982. Houd-den-bek. Emmarentia: Taurus.

Brink, A.P.(red.). 2008. Groot verseboek. Kaapstad: Tafelberg

Britz, E. 2006. Fassinasie met bedelmonnik lewer volwasse poësie op. Burger, 12 Junie: 13.

Brümmer, W. 2006. Net ‘n ou ‘battle axe,’ Onderhoud met Antjie Krog. Beeld, Saterdag, 3 Junie, 13.

Bundgaard, P.F. 2007, The cognitive import of the narrative schema. Semiotica, 165(1/4), 247-261.

Coetzee, J.M. 1981. Waiting for the Barbarians. Johannesburg: Ravan. 2de druk.

Crous, M. 2003. Brief uit die kolonies. Pretoria: Protea Boekhuis.

De Kock, L. 2005. “Naming of parts,” or, how things shape up in transcultural literary history: Literator, 26(2), Junie:1-15.

Du Plessis, M. 1985. A State of fear. Cape Town Johannesburg: David Philip. 2nd edition. Africasouth Paperbacks.

Du Preez, M. 2009. Identiteit-selfmoord is beslis nie nodig. Rapport Internet.

http://www.rapport.co.za/Weekliks/Nuus/Identiteit-selfmoord-is-beslis-nie-nodig-20091128. (Toegang: 5 September 2010).

Ester, H. 2007. Het religieuze inzicht van George Louw. Zuid-Afrika, 1 Maart: 57.

Ferreira, J. 1985. Sitate om ʼn rewolusie. Kaapstad en Pretoria: Human & Rousseau.

Foster, P.H. 2000. Postmodernisme en poësie, met spesifieke verwysing na die historiografiese metagedig Die heengaanrefrein van Wilma Stockenström. Proefskrif (Ph.D.): Universiteit van Stellenbosch.

Foster, R. 2000. Beelde van die Afrikaanse poësie sedert 1960.

LitNet  http://www.litnet.co.za/poesie/09beelde.asp. (Geraadpleeg 9 Sept 2003).

Foster, R. & Viljoen, L. (reds.) 1997. Poskaarte. Beelde van die Afrikaanse poësie sedert 1960. Kaapstad: Tafelberg; Human & Rousseau.

Fugard, A. 1983. Tsotsi. Harmondsworth: Penguin.

Glissant, É. 2006. Poetics of relation. Vertaal deur Betsy Wing. 2de uitgawe. Ann Arbor: University of Michigan Press.

Gordimer, N. 1981. July’s People. Johannesburg: Ravan/ Taurus.

Gray, S. 1979. Southern African Literature: An Introduction. Cape Town: David Philip.

Grové, A.P. s.j. Woord en wonder. 3de uitgawe, 3de druk. Kaapstad: Nasou Beperk.

Hambidge, J. 2006. Lang Wag die Moeite Werk. Beleë Digter Lewer Uitmuntende Werk. Volksblad, 29 Mei: 8.

Hammond, E. 1980. Hamburgers en hotdogs. Kaapstad: Tafelberg.

Hugo, D., Rousseau, L., & Du Plessis, P. (reds.) 2000. Nuwe verset. Pretoria: Protea Boekhuis.

Joubert, E. 1983. Die laaste Sondag. Kaapstad: Tafelberg.

Joubert, M. (red.) 2006. Versindaba 2006. Pretoria: Protea Boekhuis.

2007. Versindaba 2007. Pretoria: Protea Boekhuis.

2008. Versindaba 2008. Pretoria: Protea Boekhuis.

Kamfer, R.S. 2009. Noudat slapende honde. Kaapstad: Kwela Boeke.

Kannemeyer, J.C. 2005. Die Afrikaanse literatuur 1652-2004. Kaapstad: Tafelberg; Human & Rousseau.

Kloek, J.J. 1997. Een begrensd vaderland. Amsterdam: Koninklijke Nederlandse Akademie van Wetenschappen. http://www.dbnl.org/tekst/kloe003begr01_01/colofon.php. [Toegang: 30 Augustus 2010]

Krog, A. 1989. Lady Anne. Bramley: Taurus.

  2000. Kleur kom nooit alleen nie. Kaapstad: Kwela Boeke.

  2009. Begging to be Black. Cape Town: Random House Struik.

Krüger, L. 1984. ʼn Basis oorkant die grens. Kaapstad: Tafelberg.

Letoit, A. 1985. Somer II. Johannesburg: Perskor.

Louw, A.M. 1981. Op die rug van die tier. Kaapstad: Tafelberg.

Louw, G. 2006. Kraai. Kaapstad: Human & Rousseau.

Miles, J. 1983. Blaaskans. Emmarentia: Taurus.

Minsky, M. 1975. A framework for representing knowledge. (In: Haugeland, J. ed. 1981. Mind design. Philosophy, Psychology, Artificial Intelligence. Cambridge, Mass.: The MIT Press).

Mphahlele, E. 1984. Father Come Home. Johannesburg: Ravan.

Odendaal, B. 2005. Tendense in die Afrikaanse poësie in die tydperk 1998 tot 2003 (In Van Coller, H. (red.). Perspektief en Profiel. Pretoria: Van Schaik. Dl. III: 105-148). 2010. Afrikaanse digkunsontwikkelinge die afgelope dekade.

Versindaba    http://versindaba.co.za/2010/04/17/afrikaanse-digkunsontwikkelinge-die-afgelope– dekade/ [Toegang: 2 Augustus 2010]

Olivier, F. 2006. Ryp en Ryk Bundel. Louw Steek Nuwe Kleim in die Poësie Af. Beeld, 5 Junie: 15.

Phillips, F. 2002. My lied van die niet. Pretoria: Protea Boekhuis.

Rabie, J. 1981. Johanna se storie. Kaapstad en Pretoria: Human & Rousseau.

Roodt, D. 1980. Sonneskyn en Chevrolet. Emmarentia: Taurus.

Schank, R. & Abelson, R. 1977. Scripts, Plans, Goals and Understanding. Hillsdale, N.J.: Erlbaum.

Serote, M. 1981. To Every Birth its Blood. Johannesburg: Ravan.

Steytler, K. 1982. Die leeukuil. Kaapstad: Human & Rousseau.

Stewart, G.D.J. & Van WYK, A.J. 2000. The SALit CD-ROM: A virtual library of South African literature. Conference Paper. CITTE 2000 – Conference on Information Technology in Tertiary Education. 28 Junie.

Van Dijk, T.A. & Kintsch, W. 1983. Strategies of discourse comprehension. Orlando: Academic Press.

Van Staden, I. 2003. Watervlerk. Kaapstad: Tafelberg.

Van Wyk, J., Conradie, P. & Constandaras, N., (reds.). 1988. SA in poësie/SA in poetry. Pinetown: Owen Burgess Publishers.

Viljoen, H. 1992. Selfrepresentasie in die Suid-Afrikaanse roman, 1980-1985. Ongepubliseerde navorsingsverslag vir die RGN.

Wilhelm, P. 1984. Summer’s End. Johannesburg: Ravan

 

 

Donker tye vir Britse boekhandelaars

Wednesday, February 17th, 2010
Bedreigde spesie

Bedreigde spesie

Daar is inderdaad min bedrywe ter wêreld waar die belange van alle rolspelers so verweef is met mekaar soos dit in die boekbedryf die geval is. Daarom dat enige boekhandelaar met kriewelende nekhare en ‘n lastige gejeuk in sy kieliebakke die volgende berig op The Guardian se webblad sal lees.

Volgens hul beriggewing het die Britse Booksellers Association bekend gemaak dat 102 onafhanklike boekwinkels hul deur finaal gesluit het in 2009. Dit verteenwoordig ‘n daling van 27% in die aantal onafhanklike boekwinkels. Die twee vernaamstes onder dié groep wat gesluit het, is Murder One, ‘n boekhandel wat in misdaadfiksie gespesialiseer het, en Kaydee Bookshop wat 60 jaar in bedryf was en in 1992 nog vereer was as die beste onafhanklike boekhandel in Engeland.

Dit is egter nie net die onafhanlike boekwinkels wat deur die negatiewe bedryfsfaktore geaffekteer word nie. Borders, met sy 45 takke landwyd, is verlede jaar onder kuratorskap geplaas, terwyl Waterstone’s bekend gemaak het dat hul verkope in die kritieke Kersfees-mark met 8.5% afgeneem het in vergelyking met die vorige jaar.

“The current economic climate is undeniably tough and the book retail sector is suffering across the board,” het Meryl Halls, voorsitter van die Booksellers Association’s gesê. Sy het ook ‘n beroep op boekliefhebbers gedoen om die onafhanklike boekwinkels te ondersteun aangesien hulle, ten spyte van ‘n stryd om oorlewing “continue to deliver an outstanding service – knowing the books they recommend and sell, knowing their customers, focusing on things that the deep price cutters can’t offer and running fantastic and value-adding events. These booksellers are at the centre of their communities but, as with all retailers, they need to be supported in order to survive.”

Op die Booksellers Association se webblad is daar ‘n paar riglyne uiteengesit ten einde dié krisis hok te slaan; onder andere dat die voorbeeld van die Nederlandse en Sweedse boekwinkels gevolg moet word deur meer gesamentlike projekte van stapel te stuur.

De Papieren Man het juis in n verwante berig verslag gedoen van ‘n 10% styging in omset en 5.8% meer boeke wat verkoop is verlede jaar in de Vlaamse boekwinkels; merendeels te danke aan ‘n “stormloop” vir kook- en kinderboeke. Ook vertaalde romans deur twee megaverkopers, Stieg Larrson en Stephenie Meyer, het gehelp dat ‘n silwer randjie om dié rosige wolk sigbaar bly.

*** 

Vanoggend lê die webblad omtrent tot teen die balke gestapel met nuwe inhoud. So is daar die vier manjifieke artikels oor die digterskap van TT Cloete wat ons van Tydskrif vir Geesteswetenskappe ontvang het vir plasing, naamlik die artikels deur Heilna du Plooy, Rensia Robinson, Hein Viljoen en Johann Lodewyk Marais. Ook het ons ‘n uitgebreide onderhoud met TT Cloete opgespoor wat verlede jaar opgeneem is en oor die bestek van 15 videos beluisterkyk kan word. Aan die blogkant van sake is daar nuwe plasings deur Andries Bezuidenhout, Philip de Vos, Johann Lodewyk Marais en Ilse van Staden, asook twee nuwe gedigte deur Danie Marais.

En ja, ten slotte is daar die ding wat ek nie langer kan ontken nie. Ek het ‘n nuwe digbundel gepleeg en dit is gister by die winkels afgelewer. Soos gebruiklik plaas ons ‘n onderhoud om die geleentheid te vier. Lees dus gerus die onderhoud wat Andries Visagie met my gevoer het. By Publikasies kan meer inligting oor “wat die water onthou” gevind word.

Lekker lees en skryf tog maar ‘n brief vir Brieweboks oor jou gunsteling liefdesvers(e)? Die tyd raak min om te kwalifiseer vir vandeesmaand se boekprys …

Mooi bly.

