Posts Tagged ‘Hennie Aucamp’

Skuilskrywer Crito: ‘n Repliek

Tuesday, July 20th, 2010
Dalk Crito?

Dalk Crito?

Soos gewoonlik word ek deur daardie gemaskerde metaresensent, Crito, tereggewys op die se blog oor my resensie van Hennie Aucamp se Oor en weer. So gaan dit maar; ‘n mens leer uit kritiek, al kom kritiek in die Afrikaanse openbare domein darem net te veel kere uit die oord van skuilskrywers, soos die Critos, die Wysneuse, en so aan… Mans wat hulleself voordoen as vroue, joernaliste wat hulleself voordoen as huisvroue, dis maar ‘n deurmekaar storie! Wys tog julle gesigte, mense!

Maar dit eers daar gelaat. Crito is heel korrek: in my poging om die resensie so kort moontlik te hou, het ek nagelaat om duidelik te maak dat hierdie ‘n bundel onderhoude met Aucamp is. My fout. My eerste poging het begin met ‘n beskrywing van die boek, waarin ek pertinent genoem het dat dit gaan oor ‘n versameling onderhoude wat verskillende Afrikaanse skrywers, joernaliste en akademici oor die jare heen met Hennie Aucamp gevoer het. Nie-Kapenaars wat die resensie dalk hier gelees het: nou weet julle!

Maar ek wil darem ook verskil van Crito op twee punte; nie wat wat betref die kwaliteit van my resensie nie, maar eerder oor Aucamp se bundel. Crito skryf: “Die feit dat hy [Desmond Painter] niks kon vind [om aan te haal] van iemand wie se aforistiese skryfwyse hy hoog aanslaan nie, is veelseggend.” Nee, dit is nie veelseggend nie. Daar is baie, baie te vind in Aucamp se boek wat aanhaalbaar is. Daar was gewoon nie plek vir aanhalings in die resensie nie. Deesdae is ‘n mens gelukkig as jy 900 woorde in ‘n koerant gegun word, so ‘n mens is geneig (ek, altans, is geneig) om van aanhalings ontslae te raak ten einde my draaie te kry. Hoe kan die feit dat ek niks aanhaal nie in elk geval beteken daar is niks om aan te haal nie, terwyl ek Aucamp se skryfstyl eksplisiet in die resensie komplimenteer? Dit is nogal ‘n hebbelikheid van Crito om “tussen die lyne” te wil lees, wanneer daar niks noemenswaardig tussen die lyne staan nie.

Tweedens, Crito skryf so oor sy uiteindelike besef dat dit in Oor en weer om onderhoude met Aucamp gaan: “ek moet erken dat ek gehoop het dat interessanter persone [as Aucamp self] die onderwerpe van die onderhoude sou wees.” Ek dink daar is genoeg mense wat Aucamp interessant vind, as mens en skrywer, om so ‘n boek te regverdig. En in elk geval: Crito is veronderstel om resensies te resenseer, nie die boek of skrywer onder bespreking nie. Want dan het ons immers ‘n Crito 2 nodig, wat vir Crito 1 kan teregwys dat “ek het gehoop dit is ‘n ander boek as die een wat dit is” nou nie juis goeie gronde vir ‘n negatiewe oordeel oor ‘n boek is nie. Wie gee in elk geval om of ‘n gemaskerde blogger met ‘n obsessie oor ander mense se resensies dink Aucamp is ‘n interessante onderwerp vir onderhoude of nie? Nee wat, Crito, hou jou by jou resensie-lees!

Laastens, ek is natuurlik baie ingenome daarmee dat Crito, ten spyte van die onverstaanbaarheid van my teks en sy irritasie by die lees daarvan, nogtans dink dit was ‘n “andersins baie goeie resensie”!!!! Crito is ‘n veel meer lankmoedige en vrygewige leser as wat ek ooit sou kon wees. Dankie!

Hennie Aucamp se Oor en weer geresenseer

Monday, July 19th, 2010
Hennie Aucamp

Hennie Aucamp

My resensie van Hennie Aucamp se gebundelde onderhoude, Oor en weer, het vanoggend in Die Burger verskyn. Dit is bykans onmoontlik om hierdie of enige ander boekresensies op hulle webblaaie te vind; en die weergawe wat op die blogruimte Boekeblok verskyn is net ‘n massa woorde, sonder enige paragraafbreke… So ek plaas dit maar hier ook – dan kan die nie-Kapenare dit darem ook lees! Hierso is hy:

Onderhoude met allerlei “bekendes”, oppervlakkig gefokus op hul besittings, prestasies en dikwels banale (self-)insigte, word vir jare al soos kulturele kitskos deur populêre tydskrifte voorgesit. Afrikaanse tydskrifte is geen uitsondering nie. Gesprekke met glanspaartjies sorg vir beter verkope, en ’n skrywersonderhoud in só ’n publikasie dien as goeie ­bemarking vir ’n nuwe boek.

Tog kan deeglike, deurdagte onderhoude met kunstenaars, intellektuele en politieke figure fassinerende leesstof bied. Soos Aucamp tereg in sy inleiding tot hierdie bundel onderhoude aandui, die onderhoud kan as ’n “essay geskryf deur twee” gelees word. Dit is dus ’n literêre genre in eie reg, een met sy eie konvensies, moontlikhede, en voorbeelde van voortreflikheid.

Om sodanige voortreflikheid te ervaar, lees gerus Philip Roth se gesprekke met skrywers in Shop Talk: A Writer and His Colleagues and Their Work. Of Daniel Barenboim en Edward Said se gesprekke in Parallels and Paradoxes: Explorations in Music and Society. Ek noem ook die onderhoudbundels van Michel Foucault – ’n Franse filosoof wat die ­onderhoud ingespan het as ’n volwaardige ruimte vir die uitbou van sy idees, naas die boek, essay en artikel.

Naas literatore en ander skrywers vind ook ’n breër leserspubliek skrywersonderhoude dikwels insiggewend. Dink maar aan die goeie bywoning van openbare gesprekke met skrywers op kunste- en literêre feeste, of die gewildheid van Daniel Hugo se onderhoude met digters oor die radio. Behalwe dat sulke gesprekke die leser insigte gee in die leefwêrelde en verwysingsraamwerke van ’n bepaalde skrywer, verskaf die goeie onderhoud ook literêre genot. Hier ervaar die leser en luisteraar die woordkunstenaar immers direk aan die woord.

Wat vakkundige studie en publikasie in boekvorm betref, is die onderhoud as genre in Afrikaans (soos briefbundels en dagboeke) egter ’n literêre stiefkind. Dat Aucamp in hierdie verband as bydraer en bloemleser weereens betrokke is by die agterhaling en bestendiging van ’n genre in Afrikaans behoort niemand te verras nie. Hy is immers bekend daarvoor dat hy literêre stiefkinders onder die vlerk neem en grootmaak. En mooi grootmaak ook: Dink maar aan sy bloemlesings en sy eie gepubliseerde dagboeke.

In die inleiding tot Oor en weer skets Aucamp die stand van die genre bondig, maar bevredigend. Volgens hom is die onderhoud “waarskynlik een van die twintigste eeu se belangrikste bydraes tot sowel die joernalistiek en die letterkunde.” Ek sou wou byvoeg: ook tot die sosiale wetenskappe.

Aucamp verwys na publikasies soos Playboy en The Paris Review, bekend vir hulle onderhoude, maar sonder ook plaaslike hoogtepunte uit: Rykie van Reenen se onderhoud met Cliff Richard; Amanda Botha se onderhoud met Marlene Dietrich; André le Roux s’n met Karel Schoeman en Annesu de Vos.

Die leser moet in gedagte hou dat die oorspronklike plek van publikasie bepalend (en dikwels beperkend) was vir die vorm van die onderhoude wat in Oor en weer opgeneem is. Omdat baie van die stukke in dagblaaie verskyn het, is hulle relatief kort, en neig na die vraag-en-antwoord-formaat, eerder as wat hulle volledige tweegesprekke, of essays geskryf deur twee, kon word.

Ook in dagbladonderhoude is Aucamp gelukkig deurgaans deur uitstekende onderhoudvoerders bedien. Francois Smith kry dit byvoorbeeld reg, in ’n ­onderhoud wat in Die Burger verskyn het, om met sy intelligente, analitiese vrae iets tot stand te bring wat veel meer geword het as bloot promosiemateriaal vir die bundel In die vroegte, maar ’n stukkie kultuurteoretiese besinning in die klein. Sonder om aan toeganklikheid in te boet. Dieselfde geld onderhoudvoerders soos Herman Wasserman, Abraham H. de Vries en ander. Baie van hierdie onderhoudvoerders is literêr uitstekend onderlê en boonop deurwinterde joernaliste. Bygesê, Aucamp se vermoë om aforisties te skryf dra natuurlik ook by daartoe dat selfs kort onderhoude met genoegsame ideë- en taalinhoude gelaai word.

Van die 16 onderhoude het nie minder nie as 11 sedert 2000 verskyn, en slegs 2 voor 1995. In hierdie verband speel die internet ’n deurslaggewende rol. Veral LitNet moet genoem word, waar vyf van die onderhoude oorspronklik verskyn het. Die ­internet maak meer en langer onderhoude in Afrikaans weer moontlik, en dit is ’n positiewe ontwikkeling. Maar natuurlik, selfs materiaal wat op die internet verskyn, smeek om bestendiging in boekvorm.

