Posts Tagged ‘Hennie Aucamp’

Ronel Nel. om te klip - gedigte in steen

Monday, October 19th, 2009

Sowat ‘n anderhalfjaar gelede het die kleine Maude Bekaert (met die grootste van harte) uit Brugge, België, my genader om haar te help om Afrikaanse digters se werke aan te stuur vir ‘n projek wat sy aan die gang gesit het: Om ons Afrikaanse, asook Vlaamse en Nederlandse gedigte-woorde in klip te verewig. Sy het self die keuses van gedigte gedoen - eintlik enkele lyne uit gedigte - en dit toe in steen ge’hak’. Kalligrafies ingekap.

Digters soos Hennie Aucamp, Toast Coetser, breyten breytenbach, DPM Botes, Charl-Pierre Naude en die uwe se werke is gebruik. Die imposante klipwerke is later tydens ‘n veiling in België verkoop en het derduisende rande (65 990 euro, om presies te wees) ingesamel vir ‘n Vigs-kindertehuis in Suid-Afrika. Die enigste ‘tema’ van die gedigtelyne was dat dit ‘die moed moet vertoon’. Lyne van hoop, met ander woorde.

Die wonderding is dat Maude en haar span nou na Suid-Afrika kom, en komende Saterdag is daar ‘n ope dag by die Kasteel waar plaaslike ‘klippehakkers’  - deur Maude opgelei - weer eens Afrikaanse diglyne op klip ten toon stel. ‘n Boek wat die werke bevat, Wor(l)ds, word ook dan vrygestel. Enigeen is welkom, die program vir die dag verloop so:

BOOK Launch WOR(L)DS
Launch of the book on the letter carving collaboration between Southern African and Belgian artists held in 2008. Of special interest to designers and architects, also poets and people who love the written word.
Meet the designers, carvers and teachers of this art and see samples of their work. Buy the book. Support Breadline Africa projects.
Date: Saturday 24th October 2009
Venues: Start your lovely spring afternoon visiting the studio of the Number One Letter Carvers at the Castle of Good Hope. Open studio from 1.45 to 2.45 pm.
Then Stroll up Waterkant Street to The Book Lounge (at 71 Roeland Street) for the launch of the book together with readings from some of the featured poets, starting at 3pm
RSVP: The Book Lounge: booklounge@gmail.com or 021 - 462 2425

 En kyk, so het een van ‘my’ klippe gelyk..

‘n Ander lieflike blokklip het as volg uitgekom:

Rachelle Greeff het net na die veiling in Rapport hierdie storie geskryf:

  “Dit is interessant dat die oorsese lesers skynbaar groter agting het vir ons (nuwe, jong) digterstemme as ons eie lesers, en dit spreek boekdele.’’

Dis ‘n sonnige Sondagoggend, die laaste Sondag in September en honderde mense stroom na die stadshuis in Brugge, België.  Die geleentheid, elfuur die oggend, is die opveiling van 37 klipblokke met poësie-reëls daarin gekalligrafeer.  Die versmakers is bekende Belgiese digters en een Nederlandse digter, Stef Bos, wat nou in België woon.  Hierbenewens is daar die teks van N’kosi iSikelele iAfrika (Enoch Sontonga) – en dan ook ses Afrikaanse digters.

“Dit sê daar is ’n plek in die internasionale taleryk vir Afrikaans – ‘n jong, uiters moderne samekoms van verskeie reistale, hoofsaaklik Hollands, wat met voortdurende nuweskeppings die basistaal se sprekers raak en roer.

“Die oënskynlike eenvoud van die digsinne (wat die Vlaminge uitgekies het, terloops) klim uit daardie klippe uit en spreek tot die Belge se harte. Soos dit hoort.

“Dit is interessant dat die oorsese lesers skynbaar groter agting het vir ons (nuwe, jong) digterstemme as ons eie lesers, en dit spreek boekdele,’’ sê een van die gekose digters, die Gautenger Ronel Nel.

Nel se klip met die woorde kom ons pluk die lug en melk die son het 3 400 euro gehaal.  Dis die tweede hoogste bod op die veilig, en die hoogste van die Afrikaanse digters.  Die algemene hoogste bod was vir die Vlaamse digter Huguette van Reamdonck met  Als het donkert komt de maan  vir 4 000 euro.

Buiten Nel is die ander Afrikaanse digters wat deur die Belge gekies is Hennie Aucamp, Breyten Breytenbach, Toast Coetzer, Charl-Pierre Naudé en D.P.M. Botes.

Altesaam is 65 990 euro is gemaak en die organiseerders verwag ‘n verdere sowat 12 000 euro uit die verkope van katalogusse, brosjures en ander wetenswaardighede van die projek.  Die geld is bestem vir organisasies, Sprinkle en Breadline Africa, gemoeid met Afrika-kinders met Vigs.  Geen van die digters word vergoed nie.

Dié poësie-stene is drie maande lank deur die loop van die Europese somer op die fiets- en wandelpad tussen Brugge en Zeebrugge uitgestal.  Drie van die stene is deur die stad Brugge gekoop, vir sowat 5 000 euro, en sal voortaan blywend in die stad besigtig kan word. 

Die projek, Wor(l)ds,  is gereël deur Brugge Plus, ‘n kultuurorganisasie van Brugge, en is bekroon vir die mees vernuwende toeristies-kreatiewe projek van die provinsie.  Die projekleier, kalligraaf Maud Bekaert,  sê tot haar “verwondering het die die klippe met Afrikaanse tekste nog beter verkoop as die klippe met Nederlandse tekste’’.  Aanvanklik was sy “bietjie bang dit sou moeilik wees om Afrikaanse tekste te verkoop, maar iedereen wil ‘n Afrikaanse teks hê’’.  

Die volgende versreëls het in België onder die hamer gekom:

  • Om in ‘n trein te slaap is om ‘n rivier te wees
  • Die vuur moet van binne kom

Albei van Breyten Breytenbach.   

 

  • Die wind is ’n droë lied sonder die see, deur Toast Coetzer.      

 

         Tijd is enkelvoud/ of zelfs het veelvoud ervan/ zoals de liefde

  • In de wereld van negatieven/ Is alles omgekeerd.

Beide Charl-Pierre Naudé, vertaal deur Robert Dorsman.

  

·         Verlange onbegrens. / So is liefde sinvol/ nie ingekort tot mens, deur Hennie Aucamp*.        

 

  • Voor die dag is die nag
  • Die son kniel by die ewenaar
  • Kom ons pluk die lug en melk die son 

Al drie van Ronel Nel.

 

  • Ons moenie versigtig wees nie die liefde is roekeloos, deur D.P.M. Botes. 

 Kom Kasteel toe en kom klip saam!