LE

 

 

Hein Viljoen. Kreolisering van die Simbolisme in die poësie van TT Cloete

Tuesday, February 16th, 2010

(Hierdie artikel het oorspronklik in Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Jaargang 49 No. 4: Desember 2009 as deel van die Spesiale huldigingsuitgawe vir T T Cloete verskyn en word geplaas met die vriendelike vergunning van die redaksie.)

Kreolisering van die Simbolisme in die poësie van T T Cloete*

Creolization of Symbolism in T T Cloete’s poetry

Prof Hein Viljoen

Prof Hein Viljoen

HEIN VILJOEN

 

 

 

 

 

 

Navorsingseenheid: Tale en literatuur in die Suid-Afrikaanse konteks,

Noordwes-Universiteit, Potchefstroom

 

 

 

 

 

HEIN VILJOEN het in Potchefstroom, Pretoria en Utrecht gestudeer en is tans professor in Afrikaans en Nederlands aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) en direkteur van die Navorsingseenheid Tale en literatuur in die Suid-Afrikaanse konteks. Hy spesialiseer in literêre teorie, die Suid-Afrikaanse prosa en die Afrikaanse poësie. Hy is mede-skrywer en redakteur van twee onlangse versamelings opstelle oor ruimte en identiteit en liminaliteit in die Suid-Afrikaanseletterkunde, nl. Storyscapes (2004) en Beyond the threshold (2007). Tans spits hy sy navorsing toe op hibriditeit en kreolisering asook grense in en van die letterkunde. Hy is ook hoofredakteur van Literator. Sy tweede digbundel, Holtrom en groot kabaal, het in 2003 verskyn.  HEIN VILJOEN studied in Potchefstroom, Pretoria and Utrecht and is at present professor in Afrikaans and Dutch literature at the North-West University (Potchefstroom Campus) and director of the Research Unit Languages and Literature in the South African Context. He is a specialist in literary theory, the South African novel and Afrikaans poetry. Recently, he has co-authored and edited two collections of research essays on space and identity and on liminality in South African literature, namely Storyscapes (2004) and Beyond the threshold (2007). At present his research is focused on creolization in literature and on boundaries in and of literature. He also is editor in chief of Literator. His second collection of poetry, Holtrom en groot kabaal, was published in 2003. Hein Viljoen * Uitgebreide weergawe van ‘n T T Cloete-erelesing gelewer op 22 Augustus 2007. 

 

 

ABSTRACT

Creolization of Symbolism in T T Cloete’s poetry

 

This article is an investigation of T T Cloete’s rewriting of international Symbolism, the assumption being that he has creolized this poetic system in three ways, namely by developing new forms bymixing, by increasing its expressive power and by making it local and South African, but also byappropriating and adapting it to his own poetical system. After pointing out two indications of creolization in Cloete’s work, namely the creative mixing of words and concepts and the mixing of indigenous and colonial language, Symbolism is defi ned as a deliberate exploitation of ambiguity based on the notion of correspondences between all earthly things. Natural elements are used as metaphors, combined with all the resources of language to suggest a deeper or truer but unformulated second content in a poem. Creolization is here, in accordance with the views of É. Glissant, defined as a rhizomatic understanding of texts in complex webs of relations with three important core meanings, namely mixing of languages, cultures and traditions, a making-local that also entails appropriation and emulation and an expansion of the expressive power of the tradition. The analysis of the ways in which Cloete has transformed the symbolist tradition in poetry along these lines focuses on four aspects of Symbolism, namely the symbolist technique, Symbolism and music, the symbolist tone and the correspondences. Cloete’s creolization of the symbolist method is explored in two poems, namely “oopooggebed aan ontbyttafel” (open-eyed prayer at the breakfast table) from Allotroop (1985) and “Insinjes” (Ensigns) from Met die aarde praat (Talking to the earth, 1992). In these poems Cloete evokes a second meaning without really giving it form in the way he uses natural things as metaphors and by subtle allusions to the Symbolists and their favourite colours. The latter poem also shows how Cloete enriches the symbolist tradition with words and concepts from natural science but also transforms it into a way of evoking the in-living of God. The next section links Cloete’s symbolist use of bird imagery and bird song to the symbolist equation of music and poetry. In Cloete’s poetry the ear is a favourite organ, since it brings disparate elements together. The sound of poetry is in his work a powerful instrument for the expression of the coherence of the whole cosmos and for evoking a second meaning, namely the presence of God in everything. The same goes for the way in which Cloete’s poetry deals with the symbolist view of the imminence of death and the passing away of all things. His poetry presents an alternative to mortality by showing a universal interconnectedness and by developing new, modern metaphors for the synthetic power of poetry. One of them is the “laseraspaai” (laser I spy) – a modern instrument for spying out the rich interconnected diversity of creation. This universal interconnectedness, the idea that each thing contains a fi ne hidden essence of every other thing, is a central tenet of Symbolism and is creolized in Cloete’s poetry in a variety of ways and, in his different collections, each time in a different metaphor that underlines this interconnectedness as well as the terrible state of being unconnected: juxtaposition, allotropy, entelegy, idiolect, curiosity. The all-inclusive whole is God, and His presence is evoked in Cloete’s poetry in a myriad symbolist ways. Mixing languages and creating new compound words are but two of them. Though it focuses in the small and the local, in Cloete’s poetry the unique time and place of every element is illuminated by the illimitable and the universal. Everything has its place in a great chain of being. On the whole, Cloete increases the expressive power of Symbolism not only by modernizing, but also by deologizing it, that is, by turning it into an instrument for the study of Deus, God.

 

KEY CONCEPTS: Symbolism, creolization, symbolist method, symbolism and music, symbolist tone, correspondences, deologizing.

 

TREFWOORDE: Simbolisme, kreolisering, simbolistiese werkwyse, Simbolisme en musiek, simbolistiese toon, korrespondensies, deologisering

 

OPSOMMING

Hierdie artikel is ‘n ondersoek na T T Cloete se gebruik van die internasionale Simbolisme. Die aaname is dat hy daardie digterlike stelsel op drie maniere herskryf het, naamlik om deur vermenging nuwe vorme te ontwikkel, deur die uitdrukkingskrag daarvan te verhoog en deur dit plaaslik en Suid-Afrikaans te maak, maar dit terselfdertyd vir homself toe te eien en dit aan te pas binne sy eie poëtika. Vier aspekte van die Simbolisme word bespreek, naamlik die simbolistiese werkwyse, Simbolisme en musiek, die simbolistiese toon en die korrespondensies. Die vernaamste bevindings is dat Cloete die uitdrukkingskrag van die Simbolisme vergroot het deur dit te  moderniseer, maar ook deur dit te deologiseer – dit wil sê deur dit in ‘n instrument te omvorm vir die bestudering van Deus, God.

 

1. INLEIDING

 

TT Cloete is ‘n klassieke poeta doctus: ‘n geleerde digter. Hy weet baie en konfronteer sy lesers graag met ongewone begrippe en moeilike woorde. Sy nuutste bundel, Heilige nuuskierigheid (Cloete 2007), open byvoorbeeld met die gedig “Eurinome”. Om sy lesers te help, verduidelik Cloete in ‘n eindnoot uit De Vries se simboolwoordeboek dat Eurinome die godin van vrugbaarheid is en dat sy in die vorm van ‘n duif uit Chaos opgestyg het. Dit is een van ‘n hele reeks eindnote wat ‘n mens nodig het om hierdie bundel behoorlik te verstaan. Uit die bundel is dit ook duidelik dat Cloete se “heilige nuuskierigheid” ‘n baie groot verwysingsveld bestryk – eintlik die ganse skepping, van die kleinste insek tot by die magtigste sonnestelsels. Daarom rym hy “mot” graag op “God” en sien hy in die kleinste dingetjies groot kosmiese bewegings weerspieël. In sy poëtika, en dit is ‘n tipiese trek van die internasionale kunsstroming van die Simbolisme, hang alles met alles saam in een groot stelsel van ooreenkomste (korrespondensies).

 

2. TEKENS VAN KREOLISERING

 

Kreolisering vind ‘n mens myns insiens op minstens twee maniere in Cloete se werk. Die gedig “kielieharies”, ook uit Heilige nuuskierigheid (Cloete 2007:51), is ‘n voorbeeld van die eerste soort kreolisering by Cloete. Die titel is ‘n speelse vervorming van “Kalahari”. Hierdie speelse kreolisering bereik ‘n hoogtepunt in strofe 3. Die spreker het gaan navorsing doen oor “die sku kalaharispinnekop” en sy gevolgtrekking lui:

hy is skaam

dus is sy skuilnaam

spinnekieliekalliekaleskamehariekieriekop

In die lang slotwoord kan ‘n mens ‘n hele rits woorde herken: kielie, kale, skame, hariekierie – harikiri (selfmoord), skameharie, kierie, kieriekop. Die digter het hier ‘n reeks woordspelings op Kalahari gemaak, permutasies van kala: kale – kallie, – kielie – kierie – harie – kale – skame. En dit het hy alles ingeskryf in die woord spinnekop. ‘n Reeks betekenisse, eintlik ‘n hele verhaal, is saamgetrek en speels in die een lang kofferwoord saamgedruk. Hierdie verskynsel is ‘n kreatiewe kreolisering waarin woorde speels omvorm en op nuwe maniere met mekaar gekombineer word.

‘n Ander soort kreolisering blyk uit die gedig “bywoners” uit die bundel Uit die hoek van myoog (1998:11). Hier treur die spreker oor die verbygaan van die Afrikaners – een van die min gedigte in Cloete se oeuvre waaruit ‘n tipies postkoloniale vervreemding blyk:

eers was ons base

ons het elmboog-uit op ons plase

in ons nissanbakkies gery.

nou is ons onteien. ons bly

in dorpies waar hulle van sê:

net woestyndiere sal daar lê

en uile en kokkerotte

in die setlaarshuise op gehuurde plotte.

 

In beide die Christelike en die simbolistiese tradisie is mense net bywoners op aarde, maar hierdie gedig slaan ook konkreet op die politieke oorgang wat Afrikaners moet verwerk. Wat die oorgang egter besonder skrynend maak, is dat die base en besitters vervreem word van hulle grond én hulle taal, omdat hulle taal vermeng raak met Engels, die taal van die neo-koloniale hegemonie, soos blyk uit woorde soos “kokkerotte”, “setlaars” en “plotte”. Hulle verlaagde status is ‘n dubbele ontheem ding.

Cloete se werk is vol vreugde oor die goddelike samehang van alle dinge, maar ook vol hartseer oor die verganklikheid van die aarde en die mens. In hierdie opsigte sluit sy werk aan by die Simbolisme, soos ek sal aantoon, maar my argument in hierdie artikel is dat Cloete die Simbolisme kreoliseer – op ‘n idiolektiese wyse herskryf, aanpas by Suid-Afrika en uitbrei.