Feitlik al Aucamp se kreatiewe uitinge word aangeroer: die kortverhaal, kabaret, gedigte, dagboeke en sy rol as bloemleser. Daar is ook interessante besinnings oor kwessies soos taal, seksualiteit en die ouderdom. Aucamp is ’n boeiende en vrygewige gespreksgenoot. Hierdie kwaliteite word in Oor en weer uitstekend vergestalt.

Hennie Aucamp. Huldeblyk aan Lucas Malan

Wednesday, April 21st, 2010

Om Vyfuur op ‘n herfsoggend

Lucas Malan (19.07.1946 - 15.04.2010)

Lucas Malan (19 Julie 1946 - 15 April 2010)

(‘n Huldeblyk deur Hennie Aucamp gelewer tydens die Gedenkdiens, Maandag 19 April 2010.)

 

***

 

As jy om sesuur opstaan, soos ek, merk jy dat dit nog donkerig is.  Om vyfuur op Donderdag 15 April 2010 moet dit nog nagdonker gewees het toe Lucas Malan gesterf het.  Vyfuur, soos dit in Lorca se groot klaaglied vir ‘n gestorwe stiervegter staan, maar nou effens aangepas vir dié geleentheid:

 

                        Vyfuur in die oggend.

                        O, wat ‘n vreeslike vyfuur in die oggend!

                        Dit was vyfuur op al die horlosies!

 

Dit was vyfuur die oggend op alle polshorlosies en wekkers; dit was vyfuur die oggend op die kerkhorlosies van Darling, Yzerfontein, Moorreesburg, Malmesbury, Koringberg en Piketberg, en verder aan en wyer uit, landoor.

 

Dis onvermydelik dat my rede met die doodsbegrip begin, want dit gaan om ‘n elegie vir ‘n gestorwe digter, maar my stuk gaan met ‘n opswaai eindig; met ‘n epifaniese oomblik waarin literatuur en teologie hopelik gaan oorvleuel.

 

Wat nie alle mense weet nie, is dat Lucas Malan ‘n leeftyd lank betrokke was by siekes en sterwendes; meesal intieme vriende.  Hy het sy vriend Billy Egan, die akteur, deur sy kankerkrisis gedra tot aan die laaste kalmte toe.  Hy het Gert de Villiers tydens sy stadige, tragiese sterwe gereeld besoek.  Hy was in ‘n sin ‘n sterwensbegeleier vir Johan van Rooyen, kultuurfenomeen.  En bowenal het hy die gestremde Ernst van Heerden op ‘n gereelde basis besoek en rondkarwei waar nodig, ‘n dekade lank en langer.

 

Lucas Malan was, as ek vir die soveelste maal met M.E.R. se kalwers durf ploeg, ‘n gewer en ‘n aangewer; van goeie, ouderwetse menslikheid in die eerste plek, en van kennis in die tweede plek.  Oor sy rol as opvoeder het ek iets gesê in die College-roubeklag van Die Burger van 16 April 2010, maar ek wil uitbrei op sy doodshantering wat maar net die keersy van sy lewenshantering was.

 

Hy, wat vertroud was met die afstandelike gelaat van die dood, het sy eie dood in die spieël gesien, en hieroor ‘n eie epitaaf geskryf:

 

Bestek:  2009

 

Diep middeljarig het ek geword

bo alle lus en verwagting, oud;

met vratte op die voorkop en ‘n klont

in die skrotum.  Onbegryplik.  Lélik

oud het ek geword

 

met gate in die gebit.  Mikro-spatare

in ‘n fyn borduurwerk op die enkel

aan die linkerkant, stempel die stand

van oorgewig.  Die ander een, regs,

swel weer op in die stygende hitte

van dié swelgende somermaande -

 

‘n Sorgwekkende geval het ek geword,

jaar na jaar.  Maar die geheue, die taai

ou bondel in die brein, dié hou nog kop.

Met elke lente, met ieder skemerdop

kom ál die tam welters weer aangekruip

 

om aan die geil vier van ons jeug,

die lyf se óú speenvreugdes te suip.

 

(Junie 2009)

 

Met hierdie gedig voeg Lucas Malan hom by die reeks ouer digters wat hul eie verval met selfironie waargeneem het, soos byvoorbeeld Barend Toerien en D.J. Opperman.

 

Opperman het sy grootse parodie op Prediker 12 nooit kon voltooi nie, en streng gesproke mag ek nie daaruit aanhaal nie, maar aangesien dit so mooi aansluit by Lucas Malan se “Epitaphe pour lui - même”, gaan ek dit tog waag met die eerste twee strofes:

 

Prys jou Skepper

 

Prys jou Skepper in die dae van jou jeug

vóór dat jy uitroep:  “Waar is my bril?”

vóór jy ‘n klankversterker aan jou een oor steek

en jou kunstande nie meer aan die tandvlees kleef.

 

Prys jou Skepper in die dae van jou jeug

vóór jou glas en lepe beef en stort

vóór jy teen die reuk van die dood

jou bepoeier en besprinkel en jy stuitig word.

 

 

Elders in dieselfde gedig, sê Opperman:

            …daar is geen medisyne

            Teen kaperjolle van die ouderdom…

 

Maar beide Malan en Opperman suggereer tog ‘n vorm van terapie:  ironie; en op sy beste, selfironie.  ‘n Ironie-Rus mag heling vir homself haal uit sy ironieë, maar wat van sy prooi?  Selfironie is iets anders; dit slaan wyer uit as ‘n eng gebruiksgeval; dit sê iets van ons almal se lewens; dit relativeer; dit laat ons lag.

 

En só moet Lucas Malan se gedig “Bestek” gelees word, as ‘n gawe aan ons wat agterbly, en nog moet leer om met ons mankemente saam te leef.

 

Maar daar is ook sy groot, tasbare gawes aan sy vriende.  Daar is die pragbundel wat Lucas Malan en Lina Spies vir my sewentigste verjaardag versorg het, teen groot opoffering in; daar was sy ontroerende stuk by my vyf-en-sewentigste verjaardag; en Lucas het gesorg dat daar ook ‘n feesbundel vir Abraham H. de Vries gekom het met sý sewentigste verjaardag. En net voor sy groot siekbed het hy met ‘n oorsigartikel oor die poësie van Lina Spies begin.

 

Lucas Malan het prakties omgegee vir mense.  Hy het ‘n talent vir vriendskappe gehad.  En dan was daar sy ander talent:  sy digterskap.

 

Hy het nooit sy digterskap soos ‘n knopie in sy lapel gedra nie.  Hy was doodgewoon ‘n oorwoë digter in alles wat hy gesê en gedoen het.

 

Hier, ter illustrasie, ‘n gedig wat ek in Die Burger van 15 April 2010 genoem het,  “Seisoen in Auvers”; ‘n gedig oor Van Gogh waarin die skilder se naam nooit een maal genoem word nie, maar tog deurstraal, is van sy tyd in die Midi:

 

Seisoen in Auvers

 

Om die jare te versamel

in ‘n reënval boord:

twee en dertig bome

 

groen mos, geil grond, donker aarde

 

Die veranderde werklikheid groei

in die slaglig van die son;

die dag lig ‘n hangbrug op die horizon

vir bote onderweg na die see

 

- maar hier waai die geel wind

al dae lank oor die heide -

 

‘n Boer gryp die grond met saad;

swaar soos die klei aan sy voete

spring sy skaduwee hom voor -

 

groen mos, diep leem, donker bloed:

“Ons sal ons doel nooit bereik nie”

 

In Auvers staan ‘n kamer gereed

om die laaste gerwe lig te vang

 

Dié pragtige gedig laat die ou vraag onstaan:  Kan skoonheid werklik troos?  Akute skoonheid kan, ironies, ‘n nóg dieper behoefte aan troos skep.  Kan tyd alle wonde heel?  Nie werklik nie, soos enkele nugter digters tereg uitwys.

 

Emily Dickinson het byvoorbeeld gedig:

 

            They say that “time assuages” -

            Time never did assuage -

            An actual suffering strengthens

            As sinews do, with age -

 

            Time is a Test of Trouble -

            But not a Remedy -

            If such it prove, it prove too

            There was no Malady -

 

En Rainer Maria Rilke het in een van sy briewe geskryf:

 

            “Even time does not ‘console’…it puts things in their place and creates order.”

 

Maar nou is dit juis die literêre nalatenskap van ‘n Emily Dickinson, ‘n Rilke, ‘n Opperman wat ons help om ‘n nuwe orde en ruimte vir onsself te skep ná ‘n groot verlies.

 

Wat ons op hierdie droewige dag moet aavaar, is dat Lucas Malan deel van ‘n onaantasbare stoet geword het, maar ons nie reddeloos agtergelaat het nie.  Ons het die gerwe uit sy goue erfprag.

 

Hennie Aucamp

17 April 2010

 

BEGRAFNISBRIEF 

 

 

Ernst van Heerden en Paul Wittgenstein

Thursday, February 11th, 2010

Paul Wittgenstein

Paul Wittgenstein

Ek het in ‘n vorige inskrywing vertel van my ontdekking, op skool, van Ernst van Heerden se poësie, en van die rol wat hierdie ontdekking gespeel het in die aanwakkering van my eie belangstelling in die digkuns.

