Posts Tagged ‘Helize van Vuuren Die na-dood’

Helize van Vuuren. Breyten Breytenbach se Die na-dood (2016)

Friday, November 18th, 2016

die na-dood breytenbach

Breyten Breytenbach se Die na-dood (2016):

’n Afrika-sprokie of ontstaansmite oor blindemolle en ’n koningin met “’n ware towerstaf”

“Die jare gaan verby…maar mens se sondes is geneig om jou in te haal. Eintlik was dit sommer lawwigheid van my en ek was aan die begin nogal half trots dat niemand my uitgevang het nie. Ek wil darem byvoeg dat “plagiaat” nie slegs so oud (en verslete) soos die mensegeskiedenis is nie – want wie skryf nie na of oor nie? – maar dat dit ook ’n huldebetuiging is. Mens steel immers slegs dit wat jou aanspreek, dit waarmee jy dink jy kan werskaf, van die bron waarmee jy jou kan vereenselwig.”

(Breyten Breytenbach in ‘n kommentaar oor “Niklaas Abraham Izak Liebenberg” se fiktiewe bundel, Die eerste gety (1971). Versindaba, 23 Oktober 2013:

http://versindaba.co.za/2010/10/15/debuutwerke-in-die-afrikaanse-poesie-1944-2002/  )

Ure, dae, maande – ’n hele volle jaar het ek gestoei met Die na-dood – om te probeer begryp waaroor dit gaan en waarom dit so onpoëties is. Sopas het die lig gedaag. Die na-dood is ’n laslappiekombers van raapsels en skraapsels, van woordspore van herwaarts en derwaarts (baie van Litnet en Versindaba bydraers: lesers, digters, resensies. Die meeste kom uit die periode van 2014-2015). Aanmekaar geheg aan die mees vae algemene elemente met ewigheidswaarde binne ’n narratief van ’n pelgrim op reis (klip, berg, huis, see, boot, nag, dag) met skuim en lym, soos die digter opmerk aan die slot van sy laaste versamelbundel, Die singende hand. Slim verby! So slim “dat byna niemand dit wou vat nie” (Tristia, 1962), al is diep onderlangs op stoepe van die Kaap tot in Wenen gebrom oor ’n “insinking”.

Die waarheid is eenvoudig, en absurd: die bundel bevat ’n blufspel, om te toets of enigeen sou agterkom as hy woorde (meesal beelde) en frases van ander digters insmokkel, dit aanmekaar weef met sinledigheid en dit dan onder sy eie naam presenteer. Dié gesprek oor “digterlike duimafdrukke” het al op Versindaba begin in September 2013 (http://versindaba.co.za/2013/09/19/plekgedig-22-johannesburg-witwaterwyser/#comments).

’n Toets dus vir lesers, veral resensente. Ook ’n uitdaging, ’n toets van sy eie statuur, om te kyk wie durf na soveel jare reguit seg: “Dis minder geslaagd”. En tot dusver nog geen inkelte een… In die resensies wat verskyn het was besonder hooggestemde lofsange (veral Tom Gouws, maar ook Daniel Hugo), as sou die bundel geen enkel verskil van styl toon met ander Breytenbach-bundels nie. Daar is wel elders die vermoede uitgespreek dat dit oorblyfsels sou wees (Hambidge), en gewonder oor wat die “valstrik” sou wees (Van Vuuren).

In Die na-dood is die ru-materiaal beelde uit die skryfsels van digters, lesers, kritici van toeka tot nou, van hier en wêreldwyd. Hulle is almal daar, meesal in woordspore: “kwartels op sy” van Sheila Cussons uit Plektrum, ’n “doringheining” vlak “(L)angs die pad” vir Totius se “Vergewe en vergeet”, Leipoldt se Oom Gert vertel wie se hart nie wou bedaar, Van Wyk Louw se “Rondloper”…tot diep in die een-en-twintigste eeuse internasionale digters. Ook lirieke van sangers. Van A tot Z, van Celan-agtige neologismes tot Leonard Cohen (vergelyk “hartkraak” en talle ander krake met, “there is a crack in everything”, en sy “Tower of song” met “Toring van stilte”). Van Griekwapsalms in die gebed vir die Noord-Kaap (Hans du Plessis) tot kritici.  Vergelyk die openingsgedig, “Opsomming”: waar sou so ’n abstrakte parafrase ooit ’n gedig kon wees? Die vers bevat min of meer een beeld – “verkluimde trekganse in die sneeu”. En orals is doelbewuste feitefoute, teenstrydighede, spelfoute, ongrammatikaliteite (bv. “soos in nou” vir “dadelik” in die gebed om reën vir die Noordkaap) – as verwysings, met spesifieke funksie, maar tot dusver deur geen enkele kritikus opgetel nie. Kwartels hou nie in loekwartbome nie (titel van afdeling 4), maar onder bosse of vleie. ’n Boot met “gestrykte seile” kan nie “wegvaar” nie (“Ons gedig”, 2016:39). Dié foute is klaarblyklik daar om lesers attent te maak daarop dat dinge nie is soos hul voorgee om te wees nie. Daar is meerdere bodems…