 

3. SIMBOLISME AS DOELBEWUSTE STREWE NA MISTERIE

 

Semioties gesien, is die meeste woorde simbole, want die reeks tekens kakiebos staan per konvensie vir daardie nare en geharde onkruid wat die Engelse na bewering in hulle veevoer in Suid-Afrika ingevoer het (Boshoff & Nienaber 1967:322). In die woord word dus eintlik ‘n stuk geskiedenis en ‘n groot stuk emosie saamgevat. Meestal gebruik ons woorde egter net as instrumente – as kommunikasiemiddels – sodat die simboliserende energie, die krag van die emosie wat daar in ‘n woord opgesluit lê, die verbasende ontdekking dat ons die dinge inderdaad name kan gee, verdof en afslyt soos ‘n ou muntstuk. En dit is onder andere die digters se taak om ons weer bewus te maak van die diepte en bedwelmende rykdom van woorde. Dit was die program van simbolistiese digters soos Verlaine, Mallarmé, Rimbaud, Yeats, George, Kloos, Gorter en Leopold.

 

3.1 Korrespondensies

 

“Bedwelmende rykdom” het ‘n ryk historiese eggo, want die Nederlandse digter Willem Kloos het reeds in 1882 onsterflikheid beloof aan die digters wat die bedwelmende rykdom van hulle sielelewe kan omsit in streng ritmes en breë, gewaagde beelde (Kloos 1971:53,58). Kloos is een van die Nederlandse digters wat T T Cloete gereeld in sy poësieklasse behandel het – saam met ander digters vir wie hy besonder lief is, soos Herman Gorter, J H Leopold en J C Bloem. In Gorter se lang gedig Mei het Cloete veral die samehangsgedagte beklemtoon – die gedagte dat daar in elke ding ‘n fyn essensie van elke ander ding skuilgaan (Gorter 1976:r. 945-6) en dat alles daarom met alles saamhang in ‘n byna mistieke verband. Elke ding, hoe nietig ook al, ontleen sy waarde en sin aan sy posisie binne daardie groot, omvattende verband. Hierdie beginsel, die idee van korrespondensies, maak simbolistiese poësie ryk en veelvuldig.

Korrespondensies tussen die dinge is ‘n gedagte wat sterk in Cloete se eie poësie voorkom (soos Hennie Schutte (1984) onder andere uitgewys het). Die basiese idee agter die korrespondensies is platonies: woorde in hulle samehang wys heen na ‘n ryker, lewendiger, wesentliker werklikheid agter die gewone dinge wat ons kan waarneem.

Die een stelling wat ek in die loop van die artikel wil beredeneer, is dat Cloete se poësie wesenlik simbolisties is. Een argument daarvoor is dat Cloete se poëtika wesenlike ooreenkomste vertoon met die idees van simbolistiese digters soos Kloos, Gorter en Leopold in Nederlands en Verlaine en Rimbaud in Frans. Sy werkwyse kom ook sterk ooreen met die wyse waarop hierdie digters natuurelemente gebruik as simbole vir die ontsaglike rykdom van hulle innerlike lewe. In sy sonnet XXXV (Dekker 1971:152) vergelyk Kloos byvoorbeeld die rykdom van sy innerlike lewe met die onmeetlikheid van die see.

Hierdie stelling is nie onproblematies nie, want die Simbolisme was ‘n internasionale beweging in die kuns, musiek en letterkunde van die laat 19de en vroeg 20ste eeu. Hoe kan T T Cloete, wat eers in 1980 gedebuteer het, dan as ‘n Simbolis beskou word? Soos in die projek oor die Simbolisme in die Afrikaanse digterlike tradisie (Steenberg 1993) aangetoon is, het die Simbolisme ‘n besonder sterk invloed op die Afrikaanse poësie gehad. Annemarie Bischoff (1993) het egter in haar ondersoek as deel van die Simbolismeprojek heel stellig bevind dat Cloete nie ‘n Simbolis is nie. Sy meen Cloete se werkswyse stem ooreen met die simboliste s’n en herken in sy werk wel simbolistiese trekke soos die korrespondensies en kernsimbole soos musiek, die droom en die vrou bevat. Sy meen dat die resultaat van Cloete se werk verskil van die Simbolisme, omdat sy werk nie neerkom op aanbidding van die skoonheid en die menslike maker daarvan nie. Daarteenoor is my argument dat Cloete wel deeglik ‘n Simbolis is, maar dat hy die Simbolisme vir sy eie doeleindes aangepas het.

 

3.2 ‘n Tweede inhoud suggereer, evokeer

 

Simbolisme is moeilik om te defi nieer, omdat hierdie digters daarna streef om ‘n objek, en daarmee saam ‘n bepaalde emosie, op te wek, nie deur dit direk te sê nie, maar deur dit te suggereer. Hulle werk met metafore waarvan die een pool duister gelaat word, onder die oortuiging dat ‘n gedig veel genietliker is as die objek geleidelik ontsyfer moet word. Chadwick (1971:2) omskryf Simbolisme derhalwe as:

The art of expressing ideas and emotions not by describing them directly, nor by defining them through overt comparison with concrete images, but by suggesting what these ideas and emotions are, by re-creating them in the mind of the reader through the use of unexplained symbols.

Toestande wat vervaag, oplos, wat vae kontoere het, wat neig om te verdwyn; dinge wat byna nie gesê kan word nie – die Simboliste maak byna ‘n kultus van vaagheid en dubbel sinnigheid. Hulle dominante instelling is om te suggereer, op te roep, nie te sê nie en tog te sê. Agter die woorde, en eintlik deur die fyn samespel van woorde, klanke, ritmes en betekenis – elke moontlike digterlike middel – dra die gedig iets oor wat nie geformuleer word nie; ‘n tweede inhoud wat nie vorm gekry het nie. Hierdie tweede inhoud sluit alles in wat, in Cloete se woorde aan C M van den Heever (Cloete 1982:21), saamgevat kan word in “die angswekkend mooi hees geskreeu van jou wildeganse”. Kloos (1971:53) praat van “Zin en schakeering van woorden en klanken, afzonderlijk en in hun schikking tot een melodie van lijnen en kleuren, en het onvatbare daarachter”. Woorde vir dinge uit die werklikheid word in simbolistiese poësie gebruik as simbole van iets anders – ‘n paradyslike eiland in die weste, soos by A. Roland Holst, of die oneindige rykdom van die eie sielelewe, soos by Kloos.

Presies hoe Cloete omgaan met die Simbolisme in sy poësie is natuurlik die vraag. Dit is die tweede stelling wat ek wil maak, naamlik dat hy die Simbolisme kreoliseer.

 

4. KREOLISERING EN RELASIONELE VERSTAAN

 

Kreolisering beteken “kreools maak”. Kreools is ‘n woord wat soms in tydskrifte en koerante gebruik word vir die kookkuns of die eksotiese skoonheid en skoonhede van Mauritius of die Karibiese Eilande. Populêrweg beteken dit “gemengd” van taal, ras of kultuur, soos “die mengsel van Franse setlaars en Malgassiese slawe” (Myburg 2009:3) waaruit die Frans-Kreools en die kreoolse kookkuns van Réunion ontstaan het. Die begrip kreools kom uit Portugees crioulo (Crystal 1998) en uit Spaans criollo, wat oorspronklik beteken het ‘n kind van Spaanse ouers wat in die Suid-Amerikaanse kolonies gebore is (Odendal & Gouws 2005), of in ‘n wyer sin iemand van Europese afkoms wat in ‘n kolonie gebore en grootgeword het. Volgens Schwegler (2003:53-54) word criollo vandag nog in baie dele van Suid-Amerika gebruik in die sin van “plaaslik”, “van hierdie plek”, “hier gebore en grootgeword”, sonder spesifi eke ras- of etniese betekenis. Hy meen ook dat die primitiewe letterlike betekenis van criollo etimologies verband hou met Latyn creare, “om te skep”, via Portugees. Criollo beteken dus “iets of iemand opgevoed of grootgemaak” plus ‘n deiktiese element soos hier.

Kreolisering word in die taalkunde gebruik in die konteks van die kruising en vermenging van tale. Soms ontwikkel ‘n kontak- of kommunikasietaal (‘n sg. pidgintaal) tussen mense wat mekaar nie verstaan nie tot die moedertaal van ‘n bepaalde groep. Die struktuur, woordeskat en uitdrukkingsvermoë van die pidgintaal word dan geweldig uitgebrei. Hierdie uitbreiding word kreolisering genoem (Crystal 1998).

Ook in ‘n literêre en kulturele konteks is kreolisering belangrik, want die vermenging van tale, naas die vermenging van rasse, is een van die belangrikste metafore vir die verstaan van die ingewikkelde prosesse van kulturele kontak, assimilasie, kruising en splitsing (Young 1995:1-28). Toegepas op die letterkunde is my vraag spesifi ek of die (Suid-)Afrikaanse letterkunde (en kultuur) in die breë ook as so ‘n postkoloniale hibried of gekreoliseerde vorm beskou kan word.

Hibriditeit en kreolisering is veral belangrike konsepte in die studie van letterkundes van voormalige kolonies. Op die spoor van Glissant (2006) beskou ek kreolisering as ‘n beginsel vir die relasionele verstaan van ‘n skrywer en sy werk.1 Relasionele verstaan hou in dat die skrywer en sy werk in ‘n netwerk van veelvuldige relasies met ander tekste en met tale en kulture rondom hom verstaan word – ook in relasie met die magte en sosiale energieë van sy tyd. Tekste, sosiale magte word aangehaal, herskryf, geparodieer of gedialogiseer. Kreolisering hou in dat ‘n teks verstaan word as verwikkel in ‘n internasionale netwerk van verskillende tale en kulture oor nasionale en taalgrense heen.

Gegewe die etimologie kan drie belangrike betekenis momente in kreolisering onderskei word. Eerstens dui kreolisering op die vermenging van kulture en tradisies waardeur byvoorbeeld nuwe genres ontstaan. Verdietsing of aanpassing by die lokale – plaaslik maak (in die sin van criollo) – is ‘n tweede belangrike moment, maar saam met aanpassing gaan ook verset, toe-eiening, omvorming en kompetisie. Die derde moment is die uitbreiding van ‘n instrumentele of kommunikasietaal/-tradisie (dus ook ‘n digterlike tradisie) tot “moedertaalgebruik”. Uitbreiding hou onder andere in dat die digterlike woordeskat vergroot word, dat literêre strukture verder ontwikkel en omvorm word en dat die taal se uitdrukkingsvermoë verhoog word.

In die res van die artikel wil ek nagaan hoe Cloete die Simbolisme gekreoliseer het, toegespits op vier sleutelaspekte, naamlik kreolisering van die simbolistiese werkswyse, die simbolistiese musikaliteit, die simbolistiese toon, en ten slotte die korrespondensies. Hiermee wil ek meer inhoud gee aan die vae idee van “invloed” en ook bepaal wat Cloete se Simbolisme, lank na die erkende simbolistiese digters, in ‘n totaal ander leefwêreld, anders maak. Met ander woorde, ek wil bepaal watter tipiese transformasies die Simbolisme in Cloete se werk ondergaan het. 1 Vergelyk Viljoen & Van der Merwe (2007) vir ‘n beredenering daarvan.