Sedertdien het ek weer ‘n slag deur sy bundels geblaai, hier en daar gelees, en opnuut onder die indruk gekom van hóé goed Van Heerden op sy beste was; en tot watter mate hy steeds – en dalk toenemend – ‘n onregverdig afgeskeepte stem in die Afrikaanse letterkunde is. Heelparty van sy bundels is immers nie meer in druk nie, en sover my wete strek is ‘n versamelde werke, of selfs net ‘n keur uit sy voltooide oeuvre, nog nooit gepubliseer nie.

 

Ernst van Heerden was, soos Hennie Aucamp, Johann de Lange en Joan Hambidge na hom (om enkeles te noem), ‘n verteenwoordiger van ‘n soort ‘estetisisme’ in die Afrikaanse poësie. Ek verwys hiermee na digters (en skrywers) wat die estetiese (eenvoudig gestel: uitgebreide verwysings na die letterkunde en ander kunsvorme) as temas en onderwerpe in hulle werk ontgin – of eerder, by wie hierdie soort poëtiese ontginning en omploeging van ‘n estetiese verwsyingsraamwerk ‘n (of dalk díé) sleutelkomponent is in hulle digterskap.

Daar is natuurlik belangrike verskille in hoe liggaamlikheid en seksualiteit (byvoorbeeld) by Van Heerden en De Lange onderskeidelik uitgebeeld word; of hoe Van Heerden en die meer postmodernistiese Hambidge onderskeidelik met kulturele verwysings omgaan. Nogtans dink ek hierdie latere digters behoort, wat hulle posisie in die Afrikaanse literatuur (en die verskillende tradisies en tendense wat dit kenmerk) betref, met Ernst van Heerden in gedagte gelees word.  

Van Heerden se oeuvre inkorporeer al sedert sy heel eerste bundel ‘n uitgebreide estetiese verwysingsraamwerk. Sy oeuvre is ryk aan verse oor digters, die skilderkuns en, wat my veral aanspreek, musiek. As jy gedigte soos ‘Symphonie Pathétique’, ‘Prélude à l’après-midi d’un faune’, ‘Nocturne’ en ‘Chopin’ lees (en daar is vele meer), is dit baie duidelik dat Van Heerden ‘n indringende kennis van en groot liefde vir die musiek moes gehad het.

Een van sy latere en beste gedigte oor die musiek is te vinde in my gunsteling Van Heerden-bundel, Amulet teen die vuur (ek sal by ‘n later geleentheid iets skryf oor hierdie bundel, wat ek tans weer aan die lees is). Die gedig is ‘Paul Wittgenstein’. Wittgenstein (broer van die beroemde filosoof met dieselfde van) was ‘n bekende vroeë twintigste-eeuse pianis. Hy het sy regterarm verloor in die Eerste Wêreldoorlog, en was dus, soos Van Heerden, ‘n ‘geamputeerde’ (Van Heerden het beide sy bene in die 1970s verloor).

Na afloop van die oorlog het etlike komponiste werke ‘vir die linkerhand’ gekomponeer, wat dit moontlik gemaak het vir Wittgenstein om sy loopbaan as konsertpianis voort te sit. In Van Heerden se gedig is dit Maurice Ravel se ‘Klavierkonsert vir die linkerhand’ wat ter sprake is. Op briljante wyse versoen Van Heerden die tema van die geamputeerde ledemaat met ‘n hoogs evokatiewe uitbeelding van die stuwing, ritme, toonaard en kleur van daardie musiekstuk.

 

Paul Wittgenstein

Klavierkonsert vir die linkerhand (Ravel)

 

Wanneer ‘n ongevulde regtermou

die snyerslanfer onderstreep

en skielik aandag opeis,

bedaar geroesemoes;

 

algaande minder soberend

deur wilder sproeisels heen,

word tarantella-vuur gestook,

‘n teistering, ‘n woede opgewek;

 

wanneer weemoed en bravour

hul eie bane uitstip,

word deur gekerm en gesnater

‘n waterval van ánder kleur gebou

en vredes sprokkelwys opeengehoop.

 

Wilgers ruis in kontrapunt

en seë slaan ‘n hele klankbord los,

terwyl ‘n volle somer

aan die son se tepel suig.

 

Triomf en dawering!

 

Die mou buig saam

voor ‘n dubbelhandige applous. 

Hoe het die stof in die orrel gekom?

Monday, February 1st, 2010

 ‘n “Fermanent woort” vir wie krag het om te luister

deur Hennie Aucamp

Hennie Aucamp

Hennie Aucamp

Hennie Aucamp het op die plaas Rust-mijn-ziel in die Jamestown-distrik grootgeword. Hy debuteer in 1963 met die kortverhaalbundel Een somermiddag en het sedertdien 18 kortverhaalbundels uitgegee asook verskeie beskouings, essays en samestellings van prosa. Benewens vertalings van Bertold Brecht se werk het Aucamp ses digbundels gepubliseer. Onder die talle literêre pryse wat Aucamp verower het, is die Hertzogprys (1982), die Fleur du Cap-prys (1987 en 2004), die Recht Malan-prys (1997), die ATKV-Veertjie-toekenning (2004) en die Afrikaans-Onbeperk-toekenning van die KKNK. In 2005 ontvang hy die Gustav Preller-prys van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

 

 

 

 

1

 

In die “Proloog” tot Die pluimsaad waai ver kom die Ou Vrou tot hierdie slotsom:

maar geen volk het ooit rus van loutervlamme.

 

Van Wyk Louw se drama het in 1972 verskyn, en hy kon nog sonder apologie na “Afrikaners” as “volk” verwys; nou verwys die Afrikaanssprekendes in die land na hulself as “groep”, om nie aanstoot te gee nie, en dié spreker gaan ook van “groep” praat, maar iets van die N.P. van Wyk Louw-gees probeer behou.

‘n Groep, dus, en sy taal en letterkunde, moet reëlmatig aan “loutervlamme” blootgestel word as dit lewensvatbaar wil bly. Wat die taal en die letterkunde betref, was daar van oudsher af profete en rigters wat op gesette tye gevra het: “Is dit ons erns?”

Dié profete en rigters, of noem hulle liewers “openbare gewetes”, is die kritici, die resensente en, meer nie-amptelik, die skrywers en lesers van Afrikaans.

Hierdie kritici en resensente skryf dikwels uit sterk eie oortuiging, veral as die opvoedkundige imperatief by hulle sterk is, maar soms is kritici weinig meer as die segsmanne van kultuurfaksies, en dié mag politieke en ideologiese agendas hê. Wat onthou moet word, is dat uitgewers óók kultuurfaksies verteenwoordig, en eweneens as drukgroepe kan geld.

Maar hierdie spreker wil vinnig heengly oor die sosiopolitieke implikasies van kritiek, en meer algemeen, maar tegelyk ook meer persoonlik, na potensieel-ondermynende faktore binne die poësiebedryf kyk.

Wat is die funksie van kritiek? Een funksie is al geïmpliseer, naamlik dat die kritikus waak oor wat kosbaar is binne ‘n kultuur, en meer spesifiek binne sy letterkunde. Hier sou van die Koki-”sindroom” gepraat kon word; Koki, die protagonis in Raka, wat altyd eensaam was in sy besorgdheid oor kosbare dinge. ‘n Meer aardse, en vir my doel meer geskikte definisie van die funksie van kritiek, is dié van my oud-leermeester, prof. F.E.J. Malherbe, wat kritiek die “purgeermiddel” van die letterkunde genoem het.

Dié beeld klink eers ‘n bietjie kru, tot jy besef dat “purgeer” ook ‘n religieuse byklank het, naamlik “om te suiwer”.

Skrywers en digters lewe nie altyd vreedsaam saam met hul kritici nie. Wrywing tussen verskillende generasies en “skole” is dikwels die aanstigting tot rusies. Hiervan is Toon van den Heever se geniepsige portret van Jan F.E. Celliers ‘n goeie voorbeeld.

‘n Vriend van Toon van den Heever wat by De Bussy gewerk het, het Toon se gedigte geleen en aan Jan F.E. Celliers voorgelê. Oor na Toon van den Heever self, wat soos volg in sy essay “Digters van naby” skryf:

“Een aand het die groot man my ontbied. Ek was so senuagtig soos ‘n aap op ‘n dorsmasjien. Jan Celliers het my baie vriendelik ontvang en bejeën - so vriendelik dat toe hy eindelik my bundel papiere te voorskyn haal, ek al byna verwag het om van hom te hoor: ‘Steek die blad, broeder digter!’ Maar helaas! Olympos was vir my te steil. Die digter het my medelydend aangekyk: ‘Siet u, mnr. Van den Heever, dit help nie eintlik om gedigte te maak as mens hulle nie kan verkoop nie. U kies sulke uitheemse temas! Neem byvoorbeeld hierdie gedig oor die Minnegod - wat weet ons mense van hom af? Hulle lees hier van iemand wat kaal in die bossies wegkruip en boonop nog met ‘n pyl en boog gewapen is: hulle sal warempel dink dis ‘n Boesman! As u wil verkoop, bly by die ossewa, die keteltjie en die doringboom. In u werk mis ek die innige eenvoud van ware poësie; . . . . .”