Met Die na-dood het hy orals leidrade gelaat – soos aan die slot van Die singende hand, en rondom sy onlangse verjaardag op Versindaba, in bydraes daar. Sien veral die handleiding oor Carl Thunberg se Marmota Africana (die Kaapse mol en sy familielid, die Namakwalandse duinemol, te lese as ’n beeld van die wit en bruiner Afrikaanssprekendes), en sy skilder-metodologie as parallel vir die ars poetica in hierdie bundel. Die mees singewende elemente is die verwysings na Afrikaanse woorde of begrippe wat die herkoms van die taal aandui: Khoi of San in “koekemakranka” en “noem-noem”, Maleis-Portugees in “katjiepiering”, Frans en die “dubbele ontkenning” in die druiwetros waaraan in ’n vers gepeusel word, plus die harde gutturale “g”-klanke in “Ons gedig” (die “koninginneboot” waarin hierin gevry en gereis word, is nie dié van die Koningin van Engeland nie, maar van die Afrikaanse Taal). Al voorgaande elemente roep die eintlike onderwerp van die bundel op, “Die Afrikaanse Taal”, as die beminde vrou en die “juweel in die goue lotus”, waaraan die bundel opgedra is. In 1896 het Jan Lion Cachet (1838 – 1912) die taal só laat praat:

.

Die  Afrikaanse Taal

 

 Ek is ’n arme Boerenôi,

      By vele min geag;

Maar tog is ek van edel bloed,

       En van ’n hoog geslag.

Uit Holland het myn pa gekom

       Na sonnig Afrika;

Uit Frankryk, waar die druiftros swel,

       Myn liewe, mooie ma.

.

Hul skel my uit vir Hotnotsmeid,

       Maar ek gee daar nie om;

Want aan my lippies kan jy sien

        Van wat geslag ek kom.

Soet vloei die woordjies uit myn mond;

        Dit het ek van myn ma;

Maar as ek bid, dan hoor jy wel,

       Ek is ’n kind van pa.

.

Myn sussie wat uit Holland kom,

        Die hou verniet haar groot:

Die lug is alte skerp vir haar,

         Sy is al amper dood.

Die dokters kom nou bymekaar,

        Hul maak tesaam ’n “Bond” ;

Maar tog met al die doktery

        Word sy nooit weer gesond.

.

Myn niggie met haar stywe nek,

         Die loop in rooi satyn;

En baing jonkmans loop haar na;

        Sy denk hier baas te syn.

Maar as die awenduurtjie kom,

        Dan is die klomp by my:

Dis  “hartjie” voor en “hartjie” na:

         ” Laat ons ‘n bietjie vry!”

.

As ek maar eers myn vryer het,

        ’n Digter vol van moed;

Een wat my om myself bemin,

         En nie maar om my goed;

Wanneer dié vryer tot my kom,

         Vat ek hom by die hand,

En maak ek hom, hoe swak ek skyn,

         Nog koning in die land.

.

Want ek het onder in myn kis

         ’n Ware towerstaf,

Wat ek nog van myn ouma het,

         en niemand weet daaraf.

Hef ek die staf op, “Moedertaal” ,

          Dan volg die land my na:

En ek is netnou koningin

          Van heel Suid-Afrika!

.

Breyten Breytenbach se ‘fiktiewe’, ‘bewerkte’ bundel is ook ’n huldiging van almal werksaam in die “huis” van Afrikaans, deur gebruik te maak van die woorde van Afrikaanse lesers, vertalers, kritici, en sangers van toe tot nou. Maar dis ook ’n lang uitgesponne toetsing van NP van Wyk Louw se kunsteoretiese uitlating:

.

Uit die gevormde literatuur

is nooit weer poësie te maak nie,

uit die ongevormde wél…

            Tristia (1962:34)

.

Die bundel bewaar die DNA van die geliefde moedertaal, gevang-in-vlug van 2014-2015, en verwysend na die veranderende taalgebruik van 1896-2016, ’n periode van 120 jaar. Hiermee dien hy ’n finale nekslag toe aan Diena Dood, in die gloed van 14 November se supermaan…

.

© Helize van Vuuren / 2016

NMMU

Naskrif: Ondersteun die “Gelyke kanse”-inisiatief, gedenk dié bundel waarin ’n digter alles sit op die altaar van Afrikaans, en help om ons taal te probeer red van politieke ondergang.