 

 

Die liedteks as deel van die poësieskat in Afrikaans

Tuesday, September 29th, 2009

Hennie Aucamp

 

My dank aan Desmond Painter vir sy vriendelike inskatting van my werk, eers die kortverhale, en toe die kabaret. My dank bowenal vir sy opdragvers “Miss Jesus”. Dis ʼn eersteklas liedteks, en behoort dadelik by DALRO geregistreer te word, saam met die toonsetting, indien daar ʼn toonsetting was.

Die vergete liedtekste in ʼn kultuur is kommerwekkend. Soveel tekste, sowel as hul toonsettings, raak verlore in die wind. Pragtige toonsettings, van mense soos Nataniël, Ewald Cress, Waldo Malan en ander.

Danie Marais het by geleentheid ʼn bloemlesing liedtekste bepleit. Ek hoop sy owerhede steun hom in die saak. Die kern van so ʼn bloemlesing bestaan reeds. Dis saamgestel deur Rosa Keet wat Kabarette en liedtekste geskryf het, en ook hoogs singbare vertalings op haar naam het. Om die een of ander duister rede het haar samestelling nooit verskyn nie.

Rosa Keet se bundel sou die stempel op haar en Merwede van der Merwe se groot diens aan die liedteks geplaas het, by wyse van Musiek & Liriek – simposiums en hoogs gesofistikeerde televisiereekse.

Maar die Musiek & Liriek – beweging het ʼn lang geskiedenis agter hom. Daar is volksmusiek as oerherinnering, en toe het die hoogty van bladmusiek in Afrikaans gekom, dwarsdeur die veertigerjare. Daar was “Huisie in die berge” van Hendrik Susan, en die blywende musiek van Danie Bosman, Jan Pohl, Tommy Roering en ander.

En toe kom die Sestigers, en ná hulle die nooit volprose vennootskap Merwede van der Merwe en Rosa Keet, en nuwe name het begin sing, van Anton Goosen tot by Stephan Bouwer, Koos Kombuis, Nataniël, David Kramer en talle ander.

Danie – dis nou Danie Marais – hou tog ʼn plekke oop in jou beoogde bloemlesing vir “Miss Jesus” van Desmond Painter?

 

Digters op reis

Monday, September 28th, 2009

Ek weet nie hoeveel lesers onthou nog die wonderlike aanhaling van Albert Camus voor in Hennie Aucamp se kortverhaalbundel Enkelvlug nie: ‘Dit is geen plesier om te reis nie. Ek sien eerder ‘n askese daarin. Vir sy eie ontwikkeling gaan ‘n mens op reis, wanneer ‘n mens onder “ontwikkeling” verstaan die afrigting van sy diepste sintuig, dié vir die ewigheid.’

Nou ja, self is ek maar eksistensieel ongesofistikeerd; ek is versot op Camus en kie, maar reis is nogtans vir my een groot, ononderbroke plesier. Afrigting vir die ewigheid? Whatever, soos ons in Afrikaans sê. Laat die ewigheid vir homself sorg; dit sal in elk geval nie die eerste keer wees dat ek ongeoefen vir iets opdaag nie.

Nee wat, selfs die kleinere teenspoedjies is vir my lekker, want hulle maak goeie stories vir die mense by die huis. Van daardie oomblik af dat ek my eerste whisky op die vliegtuig bestel tot wanneer ek die gevange gehoor van vriende en familie onderwerp aan my foto’s, is ek in my selftevrede element. Om jou daaglikse roetine vir ‘n wyle ter syde te stel en al die plekke van jou gunsteling flieks en boeke te besoek, is niks minder nie as ‘n reuse voorreg en plesier. ‘n Mens kan sommer liries raak! 

Ek vermoed dit is hoe baie digters ook maar voel, met die gevolg dat reisgedigte baie maklik anekdoties, soetsappig, oorromanties, en cliché-matig kan klink. Die ‘onthou jy nog die middag in [vul in: enige Europese stad]’ soort vers hou beslis groot risikos in. In daardie opsig is reisgedigte seker soos liefdesgedigte: pragtig as hulle werk, maar vol slaggate vir die goedbedoelende digter!  

Ted Hughes

Ted Hughes

Die reis, of die verblyf elders, kan natuurlik ook ‘n onwennige ervaring wees. En goeie skrywers en digters het die fisieke reis nog altyd ontgin as ‘n kragtige, durende metafoor vir die meer ‘geestelike’ of eksistensiële reise wat ons ook moet aflê. Albert Camus se eie kortverhaal, ‘Die owerspelige vrou’ (in Afrikaans vertaal deur J.D. Stemmet en opgeneem in Hennie Aucamp se Wys my waar is Timboektoe), is ‘n skitterende voorbeeld hiervan.

Een van die dinge wat my aanspreek in Danie Marais se eerste bundel, In die buitenste ruimte, is juis sy bevreemdende, wrang blik op die Europese gegewe, die verblyf in Duitsland. Daar is ander voorbeelde ook in Afrikaans: enkele van Marlene van Niekerk se gedigte oor Amsterdam in Groenstaar; die beste van Joan Hambidge se gedigte oor reise na afloop van ‘n liefdesverhouding.  

Is daar egter ‘n meer manjifieke voorbeeld van die ingesteldheid waarvan ek praat as die Engelse digter Ted Hughes se ‘You Hated Spain’? Dit is een van die gedigte waarin hy Sylvia Plath aanspreek en het eers in New Selected Poems 1957-1994 en later in Birthday Letters verskyn. Hier is die eerste paar reëls:

Spain frightened you.
Spain.
Where I felt at home.
The blood-raw light,
The oiled anchovy faces, the African
Black edges to everything, frightened you.
Your schooling had somehow neglected Spain.
The wrought-iron grille, death and the Arab drum.
You did not know the language, your soul was empty
Of the signs, and the welding light
Made your blood shrivel.
 

My bewondering vir hierdie gedig is so groot dat ek Hughes se idee ‘n paar jaar terug vir ‘n eie skryfsel gesteel het, ‘n soort alter-perspekstief op daardie wonderlikste van wonderlike plekke, die Griekse eilande… Ek plaas dit hier, maar wees my maar genadig: ek het mos al in my eerste aflewering gesê ek is nie ‘n digter nie!

 

JY HET GRIEKELAND GEHAAT
(n.a.v. Ted Hughes se You hated Spain)

 

Jy het Griekeland gehaat

die son was vir jou te warm 

die rondloperhonde het aan jou gekou

hulle het dag en nag en sonder ophou

gekerm en byt om ons bed se enkels.

Later het ons nog net in jou slaap gepraat.

 

Jy het Griekeland gehaat

elke onverbiddelike heuwel met sy kerk

ver van alles swygend en die verploeterende hitte 

alewig in die middag en die eentonig afgewitte

ure met hulle stowwerige donkies en ooms

en swartgeklade tannies op straat.

 

Jy het Griekeland gehaat

die gekibbel en gelatenheid van die mense

die gefnuikte gasvryheid van elke gebaar:

Jy sou eensaam bly eerder as om jou te skaar

by die té intussen menswees van hierdie land

van eilande klip en baie water.