Hierdie lang aanhaling bring enkele immergroen strydkwessies in die poësiekritiek na vore. Toon van den Heever is deur Mardelene Grobbelaar as “dekadent” geïdentifiseer in haar doktorale proefskrif, Die Bose Skoonheid, nes sy, ook suiwer literêr-wetenskaplik, Eugène Marais, Leipoldt, en J.F.W. Grosskopf as eksponente van die Dekadentisme uitgewys het. Toon van den Heever meld ook in sy essay “Digters van naby” dat Preller, stellig die eerste kritikus om dit te doen, na Eugène Marais as Dekadent verwys het. Die laaste gedeelte van Toon van den Heever se essay is dan ook ‘n ontroerende verdediging van sy vriend Eugène Marais.

Die interessante is dat Toon van den Heever digters begin haat het; in die geval van Jan F.E. Celliers, ook die digter-kritikus.

As Jan Celliers Toon van den Heever se bête noire was, het Uys Krige sy mes ingehad vir ‘n hele geslag kritici, soos G. Dekker, E.C. Pienaar, S.P.E. Boshoff, Abel Coetzee en P.C. Schoonees, in sy spotvers “Die Les-Honderd”, in sy “Gifpyltjies”-reeks in sy bundel Vooraand (1964). Hy het dié reeks uit 1939 later bygewerk en “klein Lindenberg” en A.P. Grové toegevoeg tot sy lys sondaars. Sy slotsom, aan die adres van sy mededigters, is dat digters net een groot les van kritici kan leer, en dit is hoe om nie te skryf nie.

Hier was Krige onbillik. Hy het inhoud met styl verwar, want party van sy kritici het goeie, skoon prosa geskryf, bowenal A.P. Grové en Lindenberg.

Wel strek dit Krige tot eer dat hy die geswolle prosastyl van byvoorbeeld D.F. Malherbe aan die kaak gestel het, en “Boere-digters” - Krige se woord - soos Boerneef en J. van Melle geloof het om hul eenvoud en onversierde uitings. Krige se opstelle oor Boerneef en Van Melle is baanbrekerswerk en is tereg deur J.C. Kannemeyer opgeneem in die bundel Die naamlose muse, wat Uys Krige as versiende kritikus toon.

Maar “Boere-Afrikaans” het nie vir Uys Krige beteken dat hy hom tot Boere-temas moet beperk nie. Hy was dié wêreldburger in Afrikaans, met sy reis- en verblyfboeke, sy vertalings, sy sleutelopstelle oor figure soos Lorca en Elouard.

Die “ironiese elegansie” (H.A. Mulder) van Uys Krige is verder gevoer, en na ‘n hoogtepunt gebring, deur D.J. Opperman met sy reeks “Met apologie” wat in Kuns-mis verskyn het. Waar satiriese verse soos “CNOringkorrel”, “Ná die Robslanery” en “Hellingaskoltis” nog as geforseerd en alte plaaslik aandoen, ook opgeneem in Kuns-mis, verteenwoordig “Met apologie” iets besonders binne die literêre kritiek in Afrikaans. Opperman se basiese teks lui só:

Op ‘n Sondagmiddag loop die weduwee Viljee

in swart geklee

met twee kolliehonde langs die see.

Wat volg, is Opperman se parodiëring van die styl en selfs voorkeurdigsoorte van die volgende digters: C.M. van den Heever, I.D. du Plessis, W.E.G. Louw, N.P. van Wyk Louw, Uys Krige, Elisabeth Eybers, Ernst van Heerden en S.J. Pretorius.

Waar is Olga Kirsch, vra ‘n mens jou af: het haar beenkaal poësie by voorbaat parodiëring weggekaats? Want dis juis op maniërismes dat Opperman so genadeloos toeslaan.

Hier volg Opperman se parodiëring van die vroeë N.P. van Wyk Louw en die latere Louw, soos hy hom in byvoorbeeld Tristia openbaar:

N.P. van Wyk Louw 1:

O, God! làngs U skriklike water

stap die weduwee Viljee

met dié weet: die waan en die waansin word later

twee honde wat dráf waar sy tree.

 

N.P. van Wyk Louw 2:

Op ‘n Sabbatmiddag

(die dag is goed)

lê la veuve de Villiers

die heilige snol

bo die boulevard

(a) aarselende om te kies

effens be-swaard

tussen twee kol-lies(te)

Wat Opperman hier aantoon, is dat ‘n digter - selfs ‘n digter soos N.P. van Wyk Louw - die prooi van sy eie retoriek en eksentrisiteite kan word.

Ernst van Heerden, daardie rats en gewikste gees, het tereg gevoel dat Opperman darem nie skotvry kan gaan nie, en skryf ‘n aanvulling by “Met apologie” van Opperman, dié keer soos die weduwee Viljee-teks deur Opperman self vertolk sou kon gewees het, met die byhaal van tipiese Opperman-temas en selfs reëls. Hier volg die eerste drie strofes van Van Heerden se parodie:

D.J. Opperman

Mevrou Viljee dink aan die bakkie sand

in donker hole van ‘n woonstelstoep,

en prys die vrye ruimtes van die strand

wat nou die kollies na ontlasting roep.

 

Sy’s pikkewyn vandag en ook verlos

van wasvrou, Vredehoek en kruidenier;

haar hart trek aan die koppelriem se tros

by ou seevelde van bamboes en wier.

 

Aristos Een het by ‘n boom gestol

- met vorige laventeltjies verdig

uit strooisies bruin kors van die kiepersol -

waar hy nou fyn die agterpootjie lig.

Uit: Anderkant besit, 1966.

In 1987 verskyn die satiriese gedig “Persoonlike korrespondensie” van Daniel Hugo, opgeneem in sy bundel Vuurdoring, wat by H.A.U.M.-Literêr verskyn het. Hierdie onderverkende satire is myns insiens op dieselfde hoë vlak as “Met apologie” van D.J. Opperman, en Hugo se skrywe is dan ook aan Opperman in die hemel, waar hy soos alle ander hemelinge nie meer ‘n opper- nie maar ‘n doodgewone man is.

“Persoonlike korrespondensie” bestaan uit drie afdelings: “(1) Berig aan Opperman, (2) Opperman antwoord en (3) Petrus stuur ‘n nota.” Die “jongste speurgodjies” kan nagaan hoekom ‘Berig aan Opperman’ in rymende koeplette is, ‘Opperman antwoord’ in tersines, en ‘Petrus stuur ‘n nota’ na ‘n amptelike memorandum klink.

Hugo se skindernuus oor die nog lewendes moet maar liewers tuis gelees word. Wel kan aangehaal word uit Opperman se antwoord, waarin hy reageer op Hugo se mededeling dat die Afrikaanse poësie deur vroue oorgeneem is:

meer welkom was jou chauvinistiese geskel

          - trouens dit is opwindende toekomsnuus -

van die vroumense hier is Ingrid al wat tel

 

in my tyd was daar mos net die liewe Liesbet

          - in Holland duik sy nog onder vir die dood -

later ook Olga: háár sal Petrus wel belet

Waaraan “die jongste speurgodjies” óók aandag kan gee, is dat Hugo in goeie postmodernistiese trant ‘n sterk interteks vir sy gedig “Persoonlike korrespondensie” gebruik, naamlik “Letter to Lord Byron” van W.H. Auden.

Miskien het dit tyd geword dat ‘n sterk, gevestigde digter Opperman se “Weduwee Viljee”-teks opnuut opneem en verse skryf in die trant van Cussons, Stockenström, Spies, Malan, Hambidge en ander. Dit sal ‘n gedugte onderneming wees, want ‘n parodis moet geestig wees en liefs oor die gawe van selfironisering beskik. Bowenal moet hy (of sy) talentgewys net so groot wees as die digters wie se styl en inhoud geparodieer word, of anders word ‘n parodie maklik ‘n flouïteit of, erger nog, “‘n vuil geskreeu”, soos Van Wyk Louw in Raka sê.

 

II

 

Wat sien hierdie spreker as potensieel-ondermynende faktore binne die huidige poësiebedryf? Twee dinge: disrespek vir die medium, dit wil sê die taal self; en oordadige ontlening.

Vir my “sermoen” het ek net twee teksverse gekies, beide eenvoudig en toeganklik. Die eerste is N.P. van Wyk Louw se opstel ‘Die stof staan by die orrel’, opgeneem in sy opstelreeks “Los gedagtes oor ons taal”, in Swaarte- en ligpunte (1958), en die tweede is Salman Rushdie se briljante jeugklassiek, Haroun and the Sea of Stories (1990).

‘Die stof staan by die orrel’ is ‘n hoogs potente opstel oor die verwaarlosing van taal as medium. Dit het ‘n sekere klassieke status gekry as gevolg van Merwe Scholtz se stel spitsvondige vrae by ‘Die stof staan by die orrel’ in die skoolhandleiding, Ons Moedertaal vir standerds nege en tien. Dis jammer dat Scholtz nooit sy vrae omgewerk het tot ‘n essay nie; só ‘n essay sou net so bekend kon geraak het as “Wat vertel ‘Oom Gert vertel’”, natuurlik ook van Scholtz, opgeneem in Herout van die Afrikaanse poësie.

