Posts Tagged ‘Hennie van Coller’

Onderhoud: Hennie van Coller (Soom)

Monday, April 2nd, 2012

Die gedig as die soom tussen ooreenkoms en verskil

 

Hennie van Coller gesels met Andries Bezuidenhout oor sy debuutbundel, Soom.

 

Hennie, baie geluk met die publikasie van Soom, ʼn lywige bundel van net so onder die 140 bladsye. Wat ʼn mens natuurlik onmiddellik opval is die lieflike omslag – ʼn Vrystaatse landskap deur Pauline Gutter. Ek het verlede week in Potchefstroom met haar oor die skildery gesels en sy het genoem dat dit spesiaal vir die bundel geskilder is. Dalk iets meer daaroor?

Baie dankie vir die gelukwense.  Jy vra na die omslag. Ek het by verskillende geleenthede tydens die Volksblad Kunstefees (nou die “Vryfees”) saam met Pauline Gutter gewerk aan ‘n projek waar die samespel en samehang tussen woordwerk (dus ook gedigte) en die beeldende kuns en skilderkuns die onderwerp was. Hierdie projek was die inisiatief van Ben Botma en Bernard Odendaal. Vier gedigte in hierdie bundel (“Tweetoringkerk”, “Brandfort”, “Olea Europaea” en “‘n  Bees in die landskap”) is die resultaat van daardie samewerking. Die laasgenoemde drie gedigte verskyn ook in my bundel langs afdrukke van die skilderye van Pauline Gutter.

Hieruit kan jy aflei dat ek ‘n groot bewondering vir haar werk het, veral omdat dit telkens iets vasvat van wat ek graag die “essensiële” Vrystaatse bestaan en landskap sou wou noem.  Hoewel “Brandfort” ook sou kon dien as omslag, wou ek nie een skildery tweekeer gebruik nie en onder haar werk was daar net nie ‘n skildery wat presies uitgedruk het wat ek wou sê nie, behalwe dan die een wat sy spesiaal vir die omslag geskilder het (en wat ek dadelik aangekoop het!). Hierdie winterse Vrystaatse laatmiddag landskap is ‘n indrukwekkende werk waarin verlatenheid en die sterwe van die dag kontrasteer met en byna in balans gehou word deur ‘n ryk, gloeiende vitaliteit.

Voor ons by die inhoud kom, ʼn verdere vraag of wat oor die boek as boek. Griffel is ʼn nuwe uitgewer van poësie, maar jy het saam met uitgewersveterane soos Jeanette Ferreira en Etienne van Duyker gewerk. Dalk iets oor die proses van poësie uitgee, miskien in teenstelling met akademiese tekste (waarvan jy verskeie agter die blad het)?

Oor die boek as materiële objek: Ek wou baie graag ‘n boek gepubliseer het wat as artefak mooi en versorg was en het daarom die samewerking verkry van enkele van die beste mense in die bedryf.  My goeie vriend, wyle Hendrik Venter, het vir my die nodige ruimte geskep om juis dit te doen en sy opvolger, Evert Buurman, ook. Ek is dankbaar dat Griffel Media bereid was om my teks te publiseer as hul heel eerste poësiebundel.  Enige publikasie bring spanning mee en is in ‘n mate blootstellend omdat jy die werk (waaraan jy gewoonlik hard gewerk het) op ‘n sekere tydstip in die hande van resensente moet oorlaat. Met ‘n poësiebundel is dit veel erger, omdat dit meer persoonlik is. Al wat na regte van resensente verlang kan word, is dat daar deeglik en “objektief” gelees word – in die sin dat poëtikale en (in die geval van teoretiese werk) teoretiese voor- en afkeure so ver as wat moontlik is ter syde gestel moet word en dat aspekte wat nie ter sprake is nie, liefs genegeer moet word. Dit sluit vriendskappe én vyandskappe in.  Etiese kritiek is moeilik.

Om van die omslag na die inhoud toe aan te beweeg, wil ek jou vra om iets te sê oor die drie ekfrastiese gedigte (“Brandfort“, “Olea Europaea” en “‘n Bees in die landskap“). Ek het “Brandfort” ʼn paar keer gelees en stip na die skildery gekyk. Die verwysing na “bronslaai” laat my aan Antjie Krog dink en “merels” aan Elisabeth Eybers. Krog kom van Brandfort af. Die woord “kamp” kom twee keer in die gedig voor. Die verwysing na die konsentrasiekamp as historiese gegewe is duidelik, maar ek kan nie help om ook aan Winnie Mandela se huisarres in Brandfort te dink nie. Was Verwoerd nie hier op skool nie? As leser sit ek met al hierdie beelde in my kop, maar word dan skielik België toe verplaas. Ek hoop ek kan jou hiermee uitlok om uit te brei oor Brandfort, as deel van die Vrystaatse landskap, maar ook oor die gedig se rol in die bundel as geheel.

Beeldgedigte is ‘n vorm van ekfrastiese gedigte en staan ook nie los van emblematiese literatuur nie – ‘n soort naasbestaan van verskillende kunsvorme waarvan ek kennis geneem het tydens my bestudering van die Nederlandse Sewentiende eeuse literatuur wat ek al jare lank doseer.  In die moderne beeldgedig word daar nie net gestrewe na ‘n beskrywing van of na die poëtiese ekwivalent van byvoorbeeld ‘n skildery nie. Dit is dikwels veel meer ‘n reaksie en uitdrukking van gevoelens na aanleiding van die skildery. Dit gebeur veral in die gedig “Brandfort” waarna jy tereg verwys.

Miskien kan ek jou besonder indringende vraag probeer beantwoord met verwysing na die titel van die bundel. ‘n Soom is ‘n grens- of randgebied wat skei, saamvoeg en afrond. Dit beteken ook om ‘n einde aan iets te maak. Op die agtergrond het ek ook Leon de Kock se woorde gehoor waar hy praat van “a crisis of writing in [South Africa] and about one of the great seams of the modern world”. Die Suid-Afrikaanse skrywer “takes the reality of rags and tatters and seeks to write the fabric of the nation into existence” sê die skrywers van The Columbia Guide to South African Literature in English since 1945; die soom is die plek waar verskille en ooreenkomste versoen word. In die gedig “Brandfort”, wat inderdaad soos jy impliseer, ‘n sleutelteks is, probeer ek aantoon dat die gedig die plek (die soom ?) is waarin intertekstuele eggo’s opgevang word, assosiasies hulle voltrek én die wonder kan gebeur dat historiese tye en geskeide ruimtes versoen word in een magiese moment, hier die Europese merels wat sigbaar raak in ‘n Vrystaatse hemelruim. Daarom is daar vir my geen skeiding tussen Afrika en Europa, Afrikaans en Nederlands of poësie van toe en nou nie. Dit impliseer dat ‘n mens se verlede ook altyd aanwesig is in die / jou hede. Weer eens is dit die kunswerk waarin kontraste veral opgelos word. 

Iets wat dalk by die vorige vraag aansluit. Landskappe speel ʼn belangrike rol in die bundel, ook die hemelruim as landskap. Op ʼn manier torring jy landskappe se some los deur die leser konstant tussen Afrika en Europa te verplaas. Ek dink nou byvoorbeeld weer aan merels in Brandfort en ʼn “Afrikaanse son” wat kop lig in Groningen. Wil jy dalk iets sê oor tematiek in die bundel? In watter stadium van skryf oor so ʼn lang tydperk het die sentrale tematiek ʼn rol begin speel? 

As daar van ‘n sentrale tematiek sprake is in my bundel, sou dit iets met die voorafgaande te make hê.  Maar daar is ook ander, meer versweë opvattings ter sprake: dat ek glo aan ‘n “milde God” wat die mens die ruimte gun om sintuiglik (en selfs byna hedonisties) te lewe, maar ook dat die mens ‘n produk is van “deterministiese” kragte (omgewing, erflikheid, die geskiedenis, sosiale fatsoen, diskursiewe formasies; selfs die poëtika van die dag), maar terselfdertyd voortdurend strewe na bevryding juis hiervan – ook in die kuns. Hoewel ek kennis geneem het van die heersende tendense in die Afrikaanse poësie: politieke betrokkenheid (sosiale kommentaar), die romanties-sentimentele, die ekstreme intellektuele en selfs die “prosaïese” praatvers, sluit my eie werk nie net by een hiervan aan nie.

Die tweede afdeling – oor sterretekens en mitologie – is vir my besonder mooi. Ek is nuuskierig oor hoe jy die afdeling binne die groter geheel van die bundel plaas en meer spesifiek die kwessie van sosiale kommentaar.

My verse staan nader aan die satiriese vernufsvers en is ook oorwegend vormvas. Die tweede afdeling, oor die diereriem is verse wat hopelik iets hiervan illustreer. Dit spot enersyds met die genetiese determinisme wat die “sterre voorspel” onderlê; andersyds wys dit juis op die oorgeërfte determinante wat ons lotsbestemming bepaal, boonop op ‘n wyse wat nie swaarwigtig wil wees nie. Wat sosiale kommentaar betref: dit is die reg van enige persoon, dalk ook die logiese gevolg van iemand wat met sy of haar tyd meelewe – óók die digter, maar moet nooit as vereiste vir kuns gestel word nie.

“Eksotiese geure van speserye en kruie dra / steeds in Zanzibar en Pemba ver op die wind./ Ek loop die strate deur in Afrika en vra / wat ek nog van my soort hier vind.” In die afdeling oor “Afrikabeelde” speel die Swahili-wêreld ʼn sentrale rol. Johann Lodewyk Marais skryf ook oor hierdie gedeelte van die kontinent. Is gedigte oor byvoorbeeld Arusha en Zanzibar bloot toevallig (dalk weens ʼn besoek aan Tanzanië), of is daar iets meer veelseggend in die verband tussen Afrikaans en Swahili hier ter sprake? Ek dink spesifiek aan die ooreenkomste wat jy in kos vind (byvoorbeeld “Koningskos”). Ek vra ook die vraag omdat die ooreenkomste tussen die onstaan van die twee tale my nogal opgeval het toe ek Kenia en Tanzanië besoek het.

Die Afrikagedigte het inderdaad ontstaan na ‘n besoek aan verskeie Afrikalande, maar wat my veral bybly is die verwantskappe (ruimtes, kos én die postkoloniale “kondisie”) wat ons deel met inwoners van hierdie lande.

In “Tilburg” lewer jy, ewe tong in die kies, kommentaar op vaste versvorme. Dalk iets oor die prominensie wat die sonnetvorm in die bundel aanneem?

Ek het ‘n voorliefde vir die sonnet as vorm om verskeie redes. Dit is ‘n keurslyf wat die digter knel met sy vaste aantal reëls, bepaalde metrum en rym – die sogenaamde “kategoriese verwagtinge”. Daarom stel dit besondere uitdagings om binne hierdie “deterministiese” reëls steeds jou daarvan los te (probeer) maak. Antjie Krog het by geleentheid in een van haar sonnette hierdie vorm as manlik bestempel en by implikasie as inperkend.  Ek wou prober toon dat ‘n mens (en dus ook die digter) vryheid binne beperkinge moet nastrewe.

Die sonnet bereik as vorm sy hoogtepunt in die Sewentiende eeuse Nederlandse poësie met verskeie pragvoorbeelde in die werk van Van der Noot, Hoofd, Huygens en Vondel waarvan ek enkele sonnette vertaal het. Hulle voorkeur het uitgegaan na die Franse sonnet met sy dubbele wending, sy gebruik van sesure en die gedrae Aleksandryn. Om rymdwang te vermy en die Renaissance-digter in moderne Afrikaans te laat praat is inderdaad ‘n swaar opgawe.

Om hierby aan te sluit wil ek spesifiek oor jou “Vier sonnette by jaargetye in die Vrystaat” vra. Ek lees dit as ʼn liriese, hedonistiese oorskryf van die (durf ek sê: gewigtige?) oorspronklike sonnette. Dalk iets meer oor humor en die kanon in jou bundel?

Jy is absoluut in die kol met jou opmerking oor my vier sonnete by jaargetye in die Vrystaat. My spot met die swaarwigtige synsvrae kom reeds voor in “November” en ek wou eintlik net ‘n lansie breek vir ‘n sintuiglike (en dalk hedonistiese) bestaan. Jy vra oor humor en die kanon. Ons letterkundige produkte aan die begin van die Afrikaanse letterkunde was dikwels humoristies, maar was ook nie juis almal hoogstaande letterkunde nie. Dalk is hoge kuns veral deur die Dertigers (wat die hoë en koue paaie bewandel het) by implikasie gelykgestel aan die swaarwigtige.

Dit is werklik eers in die afgelope dekade of wat dat skrywers dit waag om (weer) humoristies (en romanties) te wees en dit was veral Opperman wat weer ‘n lansie moes breek vir die vernufsvers (lees bv. weer sy opmerkinge oor A.G. Visser). Maar ook die latere herwaardering van die skunnige en humoristiese volkspoësie (deur veral Van Wyk Louw) was belangrik in die rehabilitering van die humoristiese, hoewel die eksistensialistiese gewroeg van die belangrikste Sestigers en die latere drang na politieke betrokkenheid en die erns waarmee dit geskied het, eintlik min ruimte gelaat vir die humoristiese werk. Dankie tog vir Etienne Leroux en Marita van der Vyver!

Ek hou van hoe jou vier sonnette, na die gedigte oor skilderye, oorgaan in vertalings van Nederlandse sonnette. Die bundel eindig met ʼn pragtige impasse van Nijhoff. Word vertaling as digkuns in eie reg nie dalk onderskat in Afrikaans nie – spesifiek gegewe die funksionele rol wat dit in ʼn bundel soos hierdie speel?

Ek beskou vertaling as ‘n besonder belangrike vorm van “import” soos die Nederlanders dit stel, van verse of boeke wat die eie literêre sisteem aanvul of daarmee in gesprek tree. In my bundel vervul dit veral die rol om die kunsmatige kloof tussen Afrikaans en Nederlands kleiner te maak en dit nader te trek na die Afrikaanse leser. Brink verdien lof vir sy besluit om  veel meer vertalings in sy jongste Groot Verseboek op te neem.

Ter afsluiting sou ek graag wou weet of daar ʼn gedig is wat jou wil uitsonder en dalk hier wou plaas om die lesers van Versindaba ʼn voorsmakie te gee van wat hulle kan verwag as hulle die bundel aanskaf?

Dalk is “Groningse boom” en “Brandfort” goeie keuses weens die tematiek daarvan.

 

***

Groningse boom

 

Gehurk sit jy duttend waar ek jou nooit kon sien nie,

neffens die grag, beefvinger om ‘n klip geknel,

vroegoggend al geheel in die skadu van Martini

terwyl jou lang vingers die waterhondjies tel.

 

Anders as jy vind ek hier geen vaste onderkome,

‘n heiige lug en vreemde tongval hou my aan die raai.

Geknotte wilg, jy’s wel hoër as die bome

van my horingdroë streek, maar minder taai.

 

Jy’s week van ‘n oormaat water

wat ‘n ou makgemaakte waterstroom

nou reëlmatig én effens plegstatig

stadig wegvoer in ‘n sirkelgrag,

wat hierdie Hansastad omsoom:

soos beelde uit die werklikheid ‘n droom.

 

 

Brandfort

           

Hoor, die dag raak stil, ‘n tentflap klap dig soos ‘n kis.

Aandpsalms en geweeklaag dra van die kamp se kant af.

Reiers stryk neer en slaan ysterklou in drassige watergras.

Trekvoëls slaan kamp op langs ‘n pootuit, eensame toeris.

 

Die louwarm, dik groen watergrasse begin gis, ruik!

Alles raak oorhoop in ‘n bonte mengelmoes van kleure,

orals sien ek bronslaai op die rande van diep skeure

en ek ruik opeens die verrottende vlas van Kortrijk,

 

en sonbrandolie en lou pintjes by Blanckenberge

en die olierige krokette en frieten van Koksijde

en die mosselgeure deur die ganse Knokke.

 

Ondeurdringbaar en vreemd net soos ‘n droom

so onwaarskynlik voel hier om my die laatmiddaglug.

Kyk daar! Sowaar: Vier verdwaalde merels in hul vlug!

 

© Hennie van Coller (Uit: Soom, 2012: Griffel Media)

 

Hennie van Coller woon en werk in Bloemfontein en is die outeur van meer as 100 artikels in geakkrediteerde tydskrifte, 37 hoofstukke in boeke, talle populêre publikasies en resensies en is die outeur, mede-outeur of redakteur van 19 boeke, o.a. die driedelige literatuurgeskiedenis Perspektief en Profiel. Binne universiteitsverband was prof. Van Coller vir baie jare lid van Fakulteitskomitees, sekundus-dekaan én agerende dekaan.  Hy debuteer met die bundel Soom by Griffel uitgewers in 2012.

 

Omslag

Omslag

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Andries Bezuidenhout. Die dakke van Dealesville

Thursday, March 22nd, 2012

NG Kerk, Dealesville

NG Kerk, Dealesville

In sy bundel Soom (2012, Griffel) verwys Hennie van Coller so sylangs na Dealesville:

In die Vrystaat is water min, die fontein
lank reeds weg; ons lot word net deur die son
besleg en whisky word ook g’nnie verdunnie.

Van winde kry ons hier genoeg,
veral sirokko’s uit die verre weste
wat Dealesville bring en Petrusburg se reste…

Die dorpie Dealesville is omring deur soutpanne. G’n wonder dat dit stuk-stuk Bloem se kant toe waai nie. In die kerkgebou hang ʼn foto van die dorp soos dit in 1950 gelyk het. Die kerkgebou self is in die middel van die foto. ʼn Mens kan dele van die vliegtuig, waaruit die foto geneem is, se vlerk in die voorgrond sien. Ek verbeel my ek kan soutpanne in die agtergrond bespeur.

Foto van die foto uit 1950

Foto van die foto uit 1950

Die Nederduits Gereformeerde Kerkgebou se hoeksteen is in 1912 gelê. ʼn Plafon van staalpanele gee die gebou se binnekant ʼn besonderse atmosfeer.

Staalplafon

Staalplafon

Wat egter opval as ʼn mens om die gebou stap, is hoe ʼn daklose gedeelte van die kerkgebou nou deur ʼn funksionele sinkdak teen donderbuie (al is dit skaars) beskerm word.

Dak oor dak

Dak oor dak

Op een plek is die nok se punt gebreek om die sinkdak se strak raamwerk te akkommodeer.

Dak oor nok

Dak oor nok

Ek wonder oor hierdie sinkdakskuur wat die kerk se agterkant bedek. Is dit ʼn tydelike maatreël, tot die gemeente genoeg geld het om die oorspronklike dak te restoureer? Of is dit hoe die dak nou maar daar gaan uitsien?

Dan weer: Ten minste is daar ʼn dak oor die gebou, anders as soveel ander historiese kerkgeboue wat gemeenteloos in wind en reën verweer.

Bernard Odendaal en Hennie van Coller. Die liriese intrige in Antjie Krog se Lady Anne (1989)

Thursday, July 7th, 2011

Die liriese intrige in Antjie Krog se Lady Anne (1989)

Bernard Odendaal en Hennie van Coller

 

Bron van hierdie artikel, met vergunning: Stilet, nr 22(2), September 2010,p.63-88

ABSTRACT

The poetic plot in Antjie Krog’s Lady Anne (1989)

Antjie Krog’s Lady Anne, inter alia labelled as “a novelistic poetry volume” – bears the stamp of the postcolonial discourse, more specifically as it concerns Apartheid and post-Apartheid South Africa. Aspects of the life of the historical figure lady Anne Barnard are metaphorically employed and embedded in an intricate narrative about Krog’s growth towards realising the necessity of (personal and national) transformation concerning socio-political, gender, religious and poetical issues. In this way some of the most important contemporary public discourses in the South Africa of the late 1980s are further highlighted by means of various text citations surrounding the poems in the book. This article focuses specifically on the construction of the poetic plot in Lady Anne, namely on “the selection, connection, and correlation of meaningful sequences as well as the constellation and integration of schemata and equivalences” (Hühn, 2004:142), as well as on the discursive implications thereof. Observations are also made and conclusions drawn about the manipulation of aspects of the mediating dimension in the book (agents/actants, narrative levels and narrative structure, the meaningful way in which the process of writing poetry itself is emphasised).

1. Inleiding

Antjie Krog se 1989-bundel Lady Anne, staan in die teken van die postkoloniale diskoers, meer spesifiek wat dit apartheid- en postapartheid-Suid-Afrika betref1. Die vraag na wat ‘n (Afrika- en) Suid-Afrikaanse identiteit behels, is ‘n sentrale kwessie in die bundel – soos trouens ook in ander Krog-bundels, waaronder Gedigte 1989-1995 (1995) en Kleur kom nooit alleen nie (2000). Bundels deur ander Afrikaanse digters wat kennelik deur Lady Anne geïnspireer is, of waarin op aspekte daarvan gereageer word (veral Louis Esterhuizen se Die onderwaterweg: ‘n Versroman uit 1996 en onderskeidelik Heilna du Plooy en Marius Crous se bundels In die landskap ingelyf en Brief uit die kolonies uit 2003), getuig voorts hiervan.

Al genoemde bundels het boonop min of meer ‘n opvallende (hoewel verkapte) verhalende inslag, en voer reële en/of fiktiewe vertellers/sprekers ten tonele. Trouens, narratiwiteit (en digterskap) word telkens getematiseer.

Lady Anne is onder meer om bostaande redes as “‘n roman van ‘n bundel” (Brink, 1989:13) bestempel; en Esterhuizen se bundel word in die subtitel “‘n Versroman” genoem.