 

Jy het griekeland gehaat.

Daagliks gedoog die bouer die argeoloog

want die lewe hier is altyd wat dit was en dan ook meer.

Jy het weggegaan in die wete dat niks wat teer

is tog oorbly waar soveel ten spyt oorleef. Liefde is ‘n ruïne hier

en elke dag ‘n duisend jaar te laat.

 

 

Woordpoort begin vandag

Thursday, September 24th, 2009
Woordpoort

Woordpoort

Van vandag tot Sondag vind die eerste Afrikaanse woordkunsfees in Gauteng plaas. Volgens Linette van der Merwe, hoofdirekteur van Woordpoort, het Afrikaanse kunstefeeste soos Woordfees (Stellenbosch), KKNK (Oudtshoorn), Volksblad (Bloemfontein) en Aardklop (Potchefstroom) die afgelope vyftien jaar getoon dat daar ‘n enorme behoefte aan uitvoerende en skeppende vermaak onder Afrikaanssprekendes bestaan. Uiteraard is al hierdie kunstefeeste streeksgebonde en is dit haas ondenkbaar dat Gauteng met sy 1,2 miljoen Afrikaanssprekendes nie oor ‘n eie Afrikaanse fees beskik nie. Derhalwe het die FAK onderneem om elke jaar van 24 - 27 September ‘n fees genaamd Woordpoort by die Universiteit van Pretoria aan te bied.

“‘n Mens (kan) slegs die hoop uitspreek dat, in die lig van die feit dat die Afrikaanssprekende besig is om sy selfvertroue m.b.t. Afrikaans-wees te herwin, ‘n woordkunsfees, in die hoedanigheid van Woordpoort, die behoefte aan kreatiewe energie kan bevredig en dat dit ook direk ‘n uitvloeisel kan wees van die konkretisering van die herdefiniëring van die Afrikaanssprekende binne ‘n multikulturele samelewing,” het Linette van der Merwe ter afsluiting van haar voorwoord gesê.

Die program kan hier gevind word. En, indien ‘n mens daardeur sif, kan jy nie anders as om beïndruk te wees nie … Die verskeidenheid (en gehalte) is omtrent oorweldigend. Boonop figureer die digkuns in al sy vele vorms darem ook prominent. ‘n Besliste hoogtepunt is waarskynlik die uitvoering van die Afrikaanse kunsliedere Saterdag (om 12:00) en Sondag (om 14:00) in die Musaion. Gedigte is spesiaal geskryf vir hierdie produksie deur Daniel Hugo, Hennie Aucamp, Hennie van Coller en Carina Stander en is getoonset deur Suid-Afrika se leidende komponiste, waaronder Alexander Johnson, Niel van der Watt, Hendrik Hofmeyr en Martin Watt. Hanli Stapela (sopraan), Renette Bouwer (sopraan), Deirdré Blignaut (sopraan), Chris Mostert (tenoor) en Christopher Vale (bariton) is verantwoordelik vir die uitvoering van die liedere.

Inderdaad ‘n geleentheid wat nié misgeloop moet word nie; voorspoed aan al die deelnemers, of soos ons in die Kaap sal sê: Maak’it aan!

***

Intussen is daar vier nuwe blogs sedert gisteroggend geplaas: Andries Bezuidenhout en Ronel Nel vertel van twee interessante produksies op Woordpoort en Aardklop onderskeidelik, terwyl Desmond Painter oor Philip Roth se kanse as potensiële Nobelprys-wenner bespiegel. Charl-Pierre Naudé het dit weer oor die hermetiese digkuns wat hy met gedigte (plus vertalings!) van Alfred Schaffer toelig. Dié verse het deel gevorm van Alfred se optrede tydens die pasafgelope Roots Kultuurfees. (Gaan lees gerus ook weer die onderhoud wat enkele maande gelede met Alfred gevoer is en onder andere tot ‘n hewige debat oor vertaling en vertaalde tekste aanleiding gegee het.)

En dan is dit boonop Erfenisdag vandag; daarom, raak betrokke, neem deel en klap hande … Dis jakarandatyd!

Mooi bly.

LE

Die lewe wás ‘n kabaret

Sunday, September 20th, 2009

Op skool was ek soos enige ander jong Afrikaanse literatuurverslaafde van my ouderdom versót op Breyten Breytenbach en Etienne Leroux. Omdat hulle briljante skrywers was, natuurlik, maar ook omdat hulle as individue uitgestaan het, beide kleurvol en domastrant ánders in ‘n wêreld van eenderskleurige en dikwels eenogige eenselwigheid. Tronkstraf, ‘n Viëtnamese vrou, die Kabbala, swart outfits en lang hare: komaan, you couldn’t beat that! 

Maar ek het ‘n ander Afrikaanse literêre held ook gehad, ‘n skrywer wat, meer as enigiemand anders, méér nog as Breytenbach en Leroux, ‘n soort estetiese en stilistiese wurggreep op my eie jeugdige skryfpogings gehad het. ‘n Skrywer wat my literêre ontvanklikheid verdiep het met sy vakmanskap en vlymskerp insig in die menslike kondisie. Dit was Hennie Aucamp, daardie onverpoosde meester van die Afrikaanse kortverhaal.

Hennie Aucamp

Hennie Aucamp

Ek het Aucamp se kortverhale, uitmuntend in hulle wêreldklas beheersing van die genre en deurtastende, ontroerende en altyd deernisvolle uitbeelding van menslike weerloosheid, een vir een verslind en onmiddellik slaafs probeer nadoen. Maar tog was dit een van die ander genres wat hy bedryf het, tussen die laat 1970s en die vroeë 1990s ongeveer, wat my jeugdige gretigheid vir woorde en die wêreld veral aangevuur het. Dit was sy kabarettekste, Met permissie gesê, Slegs vir almal en ander, waarvoor ek Hennie Aucamp die meeste bewonder het.

 

Waarom? Moeilik om te sê. Dalk was dit die mengsel van dramatiese onmiddelikheid en doelbewuste verliteratuurdheid wat my aangespreek het; dalk die vervaging van die grense tussen highbrow en lowbrow literatuur, teater en musiek; dalk die camp sensibiliteit. Of miskien was dit die verloopte stedelikheid van die wêreld wat Aucamp se kabarette, ten spyte van hulle Suid-Afrikaansheid, óók opgeroep het; daardie hartland van ‘n modernistiese kultuurbelewing wat nou nog net in die verbeelding bly voortleef, en vir my altyd as eerste assosiasie aan die woord ‘Berlyn’ sal bly kleef.