Van Wyk Louw se opstel begin só: “‘n Niggie van my het my jare gelede hierdie storietjie vertel: dit was op ons buurdorpie wat hulle ‘n taamlike goeie orrel gehad het; en die ou orreliste - sy is ook lank nie meer daar nie - moet glo maar Sondag na Sondag ‘n dun straaltjie musiek daaruit laat fluit het; maar toe kom daar ‘n slag ‘n bobaas-orrelis op die dorp, en dié sou ‘n orreluitvoering gee: die aand sit die kerk gepak van die mense; maar toe hy ooptrek, toe staan die hele gebou vol stof: daar was glo pype en dinge waarvan die ou dametjie nooit eers geweet het nie en wat dertig jaar lank net stof staan en vergader het. ‘Tag,’ het die diaken ná die uitvoering gesê, ‘ons ou orreltjie kon toe darem ook vanaand sy long ‘n slag oophoes.’ En die volgende dag het hulle vier of vyf mossieneste wat uitgeblaas was, op die balkon kry lê.”

Op hierdie paragraaf volg paragraaf twee, wat só begin:

“Hierdie sinryke ou verhaaltjie kom dikwels in my gedagte op as ek oor ons taal nadink of praat, of as ek Afrikaanse boeke of tydskrifte lees.”

Van Wyk Louw se toepassing van ‘n “sinryke verhaaltjie” op ‘n taalsituasie is deursigtig, en hoef nie in besonderhede ontgin te word nie. Hoofsaak hier is dat net meesterlike taalgebruikers - en hier dink ‘n mens dadelik aan digters en skrywers - al die verborge nuanses en heerlikhede van ‘n taal na bo kan bring.

Met alle respek aan Van Wyk Louw moet gesê word dat jy nie ‘n Bach en ‘n Buxtehude uit ‘n verstopte orrel kan haal nie, want sy meganisme sal al klaar versteur wees. Sal oor vyftig jaar nog ‘n Raka en ‘n Joernaal van Jorik in Afrikaans geskryf kan word? Sal daar hoegenaamd nog ‘n Afrikaans wees waarin literêr gedink kan word? Nie teen die pas waarteen Afrikaans tot ‘n patois verword en verplet word nie, selfs deur sommige van sy digters.

Tydens die Engfrikaans-debat van ‘n paar jaar gelede, is hierdie spreker verkwalik omdat hy ‘n politieke dimensie in sy betoog betrek het; vandag dink hy meer in apokaliptiese terme. Kan dit wees dat die kollektiewe onbewuste die fenomeen Afrikaner, en die draer van sy identiteit, die Afrikaanse taal, totaal uitgewis wil sien; verby, afgelê, opgedoek? Dat ‘n nuwe lewe kan begin, sonder die ballas van tradisie?

Het Opperman dalk in dié rigting gedink toe hy sy gedig oor die nasionale selfmoord van reusagtige troppe springbokke geskryf het? Hier volg die gedig “Springbokke” uit Dolosse, ‘n bundel vol donker politieke ondertone.

Astrale magte op hul bloed

en soute in die grasse het bepaal

dat uit woestyn en vlakte

hulle as één groot trop ontmoet

en dae lank eers in ‘n stofwolk maal

tot een meteens koers snuif wat almal vat

en dan geen weerstand duld

dreunend oor veld en bult

waar hoef en horings alles plat

trap en voor hul vaart wegvaag,

elkeen gewillig om sy lyf te gee

dat die trop oor slote en riviere jaag

en onkeerbaar afstort in die see:

“Ons is geroepe om ‘n groot afspraak

met die dood te maak.”

Miskien is hierdie spreker darem té pessimisties. Daar is nog altyd digters, ook jonger digters, wat taal as ‘n presisie-instrument sien, en dan ook só gebruik.

Maar nou kan dit gebeur dat hierdie presiese en toegewyde taalgebruikers hul onteenseglike talent op ander maniere kan ondermyn, deur byvoorbeeld versperrings op te werp tussen die leser en die teks. Nog nooit was Ezra Pound se waarskuwing so tydig as nou nie, spesifiek wat die Afrikaanse poësie betref. In ‘n brief aan Harriet Moore skryf hy: “Every literaryism, every book word, fritters away a scrap of the reader’s patience, a scrap of his sense of  your sincerity.”

Dis hier dat die tweede teks van my sermoen te pas kom, naamlik Haroun and the sea of stories van Salman Rushdie. In hierdie verruklike verhaal trek ‘n seuntjie uit om, doldapper, die see van stories teen besoedeling te probeer beskerm.

Ten einde besoedeling in die regte perspektief te sien, moet teruggekeer word na skrywers en digters se paradyslike staat; terug dus na die tekenbord, nie dié van argitekskantore nie, maar dié van die kinderkamer. My kroongetuies gaan Margaret Atwood en Edith Sitwell wees.

Margaret Atwood, Kanadese skryfster en digter, onthou hoe hulle gesin na woeste en afgeleë dele afgereis het vir hul vakansies. Sy het as kind agter in die voertuig op die bagasie gesit en gesien hoe die landskap en telegraafpale verbyflits, en dan volg ‘n insiggewende reël: “Perhaps it was then that I began the translation of the world into words.” Wat ‘n pragtige definisie van die skryfkuns: “to translate the world into words.” Ook is dit belangrik om daarop te let dat Atwood se wêreld van meet af aan die natuur sowel as mensgemaakte dinge ingesluit het.

Maar Edith Sitwell se kinderervaring van kreatiwiteit gaan selfs verder as dié van Atwood. Op 3 Junie 1955 skryf sy aan Father Caraman:

“When I was a very small child, I began to see the patterns of the world, the images of wonder. And I asked myself why those patterns should be repeated - the feather and the fern and rose and acorn in the patterns of frost on the window - pattern after pattern repeated again and again and again. And even then I knew it was telling us something. I founded my poetry upon it.”

Die wonder van die kind as skepper is dat hy nog nie verknoei is deur ‘n oordaad kennis nie. Hy - of natuurlik sy - interpreteer nog nie via letterkunde of ander sekondêre prikkels nie, en kán dus nie ompaaie kies nie; sy ken-middels, die sintuie, is basies al toerusting waaroor hy beskik wanneer hy die omringende wêreld wil verower deur middel van woord, beeld en klank.

Wanneer literêre, kuns- en selfs musiekstromings begin stuiptrek in gemanieerdheid, was die kuur deur die eeue nog altyd: keer terug na die natuur en eie natuur; probeer om die prille intuïsies van ‘n kind te herwin.

Digters en skrywers vermaan dan ook in dié trant.

Herman Charles Bosman sê byvoorbeeld in A cask of Jerepigo:

“Nothing can take the place of the raw inspiration of life itself, expressed with all the strength of a creative personality.”

Van Peter Blum ‘n “reprement”, soos van hom verwag kan word. Hy skryf in ‘n brief aan Ernst Lindenberg: “Weet jy wat is verkeerd met die Afrikaanse digters? Hulle lewe nie.”

Blum word op ‘n manier herhaal deur sy vriendin Ina Rousseau. Tydens ‘n foongesprek met my het Rousseau in ‘n opgewonde stem iets te dien effekte gesê: “Weet jy wat is verkeerd met moderne poësie? Dit ontspring nie meer aan die aarde nie. Dit het blomme van lap geword.” Ina Rousseau het dit nie spesifiek oor die Afrikaanse poësie gehad nie. Sy het byvoorbeeld gereeld The Best American Poetry van ‘n bepaalde jaar bestel, maar dié gebruik later gestaak, omdat ook Amerikaanse poësie, volgens haar, bloedarm begin raak het.

Selfs op musiekgebied, musiek synde soveel abstrakter as poësie, klink soms die “Terug na die natuur”-oproep op. Debussy het byvoorbeeld in 1901 teen sy kollega Paul Dukas gesê dat talle moderne komposisies onnodig kompleks geraak het, en hierop laat volg: “They smell of the lamp, not of the sun.”

Wanneer ‘n digter en skrywer primêre prikkels begin verontagsaam ten gunste van sekondêre prikkels, word hy die spelbederwer in sy eie paradys. William Burroughs het dit nog meer blatant gestel: “Every man has inside himself a parasitic being who is acting not at all to his advantage.”

Die lelike woord “parasities” het geval; dit kan aangevul word met verdere negatiewe woorde soos roofbou, inteelt en appropiasie.

Dit is lonend om na die trefwoordelys in T.T. Cloete (red.) se Literêre terme & teorieë te kyk waar dit onder andere om literêre roofbou gaan. By “Parodie”, “Paskwil”, “Pastiche”, “Perifrase” en “Persiflage” staan daar elke keer tussen hakies: (vgl. PLAGIAAT) en by PLAGIAAT self staan daar “(vgl. INVLOED (LITERÊRE), PARODIE, PASKWIL, PASTICHE, PERIFRASE, PERSIFLAGE).

Die ouderwetse woord “letterdiewery” vir “plagiaat” word deesdae al hoe minder gehoor, danksy perspektiewe wat die rigting postmodernisme gebring het. Daar word nou eerder van “interteks” gepraat as van “plagiaat”, en van “intrateks”, want ja, ‘n digter en skrywer kan ook by homself leen, om maar nie van steel te praat nie. Picasso sou by geleentheid gesê het dat hy nie skroom om by ander kunstenaars te steel nie, maar dat hy skrik as hy agterkom dat hy by homself steel.