 

5. DIE SIMBOLISTIESE WERKSWYSE: HEMELSBLOU EN DIE UUR VAN

PURKINJE

 

Al is dit per defi nisie vaag en suggestieryk kan ‘n mens tog enigsins vat kry op die Simbolisme met René Wellek (1984:27) se defi nisie daarvan as “simple replacement and a suggestion of mystery”.

Wellek se definisie beteken dat die Simboliste ‘n letterlike term deur ‘n metaforiese term vervang, maar die metaforiese term net vaagweg suggereer of selfs glad nie noem nie. Op hierdie manier word die aardse dinge beelde van ‘n verhewe maar versweë geheim. In kontras met die realiste en die naturaliste, wat net ingestel was op die oppervlakte en sintuiglik waarneembare gegewens, stoot die Simboliste wel die aardse dinge na vore, maar juis as tekens of geheimskrif wat iets veel groters maar onnoembaars moet suggereer. Dit is wat Wellek bedoel met “a suggestion of mystery”. In die woorde van Chadwick (1971:6) is hierdie werkswyse ‘n poging “to penetrate beyond reality to a world of the ideas, either the ideas within the poet, including his emotions, or the Ideas in the Platonic sense that constitute a perfect supernatural world towards which man aspires”. Distinktief vir die Simboliste is dus dat hulle die funksie van literatuur sien as “blootleggen of ervaarbaar maken van dieper liggende verbanden in de werkelijkheid; abstraheren van gewone werkelijk heidservaring” (Oversteegen 1982:69).

Hoe Cloete die simbolistiese werkwyse aanwend, blyk uit ‘n gedig soos “oopoog gebed aan ontbyttafel” (Cloete 1985:137). Dit kom uit Allotroop, die bundel wat vol pyn en lyding is en wat ‘n verloop beskryf van pyn, deur die dood tot ‘n diep tevredenheid: ‘n vreugde wat onder andere uit hierdie gedig straal. Dit is ook ‘n bundel wat op die oog af nie duidelike simbolistiese trekke bevat nie.

oopooggebed aan ontbyttafel

ons twee Herman Knus Slaplat

en Nanna Koue Patat

van Silwer kom laat ons bid

dankie dat ons hier sit

dankie vir die roomgeel broodkorsie

en ‘n stukkie bruin varkworsie

swart koffi e vir die dors

op die tafeldoek bont gemors

doer sit ‘n grys mossie

en vreet aan die goue druiwetrossie

dankie dat ons voor die venster sit

voor ‘n stuk van die wit

gewel van die oorkantste bure

en dele van die terracotta mure

van ander huise stukke blink dak

roos wolke alles in ons raam die groen tak

met rooi perskes die stukkende pers gordyn

die reënboog van die wasgoedlyn

‘n swart telefoondraad

dowwe mense wat voyelles praat

laat ons ons kos goed fyn kou

en ons mond nou hou

amen laat ons lag in ons mou

die hemel is uitsluitend hemelsblou

Dit is ‘n mooi en speelse gedig, maar op die oog af ‘n baie gewone dankgebed vir doodgewone dinge – “broodkorsies”, “varkworsies”, “stukkende pers gordyn”. Dit eindig met die hemel wat – hoe kan dit nou anders? – hemelsblou is. Lieflik en ironies, maar dis al.

Begin jy egter wonder oor daardie “dowwe mense wat voyelles praat” (vers 20), dan val dit jou by dit is die titel van Arthur Rimbaud se beroemde sonnet oor die vokale en hulle emosionele en simboliese kleure: “A noir, E blanc, I rouge, U vert, O bleu: voyelles” (Parmeé 1966:268) – A swart, E wit, I rooi, U groen, O blou: vokale. En lees jy die gedig dan weer, val die kleure jou op: “roomgeel broodkorsie”, “bruin varkworsie”, “wit gewel”, roos wolke” “rooi perskes”. Die proses eindig by die hemelsblou van die lug. Blou is die kleur van O, wat Rimbaud in die sestet van sy gedig verbind aan Omega en die pers straal van Sy oë.

Met die enkele woord “voyelles” suggereer Cloete dus dat die gedig teen die agtergrond van die Franse Simbolisme gelees moet word – maar ook met hulle werkwyse in gedagte – die evokeer van ‘n tweede inhoud. Die tweede inhoud is hier eerstens die emosie waarheen al die dinge in die gedig heenwys, naamlik ‘n diep vreugde. Die gedig roep ook al die kleure en hulle assosiasies op. Wat hier op die spel is, is veel meer as net invloed, want die digter het die simbolistiese tradisie vir hom toegeëien en plaaslik gemaak: die (emosionele) kleur van die vokale uitgedruk in doodgewone dinge soos mossies en druiwetrossies – wat egter nie (of dalk juis nie) tipies Suid-Afrikaans is nie.

Die gedig eindig vol vreugde in die blou – die transendente blou – van die hemel. Hier word die tweede inhoud glad nie gesê nie – net die simbolistiese laag word gesuggereer. Die laag van die Gans Andere, van God, kry eintlik nie vorm nie. Dit word net opgeroep met die kleure en gesignaleer in die herhaling van die hemel – of eintlik weggesteek agter die dooie metafoor van “hemelsblou”. Saamgelees met Cloete se ander gedigte raak die leser hier egter bewus van ‘n dieper inhoud: die aanwesigheid of eintlik die in-wesigheid van God (al word Hy nooit in die gedig genoem nie).

Veel eksplisieter blyk hierdie proses uit “Insinjes” (Met die aarde praat, p. 32):

Insinjes

Jesaja 46

In die stuifmeelstafi es en -korrels van die plant

wys iets van Hom. In die sagte sneeuvlok se patroon

word water- en suurstof tot sagte snel oplosbare kant

gehekel, altyd getrou aan die één sjabloon van die heksagoon.

Hy gun ons dit as volkome voorbeeld vir ons mooiste siermotiewe.

Vir die nuuskieriges na God – gun ons dit – is dit hiërogliewe

in die gedaante van ‘n boom se veelvoudig geaarde blaar,

die strale van ‘n ster, ‘n maltese kruis … beskryfbaar

alleen in die bekende en beperkte. Sneeuvlokkievlug

laat Hy sedert Jesaja ons baie vergelykings vaar

en trek hy Hom soos ‘n gevoelige mossel in sy skulp terug.

Hy is polivorm, Hy verdoesel met perspektiewe wat in perspektiewe

wegraak, Hy laat sy vlok in al fyner vlokpatrone verdeel,

insinjes in insinjes in motiewe binne motiewe.

Sy vlok het speke van ‘n wiel sonder velling. Patroon

is in patroon ingeskape, vir die oog te veel

om in te sien, skoner as skoon,

fyn edelsmeewerk mooier en ryker

en fyner as in enige koningskroon

of in septers en stawe of ‘n biskop se myter.

Met sy eie maaksels onvergelykbaar

moet ons Hom na elke onvermoeide begin weer laat vaar.

In die sneeuvlok is sy handmerke wolkerig sigbaar

deur die hipergevoelige kamera se supervergrootglas

en superspoed, as guns vir ons loergier, as die fi lm dit vas

vat vóór die oplossende kleurpatrone van ‘n pou se stertveer

en ‘n mot se iriserende perlemoervlerk deformeer

in die smeltende fraksie van ‘n sekonde. …

Opvallend is dit juis die fyn patrone van stuifmeel, sneeuvlokkies en die vorm van blare wat vir “nuuskieriges na God” as hiërogliewe dien van sy teenwoordigheid, maar waaruit God telkens weer wegraak, verdoesel raak, oplos. En aan die einde los die gedig letterlik op in verskillende vae en delikate kleure:

In mý insien

is van Hom iets van ‘n vermoede in die emerald- en fluoressine

en in die lasuriet en die menie in die delikate insinjes

van blomme en voëls vas gevat in die delikate uur van purkinje

Patrone verskuif in patrone. God verdoesel Hom in ‘n verskeidenheid vorms, motiewe, sjablone; Hy verlaat ons vergelykings “sneeuvlokkievlug”; Hy is net “wolkerig sigbaar” in kleurpatrone wat in ‘n fraksie van ‘n sekonde oplos. Insinjes is die onderskeidingstekens van ‘n rang of amp, maar die patrone waarin God hom openbaar, is veel mooier en fyner as enige menslike onderskeidingsteken soos kroon, staf, septer of myter. God is eintlik veel groter as enige vergelyking of metafoor wat ons vir Hom kan bedink – Hy “laat ons vergelykings vaar”. Die vraag hieragter is die vraag van Jes. 46:5, soos die motto aandui: Waarmee sal ons God vergelyk?

In die slot van die gedig het Cloete ‘n taamlik ingewikkelde raaisel ingebou. Die spreker se vermoede het hier met kleurstowwe te make, soos ons in die WAT kan sien. Emeraldine is ‘n blou (of groen) kleurstof wat ontstaan as ‘n tussenproduk in die bereiding van die swart kleurstof anilineswart. Fluoressine is ‘n liggeel kleurstof. Lasuriet is die vonkelende blou dalk beter bekend as lasuursteen of lapis lazuli. Menie is ‘n rooi kleurstof. Die sleutel tot die raaisel lê in die laaste woord, en gelukkig het die digter dit vir ons uitgelê (Cloete 1992:83): Purkinje-verskynsel: die verskynsel dat die helderheid van oranje-rooi kleure vinniger daal namate die beligting swakker word as wat die helderheid van blou-groen kleure in dieselfde omstandighede daal… Johannes Purkinje [‘n Tsjeggiese fisioloog – HV] het reeds in 1825 geskryf oor sy waarneming dat die rooi blomme in sy tuin teen skemer donker vertoon het, terwyl die blou blomme nog helder gelyk het.

Aan die slot van die gedig bevind die spreker hom dus in ‘n oorgangstoestand, skemer, waarin die blomme en voëls blouer kleure aanneem. Sy kleurwaarneming verskuif meer na blou toe namate dit donkerder word. Juis in hierdie tussentoestand word die spreker se vermoede van God sterker. Weens hulle vaagheid is sulke oorgangstoestande geliefd by die Simboliste. Alhoewel die digter eksplisiet wys op die tekens van God, is Hy steeds besig om te verdwyn in patrone agter patrone, in “perspektiewe wat in perspektiewe wegraak”; in die koninklike kleure van blou en rooi wat blomme en voëls in die skemerlig laat verander in rang ken tekens, heraldiese motiewe, hiërogliewe. Nie verniet nie is een die motto’s van hierdie afdeling “U is die God wat U verborge hou…” (Jes. 45:15).

