Posts Tagged ‘Henning Pieterse’

René Bohnen. Nat bome

Monday, October 21st, 2013

Saterdag het dit hier by ons in die voorstede gehael en gister het dit gereën toe ons die pad vat na Melville. In Johannesburg beteken sulke weer deesdae meermale dat die krag af is. Die dooie verkeersligte dwarsoor die stad was dus ʼn vroeë aanduiding dat warm koffie ons nie eintlik gaan inwag in Sewendestraat nie. Ons was ʼn kleinerige, maar baie waarderende groepie wat opgedaag het vir die oorhandiging van die Ingrid Jonker-prys aan Hennie Nortje. Glase sjerrie en witwyn moes instaan vir die koffie (ons laat ons nie afskrik nie) en die nat straat, sluiers mis oor die jakarandas, die kinders met turkoois sambreeltjies en rooi skoene, die blonde dogtertjie en die reën teen die ruit het vreemd mooi gepas by die omslag van “in die skadu van soveel bome”. Immers was ons hier in ʼn woud van woorde, immers ken ons op die Hoëveld koors- en doringbome.

Henning Pieterse het in gesprek met Hennie Nortje, die debuutdigter se pad verken na pryswennende bundel. Invloede, voorliefdes en ontvlugting het ter sprake gekom (name soos Boerneef en Opperman is genoem) en ʼn hele aantal gedigte is deur beide Henning en Hennie voorgelees. Dit was ʼn rustige, gemaklike gesprek met intelligente verkenning van die dokter-digterskap. Ek het agterna gesels met mense uit die gehoor (een dame van 75-jaar het my verseker dat sy die geleentheid “vir niks sal mis nie”) en almal was dit eens dat die bundel verrykende leesstof is. Welgedaan en nogmaals geluk, Hennie Nortje, dit was lekker om jou te ontmoet en te hoor praat!

Volgende aan die beurt was vier manne wat as digters van die omgewing deel was van die daglange, derde Melville Poetry Festival. Christo (JC, Johannes van Jerusalem) van Staden het bekoor met sy reeks verse oor die sanguiniese element en Charl-Pierre Naudé het splinternuwe verse uit sy pen voorgelees. Die Nuwe Stemme 5-digter, Izak du Plessis  was volgende, met Jo Prins wat ewe beskeie ʼn drietal of so gedigte lees om die sessie af te sluit.

Ons hang nog bietjie rond en maak geselsies, drink nog ʼn wyntjie en dit is net na een toe ek uitstap op die sypaadjie, miskien boekwinkel toe, so tussen sessies deur. En daar gaan al die verkeersligte in Melville aan. Aaa, net betyds vir lekker warm oggendkoffie!

Respyt van die gewone stadsgejaag, hierdie nat Sondag, maar iewers in die week, wanneer die son weer skyn, sal die gedig ons herinner:

Koorsboom

(Acacia xanthophloea)

Eens was jy

akasia van die laagtes

waar trekkers tot die dood toe

die gevreesde koors kon kry.

 

Nou staan jy

as sierboom van die voorstad

en pendel ons morsdoodmoeg

in koorsagtigheid verby.

                            (Hennie Nortje)

 

Louis Esterhuizen. Wanneer digters spoor vat na die verlede

Thursday, September 12th, 2013

‘n Besonder interessante publikasie wat hierdie naweek aan die handel beskikbaar gestel word, is Spoorvat – Skrywers en herinneringe wat deur Riana Scheepers en Leti Kleyn saamgestel en deur Lapa uitgegee word.  Met dié pretloop is daar sommer ‘n hele trop digters wat die wandeling meemaak, te wete Andries Bezuidenhout,  Zandra Bezuidenhout, Clinton V. du Plessis, Hans du Plessis, Heilna du Plooy, Louis Esterhuizen,  Joan Hambidge, Louis Jansen van Vuuren, Marlise Joubert, Trienke Laurie, Henning Pieterse, en Wium van Zyl.  Daarom dat ek dié publikasie graag onder jul aandag bring.