Hühn (2004) beweer dat narratologiese konsepte kan bydra om die tegnieke te beskryf wat in poësietekste ingespan word om elemente tot een of ander “gemotiveerde” orde te bind. Die “poetic plot” in Lady Anne, dit wil sê “the selection, connection, and correlation of meaningful sequences as well as the constellation and integration of schemata and equivalences” (Hühn, 2004:142), asook die diskursiewe implikasies dáárvan (byvoorbeeld op aktansiële vlak), word in hierdie artikel onder die loep geneem. Tussendeur word waarnemings van en afleidings oor die hantering van aspekte van die mediëringsdimensie (agente/aktante, vlakke van vertelling en bundelopbou, vooropstelling van die digproses en die funksies dáárvan) gemaak.

2. Enkele opmerkings oor narratiewe poësie

Met narratiewe poësie word nie net na epiese gedigte verwys nie (Odendaal, 2009:116), maar ook na wat in die Anglo-Amerikaanse letterkundewêreld die “long poem” genoem word, sowel as “serial poems”, die moderne “poetic sequence” en enkelgedigte met ‘n anekdotiese inslag (Stolk, 2007:1122 & 1127).

Vaessens en Joosten (2003:86-87) verbind die wêreldwye oplewing in die verhalende soort poësie met die postmodernistiese radikale relativering van die sogenaamde “Grote Vertellingen” of Lyotardiaanse meesternarratiewe, wat eenduidige, totaliserende waarhede sou projekteer. In die dominasieposisie van dergelike meesternarratiewe tree ‘n aangewesenheid op sogenaamde klein, dikwels outobiografies getinte vertellings in wat hoogstens voorlopige en streng indiwiduele regverdiginge bied.

In die onderhawige bundel sal aangetoon word dat (outo)biografiese, ‘klein vertellings’, dié van lady Anne Barnard en dié van “die skrywende subjek” (Crous, 2003b:151)2,  met die groter, Suid-Afrikaanse, nasionale diskoers verweef word.

‘n Verhaal veronderstel basies ‘n minimum bestaande uit ‘n storie en ‘n verteller wat daardie storie of storiebrokke vertel. Soos deur Odendaal (2009:119 – in navolging van Hühn, 2004:139) opgemerk word, kan ‘n mens dus in hierdie verband praat van ‘n dimensie van die sekwensialiteit of opeenvolgendheid van gegewens en gebeure, en van ‘n dimensie van bemiddeling (“mediacy”) van daardie gegewens en gebeure. In laasgenoemde dimensie gaan dit om die presentasie (en interpretasie) van so ‘n sekwensie vanuit ‘n bepaalde perspektief3.

Die onderskeid tussen sekwensialiteit en bemiddeling kom breedweg ooreen met bekende narratologiese onderskeidings soos “histoire” en “récit”, “fabula” en “sjužet”, “storie” en “verhaal”/”diskoers”/”teks”/”plot”, ensovoorts4. Of soos Brink (1987:38) verkies om die onderskeiding te formuleer: storie en vertelteks.

Volgens Hühn (2004:139) sal in ‘n omvattende modellering van narratief ook voorsiening gemaak moet word vir ‘n dimensie van die handeling van artikulasie of vertelling (“act of articulation or narration”), dit wil sê vir die dimensie waardeur die bemiddelde opeenvolgendheid van gegewens en gebeure bewerkstellig word, en waarvan spore in die tekstuele vormgewing nagespeur kan word. Brink (1987:40) gebruik hiervoor die term vertelproses. Verteldimensies soos konkrete of abstrakte, en eksplisiete of implisiete verteller- en outeurskap, asook handelingsdieptestrukture en aktante5 soos deur onder meer Greimas (1971) onderskei word, is hier ter sprake.

Oor spesifieke vorme van narratiwiteit in liriese poësie maak Hühn (2004:151-153) ‘n klompie rigtinggewende aantekeninge.

Hy beweer eerstens dat die kenmerkespektrum van intrigevorming (“plotting”) en vertelling in die poësie merkbaar verskil van dié in die prosa. Daar word in die digkuns byvoorbeeld graag vertel vanuit ‘n posisie binne-in die voortgaande storie (“interne” vertelling – Brink, 1987:153), eerder as vanaf ‘n posisie aan die einde (“agternavertelling” – Brink, 1987:160-161) – dit wil sê liefs op prospektiewe wyse (“vooruitvertelling” – Brink, 1987:161) of op simultane wyse (“gelyktydige” vertelling – Brink, 1987:161-162) terwyl die storie ‘gespeel’ of die gebeure-opeenvolging ‘gevorm’ word deur die vertel van die storie (die vertelteks).

‘n Besonder komplekse poëtiese intrigevormingswyse waarop Hühn (2004:151-152) wys, is waar die gebeurlikheid (“eventfulness”) die storievlak oorskry en ‘n “discourse event” word. Hy noem die voorbeeld van Shakespeare se Sonnet 107,

where the frame of the sequence is abruptly redefined – from aiming at the friend’s praise for his continued friendship and patronage to the speaker’s insistence on his own superiority, on account of his immortalizing poetic gift, over his friend’s mortality.

Soos verderaan gesien sal word, vind iets dergeliks in Lady Anne plaas wanneer lady Anne Barnard terug die Kaapse kasteel in vlug (as simboliese daad van nievereenselwiging met die Suid-Afrikaanse werklikhede).

In die tweede instansie wys Hühn (2004:152) daarop dat karakters in digtekste, in die besonder die sprekers in gedigte, gewoonlik nie deur name en beskrywings geïdentifiseer word soos dikwels in die prosa nie, maar eerder deur hulle perspektief, hulle “interiority” (of ‘interniteit’, om ‘n Afrikaanse term analoog aan die onderskeiding “interne verteller” te skep), asook op grond van die persoonlike aard van die digterlike narratiewe.

Indeed, one important function of narratives in poems is the constitution of the speaker’s or narrator’s subjectivity and individuality, the definition of his or her identity, by the self-attribution of a chain of events, of a ‘mental story’… (Hühn, 2004:152).

Vandaar dat ‘n neiging tot performatiewe vergestalting van karakter, deur middel van die houdings, sienings en handelinge van die subjek soos weerspieël in die (self-) geuiterde teks, in die poësie bemerk kan word.

‘n Derde kenmerk van vertelling in poësie is die voorkeur vir ongewone verteltye en stemmings (Hühn, 2004:152), byvoorbeeld deur die tweedepersoonperspektief of die “imperative mood” (gebiedende wyse) te benut, of ‘negatief’ te vertel (gebeure te verhaal wat nié plaasgevind het nie).

Vierdens vermeld Hühn (2004:152-153) dat narratiewe sekwensies in die poësie ‘n gebrek vertoon aan tydruimtelike plasing (“[they] lack explicit circumstantial explanations and connections”), anders as wat konvensioneel vereis word in romans (hoewel erken word dat ‘n beduidende hoeveelheid “avant-garde fiction” wél hierdie kenmerke vertoon, “arguably partly as an import from the genre of lyric poetry” – Hühn, 2004:153). Meer abstraksie en tematiese universaliteit kan sodoende bewerkstellig word, terwyl tyds- en tematiese oorgange vergemaklik word.

In die vyfde plek beklemtoon Hühn (2004:153) dat die narratiewe sekwensies in liriek deur die ‘materialiteit’ en spesifieke vormlikheid van poësie (stilistiese en strukturele aspekte soos klank, ritme, prosodie, beelding, sinsbou, tipografie, ensovoorts) beïnvloed word, “reinforcing, modifying, or counteracting the semantic plot-development”.

Meer spesifiek, skryf hy, fungeer die formele kenmerke in die poësie as paradigmatiese relasies of ekwivalensies naas motiwiese en tematiese aspekte. Hierdeur raak hy aan wat al as ‘n verikoniseringsdrif in die poësie bestempel is (Bronzwaer, 1990:99), dit wil sê die ‘demonstratiewe’ en derhalwe sterker geloofbaarmakende wyse waarop talige, stilistiese, verstegniese en vormlike middele benut word om een of ander ‘gelykenis’ met die semantiese aspekte van byvoorbeeld die gedig te vertoon, sodat die ‘boodskap van die gedig hierdeur medegekonstitueer én -gefasiliteer word6.

‘n Kernelement in narratiewe digkuns is wat ‘n mens, na Hühn se reeds vermelde bestempeling “poetic plot”, die liriese intrige kan noem. Enkele opmerkings hieroor lyk nodig vóór die toepaslikheid van die begrip vir ‘n analise van Krog se Lady Anne gedemonstreer word.

3. Liriese intrige

 Du Plooy (1992a:384 & 386) beklemtoon hoe omstrede die begrip “plot” is, want, skryf sy, daarin lê ‘n hele groep begrippe ingebed: temporele aspekte soos volgorde en opeenvolging, logika en kousaliteit, die intelligente vermoë nie net om te onthou en na temporele en logiese reekse te soek nie, maar veral om verhoudinge te kan raaksien en interpreteer. Die relevante verhoudinge sluit alle aspekte van verhalende tekste in sodat handeling, karakter, plek en tyd en al die maniere waarop hierdie elemente artistieke betekenis verkry, in ‘n bespreking van die plot  tuishoort.

In hierdie artikel word, soos in die inleiding aangedui, Hühn (2004:142) se omskrywing van “poetic plot” benut, naamlik die wyse waarop die elemente in digtekste geskakel is tot ‘n kousale, temporele of andersins ‘gemotiveerde’ ketting. Hoewel Brink (1987:66 & 155) plot ook met die terme “handelingstruktuur” en “verwikkelingsplan” benoem, word die bestempeling liriese intrige hier verkies as vertaling van poetic plot. Daardeur word eerstens gepoog om die gelykstellende assosiasies van plot met begrippe soos “verhaal”, “diskoers”, “teks” en “vertelteks” uit te skakel, terwyl met die term liries tweedens klem geplaas word daarop dat hierdie ondersoek gerig is op ‘n teks waarin verhalende elemente op die liriese genresoort ingeënt is.

Hühn (2004:142-143) brei soos volg uit oor liriese intriges: “Plots in poetry are typically constituted by mental or psychological incidents such as perceptions, imaginations, desires, anxieties, recollections, or emotions and their emergence, development, and decisive change.” So ontstaan volgens hom ‘n sintagmatiese samehang in liriese tekste. Dit is egter slegs deur die paradigmatiese verwysing na buite-tekstuele kontekste en na ‘wêreldkennis’, “i.e. to cognitive schemata already familiar and meaningful” (Hühn, 2004:143), dat lesers sin van sulke tekste kan maak. ‘Wêreldkennis’ sluit kultuurspesifieke patrone van algemene ervaring in, sowel as intertekstuele verwysings na literatuur en ander kunsvorme.

Deur middel van sulke kognitiewe skemata word paradigmatiese verhoudings gelê, word indiwiduele insidente en gegewens geselekteer, gegroepeer en sistematies getransformeer tot ‘n samehangende en betekenisvolle narratiewe sekwensie of intrige. Brink (1987:54-57) praat in hierdie verband van die vorming van gebeurtenisreekse, en wat dan verder “saamgeklonter” word tot gebeurtenissiklusse om uiteindelik ‘n verhaal te konstitueer.

Dit behels dus ‘n transformasionele proses wat herinner aan wat deur byvoorbeeld Bal (1980:16) as die omsetting van ‘n “geschiedenis” tot ‘n “verhaal” bestempel is, en wat via bewerkinge op ses vlakke geskied (volgorde, tyd, karakterinvulling, ruimte, simbolisering of verwysing, en gesigspunt).

Twee hoofsoorte kognitiewe skemata wat deur Hühn onderskei word – en wat herinner aan die bekende kategorie-onderskeidinge van W. Blok (1960) tussen abstrakte en verhaalmotiewe7 – is rame (“frames”) en skripte (“scripts”):

Frames designate the thematic or situational contexts or frames of reference within which poems are to be read, as for instance death, growing up, or sexual love; scripts denote sequence patterns, i.e. natural processes or developments, conventional series of actions, or stereotyped procedures, usually in close connection with the relevant frame, such as, to take up the examples given, dying as crossing the border between this world and another, unfamiliar one; personal growth as the development from childhood to adulthood seen in a positive or negative light (gaining more knowledge or losing spontaneous vitality, respectively); or the formalized ritual of courtly love barring the gratification of the lover’s desires (Hühn, 2004:143).

Waar rame lesers in staat stel om digwerke ten opsigte van hul situasionele en tematiese betekenisvolheid en samehang in primêr statiese verband te interpreteer, word die dinamiese, by name die verhalende dimensie van tekste deur die skriptuele element gevorm (Hühn, 2004:143-144). Daar kom gewoonlik ‘n beslissende wendingspunt (gebeurlikheid, of “event”) in voor – ‘n bepalende gebeurtenis, in Brink (1987:52-53) se terminologie – as ‘n sentrale kenmerk van die verhaalopset wat dit vertelwaardig maak (Hühn, 2004:145).

Ekwivalensies tussen tekstuele elemente word verder bewerkstellig deur isotopieë, dit wil sê semantiese of tematiese kenmerke (seme of kombinasies daarvan) wat in ‘n verskeidenheid woorde en uitdrukkings binne gedigte en digbundels voorkom, waardeur nuwe verbande binne die teks gelê en verdere lae betekenis toegevoeg word8.

Tipies van literêre tekste is dat op betekenisvolle wyses van die rame en skripte wat daarin geaktiveer word, afgewyk word; boonop, vanweë die konvensies van bondigheid, situasionele abstraktheid en veralgemeendheid wat vir poësie geld, is gedigte gewoonlik minder eksplisiet en omstandigheidspesifiek as prosakunswerke in die aanbied van tekstuele tekens waardeur rame en skripte geaktiveer word (Hühn, 2004:144).

4. Die liriese intrige in Antjie Krog se Lady Anne (1989)

4.1 Sintagmatiese koherensie in Lady Anne

Die sintagmatiese koherensie in die bundel word bewerkstellig rakende die kwessie van Afrikanisering (of verinheemsing) van blankes in Suid-Afrika, ‘n vraagstuk wat steeds relevant is in Suid-Afrika vandag, maar ten tye van die verskyning van die bundel, in die tydperk voordat die politieke transformasie vanaf 1990 op gang gekom het, in die brandpunt gestaan het.

Krog is ‘n Afrikaanse digter wat bekend is daarvoor dat sy ‘n vermoë het “om dit wat soveel mense beleef, onder woorde te bring”, asook om haarself en haar eie wêreld, asook dié van haar “volggenote/volksgenote” met elke volgende bundel van haar telkens te verruim – só redeneer Tom Gouws (1989:43) in sy bespreking van Lady Anne, met die konklusie dat Krog as “‘n eietydse volksdigter” bestempel kan word. Wat Gouws tereg in sy resensie beklemtoon, is die effektiwiteit van haar poësie, die werking daarvan in die Afrikaanse literêre, kulturele én sosio-politieke leefwêreld (soos beredeneer deur Odendaal, 1994:86). Sy skryf steeds meer betrokke poësie, dit wil sê “literatuur wat aantoonbaar ontspring uit, en ingestel is op, ‘n herkenbare sosio-politieke werklikheid” (Brink, 1985:79).

Die historiese figuur lady Anne Barnard, wat as vrou van die sekretaris van die Kaapkolonie vanaf 1797 tot 1802 aan die Kaap vertoef, in die plek van die goewerneursvrou op luisterryke wyse as eerste dame aan die Kaap optree, kontak met die inwoners maak en enkele reise na die binneland onderneem, dien as metafoor waardeur Antjie Krog haar eie en die eietydse Suid-Afrikaanse aktualiteit (wil) verken om haar ten opsigte daarvan te kan posisioneer. Wesenlik word ‘n besondere vorm van (meervlakkige) storie-inbedding benut9 om die metaforiese moontlikhede in die hand te werk.

Die bundel word egter ook meer as net ‘n ekspressiewe teks waarin Krog – via die instansie van die skrywende subjek – uiting gee aan haar gevoelens, oordele en dergelike. Om rekenskap te gee van die situasie waarin sy haar bevind, word gesien as deel van haar digterlike taak. In die eerste “slot”-gedig, met ‘n ietwat gewysigde en vertaalde sitaat uit lady Anne Barnard se boek Lives of the Lindsays, heet dit byvoorbeeld:

Die leuse van my vader wil ek herhaal:

hy wat versuim om sy lewe

en dié se plek noukeurig te ondersoek,

het die Skrywer van sy verhaal gefaal.

Dié rekenskapgewing geskied in en deur die skryf van die bundel, op die wyse van die poësie. “Feitelikhede uit lady Anne se bestaan en uit die eietydse aktualiteit van Antjie Krog word verweef met poëtiese ‘verdigsel’. Die digter sê immers: ‘ek moes baie jok en verkort'” (Viljoen, 1989:8). Die poëtiese werkswyse herinner daarom sterk aan “New Jounalism” of “faction”, waarin die boeiende spelmoontlikhede van die verhouding tussen feit en fiksie uitgebuit word.

Inderdaad word die feit dat ons te make het met ‘n literêre teks, en met wat deur Hühn as ‘n handeling van artikulasie of deur Brink as ‘n vertelproses bestempel sou word, op verskeie wyses in die bundel vooropgestel. Odendaal (1994:87-88) het voorheen sodanige vooropstelling in meer besonderhede aangetoon, en dit word hier opsommend benut om vertelteoretiese aspekte te belig.

Eerstens word geëksplisiteer dat beide die vertelinstansie (die skrywende subjek) en die metaforiese titelpersonasie kunstenaarsfigure is (lady Anne Barnard was skilder én dagboek- en joernaalskrywer) wat worstel met hul onvermoë om Afrika in kuns vas te lê of die vasteland in hul diepste wesens op te neem. Tweedens skroom die skrywende subjek nie om die maakproses van die bundel bloot te lê nie (“process made visible” – Hutcheon, 1980:6), byvoorbeeld in gedigte oor die moeitevolle pogings om aan die skryf te kom, of waarin geworstel word met die spanning tussen die elitistiese (Westerse) estetiese tradisie waarbinne sy (ook Krog) opgevoed is om te skryf en die eise van die onontkombare politieke situasie waarbinne sy haar bevind – gedigte waarin vertellerteks en personeteks kennelik ooreenstem10. Voorts word briewe, joernaal- en dagboekinskrywings (deur lady Anne Barnard én deur die skrywende subjek), selfs sketse van die tongvis in verskillende stadia van sy ontwikkeling, en afdrukke van ‘n menstruasie-almanak, ‘n munisipale-verkiesingsplakkaat uit 1988 en ‘n koerantknipsel van ‘n eiendomsadvertensie uit dieselfde tyd, as “onaf” gedigte aangebied. Derdens is die bundel deurspek met sitate wat die (literêr) estetiese en sosiopolitieke konteks waarbinne die bundel ontstaan het, invul.

Gestel met betrekking tot van sommige van die onderskeidinge wat Brink (1987) in sy inleiding tot die lees van verhalende tekste maak: Dinge behorende tot die verskillende vlakke (en kontekste) van die storie(s), die vertelteks en die vertelproses word in Lady Anne vervleg aangebied.

Sodoende word die soort situasionele (byvoorbeeld tydruimtelike) abstraksie en veralgemening in die hand gewerk wat so kenmerkend van die liriese genre (in onderskeid van die prosagenre) is, soos voorheen in navolging van Hühn aangetoon.

Laasgenoemde is bevorderlik vir die oorredende gehalte van Lady Anne as teks, dit wil sê as teks wat daarop gerig is om die opvattings, gevoelens, en selfs handelings van ‘n bepaalde deel van Krog se waarskynlike leserskorps te beïnvloed. Brink (1987:147) toon byvoorbeeld, in navolging van ‘n teoretikus soos Rimmon-Kenan (1983:86 en verder), aan dat daar “vir elke vertelfunksie […] ‘n ooreenstemmende leesfunksie in die teks beteken word. Ofte wel: vir elke ‘spreker’ is daar ‘n ‘aangesprokene'”11. In die lig van die bepaalde tematiese strekking van Lady Anne, waaroor net hierna in meer besonderhede uitgewy word, lyk dit of dit veral die sogenaamde ‘blanke’ Suid-Afrikaners, meer spesifiek die Afrikaners (Krog se “volksgenote”), is wat as ‘aangesprokenes’ in die bundel geïmpliseer word.

Inderdaad word die ekspressiwiteit van die bundel (die outentiekheid van die liriese belydenis, versterk deur datum-, plek- en ander outobiografiese verwysings), asook die literariteit daarvan (soos hierbo verduidelik), juis in hierdie verband oorredend aangewend. Dit gaan naamlik om die verhoging van die waarskynlikheid of geloofwaardigheid van die (eksemplariese) worstelstryd wat werklike kunstenaarspersoonlikhede soos lady Anne Barnard en Antjie Krog, met uiteenlopende uitkomste, hier te lande gevoer het – om wat Roland Barthes volgens Brink (1987:131-132) die “vraisemblance” of die “l’effet du réel” van mimetiese verbesondering sou noem.

In die lig van bostaande argument lyk dit gepas om die tema (of hoof- of sluitmotief) wat die sintagmatiese koherensie in Lady Anne bewerkstellig, te beskryf as die noodsaak van postkoloniale Afrikanisering in Suid-Afrika12.

4.2 Transformasie as paradigmatiese raam in Lady Anne

Die paradigmatiese raam waarbinne bogenoemde tema uitgespeel word in die bundel, is dié van transformasie, wat isotopies uitgebou word om vier intrinsiek verweefde vlakke in te sluit:

  • transformasie as blanke Suid-Afrikaner, waaronder as Afrikaner
  • transformasie as vrou
  • transformasie as Christen
  • transformasie as kunstenaar/digter

Hieroor weldra meer.

Dié (statiese) paradigmatiese raam word tot ‘n dinamiese skript uitgebou deurdat transformasie in hierdie geval as ‘n uittrede uit bevoorregte omstandighede en die self voorgestel word. Aangesien lady Anne Barnard se wedervarings en handelings deur die skrywende subjek as (aanvanklike) metafoor vir haar eie belewenisse benut word, kan sodanige eksistensiële uittrede deur die beeld van die uittog uit die kasteel (as simbool van Europees-Westerse geborgenheid) aangedui word. Dis ‘n uittog eerstens vanuit Europa na Afrika wat onderneem moet word, en vanuit die Kaapse kasteel die binneland van die kontinent in (soos lady Anne Barnard wel onsuksesvol gepoog het).