Hoeveel middae het ek nie saam met ‘n vriend in Brackenfell se Spur gesit (toe kon jy nog bottomless koffie bestel as jy ‘n klein bordjie tjips deel) en sketse maak vir wat ons eie kabaret sou wees nie. Liedtekste, monoloë, klein grepe teater, ‘n hele warhoofdige warboel van literêre en musikale vergrype: ons het dit ywerig en ambisieus voortgebring. Die werkstitel van ons kabaret was Brackenfell Hotel, en dit het ‘n sentrale karakter gehad. Sy was ‘n vrou van bedenklike sedes en onberispelike kultuur, ‘n deurleefde, wêreldswyse reisiger, ‘n woordgoëlaar en ‘n danseres, ‘n besielende liggaamsgenoot, dweepsiek oor die erotiek en, ja, ‘n kenner van die Kama Sutra sowel as Die Bybel – en ons het haar Miss Jesus genoem…

Al wat eintlik van hierdie kabaret-in-wording oorgebly het, is die liedteks wat hier volg (dit het jare terug ‘n poësiekompetisie van die Stellenbosse ASK roemloos gaan staan en verloor…):

 

Miss Jesus

(vir Hennie Aucamp)

 

Miss Jesus is die messias

die redder in die salon

wat sy noem ‘Die Dias’

oor sy van ver plekke kom

 

van Amsterdam aan wal

of op ‘n skip van Lissabon

Miss Jesus, wanneer die donker val

vanaand in die salon

 

soms sing sy kabaret

soos ‘n madame uit Berlyn

in haar visnetkouse en rooi korset

maak sy water van ons wyn

 

ja en soms dra sy gedigte voor

van Breyten en ene Breton

jou glas bly vol, jou hart loop oor

vanaand in die salon

 

en altyd preek sy redding

liefde, reise, die middernagson

Miss Jesus lei ons kring

vanaand in die salon

 

so glase omhoog: ‘Miss Jesus!’

en dan die koue ent na die peron

alles was tog so goddêm obvious

eenmaal in die salon

Huldeblyke. Barend J. Toerien

Thursday, September 10th, 2009

Barend J Toerien (24.03.21-04.09.09)

Barend J Toerien (24.03.21-04.09.09)

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Ter ere van die ontslape digter is die volgende huldeblyk ontvang.

HENNIE AUCAMP

Wat ek die duidelikste omtrent Barend Toerien onthou, is sy pragtige oë, die blouste blou denkbaar; seemens-oë.  Ek is bly Breyten het dit ook opgelet; sienersoë is nie volop nie.

En wat hierdie oë nie alles aanskou het nie.  Groot toneelopvoerings en musiekuitvoerings in New York, landskappe die wêreld oor, maar veral die Portervillese veldblommeprag.  Ná ‘n verblyf in die vreemde haal Barend sy hart op aan die veldblomme van die Kaapse blomverkopers, en probeer die volksname vir al dié blomme uitvind.  “Wat noem julle dié een?” vra hy, en beduie na ‘n wit watsonia.  “O”, sê die blomverkoopster rats, “dié een noem ons white sonia, maar daar is ook pienk sonias.”  Barend het dié grappie graag vertel, en dan geëindig met:  “Natuurlik ‘n nooienspypie, maar dit het ek eers later uitgevind.”

Van Barend Toerien se mooiste verse is jeug-evokasies.  Hy dig oor die dinge op Onder-Steenwerp se werf, en ook oor die mense en gebruike van sy kindertyd.  Maar as wêreldburger het hy ‘n wye enigmatiese register gehad.  Hy het byvoorbeeld oor Olie Frank, die vader van Anne Frank, gedig, lank voordat die media die Franks opgeëis het.  Hy het ‘n verruklike gedig oor berkebome geskryf, en hulde aan sy eie voël gebring, maar met so ‘n vanselfsprekenheid dat niemand aanstoot daaraan kon neem nie.

Dis Louise Viljoen wat Barend Toerien vir die poësieleser herwin het, met haar keur uit sy verse, Om te onthou.  Volgens my behoort Barend Toerien by die ewige seuns in die Afrikaanse letterkunde:  By Leipoldt, Boerneef en Uys Krige, digters wat nooit hul aard en aarde verloën het nie.

Barend Toerien was moedswillig, kwaslerig, maar end-uit voluit mens.  En dit kan nie van alle mense gesê word nie.

 

Gaan lees ook toepaslike huldeblyke by die volgende skakels:

 

Willem de Vries (Die Burger, 04/09/09)

Herman Lategan (LitNet, 07/09/09)

Herman Toerien (Die Beeld, 07/09/09)

Helize van Vuuren (Die Burger, 09/09/09)

Helize van Vuuren (LitNet, 10/09/09)

 

Johann Lodewyk Marais. ‘n Leerskool vir skrywers

Tuesday, September 1st, 2009

I

Die digter W.H. Auden (1907–1973), wat as professor in poësie aan die Universiteit van Oxford die opdrag gehad het om opleiding in skeppende skryfwerk aan te bied, het by geleentheid ‘n leerplan voorgestel vir die aspirantdigters aan sy “Daydream College for Bards” (oftewel sy ideale Leerskool vir Digters): Die leerplan het iets oorgedra van die geskakeerdheid wat met opleiding in skeppende skryfwerk gepaard kan gaan:

1)         In addition to English, at least one ancient language, probably Greek or Hebrew, and two modern languages would be required.

2)         Thousands of lines of poetry in these languages would be learned by heart.

3)         The library would contain no books of literary criticism, and the only critical exercise required of students would be the writing of parodies.

4)         Courses in prosody, rhetoric and comparative philology would be required of all students, and every student would have to select three courses out of courses in mathematics, natural history, geology, meteorology, archaeology, mythology, liturgics, cooking.

5)         Every student would be required to look after a domestic animal and cultivate a garden plot.

Oor die sukses wat Auden met hierdie veeleisende kursus sou gehad het, kan baie bespiegel word. Die vraag bly egter: Kan ‘n skrywer opgelei word?

Hierdie vraag duik meermale op wanneer opleiding in skeppende skryfwerk ter sprake kom, en spruit waarskynlik uit ‘n onderliggende opvatting dat die vermoё om ‘n skrywer te word as ‘t ware geneties vasgelê moet wees en eintlik nie aangeleer kan word nie. Wat natuurlik enigsins vreemd is, is dat dieselfde vraag nie noodwendig gevra word oor die opleiding van skilders, beeldhouers, komponiste, musici en balletdansers nie.

Wat is dan nou so uniek aan ‘n skrywer? Die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT), wat op byna elke Afrikaanse skrywer se lessenaar lê (of behoort te lê!), verklaar die lemma “skrywer” soos volg:

1. Persoon wat skryf: ‘n Vinnige skrywer. 2. Persoon wat ‘n bepaalde stuk, brief geskryf het: Die skrywer van hierdie brief. 3. Persoon wat boeke, artikels, gedigte, ens. vir publikasie skryf; outeur: ‘n Veelsydige outeur. 9 …). 4. Werk van ‘n outeur: ‘n Skrywer bestudeer.