Volgens die inligtingstuk wat ontvang is, die volgende: “As skrywers het hulle reeds naam gemaak; hulle het literêre pryse gewen, die harte van lesers verower, diep spore getrap in die Afrikaanse kultuurwêreld … Ons ken hulle as openbare figure, as skeppers van verhale en romans en rubrieke, maar wat is die intiemste, mooiste en selfs pynlikste jeug herinneringe van ons bekendste Afrikaanse skrywers? Was hulle as kinders reeds sensitiewe waarnemers, kunstenaars in wording? Hoe het hulle hul jeug beleef? En hoe word hierdie jeug herinneringe verwerk in hul tekste as gesofistikeerde skrywers?”

Riana Scheepers en Leti Kleyn (samestellers van die trefferboek Die Afrikaanse Skryfgids) het skrywers gevra om hul kinder- of jeug ervarings te woord te stel. Daar was geen beperkings of voorskrifte nie, maar slegs gepubliseerde skrywers is om bydraes gevra.

Die resultaat is ‘n unieke bloemlesing van 36 skrywers . Saam met hierdie skrywers vat ons die spoor terug na die verlede; ‘n verlede wat net so kleurvol, vrolik, hartseer, innig en uiteenlopend is soos die mense van hierdie land.

“Spoorvat is ‘n belangrike bloemlesing, nie net omdat dit voortreflike tekste bevat van skrywers wat reeds hul kleim afgesteek het nie, maar omdat dit terselfdertyd ook unieke outobiografiese sketse is. Die leser kry ‘n intieme en eerlike blik op die leefwêreld van ‘n jong kind wat later in sy/haar lewe groot hoogtes bereik het.”

By wyse van lusmaker volg enkele snitte uit die betrokke digters se bydraes.

*

Zandra Bezuidenhout

Partykeer moes ek vir Pollie ’n pakkie Cavalla King gaan koop. Die kleingeld was myne, net genoeg vir ’n pakkie lekkergoedsigarette wat ek op die stoel onder­kant die teksie soos ’n groot vrou sit en “rook” het. Pol­lie het nooit vir my gelag nie. Net soms uit die bloute laat val “Jou ma sê jy’s ’n probleemkind” en die laaste woord so half tergerig uitgerek. Ek was te skaam om te vra wat dit beteken, gedink dit was seker maar ’n naam vir die oudste of die alleenste, want ek was albei.

 ———

Andries Bezuidenhout

In die Hoërskool Silverton se klaskamers beskryf kinders van weerskante Pretoriastraat mekaar onderskeide­lik as “snobs” en “krims”. Snobs en krims voer soms hul gesprek ná skool verder met vuiste by die voetganger­brug oor die Moreletaspruit. Die krims is meesal beter met die taal van vuiste as snobs. Soms het krims selfs ouer broers in die polisie. Vir snobs is dit half vreemd dat die ergste krims in die polisie beland, maar mens weet nie of mens hierdie morele vraagstuk aan dominee Wan­nenburg in die katkisasieklas kan stel nie.

Ons Silvertonners is bewus van die feit dat die kinders van Menlopark en Waterkloof ons woonbuurt “Slither­ton” noem. Gegoede mense soos Laetitia-hulle is egter nie van Slitherton nie. Hul tydslotte is bo dit alles ver­hewe. Hoeveel huise in Waterkloof en Menlopark kan met tydslotte spog?

———

Joan Hambidge

Die nag kan ek nie slaap nie. “Oh Mamy, Oh Mamy . . . Oh Mamy blue,” huil die radio. Ek weet die kind is dood en Sara hou my die hele nag vas teen haar bors. En ek sien weer en weer die motor wat die kinders tref. Skoene wat deur die lug trek in stadige beweging.

En ek wonder wie sal háár vannag vashou?

O, roos van my hof

Wat was haar naam nou weer?

Daardie kind wat onder ’n motor beland

het saam met drie en twintig ander

in ’n Lenteloop toe ons moes geld insamel.

Jy weet mos, daardie kind, wat rég voor

ons oë opgelig en neergegooi is?

Reg voor die robot waar ’n Valiant beheer

oor sy remme verloor het. Malus, -a, -um.

Alles het in slow motion gebeur

met skoene soos swaarde deur die lug.

Die een onder ’n vaal kombers,

met haar voet na binne gedraai.