Die uittog-uit-die-kasteel-beeld geld dan vir isotopies ekwivalente houdingsveranderinge soos die volgende (telkens op een of meer van bogenoemde vlakke):

  • van selfgerigtheid na naasteliefde
  • van daadloosheid na daadkragtigheid
  • van estetiese preokkupasie (skoonheid) na maatskaplike impak (nuttigheid)
  • van afstandelikheid na vereenselwiging
  • van konserwatisme na rewolusionêre betrokkenheid

Die verbande wat dusdanige tematiese strekkings in die bundel het met die sieninge voorgestaan in die postkolonialistiese en feministiese kritiek (soos byvoorbeeld gekenskets in Van der Merwe en Viljoen, 1998), is klaarblyklik.

Om egter terug te keer na die vier paradigmavlakke van die transformasietema-raam in Lady Anne: Ook hieroor het Odendaal (1994:90-93) reeds meer breedvoerig geskryf, mét illustrasies uit die bundel, en die strekking daarvan word hier hoofsaaklik opsommenderwys weergegee.

‘Blanke’ Suid-Afrikaners word geteken as hebsugtige maghebbers, as ‘n bevoorregte, pretensieuse en selfs huigelagtige besittersklas (veral in gedigte uit Deel II van die bundel). Parallelle word getrek met die situasie in die 1980’s in Suid-Afrika, en die skrywende subjek voel haar deel hiervan. “[E]k is gebore / aan ‘n gilde / van hebsug en hoon”, skryf sy byvoorbeeld in die gedig “parool” (bladsy 37). Daar word voorts geïmpliseer dat dié blanke maghebbers ‘n wrede, bloeddorstige geslag is, maar dit word ook duidelik gemaak dat húl wêreld ‘n bedreigde een is – trouens, dat hulle aan die einde van ‘n era leef:

soos ons op sandersonlinne sit en aai en paai

en die mans by ingeboude kroeë druk drink en despe-

raat praat oor naai

weet ons ons is die laaste

die laaste wat kinders teer laat verblond op melk en

heuning

ons is die laaste

agter ons onder ons langs ons

stort met die sagte geluid van as

strukture wat ons soort in stand hou

in hulle maai.

(“Lady Anne by die mikrogolfoond”, bladsy 71)

Oor die magtelose, onderdrukte niebesitters (die sogenaamde ‘nieblankes’ of ‘anderskleuriges’) word daarenteen min gesê. Die swartman bly in ‘n groot mate die onbekende “broer” met wie die digter nie mooi weet hoe om haar te versoen nie (“nuwe alfabet”, bladsy 91). Voorop staan die ellende en geweld wat dié mense die hoof moet bied. Die enkele kere waar wel iets meer aangaande hulle gesê of gesuggereer word, is die uitbeelding eerder gunstig.

Ook wat religieuse kwessies betref, is die voor- en afkeure duidelik. Die tradisionele Christelike geloof in die volkome versoening wat deur die lyding van Christus vir die mens se sondes bewerkstellig is, word as ontoereikend en uitgediend gesien. Daarom dat sowel lady Anne as die skrywende subjek hul ontuiser voel in die ‘blanke kerke’, terwyl hulle egtheid en krag van geloof ervaar in ‘anderskleurige’ gemeentes. Heil word dus eerder gesoek in ‘n teologie (die sogenaamde “bevrydingsteologie” – vergelyk Brink-de Wind, 1992) wat ‘n horisontale versoening tussen mense onderling predik, ‘n bevryding van aardse onreg deur ons tot die dood toe te verneder vir ‘ander’. Volgens die bevrydingsteologie is God aan die kant van die armes en onderdruktes. Dit staan ‘n daadwerklike ingrype in sosiale en politieke misstande voor om ‘n aardse heilstaat te bewerkstellig. Soos dit aan die einde van die gedig “Op klipplate word seile oopgegooi” (bladsye 47-48) lui: “[…] hoe meer / jy het hoe meer is jy verskuldig”. Om van haar “eksklusiewe smet” ontslae te raak, sal lady Anne – so verneem sy in die gedig “Toe Dundas met sy dik aksent” (bladsy 65-66) – intense lyding moet ondergaan. Dit is ook in die lig hiervan dat die woorde “die mens lewe van slagspreuke alleen” in die slotgedig van die bundel (bladsy 108) verstaan moet word. Eerstens word die konnotasies van geweld en lyding rondom “slag” geaktiveer. Tweedens word die honger Jesus se bekende antwoord (“Die mens kan van brood alleen nie lewe nie” – Matteus 4:4) op die duiwel se versoekende uitdaging om die klippe in brood te verander, ironies verdraai om die gevoelde noodsaak vir religieus-geïnspireerde politieke optrede uit te hef.

Oor die gemarginaliseerde posisie van die vrou in die samelewing laat die skrywende subjek haar in die bundel ewe sterk, hoewel minder eensydig uit. Die metaforiese personasie lady Anne word in haar verhoudings met verskillende mans (Dundas, Windham, Andrew Barnard) voorgestel as ‘n sterk vrou wat haar volkome bewus is van die magspel tussen man en vrou. Hiervan getuig die erotiese gedig “dis middernag en piouter” (bladsy 24) met sy byna militant feministiese klank.

Ook die skrywende subjek spreek haar uit oor die man-vrou-verhouding ten opsigte van ‘n magspel. Die erotiese spel tussen man en vrou word gesien as slagveldmaneuvers, en vrouwees word in ‘n sekere sin ervaar as nederlaag (“Soos wat jy gisteraand ingestap het”, bladsy 74). Manlike chauvinisme kan sy nie verdra nie (“given line: macho-mans gee my die creeps”, bladsy 67). Sy bly egter bewus van die kompleksiteit van die situasie, erken byvoorbeeld haar afhanklikheid en haar verantwoordelikhede as ma. Die man is nie net heerser nie, maar ook slagoffer van vrou en familie. Iets van hierdie ambivalensie spreek uit die gedigte op bladsye 72 en 73 in die bundel.

Oor die vierde paradigmavlak is reeds heelwat gesê in die bespreking hierbo van die vooropstelling van die literariteit van die bundel. Genoeg om te beklemtoon dat die spanning tussen estetiek en politiek sentraal in die bundel staan, ‘n bundel wat eintlik gekonsipieer is as ‘n opgaaf om dié ‘swart’ Afrika-kontinent en -land en hul aktualiteit, asook die rol en verantwoordelikheid van ‘n ‘blanke’, vroulike digter daarbinne, deur middel van die skryfdaad te deurgrond om sodoende daarmee versoen te raak13. ‘n Kerngedig in die bundel wat spesifiek oor hierdie spanning handel, is “parool” (bladsye 35-38), ‘n gedig wat deur Kannemeyer (1989:39) as die “ars poetica van die politieke vers” bestempel is. Die kern van die saak is dat die skrywende subjek, soos lady Anne, ervaar dat die elitistiese (Westerse) estetiese tradisie waarbinne sy opgevoed is en waarvan sy sukkel om haar te bevry, ontoereikend, nutteloos en daarom verwerplik is binne die (destydse) Suid-Afrikaanse konteks van armoede, onreg en onderdrukking. Hier is rewolusionêre poësie nodig:

woorde as AK 47’s moet veg

poësie moet nuttig wees, daad, belas

met die uitering van die stryd altyd part

staan poësie kan rewolusie puur[.]

(“parool”)

Daarom, om haar met Afrika en die swartman van Afrika te kan versoen, moet sy ‘n “nuwe alfabet” (bladsy 91) leer: “A is altyd teen apartheid / B is blind vir kleur”. Die benutting van gewoonlik niepoëties geagte tekste (soos die talle sitate van sosio-politieke en poëtikale aard, die verkiesingsplakkaat, die menstruasie-almanak, ensovoorts) is ikonies van dié anti-elitêre estetiese strewe – ‘n deurbreking “op ‘n opsigtelike manier” van “die vertroude grense van die poësie” (Viljoen, 1991b:20). Ten slotte voel die digter haar derhalwe die “groot van-kant-maker” van die nuttelose Europees-Westerse estetiek soos deur lady Anne verteenwoordig: “onder my duim lê die fyn sintaksis van jou strot”. (Albei die laaste aanhalings uit “slot”, bladsy 108.)

Trouens, soos reeds aangetoon, kan lady Anne Barnard se simboliese terugvlug die Kaapse kasteel in – waardeur sy uiteindelik as metafoor vir die skrywende subjek, as ‘n vehicle waardeur laasgenoemde haar eietydse situasie en posisie kon verken en peil, verwerp moet word – beskou word as die gebeurlikheid (“event”) wat volgens Hühn vir die keerpunt in die poëtiese intrige verantwoordelik is.

4.3 Tydshantering en bundelopbou in Lady Anne

Dié keerpunt staan duideliker uit as ‘n mens die hantering van tyd in die bundel, asook die bundelopbou, in oënskou neem.

Die chronologie van (dele van) lady Anne Barnard se lewe – “die historiese diskoers” in die bundel (Crous, 2003b:151) – kan min of meer gerekonstrueer word uit die bundel; plek-plek word dit aangevul deur grepe uit ‘n vroeër tyd (byvoorbeeld “lied geskryf voor die geboorte van lady Anne Lindsay, 1750”, bladsy 12; of die anonieme brief uit 1300, bladsy 11). Hierop gryp die skrywende subjek op verskillende wyses in. Lady Anne se reise word niechronologies herhaal, gereleveer en gerelativeer (Brink, 1989:13); én die vertelteks oor lady Anne word verkap aangebied met ‘n tweede vertelteks – dié van die belewenisse en wroeginge van die skrywende subjek van die laat 1980’s (op die vier tematiese vlakke wat in die vorige afdeling vermeld is). Boonop loop dit alles uit op die numeries afwykende afdelingaanbod in die bundel: I, II, V, IV, III.

Sodoende ontstaan ‘n verweefde veld van spanninge tussen wat ‘n mens, na die voorbeeld van Brink (1987:127), sou kon noem deurlopendheid (gedra deur die twee stories) en onderbreking (geteken deur die verkaptheid van die aanbieding van die twee stories, dit wil sê die breuke in die vertelteks). Die funksie van sodanige spanningskepping beskryf Brink (1987:127) as “‘n aktivering van die begrip van grense wat oorgesteek word (analoog aan die verskynsel van versreëls en enjambement in ‘n gedig). Dit gaan om die konstituering van betekenisse téén die bloot lineêre chronologiese patroon in”.

Bondig saamgevat, en hier ter wille van oorsigtelikheid diagrammaties voorgestel, behels die numeries afwykende bundelaanbod, dit wil sê die vertelteks soos die leser dit vanaf bladsy 1 tot 108 te lese kry, die volgende gebeuresekwens of “sjužet”14:

 

Bundelafdeling Storie 1: Lady Anne Barnard Storie 2: Die skrywende subjek
Deel 1 Lady Anne Barnard se afkoms en haar koms na die Kaap word uitgebeeld. (Hoewel hierdie “storie 1”-gedeelte later in dié bundeldeel aan die bod kom as die “storie 2”-gedeelte hiernaas vermeld.) Die moeilike begin met die bundel Lady Anne en die skrywende subjek se probleme om die regte metafoor te vind om haar worstelinge voor te stel.
Deel II Lady Anne Barnard aan die Kaap; haar flambojante, bevoorregte lewe, maar ook haar uitsonderlikheid as sterk, ondernemende vrou; haar liefdeslewe en haar skryfwerk. Daarteenoor die skrywende subjek se belewing van, en haar worsteling met, die wantoestande, ook die noodtoestand in Suid-Afrika van die jare 80; die probleme van digter-wees in sulke omstandighede.
Deel V Dagboek van lady Anne Barnard oor haar togte die Kaapse binneland in, vervleg met die skrywende subjek se dagboekaantekeninge oor háár besoek aan Skotland om lady Anne se bevoorregte afkoms na te vors. Sentraal staan lady Anne se (poging tot) kennismaking met die landskap en die mense daarin; telkens word op slavinne gefokus – hul onmisbaarheid en hoe hulle uitgebuit word. Dan beleef sy ‘n krisis op Genadendal (ironies!), ‘n “moment van insig waar sy geestelik sou kón wegbreek uit haar kondisionering as wit, adellike vreemdeling om tot ‘n vorm van handeling oor te gaan” (Brink, 1989:13); sy vlug egter terug na die kasteel. Net hierna staan ‘n rassistiese munisipale verkiesingsplakkaat van die destyds behoudende Konserwatiewe Party afgedruk (bladsy 59; implikasie: dit gaan om dieselfde soort keuse as lady Anne s’n), onmiddellik gevolg deur ‘n ovulasie-almanak (met sy beklemtoning van die “bloedige” = lewensegte en wrede realiteit/identiteit waarmee die skrywende subjek gekonfronteer staan).
Deel IV Belewings van geweld, verset en bloed staan voorop: Lady Anne beleef die vuur in die pakkamers, daar word berig oor haar belewenisse tydens die Franse rewolusie, oor haar ervaring van die diskriminerende bevoorregting van die man, oor die ophang van rebelle, oor slawerny en haar opstandigheid daaroor. Tussendeur verneem ons ook van die skrywende subjek se situasie: haar belewing van die noodtoestand en geweld in haar eietydse SA, van die stryd tussen die geslagte, haar siening dat die Afrikaanse poësie nie in staat is om iets in hierdie omstandighede by te dra nie; haar beskrywings van beesslag, veroudering, moederskap; die transformasies wat sy sal moet ondergaan om van Afrika te word. Sy word nou ‘n eietydse lady Anne, ‘n “Lady Anne by die mikrogolfoond” (bladsy 71).
Deel III Lady Anne Barnard vertrek terug na Europa; daar is nog korrespondensie tussen haar en Andrew Barnard aan die Kaap tot en met sy dood. Die skrywende subjek voel die noodsaak van transformasie sterk aan (vergelyk “transparant van die tongvis”, bladsye 92-92), neem ondubbelsinnig afskeid van lady Anne en haar soort; leer ‘n nuwe alfabet aan, skryf ‘n gedig oor skuld – gaan dus ‘n Afrika-toekoms tegemoet.

Hiervolgens gelees, staan die draaipunt-gebeurtenis van lady Anne Barnard se terugvlug die kasteel in (waar die gebeurlikheid die storievlak oorskry en dit ‘n “discourse event” word, volgens Hühn, 2004:151-152) ongeveer in die middel van die bundel (op die 58ste van 108 bladsye). Waar lady Anne nie háár insig in dade wil of kan omsit nie, word sy vir die skrywende subjek al hoe meer irrelevant, sodat lady Anne se vertrek, soos aan die bundeleinde (deel III) beskryf word, ook ‘n finale afskeid van haar as metafoor. Die verkenning van haar eietydse aktualiteit via die historie van lady Anne word dus vanaf die middel van die bundel toenemend ‘n innerlike verkenning deur die skrywende subjek, deurdat haar metafoor ‘n ander koers as sy ingeslaan het.

In die lig hiervan, en die feit dat die bundel afskop met Antjie Krog se geworstel om aan die skryf te kom, word dit duidelik dat die storie van lady Anne inderwaarheid verkap ingebed is in dié van die eietydse skrywende subjek, naamlik aanvanklik in ‘n verhelderende of verduidelikende funksie met betrekking tot die skrywende subjek se worstelinge, maar daarna in motoriese funksie as stimulus vir laasgenoemde se eie lewensrigtingkeuse15.

Dit is eintlik deurgaans “vandag se verteller” (om ‘n slag Brink se bestempeling van die subjek te benut) se perspektief wat gebied word, ook waar dit om die uitbeelding van lady Anne se lewe gaan. “As skrywende subjek oefen sy beheer oor die diskoers uit deurdat sy besluit watter uitinge ingesluit, hoe dit georganiseer en watter uitinge uitgesluit moet word, aangesien dit nie inpas by die moderne diskoers […] in Suid-Afrika nie” (Crous, 2003b:155).

Die nie-opeenvolgende numerering van die bundelafdelings is vir die leser – soos vir die skrywende subjek – belangrik. Dit word ‘n uitnodiging om die bundel in dié volgorde te lees (in numeriese volgorde vanaf afdeling I tot V), sodat die leser/skrywende subjek uiteindelik (in dié bevoorregte bundeleindposisie) met dieselfde keuse/insig as lady Anne gekonfronteer word, soos die plasing van die genoemde verkiesingsplakkaat en ovulasiealmanak impliseer. ‘n (Polities-sosiaal) negatiewe slot word gesuggereer: laertrek deur blankes, en ‘n bloedige toekoms.

Vandaar dat Crous (2003b:157) “Krog se diskoers” as “ideologies van aard” kan bestempel.

4.4 ‘n Oorredende teks

Ons het al aangetoon dat Lady Anne as ‘betrokke’ bundel ‘n sterk oorredende aard het – dat die pragmatiese kommunikatiewe funksie16 daarvan besonder belangrik is. Hierdie nie-opeenvolgende numerering van die bundelafdelings, en die “uitnodiging” om dit daarvolgens te lees, versterk sodanige aard van die bundel.

In sy reeds vermelde artikel het Odendaal (1994:93-98) in meer besonderhede op die oorredende kenmerke van die bundel ingegaan. Hy kon aantoon dat die retoriese vraag (meermale gepaardgaande met ‘n inklusiewe “ons”, byvoorbeeld in “van watter breed is ons?”) ‘n stylgreep is wat redelik dikwels in die bundel benut word om lesersbetrokkenheid by die argumentatiewe proses te vergroot; ook dat daar in die aanbod van teksinformasie ‘oop plekke’, logiese lakunes en afwykings aangebring is wat die leser as ‘t ware noop om teksbetekenisse in te vul (Wierenga, 1978:161), byvoorbeeld via implisitering deur simboliek. Die tongvisdiagramme in die bundel, wat verskillende ontwikkelingsfases in die lewe van dié vissoort aandui, funksioneer byvoorbeeld simbolies van die bundelboodskap dat aanpassing deur transformasie nodig is. Daar word aanspraak gemaak op die kennis van die leser om die implikasie van die simboliek te verstaan, hoewel ‘n gedig soos “transparant van die tongvis” (bladsy 92-93) iets van die tongvis-simboliek eksplisiteer.

Amplifikasie, dit wil sê die induktiewe perspektiefverbreding of “infinitisering” van ‘n situasie of geval deur ‘n gepersonaliseerde, gelokaliseerde en getemporaliseerde situasie te veralgemeen (Wierenga, 1978:162), is ‘n volgende retoriese tegniek wat Krog inspan om die ontvanger by die konkretisering van die teks te betrek. So word die spesifieke geval van lady Anne Barnard as metafoor deur en vir die skrywende subjek gekies, juis omdat sy aanvanklik die ervaring van lady Anne Barnard as eksemplaries (of verhelderend of verduidelikend, soos hierbo vermeld) van haar eie – en van diesulkes soos sy – gesien het.

‘n Beskouing van die tydshantering in die bundel (aan die hand van Brink, 1987:93-96, se begripsverklarings) maak sodanige infinitiseringsproses duideliker. Die verkapping van die twee stories wat in die bundel opgeroep word, werk ‘n vermenging van prosestyd (die ontvouing van die storie van die skrywende subjek van waar sy sukkel om te begin skryf, tot waar sy uiteindelik vir lady Anne as metafoor van transformasie verwerp) en retrospektiewe tyd (die terugblik op lady Anne se doen en late) in die hand, sodat ‘n politemporele tydsbelewenis vir die leser moontlik word. Daardeur word die universaliteitsaanskyn van die uitgebeelde belewenisse én die tematiese strekking van die bundel versterk.

Soos reeds bekend, moet die skrywende subjek later in die bundel vir lady Anne as historiese metafoor verwerp17. Ten spyte van ‘n kritiese ingesteldheid teenoor die misstande van haar tyd, kon lady Anne haar nie uit die kettings van haar bevoorregte stand losruk nie. Daarom, soos dit in die gedig “ek wou ‘n tweede lewe deur jou leef” (bladsy 40) uitgedruk word: “gearriveer met jou hele frivole lewe sit ek nou berserk / met jou op my lessenaar: as metafoor is jy fôkol werd”.

Die skrywende subjek kies om as digter die rewolusionêre weg, die weg van Afrikanisering te gaan. Dié keuse word voorgestel (in woorde wat aan dié van Maarten Luther eeue gelede herinner) as sou dit onontwykbaar wees, as sou die waaragtigheid van haar insig en haar roeping aan haar opgedring wees: “hier leer ek skryf – ek kan nie anders nie” (uit die gedig “nuwe alfabet”, bladsy 91).

Hierdie insig, hierdie hartsverandering by die skrywende subjek, word dan as eksemplaries vir ‘blanke’ Suid-Afrikaners voorgehou. Dit geskied by implikasie deur die verwerping van die voorbeeld van lady Anne, maar word nêrens geëksplisiteer nie. Eintlik het ons hier te doen met ‘n soort logiese reduksievorm. Aristoteles het reeds aangetoon hoe ‘n reduksie van die drieledige sillogisme as argumentasievorm, byvoorbeeld deur die weglating van een van die premisse of van die gevolgtrekking om ‘n tweeledige enthymema te vorm, retories aangewend kan word (Wierenga, 1978:161-162; en Hauser, 1986:75-76). ‘n Mens sou byvoorbeeld die boodskap van die bundel in die volgende sillogistiese struktuur kon saamvat:

I. Ten einde te kan aanpas by die (Suid-)Afrika-konteks en bestaande verontregting daadwerklik te kan help regstel, sal blankes moet transformeer wat betref sekere tradisionele (Christelik-Westerse) beskouings, waardes en leefwyses.

II. Lady Anne Barnard kon of wou nie sodanige transformasie ondergaan nie, en haar lewe getuig van “totale stralende nutteloosheid” (soos dit in die gedig “jy word onthou vanweë jou partye” op bladsy 96 uitgedruk word)18.