Die vervaging en vervloeiing, die oplos in die delikate, ook die kleure wat gebruik word self, is baie duidelik simbolisties. In hierdie gedig het Cloete die simbolistiese werkswyse duidelik gekreoliseer deur die uitdrukkings krag daarvan uit te brei met terme en insigte uit die natuurwetenskap. Kreolisering beteken by Cloete ook dat alle dinge (soos die blomme en die voëls) tot tekens en rangkentekens van God omvorm word.

 

6. “VOËLS BRING NUWE TEKS AAN”: KREOLISERING VAN DIE SIMBOLISTIESE

MUSIKALITEIT

 

Belangrike tekens of draers van God in Cloete se poësie is voëls – mossies, swaels, arende, aasvoëls, pikkewyne, pelikane, en noem maar op. Die Arktiese swael noem hy in Idiolek ‘n “mikrostraler” waarin die “doen van God” “ryk saamgestel is” en waarin God “sy aërodinamiese spel” speel (1986:84). Die Simboliste het ‘n voorliefde vir swane en poue (vgl. Forestier 1984:106), soos in Baudelaire se beroemde gedig “Le cygne” (Baudelaire 1988:95-6) en Yeats se “Leda and the swan” (Yeats 1990:127). Hulle is tekens van die skoonheid self, maar ook as boodskappers van daardie ander, beter wêreld agter ruimte en tyd soos die meeue in Roland Holst se “Een winteravondval” (Roland Holst 1971:212-4).

In Heilige nuuskierigheid tel ‘n lang lys voëls soos kolibrie, koningsadelaar, lammergeier, kondor, reier, albatros, troupant, plaasfi sant en baardarend onder die edel skepsels wat God eerder as voorouers vir die bobbejaan kon beskik het (“stamboom 3”, Cloete (2007:62)). In “klein epos van die vanselfsprekende” ( 2007:34) vertel die witborskraai, die bosluisvoël, die renostervoëltjie saam met die flamink en ander “selfstandige selwes” “van die Self wat haar Spontane Self met ‘n groot S spel”. Maar dit is veral die sang van die tinktinkie en die gekwetter van die mossie2 wat vir Cloete belangrik is – soos musiek in die algemeen, natuurlik.

Die Simboliste het musiek en poësie feitlik gelyk gestel, soos onder andere blyk uit Leopold se “Emir Khosrau” omdat musiek by uitstek kan suggereer en evokeer; gevoelens en suggesties van die onnoembare kan opwek. Walter Pater het al in 1873 (1917:135) in sy essay oor die Skool van Giorgione verklaar dat “All art constantly aspires towards the condition of music”, juis omdat musiek by uitstek die kunsvorm is waarin vorm en inhoud mekaar wedersyds deurdring onder leiding van ‘n soort “verbeeldingsrede” tot iets onvertaalbaars en onoordraagbaars. In sy beroemde gedig “Art poètique” (1874) het Verlaine bo alles musiek van die digter geëis, omdat die musiek deur die klank die dinge aan mekaar kan verbind. In Breyten Breytenbach se vertaling (1987:117) lui die vierde strofe:

2 Kyk bv. “Van mossies en meer” en “ballade van die mossie” in Angelliera, p. 5, 53.

Want ons wil wéér die Gradering,

Nie die kleur nie, slegs die nuanse!

O! Die nuanse alleen flans

Droom aan droom, die fluit aan die horing!

Cloete haal Verlaine se beroemde frase, “De la musique avant toute chose”, musiek bo alles, aan as titel van gedig XIII in die reeks Trigloop uit Driepas (p. 168) – ‘n gedig wat aantoon dat “daar genesing deur gloeiende klank [kan] kom”, omdat musiek “instrumente wat jubel en dié wat brom” versoen en daardeur ‘n gesig oproep, maar ook ‘n “geluidende mimikrie”. Mimikrie, nadoen, na-aap, naboots, is ook ‘n sterk deurlopende tema by Cloete.

“Muziek lokt van een ziel muziek weer los” is ‘n credo van Gorter se Mei. Die mooi lentemeisie Mei is ook ‘n verpersoonliking van die simbolistiese digter, betower deur die lied van die god Balder. Hy is blind en een en al oor, in staat om met sy musiek hele wêrelde tot stand te bring, maar uiteindelik ook volkome selfgenoegsaam en geïsoleerd. Die groot hartseer van die verhaal is dat Mei se poging misluk om met Balder te trou en so die verganklike en die onverganklike met mekaar te versoen. So ‘n versoening is onmoontlik, en sy moet sterf. Balder besef uiteindelik dat selfs musiek die sielsbeweginge nie genoegsaam kan uitdruk nie. Mei is vol musiek, maar, soos by die Simboliste, gaan dit nie net om die musiek as tema nie, maar veral ook om die musiek van die gedig self, die wonderwerking van die taalklank wat as ‘t ware fosfor oor die woorde stryk en ‘n vry lied bo die woorde laat uitsing, soos Leopold dit in “Emir Khosrau” (1977:123) gestel het.

Die waarde van musiek het Cloete (In Idiolek 1986:114) byvoorbeeld uitgedruk in “botoon ondertoon” waar hy skryf:

aan ons gemoed pas melodiese geluid

‘n onmiddellike teergevoelige huid

die musiek traseer

fyner en meer

en meer gehoorde

weet as die weet van alle woorde

Musiek word hier beskryf as ‘n soort vel wat presies om die emosies pas en as ‘n beter kenorgaan as woorde. Instrumentale musiek gee ook ‘n aanduiding van die grootheid van die emosies. Hierdie lof aan die musiek word egter gerelativeer deur dit in kontras met God se oor te plaas, wat oop is vir alle tale en veral alle gebede, ook die gebed van die vers. Die Kol Nidre geld in hierdie gedig as die groot voorbeeld van so ‘n gebed – die Joodse aandgebed op die Groot Versoendag waarin die gemeente vergifnis vra vir al die geloftes wat hulle aan God gemaak het (maar nie kon nakom nie) (Jacobs et al. 2002).

Cloete se gedigte is vol musiek en verwysings na komponiste, maar, soos ons in “Insinjes” byvoorbeeld al kon hoor, ook ryk aan klank en aan die gebruik van klank om ryk betekenismoontlikhede te suggereer. Die oor is by hom ‘n belangrike digterlike orgaan, miskien veral omdat dit ‘n orgaan is wat versamel. In “Die gedig is ‘n refleks”, (Driepas 1989:34) skryf hy immers:

die gedig is ‘n refleks

in ‘n enkele woord

en in dié woord hoor

die oor ineen ineens die teks

van die versamelde gedig

Die oor is egter ook ‘n orgaan wat God kan raakhoor en wat soms selfs namens God hoor. “Ps. 150” (Idiolek 1986:79) begin met die woorde

God laat Hom in in die klank

van ons taal resitatief ingeweef of tenoor

hoog.

Die oor hoor egter nie altyd die gefluister van God raak nie. In die donkerste fase van Allotroop staan daar ‘n groepie gedigte wat die diepste pyn vertolk. Pyn bring isolasie en eensaamheid (veral afstand van God), en dit word hier in liminale beelde uitgedruk. God moet die spreker weer soos ‘n skilpad regop dop en wegkyk, lui die gedig “omgedop”. In “lê en roer” (Cloete 1985:48) kan die spreker amper niks anders meer doen as om “aan die roer” te bly soos die “embrio in die moer” nie. Die slotstrofe lui:

kleef aan jou bed

die hemel is hol

en koud en ver verset

jou teen die dood wurmpropvol

Hierdie reeks gedigte, en dit sluit ook in “Job die tweede”, “teater a”, “artropatie” en “uiteindelike nag”, beskryf herstel as harde en doelbewuste werk aan die liggaam, as beraming, maar die verset is tevergeefs, die liggaam is reeds vol wurms. Die groot vrees vir die afsydigheid van God blyk ook uit “lê en roer”. Doodgaan is ‘n verlies van die self, van identiteit – saam met verlies aan plek en tyd. Selfs die woordjie ek het uit hierdie gedig verdwyn.

Juis hier in Allotroop waar die pyn en die dood hulle dieptepunt bereik, staan die gedig “Somnambule” (Cloete 1985:57):

ek die bedrieglike klein oor

kan van ent tot ent

van kontinent tot kontinent

die groot fluister afhoor

daar is ‘n onvermoeide ghong

wat onuitputlik

die tyd aanhits en aftik

die amegtige long

swel in ‘n vals ambraal

bevrees asem popelend smag

ononderbroke deur die nag

om permanent suurstof te haal

in ‘n skrynende afloskoïtus

soek die bloedharde fallus die sagte skoot

die vlesige huls snak na sproeiende skroot

hulle wil met bevreesde lewenslus

die dood besweer wil met soet bedrog

soet koïties stuiptrekkend

‘n verweer wees teen die skrikwekkend

gedempte gedrog

ek sê wreed wat ek weet

die parendes boor

mekaar doof pinkie in die oor

en gil vervaard vergeet vergeet

maar ek is die onverskrokke uitprater

wat snags deur die strate loop

en al die beskermende bloed

van die deurposte af kalfakter

die dag wil dit oordawer uitdender

die nag maak dit infrasonies stil

maar ek die groot gil

het ‘n kontinue megasender

my tong sit hulle agterna

ek sal hulle uit hul inslaap

tot ‘n finale suurstofgaap

uitmunch uitgoya

Die titel beteken sowel “slaapwandelaar” as, hoewel minder gebruiklik, “heldersiende persoon” (Frans somnambule, uit Latyn somnus, slaap, en ambulare, wandel)” (HAT). Die oor is hier die orgaan waarmee die spreker die waarheid hoor, en dit is nie die gefluister van God nie, maar wel die “vals ambraal” van die mense wat hulle “in ‘n skrynende afloskoïtus” verset teen die dood, die “skrikwekkend gedempte gedrog”. Ambraal is “‘n kinderspeletjie waarin die sieke kastig sterf, maar dan moleste maak” (HAT) – in hierdie geval dus ‘n soort dubbele bedrog pleeg.

In teenstelling met die “lijzige gefluister” van die Simboliste het ons hier ‘n oorverdowende geskreeu, uitgedruk in ‘n reeks hiperbole: oordawer, uitdender, megasender. Die digter is die uitprater, die groot gil wat al die beskermende lae afblaas en die mense as ‘t ware uitskel tot in die dood – uitskel in die taal van verskriklike skilderye soos Munch se “Gil” of Goya se “Heksesabbat”. Die gedig is natuurlik ook die digter se megagil teen die dood – hy stel sy werk, sy tong, doelbewus op teen daardie “gedempte gedrog”. Die gedig is ‘n uitskreeu teen die dood, en die hoop is dalk ook dat die digter, nes Munch en Goya, deur sy verset uit te gil, ‘n soort onsterflikheid kan bereik.

In teenstelling met hierdie megafoniese uitskel, kry ons ‘n meer tipies simbolistiese soort gebruik van die klank in die gedig “Syrinx” (Met die aarde praat 1992:8):

Asem en lippe en die slank litte van ‘n riet

is nodig, en vingers, en dálk verdriet,

dálk geluk, maar beslis onmisbaar is die mooi onvervulde

verlange, sodat dit teruggevind kan word in die verhulde

gedaante van die lang golwende tremologeluid

vrygestel in die vermomming van die rietfluit.