Die gevaar hier is dat ‘n digter so intens absorbeer wat hy gelees het, dat hy nie altyd kan onderskei tussen wat hy gedink het en wat ‘n ander gedink het nie. Een voorbeeld hier is voldoende:

S.J. Pretorius en D.F. Spannenberg het op 26 Augustus 1981 ‘n gesprek met I.D. du Plessis gevoer namens Tydskrif vir Letterkunde.

Du Plessis vertel die volgende staaltjie:

Een aand in my woonstel het W.E.G. Louw se bundel Terugtog voor ons gelê. Dit het toe net verskyn. Ek sê toe vir hom: “Gladstone, ken jy Roy Campbell se werk?” Toe sê hy: “Ja, natuurlik.” Daarop vra ek. “Ken jy sy ‘Mass at dawn’? Die laaste reël lui: ‘Never was wine so red or bread so white.’ In Terugtog is daar die reëls ‘Was in geen hand voorheen/Ooit wyn so rooi, ooit aardse brood so blank!’ “Louw sou nooit droom om ‘n reël oor te neem nie. Maar hy het die reël van Campbell geken en dit het so opgeduik.

          Ek sê eendag vir Ernst van Heerden na aanleiding van Koraal van die dood: “Ken jy die Vlaming Achilles Mussche se bundel Koraal van de dood?” Toe sê hy: “My magtie, is dit waar ek daaraan kom!”

Ten spyte van die glipse wat I.D. du Plessis uitgewys het, kan gesê word dat ontlening en heenwysing na die bestaande letterkunde skering en inslag vorm van die literêre bedryf; trouens, standaardpraktyk is. Die letterkunde is eeue reeds in gesprek met homself. Hiervan is uitinge soos parodie en satire goeie voorbeelde, want hierdie soorte is van ‘n “gasheer”, van ‘n “moederteks”, afhanklik vir eie bestaan.

Die groot parodieë in die letterkunde ontstyg en oorstyg die eng parameters van definisies, en word iets nuuts, soms iets geweldigs, soos Don Quixote wat die romantiese beheptheid met ridder-romans wou parodieer. Wat gebeur toe? Don Quixote, om Nabokov by te haal, word groter as sy skepper, De Cervantes. Hy word die tydelose dromer-idealis, dapper genoeg om, soos dit in die musiekblyspel Man of La Mancha heet, “die onmoontlike droom te droom”. Hierdie gawe word onvergeetlik vergestalt in die beroemde Russiese verfilming van Don Quixote in 1957, met Kozintsev as regisseur en die legendariese akteur, Cherkassov, as die Don. In die toneel met die windmeulens, word Don Quixote met één vlerkslag van sy perd gelig en bly hy draai, om en om teen die hoë blou lug van die hoogland van La Mancha, terwyl hy sy credo teen die hemele uitroep. Dis byna onmoontlik om die religieuse in hierdie toneel mis te kyk: wie dink op só ‘n oomblik nog aan ‘n parodie?

Maar die ontleningspraktyk in die letterkunde, hoe algemeen dan ook, het ‘n skadukant. Dit mag primêre skeppende werk verdring, geput diep uit eie belewenis (be-lewe-nis). Selfs wanneer die naskrywings van ‘n model tot verrassende wendings lei, bly één feit staan: die basiese dinkwerk vir ‘n herdigte vers is reeds deur iemand anders gedoen. Gedagtegange is klaar neergelê, ook sintaktiese bane. Die naelstring tussen ‘n nadigting en sy model blý dus voortklop. Ergo: geen nadigting is ooit volkome outonoom nie.

Kan ‘n letterkunde blý floreer as dit afstuur op grootskaalse afgeleide werk? Die groot dinge in Groot Verseboek is op stuk van sake geen náskrywings nie. Hulle is uit eie lendene gedink.

In baie opsigte is die eietydse digter, paradoksaal, slegter daaraan toe as sestig, sewentig jaar gelede. In 1952 het Jean Cocteau in sy dagboek kon skryf (Nederlandse vertaling): “Hoe veelvuldiger de mogelijkheden om te communiceren hoe minder men op de hoogte is van wat er elders gebeurt.”

Die digter in die nuwe millennium is oorgeïnformeerd en oorvertegnologiseerd; die media, die elektroniese media, kom uit alle rigtings op hom aan, dikwels met informasie wat hy nie wil hê nie, maar tog in sy reeds oorlaaide sisteem opneem. Die twaalfjarige seun van ‘n vriend was baie oorstuur oor sy oupa se dood en het - ek herskep - die volgende aan sy pa gesê: “Pappa, my kop is soos ‘n webwerf. Ek is ontsteld oor al die inligting wat ek moet hanteer.”

Digters moet hul sekondêre prikkels deesdae uiters selektief kies as hulle die gees van uniekheid, van oorspronklikheid, van eie segging wil behou in hul verse.

Versiende skrywers is hulle bewus van tegnologiese gevare. Die Switserse skrywer en dramaturg, Max Frisch, het byvoorbeeld gesê: “Technology is the knack of so arranging the world that we don’t have to experience it.”

Nog ‘n wêreldnaam kan hier genoem word, dié van Günter Grass, wat by die ontvangs van die Nobelprys in 1999 gesê het dat politiek en ideologie groot gevare vir die mensdom inhou. Hy noem verder dat literatuur al hoe minder ‘n teëgif word vir dogma. Grass sê: “Is it not rather the case that literature is currently retreating from public life and that young writers are using the internet as playground? A standstill, to which the suspicious word ‘communication’ lends a certain aura, is making headway.”

Die kanse dat jong skrywers toenemend gaan inkeer op hulself om kommunie met die eie siel te soek, raak al hoe skraler. Wat baie jong skrywers soek, is ononderbroke kommunikasie met “agente” buite hulself, via selfone, rekenaars, die internet, draagbare radio’tjies.

Alle musiek begin met stilte, sê Nigel Kennedy, die beroemde violis, en alle letterkunde sou ook met stilte, besinning en meditasie moes begin, maar wys my die jong digter wat drie weke woestynstilte kan aandurf sonder selfone en ander fragmenteerders van die stilte? Stilte, in ‘n elektronies bepaalde wêreld, het die VYAND geword.

Rekenaars kan deur virusse besmet word; die menslike gees ook. Debussy het dit al in 1915 geweet toe hy van kiemoorloë in die musiek gepraat het, en na “microbes of artificial grandeur” verwys het.

Remedie? Die oudste op aarde: gee primêre prikkels ‘n kans, soos vroeër gesê; keer in op stilte; herower die droom, en bowenal verbeelding, waarvan Eitemal so mooi gesê het:

“Verbeelding is stuurman, hy sit aan die roer,

En wys ons die weg wat na Kammaland voer . . .”

Op die ou end is ‘n skepper die enigste bewaarder van sy talent. Kritici kan hom help, maar ook mislei; aan die skepper lê dit om gereeld sy talent teen die lig te hou, soos ‘n kosbare vel tekenpapier. As die watermerk - daardie waarmerk van egtheid - nie op die papier verskyn nie, moet die digter terug na sy lessenaar; die skilder terug na sy esel.

‘n Skepper kan die hele wêreld verblind en begogel, net nie homself nie.

 

Kaapstad

31 Desember 2009

 

Geselekteerde verwysings

 

Atwood, Margaret. 1983/1996. “Unearthing suite”, Bluebeard’s egg and other stories. London: Vintage.

Cloete, T.T. (red.) 1992. Literêre Terme & Teorieë. Pretoria: H.A.U.M.- Literêr.

Cocteau, Jean. 1999. Dagboek van een duisendkunstenaar (1942-1954). Amsterdam: De Arbeiderspers. (Aanhaling bl. 156)

Grass, Günter. 2006. “To be continued . . .” (1999), Nobel-prys-toespraak, opgeneem in Nobel Lectures. Cambridge: Icon Books.

Hugo, Daniel. 1987. Vuurdoring. Pretoria: H.A.U.M.-Literêr.

Kannemeyer, J.C. 1978. Geskiedenis van die Afrikaanse Literatuur, band 1. Kaapstad: Academica (Sien bl. 85 vir verwysing na Onze Jan Hofmeyr se toespraak “Is’t ons ernst?”)

Kannemeyer, J.C. (red.) 2008. Briewe van Peter Blum. Hermanus: Hemel & See Boeke.

Krige, Uys. 1964. Vooraand. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel.

Louw, N.P. van Wyk. 1972. Die pluimsaad waai ver. Kaapstad: Human & Rousseau.

Louw, N.P. van Wyk. 1981. Versamelde gedigte. Kaapstad: Human & Rousseau en Tafelberg.

Louw, N.P. van Wyk. 1986. Versamelde Prosa I. Kaapstad: Tafelberg.

Louw, N.P. van Wyk. 1986. Versamelde Prosa 2. Kaapstad: Human & Rousseau.

Opperman, D.J. 1987. Versamelde Poësie. Kaapstad: Human & Rousseau, sowel as Tafelberg.

Patrick, Julian (red.) 2008. 501 Great Writers: A Comprehensive Guide to the Giants of Literature. London: Quintessence Book. (Aangehaalde uitsprake van Max Frisch (bl. 407) en William Burroughs (bl. 427) kom in dié werk voor.)