Hierdie lemma laat vermoed dat daar meer oor “skrywer” gesê kan word as die algemene siening wat in die verklaring vervat is. Die verklaring dui ook nie aan dat ‘n skrywer as uniek beskou word, of oor unieke talent moet beskik om te kan skryf nie. En tog het die opvatting dat ‘n skrywer nie “gemaak” kan word nie tot betreklik onlangs, toe skryfskole as ‘t ware soos paddastoele opgeskiet het, bestaan. Heelparty mense huldig steeds die opvatting dat skrywers se werke bestudeer kan word, maar dit word nie as gerade beskou om opleiding aan te bied oor hóé om te skryf nie.

Daar kan verskeie redes aangevoer word vir die feit dat daar so lank onvoldoende aandag aan die opleiding van skrywers bestee is. Een van die redes sou wees dat die besit van letterkundige werke vir ‘n groot deel van die breё publiek nie dieselfde prestigewaarde het as byvoorbeeld die besit van kunswerke, of die bywoning van musiek- of balletuitvoerings nie. Daarom word ‘n belegging in die letterkunde ook nie geredelik gemaak nie en kan ‘n mens met reg kla oor mense nie meer boeke koop en lees nie. My ervaring in ‘n heeltemal ander verband is dat mense se min toewyding aan lees direk aan die lae geletterdheidvlakke in die land en die swak kennis van tale toegeskryf moet word.

Nou is dit so dat baie mense die behoefte ervaar om te skryf, maar nie weet wat en hoe nie. By sulke mense is daar dikwels onsekerheid oor die mate waarin hulle “talent het”, “meriete toon” en hulle skryfwerk “publiseerbaar” kan wees. D.J. Opperman, baanbreker van opleiding in skeppende skryfwerk in sowel die Afrikaanse as die Suid-Afrikaanse letterkunde, onder meer vanweё die Letterkundige Laboratorium wat hy in 1960 aan die Universiteit van Stellenbosch begin het, het hierdie onsekerheid van sommige universiteitstudente soos volg verwoord:

“Wat word van die jong skeppende genie wat eensaam op die kampus ronddwaal en geen raad met sy talent weet nie? Hy vir wie dit hoofsaak in die lewe is: Is die jambe uitgedien? Sy gawe geniet geen akademiese erkenning of leiding nie, dit is geen studievak nie. Later, as hy eers gebundel het, word sy werk wel bestudeer. Daarop word punte en grade verwerf, maar hy …? Êrens is daar iets skeefs.”

By Opperman se “jong skeppende genie” moet ‘n mens ook voeg: die middeljarige man wat lank reeds net vir die laai skryf, die vrou wat half toevallig ontdek dat sy skryftalent het en die standerd 8-leerling op die platteland wat by ‘n bekende skrywer of uitgewer om raad aanklop. Geslagte aspirantskrywers het nie die geleentheid gehad om opleiding in skeppende skryfwerk in Afrikaans te ontvang nie en bly worstel met vrae oor hulle skeppende vermoёns. Suid-Afrikaanse universiteitstudente wat kursusse in Afrikaans of Afrikaans en Nederlands gevolg het, was tot betreklik onlangs toe nog deurgaans onbewus daarvan dat verskillende soorte opleiding in skeppende skryfwerk glad nie so ‘n rariteit in die skrywerswêreld is nie en veral in die Verenigde State van Amerika goed gevestig is.

Sedert die 1980’s het opleiding in skeppende skryfwerk egter ‘n betreklik algemene verskynsel in die Afrikaanse literêre wêreld geword. Verskeie universiteite bied tans skrywersopleiding aan, die ATKV is daarby betrokke en ander instansies bied van tyd tot tyd werkswinkels aan. Hierbenewens het hulpmiddels soos skrywershandleidings soos dié van Hennie Aucamp ook in Afrikaans beskikbaar geraak, hoewel die publikasie van skrywershandleidings nie as ‘n florerend beskou kan word nie.

Ongeag die soms ideosinkratiese uitsprake oor opleiding in skeppende skryfwerk, is skrywersopleiding outentieke literatuurbeoefening. Dit blyk uit die manier waarop die hele kommunikasiesituasie daarin ter sprake kom en uit die feit dat die doel van opleiding in skeppende skryfwerk immers is om ‘n teks tot stand te bring. Opleiding in skeppende skryfwerk is by uitnemendheid teksgerig!

Vir my, wat op verskillende maniere by die vestiging en evaluering van navorsing (by die RGN en vir my MA-verhandeling) oor en aanbieding van opleiding in skeppende skryfwerk vir volwassenes in Afrikaans betrokke was, is dit altyd ‘n uitdaging om uiteindelik by die skrywers en hulle werk self uit te kom om ander skrywers te help om hulle werk te slyp en vir moontlike publikasie voor te berei. Veral as redakteur van Ensovoort en van die eerste PoёsieNet op LitNet het ek baie blootstelling in hierdie verband gehad. Dit is ook belangrik om dit duidelik te stel dat dit heeltemal normaal en aanvaarbaar is om verskillede soorte hulp met jou manuskrip te kry. Agter in Loftus Marais se dubbelbekroonde Staan in die algemeen nader aan vensters (2008) word ‘n hele aantal mense bedank vir hulle hulp met die bundel. Ten opsigte van die meeste skrywers is dit ‘n totale mite dat hulle sonder enige hulp hulle werk skryf en publiseer.

II

Ek gaan nou oorsigtelik en ter inleiding individuele skrywers se werk en die soort foute waarmee die redakteur of beoordelaar van skeppende skryfwerk heel dikwels te doen het, bespreek. Ek wil egter eers iets in die algemeen sê oor die verskillende vlakke van opleiding wat vir die aspirantskrywer beskikbaar is, naamlik formele, nieformele en informele opleiding.

Vroeёr was aspirantskrywers min of meer aangewese op sogenaamde “tradisionele” vorme van opleiding of hulp, soos raad van ‘n onderwyser of dosent, in enkele gevalle die opinie of voorstelle van ‘n meer ervare (en gewoonlik heelwat ouer) skrywer wat gewillig was om kommentaar op ‘n aspirantskrywer se werk te lewer, asook keurderverslae van tydskrifte en uitgewers. Ofskoon korrespondensiekolleges ook sedert die 1950’s kursusse in skeppende skryfwerk aanbied, word die spektrum van skrywersopleiding eers sedert omstreeks die helfte van die 1980’s aansienlik uitgebrei deur vorme van opleiding wat deur universiteite, uitgewers en kultuurverenigings ingestel is. In hierdie dekade het LitNet se hulp ook bygekom.