Ons almal by haar begrafnis:

“Wat ’n vriend het ons in Jesus . . .”

Daardie kind wie se dood later

uitgebloei het in ’n Latynse toets:

Timidi estis en Puella pulchra est.

En vertaal: “Die rose in die tuin is mooi.”

Verdomp, wát was haar naam nou weer?

——–

Louis Jansen van Vuuren

Die swart-en-wit reghoekie het ’n skerp gekartelde randjie. Dit is ’n monochroomoomblik wat met die dwaling van tyd veraf en dof geword het. Dis nie dat mens aspris vergeet nie, maar die lewe gaan onoplettend sy gang. Die foto’tjie is met deurskynende driehoekies op die album se blaai geplak. Om die kiekie van naderby te bekyk moet ek dit uit sy rusplek lig. Die glansoppervlak­te word ’n spieëltjie in my hand waarin aspekte van my studeerkamer weerkaats: die plafonroos met die kande­laar en die venster wat uitkyk oor die tuin. Onderaan die kiekie is daar met wit Indiese ink in sierskrif geskryf: Ifafa Beach 1951.

“Inyoka! Inyoka!”

———

Marlise joubert

Die terugblik na jeugjare is een met verwondering, met nostalgie, en terselfdertyd een van vervreemding. Jy weet instinktief dat dit nooit geheel en al getrou jou eie “verlede” reflekteer nie. Daar is altyd verwarring tussen feit en ervaring. Dis ’n bewegende poel water waarin gestaltes vervorm, rondskuif en wegraak. Jou interpre­tasie word beïnvloed deur allerlei ander belewenisse, bykomende verledes tussenin, en deur jou onmiddel­like werklikheid. Gestolde oomblikke in vensters word lewend gemaak deur jou dialoog, jou eie klankbaan.

dis ’n taal wat niemand anders verstaan

wat snitte uit hibiskus speel

uit die vlamboom se tuite rooi trompet

wat krap soos witdoringnaalde in diep gleuwe –

die grammofoonkas van geheue

Wat oorbly in die magdom lae van die geheue, is dikwels net ’n gevoel, afhanklik van die tydgleuf waardeur die lig speel op die klein bloeisel wat oopgaan, wat veel meer beteken vir jouself as wat dit miskien was in ’n groter konteks.

Daar was twee plekke wat ’n rol gespeel het in my jeugjare, Levubu naby Louis Trichardt en Warmbad in die Waterberge (vandag bekend as Bela-Bela).

———–

Trienke Laurie

As baba is ek glo wild gewieg

op ’n vrolike soldatelied

en toe ek begin opskiet

trap ek hoog op sy steltevoete

“Walking on the green grass”.

Die opgeskote meisie leer

met ’n aardige hoppie ’n wals.

Die klein Griekse vaas

is deur Vader gekoop vir my

 

 

dat ek vir hom ’n roeskleur blaar

as najaarsteken daarin plaas . . .

 

Eendag het ek met my jonger sussie see toe geloop. Die vierjarige bokstertjies het haar tassie gepak met nartjies. Ons het met die blaartjiepad geloop en toe het ons ver­sigtig oor die hoofpad geloop om by die swaaie naby die see te kom. Heila was gouer verveeld en ek het haar teruggehelp oor die grootpad by die verkeerslig en self weer see toe gegaan en skulpies in die tassie gegooi. Hoe dit gekom het, weet ek nie meer nie, maar ek het later saam met ’n polisieman gestap wat sy fiets gestoot het tot by ons huis. Ons is gewiks met ’n leerband, maar erger nog: Ons moes tot twaalfuur die oggend stil lê op ons bed­dens!

———-

Clinton du Plessis

Maar, soos ek sê, dit was die tyd van Apollo 13. Die maan was hopeloos te ver om enige invloed op my lewe uit te oefen. Soms het ek saans op die stoep gesit en kyk na die affêre daar ver weg.

“Wat gaan soek hulle daar?” was my gevoel dan.

“Hulle krap in die Here se kaggel,” het Ma gewaar­sku en “Ek het julle mos gesê,” het sy vol genoegdoening gespog toe die nuus kom van die ontploffing van die suurstoftenks aan boord. Daardie aand het ek met vrees en bewing gebid dat ek nooit met die Here se kole moes bodder nie, nooit in sy rooi konka moes krap nie.