Tipies hier is die “onvervulde verlange”: die geluid reik uit na iets wat nie direk genoem word nie, maar weggesteek word in die verwysings na asem en lippe en riet en vermomming. Die verlange word ook ikonies in die spel met klanke uitgedruk: die alliterasie van v, r, l, [x] in onvervulde verlange, teruggevind, verhulde, vrygestel, vermomming en ook in die spel met vokale in verlange, teruggevind, in die verhulde gedaante van die lang golwende tremologeluid. Paradoksaal word die verlange vrygestel in ‘n vermomming.

Die klank en betekenis beskryf nie net die geluid van die rietfluit nie, maar suggereer ook ‘n tweede inhoud wat net vaagweg opgeroep word in die paradokse van “verhulde gedaante” en “vermomming”. Dit is naamlik ‘n verhaal uit die Griekse mitologie. Die persoon na wie verlang word, die een waarheen die klank uitreik, word in die titel genoem. In Larousse (New Larousse Encyclopedia of Mythology 1982:161) lees ons sy is die nimf Syrinx. Pan, die bosgod, het haar op ‘n dag agtervolg, maar sy het uitgeroep en haar pa, die rivier-god Ladon, gevra om haar in ‘n riet te verander, en hy het haar gebed verhoor. As troos vir sy teleurstelling het Pan toe van die riete gesny en daarvan ‘n nuwe soort fluit gemaak, wat hy die syrinx genoem het, oftewel die panfluit.

In Cloete se poësie is die verlange wat uitgedruk word in die tremologeluid ook die verlange na God, en dit is ‘n verlange wat sy poësie al sedert Angelliera (Cloete 1980:5) “simfanies” uitsing – soos ‘n groot simfonieorkes met talle klankkleure en -kontraste, maar ook fanaties, “dweepsiek, besiel met ‘n blinde ywer” (HAT s.v. fanaties).

Soos uit hierdie voorbeelde blyk, kreoliseer Cloete die Simboliste se opvattings oor musiek deur hulle in sy eie digterlike sisteem in te trek en veral ook te gebruik om ‘n tweede inhoud agter die musiek te suggereer – nie ‘n verre eiland agter ruimte en tyd nie, maar die teenwoordigheid van God as die Groot Samehang waarin elke ding met elke ander ding in verhouding tree.

 

7. DIE SIMBOLISTIESE TOON – KNOKKELTREK EN LASERASPAAI

 

Die uitskreeu teen die dood soos in “Somnambule”, die besef dat die gewone lewe onvolmaak en verganklik – “wurmpropvol” – is, is ook tipies simbolisties. “Eén ding is droevig”, kla Gorter in Mei (1976:56)

…en maakt zacht geklaag

Altijd om d’aarde heen, een nevel vaag

En luchtig om dat lijf: ‘t is wisseling

Van zijn en niet zijn en dat ieder ding,

Zielen en bloemen, drijven naar dat rijk,

Waar ‘t wit en stil is en den dood gelijk.

Selfs die pragtige Mei moet sterf as haar 31 dae verby is. Die lewe gaan verby en is vol onvolmaaktheid en sterflikheid. Die Simbolisme word gekenmerk deur ‘n diep hartseer oor die onvolkomenheid van mens en wêreld; ‘n tipies simbolistiese toon. Niks is volmaak nie; alles gaan verby en moet sterf. Anna Balakian het die simbolistiese toon beskryf as:

the state of mind of the poet who is haunted by the cruelty of Father Time and the imminence of death. It is an engrossment with self and with the mysteries of an inner fixation on the incomprehensible limits of life and death; it is the delicacies of the oversensitive.( 3 Anna Balakian, The Symbolist Movement, aangehaal deur Grass (1984:231) – vgl. ook Gilfillan (1993:601).

Allotroop is ‘n bundel van pyn in sy verskillende vorms. Die “groot kneus” en die “groot vermink” soos die dood in “in memoriam brezjnjef” (p. 77) genoem word, is volop aanwesig in die bundel. “Die gruwelike uiteindelike skande” van die dood is dat dit ‘n soort perverse seksuele klimaks uitmaak: “die oë staan van die klimaks albasterstyf” (“skande”, p. 73). ‘n Reeks in memoriamgedigte volg daarop – “in memoriam m.” (p. 75), “in memoriam herman” (p. 79), “Allofrasie” (p. 81) wat ter gedagtenis aan D. geskryf is – almal getuienis van “hoe die dood mens trefseker binnehaal” (in die woorde van lg. gedig).

Die bundel word egter gedra, van die begin af, deur die gedagte wat in “Wakker word” (p.12) uitgedruk word:

…Mooi drome woel om ons ‘n hoos.

Nagmerries maak oop. Oorverdowend

polsend in ‘n sinestetiese dik smoor

ontstaan die dag. …

…Dit is ‘n wonder: uit wat afstoot

en ontroer, wat knel en beroer, walg en bekoor

ontstaan daar tog leefbaar ‘n sintoon.

Uit die saambroei van drome en nagmerries, uit die saamkook van vrees en verwagting (“smoor”), ontstaan die dag. Die saamdink van die teengesteldes, ook dié wat “walg en bekoor”, bring iets nuuts en anders tot stand, naamlik ‘n “sintoon”. Hierdie nuwe woord bevat “simptoom”, iets wat iets anders aandui, maar ook “sin-toon”, singewende toon of geluid; iets wat leefbaar maak.

Die sintoon is die gedig self, wat die negatiewe en veral die pyn kan oorkom deur dinge in die bewussyn saam te trek in ‘n oorkoepelende verband. “Hoos” is een van Cloete se geliefkoosde woorde vir hierdie samehang, wat meestal net in gelowige onderwerping raakgesien kan word.

Die gedig is uiteindelik die digter se beter konstruksie of plaasvervanger wat dood en sterflikheid kan teenwerk – by Cloete nie soseer in en deur sy fraaie vorm nie, maar omdat dit iets van die groot geheel in hom versamel.

“Ons almal” (Driepas 1989:137) beskryf hoe familie en vriende saam vasgevang is in “alleenwees” en “hartseer se leegtes”, almal uitgelewer is aan verganklikheid. Die liefde is hier ‘n spinnerak waarin almal vasgevang raak. Dit is ‘n soort eensaamheid en leegte wat nie in woorde uitgedruk kan word nie:

ons sit almal saam

vas in die spinnekop

se mooi net van die liefde – stadig vreet sy ons op

een vir een eensaam tot harde leë beentjies en windligte dop.

Driepas eindig egter nie op hierdie somber noot nie, maar wel met die speelse reeks Stokkiesdraai (p. 186 e.v.) – ‘n reeks heerlike verbeeldingsreise wat die spreker onderneem deur verskillende Westerse wêrelde en stede. Die reeks is vol interteks tuele verwysings en die digter put kennelik plesier daaruit om woorde uit die simbolistiese woordeskat, soos “vagant”, “deerne”, “taveerne”, deel te maak van die Afrikaanse rymwoordeskat.

Die reeks eindig met ‘n gedig wat juis ‘n triomf oor die dood verklaar (Nr. XIII) (Cloete 1989:190):

Vermetel in die groot knokkeltrek

loop ek seervoet, dra laseraspaaie

en boeke, gansveerskagte; met my poëtolek,

my musiekinstrumente en hart en lense loop

ek melkweë, drentel stokkiesdraaie

in stegies, maak in die verloop ‘n knoop

en die cul de sacs loop ek oop.

vir Bunyan en Golyas.

Hierdie moderne pelgrim oorkom met sy digterlike instrumente “die groot knokkeltrek”, dit wil sê die trek na die knokkel- of knekelhuis – daar waar jou beendere bewaar word as die begraafplaas te klein geword het. Hy loop, hy drentel, hy flaneer, soos Baudelaire, tot in die melkweë in. Hy stel dus sy kreatiewe vermoë teenoor die dood. “Laseraspaaie” is ‘n nuwe vinding van Cloete, afgelei van die wegkruip spele tjie Aspaai (in Engels, “I spy”). ‘n Laseraspaai is dus ‘n laserspeletjie of ‘n laserkyktoestel soos ‘n laserverkyker. Hoewel uiters modern is die spreker ook ‘n tradisionele pelgrim met boeke onder die arm en gansveerpen agter die oor. Met sy digterlike taal sal hy die dood oorwin, die doodloopstrate ooploop.

Soos hierdie reeks gedigte illustreer, en die baie meervoude dui dit onmiskenbaar aan, funksioneer Cloete se poësie op ‘n baie algemene, universele vlak, al is dit ook propvol name van spesifieke plekke, plante en diere. Sy versamelsien is ‘n universele, kosmiese manier van kyk wat sterflikheid in die algemeen, as universele menslike kondisie, raaksien. “Laseraspaai” is, nes “sintoon”, ‘n metafoor vir die gedig self. Die laser is een van die lense waardeur Cloete kyk – ‘n instrument waarmee sy naaldekokeroog, soos hy dit noem in sy opstel oor die digter se omgaan met die werklikheid (Cloete 1994), nog beter kan versamel en nog meer fasette van God kan raaksien. “Laseraspaai” dui vir my ook ‘n belangrike faset van sy kreolisering van die Simbolisme aan, naamlik dat hy die Simbolisme moderniseer – met moderne begrippe, in moderne taal en met eietydse tegnologie die ryk verskeidenheid van die skepping afloer, aspaai.

In hierdie proses word die teorie van korrespondensies ook gemoderniseer.

 

8. KREOLISERING VAN DIE KORRESPONDENSIES: VERBAND EN

ENTELEGIE

 

Korrespondensies tussen die dinge is ‘n kerngedagte in Cloete se poësie. Dit skakel onder andere sterk met die samehangsgedagte in Gorter se Mei. Een van die mooi gedeeltes uit Mei (Gorter 1976:78-9) waarin hierdie gedagte uitgedruk word, is die beroemde gedeelte oor die “fyn essensie” in alle dinge:

Er ligt in elk ding schuilend fijne essence

Van and’re dingen. Daardoor word een mensch

Als een piano, zóó dood, maar besnaard.

Nu eens rilt één snaar, dan d’aâr, naar den aard

van elk geluid buiten, soms, te gelijk

Heel veel. Dat maakt ook een stil arm mensch rijk

Die essensie het in hierdie geval veral met klank te make: die essensies raak die mens aan soos klanke ‘n klavier en maak hom ryk. Die mens raak bewus van sy samehang met alle ander dinge.