III

In byna al die hoedanighede waarin ek by opleiding in skeppende skryfwerk betrokke was, het daar voortdurend aspekte na vore gekom of het ek waarnemings gemaak wat dalk goed kan wees in ‘n gesprek oor nuwe skryfwerk. Vir hierdie gesprek het ek my tot enkele punte beperk, naamlik dinge waarop aspirantskrywers bedag moet wees en wat hulle in gedagte moet hou voordat hulle hulle skryfwerk vir publikasie voorlê:

1)           Talle gedigte (en prosawerke) word ontsier deur veralgemenings en abstraksies. Waarskynlik gee ‘n bepaalde siening oor die poёsie of selfs letterkunde tot sekere reaksies aanleiding. Die spesifieke dinge, die ding as sodanig, dit waarvoor jy ‘n naam kan gee en nuut en spesifiek kan beskryf/benoem, het veel groter kans om die leser te boei. Die gevaar bestaan weliswaar dat ons ‘n digter soos Opperman se poёtika kan verabsoluteer, maar in Afrikaanse gedigte het abstrakte selfstandige naamwoorde (die “-heid”-woorde) en woorde soos “liefde”, “siel” en “gees” min kans op sukses.

2)         Die emosies word in tekste gesê in plaas van getoon. Dit gebeur dikwels in gedigte, en een van die eerste lesse wat aspirantdigters moet leer, is om hierdie emosies oortuigend aan te bied en die waarde van suggestie te leer.

3)         Gebrekkige taaldissipline. In sowel gedigte as prosa sorg skrywers nie dat hulle werk tot in die vesels afgerond is nie. Heelwat manuskripte sal ‘n baie beter indruk maak indien moeite gedoen is om ten minste die spelling en grammatika te kontroleer. Enige keurder is skepties as daar basiese foute in ‘n manuskrip is. Die uitgewer gaan sekerlik help om jou foute reg te maak, maar daar is perke daaraan. Dieselfde geld vir die feitelike inhoud van jou werk. Goeie skrywers spandeer baie tyd daaraan, selfs jare en dekades!

4)         Min nadenke oor wat gesê word. Aspirantskrywers besin nie altyd genoeg oor wat hulle wil sê nie.

5)         Wantroue oor nuwerwetse neigings. Uitgewers kry dikwels te doen met (veral ouer?) skrywers wat nuwe neigings in die letterkunde wantrou en sterk standpunt daarteen inneem. Van die opmerkings is dat hulle nog soos A.G. Visser en Jan F.E. Celliers skryf, en rym nog soos die ouer digters gebruik. Skrywers hoef natuurlik nie alles wat nuut is vir soetkoek op te eet nie, maar naïwiteit oor nuwe tendense is gewoonlik nie ‘n goeie teken nie.

6)         Te veel gedigte of verhale. Aspirantdigters en aspirantkortverhaalskrywers is geneig om te veel gedigte of verhale voor te lê en sinspeel gewoonlik dat daar “nog is”. Keurders het nie dosyne tekste nodig om ‘n skrywer se werk te kan takseer nie.

7)         Plagiaat. Plagiaat is ‘n ernstige saak wat skrywers ten alle koste moet vermy. Ek het by drie geleenthede met plagiaat te doene gekry en weet hoe blootgestel sowel die skrywer as die uitgewer in hierdie verband is. My ervaring is dat skrywers wat hulle een keer hieraan skuldig gemaak het, geneig is om dit weer te doen. In ons tyd van literêre gesprekke tussen skrywers is dit nog steeds belangrik om te weet waar die grense is.

8)         “Special pleading”. Skrywers probeer dikwels simpatie werf vir hulle manuskripte deur te vertel van die moeilike omstandighede waaronder ‘n manuskrip tot stand gekom het of wat aanleiding tot die skryf van ‘n teks gegee het: ‘n pynlike egskeiding, die lyding of verlies van ‘n geliefde, bankrotskap. Dit is egter die gehalte van die teks wat die uitgewer moet oortuig.

Kan ‘n skrywer opgelei word? Dit is nog steeds nie maklik om hierdie vraag te beantwoord nie. Ek het wel gebaat by die hulp wat ek in my skrywersloopbaan by ‘n hele aantal mense gekry het. Daarbenewens is dit doodgewoon opwindend om oor en met skrywers en hulle werk te gesels. Daarsonder het ons nie meer ‘n lewenskragtige letterkunde nie.

Johann Lodewyk Marais. Die Anglo-Boereoorlog, weer

Monday, July 27th, 2009

Die Duitse filosoof Martin Heidegger (1889–1976) het hom oor sowel die aard van die kunswerk as oor die poësie uitgelaat. In sy meesterwerk Sein und Zeit (1927) het hy belangrike vrae oor die syn gevra, sonder om egter aandag aan die kunswerk te gee. Ná die sogenaamde Kehre in sy denke word sowel die kuns as die poësie egter belangrike onderwerpe in sy geskrifte. In Der Ursprung des Kunstwerkes (1950) sê hy dat die kuns tonele is waar “die waarheid homself in werking stel” en dat hierdie waarheid ’n stryd tussen “wêreld” en “aarde” vereis.

 

Hoewel Heidegger die poësie as die essensiële vorm van die kuns beskou, maak hy in die essay gebruik van voorbeelde uit die argitektuur (’n Griekse tempel) en ’n skildery (’n werk deur Van Gogh). Vir die doeleindes van hierdie kursoriese aantekeninge wil ek aan die hand van Heidegger na enkele ander toepaslike voorbeelde verwys. Die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein, die Kaiser-Wilhelm-Gedächtnis-Kirche in Berlyn en die Vietnam Veterans Memorial in Washington DC is almal opgerig om mense te gedenk wat aan oorloë deelgeneem en gesterf het. My argumentasie in verband met die Vrouemonument sou in bepaalde opsigte ook vir die twee ander voorbeelde kon geld.

 

Die Vrouemonument, wat deur die beeldhouer Anton van Wouw ontwerp en deur die argitek en bouer Frans Soff gebou is, is op 13 Desember 1913 in Bloemfontein onthul ter nagedagtenis aan die meer as 26 000 vroue en kinders wat tydens die Anglo-Boereoorlog in konsentrasiekampe gesterf het. Hierdie monument het van vroeg af mense se verbeelding aangespreek. Die ontwerp van die monument is eenvoudig soos uit die volgende aanhaling uit Wêreldspektrum (Deel 29) blyk:

 

“Die monument bestaan uit ’n 37 m hoë gedenknaald van bruin sandsteen met ’n beeldgroep aan die voetstuk en geskiedkundige panele aan weerskante. Dit word deur ’n ringmuur ingesluit. Die sentrale beeldgroep simboliseer smart en hoop, terwyl die reliëfpanele ervarings van vroue en kinders tydens die oorlog uitbeeld.

 

[…]

 

“Daar is ook besluit om ’n Godsman, ’n staatsman en ’n krygsman aan die voet van die monument te begrawe. Die keuse het op dr. J.D. Kestell, pres. Steyn en genl. De Wet geval. Nadat Emily Hobhouse in 1926 in Engeland oorlede is, is haar as in die voetstuk van die gedenksuil geplaas. Mev. Rachel Steyn is langs haar man begrawe.”

