Posts Tagged ‘Hennie Nortjé gedigte’

Hennie Nortjé. Gozo

Monday, July 23rd, 2018

Gozo

 

Wees lig

op jou seemansbene

as jy vroegmôre die veerboot

haal na Gozo.

En rus maar swaar teen

die relings van jou verbeelding,

want by Xaghra lê vroue-reuse

se klipstapel tabernakels

duisende jare al vervalle.

Selfs die lieflike Kalipso

se eens verleidelike grot

bied deesdae weinig skuiling

vir die ou rondlopermatroos

sewejaar al aan die verlang

na eie vrou en kroos,

 

want soos Odduseus

het die vervloë gode

lankal reeds van hierdie

bar stuk kalksteen af

pad moes gee

 

en staan

elke kruin

en plein

nou vir goed oorheers

deur ‘n goue bousel

tot aan die blou:

ter ere van ons dorp,

ons Moeder

en haar Seun.

 

 

©Hennie Nortjé  2018

Hennie Nortjé. Kraaie

Thursday, February 11th, 2016

Kraaie

Eens was ek witbors trots
verbeeld suiwer Aries arend,
maar grootliks in die duister
oor hoe die sterk donker vlerk,
ook die meerderheid van my lyf
tot groot hoogtes saam moes dra.

Toe broei onder ons ‘n gitsswart rafie uit,
maar dié was lagwekkend lomp,
dom-astrant, duidelik kuikenlik gegrief.
Raad was bloot mos vir die voëls,
verder as vlerkelank wou dit vlieg.
En meteens was meeste neste leeg,
want wittes, bruines, geles,
ja, veral die arme swartes,
is voor die voet verorber
deur dié verbrande eierdief.

Wie vere voel vir ander se goed
verdien immers niks minder as
‘n weldeeglike gepik en pluk.
En siedaar toe ons met hom klaar was,
staan klein verwaand die ene hoendervleis,
beteuterd-pienk en piep.
Nou hoop ons maar en ons bid
die nuwe dons raak eendag silwer vleuels,
soos van ‘n swaan, of godweet,
enige ander kleur
behalwe weer
skeidend swart
of wit.

© Hennie Nortjé / 2016

Hennie Nortjé. L’ Agulhas: Vrydag, 13 November 2015

Friday, November 20th, 2015

FullSizeRender

L’ Agulhas: Vrydag, 13 November 2015

Soos met die vroegste vaarders
raak my kompas
hier aan die Kaap van naalde
ook vir ‘n oomblik deurmekaar,
want in die simmetrie
van strandkoolblare
lees ek nou in ou Arabies
gewyde verse. asof woordeliks
uit die Groot Boek aangehaal.

Maar dan meteens swiep
die witkruis-paddavreter,
skarrel man en muis verbete,
tot nogmaals ‘n verbeelde vrede
oor hierdie godverlate duine daal.

© Hennie Nortjé / 2015

Hennie Nortjé. Sy

Saturday, July 11th, 2015

Sy

 

Daar is ‘n roering in die moerbeibome,

die spinners woel onverpoos.

Uit die skadu van die Groot Muur

wieg kamele oor klipwoestyne,

dag vir dag teen slakkepas

na die slaapplek van die son.

 

Deur Persië se groen valleie

verby die brons duine van Arabië

kruier die aaneengeweefde rye

tot in Sidon aan die turkoois see.

 

Spoedig fletter seile, beur spane,

eers na Kition, dan Miletus, Korinthe

en met die guns van Poseidon,

deur Herkules se pilare

tot aan die  kus van Lusitanië

waar die gesogte vrag oplaas ontskeep.

 

En só met die Gilāo se silwer kronkels

al verder stroom-op van Tavira

kom haar geskenk uiteindelik aan

hier op die markplein van Evora,

 

sodat, geliefkoos deur die oostebries,

die vergulde windsel net genoeg onthul

om my beitel ongekaarte paaie langs te lei.

Want hierdie newellige lyne moet ek

tot aan die einde van tyd voort laat reis:

’n speelse glimp vir dié hierná

om ook so agterna te staar –

hoe ragfyn sy, vir die ene-oë bly skyn.

 

© Hennie Nortjé / 2015

 

Hennie Nortjé. Twee gedigte

Wednesday, April 22nd, 2015

Sal ons die wingerd prys?

 

Wie hierdie blaar op die keper bekyk,

sien dalk in die gehawende rand

die buitelyn van ‘n gebroke hart

 

en vanaf die hoofaar nerwe vertak

om oor die groen soos families

al wyer uitmekaar te spat,

 

of dui só ‘n spinnerakdiagram,

bloot die noodlottige paaie aan

waarlangs gene slaafs moet gaan?

 

© Hennie Nortjé / 2015

 

 

 

*

 

Hottentots-Hollands

 

Selfvoldaan, ‘n reënboog van kleur,

staan die linies voëlverskrikkers,

maar ongeërg deur die beddings

wei swerms Europese-spreeus.

 

Tonge klap soos eens die sweep

as arbeiders in die aarbeiland

van vroegdag af moet bontstaan,

om den brode voort moet sweet.

 

Vir opkyk is daar weinig tyd

en die diep sugte gesug

is beslis nie oor die uitsig nie.

 

Slegs die verbyganger beleef

waarom hierdie plek

Mooiberge heet.

 

© Hennie Nortjé / 2015

 

 

 

 

 

 

 

Hennie Nortjé. Voorbeeld

Monday, April 13th, 2015

Voorbeeld

 

Julle skandbeelde staan

nou knus saam-saam

weg gepakkamer

tot wie weet wanneer

of waar die malligeid

hom dalk weer herhaal.

Vir die blertsende meeu

en die skarrelende rot

verrys gelukkig binnekort

nuwe teikens om van

voor af te bemors.

Maar, o my liewe tyd, kyk:

iemand het Mandela s’n

bloosrooi gaan bespuit.

 

© Hennie Nortjé / 2015