In Jukstaposisie (1982:42-47) staan ‘n reeks gedigte met die titel “Fyn vrugbare essensie” en met hierdie woorde van Gorter as motto. Die eerste gedig in daardie reeks, “Landwandeling”, beskryf hoedat die diere, mense en insekte mekaar naboots of afloer, by mekaar steel, mekaar na-aap; kortom, op talle maniere ooreenkom met mekaar, korrespondeer. Die reeks ontwikkel deur verskillende fases van dinge wat “los uit hulle verband dryf” en loop uiteindelik uit op die gediggie “Sweef”:

snags as van die aarde af uit my oog rondom

in die hemel in stengels lig waaierend uitstrek

tot die sterre aan hulle punte toe sit ek

in die saadkern van ‘n onmeetlike disselblom

Die spreker ervaar homself hier as in die kern van ‘n kosmiese disselblom; die onmeetlike sterrehemel en die nietige disselblom herhaal mekaar – korrespondeer met mekaar. As slotsom  van die reeks bevestig die gedig die groot verband tussen die onmeetlike kosmos en die nietige aardse ding en besweer die verbandloosheid. Alles het hulle plek binne die oorkoepelende verband; die ek-spreker natuurlik ook.

Jukstasposisie is vol sulke beelde van samehang, maar ook vol skrikwekkende beelde van ‘n gebrek aan verband, en tog kom alles ten slotte bymekaar in een groot samehang, soos in “E pur si muove”.

Beelde van ‘n gebrek aan samehang of ‘n vrees daarvoor, word ontstellend uitge beeld in “Voëls” (p. 72) en in “Job” (p. 32). In “Voëls” ervaar die spreker hoe verskillende voëls deur sy brein vlieg, edel en verhewe, of gewoon, maar dan eindig die gedig –

met ‘n skugter aandoenlike geroep onvoldaan

ewig deur sy onuitputlike uitputtende verbeelding gepla

rusteloos verlangend onbevredig dromend Zeus se swaan

op soek na Leda en Leda

In hierdie gedig identifiseer die spreker hom met die swaan en sy vermoeiende verbeelding en onbevredigbare verlange. Swane sing volgens oorlewering mos net eenmaal, en dit is voordat hulle sterf. Die gedig getuig van ‘n totaal onbevre digbare uitreik na die geliefde, die verre prinses, wat ook in die slotverse nageboots word – ‘n soort swanesang – “Leda en Leda”. Die swaan is ‘n geliefde beeld van die Simboliste (Forestier 1984:106), veral vir die onbegrip van die massa vir die kreatiewe verbeelding.

Die slotgedig van Jukstaposisie bevestig die samehangsgedagte weer baie sterk. Die titel daarvan, “E pur si muove”, is volgens oorlewering Galileo se woorde nadat hy sy opvattings dat die aarde om die son draai, moes terugtrek: “En nogtans beweeg dit”. Dit is ‘n gedig vol van die bewegings op aarde, wat pragtig saamgetrek word in die slotverse van die twee laaste strofes:

die kern is vuur

van harde en sagte reënbuie

en wind is die hemel vol dit is alles

eendragtig saamgekleef tot ‘n kloot gekruie

sáám met sonne mét mane

mét meteore en komete en óns

orent geheg aan hom

aan ‘n soet ronde vrug fyn digte dons

Mense is met ander woorde geheg aan die aardbol soos die fyn dons aan ‘n perske – die aarde en die perske herhaal mekaar – natuurlik soos mens en die aarde geheg is aan Hom met ‘n hoofletter, God.

“Eendragtig saamgekleef tot ‘n kloot gekruie” illustreer juis dat kreolisering te doen het met die vermenging van tale. Die vers is ‘n dubbele metafoor, en die sleutel daarvoor is “gekruie” – dit wat saamkleef, wat gekruie word, soos ‘n gewone frikkadel – maar hier is die kruie eintlik die geure van vuur, water en aarde wat die planeet se winde aanwaai. In die 17de eeu was kloot die woord wat die saamhang van alles op die aardbol uitgedruk het, maar in Afrikaans en in moderne Nederlands het dit veel meer die betekenis gekry van “teelbal”, “testikel”. Hier kruis die digter die 17de-eeuse betekenis met die moderne een én hy skryf homself in die proses in, want soos hy baie goed weet, is Cloete ‘n Middeleeuse vorm van kloot. ‘n Mens kry nogal dikwels, byvoorbeeld in die reeks Stokkiesdraai, dat Cloete Nederlandse (en Franse, Duitse, Latynse en Engelse) woorde “inmeng” in sy gedigte – hulle met ander woorde kreoliseer – met ‘n vervreemdende, poëtiese effek.

Idiolek bevat heelwat voorbeelde daarvan. Cloete maak van canvas “kannevas” (“koppelia”, p. 14). “Rabiës” laat rym hy met “pes” (“Artefaktereëel”, p. 16), “hê” met “Perpetuum Mobile” (“Mercury”, p. 87) en “Centre Court” met “word”, “Dachau” met “tou” en “Porsche” met “forse” (“Modern times”, p. 28). In laasgenoemde gedig het Afrodite ‘n kind “op haar je t’aime-skoot”. “Mieraanbidders op kyalami” raak gefassineer deur ‘n “übermenschliche prestasie” (p. 26). In “Babbelwaggel” praat die spreker onder andere van die mens se “homo erectus-postuur” (p. 35). Dit is deel van Cloete se geleerdheid maar getuig ook van sy modernisering van die poëtiese taal in Afrikaans.

Die fyn essensie werk in Cloete se verskillende bundels op verskillende maniere deur, en telkens vind hy sentrale metafore vir hierdie samehang: jukstaposisie (volgens die motto voor in die bundel die profeet van Allah), allotropie, idiolek, trigloop, entelegie, nuuskierigheid. Die groot geheel, die omvattende verband is God, en Hy word in Cloete se poësie op honderde maniere – en dan meestal op ‘n simbolistiese manier – opgeroep, gesuggereer. Réna Pretorius het al geskryf dat die kerntema van Cloete se poësie “die harmoniese saam-hoort van alle dinge in God se skepping” is (1998:350). Nie dat alles in die skepping egter altyd so harmonies is nie.

Allotroop (1985) is die bundel wat die baie verskillende vorme van God, analoog aan die verskillende vorms waarin sekere elemente kan voorkom, beskryf. Pyn is hier die vernaamste simptoom van God se besig wees met die mens; pyn dui God se allotropie aan. Vorms en variante van pyn is daarom van kardinale belang in die bundel, maar nog steeds binne die saamdink van dinge, en selfs die saamtrek van woorde in verskillende vorms. Dit blyk byvoorbeeld uit die talle saamgestelde en saamtrekkende titels, vergelyk bv. “trugtaal” (p. 9), “lipkramp” (p. 15), “gagaballade” (p. 29), “uitvraroep” (p. 34), “meelyfvoel” (p. 35), “miermoord” (p. 64),

“laataandnuus tv” (p. 67), “idiomaaltyd” (p. 31), “uniseks” (p. 55), “amalgaam van die nag” (p. 40). Dit is waarskynlik die bundel waarin Cloete die meeste met die vorm van die woord, die morfologie, gespeel het.

‘n Ander kernaspek van die korrespondensies by Cloete blyk uit “Vroue van Vermeer” (Driepas 1989:38). Hier sien ons hoedat die kleine en beslote ruimte binnenshuis deurlig word deur die onmeetlike en universele – terwyl dit tog ook ‘n suggestie (“ligte geruis”) van ‘n ander wêreld, van die geskiedenis van daardie tyd bevat:

… En altyd is daar lig wat áfstraal

ín in die liefs klein afgemete vertrek,

oorvloedig, uit die oop grote

universum en wat die klein aardse geslote

stilte in die onmeetlike laat asemhaal.

Deur die lig word die onmeetlike en die klein beslote ruimtes op ‘n besondere manier met mekaar verbind. Die lig oorskry die grense van ruimte en tyd en open nuwe moontlikhede. Die gedig beskryf nie net ‘n saambestaan nie, maar ‘n dinamiese en veelkantige interaksie, soortgelyk aan die rustelose beweging van “E pur se muove”. Hoe alles veral dinamies met mekaar saamhang, word saamgevat in twee van Cloete se mees geliefde woorde: “hoos” (warrelwind) en “spiraal”.

Ten spyte van hierdie dinamika beskryf Cloete se poësie meestal elke unieke ding op sy unieke tyd en plek in die geheel, wat ander dinge wel weerkaats, nadoen of na-aap, maar steeds afsonderlik bly. Kategorieë word baie selde gekruis of vermeng, behalwe in Cloete se veelfasettige digterlike visie wat dikwels met komplekse begrippe aangedui word. Voorbeelde daarvan is die digterlike instelling wat in “goedweteronderhouer” aangedui word as “my taaldinkversameling” (Cloete 1986:131). Die gedig “ubiquiteit” het wel ‘n basterwoord as titel, maar dit beskryf die uniekheid en verskeidenheid van die “onnoembaar baie” dinge waarin en waardeur die digter God ervaar en raaksien in “sy deurlopende multimultimeervoud” (Cloete 1986:133-4). Die uniekheid van elke ding het sy plek in God se groot samehang, in die groot “chain of being” – ‘n nederige Vredefortse moeder en “die mondaine moerige Madonna”; “sterre en planete” en “bakterieë en amfi bieë”; sowel morone as genieë.

Cloete bring dikwels teengesteldes soos hoog en laag, groot en klein, mooi en lelik met mekaar in verband. “Wat walg/ van mekaar word speels ingedeel/ in mekaar deur die ekspe rimenterende Taksonoom” skryf hy in “Swerf” (Jukstaposisie 1982:45). Die gedig beskryf ook hoedat “atome swerf deur die hond na die luis”, “tussen die alg en die komeet”. Daarmee gee Cloete ook ‘n moderne natuur wetenskaplike rasionaal vir die korrespondensies: alle dinge deel naamlik atome, molekules (en sommiges DNS ook).

Dit is dus by uitsondering dat ‘n mens gemengde vorms in Cloete se poësie aantref. Een daarvan is die spinnekop (Met die aarde praat 1992:55):

Met ‘n gorilla se voorkop en starende oë

– was die Verbeelding lus vir ‘n grap? –

kul hy die taks van alle teo- en entomoloë.

‘n Ander een is “seeperdjie” (Heilige nuuskierigheid, p. 24). “Hierdie verbluffende kieranggeval” is ‘n vermenging van ‘n perd se kop, ‘n vark se snoet, ‘n kangaroe se buidel, ‘n kameleon se oë – boonop met ‘n aap se stert wat spiraal soos “‘n melkweg” of “‘n duisendpoot wat slaap”. Vermenging beteken by Cloete selde dat spesiegrense oorskry word. Veel eerder omvorm of kreoliseer hy die simbolistiese tradisie op ‘n kenmerkende manier deur daarvan, in een van die sentrale metafore van Met die aarde praat, entelegie te maak. Hy laat met ander woorde sien “hoe die allerwysste wysheid ingebroei is” in alles, soos hy dit in die gedig “Entelegie” (Cloete 1992:52-4) omskryf. Daardie gedig bevat ‘n lang lys van sulke entelegieë wat die “vormgewende oorsaak verwerklik”, “die doel realiseer”; die krag uitdruk wat “die lewe lei en rig” (WAT II: 562 kol 3b). Dit is alles maniere waarop verskillende elemente van die heelal, groot of klein, natuurlik of mensgemaak, vir die mense asof deur ‘n refraktor die God van liefde sigbaar laat word.