Die gedeelte van die dorp waar ons gewoon het, was gemeng. Bantoe en kleurling. Dit is hoe mense toe genoem is.

———

Hans du Plessis

Sonder ’n kettie om jou nek was jy onbehoorlik aan­getrek, eintlik ’n bietjie kaal – of jy was ’n meisiekind. Kettieklippe was volop in die berg, net partykeer as Pa by ’n bouery moes laat dak opsit, kon ons loodwassers steel en dit vierkantig kap om duiwe mee te skiet.

Meisiekinders was iewers ver op Mars of op die maan. Ook maar goed, want wat het hulle nou van ’n kettie ver­staan? Hulle kon ook nie met ’n ghoen skiet of ’n pylpunt uit ’n drieduimspyker plet nie. Van poppe en goed het ons niks geweet nie, want daar was nie meisiekinders in ons huis of in ons bende nie. Die enigste meisiekinders wat ons geken het, was die niggies wat Sondae ná kerk kom kuier het. Sondag was stilsitdag met skoene en ’n pak en ’n das – dit was sulke oneindige lang geel dae.

———–

Heilna du Plooy

Hierdie meisie met haar musieksak in die sandpad was eintlik ’n gelukkige kind. Daar was natuurlik die klein opstootjies en tienerreaksies soos in enige nor­male huis, maar die soort ontwrigting en donker weer­sin in ouers waarvan jong skrywers tans skryf, was vir haar onbekend. Sy het nie gedink sy was buitengewoon bevoorreg nie, maar in breër verband beskou, was sy natuurlik. Haar ouers wat albei onderwysers was, het hulle drie dogters aangemoedig en hoewel hulle streng was oor dinge soos selfdissipline en verantwoorde­likheid, was daar ook baie pret en vrolikheid in die huis. Dit was nie ’n lewe van luukshede of geskenke nie, want daar was nooit baie geld nie, maar daar was be­trokkenheid en sorg. Waar die pa soms geneig was om nogal streng te wees (later sou sy weet hy was gewoon oorangstig oor sy dogters se welsyn), was hy nogtans ’n ernstige en sensitiewe man en hulle ma was mooi en gemaklik en toeganklik. En die wêreld was eenvoudig: Hierdie jong meisie het soos baie van haar tydgenote min van politiek en ekonomie en sosiale problematiek geweet.

————

Louis Esterhuizen

En die dorpsirene elke aand om agtuur. O, hoe goed onthou ek die weemoedige geskal wat aandui dat alle nieblankes uit die dorp moet wees! Dit was die vroeë 1960’s en dié sirene was algemene praktyk in bykans alle plattelandse dorpe. Eers later sou ek die werklike betekenis – en implikasie – hiervan snap. Op dié tyd­stip was ek normaalweg al in my bed terwyl die sirene deur die leë strate huil en kyk ek na die ouwêreldse straatlampe wat in sulke eweredige strepe deur die Ve­netian blinds oor my bed val.

Ook Ouma se erf het ’n windpomp gehad en drie wa­tertenks op drie hoeke van die huis waar die water versamel is. Daar was nie ’n grasperk nie, maar grond wat elke oggend met ’n besembos netjies skoongevee moes word. En die breë plankstellasies waar sy haar perskes gedroog het wanneer dit persketyd was.

En die bessieboom voor die garagedeur.

———–

Henning Pieterse

Ek onthou hoe ons saam met die werkers sakke soja­bone uitslaan totdat jou hande vol blase is. Hoe ’n haan, afkop en met vlerkgeklap, oor die werf hardloop terwyl ’n dun vlies oor sy oë trek in sy afgekapte kop, eenkant. Ek onthou hoe ’n skaap spartel en skop en sy oë glasig word nadat die ergste bloed uitgespuit het, net nadat sy keel afgesny is. Ek onthou die geskree van die lammers wan­neer hulle gekastreer word en dol van pyn in die kamp rondhol, tot teen die drade in. Ek onthou hoe oom Piet, my ma se tweelingbroer, sy haelgeweer lig en ’n paar skote in ’n reusagtig hoë bloekomboom afvuur en hoe honderde vinke soos geel reën uit die takke neerdaal.