III. Daarom behoort blanke Suid-Afrikaners die voorbeeld van die skrywende subjek te volg en ten gunste van transformasie te kies.

Dit is die gevolgtrekking van die sillogisme wat in die bundel versweë bly en ‘n ‘oop plek’ is wat deur die leser ingevul moet word. Dat die (blanke) Suid-Afrikaanse lesers van die laat tagtigerjare gekonfronteer is met sodanige keuse, word duidelik gemaak deur die plasing van die genoemde munisipale verkiesingsplakkaat aan die einde van die bundel (as dit in numeriese afdelingvolgorde gelees word). Dis ‘n bevoorregte posisie in die teks, sodat die belang daarvan beklemtoon word. Boonop staan dit teen die agtergrond van die twee onmiddellik voorafgaande gedigte. In die eerste daarvan, “Drie Morawiese broeders huisves ons” (bladsye 55-57), moet lady Anne, ná haar kennismaking met die binneland, teen die einde wanhoop in die vermoë van haar kuns om iets van dié land “ingepas geskaal” te kry. Die volgende gedig, “Middagete op Blaauwbergpas …” (bladsy 58), beskryf dan haar wegvlug van die land se felle realiteite na die veiligheid van die afgeslote, ‘gekultiveerde’ Kaapse kasteel, en vandaar terug na Europa. In hierdie lig moet die plasing van die plakkaatafdruk gesien word as ‘n bedagmaking op en ‘n waarskuwing teen ‘n eietydse ideologiese bevangenheid ekwivalent aan dié van lady Anne.

Die invulling van die ‘oop plek’ word bykomend dwingend gemaak deur die intertekste, by name deur die aard van die meeste van die sitate wat verspreid in die bundel voorkom. Om ‘n enkele voorbeeld aan te haal (bladsy 8): “‘As ek my kinders nie kan leer om wit Afrikane te word nie, vernietig ek hul toekoms,’ sê dr Smith. […] ‘Ek dink hierdie land het ‘n rewolusie nodig om hom weer gesond te maak.'” Sulke sitate deurbreek nie net die fiksionaliteit van die teks deur die buitetekstuele realiteit die diskoers binne te ruk nie; deurdat die insigte en ervaring van ander persone betrek word, word die waarskynlikheid en relevansie van die bundelboodskap verder vergroot.

Ook die aanduidings dat van briewe, dagboek- en joernaalinskrywings gebruik gemaak word, die afdruk van die ovulasie-almanak en die verkiesingsplakkaat, trouens ook die hele blootlegging van die maakproses van die bundel, moet, soos voorheen aangetoon, in hierdie lig beoordeel word. Die outentiekheid van lady Anne Barnard én Antjie Krog se worstelstryd met die onderhawige vraagstukke word hierdeur beklemtoon, sodat die hartsveranderinge wat die digter voorstaan, steeds aan ‘geldigheid’ wen.

4.5 Die aktansiële dieptestruktuur in Lady Anne

Greimas (1971) se aktansiële model wat, soos onder andere Du Plooy (1992e:5) aandui, “‘n baie nuttige instrument [is] in die analise van verhalende tekste”, het ‘n toepaslikheid op Lady Anne waardeur die narratologiese dieptestruktuur van die bundel oorsigtelik gemaak kan word19.

Heel kernagtig en diagrammaties voorgestel, behels dié model die volgende:

Begunstiger       →→→→→→     OBJEK             →→→→→→     Begunstigde

(positief óf negatief)                                ↑

 ↑

 ↑

                                                            streef na

                                                             ↑

Helper   →→→→→→     SUBJEK           ←←←←←←     Teenstander

Die subjek in Lady Anne is die skrywende “ek” in die bundel wat, soos al aangetoon, in ‘n groot mate met die reële outeur Antjie Krog te vereenselwig is. Soos gesien, word vier aspekte of rolle van die subjek betrek in die bundel: dié van (Afrikaanse) blanke, dié van (blanke) vrou, dié van digter en dié van as Christen.

Die strewe, oftewel die aangevoelde ‘noodsaak’ (soos aangedui), is na Afrikanisering, wat dan die aktansiële objek uitmaak van die vertelteksdieptestruktuur (wat ook ‘n “nie-personale doel of hoedanigheid” kan wees – Du Plooy, 1992e:4). Dié abstrakte objek verteenwoordig, soos voorheen uitgewys, houdings soos die volgende: naasteliefde en vereenselwiging (die Afrika-ideaal van Ubuntu), daadkragtigheid, maatskaplike impak of nuttigheid, rewolusionêre betrokkenheid.

Die negatiewe begunstiger(s) wat die hele onderneming of strewe teenwerk of belemmer is (met betrekking tot die vier rolle waarbinne die subjek figureer): die Europees-Westerse, kolonialistiese sosio-politieke sienings (soos vergestalt in die voormalige apartheid-Suid-Afrika); fallogosentristiese beskouings (verpersoonlik deur die “macho-mans” wat die skrywende subjek “die creeps” gee – bladsy 67); die (Europees-Westerse) estetika waarbinne haar digterskap sy beslag gekry het; en die maatskaplike afstandelikheid van die Christelike hoofstroomteologie. Soos gesien, verteenwoordig dié negatiewe begunstigers houdings of eienskappe soos selfgerigtheid, daadloosheid, estetiese selfpreokkupasie, afstandelikheid en konserwatisme.

Die liberale lady Anne Barnard (‘liberaal’ in die Europees-Westerse sin van die woord) figureer aanvanklik as die oënskynlike helper van die skrywende subjek, naamlik as die metaforiese voertuig waardeur laasgenoemde haar eie tyd kan verken en ‘n moontlike weg kan baan uit die ‘kasteel’ van beperkings waarin sy haar bevind. Later, wanneer die nutteloosheid van lady Anne as metafoor ontmasker is en lady Anne letterlik en figuurlik terugvlug die kasteel in, word sy, saam met die ondersteuners van die apartheidsbestel met sy manlik-chauvinistiese kenmerke, die verwerplike teenstander van die skrywende subjek.

Laasgenoemde word vooropgestel deur die ‘dubbele’ struktuur van die bundel, die nie-opeenvolgende numerering van die afdelings. Hierdeur vorm sowel lady Anne se terugvlug die kasteel in as die rassistiese munisipale verkiesingsplakkaat van die laat 1980’s (albei as simbolies van die onvermoë of onwilligheid om ten gunste van Afrikaniserende transformasie te kies) en die ovulasie-almanak (as simbolies van die gestereotipeerde ‘private’, polities nie-aktiewe rol van die vrou) op ‘misplaaste’ wyse een bundeleinde in die middel van die boek. Die ‘verwerping’ blyk uit wat hierop volg in die bundel – byvoorbeeld dat die sprekende subjek as ‘t ware ‘n nuwe alfabet begin aanleer, soos voorheen uitgewys.

Trouens, ‘n mens sou die poësie (die “nuwe alfabet”) en die transformerende krag daarvan as een van die verdere aktansiële ‘helpers’ in die bundel kan beskou. Let maar net op die benutting van diagramme van die tongvis in verskillende fases van ontwikkeling in die bundel. Soos Odendaal (1994:94-95) aangetoon het, word dié vis (wetenskaplike spesienaam Hippoglossus hippoglossus, saamgestel uit die Griekse woorde vir ‘perd” en ‘tong/taal’) uitgebou tot simbool van onder meer “die onvermoeide en onvermydelike bemoeienis van die digter met die taal, waarmee [die Afrikaniserings-] transformasie medebewerkstellig moet word”.

In die “slot”-gedig op bladsy 108 konstateer “die bard” derhalwe onder meer soos volg:

ek is die groot van-kant-maker! van titel en tuig

sal ek ons bevry ons prysgee hart-

lik wring tot die lady viva tongvis juig[.]

In die lig van die aangetoonde oorredende aard van die bundel, sou ‘n mens ook kon sê dat die skrywende subjek eintlik beoog het dat ook die blanke Suid-Afrikaanse kiesers, én die Afrikaanse skrywers en hulle lesers, helpers moes word in die verwerkliking van haar strewe.

Die voorsiende begunstigde in die bundel (want die strewe na Afrikanisering word nog nie verwerklik in die bundel nie, en die apartheidsbestel was in 1989 nog nie ten einde nie) is in die eerste plek die skrywende subjek (by implikasie Antjie Krog self). Soos aangetoon, word amplifiserende tegnieke in die bundel aangewend om die wedervaringe en dilemmas van dié skrywende subjek (Krog) én lady Anne uit te bou tot die eksemplariese vir blanke Suid-Afrikaners in die breë. Die strekking is dat blanke Suid-Afrikaners, en miskien veral Afrikaners, begunstig sal word deur ‘n Afrikaniserende transformasie.

5. Slotopmerkings

Uit bostaande is dit duidelik dat Lady Anne ‘n goeie illustrasie bevat van die volgende samevatting deur Hühn (2004:146) van wat ‘n liriese intrige behels:

A plot is constituted by the selection, connection, and correlation of meaningful sequences as well as the constellation and integration of schemata and equivalences. Plots are normally attributed to an agent (e.g. the protagonist) and derive their particular function from this attribution. Events form the crucial turning points in the progression of plots and are in turn defined by these. In poetry, a plot typically uses as its medium mental phenomena such as ideas, memories, desires, emotions, imaginations, and attitudes which the agent in a monological reflective and cognitive process ascribes to himself as his plot and through which he can then define or stabilize his self-concept or identity.

Die benutting van die figuur van lady Anne as metaforiese vehicle, en die inkorporering van allerlei gewoonlik nie-poëties geagte tekste, is slegs oënskynlik nie te versoen met die kenmerk van monologiese refleksie nie. Soos gesien, staan dit alles ingebed in en geteken deur die diskoers wat Krog via die (skrywende subjek in die) bundel voer betreffende (veelvlakkige) houdingstransformasie. Sy streef om sodoende ‘n verafrikaniseerde identiteit vir haarself daar te stel, ook vir haar “volksgenote” wat sy by implikasie hoop om met haar siening te laat identifiseer.

“Sou dit verregaande wees om aan die hand te doen dat Lady Anne eintlik gelees kan word as ‘n roman in verse?” het Brink (1989:13) in sy resensie oor die bundel gevra, en spesifieke kenmerke genoem wat hom wel so laat dink: “‘n narratiewe diskoers waarin strategieë soos karakterisering en gebeure binne die dimensies van tyd en ruimte fungeer, voortgebring vanuit ‘n duidelike vertelsituasie”. So wou Krog ‘n verantwoorde sosiaal-betrokke digkuns vestig20 en haarself sodoende posisioneer as “‘n skrywer in die Derde Wêreld” (Krog, 1989b:44).

Soos gesien, sou dit tot ‘n ernstige uitdaging van die ‘tradisionele’ grense tussen die poësie- en prosagenres aanleiding gee, waardeur Lady Anne die weg gebaan het vir ‘n hele aantal Afrikaanse ‘narratiewe’ bundels, meermale in die ‘praatpoësiestyl’, in die twee dekades sedertdien (Odendaal, 2009).

AANTEKENINGE

1 Lady Anne word onder meer deur Brink (1991), in sy aanpassing van die postkoloniale model vir ‘n blik op ontwikkelinge en moontlikhede vir die Afrikaanse letterkunde, in hierdie verband uitgesonder. Hy (Brink, 1991:12) bestempel Krog se bundel as ‘n voorbeeld van “die merkwaardige verwikkelinge” wat in die aanloop tot die millenniumwending sigbaar geword het betreffende “‘n hersiening – ‘n verbreding en komplisering – van die begrip [eie identiteit en] wat aan ‘n groter besef van Suid-Afrikaansheid uiting sou kon gee”.

2 Dié term sal in die res van die artikel benut word om te verwys na die geëksplisiteerde abstrakte outeur, maar wat weens die duidelike outobiografiese gegewens in die bundel grootliks met die reële outeur, Antjie Krog, te vereenselwig is. Brink (1989:13) verwys na “vandag se verteller” in hierdie verband.

3 Die “point of view”, wat al in 1921 deur Lubbock uitgelig is as sentrale eienskap in vertelling – vergelyk Du Plooy (1992a:385) en Brink (1987:14).

4 Vergelyk Afrikaanse bronne soos Brink (1987:15, 17-18, 26-27), Du Plooy (1992a:384-387, 1992b:120-121 & 1992c:150-152) en Van Coller (1987:50).

5 Brink (1987:67 & 84) vertaal Greimas se aktante-begrip met die term akteurs.

6 Vergelyk Odendaal (1997:39-40, 61-67) vir ‘n meer uitvoerige bespreking van die ikonisiteitskonsep.

7 Vergelyk onder meer Du Plooy (1981:195) en Van Coller (1987:16).

8 Greimas (1971) het dié terme uit die veld van die semantiek vir die verhaalteorie geleen, soos onder meer Brink (1987:22) aantoon.

9 Vergelyk byvoorbeeld Brink (1987:154-158) oor hierdie vertelgreep en die funksies daarvan.

10 Kyk onder andere Bisschoff (1992:565-566) en Brink (1987:79-80) vir omskrywings van laasgenoemde terme. Die terme outeurs-, vertellers– en personeteks is van Schmid (1973:29) en word uitvoeriger behandel deur Van Coller (1980:17-21 & 1982:238-240) en Van Coller en Van Rensburg (1982:220-222).

11 Van Coller (1982) lewer ‘n uitgebreide bespreking van die verskille tussen fiktiewe leser en abstrakte leser en die belangrike metodologiese en interpretatiewe onderskeide tussen vlakke “sprekers” en “hoorders”.

12 Kyk byvoorbeeld Van Coller (1987:16) en Du Plooy (1992d:328) vir die uitruilbaarheid van die terme tema, hoof- en sluitmotief.

13 Hieroor het onder meer Gouws (1989) en Brink-de Wind (1992) meer uitvoerig geskryf.

14 Vergelyk Du Plooy (1986:139-142) se analise van Lotman se siening van die begrip sjužet, asook Van Coller (1984:1-15 & 1987:5-6, 13-15) se besprekings in hierdie verband.

15 Gekursiveerde terme geleen by Brink (1987:155).

16 Vir ‘n bespreking van die literêre werk as taalhandeling met ‘n sterk “oorredende” of “perlokusionêre” gerigtheid, vergelyk Van Coller (1992) en Van Coller en Van Rensburg (1984).

17 Terwýl sy simpatie met haar “stralende nutteloosheid” voel, soos op bladsy 96 in die bundel verwoord, en waar “stralende” naas skoonheid ook iets van ‘n heilige sfeer oproep (aldus Viljoen, 1991a:26).

18 Skaars drie strofes tevore in dieselfde gedig bely die skrywende subjek egter ook aangaande lady Anne Barnard: “god ek is verknog aan jou”. Op subtiele wyse word dus erken dat die Westerse invloede tog nie totaal verwerplik is nie.

19 Vir verdere illustrasie van die aktansiële struktuur, vergelyk Van Coller (1984:9 & 1987).

20 “[V]ir ‘n nuwe tyd en ‘n nuwe ruimte […] ‘n nuwe poëtika” (Brink, 1989:13).

 

VERWYSINGS

Bal, M. 1980 (1978). De theorie van vertellen en verhalen. Muiderberg: Coutinho.

Blok, W. 1960. Verhaal en lezer. Groningen: Wolters-Noordhoff.

Brink, A.P.

1985. Literatuur in die strydperk. Kaapstad en Pretoria: Human & Rousseau.

1987. Vertelkunde. ‘n Inleiding tot die lees van verhalende tekste. Pretoria & Kaapstad: Acedemica.

1989. Antjie Krog se Lady Anne: ‘n Roman van ‘n bundel. Vrye Weekblad, 18 Augustus:13.

1991. Afrikaans: Op pad na 2000. (Tiende D.F. Malherbe-gedenklesing.) Acta Varia 1991(1). Bloemfontein: Universiteit van die Vrystaat.

Brink-de Wind, M. 1992. Lady Anne deur die oog van die vis. Tydskrif vir Letterkunde 30(2), Mei:99-112.

Bronzwaer, W. 1990. Poëzie en iconiciteit. Forum der letteren, 31(2):93-103.

Cloete, T.T. (red.). 1992. Literêre terme en teorieë. Pretoria: HAUM-literêr.

Crous, Marius.

2003a. Brief uit die kolonies. Pretoria: Protea Boekhuis.

        2003b. Anne en Antjie: Die wisselwerking tussen diskoerse in Antjie Krog se Lady Anne. Stilet   15(2), September:149-171.

Du Plooy, H.J.G.

1981. Die verhaal in “Laat vrugte” en “18-44”. Ongepubliseerde M.A.-verhandeling. Pretoria: Universiteit van Pretoria.

1986. Verhaalteorie in die twintigste eeu. Durban: Butterworth.

1992a. Plot. In: Cloete, T.T. (red.). 1992:384-387.

1992b. Fabula en sjužet. In: Cloete, T.T. (red.). 1992:120-121.

1992c. Geskiedenis/storie/verhaal en teks. In: Cloete, T.T. (red.). 1992:150-152.

1992d. Motief. In: Cloete, T.T. (red.). 1992:326-328.

1992e. Aktant en aktansiële model. In: Cloete, T.T. (red.). 1992:3-5.

2003. In die landskap ingelyf. Pretoria: Protea Boekhuis.

Esterhuizen, Louis. 1996. Die onderwaterweg. ‘n Versroman. Kaapstad, Pretoria, Johannesburg: Human & Rousseau.

Gouws, T. 1989. Krog se Lady Anne gelyke van Tristia. Insig, Oktober:43.

Greimas, A.J. 1971. Strukturale Semantik. Braunschweig: Vieweg.

Hauser, G.A. 1986. Introduction to rhetorical theory. New York: Harper & Row Publishers.

Hühn, P. 2004. Transgeneric Narratology: Application to Lyric Poetry. In: Pier, John. (ed.). 2004:139-158.

Hutcheon, L. 1980. Narcissistic narrative; the metafictional paradox. London & New York: Methuen.

Kannemeyer, J.C. 1989. Die horries van A.E. Samuel (gebore Krog). Tydskrif vir letterkunde 27(3), Augustus:33-42.

Krog, A.

1989a. Lady Anne. Bramley: Taurus.

1989b. Waarom praat ons van vroue-skrywers? Die Suid-Afrikaan 22:41-44.

1995. Gedigte 1989-1995. Groenkloof: Hond.

2000. Kleur kom nooit alleen nie. Kaapstad: Kwela Boeke.

Lategan, B.J. (ed.). 1992. The Reader and Beyond. Theory and Practise in South African Reception Studies. Pretoria: HSRC.

Odendaal, B.J.

        1994. Retoriese fasette van die tematiek in Antjie Krog se Lady Anne. Kruispunt, Literair kwartaalschrift 157 (jaargang 35), Junie:86-100.

        1997. Retoriese strategieë in die poësie van T.T. Cloete. Ongepubliseerde Ph.D.-proefskrif. Bloemfontein: Universiteit van die Vrystaat.

2009. Narratiewe elemente in Danie Marais se debuutbundel in die buitenste ruimte (2006). Stilet 21(2), September:114-133.

Pier, J. (ed.). 2004. The Dynamics of Narrative Form. Studies in Anglo-American Narratology. Berlin & New York: Walter de Gruyter.

Rimmon-Kenan, S. 1983. Narrative fiction. London: Methuen.

Schmid, W. 1973. Der Textaufbau in der Erzählungen Dostoevskijs. München: Fink.

Stolk, F.R.W. 2007. Bij een zondagnamiddagwandeling. De Gids, november:1121-1127.

Vaessens, Thomas & Joosten, Jos. 2003. Postmoderne poëzie in Nederland en Vlaanderen. Nederland: uitgeverij Vantilt.

Van Coller, H.P.

1980. Etienne Leroux as siklusbouer. Ongepubliseerde D.Litt-proefskrif. Johannesburg: Randse Afrikaanse Universiteit.

1982. Pilatus of Pilaar? ‘n Ondersoek na illokusieverwagtings in De Onrustzaaier van Willem van Maanen. In: Van Jaarsveld, G.J. 1982:235-252.

1984. ‘n Kortgids by die bestudering van ‘n kortverhaal. In: Van Coller, H.P. & Strydom, S. 1984: 1-15.

1987. Laat vrugte (behandel deur…). Reuse Blokboek 20. Pretoria & Kaapstad: Acedemica.

1990. Narratiewe konvensies en Onse Hymie. Tussenkoms. Pretoria: H.A.U.M. Literêr. 43-61.

1992. Pragmatiek /Taalhandelinge en literatuur. In: Lategan, B. 1992:57-82.

Van Coller, H.P. & Strydom, S. 1984. Bestek. Pretoria: Juventus.

Van Coller, H.P. & Van Jaarsveld, G.J. 1984. Woorde as dade. Taalhandelinge en letterkunde. Durban: McGraw Hill.

Van Coller, H.P. & Van Rensburg, M.C.J.

1982. Van mond tot oor. In: Van Jaarsveld, G.J. 1982:213-234.

1984. Suggesties, implikasies en afleidings. In: Van Coller, H.P. & Van Jaarsveld, G.J. 1984: 86-98.

Van der Merwe, C.N., & Viljoen, H. 1998. Alkant olifant. ‘n Inleiding tot die literatuurwetenskap. Pretoria: J.L. van Schaik Akademies.

Van Jaarsveld, G.J. (red.). 1982. Wat sê jy?: studies oor taalhandelinge in Afrikaans. Johannesburg: McGraw-Hill.

Viljoen, L.

1989. Krog se virtuose kompleksiteit. Die Burger, 28 Desember:8.

1991a. Susanna Smit en lady Anne Barnard – enkele aspekte van Antjie Krog se historiese poësie as tagtiger-verskynsel. Stilet 3(1), Maart:57-80.

1991b. Die teks as transparant: Antjie Krog se Lady Anne binne die Suid-Afrikaanse werklikheid. Stilet 3(2), September:19-31.