Selfs in die dood bly die bewussyn van afsonderlike vorms en hulle hiërargiese ordening behoue. Die “Paddaman” (Driepas 1989:171) verwonder hom aan “die nadoen van meer as een gedaante van die skyn” en bevat ‘n lang lys van “die mooiste en oorspronklikste vorme” wat God wegsteek onder die see. Dit eindig met ‘n wens:

Ek sal graag in hierdie baie vorme wil hoort.

Charon, as ek van die geliefde aarde sterf,

gooi my dan asseblief hier oorboord

waar ek suksessief van vorm tot vorm kan bederf

Die spreker in Heilige nuuskierigheid stel ook baie belang in stambome en in afstamming van ander spesies. In “stamboom 3” (Cloete 2007:63) word ‘n ander onderhoud met ‘n bobbejaan gevoer, teen die agtergrond van die afdeling se motto wat die aap assosieer met die duiwel, paganisme, lus, onheiligheid en boosheid. Die spreker identifiseer hier nie met Bybelse diere soos die donkie of die vis nie; hier is hy “u bobbejaan” – die duiwelse en onbybelse aap.

verdra my met geduld, verstaan

ek smeek ek is ú bobbejaan…

diep in my iewers is iets infinitiewe Is

is daar ‘n donker poel vir helder vis

iets van die vis het ek ín my nog oor

iets van die vis het ek behou

ek wat soos dawid fyn

geweef is in ‘n plaaseenvoudige boervrou

se skoot al het ek soos ‘n paddavis

in die begin gelyk of soos ‘n akkedis

God Alchemis

wat goud uit gas maak en ‘n parkiet

kan omtoor uit ‘n akkedis

en uit ‘n aap ‘n heilige leviet

en priesters en ‘n pous God speen

van hierdie aap in my die vis

Natuurlik sou die bobbejaan eerder digterlike voorouers soos die perd (Pegasus) of die dolfyn wou gehad het. Wat egter hier anders is as in die res van Cloete se werk, is dat die spesies nie meer langs mekaar gesien word nie, maar in mekaar. Die vis verteenwoordig Christus, maar wys ook hoedat (bose) vorms omgetoor word tot heiliges. Evolusie is hier ‘n soort kreolisering van vorme, wat op sy beurt die resultaat is van die heilige nuuskierigheid. In hierdie bundel word die groot samehang dus in ‘n evolusionêre sin verstaan. Die vis in die aap is ‘n merkwaardige nuwe soort saamverstaan, of dan kreolisering, waarmee Cloete se werk uit die oneindige herhaling binne die geslote stelsel van korrespondensies (vgl. Viljoen 1995) kan ontsnap.

 

9. SLOTSOM

 

Cloete het die taal van die Simbolisme uitgebrei met talle tipies Suid-Afrikaanse elemente. Hy het Afrikaans se poëtiese woordeskat aansienlik uitgebrei met talle vreemde woorde en nuutskeppings en die uitdrukkingskrag van Afrikaans vergroot deur dit te kruis met woorde uit talle verskillende tale. Deur die Afrikaanse poësie te moderniseer en uit te brei veral met natuurwetenskaplike begrippe het Cloete ons dink, verstaan en praat oor die onsienlike en onbegryplike geweldig verbreed. Hy het met ander woorde die godsdienstige woordeskat in Afrikaans – veral die middele om die verborgenheid van God mee uit te druk – aansienlik verruim deur honderde insinjes, tekens, spore en vergelykings van God in die boek van die natuur raak te lees.

Dit lyk my asof die simbolistiese trekke in Cloete se later bundels meer eksplisiet word, maar eintlik is die tipiese manier waarop hy die Simbolisme kreoliseer, in een van sy ander groot woorde uit “Suidpool en senit” (Angelliera, p. 2), dat hy die simbolistiese tradisie deologiseer – God in alles sowel bewus waarneem as spontaan ontdek. Deologies sien hy die skepping as ‘n dinamiese heelal wat vol teenstrydighede tog saamhang in God – biegbang en evolusie inkluis. Soos ek aangetoon het, word hierdie manier van kyk wesenlik bepaal deur ‘n onderliggende simbolistiese poëtika. Die wyses waarop Cloete die Simbolisme kreoliseer, lê sy digterskap in sy uniekheid en bedwelmende rykdom bloot.

 

BIBLIOGRAFIE

 

Baudelaire, C. 1988. Les fleurs du mal; Les Épaves, Bribes, Poèms divers, Amoenitates Belgicae (A. Adam,

ed.). Paris: Éditions Garnier.

Bisschoff, A. 1993. T.T. Cloete – Transformasies van die Simbolisme in Driepas en Angelliera. In

D.H. Steenberg (red.), Simbolisme in die Afrikaanse digterlike tradisie. Potchefstroom: PU vir CHO.

Boshoff, S., & Nienaber, G. 1967. Afrikaanse etimologieë. [Pretoria]: Suid-Afrikaanse Akademie vir

Wetenskap en Kuns.

Breytenbach, B. 1987. Boek (deel 1); Dryfpunt. Emmarentia (Johannesburg): Taurus.

Chadwick, C. 1971. Symbolism. The Critical Idiom, vol. 16. London: Methuen.

Cloete, T. 1980. Angelliera. Kaapstad: Tafelberg.

Cloete, T. 1982. Jukstaposisie. Kaapstad: Tafelberg.

Cloete, T. 1985. Allotroop. Kaapstad: Tafelberg.

Cloete, T. 1986. Idiolek. Kaapstad: Tafelberg.

Cloete, T. 1989. Driepas. Kaapstad: Tafelberg.

Cloete, T. 1992. Met die aarde praat. Kaapstad: Tafelberg.

Cloete, T. 1994. Die digter se omgaan met die werklikheid. Ensovoort, 6(1): 6-7.

Cloete, T. 1998. Uit die hoek van my oog. Kaapstad: Tafelberg.

Cloete, T. 2007. Heilige nuuskierigheid. Kaapstad: Tafelberg.

589

Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Jaargang 49 No. 4: Desember 2009

Spesiale uitgawe – Huldiging: T T Cloete

Crystal, D. 1998. Pidgins and Creoles In Crystal, David H. (ed.). The Cambridge Encyclopedia of Language,

vol. 2. Cambridge: Press Syndicate of the University of Cambridge.

Dekker, G. (samest.). 1971. Van Bilderdijk tot Gorter; Bloemlesing met inleiding en aantekeninge van G.

Dekker en T.T. Cloete. Uit die skat van die Nederlandse liriek, vol. III. Pretoria: J.L. van Schaik.

Forestier, L. 1984. Symbolist imagery. In A. Balakian (ed.), The Symbolist movement in the literature of

European languages. Budapest: Akadémiai Kiadó, pp. 101-118.

Gilfillan, F. 1993. Wilma Stockenström en die Simbolisme. In D.H. Steenberg (red.), Simbolisme in die

Afrikaanse digterlike tradisie. Potchefstroom: PU vir CHO, pp. 600-610.

Glissant, É. (1990). 2006. Poetics of relation (B. Wing, Trans.) (2nd printing). Ann Arbor: University of

Michigan Press.

Gorter, H. (1889). 1976. Mei; Een gedicht (E. van Heerden, red.). Kaapstad & Pretoria: Academica.

Grass, R. 1984. The Symbolist mode in the Spanish American Modernista novel, 1995-1924. In A. Balakian

(ed.), The Symbolist movement in the literature of European languages. Budapest: Akadémiai Kiadó,

pp. 229-252.

Jacobs, J., Schloessinger, M., Adler, C., & Cohen, F. L. 2002. Kol Nidre. http://www.JewishEncyclopedia.

com The Kopelman Foundation. [18 Augustus 2007].

Kloos, W. 1971. Inleiding. In G. Stuiveling (red.), Jacques Perks gedichten volgens de eerste druk (1882).

Culemborg: Tjeenk-Willink-Noorduijn, pp.52-60.

Leopold, J. 1977. Verzen, Fragmenten (P. Van Eyck, red.) (Verzameld Werk, deel 1). Amsterdam: Van

Oorschot.

Myburg, J. 2009. Réunion, eiland van vlam, vurige vog en vanielje. Reisberig. Beeld (Naweek-Plus), 9 Mei:

3.

New Larousse Encyclopedia of Mythology (F. Guirand, ed.) (R. Aldington & D. Ames, trans.) (2nd edition,

16th impression). 1982. London: Hamlyn.

Odendal, F., & Gouws, R. (reds.). 2005. HAT. In HAT Verklarende handwoordeboek van die Afrikaanse taal

(5de uitgawe). Kaapstad: Pearson Education South Africa.

Oversteegen, J. 1982. Beperkingen. Utrecht: HES.

Parmeé, D. (ed.). 1966. Twelve French Poets; 1820-1900; An Anthology of 19th Century French Poetry.

London: Longmans.

Pater, W. (1893). 1917. The School of Giorgione. In The Renaissance; Studies in art and poetry. London:

Macmillan, pp.130-154.

Pretorius, R. 1998. T.T. Cloete (1924-). In H.P. van Coller (red.), Perspektief en Profiel. Pretoria: Van Schaik,

pp.339-361.

Roland Holst, A. 1971. Verzamelde gedichten. Den Haag; Bussum: Bert Bakker; C.A.J. van Dishoeck.

Schutte, H. 1984. ‘n Poëtika van korrespondensie: Angelliera en Jukstaposisie. In H. Viljoen, I. Gräbe, E.

Jooste & D. Steenberg (reds.), In teen die groot vergeet. Potchefstroom: PU vir CHO, pp.93-107.

Schwegler, A. 2003. The linguistic geography of ‘criollo’ in Spanish America. In G. Collier & U. Fleischmann

(eds). A pepper-pot of cultures. Amsterdam: Rodopi.

Steenberg, D. (red.). 1993. Simbolisme in die Afrikaanse digterlike tradisie. Wetenskaplike Bydraes van die

PU vir CHO; Reeks A; Geesteswetenskappe, vol. 81. Potchefstroom: PU vir CHO.

Viljoen, H. 1995. Die fenomenologie van T.T. Cloete. Literator, 16 (3), November: 43-59.

Viljoen, H., & Van der Merwe, C. N. 2007. Beyond the threshold: Essays on liminality and literature. New

York; Potchefstroom: Peter Lang; Literator.

Wellek, R. 1984. What is Symbolism? In A. Balakian (ed.), The Symbolist movement in the literature of

European languages. Budapest: Akadémiai Kiadó, pp.17-28.

Yeats, W. 1990. Selected poetry (Ed. with an intro. and notes by A. Jeffares). London: Pan Books.

Young, R. J. 1995. Colonial desire; Hybridity in theory, culture and race. London & New York:

Routledge.