Pound, Ezra. 19. . . . . . . Brief aan Harriet Moore, oorgedruk in Perspectives on Modern Literature, onder redaksie van Hoffman.

Ross, Alex. 2009. The rest is noise: Listening to the Twentieth Century. London: Harper Perennial. (Die Debussy-aanhalings, onderskeidelik op bl. 49 en 109, kom uit bogemelde werk.)

Sitwell, Edith. 1997. Selected Letters of Edith Sitwell, edited by Richard Greene. London: Virago.

Van den Heever, Toon. 1958 (vyfde druk). “Digters van naby”, Gerwe uit die erfpag van Skoppensboer. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel.

 

Uitgestelde roem

Monday, January 18th, 2010
Robert Tannahill

Robert Tannahill Gedenkteken

Die naweek het ek iewers weer daardie óú slagspreuk van “Liberation now, education later” raakgelees. Derhalwe is die versoeking gewoon té groot en begin ek vanoggend se Nuuswekker met ‘n wysiging daarvan: “Eers sterf, daarna roem,” want Robert Tannahill, ‘n Skotse digter wat op 17 Mei 1810 selfmoord gepleeg het nadat sy manuskrip afgekeur was deur twee uitgewers, gaan tydens ‘n spesiale geleentheid op die 200-jarige herdenking van sy dood vereer word.

‘n Hele kultus het glo rondom Tannahill se nalatenskap ontstaan na sy dood. So was die spesiale herdenkingsdiens met die eeufeesviering van sy dood deur nie minder as 15,000 mense bygewoon nie. Volgens Valerie Reilly, hoof van die museum te Paisley waar Tannahill geleef het, was hy veral bekend as ‘n digter wat die natuur besing het.  ”Right from being a child, he walked in the woods,” het sy aan die BBC gesê. “We’re only a few hundred yards away from what used to be Thou Bonnie Wood O’ Craigielea, which later became the notorious Ferguslie Park housing estate and he loved walking among nature and observing and then putting his thoughts down on paper. He kind of considered himself to be the second Robert Burns. He’s not quite up there with Burns but he’s not far behind and his work is still very much appreciated and some of his songs are still sung.”

Tydens die fees wat vir Mei-maand vanjaar beplan word, sal daar ‘n reeks konserte, asook voordragte, lesings en wandelings deur sy geliefkoosde besigtigingsplekke aangebied word.

Vir jou leesplesier volg Tannahill se gedig “Bonnie Wood O’ Craigielea” waarna Valerie Reilly verwys het.

***

Intussen het Ester Naomi Perquin haar eerste Wisselkaart op die tafel geplaas. Met Roel Richelieu van Londersele, een van die genomineerdes vir die Herman de Coninck-prys wat op 28 Januarie aangekondig word, is daar onlangs ‘n onderhoud gevoer. Nog ‘n besonderse toevoeging tot die webblad is Joan Hambidge se verslag van haar pasafgelope reis na Egipte, mét enkele gedigte wat daaruit voortgevloei het daarby … Ook die vier nuwe gedigte wat van Hennie Aucamp ontvang en geplaas is, is ‘n móét lees.

Mag hierdie week stewig in sy groewe lê vir jou.

Mooi bly.

LE

 

Bonnie Wood O’ Craigielea

 

Thou bonnie wood o’ Craigielea!
Thou bonnie wood o’ Craigielea!
Near thee I pass’d life’s early day,
And won my Mary’s heart in thee.

 

The brume, the brier, the birken bush,
Blume bonnie o’er thy flowery lee,
An a the sweets that ane can wish
Frae Nature’s han, are strewed on thee.

 

Far ben thy dark green plantin’s shade,
The cushat croodles am’rously,
The mavis, doon thy bughted glade,
Gars echo ring frae ev’ry tree.

 

Awa, ye thochtless, murd’rin gang
Wha tear the nestlins ere they flee!
They’ll sing you yet a cantie sang,
Then, oh! in pity let them be!

 

Whan Winter blaws, in sleety showers,
Frae aff the Norlan hills sae hie,
He lichtly skiffs thy bonnie bow’rs,
As laith tae harm a flow’r in thee.

 

Though fate should drag me south the line,
Or o’er the wide Atlantic sea,
The happy hours I’ll ever mind
That I, in youth, hae spent in thee.

 

Ongewone woorde:
brume=broom
birken=beech
han=hand
ben=within
cushat croodles=woodpigeon nestles
mavis=thrush
bughted=sheltered
gars=makes
cantie=tuneful
lichtly skiffs=lightly skim
laith=loath

 

Word vervolg…

Tuesday, November 3rd, 2009

Dis is weer daardie tyd van die jaar in Stellenbosch: so tussen die hooikoors, eksamen-navrae van studente en nasienwerk deur kry ‘n mens net nie kans om daardie inskrywing oor Roethke, wat jy nou al twee weke in gedagte het, te pos nie. Jy kry ook nie kans om die somer se aankoms ordentlik te vier nie. November is ‘n berg wat jy moet uit. Jy sit en werk tot laat in die nag; jou oorfone pols Prokofiëf se klavierkonserte deur jou moeë brein (die ‘remastered’ Neemi Jarvi stel uit 1990 of 1991, met die pianiste Boris Berman en Horacio Guittierrez); jy drink te veel koffie. Met jou laaste bietjie energie, tussen neertuimel in die bed en slaap, lees jy darem Hennie Aucamp se nuwe bundel, Die huis van die digter en ander liefdesverhale, storie vir storie deur. En wat ‘n bundel is dit nie! (Word vervolg…)

Om te sterf in stadige aksie – Deel 1

Tuesday, October 27th, 2009

Dat die liefde ʼn duisend vorme aanneem, dié weet ons al te goed. Danksy I.D. du Plessis. Maar van die grootste en suiwerste liefdes in die geskiedenis het maar altyd tragies gehuiwer buite die konvensionele grense wat so algemeen aan dié lastige begrip toegedig word.

 

Die fiktiewe Lorca en Dali vs die regte-egte weergawe

Gistermiddag bel Hennie Aucamp my, meegevoer deur die film Little Ashes, waarin die liefdesverhouding tussen Salvador Dalí en Federico Gracía Lorca onder die vergrootglas geplaas word. Ek en Hennie is baie opgewonde oor die fliek, want ons wag al lank vir ʼn rolprent wat die komplekse emosies en feite rondom dié Spaanse digter se geskiedenis op ʼn sensitiewe wyse verken. Nie dat Little Ashes as bio-pic so akuraat is nie, daarvoor is die akteurs darem te mooi, en boonop word Lorca as student uitgebeeld waar hy seks met ʼn vrou het (heiligskennis!) terwyl onse Salvador masturberend toekyk. Maar soos Hennie tereg opmerk: hierdie prent is die eerlikste poging nóg om beslag te gee aan die omstrede geskiedenis van twee van Spanje se grootste seuns.

 

Saam met die res van die wêreld wag ons steeds op dié Lorca-film wat as ʼn universele verwysingspunt kan dien. Soos Richard Attenborough se Gandhi, byvoorbeeld.

 

As Salvador Dalí nie ʼn klein pielietjie gehad het en nie so angstig was oor anale seks nie, raai ek, sou hy en Lorca lewenslank aan mekaar kon rank, en sou die digter se lewe heel waarskynlik anders ontrafel het. Die kooie in Madrid se Residencia de Estudiantes en die beddens in die skilder se ouerhuis in Figueres sou beslis ánders gekraak het. Miskien sou Gala haar skrede nie hoef te gewend het tot die arms van sjarmante jong mans nie.

 

Maar dit daar gelaat. Die geskiedenis kan of wil nie verander word nie, allermins volgens die verbeeldingsvlug van ʼn rolprentregisseur. En dit bring my by ʼn ander aangrypende liefdesgeskiedenis wat die beperkinge van norme en verwagtinge oorstyg (maar nie oorleef) het.

 

Derek Jarman

Derek Jarman

Tot en met sy dood aan Vigs-verwante komplikasies, het Derek Jarman, die Britse skilder, filmregisseur, skrywer en teaterontwerper, sy gedagtes opgeteken in 33 leergebonde dagboekies. Die tydperk vanaf 11 Mei 1991 tot vroeg 1994, is deur Keith Collins geredigeer en saamgevat onder die titel Smiling in Slow Motion.

 

Een van die mooiste liefdesverhale – dié tussen Jarman en sy beeldskone minnaar HB – lê opgesluit tussen die bladsye van hierdie besondere boek.

 

Jarman het die jong man die eerste keer opgemerk toe hy saam met Artie Bressanen en Wieland Speck deelgeneem het aan ʼn paneelbespreking by ʼn gay-filmfees in Newcastle, en hy in die vraesessie nie sy oë kon afhou van ʼn kêrel in die voorste ry, geklee in ʼn “immaculate suit with a very sharp haircut and bright, intelligent eyes” nie.

 

Maande later het die regisseur, wat bekend is vir films soos Sebastiane, Jubilee, The Tempest, Caravaggio en Edward II, die moed bymekaargeskraap om vir HB te kontak en te nooi vir ʼn kuier by sy huis in Dungeness.

 

Dit was nie lank nie of HB trek by Jarman in en word sy laaste groot liefde.