Wierenga, L. 1878. Retorische tekstbeschrijving. In Grivel, C. Methoden in de literatuurwetenschap. Muiderberg: Dick Coutinho.

 

 

HP van Coller. ‘n Kritiese blik op enkele literêre pryse

Saturday, June 25th, 2011

‘n Kritiese blik op enkele van die literêre pryse van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns

A critical assessment of a few of the literary prizes awarded by Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns

H.P. van Coller

Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans, Universiteit van die Vrystaat

 

Hennie van Coller

Hennie van Coller

HENNIE VAN COLLER, uitstaande professor en departementshoof van die Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans aan die Universiteit van die Vrystaat, het onder meer die samestelling en redigering waargeneem van die driedelige Afrikaanse literatuurgekiedenis Perspektief en profi el wat in die afgelope dekade gepubliseer is. Tans werk hy o.a. aan ‘n heruitgawe van hierdie publikasie én aan ‘n nuwe Nederlandse Literatuurgeskiedenis. Voorts is hy ‘n poësievertaler (Bandelose gedigte van Luuk Gruwez, 2007) en literêre resensent, en daar het reeds meer as ‘n honderd wetenskaplike artikels en ‘n veertigtal boekhoofstukke uit sy pen verskyn, asook 17 boeke wat deur hom geskryf of geredigeer is. Naas navorsing oor kanonisering(sprosesse), traumaverwerking in literêre werke en aspekte van literêrsistemiese en -intersistemiese funksionering doen hy veral navorsing oor die literêre geskiedenis – ‘n hoofstuk deur hom verskyn eersdaags in die Cambridge South African Literary History. Hy was voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en is lid van ASSAF.

 

ABSTRACT

A critical assessment of the literary prizes awarded by Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns

The literary prizes awarded annually by Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns are widely recognized as prestigious awards. The Hertzog prize for literature is in pecuniary terms not the most important literary award in the Afrikaans Literary Field, but due to its historical importance (dating back to 1917) and its canonizing influence it is still regarded as the most important registration of literary prowess, “mapping of the literary field”,  thus contributing to the literary prestige of writers. In this critical assessment of the literary prizes by Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap (die Akademie) en Kuns the literary prizes of Die Akademie (the composition/ structure and functioning of the literary commission, its rules of procedure and several contentious  awards in the past) are scrutinized against the backdrop of international literary awards. Although it is widely accepted that literary awards and prizes make a contribution to sales and prestige, not everyone is convinced of the primate of literary considerations in the awarding of prizes. Often literary prizes and awards are seen by skeptics as dictated by economic trends and influence of sponsors. Subsidy by the state can also be seen as a subtle form of censureship. What must be borne in mind is that the concept of value as a so-called inherent property of object has been vehemently refuted in the past decades and the current view is that value is seen as relative and  relational, “as the product of the dynamics of the economic system” (Herrnstein-Smith). ln the remaining part of the article several contentious literary awards made by Die Akademie in the last 100 years, and the criticism levied against (some of) these awards, are evaluated.  This criticism often entails speculation that Die Akademie has yielded to political and ideological pressures. The conclusion is that although this has indeed been the case in a few instances (like that of Uys Krige) in the majority of cases Die Akademie’s judgement and evaluation have been grounded in fairly objective literary criteria and has stood the test of time.

KEY CONCEPTS:  Literary prizes and awards, literary prestige, literary evaluation, sponsorship of literary

                        Prizes.

TREFWOORDE:  Literêre pryse en toekennings, literêre prestige, literêre evaluering,  borgskappe van

                        Literêre pryse.

OPSOMMING

Hierdie artikel is ‘n kritiese ondersoek na aspekte van die literêre pryse van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.  Hoewel gekonsentreer word op enkele omstrede literêre prystoekennings (soos dié van die Hertzogprys) in die verlede, word die samestelling en funksionering van die Letterkundekommissie én die reglemente van die verskillende pryse ook onder die loep geneem.  In die proses word ‘n kort oorsig gegee van literêre pryse in internasionale verband en kritiek wat geopper is ten aansien van literêre pryse en toekennings, veral die moontlikheid van subtiele sensuur waar die staat as borg optree en ander vorme van manipulering waar die borge van sodanige pryse en toekennings ekonomiese belange daarby het, bv. versekeringsmaatskappye, bierbrouerye, en derglike meer. In die tweede helfte van die artikel word enkele van  die genoemde omstrede Hertzogprysprystoekennings in historiese konteks geëvalueer en bevind dat in die meeste gevalle die oordele van Die Akademie die toets van die tyd deurstaan het.

 

  • 1. Inleidende opmerkings: die literêre veld, literêre evaluering en literêre smaak.

Die doel van hierdie artikel is om aspekte van enkele  literêre pryse van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (vervolgens Die Akademie) krities te evalueer.  Dit sal geskied aan die hand van bepaalde uitgangspunte ten aansien van prystoekenning in die algemeen en met toespitsing op enkele omstrede (Hertzog)prystoekennings van Die Akademie in die verlede. [1]

Wanneer oor literêre pryse gepraat word, impliseer dit ‘n gesprek oor verhoudings binne die “literêre veld” en literêre evaluering,  wat weer gebaseer is op (diverse) literatuuropvattings, literêre smaak én literêre prestige.  Die opvattings van die Franse smaaksosioloog, Pierre Bourdieu, het in die afgelope dekades ‘n groot invloed uitgeoefen op die literêre teorie, veral in institusionele verband – ook hier te lande. Volgens Bourdieu (1993) se metaforiese omskrywing van die literêre veld (verwant aan die literêre sisteem) is dit ‘n omvattende geheel bestaande uit verskeie rolspelers en institusies wat voortdurend posisies inneem binne ‘n magsveld waar almal op soek is na simboliese “kapitaal”,  of in die geval van die literêre veld, prestige.  Hierdie veldteorie van Bourdieu speel onder andere ‘n belangrike rol in die geïnstitusionaliseerde literatuurnavorsing in Nederland (kyk: Dorleijn en Van Rees, 1999). Holt (1997) vind Bourdieu se teorie besonder bruikbaar binne die eietydse Amerikaanse literêre veld, omdat ekonomiese oorwegings daar voorop staan. Bourdieu se teorieë is egter ook kwaai gekritiseer juis vanweë die onderliggende markmetafoor daarvan (kyk:  Fokkema, 1997).

Bourdieu (1984) het  geredeneer dat lede van ‘n sogenaamde sosiale klasgroepering dieselfde leefstyl deel en dat dit ooreenstem met sosiale posisies. Lede van ‘n dominante sosiale klas met groot besteëbare inkomste word gesien as diegene wat beskik oor die sogenaamde “legitieme” smaak, dit wat ook bekendstaan as “highbrow taste” (Van Rees et al, 1999: 350).  Omdat mense graag op soek gaan na identifikasie met mense met wie hulle kan gesels oor gedeelde belange, beskrywe De Maggio (1987: 443) smaak as ‘n vorm van rituele identifikasie “and a means op constructing social relations (and of knowing what relationships need not be constructed)”. Binne hierdie teorieë word smaak gesien as sosiaal-bepaald en gekodeerd.

      Vanselfsprekend is daar sprake van ‘n bepaalde “stabilisering” van smaak binne bepaalde sosiale groeperings, ongeveer soos daar sprake is van gedeelde literatuuropvattings onder persone wat weer dieselfde opleiding geniet, deel is van dieselfde literêre paradigma, ensovoort (kyk ook Dorleijn & Van Rees, 1999). So ‘n “relasionele” benadering skakel duidelik met die skepsis oor sogenaamde inherente waarde. Barbara Herrnstein-Smith het juis beweer (1984:11) dat “all value is radically contingent being neither an inherent property of objects nor an arbitrary projection of subjects but, rather the product of the dynamics of the economic system.”

 

  • 2. Literêre prestige

Die toekenning van pryse en ander vorme van erkenning wat aan ‘n skrywer gemaak word, is maniere om literêre prestige toe te ken. Literêre prestige hou uiteraard verband met Bourdieu se opvatting van simboliese kapitaal. ‘n Skrywer se prestige is onder andere afhanklik van die agting wat hy of sy deur van ander rolspelers binne die literêre veld geniet en van sy of haar “posisie” binne die literêre veld. Hierdie posisie is weer afhanklik van verhoudings met institusies en agente, asook van karakteristieke en strategiese posisionering (kyk: Verboord, 2003: 262). 

Gore Vidal het by geleentheid opgemerk dat daar meer literêre pryse in die VSA is as skrywers (English, 2002: 109).  Daar word ook ‘n (waarskynlik fiktiewe) anekdote vertel van ‘n bekende Afrikaanse skrywer wat by ‘n Boekebyeenkoms opgedaag het waar hy die enigste skrywer teenwoordig was wat nog nie ‘n prys gewen het nie.  Terloops laat hy val dat hy jare gelede die wenner was van die (nie-bestaande) Carl Niehausprys vir Betrokke Literatuur, min wetende toe dat hy dit paslik vernoem het na die man wat homself later sou bekroon met nie-bestaande pryse wat hy sou boekstaaf in ‘n gefiksioneerde CV. 

Edmund Wilson weer het in ‘n lysie van dienste wat hy nooit sou verrig nie, geskrywe “die beoordeling van literêre kompetisies.” Vandag is daar kwalik enige gerespekteerde letterkundige, kritikus, skrywer en derglike wat dit nie as deel van sy of haar taakomskrywing sien nie (kyk: Showalter, 2006:  1).  Dalk is die rede hiervoor dat skrywers en letterkundiges berug is vir hul liefde vir goeie kos en wyn en dat prysoorhandigingsdinees gewoonlik spoggerige geleenthede met duur kos en drank is.  Dálk is hul bereidwilligheid om deel te hê aan die beoordeling van pryse hul behoefte om literêre smaak te bestuur en op te tree as hekwagters.  Maar moontlik is dit bloot toe te skrywe aan hul liefde vir die letterkunde (Showalter, 2006: 2).

 

  • 3. Skepsis oor literêre prystoekenning

Daar is heelwat invloedryke denkers wat skepties staan teenoor literêre pryse.  Pierre Bourdieu is vas oortuig daarvan dat korporatiewe borgskappe van pryse intellektuele outonomie bedreig.  Vir hom is daar ‘n bepaalde interne wetmatigheid binne die literêre veld en is die veld gestruktureer rondom  twee opponerende pole, die ekonomiese en die artistieke (Norris, 2006:  140).  Omdat markkkragte deesdae alles beheer – selfs die taalbeleid van universiteite en die begintye van sportbyeenkomste- is dit geen wonder nie dat Bourdieu skepties staan teenoor die invloed wat ekonomiese oorwegings kan hê op artistieke beoordeling.  In alle lande tree daar al hoe meer borge uit die privaatsektor na vore wat opeens ‘n drang het om die kunste te ondersteun.  Waarskynlik uit ‘n diep-gevoelde behoefte om ‘n kultuurbydrae te maak, maar dikwels ook as ‘n vorm van legitimasie.  Sulke prystoekennings word daarom ook  met arendsoë dopgehou.  Is die “beste” roman wat bekroon word nie dalk ook die “beste” vir die bepaalde borg nie?  Volgens Bourdieu bestaan daar nie so iets soos “liefde vir die kuns” (wat byvoorbeeld langdurige betrokkenheid by die kunste veronderstel) by korporatiewe borge nie. Die onttrekking van borge na willekeur, soos. die borge van die “Witbread Awards” in Engeland en die Louis Luyt- en CNA-prys in Suid-Afrika, bevestig skynbaar hierdie opvatting.

Soms ondersteun die staat literêre pryse.  In 1968 is daar in Suid-Afrika besluit om die H.F. Verwoerdprys vir vaderslandsletterkunde in te stel,  genoem na dr.Verwoerd, tot 1966 premier van die Republiek van Suid-Afrika. Volgens Steyn (1998: 1090) is dit herdoop tot die Republiekprys wat al om die vyf jaar toegeken sou word vir letterkunde en ook vir akademiese werk. “Die prys is enkele kere toegeken” skryf Steyn, “maar het in 1981 doodgeloop nadat pryswenners dit van die hand gewys het.” Waarskynlik omdat dit mank gegaan het aan geloofwaardigheid.

Staatsubsidie dra orals ter wêreld by tot ‘n persepsie dat daar ‘n vorm van subtiele sensuur aanwesig is (Norris, 2006:  144).  Hier kan in die verbygaan opgemerk word dat Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in ‘n stadium wel staatsgesubsidieerd was, maar dat die staat nooit enige formele inspraak gehad het in enige aspek van prystoekenning nie. Tog was daar skynbaar by geleentheid wél direkte inmenging toe Die Akademie dit in 1966 oorweeg het om Uys Krige met die Hertzogprys vir drama te bekroon. Krige was fel gekant teen die destydse regering se verskuiwing van 65 000 bruinmense uit Distrik Ses en het hom ook in die openbaar skerp uitgespreek teen die inperking van mnr. Ian Robertson, toe Voorsitter van die National Union of South African Students (NUSAS), (Carstens, 2009: 404 en 405). Carstens (2009: 410) skryf verder hieroor: “Goosen [destyds die HUB van Die Akademie] het in 1968 beweer dat ‘n minister (B.J. Vorster) op 31 Mei 1966, die dag waarop die vyfjarige bestaan van die Republiek herdenk is, Die Akademie ‘kwaai laat skrik’ het deur te sê: ‘Bekroon hom (Krige) en julle sal seerkry’, en dat Vorster gedreig het om Krige te arresteer sodra die Akademie hom bekroon.”  Vorster se woorde is ook geïnterpreteer as dreigement dat hy die staatsubsidie sou staak.  In daardie stadium het Die Akademie ‘n bedrag van R32 000 per jaar as staatsteun ontvang, nie ‘n onbeduidende bedrag in reële terme nie.

Direkte borgskappe vir literêre pryse in die geval van Die Akademie  bestaan ook nie: alle borge dra volle jurisdiksie oor aan Die Akademie en sy pryskomitees. Terry Eagleton het opgemerk dat die Witbreadprys verdere bevestiging is dat kritiek sy sosiale funksie verloor het: “it is either part of the public relations branch of the literary industry, or a matter wholly internal to the academies” (Street, 205:  820).   Op ‘n ironiese manier bevestig literêre pryse egter dat in ‘n tydperk van relativisme waardeoordele (en norme) nog moontlik is.

 

  • 4. Literêre pryse as simboliese kapitaal

‘n Literêre prys is ‘n vorm van simboliese kapitaal en kommentatore (kyk English, 2002:  110) is dit eens dat die kulturele spel nou anders gespeel word as vroeër en dat daar ‘n veel groter diversiteit is van agente wat verskillende strategieë toepas.  In die denke van Bourdieu (English, ibid.) kan nog onderskei word tussen die sogenaamde “circuits of legitimation” of kringe van legitimasie, met ander woorde: tussen alle groeperinge wat betrokke is by prystoekennings soos verskillende vorme van borgskappe, evalueerders en wydingsagente wat hul seën uitspreek, alles daarop gemik om die magspel te laat lyk na ‘n spel van verdienste.  Maar waar Bourdieu steeds glo aan ‘n dichotomiese model:  kuns vs. verstrooiing, anders gestel tussen hoë en lae vorme van kuns, word vandag algemeen aanvaar dat selfs die onderhouers van die “hoge” kuns besef dat die spelreëls verander het en dat kulturele kapitaal manipuleerbaar is. Daarom neem Toni Morrison, die bekende Amerikanse skrywer, nie net elke prystoekenning gretig in besit nie, maar voer sy verbete veldtogte vir nog meer pryse, én por die Nederlandse digter, Maria van Daalen, haar ondersteuners sonder skroom aan om hul stemme vir háár uit te bring in die landswye kompetisie vir die aanwysing van ‘n nuwe Dichter des Vaderlands.

 

  • 5. Die literêre skandaal as instrument van simboliese aksie

Die siniese Bourdieu het opgemerk dat die skandaal by uitstek die instrument van simboliese aksie is (kyk English, 2002 : 112).  Gewoonlik word die skandaal gekenmerk deur kwaai uitbarstings en ‘n implisiete verwyt is dat die veld van die kunste geweld aangedoen is deur ‘n bepaalde toekenning of prys deurdat ekonomiese, ideologiese en persoonlike oorwegings (of swak oordeelvermoë) in die weg gestaan het van “suiwer estetiese” oorwegings.   Maar dikwels het daar skynbaar juis die teenoorgestelde plaasgevind in die geskiedenis van Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.   Dikwels is naamlik beweer dat ‘n bepaalde toekenning “suiwer estetiese” oorwegings oorbeklemtoon het en ander oorwegings (soos religieuse, morele en selfs politieke oorwegings) dan genegeer sou wees.  Langenhoven het reeds in 1925 in ‘n brief aan Sarah Goldblatt verwys na die “kombinasie van Sap-kliek met ‘n malkuns-kliek” in Akademie-geledere (Kapp, 2009:  165).  Daar is ook altyd bespiegel dat Uys Krige nie bekroon is nie omdat hy ‘n Verenigde Party-ondersteuner was.  Kannemeyer 2002: 394 skryf in hierdie verband: “Sulke ongeregverdigde en onbillike kritiek [dat Krige ‘n kommunis sou wees] was jare daarvoor verantwoordelik dat Krige se werk en persoon in Afrikanerkringe met argwaan bejeën is en sy oorspronklike publikasies telkens vir bekronings verbygegaan is. Vir sy vertalings is hy wél bekroon, eenvoudig omdat negering daarvan in die lig van sy weinige mededingers te blatant sou wees en die liggame soos die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns hulle kon verskoon dat hulle nie Krige se oorspronklike werk met soms ‘gevaarlike’ ideologiese inhoude bekroon nie, maar sy vaardigheid as vertaler, wat niemand ontken het nie.”  Die “bronne bied geen gronde vir hierdie beweringe [dat Krige herhaaldelik verbygegaan is met literêre pryse]nie”, sê Kapp (2009: 173) onomwonde in sy geskiedenis van die Akademie.  In haar proefskrif kom Carstens (2009) egter tot presies die teenoorgestelde gevolgtrekking. Later meer hieroor.

            In die hele Silberstein-debakel van 1964 het verwyte dikwels opgeklink met die strekking dat Die Akademie volksvreemd was. Met die toekenning van die  Hertzogprys aan Van Wyk Louw in 1965 vir Tristia, bo Opperman vir sy bundel Dolosse, was die letterkundekommissie bestaande uit A.P. Grové, Elize Botha en Ernst van Heerden nie eenstemmig nie en is toe weer wyd bespiegel dat persoonlike voorkeure en verbintenisse hierin ‘n rol gespeel het.  Van Wyk Louw het daarom ook geweier om die prys in ontvangs te neem indien  die bekende literator, prof A.P. Grové, wat gesien is as Opperman-kenner en -pleitbesorger ( Steyn, 1998: 1014) die commendatio sou lewer. Dit is toe gedoen deur T.T. Cloete (Kapp, 2009:  199).  Dit is opvallend dat Van Wyk Louw só ver gegaan het en bevestig nie net die sterk kompetisie tussen Louw en Opperman, die stryd van “bul teen bul” soos dit al genoem is, maar ook ‘n sekere argwaan jeens Opperman (kyk Steyn, 1998: 663). Louw het byvoorbeeld in 1960 die Hertzogprys aanvaar vir Germanicus al is die commendation gelewer deur F.C.L. (Freddie) Bosman vir wie die Louw-broers geen goeie woord gehad het nie.  Bosman is die onbekende letterkundige aan wie Louw sy debuutbundel voorgelê het en wat Louw toe aangeraai het om in “Holland die literatuur te gaan bestudeer” (Steyn, 1998:  93). Later skryf hy ook ‘n uiters negatiewe resensie van Louw se versdrama, Die dieper reg  (1938) en het hy skynbaar later ook probeer om Louw se aan stelling as hoogleraar in Amsterdam te verhinder (Steyn, 1998:  249; 520).

Toe Henriette Grové die Hertzogprys in 1984 verwower het vir Die kêrel van die Pêrel  is in akademiese wandelgange gepraat oor persoonlike belange wat die deurslag gegee het.    Jare lank het Brink glo nie die Hertzogprys ontvang nie omdat hy polities omstrede was en toe hy dit uiteindelik wél kry (vir Die jogger in 2000, maar veral met Donkermaan in 2001) breek daar ‘n herrie los omdat die letterkundekommissie nou aan ‘n skuldkompleks sou ly  (kyk  Kapp, 2009:  225).

Waar Die Akademie telkens in sy honderdjarige bestaan teen sy wil deur polemieke (“skandale”) geteister is, daar word skynskandale dikwels geskep by ander prystoekennings net om die prys ‘n groter sigbaarheid te gee. Dit was veral die geval met die Bookerprys (kyk English, 2002:  114).  Ander wyses om groter omstredenheid en sigbaarheid te verseker, is die toekenning van pryse wat dikwels soos die Oscarseremonie gehanteer word:  die beordelaars se keuses word geheim gehou, genomineerdes moet self teenwoordig  wees en die bekendmaking van die prys geskied by ‘n spoggeleentheid.  ‘n Ander truuk is om sogenaamde “persoonlikhede” in te sluit in pryspanele en dit is beslis nie net by Idolskompetisies waar dit ter sprake is nie (kyk Street, 2005:  825).

Hier kan dadelik gesien word in watter mate die pryse van Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns verskil van ander literêre pryse: daar is geen borge wat direk betrokke is in die opsig dat hulle keurders aanwys of strategiese besluite kan neem oor die betreffende pryse se openbare beeld nie.  Daar is ook geen gepaardgaande “narratief” wat die Akademiepryse vergesel soos aankondigings oor die beoordelaars, die kortlyste, die prysgeld, ensovoorts nie.  Daar is ook geen bepaling dat die wenner van ‘n Akademieprys self moet opdaag om sy of haar prys in ontvangs te neem nie; selfs al weier iemand enige Akademieprys word dit steeds gedokumenteer dat sodanige persoon die wenner van die prys was.  In die geval van die Bookerprys is al berig dat een potensiële wenner nie die prys gekry het nie, omdat sy (Arundati Roy) té mooi was! (Street, 2005:  833).