 

Deur middel van sy eenvoud en teenwoordigheid slaag die monument daarin om ’n impak op die besoeker te maak. Maar waarom? Wat die kunswerk (en terselfdertyd natuurlik die Vroumonument) regkry, is om, volgens Heidegger, ons uit die “ryk van die alledaagse weg te voer”. “Hoe meer essensieel die werk homself openbaar, hoe duideliker word die uniekheid van die feit dat hy bestaan in plaas daarvan dat hy nie bestaan nie.” Die monument is egter nie volkome representatief van die werklikhied nie, sodat die betekenis van die monument nie maklik uitgeput kan word nie. Die Vrouemonument van 1913 spreek ons byvoorbeeld meer aan as die latere byna hiperrealistiese beelde van Danie de Jager wat op die terrein bygevoeg is en gedurende die 1980’s tot heelwat omstredenheid gelei het.

 

Heidegger se konsepte van wêreld en aarde wil ek kortliks soos volg op die Vrouemonument van toepassing maak. Die Vrouemonument herinner ons aan die groot kwessies wat van belang is in ons bestaan: lewe, dood, oorwinning, nederlaag, skande, hoop, geregtigheid. Sodoende open die monument vir ons ’n besondere blik op die wêreld.

 

Met aarde bedoel Heidegger dit wat die grondslag is waarop ons bestaan, die fondament waarop ons bou. Die aarde “beskut” die syndes wat daaruit “opstaan/opkom”. In wese is die aarde die misterieuse bron waaruit ons spruit. Op die Vrouemonuent “toegepas”, kan ons melding maak van die besondere plasing van die monument op die Vrystaatse landskap. Die soberheid van die monument versterk hierdie ervaring. Die besoeker word bewus van ruimte: die ruimte wat deur die monument geskep word, maar ook die ruimtes van die Vrystaat en waarskynlik ook van die hele Suid-Afrika wat in ’n misterieuse besef van hierheid voor jou oopgemaak word.

 

Ons word terselfdertyd by die Vrouemonument terdeё bewus van die konflik tussen wêreld en aarde. By die aanskoue van die Vrouemonument skree die Britse regering se verskroeideaardebeleid ten hemele. Dit word ’n protes soos ook die volgende gedig van Martjie Bosman met dieselfde titel uit die bundel Landelik (2002), waarin daar ook met ’n perspektief op die hede vorendag gekom word:

 

VERSKROEIDE AARDE

 

Van dié geskiedenis kan ons slegs brokke agterhaal:

Grootouma Geldenhuys met vier kinders

in ’n oop beestrok na die kamp by Merebank,

’n paar stuks vee behoue in die walle van die Vaal,

Grootoupa te velde wie weet waar.

Die rooi huis is gekonfiskeer as hospitaal –

gerugte van soldate begrawe onder die leiklipstoep,

die erfgenaam naamloos in ’n seepkis iewers in die sand.

Ek erf uit ouma Makkie se beroertemond

twee bitter woorde: smaad en hoon

en die droewe wete van familiegrond

vir geslagte tevergeefs bewoon.

 

Waaroor het die hedendaage digters dit as hy/sy oor die Anglo-Boereoorlog skryf? Om hierdie vraag te antwoord, kan dit meer verhelderend wees om aan die hand van Heidegger na die aard van die poësie te kyk. Vir Heidegger is die poësie dit wat die mens in staat stel om waarlik te woon. Poëtiese beelding stel ons in staat om na die teenwoordigheid van die onbekende of selfs die transendentale (in die lig van die era ná Nietzsche en die geestelike krisis tydens die twintigste eeu) uit te reik. “Poetry cannot cause the unknown god to come near, but poetry can put forward words that enable this presence to show itself,” sê Patricia Altenbernd Johnson in Heidegger (2000).

 

Heidegger maak daarom ’n onderskeid tussen gewone en poëtiese taalgebruik. Iets soos die “Die Anglo-Boereoorlog het van 1899 tot 1902 geduur”, is byvoorbeeld ’n gewone, alledaagse uitspraak. Vir Heidegger is poësie egter nie ’n bron vir spesiale estetiese plesier op grond van die niegewone taalgebruik nie, maar eerder die krag wat ons wêreld kan openbaar en ons bestaan kan transformeer. In sowel die lewe van die digters as die geskiedenis van ’n volk is die helder en kreatiewe oomblikke seldsaam; die res is onoorspronklik en afgeleid. Taal behoort vir die mens ’n ryk bron van openbaring te wees. Vir Heidegger is “Alledaagse taal vergete en daarom ’n opgebruikte gedig, waaruit daar kwalik ’n geroep uit voorkom.”

 

Ander hedendaagse digters soos Wilma Stockenström, T.T. Cloete, Heilna du Plooy, Trienke Laurie, Hennie Aucamp en H.J. Pieterse betrek nog steeds die Anglo-Boereoorlog in hulle werk. Ten slotte gaan ek na een gedig kyk waarin die Anglo-Boereoorlog op ’n besondere manier aanwesig is. My keuse val op die sanger en liriekskrywer Piet Botha se “Staan saam burgers” uit sy CD ’n Suitcase vol winter (1999). Op hierdie CD kom daar terloops nog een ander snit voor wat oor die Anglo-Boereoorlog handel, naamlik “Van Tonder”. Botha se teks klink soos volg:

 

STAAN SAAM BURGERS

 

By die goue vallei het ons so lank gewag

Op ’n antwoord wat kom uit die noorde

Staan saam burgers staan saam

 

Siener van Rensburg kyk na sy hande

En sê ek kan dit nie verstaan

Iewers op die vlakte

Begin ’n jakkals tjank

Die boodskapper kom in die nag

Het gekom en gegaan

Staan saam burgers staan saam

 

Hoekom het jy ons nie gesê nie

Die man se perd was swart,

Net soos die nag

Dit was nie Van Tonder nie

Net so tussen my en jou

Vir wat dit werd is

Ek dink die duiwel het ons ’n streep getrek

Staan saam burgers staan saam

Staan saam burgers staan saam

           

Wanneer hierdie woorde deur Piet Botha gesing word, kom daar sekerlik ook ander elemente by wat hierdie kunswerk sy karakter gee. Die groot trefkrag van hierdie lied is vir my (en ek glo vir baie ander) egter juis in die woorde geleë, wat by ons ’n herkenning van die land(skap), die geskiedenis en iets baie wesentliks van die Afrikaanse taal oproep. Hierdie herkenning word by die luisteraar deur die woorde wakker gemaak. In die Afrikaanse taal kan woorde soos “saamstaan”, “burgers” en “boodskapper” maklik in verband met die Anglo-Boereoorlog gebring word. Die landskap wat hier beskryf word, is ook tipiese Suid-Afrikaans: die geografiese ruimte waar die oorlog afgespeel het. Charles van Onselen het die Hoëveld wat in Botha se lied ter sprake is in The seed is mine: The life of Kas Maine, a South African sharecropper, 1894–1985 (1996) soos volg beskryf:

 

“[The] hot, dry and expansive plains of the subcontinent provide the country with its most characteristic landscape, and a distinctive terminology which singles out for special attention any geomorphological feature which so much as hints at either height or water. Koppie, krans, pan, platteland, rand, sloot, spruit, vlakte, and vlei – are all Afrikaans words that defy easy translation and which have been incorporated holus-bolus into the vocabulary of all urban South Africans. They are quintessentially highveld words; words that give life to the ways in which one senses and experiences much of what it is to be South African.”