 

Die twee had ʼn oop verhouding. Toe Jarman die jonge HB uit Middlesbrough met sy aankoms in Dungeness inlig dat hy HIV+ is, het die jong man ongeërg aangekondig: “That doesn’t worry me, I’m not here for sex.”

 

Een van die aangrypendste foto’s in Smiling in Slow Motion is van die skone HB wat liefderyk met sy arm lê om die sterwende Jarman.

 

 (Vervolg)

 

Bron van Little Ashes-foto.

Bron van Jarman-foto.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

om te klip - gedigte in steen

Monday, October 19th, 2009

Sowat ‘n anderhalfjaar gelede het die kleine Maude Bekaert (met die grootste van harte) uit Brugge, België, my genader om haar te help om Afrikaanse digters se werke aan te stuur vir ‘n projek wat sy aan die gang gesit het: Om ons Afrikaanse, asook Vlaamse en Nederlandse gedigte-woorde in klip te verewig. Sy het self die keuses van gedigte gedoen - eintlik enkele lyne uit gedigte - en dit toe in steen ge’hak’. Kalligrafies ingekap.

Digters soos Hennie Aucamp, Toast Coetser, breyten breytenbach, DPM Botes, Charl-Pierre Naude en die uwe se werke is gebruik. Die imposante klipwerke is later tydens ‘n veiling in België verkoop en het derduisende rande (65 990 euro, om presies te wees) ingesamel vir ‘n Vigs-kindertehuis in Suid-Afrika. Die enigste ‘tema’ van die gedigtelyne was dat dit ‘die moed moet vertoon’. Lyne van hoop, met ander woorde.

Die wonderding is dat Maude en haar span nou na Suid-Afrika kom, en komende Saterdag is daar ‘n ope dag by die Kasteel waar plaaslike ‘klippehakkers’  - deur Maude opgelei - weer eens Afrikaanse diglyne op klip ten toon stel. ‘n Boek wat die werke bevat, Wor(l)ds, word ook dan vrygestel. Enigeen is welkom, die program vir die dag verloop so:

BOOK Launch WOR(L)DS
Launch of the book on the letter carving collaboration between Southern African and Belgian artists held in 2008. Of special interest to designers and architects, also poets and people who love the written word.
Meet the designers, carvers and teachers of this art and see samples of their work. Buy the book. Support Breadline Africa projects.
Date: Saturday 24th October 2009
Venues: Start your lovely spring afternoon visiting the studio of the Number One Letter Carvers at the Castle of Good Hope. Open studio from 1.45 to 2.45 pm.
Then Stroll up Waterkant Street to The Book Lounge (at 71 Roeland Street) for the launch of the book together with readings from some of the featured poets, starting at 3pm
RSVP: The Book Lounge: booklounge@gmail.com or 021 - 462 2425

 En kyk, so het een van ‘my’ klippe gelyk..

‘n Ander lieflike blokklip het as volg uitgekom:

Rachelle Greeff het net na die veiling in Rapport hierdie storie geskryf:

  “Dit is interessant dat die oorsese lesers skynbaar groter agting het vir ons (nuwe, jong) digterstemme as ons eie lesers, en dit spreek boekdele.’’

Dis ‘n sonnige Sondagoggend, die laaste Sondag in September en honderde mense stroom na die stadshuis in Brugge, België.  Die geleentheid, elfuur die oggend, is die opveiling van 37 klipblokke met poësie-reëls daarin gekalligrafeer.  Die versmakers is bekende Belgiese digters en een Nederlandse digter, Stef Bos, wat nou in België woon.  Hierbenewens is daar die teks van N’kosi iSikelele iAfrika (Enoch Sontonga) – en dan ook ses Afrikaanse digters.

“Dit sê daar is ’n plek in die internasionale taleryk vir Afrikaans – ‘n jong, uiters moderne samekoms van verskeie reistale, hoofsaaklik Hollands, wat met voortdurende nuweskeppings die basistaal se sprekers raak en roer.

“Die oënskynlike eenvoud van die digsinne (wat die Vlaminge uitgekies het, terloops) klim uit daardie klippe uit en spreek tot die Belge se harte. Soos dit hoort.

“Dit is interessant dat die oorsese lesers skynbaar groter agting het vir ons (nuwe, jong) digterstemme as ons eie lesers, en dit spreek boekdele,’’ sê een van die gekose digters, die Gautenger Ronel Nel.

Nel se klip met die woorde kom ons pluk die lug en melk die son het 3 400 euro gehaal.  Dis die tweede hoogste bod op die veilig, en die hoogste van die Afrikaanse digters.  Die algemene hoogste bod was vir die Vlaamse digter Huguette van Reamdonck met  Als het donkert komt de maan  vir 4 000 euro.

Buiten Nel is die ander Afrikaanse digters wat deur die Belge gekies is Hennie Aucamp, Breyten Breytenbach, Toast Coetzer, Charl-Pierre Naudé en D.P.M. Botes.

Altesaam is 65 990 euro is gemaak en die organiseerders verwag ‘n verdere sowat 12 000 euro uit die verkope van katalogusse, brosjures en ander wetenswaardighede van die projek.  Die geld is bestem vir organisasies, Sprinkle en Breadline Africa, gemoeid met Afrika-kinders met Vigs.  Geen van die digters word vergoed nie.

Dié poësie-stene is drie maande lank deur die loop van die Europese somer op die fiets- en wandelpad tussen Brugge en Zeebrugge uitgestal.  Drie van die stene is deur die stad Brugge gekoop, vir sowat 5 000 euro, en sal voortaan blywend in die stad besigtig kan word. 

Die projek, Wor(l)ds,  is gereël deur Brugge Plus, ‘n kultuurorganisasie van Brugge, en is bekroon vir die mees vernuwende toeristies-kreatiewe projek van die provinsie.  Die projekleier, kalligraaf Maud Bekaert,  sê tot haar “verwondering het die die klippe met Afrikaanse tekste nog beter verkoop as die klippe met Nederlandse tekste’’.  Aanvanklik was sy “bietjie bang dit sou moeilik wees om Afrikaanse tekste te verkoop, maar iedereen wil ‘n Afrikaanse teks hê’’.  

Die volgende versreëls het in België onder die hamer gekom:

  • Om in ‘n trein te slaap is om ‘n rivier te wees
  • Die vuur moet van binne kom

Albei van Breyten Breytenbach.   

 

  • Die wind is ’n droë lied sonder die see, deur Toast Coetzer.      

 

         Tijd is enkelvoud/ of zelfs het veelvoud ervan/ zoals de liefde

  • In de wereld van negatieven/ Is alles omgekeerd.

Beide Charl-Pierre Naudé, vertaal deur Robert Dorsman.

  

·         Verlange onbegrens. / So is liefde sinvol/ nie ingekort tot mens, deur Hennie Aucamp*.        

 

  • Voor die dag is die nag
  • Die son kniel by die ewenaar
  • Kom ons pluk die lug en melk die son 

Al drie van Ronel Nel.

 

  • Ons moenie versigtig wees nie die liefde is roekeloos, deur D.P.M. Botes. 

 Kom Kasteel toe en kom klip saam!

 

 

Die liedteks as deel van die poësieskat in Afrikaans

Tuesday, September 29th, 2009

Hennie Aucamp

 

My dank aan Desmond Painter vir sy vriendelike inskatting van my werk, eers die kortverhale, en toe die kabaret. My dank bowenal vir sy opdragvers “Miss Jesus”. Dis ʼn eersteklas liedteks, en behoort dadelik by DALRO geregistreer te word, saam met die toonsetting, indien daar ʼn toonsetting was.

Die vergete liedtekste in ʼn kultuur is kommerwekkend. Soveel tekste, sowel as hul toonsettings, raak verlore in die wind. Pragtige toonsettings, van mense soos Nataniël, Ewald Cress, Waldo Malan en ander.

Danie Marais het by geleentheid ʼn bloemlesing liedtekste bepleit. Ek hoop sy owerhede steun hom in die saak. Die kern van so ʼn bloemlesing bestaan reeds. Dis saamgestel deur Rosa Keet wat Kabarette en liedtekste geskryf het, en ook hoogs singbare vertalings op haar naam het. Om die een of ander duister rede het haar samestelling nooit verskyn nie.

Rosa Keet se bundel sou die stempel op haar en Merwede van der Merwe se groot diens aan die liedteks geplaas het, by wyse van Musiek & Liriek – simposiums en hoogs gesofistikeerde televisiereekse.

Maar die Musiek & Liriek – beweging het ʼn lang geskiedenis agter hom. Daar is volksmusiek as oerherinnering, en toe het die hoogty van bladmusiek in Afrikaans gekom, dwarsdeur die veertigerjare. Daar was “Huisie in die berge” van Hendrik Susan, en die blywende musiek van Danie Bosman, Jan Pohl, Tommy Roering en ander.

En toe kom die Sestigers, en ná hulle die nooit volprose vennootskap Merwede van der Merwe en Rosa Keet, en nuwe name het begin sing, van Anton Goosen tot by Stephan Bouwer, Koos Kombuis, Nataniël, David Kramer en talle ander.

Danie – dis nou Danie Marais – hou tog ʼn plekke oop in jou beoogde bloemlesing vir “Miss Jesus” van Desmond Painter?