 

  • 6. Weiering van pryse

Wat verder bydra tot ‘n prys se sigbaarheid is uiteraard wanneer ‘n skrywer ‘n bepaalde prys sou weier. In die lang geskiedenis van die Hertzogprys was daar  gevalle waar die prys geweier is: Langenhoven in 1927;  Van Wyk Louw in 1937;  Breytenbach in 1984 (Kapp, 2009:  164, 199 en 223).  Krige het die Akademie se vertaalprys van die hand gewys in 1969 en André P. Brink die Gustav Prellerprys in 1994.

English (2002:  119) wys daarop dat dit nie so maklik is vir ‘n skrywer om ‘n belangrike likterêre prys van die hand te wys nie; jy moes eers ‘n hele klomp simboliese kapitaal vergader het voordat so ‘n gebaar  gemaak kon maak.  In die dié lig is Van Wyk Louw se weiering in 1937, toe nog ‘n relatief onbekende skrywer, ook ‘n bewys van sy sélfbewustheid in die Nederlandse betekenis van die woord.  Selfs Sartre se hoflike, onderbeklemtoonde weiering van die Nobelprys in 1964 is gesien as ‘n daad van simboliese “geweld” (English, 2002: 119). 

Maar in 1964 was daar ‘n duidelike dichotomie tussen “hoë” en “lae” kuns; weiering vandag sal nie vanselfsprekend bydra tot die kunstenaar of skrywer se artistieke legitimiteit nie (English, 2002: 121). Dalk is dit ook die rede waarom weinig Afrikaanse skrywers – selfs die grootstes soos Breyten Breytenbach, in die afgelope jare nie meer die Hertogprys geweier het: in 1984 kon hy dit nog weier; in 1999 én 2008 ontvang hy dit op bedaarde en hoflike wyse.  Brink weier in 1994 die Gustav Prellerprys, maar aanvaar én ontvang die Hertzogprys in 2000 én in 2001 (vir verskillende genres).  Bourdieu se dichotomiese model word gekritiseer deur English (2002) en Norris (2006) omdat dit ietwat naïef sou wees, óf te veel gerig is op die Franse situasie waar daar duideliker onderskeidinge bestaan tussen “hoër” en “laer” vorme van literatuur. Wat egter soos ‘n paal bo water staan, is dat ook ernstige skrywers wie se outonomie dan bedreig sou word deur kommersialisering,  literêre pryse, en veral die finansiële voordele daarvan, gretig aanvaar het, en sonder glo ek, om hul artistieke integriteit op te offer.

Thomas Pynchon pas ‘n ander procédé toe deur sý prys op satiriese wyse te ontvang. Hy stuur ‘n bekende komediant in die gestalte van ‘n professor om die National Book Award te aanvaar en ‘n aanvaardingstoespraak te lewer vol volslae onsin.  Sodoende parodieer hy nie net literêre pryse nie, maar maak van die hele seremonie ‘n parodie van sigself (English, 2002:  122).  Ook toekennings van pryse vir die “slegste skildery”, “swakste rolprent” of “verveligste boek” bevestig nie alleen al die diversiteit van die kulturele veld nie, maar bevraagteken ten diepste die objektiewe aard van die estetiese oordeel.

 

  • 7. Literêre pryse en ekonomiese voordele

Kuns is lank nie meer iets wat in isolasie gedy nie; dit is deel van ‘n groter sisteem waarin ekonomiese beginsels ‘n belangrike rol speel.  Dit is oorduidelik dat borge byvoorbeeld nie bloot literêre pryse borg omdat hulle altruïsties is óf as  skutheer vir die kunste wil optree nie; hul ondersteuning van die kunste is ‘n “ruiltransaksie”.  Daarom het hierdie tendens ook toegeneem in die Suid-Afrikaanse boekewêreld: Insig (saliger)boeketafeletes met televisiepersoonlikhede, Volksblad en Exclusive Books se Boek-en teeklub, boekbekendstelings by kunstefeeste (dikwels met  duur kos en drank) óf  skrywers wat in televisiesepies optree, is almal voorbeelde van hierdie “ruilhandel”.

 Benoeming vir ‘n prys in die kunste het dikwels die gevolg dat verkope vermeerder. Hoewel Die Akademie se keurkomitees nie werk met nominasies of kortlyste nie, dra die toekenning van pryse altyd by tot beter verkope, veral  wanneer die prys in omstredenheid gehul is. Van Leroux se roman, Sewe dae by die Silbersteins (1962) is 30 000 eksemplare verkoop!  Prystoekennings is ook ‘n kanoniserende handeling wat reputasies vestig of versterk.  En wat dalk te min gesê word, dit vestig of versterk bepaalde poëtikale uitgangspunte. In die geval van die bekende Ingeborg Bachmanprys was daar altyd ‘n subteks, naamlik die “Duitsheid” en ‘n verdeling van “insiders” en “outsiders” (kyk Jankovsky, 1997:  262). In die geval van die Akademiepryse was daar vir ‘n ruk lank ‘n bepaling dat ‘n bekroonde werk “simpatiek [moet] staan teenoor die aspirasies van die Afrikaanse volk”, maar dit is in 1965 weggelaat (Kapp, 2009: 208)  Carstens (2009: 345) sê dat hierdie bepaling slegs in 1962 (toe die Hertzogprys vir poësie toegeken is) en 1963 se dramatoekenning geldig was. Tog het die sogenaamde “Beukes-verklaring”wat hy in 1966 opgestel het en waarin hy beklemtoon dat die Hertzogprys”n volksprys” is, hierdie hele verbintenis tussen dié prys en die Afrikanervolk lewend gehou (kyk ook Carstens, 2009: 436 en 437). By geleentheid was daar ‘n ernstige meningsverskil of ‘n mens sou kon beweer (soos P.J. Nienaber wel gedoen het) dat goeie literatuur nooit die bose of negatiewe kan verheerlik nie (Kapp, 2009: 197). Hoewel so ‘n uitgangspunt nooit ‘n amptelike standpunt van die Akademie was nie, is dit terugskouend duidelik hoe hard literatore in Akademie-geledere probeer het om byvoorbeeld. Leroux se werk telkens te verdedig juis op grond van die satiries-morele aard daarvan (kyk: Botha, s.j., Botha, 2007 en Grové, 1964).. Dit het ook bygedra tot ‘n bepaalde leesstrategie van sy werk.

 

  • 8. Waardetoekenning as objektiewe proses

 Soms is dit asof daar ‘n “aparte” kanon per literêre prys bestaan.  In die geval van die Bookerprys sou ‘n mens kon praat van ‘n “kommersiële” kanon, omdat die prysttoekennings al hoe meer na hierdie pool begin beweeg het (Norris, 2006:  154).  Prystoekennings het ook ‘n impak op magsverhoudings binne die boekebedryf en dit is opvallend in hoe ‘n mate klein, en selfs onafhanklike uitgewers in die afgelope jare presteer wanneer dit kom by die benoeming vir en verowering van Akademie-pryse.  ‘n Literêre prys gaan gepaard met heelwat prestige hoewel baie uitgewers huiwerig is om die L-woord (“letterkunde”) te gebruik omdat dit sou ruik na die elitistiese (kyk Street, 2005:  837). 

Waardetoekenning is eie aan die menslike bestaan en berus vanselfsprekend op bepaalde kriteria.  Hulle wat in die openbare domein beklee is met gesag om bepaalde waardebepalings te maak (bv. beoordelaars van die beste film, wyn, skildery of boek) staan bekend as hekwagters, kenners of wyses en  beskik nie net oor gesag en mag nie, maar hulle dade het ook bepaalde ekonomiese gevolge.  Dit beteken dat hul oordele gegrond en intersubjektief moet wees, want almal ken die bekende Latynse spreuk:  “De gustibus non est disputandum” – overgesetsynde: oor smaak val daar nie te redeneer nie; immers “beauty is in the eye of the beholder”.  

En oor skoonheid heers daar al eeuelank ‘n nimmereindigende debat.  Die Franse kunskritikus, Roger de Piles (1635-1709) was onder die eerstes wat probeer het om die formele kenmerke van skoonheid te omskrywe (Ginsburgh, 2003: 99).  In die eietydse postmodernistiese tydsgewrig staan relatiwiteit voorop en sou ‘n mens huiwerig wees om formele eienskappe na vore te stoot wanneer oor waardebepaling gepraat word. Desondanks is die toekenning van veral pryse wat berus op “estetiese” maatstawwe (soos in die geval van prosa, skilderkuns en beeldende kuns) ‘n implisiete bevestiging van “objektiewe” maatstawwe of “intersubjektiewe” kwaliteite. Daarsonder sou alle toekennings immers hul legitimiteit verloor. 

Een van die wyses van beoordeling is die onderskeiding van formele eienskappe wat ‘n mens gerus kan noem die intrinsieke metode, wel wetende dat waarde altyd relasioneel is en die hele begrip “intrinsieke waarde” ‘n mynveld is.  Maar in breë trekke kom dit neer op ‘n formalistiese omgang met objekte (artefakte) en word verwys na die “treffende karakterisering” in ‘n roman, die “geslaagde wyse van vertelling” en die “funksionele achronologie”.  By digbundels kan ‘n mens verwag om te hoor van die eenheidstruktuur, benutting van digvorme, beeldgebruik, rym en ritme.

Die ektrinsieke metode, meestal  bekend as die kontekstuele metode, stel ander oorwegings voorop soos die betrokke teks of skildery se plek binne ‘n tradisie, ‘n kanon  of sisteem.  Ander oorwegings van kontekstuele aard is die ontvangs van die betrokke artefak, selfs deur die breëre publiek.  Filosowe is geneig om die bewyslas vir kwaliteit te plaas op die skouers van kenners wat die intrisieke metode onderskryf, terwyl ekonome weer glo dat die werklike keuse van gebruikers (dus die kontekstuele metode)  ‘n beter meetinstrument daarstel.  Filosowe beklemtoon ook die belangrikheid van tydsverloop (en derhalwe tydloosheid van kunswerke) by evaluering.  Die veronderstelling is dat die beter werke by wyse van spreke sal oorlewe (Ginsburgh, 2003: 100). 

 

  • 9. Strukture en reglemente

Deur die jare het Die Akademie te kampe gehad met heelwat kritiek oor sy literêre prystoekennings wat dikwels te make gehad het met sy onduidelike en selfs omslagtige bestuurstrukture.  Hiervan gee Carstens (2009) en Kapp (2009) heelwat voorbeelde. Dit is eers in ‘n laat stadium  waarin die relatiewe outonomie van die Letterkundekommissie bevestig is, maar steeds moet hul besluite streng gesproke as aanbevelings beskou word wat deur die raad bekragtig moet word.  F.I.J. van Rensburg het in 1971 beweer dat “die eintlike beraadslagings” informeel plaasvind en dat koppe dan reeds getel is. Teen die tyd dat die vergadering plaasvind is “al die kontensieuse dinge klaar gesê en heers daar eenstemmigheid oor wat op só ‘n vergadering nie gesê moet word nie, of wat nie genotuleer moet word nie” (Kapp, 2009:  210). 

F.I.J. van Rensburg het in 1966 reeds ‘n brief geskrywe oor die Hertzogprys vir drama waar Uys Krige se oeuvre ter sprake sou wees en het tydens die huishoudelike vergadering van die Akademie gevra dat die bekroningsprosedures van die Hertogprys hersien moes word.  Die Hertzogprys is oorspronklik  ingestel “om de uitbreiding van de Afrikaanse taal te bevorderen”, dus “aan de Schrijver of schrijfster van de beste letterkundige werk van bellistristiese aard in de Afrikaanse taal.” Dit gaan dus om gehalte alleen. Van Rensburg bedank as Akademielid in 1970 nadat die Raad nie die Hertzogprys toeken aan Etienne Leroux vir 18-44  en Isis Isis Isis (soos deur die letterkundekommissie aanbeveel nie), maar wel aan Karel Schoeman vir ‘n Lug vol helder wolke, soos W.E.G. Louw in sy minderheidsverslag aanbeveel het. 

J.P. Smuts (2005) gee ‘n netjiese uiteensetting van Die Akademie se letterkundepryse waaruit blyk dat die wyse waarop Die Akademie se Letterkundekommissie funksioneer eintlik beter is as enige ander pryspaneel.  Smuts (2005: 8 ) wys in hierdie verband na die prosedure wat by die CNA-prystoekenning gebruik is. Elke beoordelaar moes vyf boeke in voorkeurorde plaas en dan is vyf punte aan die eerste keuse toegeken, aan die tweede vier punte, ensovoorts.  Tereg wys Smuts daarop dat hoewel hierdie prosedure ‘n objektiewe indruk maak, dit kan gebeur dat die wenwerk byvoorbeeld.deur nie een van die keurders in die eerste plek geplaas is nie. Daar het ook nie die moontlikheid bestaan dat keurders hulle keuses kon verantwoord indien so ‘n ongerymdheid ontstaan het nie.

Smuts (2005: 8 ) verwys ook na die W.A. Hofmeyrprys waar vir jare gebruik gemaak is van drie beoordelaars: ‘n literator, ‘n joernalis en ‘n kenner van kinderboeke. Later is twee letterkundiges as beoordelaars benoem. Indien daar nie eenstemmigheid bereik is nie, word ‘n derde letterkundige gevra om ‘n beslissende stem uit te bring.  Die Helgaard Steynprys is met sy ruim R150 00 prysgeld in finansiële terme dalk die grootste Afrikaanse letterkundeprys in Suid-Afrika. Dit word vierjaarliks toegeken. Daar is ‘n keurderspaneel bestaande uit drie letterkundiges wat ‘n kortlys opstel en daarna vergader en besprekings voer. Desondanks is daar soos Smuts ook aanvoer, geen rede om te dink dat twee of drie letterkundiges tot ‘n beter besluit sal kom as sewe letterkundiges nie.

Die Akademie se letterkundekommissie bestaan vanaf 11 April 1968 uit sewe kundiges wat om geen ander rede nie as op grond van bewese kwalifikasies , uitsette en prestasies tot die kommissie verkies word, hoewel daar ook getrag word om geografiese verspreiding in ag te neem. Hul benoeming word in die finale instansie deur die Raad bekragtig.  Die lede vergader en bespreek alle werke wat vir bekroning oorweeg word diepgaande.  In alle gevalle word daar ‘n verkenner aangestel wat hom of haar deeglik moet vergewis van die werke of kandidate op die spesifieke terrein binne die bekroningstydperk verskyn het. Dit is ook ‘n gebruik geldig is vanaf 1 November 1968 (Carstens, 2009:  461).  Advies van kundiges kan ingewin word, hoewel die besluitneming steeds berus by die letterkundekommissie.   Werke word voorgelê deur uitgewers, maar dit is die verkenner se plig om toe te sien dat alle verdienstelike werk onder die aandag van die kommissielede gebring word.

Die Hertzogprys word jaarliks toegeken aan werke wat in die voorafgaande drie jaar in een van die drie hoofkategorieë” poësie, prosa en drama gepubliseer is.  Dit beteken dat die hoofgenres beurtelings elke drie jaar vir bekroning aan die beurt kom. Hierdie bekroningsbeginsel skep bepaalde probleme wat die drama betref, waar daar veel  minder tekste gepubliseer word as in die geval van die poësie en prosa. Nie-bekroning word egter ook beskou as ‘n belangrike literatuurhistoriese oordeel en hoewel dit ooit oorweeg is, is spoedig afgesien daarvan om prystoekennings te “versnel” deur oor te gaan tot ‘n ander genre as daar bv. nie goeie dramatekste voor hande was nie.  Werke word ook nie oorgedra van een siklus na ‘n ander nie.  Soos by alle literêre pryse die geval is, is daar “ryker” en “armer” jare of termyne en spreek dit vanself dat daar voortreflike boeke is wat nooit bekroon is nie, terwyl swakker werke dalk wél bekroon is. Hierdie prosedure het ook veroorsaak dat van die beste Afrikaanse skrywers (soos Jan van Melle, Hettie Smit, Abraham H. de Vries,  John Miles,  Adam Small, Eben Venter en George Weideman) en ander goeie skrywers (soos  Christoffel Coetzee, Marita van der Vyver en Alexander Strachan) nooit met die Hertzogprys bekroon is nie.

Gewoonlik word aanvaar dat die reglement voorsiening maak dat ‘n oeuvretoekenning oorweeg kan word, maar slegs as daar nie verdienstelike enkelwerke gepubliseer is nie én as die betrokke skrywer ook binne daardie bekroningsperiode gepubliseer het.  In die reglement staan egter slegs: “”Die volgende kom in aanmerking en moet in hierdie volgorde oorweeg word: 2.1  Enkelwerke wat in die vorige drie kalenderjare gepubliseer is [… ]  2.2 Die oeuvre van skrywers wat in die vorige drie kalenderjare gepubliseer het. Net werke van ‘n skrywer in die besondere genre word in ag geneem. “

 Dit laat myns insiens wél die ruimte dat wanneer enkelewerke oorweeg is en ‘n relatiewe gewig daaraan toegeken is, ‘n oeuvre daarnaas en daarteenoor  oorweeg kan word. Om foute reg te stel, is meestal onmoontlik. Tydens die viering van die Halfeeu van die Akademie in 1959 is daar aanvanklik besluit om persone wat in die verlede oior die hoof gesien is, wél te bekroon. Later is besluit om geen lewende persoon te bekroon nie (Carstens, 2009: 325)..  In die Eeufeesjaar – 2009 – is ‘n klein klompie (25 in totaal) spesiale Eeufeesmedaljes op voorstel van die voorsitter toegeken aan uitstaande presteerders op ‘n verskeidenheid terreine met dien verstande dat hulle nog nooit deur Die Akademie vir hierdie bydrae bekroon is nie. Die skrywers wat so vereer is, was Abraham H. de Vries, Jeanne Goosen, Adam Small en Barend Toerien.  So kon enkele groot foute op die gebied van die letterkundebekronings dus wel reggestel word.

  • 10. ‘n Paar groot veldslae en enkele skermutselings

In die honderjarige geskiedenis van Die Akademie was daar by verskillende geleenthede ernstige botsings tussen Akademielede onderling én tussen Akademielede / Die Akademie en die publiek. Kapp (2009) gee op meerdere plekke aandag hieraan.  Dikwels het dit gehandel oor aangeleenthede op die terrein van die Geesteswetenskappe en veral die letterkundebekronings. Carstens (2009) konsentreer wel op die Hertzogprys vir drama, maar verwys ook telkens na die herrie rondom ander pryse.  Van die belangrikste redes vir baie van hierdie skerp meningsverskille was:

  • n Die Akademie se neiging tot verdeling van pryse,
  • n die feit dat die kundiges op die terrein van die letterkunde dikwels in die minderheid was op letterkundige keurkomitees óf dat hul besluite deur (minder kundiges of selfs onkundiges) verwerp is,
  • n prosedures, soos voorleggings (skrywers moes aanvanklik self hul boeke voorlê!), afsnydatums en die bepaling van die sogenaamde “stygende lyn”, met ander woorde die bepaling dat iemand binne ‘n bepaalde afdeling of genre, soos die drama, weer bekroon kan word slegs as die drama-oeuvre ‘n opwaartse kwaliteitskurwe toon,
  • n “eksterne” oorwegings soos getrouheid aan “Afrikanerwaardes”,
  • n Die (soms versweë) aanname by baie mense (ook lede van letterkundige komitees) dat “werk van die hoogste orde” ook moreel moes wees (kyk ook Botha, 2007),
  • n Swak verslae ter motivering van bepaalde keuses (soos in die geval van die Hertzogprystoekenning vir drama in 1952),
  • n Die gevoel dat Die Akademie nie oop kaarte speel nie, omdat kortlyste normaalweg nie gepubliseer is nie en die stemming van komitees ook nie geopenbaar gemaak word nie. Kapp (2009) en Cartsens (2009) bespreek én evalueer baie van die bovermelde besware.

As daar na die Hertogprystoekennings gekyk word, was daar ‘n hele paar polemieke. Een van die eerstes was die 1927-toekenning waar die prys verdeel is tussen Jochem van Bruggen, C.J. Langenhoven en Sangiro. Langenhoven het die prys geweier “Sonder bedoeling van onbeleefdheid” (Kapp, 2009: 164). Ook die 1928-bekroning het probleme opgelewer toe daar onenigheid was tussen die Raad van Die Akademie en die Letterkundige Kommissie (eers sedert 1992 staan dit bekend as die Letterkundekommissie).

Die 1934-bekroning, toe daar ‘n gedeelde prys was  (tussen Totius vir Passieblomme , C. Louis Leipoldt vir Skoonheidstroos en W.E.G. Louw vir Die ryke dwaas), was reeds omstrede, maar dit was veral die 1937-toekenning (‘n gedeelde prys tussen I.D. du Plessis vir Vreemde liefde  en N.P. van Wyk Louw vir Alleenspraak) wat ‘n herrie ontketen het. Wat die 1934-toekenning betref.  Literatore is hoog gestem in hul lof vir Totius se Passieblomme (1934) wat as hoogtepunt beskou word van sy elegiese poësie én sy kuns in die algemeen (Antonisen, 1956: 108/ 109; Dekker, 1958: 82; Kannemeyer, 1978: 123).  Ook Leipoldt se bundel, Skoonheidstroos word in die algemeen hoog aangeslaan: “sy beste digwerk van later” (Antonisen, 1956: 121), “Veel hoër staan Skoonheidstroos …” (Dekker, 1958: 95) en “‘n styging in die poëtiese vormgewing” (Kannemeyer, 1978: 143). Daarom kan die bekroning van hierdie bundels saam met Louw  se bundel, weliswaar vol mankemente, maar as geheel “‘n rewolusionêre breuk met die ouer motiewe en die geykte prosodie van die vroeë Afrikaanse digkuns” (Dekker, 1958: 366), beskou word as bekronings met meriete.