 

Die gedig handel dus oor ’n essensiële Suid-Afrikaanse stuk landskap. Daar word ook in die gedig ’n figuur soos Siener van Rensburg betrek in wie daar die afgelope jare groot belangstellings in die Afrikaanse gemeenskap was en oor wie Trienke Laurie se digbundel Ek sien ’n rooi bul storm (1999) handel. In dié bundel is hy “self aan die woord en vertel van angswekkende gesigte wat bewaarheid is, onder meer die lyding van vroue en kinders in die Engelse Oorlog, generaal De la Rey se tragiese dood, en die verlies van drie van sy eie kinders. Hy vertel ook hoe God hom as boodskapper gebruik het, soos in die geval van ons eie Rooi See-wonder, toe generaal De Wet en sy krygers deur die Engelse teen ’n vol rivier vasgekeer is. Hy voorspel die opkoms van swart mag in die land, en ’n donker tyd vir die Afrikaner totdat hy hom voor God verootmoedig. Verder in die toekoms sien hy wit tente in die Karoo staan soos vervolgde Christene uit ’n oorlogsgeteisterde wêreld hierheen vlug,” aldus die flapteks.

 

Na aanleiding van die voorafgaande aantekeninge wil ek graag enkele afleidings maak:

 

1.                   Die Anglo-Boereoorlog is ’n multidissiplinêre aangeleentheid waartoe ook die kunstenaar en die digter ’n bydrae kan lewer.

2.                   Die Anglo-Boereoorlog word vandag nog steeds (ook) in Afrikaanse woorde en in gedigte bewaar en herdenk, wat dit steeds ’n gebeurtenis van buitengewone belang maak.

3.                   Die Anglo-Boereoorlog word op so ’n manier in die Afrikaanse poësie uitgebeeld dat dit die Afrikaner met sy historiese situasie konfronteer.

4.                   Die Anglo-Boereoorlog is ’n kwessie waaroor die afrekening van die Afrikaanse digter se kant af klaarblyklik nog nie afgehandel is nie.

Johann Lodewyk Marais. Wilhelm Knobel van Bethlehem

Saturday, July 18th, 2009

Johann Lodewyk Marais

 

Met Wilhelm Knobel (1935–1974) het ek die eerste keer in koerantberigte oor die Sestigers kennis gemaak toe ek op hoërskool op Harrismith was. In daardie jare was skrywers op grond van hul teenkanting teen apartheid en sensuur baie in die nuus. Dink maar aan Breyten Breytenbach se toespraak in Februarie 1973 by die Sestigerkongres by die Somerskool van die Universiteit van Kaapstad, wat tot groot omstredenheid gelei het. Veral die nuwe, verligte Sondagkoerant, Rapport, het die leser op die hoogte van die woelinge gehou.

 

Tydens die Sestigerkongres is ’n foto van Breytenbach saam met Chris Barnard, John Miles, P.G. du Plessis, Lina Spies, Jan Rabie, Berta Smit, Hennie Aucamp, George Weideman en (byna eenkant) Wilhelm Knobel geneem. Op die foto het Knobel soos tewens byna al die ander mans ’n pak klere en ’n das aan en dra hy ’n sonbril. Dit was ’n era toe skrywers nog ’n “sense of occasion” moes gehad het. Breytenbach en Miles was die enigstes sonder das! Hierdie foto het lank my visuele beeld van Knobel bepaal.

 

In hierdie tyd, waarskynlik in 1973, het Knobel ’n keer in my klas ter sprake gekom. Die skoolhoof, mnr. Johan Steyl, ’n oud-Vrystaatse rugbyspeler, het met die st. 8-klas oor die vorige kwartaal se punte en ons vakkeuses kom praat. Met sy borselkop, staalblou oë en regop houding het Steyl gesag afgedwing en dissipline streng toegepas.

 

Steyl was sterk partydig vir wiskunde. Ter illustrasie het hy verwys na ’n leerling wat op Bethehem, die buurdorp waar hy elf jaar lank wiskundeonderwyser aan die Hoërskool Voortrekker was, hom gevra het waarom jy wiskunde op skool moet neem as jy nie in hierdie rigting gaan studeer nie. Steyl het nie van die vraag gehou nie, waarmee seker nie fout gevind kan word nie, en duidelik onvleiend verwys na een van die Sestigerskrywers en dié se foto wat onlangs in die koerant saam met dié van die ander Sestigers verskyn het. Die Sestigerskrywer waarna Steyl verwys het, was gewis Wilhelm Knobel.

 

Sestigerskrywers was in daardie jare omstrede, selfs op skool. In my Afrikaans-onderwyser, mnr. Cas Steenekamp, se klas was daar iets van ’n openlike stryd teen hierdie skrywers. Behalwe die berigte in die pers het die Broederbond agter die skerms ’n verbete stryd teen die invloed van die Sestigers gevoer, wat tot in die Afrikaans-klaskamer deurgewerk het. (Dit is ’n stuk geskiedenis waaroor ek nog uitvoeriger wil skryf.) Ek volstaan egter deur te sê dat Knobel ’n vae bekende was toe ek van sy onverwagse dood in Januarie 1974 gehoor het.

 

Die eerste bundel wat ek van Knobel besit het, het ek by die lank reeds vergete tak van Perskor in Andriesstraat in Pretoria gekoop. Dit was die Nagelate gedigte wat deur Knobel se jongste broer, Deon Knobel, versorg is en in 1976 deur Perskor gepubliseer is. Veral die biografiese inleiding tot die bundel het my belangstelling in hierdie skrander man geprikkel, terwyl die voorbeelde van sy handskrif my gefassineer het. (Die gedigte was ongelukkig nie op dieselfde peil as dié in die twee bundels wat tydens sy leeftyd verskyn het nie.) Uit die inleiding en die gedigte self kon ’n mens aflei dat Knobel ’n nogal moeilike lewe gehad het en dat veral sy laaste lewensjare nie maklik was nie.

 

As boorling van die Oos-Vrystaat het Knobel my nog altyd geboei, maar tot dusver is geen indringende aandag aan sy werk gegee nie. Selfs sy mede-Sestigers wat oor sy dood getreur en gesê het dat hy ’n betekenisvolle bydrae gelewer het, het min gedoen om sy lewe en werk aan ons bekend te maak nie.