Op die oog af lyk dit asof die Akademie Van Wyk Louw ‘n onreg aangedoen het om hom in 1937 saam met I.D. du Plessis (‘n “digter van die tweede plan”, om Antonissen se terminologie te gebruik) te bekroon.  Veral Antonissen (1956: 228) is besonder negatief oor dié bundel, terwyl ook Dekker (1958: 190) nie besonder lowend is nie.  In bloemlesings van die afgelope jare neem Du Plessis se gedig “As ek my vreemde liefde” ‘n vaste plek in (kyk: Olivier, 1986: 34 en Komrij,  1999: 379). Sowel Olivier (1986) as Komrij (1999) neem heelwat van du Plesis se gedigte in hul bloemlesings op waarin hy sy “vreemde liefde”, dus homoseksualiteit (weliswaar versluierd) aanraak.  Komrij neem van Du Plessis tien gedigte op (die getal wat hy as sy masimum stel) waaruit blyk dat hy hom as ‘n belangrike digter beskou.  In die jongste uitgawe van Groot Verseboek  duur Du Plessis se  “rehabilitasie” voort  deurdat Brink ‘n agtal bladsye aan sy werk afstaan wat hom in die geselskap van o.a. Eugène Marais en W.E.G. Louw plaas.  Terugskouend neem Du Plessis se bundel, Vreemde liefde,  dus ‘n belangrike plek in binne die Gay-tradisie in die Afrikaanse letterkunde en is sy bekroning saam met Louw vir dié se debuutbundel,  derhalwe nie ‘n dwaling nie.

  Die grootste dwaling van die Akademie vind skynbaar plaas in 1952 toe die Hertzogprys aan Gerhard Beukes én W.A. de Klerk toegeken word.  Kapp (2009: 184) toon aan dat van die voorste Afrikaanse literatore en taalkundiges (Rob Antonissen, D.J. Opperman, W.E.G. Louw, Meyer de Villiers, I.W. van der Merwe en J. du P Scholtz) tot die debat toegetree het.  Veral die werk van Beukes is afgemaak as waardeloos (kyk bv. Antonissen, 1956: 279).  Antonissen kon, volgens Kapp (2009: 185) slegs sy uitgebreide bespreking van die keurkomitee se verslag doen, omdat F.E.J. Malherbe die vertroulike dokument “te goede trou” aan hom beskikbaar gestel het.  Die dramabekroning skep altyd die grootste probleem wanneer dit drie jaarliks aan bod kom in die Hertzogpryssiklus.  Daar verskyn altyd veel minder dramas as prosawerke of poësiebundels in die bekroningstydperk; boonop is die drama ‘n genre wat eers tot sy reg kom tydens opvoering (kyk Smuts, 2005:  4).  Die keurkomitee was destyds seker verheug dat daar soveel dramas ter tafel vir hierdie bekroning. 

Die mees verdienstelike kandidaat in 1952 was sonder enige twyfel Uys Krige wat in daardie stadium in 1941 reeds vir die Hertogprys oorweeg is, in 1944 die knie moes buig voor Leipoldt en in 1948 weer in aanmerking kon kom.  Carstens (2009: 253 e.v.) wys op die vreemde rol wat F.C.L. Bosman in die 1952-toekenning gespeel het. Hy het die administratiewe proses gemanipuleer en duidelik alles in sy vermoë gedoen om De Klerk en Beukes (vir wie hy reeds in 1948 wou bekroon) na vore te stoot. Van Krige was daar enkele knap dramas wat oorweeg kon word: Alle paaie gaan na Rome (1949) en Die sluipskutter (1951). Krige het volgens baie mense reeds in 1941 die Hertogprys verdien, maar politieke oorwegings (Krige was ‘n lid van die Verenigde Party en nie “‘n praktiese Afrikaner” nie) speel volgens baie kommentators wel  deeglik ‘n rol in die feit dat hy oor die hoof gesien word (Carstens, 2009: 184 e.v.). Carstens self skryf dat daar geen aanduiding in die verslag van die Letterkundige Kommissie en die stembriewe is dat die besluit om hom nie te bekroon polities gemotiveer was nie (Carstens, 2009: 213) . In 1966 word daar druk uitgeoefen deur minister B.J. Vorster sodat Die Akademie Krige weer eens nie sou bekroon nie en dit is eers in 1985 dat hy wél vir al sy dramatiese werk bekroon word, meer as  40 jaar te laat! Carstens (2009) wys op talle plekke op die negering van Krige deur die Akademie en skryf: “Dit is opmerklik dat oor ‘n bekroningsperiode van dertig jaar (1929-1959) die naam van Uys Krige as wenner ontbreek – dit terwyl hy gedurende hierdie periode al die dramas geskryf het waarna spesifiek verwys is toe hy in 1985 die Hertogprys vir sy hele drama-oeuvre ontvang het” (Carstens, 2009: 325).

Daar moet toegegee word dat die probleemdramas van De Klerk nie net steeds van sy beste werk is nie, maar selfs meer as  beduidend binne die totale Afrikaanse dramaliteratuur.  Boonop was dit die wegbereider vir die latere politieke dramas van Bartho Smit, Pieter Fourie én die probleemdramas van P.G. du Plessis en Pieter Fourie.  Die meerderheid tekste van  Beukes wat ter tafel was,  kan met die beste wil ter wêreld nie bestempel word as “groot letterkunde” nie, maar sy eenbedrywe en komedies is nie net verdienstelik nie;  maar in hoë mate voorbereiding vir die talle eenakters wat later tydens Kampus Toneel  en die SANLAM-dramakompetisie oorheersend sou raak. Sy blyspele (eerder klugte) is uiters speelbare dramas, het groot gehore gelok en was sodoende baanbrekend wat betref die klugtige tradisie in Afrikaans wat veral met die televisie-era in belangrikheid toengeneem het.  Binne die kontekstuele paradigma is albei se werk belangriker as wat destyds binne ‘n intrinsieke paradigma geoordeel is.

In 1957 weer is Elise Muller se kortverhaalbundel, Die vrou op die skuit bekroon en is Jan Rabie se 21 oor die hoof gesien. Smuts (2005: 4) wys daarop dat sekere werke se waarde eers veel  later “korrek” (sic) ingeskat word – ‘n opmerking wat in ooreenstemming met die kontekstuele benadering is.  Hy vermeld die nietoekening van die Hertogprys aan Eugène Marais se Dwaalstories  (in 1927) in hierdie verband en ook die niebekroning van Rabie se 21 – ‘n bekroning wat “beslis die ontwikkelende literêre situasie beter [sou] ‘gelees’ het” (Smuts, 2005: 4).  Rabie se bundel  kortverhale was inderdaad die herout van ‘n nuwe beweging omdat dit so radikaal gebreek het met ‘n tradisie.  Maar reeds in Muller se werk was daar óók baie vroeë tekens van Sestig wat net om die draai gelê het:  eksistensiële vrees en wanhoop, buitestanderskap, vervreemding en onthegting (kyk ook Van der Merwe & Lewis, 2001).  Van Wyk Louw (1961: se paternalistiese opmerking in Vernuwing in die prosa dat ons hier te make het met “‘n (m)ooi nuwe werkie van die ou soort”, is ‘n miskenning van die vernuwende tendense in hierdie verhale.  As vernuwing ‘n maatstaf was, moes ook die werk van Willem van den Bergh veel meer aandag getrek het – van Louw én van die Akademie.

Twee van die grootste polemieke oor pryse van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns  het te make gehad met die Hertzogprystoekennings aan Etienne Leroux (in 1964 vir Sewe dae by die Silbersteins en in 1979 aan Magersfontein, o Magersfontein!)  Gemeet aan die intrinsieke én kontekstuele siening was die Akademie in die kol met beide toekennings Kyk ook Carstens, 2009: 360 e.v.)..  Sewe dae word vandag steeds beskou as ‘n seminale teks binne die Afrikaanse letterkunde omdat dit ‘n sleutelteks is binne die belangrike sub-genre van die Afrikaanse plaasroman, die satiriese modus in die Afrikaanse letterkunde en die emblematiese tradisie in Afrikaans én bykans ‘n staalkaart is van die Sestigers se stilistiese handgrepe en filosofiese uitgangspunte (kyk Botha, 1998: 593; Kannemeyer, 2005: 3314-316; Van Coller, 2009: 15).  Voorts is hierdie roman vertaal in verskeie tale én is die verkope daarvan van die hoogste van alle Afrikaanse romans wat nie op skool voorgeskryf was nie. 

Wanneer Leroux oor die hoof gesien word vir Een vir Azazel (1964) en ook vir 18-44 (1968) ontstaan daar weer eens ‘n polemiek.  Hoewel Schoeman later ‘n belangrike skrywer sou word en hierdie novelle meer as verdienstelik is, is 18-44 een van Leroux se beste romans en kom die aanvaarding van die Louw-verslag (met sy ernstige mistasting wat 18-44 betref) neer op ‘n negering van die Letterkundige Kommissie en moontlik ‘n vrees dat ‘n toekenning aan Leroux weer ‘n herrie sou veroorsraak. Dit kon terloops ook ‘n rol gespeel het toe Leroux se roman, Een vir Azaze,l nie die prys gekry het in 1967 toe daar geen toekenning was nie, maar toe was die hele beginsel van “‘n stygende lyn” ook nog ter sprake. Een vir Azazel (1964) word ook allerwee beskou as een van Leroux se beste werke (kyk: Botha, 1998: 594-595; Kannemeyer, 2005:  316-317). Drie Akademielede wat dien in die Letterkundige Kommissie (A.P. Grové, Elize Botha en T.T. Cloete) bedank uit die Akademie nadat die Raad in feite die aanbeveling van ‘n kundige komitee oorstem.

  Hoe hierdie beginsel dat ‘n bepaalde skrywer se oeuvre (binne ‘n bepaalde genre) ‘n “stygende lyn” moes toon problem veroorsaak het word op verskillende plekke deur Carstens (2009) aangetoon. Veral tydens die bekroning van Opperman vir sy drama Voëlvry (1969) het dit tot ‘n hele diskussie gelei (Carstens, 200(; 468 e.v.).  P.G. du Plessis het daarop gewys dat hierdie bepaling aanleioding kon gee tot ab surditeite dat ‘n “mindere” werk bekroon kan word, terwyl daar ‘n veel beter werk van ‘n ander skrywer is, maar wat steeds nie binne sy oeuvre ‘n “stygende lyn” verteenwoordig nie (Ibid: 470). Die Letterkundig Kommissie het derhalweop 14 Maart 1969  aanbeveel dat hierdie omstrede bepaling verval. Die Fakulteitsraad verwerp hierdie aanbeveling, maar die Akademieraad aanvaar die Letterkundige Kommissie se voorstel op 9 Mei 1969 (Ibid: 473).

Magersfontein word wyd gesien as die aankondiger en selfs begin van ‘n nuwe (postmodernistiese) periode in die Afrikaanse letterkunde.  Ook in die konteks van die belangrike sub-genre van historiese representasie neem dit ‘n seminale plek in.  Hierdie roman is al verwerk tot strokiesprent en drama en word binne akademiese geledere hoog aangeslaan vir die satiriese aard daarvan, die kosmiese ironie, die styl en karakterisering. Kortom, weer eens stewig gekanoniseerd op grond van intrinsieke én kontekstuele gronde. Net soos Sewe dae is hierdie roman ook heruitgegee in die reeks Klasieke tekste van Tafelberg en Human en Rousseau en het dit hoë verkoopsyfers gehaal.  Filosowe én ekonome sou beide rustig kon slaap oor hierdie twee Akademie-toekennings.

N.P. van Wyk Louw se dramatiese hoorspel, Die dieper reg (1938) is reeds as bekroningswaardige geag deur baie kundiges, maar dit was nog meer die geval met Die pluimsaad waai ver  in 1966. Weer eens kon eksterne omstandihede (naamlik Louw se botsing met die destydse premier, dr. H.F. Verwoerd) hierin ‘n rol gespeel het. Elisabeth Eybers ontvang die Hertogprys vir Onderdak in 1971, maar daar was ook ‘n sterk gevoel vir die bekroning van Breyten Breytenbach in die Letterkundige Kommissie. Talle briewe in die media het Die Akademie se besluit bevraagteken.

Meer onlangs was daar die omstrede toekennings van die Hertzogprys aan André P. Brink vir Donkermaan (2001) en aan Ingrid Winterbach vir Niggie (2005). In die eerste geval is Brink se werk afgemaak as ‘n niemendalletjie en in die laaste geval is gemeen dat Dan Sleigh se Eilande ‘n waardiger wenner sou wees.

By Brink se Donkermaan en Winterbach se Niggie  lê die saak telkens anders: Brink word bekroon omdat sy roman kontekstueel belangrik geag word weens die gesprek met o.a. Etienne Leroux en J.M. Coetzee, veral oor die politieke situasie in Suid-Afrika en die nut van “writing in a time of cholera”.  Winterbach se bekroning word in die eerste plek gemotiveer deur die intrinsieke gehalte van die werk, maar ook omdat hierdie teks ‘n ernstige besinning is oor die verwerking van trauma, een van die oorheersende temas van die literêre diskoers van die afgelope jare.  Maar dat die Brink-roman beter was as die voortreflike romans Op soek na generaal Mannetjies Mentz (Christoffel Coetzee), Die swye van Mario Salviati (Etienne van Heerden), Draaijakkals (George Weideman) en nog twee tekste van Ingrid Winterbach (kyk ook Smuts, 2005: 7) sou ek nooit beweer nie.[2]  Dalk het ‘n kontekstuele oorbeklemtoning (en skuldgevoelens by keurders) tóg ‘n rol gespeel by hierdie bekroning.  En hoe belangrik (en goed) Winterbach se roman ook al is,  Dan Sleigh se Eilande is ‘n unieke roman met ‘n groot internasionale uitstraling en is intrinsieke maatstawwe by hierdie bekroning dalk weer té veel in ag geneem.

As daar skrywers is wat na my gevoel die Hertzogprys verdien, is dit Adam Small (veral vir Kanna hy kô huis toe (1965) – een van die allerbeste Afrikaanse dramas) en Abraham H. de Vries (vir ‘n hele uitstekende kortverhaalbundel waaronder Dubeldoor(1963), Vliegoog (1965) en Nag van die clown (1989)), al het die ingewikkelde bekroningsprosedures in beide gevalle ‘n belangrikste rol gespeel. Veral De Vries se werk moes telkens meeding met van die beste romans in Afrikaans en weens bepaalde bepalings in die prysreglemente kon daar nooit ‘n oeuvre-toekenning gemaak word nie.

In die geval van Brink kan ek egter nie saamstem met J.P. Smuts (2005: 6) se bewering dat “Brink … nie verbygegaan is in die sin dat swakker werke as syne bekroon is nie.  In 1967 is besluit om geen toekenning te maak nie en was Orgie inderdaad geen groot werk nie.  Maar waarom is daar dan nie ‘n oeuvre-toekenning oorweeg nie, sou gevra kon word: Lobola vir die lewe (1962) en  Die ambassadeur (1963) was immers seminale tekste in die sestigerbeweging.   Ook ‘n Droë wit seisoen (1979) het die prys verdien eerder as dat oorgegaan is na ‘n oeuvre-toekenning aan (die weliswaar verdienstelike) Hennie Aucamp.  Maar dit is veral Brink se voortreflike roman, Houd-den-Bek (1982) (kyk: Beukes, 1998: 317-318) wat in 1984 beslis die prys verdien het bo Henriette Grové met haar  haas-vergete werk, Die kêrel van die Pêrel.  Dat politiek ‘n rol gespeel het in die geval van Brink kan myns insiens kwalik ontken word.  Dit is vreemd dat Peter McDonald (2009:  263) in sy pasverskene boek, The Literature Police. Apartheid Censorship and its Cultural Consequences oor Brink beweer beweer dat “The Hertog always eluded him.” Dit in 2009 nadat Brink reeds die Hertzogprys tweekeer verower het! Maar dalk is die fout toe te skrywe aan die duidelike ideologiese invalshoek van McDonald. Só beskrywe hy hierdie prys: “this highly politicized, state-sponsored award (sic!), which was intended to strengthen the link between Afrikaner nationalism, the language, and its literature, became the most prestigious volk accolade of the apartheid era … These quasi-official endorsements were nonetheless always a source of contention, particularly between the literary avant-garde, many of whom served as prize judges for the award (My kursivering, HC), and the more conservative political, cultural, and religious forces within the volk” (McDonald, 2009:  263).

“State-sponsored”?  Hoewel die Akademie ‘n klein subsidie van die staat ontvang het tot die aanbreek van die nuwe bedeling in die negentigerjare, is pryse van die Akademie nog nooit deur die staat gesubsidieer nie.  En was A.P. Grové, Elize Botha, J.P. Smuts, Louise Viljoen en Hennie van Coller werklik lede van die avant-garde wat as keurders van hierdie prys opgetree het, soos McDonald te kenne gee?

 

  • 11. Ander pryse

 Die Eugène Maraisprys word aan ‘n skrywwer toegeken vir die eerste of vroeë belletristiese werk en dra in hom steeds iets van aanmoediging en dit word jaarliks toegeken vir enige werk binne enige van die drie hoofggenres.  Hierdie prys dagteken uit 1961 en het in 1971 die huidige naam gekry het, juis om te dien as “aanmoedigingsprys”, sodat die Hertogprys gesien kon word as “gehalteprys”. Ook hierdie prys het al gesorg vir omstredenheid.  As daar kritiek uitgespreek kan word, is dit dat werklike belofte dikwels laer ingeskat is as die sogenaamde afgerondheid van werke.  Dit is na my gevoel ‘n fout gewees dat Eben Venter se roman Foxtrot van die vleiseters nie in 1994 raakgesien is as aankondiger van ‘n belangrike oeuvre  nie (Die reuk van appels deur Mark Behr is toe bekroon). Soos Smuts (2005: 9) ook betoog is dit ‘n oorsig dat Koos Prinsloo se  twee werke, Jonkmanskas in (1982) en Die hemel help ons (in 1987) by die keurkomitee verbygegaan het.  Die twee wenners, E. Kotzé se Halfkrone vir die nagmaal en P.C. Haarhoff se Uit ‘n ander wêreld is wel verdienstelik, maar nie baanbrekend nie.  Ek wil met Smuts se implikasie saamstem dat die gedurfde aard van die Prinlsoo-tekste wél ‘n inhiberende uitwerking gehad het op die letterkundekommissie.

Ek noem verder enkele ander Akademiepryse soos die een vir  vir vertaalde werk wat driejaarliks toegeken word,  die Scheepersprys vir jeugliteratuur wat ook om die drie jaar toegeken word, die Alba Bouwerprys vir kinderliteratuur en die Tienie Hollowaymedalje vir kleuterliteratuur wat eweneens om die driejaar toegeken word net soos die L.W. Hiemstraprys vir niefiksie. Dan moet ook verwys word na die ander toekennings wat deur die letterkundekommissie toegeken word: die Gustav Prellerprys vir letterkundige kritiek en literatuurwetenskap, die PUK Kanselierstrustprys vir vertaalde jeugliteratuur en die Poortprys vir hoërskoolleerlinge.  Op hierdie wyse word die breë terrein van die Afrikaanse literatuur gedek.

Ander pryse wat dig staan by die Akademie se letterkundepryse is die Olive Schreinerprys vir Engelse literatuur wat reeds in 1972 aan die English Academy of South Africa oorgedra is, pryse vir radiohoorbeelde en televisiedramas en die Elisabeth Eybersbeurs wat bedoel is vir navorsing in Afrikaans en Nederlands. Erepennings van die Akademie word ook sporadies toegeken vir buitengewone prestasies op die gebied van die letterkunde, kritiek en literatuurwetenskap. Ook die C.J. Langenhovenprys vir taalwetenskap staan dig by die letterkunde hoewel laasgenoemde prys, soos trouens alle Akademiepryse deur die Akademieraad toegeken word ná aanbeveling van spesialiskomitees.

In die geheel geoordeel het die Akademie se prystoekennings help karteer aan ‘n moeilike terrein vol slaggate en afgronde.  Uit die bostaande én uit Kapp en Carstens se historiese oorsigte blyk dat dit nooit moeiteloos geskied het nie, dat daar talle onderstromings was, maar dat in hoofsaak dit geskied het met eerlikheid en ten minste met die wete van voorlopigheid.

 

BIBLIOGRAFIE

Allén, Sture.  2005.  In the spirit of cultural communication with reflections on the Nobel prize for literature.  European Revie  13(1): 67-72.

Antonissen, Rob. 1956.  Die Afrikaanse letterkunde van aanvang tot hede.   Kaapstad, Bloemfontein, Johannesburg:  Nasionale Boekhandel Bpk.

Baddiel, David.  2007.  David Baddiel on Doris Lessing’s Nobel prize.  The Times. October 19 [http://entertainment.timesonline.co.uk/tol/arts_and_entertainment/books/article26937…    2009/02/06]

Beukes, Marthinus. 1998. André P. Brink. In: Van Coller, 1998:  316-329.

Botha, Elize. S.j. Etienne Leroux as sosiale commentator. In: Die skrywer en die gemeenskap, referate gelewer tydens die vyfjaarlikse landswye skrywerskongres, gehou te Pretoria op 25 en 26 Maart 1976 onder beskerming van die Afrikaanse Skrywerskring. Pretoria: 44-54.

Botha, Elize. 1998. Etienne Leroux. In: Van Coller, 1998: 586-603.

Botha, Elize. 2007. Literatuur en moraliteit. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. 47(2), Junie: 117-120.

Bourdieu, P. 1983.  The field of cultural production, or: The economic world reversed. Poetics, 12: 311-355.

Bourdieu,Pierre. 1993. The Field of Cultural Production. Essays on Art and Literature. Cambridge: Polity Press.

Brink, André P. 2008.  Groot Verseboek.  Kaapstad:  Tafelberg.

Brooks, Richard.  2008.  Zadie Smith sinks teeth into book awards.  The Times. February 10. [http://entertainment.timesonline.co.uk/tol/arts_and_entertainment/books/article33420…    2009/02/06]

Carstens, B.J.C. 2009.  Hertzogprystoekennings vir drama: 1915-1971.  Ongepubliseerde D. Litt-proefskrif. Pretoria: Universiteit van Pretoria.

D’ Astous, Alain, Colbert, Francois, Mbarek, Imene.  2006.  Factors influencing reader’s interest in new book releases: An experimental study.  Poetics. 34: 134-147.

Dekker, G. 1958.  Afrikaanse literatuurgeskiedenis.  Kaapstad:  Nasou.

DiMaggio, Paul. 1987. Classification in art. American Sociological Review, 52 (4): 440-455.

Dorleijn, G.J. & Van Rees, C.J. 1999. (reds.). Literatuuropvattingen in het perspectief van het literaire veld.  Den Haag: NWO.

English, James F.  2002.  Winning the Culture Game: Prizes, Awards, and the Rules of Art.  New Literary History  33: 109- 135.

Fokkema, Douwe. 1997. The Systems-Theoretical Perspective in Literary Studies: Arguments for a Problem-Oriented Approach. Canadian review of Comparative Literature, 24(1): 177-185.

Ginsburgh, Victor. 2003. Awards, Success and Aesthetic Quality in the Arts.  The Journal of Economic Perspectives. 17 (2): 99-111, Spring 2003.

Grové, A.p. 1964. Motivering by die toekenning van die Hertzogprys vir prosa. In: Strandpunte 17(6), Augustus: 65-66.

Herrnstein Smith. Barbara. 1984. Contingencies of Value in Von Hallberg, 1984: 5-39.

Holroyd, Michael.  2006.  All shall not have prizes.  The Times.  August 12.  [http://entertainment.timesonline.co.uk/tol/arts_and_entertainment/books/article10842…    2009/02/06]

Holt, Douglas B. 1997. Distinction in America? Recovering Bourdieu’s theory of taste from its critics. Poetics. Journal of Empirical Research on Literature. The Media and the Arts. 25(2-3): 93-120.

Hoyle, Ben.  2007.  Shopping trolley’s book wins odd title award.  The Times. April, 2007. [http://entertainment.timesonline.co.uk/tol/arts_and_entertainment/books/article16468…    2009/02/06]

Jankowsky, Karen.  1997.  “German” Literature Contested: The 1991 Ingeborg-Bachman-Prize Debate, “Cultural Diversity,” and Emine Sevgi : Özdamar.  The German Quaterly. 70(3): 261-276.

Kannemeyer, J.C. 1978.  Die geskiedenis van die Afrikaanse literatuur (1). Kaapstad & Pretoria:  Academica.

Kapp, Pieter. 2009.  Die letterkunde bekronings. In Draer van ‘n droom. Die geskiedenis van die    Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Hermanus: Hemel & See Boeke: 117-178.

Kannemeyer, J.C. 2002.  Die goue seun. Die lewe en werk van Uys Krige. Kaapstad: Tafelberg.

Kannemeyer, J.C. 2005. Die Afrikaanse literatuuur 1652-2004.Kaapstad / Pretoria: Human & Rousseau.

Komrij, Gerrit. 1999.  De Afrikaanse poëzie in 1000 en enige gedichten.   Amsterdam:  Uitgeverij Bert Bakker.

Louw, N.P. van Wyk. 1961.  Vernuwing in die prosa.  Pretoria & Kaapstad:  Academica.

McDonald, Peter D. 2009.  The Literature Police. Apartheid Censorship and its Cultural Consequences.  Oxford:  Oxford University Press.

Norris,  Sharon.  2006.  The Booker Prize: A Bourdieusian Perspective. Journal for Cultural Research.  10(2): 139- 158, April 2006.

Olivier, Fanie.  1986. Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte.  Kaapstad, Johannesburg: Human & Rousseau.

Showalter, Elaine.  2006.  In the age of awards.  Times Literary Supplement.   March 3. [http://entertainment.timesonline.co.uk/tol/arts_and_entertainment/the_tls/tls_selection…   2009/02/06]

Smuts, J.P. 2005.  Die Akadsemie se letterkundepryse. Tydskrif vir Geesteswetenskappe. 45 (1):  1-14.

Street, John.  2005. ‘Showbusiness of a serious kind’: a cultural politics of the arts prize.  Media, Culture & Society 27(6): 819-840.

Steyn, J.C. 1998. Van Wyk Louw. ‘n Lewensverhaal (deel I en II). Kaapstad: Tafelberg.

Van Coller, H.P. 1998. Perspektief en profiel. ‘n Afrikaanse literatuurgeskiedenis. Pretoria:  J.L. van Schaik.

Van Coller, H.P.  2002.  Eenders en anders: die diskursiewe network in Donkermaan  van André P. Brink.  Stilet 14(1):  50-71, Maart.

Van Coller, H.P. 2004.  Is Leroux ‘n vergete skrywer?  Stilet, 16(1): 1-13,  Maart.

Van Coller, H.P. 2009.  Tussenstand. Letterkundige opstelle. Pretoria: J.L. van Schaik.

Van der Merwe, C.N. & Lewis M. 2001. Elize Muller: die verrassende in die skynbaar doodgewone.  Literator  22(1): 221-229, April.

Van Rees, Kees; Vermunt, Jeroen & Verboord, Marc. 1999. Cultural classifications under discussion. Latent class analysis of highbrow and lowbrow reading. Poetics, 249-365.

Verboord, Marc, 2003. Classification of authors by literary prestige. Poetics 31: 259-281.

Von Halberg, Robert (ed.). 1984. Canons. Chicago & London: The University of Chicago Press.

Wagner, Erica.  2008.  Erica Wagner on the point of literary prizes.  The Times. February 15. [http://entertainment.timesonline.co.uk/tol/arts_and_entertainment/books/article33749…    2009/02/06]

 

 

 


[1] Carstens (2009) se proefskrif (onder leiding van Réna Pretorius) is ‘n omvattende ondersoek na Die Akademie se Hertogprystoekennings op die gebied van die drama van 1915-1971. Die wetenskaplike objektiwiteit van die studie kom egter ernstig in gedrang omdat (objektiewe) beskrywing van prosesse en eie (subjektiewe) interpretasie en evaluering van skrywers en hul tekste deurgaans vermeng word. Ook Kapp (2009) wy ‘n hoofstuk (5) aan literêre bekronings van Die Akademie. 

[2]  Smuts (2005: 7) verwys ook na Eben Venter se Ek stamel ek sterwe, maar hierdie boek het reeds in 1996 verskyn en was op tafel gedurende ‘n vorige rondte.

 

 

 

Hierdie artikel is geplaas met vergunning uit die Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Jaargang 50 (4), pp. 484-501

 

 

 

Woordpoort begin vandag

Thursday, September 24th, 2009
Woordpoort

Woordpoort

Van vandag tot Sondag vind die eerste Afrikaanse woordkunsfees in Gauteng plaas. Volgens Linette van der Merwe, hoofdirekteur van Woordpoort, het Afrikaanse kunstefeeste soos Woordfees (Stellenbosch), KKNK (Oudtshoorn), Volksblad (Bloemfontein) en Aardklop (Potchefstroom) die afgelope vyftien jaar getoon dat daar ‘n enorme behoefte aan uitvoerende en skeppende vermaak onder Afrikaanssprekendes bestaan. Uiteraard is al hierdie kunstefeeste streeksgebonde en is dit haas ondenkbaar dat Gauteng met sy 1,2 miljoen Afrikaanssprekendes nie oor ‘n eie Afrikaanse fees beskik nie. Derhalwe het die FAK onderneem om elke jaar van 24 – 27 September ‘n fees genaamd Woordpoort by die Universiteit van Pretoria aan te bied.

“‘n Mens (kan) slegs die hoop uitspreek dat, in die lig van die feit dat die Afrikaanssprekende besig is om sy selfvertroue m.b.t. Afrikaans-wees te herwin, ‘n woordkunsfees, in die hoedanigheid van Woordpoort, die behoefte aan kreatiewe energie kan bevredig en dat dit ook direk ‘n uitvloeisel kan wees van die konkretisering van die herdefiniëring van die Afrikaanssprekende binne ‘n multikulturele samelewing,” het Linette van der Merwe ter afsluiting van haar voorwoord gesê.

Die program kan hier gevind word. En, indien ‘n mens daardeur sif, kan jy nie anders as om beïndruk te wees nie … Die verskeidenheid (en gehalte) is omtrent oorweldigend. Boonop figureer die digkuns in al sy vele vorms darem ook prominent. ‘n Besliste hoogtepunt is waarskynlik die uitvoering van die Afrikaanse kunsliedere Saterdag (om 12:00) en Sondag (om 14:00) in die Musaion. Gedigte is spesiaal geskryf vir hierdie produksie deur Daniel Hugo, Hennie Aucamp, Hennie van Coller en Carina Stander en is getoonset deur Suid-Afrika se leidende komponiste, waaronder Alexander Johnson, Niel van der Watt, Hendrik Hofmeyr en Martin Watt. Hanli Stapela (sopraan), Renette Bouwer (sopraan), Deirdré Blignaut (sopraan), Chris Mostert (tenoor) en Christopher Vale (bariton) is verantwoordelik vir die uitvoering van die liedere.

Inderdaad ‘n geleentheid wat nié misgeloop moet word nie; voorspoed aan al die deelnemers, of soos ons in die Kaap sal sê: Maak’it aan!

***

Intussen is daar vier nuwe blogs sedert gisteroggend geplaas: Andries Bezuidenhout en Ronel Nel vertel van twee interessante produksies op Woordpoort en Aardklop onderskeidelik, terwyl Desmond Painter oor Philip Roth se kanse as potensiële Nobelprys-wenner bespiegel. Charl-Pierre Naudé het dit weer oor die hermetiese digkuns wat hy met gedigte (plus vertalings!) van Alfred Schaffer toelig. Dié verse het deel gevorm van Alfred se optrede tydens die pasafgelope Roots Kultuurfees. (Gaan lees gerus ook weer die onderhoud wat enkele maande gelede met Alfred gevoer is en onder andere tot ‘n hewige debat oor vertaling en vertaalde tekste aanleiding gegee het.)

En dan is dit boonop Erfenisdag vandag; daarom, raak betrokke, neem deel en klap hande … Dis jakarandatyd!

Mooi bly.

LE

Bernard Odendaal. Uit die palm van die land

Thursday, July 9th, 2009

Uit die palm van die land:

Beeld- en woordkuns uit die Vrystaat

 ’n Uitstalling wat besoekers op 2008 se Volksblad-kunstefees (8-12 Julie) aan die praat gehad het, was een waarin beeld- en woordkunswerke met mekaar in gesprek tree. 

 

Die projektitel “Uit die palm van die land” dui eerstens aan dat die deelnemers almal kunstenaars uit die sentraal geleë Vrystaatpovinsie was. Terselfdertyd beklemtoon dit die kreatiewe handewerk wat verrig is. Soos uit die kunswerke gesien kon word, het ’n paar van die deelnemers ook die woord “land” in die projektitel ernstig opgeneem, en is Vrystaatse landskappe en landmerke, en kwessie soos grondbesit, uitgebeeld.

Die inisieerders van die projek was, naas myself, Ben Botma (hoof van die departement Beeldende Kunste aan die Universiteit van die Vrystaat) en Gilbert Gibson (internis en digter en, soos ons ander twee, woonagtig in Bloemfontein).

Ses beeldende en ses woordkunstenaars het deelgeneem. Hulle is, in ’n eerste stap, genooi om elk een nuwe kunswerk te lewer met “die Vrystaat” as impuls, maar waarop hulle dan totaal vry kon reageer. En, soos die gesegde lui: Soveel hoofde, soveel sinne.

Konkrete en aktuele sake, soos die genoemde landmerke en grondkwessies, maar ook meer algemeen-menslike vraagstukke soos verlies en verganklikheid, en kreatiwiteit en lewensdrif as teendele dáárvan, is aangepak.

Ewe uiteenlopend is die media wat benut is: olieverfwerk op doek en sintetiese oppervlaktes (Janine Allen en Pauline Gutter); gemengde beeldmedia in gevarieerde kombinasies (Ben Botma, Jaco Spies en Markus Steinmann); beeldhouwerk uit hout en alledaagse dinge soos ’n persketak, ’n klakson, ’n kwartsklip en ’n oogdruppelflessie (Charlayn von Solms). Tradisionele sowel as vormlik meer eksperimentele gedigte is geskryf deur Stef Cilliers, Gilbert Gibson, Bernard Odendaal en Hennie van Coller; ook ’n paar prosavertellings was te sien (Jaco Jacobs en J.C. Steyn).

Nadat die eerste 12 kunswerke voltooi is, is deur middel van loting voortgegaan om die deelnemers in pare van een beeldende en een woordkunstenaar elk te verdeel. Daarna moes die pare kunstenaars telkens op mekaar se eersterondte-kunswerke reageer deur, eweneens in vrye respons, elkeen ’n verdere kunswerk te skep.

So het uiteindelik 24 nuwe kunswerke tot stand gekom wat nie net (met mekaar) oor Vrystaatse werklikhede gepraat het nie, maar ook veel te sê gehad het oor mens- en kunstenaarswees in die algemeen.  Opvallend was hoe die samewerking tot grensoorskrydende reaksies aanleiding gegee het. Beeldende kunswerke het soms woordmateriaal geïnkorporeer, en woordkunswerke plek-plek visuele kenmerke begin uitbuit.

Jaco Jacobs en Markus Steinmann het uiteindelik ’n totaal geïntegreerde kunswerkkompleks daargestel wat uitgesproke gemeenskapsbetrokke wou wees.  Hulle het byvoorbeeld blikkieskos, met prosavertellings wat soos etikette daarom gedraai was, aan die feesgangers beskikbaar gestel, op voorwaarde dat elke geneemde blikkie met twee volles vervang word.  Laasgenoemde is na afloop van die fees aan hulpbehoewendes in en om Bloemfontein geskenk.

Ewe belangrik as die beklemtoning van kuns se sosiale rol, was die nadenke wat die uitstalling wou stimuleer oor die plek en rol van die kultuurmens, oor die kuns self en oor die grense tussen kunssoorte.

Onderstaande werk (gemengde media en objekte, 156 x 250 cm) deur Janine Allen, ’n dosent in Beeldende Kunste aan die Universiteit van die Vrystaat, het aanleiding gegee tot die konfigurasiegedig “Wat vergeet word, het vergaan” wat onder my naam in die gedigtekamer hiernaas op die Versindaba-webwerf verskyn.   

 

 

 

Janine het die volgende oor bostaande werk van haar mee te deel gehad: “Inkarnasie van die puti handel oor die inherente werking van skilderkunstige prosesse en oor die aard van die skilderkuns self. Die spesifieke werk is gewortel in my belangstelling in pigment. Min hedendaagse skilders het nog kennis hiervan.  Vervreemding en verabstrahering het plaasgevind in die ‘magiese’ verhouding wat die skilder voorheen met die skilderkunsmateriaal gehad het.  Inkarnasie van die puti is een werk uit ’n reeks, getiteld Nekropolis, waarin ek skilderprosesse, beelde en selfs die konkrete skilderye verlewendig.”

Gilbert Gibson en Ben Botma het as paar saamgewerk. Ben het die werk Komeet (olie op digitale druk, 120 x 90 cm) gemaak na aanleiding van “die Vrystaat” as inisiële impuls. Oor dié werk skryf hy: “Geïnspireer deur ’n gedenkkruis langs die pad. Die sentrale deel van die werk behels ’n digitale foto waarom daar ’n energieveld of stralekrans van helder kleur in olieverf aangebring is. Die verfproses was ’n moeisame een, met groot sorg (met ’n baie dun kwassie) uitgevoer. Die doelbewuste ‘mooiheid’ van die kruis en die kleure staan in skrille kontras met die smart en pyn wat dit verteenwoordig. 

Na aanleiding hiervan het Gilbert die gedig “another fatal roadside attraction” geskryf, en daarby opgemerk: “Die gedig speel toe op Another Roadside Attraction,  Tom Robbins se eerste roman (1971; Doubleday), en vertel hier die verhaal van ’n motorongeluk waarin minstens een kind dood is, ook as (fataalste) weggaan en verlies.” 

Another fatal roadside attraction

die motor was ‘n wit almera ses jaar oud

met ‘n honderd en sewe duisend kilo’s op

bande effe afgeloop (veral regs agter)

en ’n duik in die deur. die ma het voor gesit

die pa agter die wiel die boetie

agter die ma en die babasussie plat

op die bank in ’n kombers toegedraai

aan die slaap. die boetie het met ’n

tafeltennisballetjie gespeel en

probeer om die headrest voor

hom met die balletjie raak te spoeg

elke tien sekondes ’n sagte plofgeluid

die ma was besig om

te brei penne wat klikklik terwyl

sy die speedometer uit die hoek van

haar oog dophou

die pa het ’n grys langbroek aangehad

en met sy toon sy been wat jeuk probeer krap

die baba was van die dreun aan die slaap gesus

wange van te warm toe rooi

een van die boetie se spoegslae het die

balletjie by ma se wang verby laat trek

teen die truspieël vas af tot in die pa se skoot

sy oë op sy bobeen neergeslaan

die hande gewar

 

die sussie het

in haar kombers verstyf.

 

die lorrie was vandeventer vervoer, ingelyf

 

 

Bernard Odendaal. Allooi van woord en beeld

Thursday, July 9th, 2009

ALLOOI

van woord en beeld

Uitstalling: Volksblad-kunstefees, 14-19 Julie 2009

Produksies waarin woord- en toonkuns saamspan, is redelik bekend op Afrikaanse kunstefeeste. Minder algemeen tot dusver was egter produksies waarin tweegesprekke gevoer word tussen beeldende en woordkunswerke.

In opvolging van die visuele en woordkunsuitstalling “Uit die palm van die land” wat tydens die Volksblad-kunstefees van 2008 groot getalle toeskouers gelok het, word ’n soortgelyke uitstalling vir 2009 se fees beplan. Dis geïnisieer deur my en Ben Botma (hoof: Beeldende Kunste aan die Universiteit van die Vrystaat) en die titel daarvan is ALLOOI.

Vanjaar se deelnemende kunstenaars is gevra om indiwidueel en/of in pare (van 1 beeldende kunstenaar en 1 woordkunstenaar elk) telkens 2 nuwe kunswerke te lewer waarin beeld en woord geïntegreerd funksioneer. Laasgenoemde is wat die uitstallingtitel wil aandui. Dit gaan om ’n “samesmelting” van woord en beeld.

Ek hoop om mettertyd visuele materiaal oor die uitstalling op my blog te wys.

Geen riglyne t.o.v. tema, media, styl, en derglike is voorgeskryf nie. Die enigste voorwaarde wat gestel is, is dat elemente van sowel visuele as woordkuns in elke kunswerk moet voorkom. 

Waar net Vrystaatse kunstenaars aan verlede jaar se uitstalling meegewerk het, word die net hierdie keer wyer gespan. Bekende Afrikaanse kunstenaars uit ander dele van die land, asook twee digters uit België en Nederland, het ingestem om mee te werk.

Een van hulle is Ingrid Winterbach. Sy is al herhaaldelik vir haar Afrikaanse romans bekroon, maar is ook as beeldende kunstenaar werksaam. Dieselfde geld vir Carina Stander, ’n opgeleide beeldhouer wat in 2006 met die geprese bundel die vloedbos sal weer vlieg as digter gedebuteer het. Hulle lewer op indiwiduele basis werke waarin woord en beeld “saampraat”. (Een voorbeeld is te sien in ’n onlangse blogbyrae deur Carina op die Versindaba-webwerf hiernaas.)

Die Kaapse digter Danie Marais het drie pryse vir sy debuutdigbundel in die buitenste ruimte gekry, en span met die animasiekunstenaar Diek Grobler saam om twee van die verse daarin visueel voor te stel.

Luuk Gruwez en Willem van Toorn, die een uit België en die ander uit Nederland, het reeds baie louere ingeoes vir hul digwerk. Gruwez munt onder meer as portretdigter uit. Hy is gevra om Nederlandse woordkunsekwivalente daar te stel van twee Suid-Afrikaanse portreskilderye uit die kosbare versameling van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Dieselfde uitdaging is aan Van Toorn gestel, maar na aanleiding van twee Suid-Afrikaanse landskapskilderye.

Uit die groep Vrystaters wat verlede jaar met “Uit die palm van die land” vorendag gekom het, het die volgende dié keer as pare saamgewerk: Ben Botma en ek; Markus Steinmann en Hennie van Coller; Pauline Gutter en Jaco Jacobs; Janine Allen en Gilbert Gibson.

My en Ben se werk dra die titel Vlugskrifte uit ’n onverklaarde burgeroorlog. Dit bestaan uit pare selfoonbeelde en –tekste wat oor net 12 onlangse voorvalle van ernstige geweld in die sentrale Vrystaat-streek ‘berig’. Die essensie van koerantberigte is telkens as haikoes in sms-taal vasgelê. So wou ons, d.m.v. die ‘geweld’ van die gedronge vers- en taalvorme, iets vergestalt van die fisiese en psigiese geweldpleging wat mense moes ervaar.

In my gedigtekamer elders op die Versindabawerf is die 14 sms-haikoes te sien wat ek met die oog op die projek geskryf het.

Die uitstalling was reeds te sien tydens die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se eeufeessimposium op 24-27 Junie 2009 in Bloemfontein (soos Carina reeds op haar blog vertel het). Die moontlikheid bestaan dat die uitstalling na afloop van die Volksblad-kunstefees na Stellenbosch vervoer sal word vir ’n uitstaltydperk by die Universiteit van Stellenbosch.