VRYSTAATSE ELEGIE

Vir A.M. Fouché 1902–1975

 

Herinnerings vergeel. Gras

verkleur in Vrystaatse winters.

Ek moes jou nie teen die einde gesien het nie,

op ’n helder middag in ’n warm stad.

Eerder ’n foto: ’n jong meisie

met rybroek, of ’n bruid met lang hare

wat jy saans uitgekam en uitgekam het.

Jy staan by ’n dennelaning, dae is vol

verhale, oor ’n oumagrootjie

wat haar ring by ’n fontein verloor het.

Ek onthou: jy is op ’n wa gebore,

in ’n brandende nag in laatwinter,

opstalle in puin soos die land

wat julle deurkruis het.

Aletta was die laaste plaas,

jou naam, Aletta, waar wind

uit die holkranse altyd waai

en sandsteen digter om vloere vou.

Op sestien, moes ek belowe,

sou ek ’n klipstapel in die middel

van die plaasdam pak. Dit is nooit

gebou nie en staan sonder offer

in herinnering. Jou foto met die tweeling

is dof. ’n Jong vrou wat deur die raam

na buite staar. Ek kyk weg.

Die ring kon ek nooit vind nie;

die wind vee alles skoon, waai

gedagtes ver en naby.

Ek het langs die denne gestap,

langs die leë dam,

en die dou het die hele dag

op die gras bly lê.

 

1 Jare later sou ek ’n gedig oor ouma Lettie skryf (uit: Alruin, HAUM-Literêr, 1989.)

 

———

Wium van Zyl

Hierdie kontrei rivierop van die dorpie Heidelberg (Kaap) is my geboorteplek, grootwordplek, staan ewig in my hart gebrand. Op ’n September-nag het ek aangekom en ná die dokter se vertrek het tant Mêggie opgedaag om vir die sekerheid ’n ou Kaapse pennie op my naeltjie te sit. Dat die werf songeel was met tulpe, van die aandblom in volle geur, skaamrosies wat bloos in die môredou, het ek toe nog nie geweet nie. Ten minste nie bewustelik nie.

My eerste skerp herinnering is van my blou-en-wit driewieletjie op die skuinserige werf. En veral dit: Op­draande is moeiliker as afdraande. Dit is ’n kwessie wat nooit weer uit my lewe sou verdwyn nie.

 ——–

Uit: Spoorvat, 2013: Lapa Uitgewers.

Saamgestel deur Riana Scheepers en Leti Kleyn.

 

 

Wislawa Szymborska – vertaling in Afrikaans

Wednesday, April 17th, 2013

Wislawa Szymborska – vert. deur Zandra Bezuidenhout & Henning Pieterse

 

AANTEKENING

 

Die lewe – die enigste manier

om oortrek te raak met blaartjies,

na asem te snak op die sand,

jou vlerke te sprei

‘n hond te wees,

of oor sy warm pels te streel;

 

pyn te onderskei

van alles wat dit nie is nie;

 

jouself na ‘n gebeurtenis te skik,

jou te verwonder aan ‘n vergesig,

te waak teen klein vergissings.

 

‘n Uitsonderlike kans

om vir ‘n oomblik te onthou

waaroor gepraat is

by die uitdoof van ‘n lamp;

 

en om jou minstens een keer

teen ‘n klip te stamp,

sopnat te reën,

sleutels te soek in gras;

 

met die oog ‘n vonkie in die wind te volg;

 

en aljimmers iets belangriks

nie te weet nie.

 

(Vert. deur Zandra Bezuidenhout, via ‘n Nederlandse vertaling uit die Pools deur Gerard Rasch in Het moment (2003).

 

 

  

OOR DIE DOOD, SONDER OORDRYWING

 

Hy het geen sin vir humor nie;

weet niks van sterre, brûe,

weefwerk, mynbou, landerye,

die bou van skepe of die bak van terte nie.

 

As ons oor die dag van môre praat,

kom hy met ‘n laaste

en misplaaste woord.

 

Sy hande ken nie eens die kunsies

van sy eie vak nie:

grafte grawe,

kiste timmer,

opruim waar hy doenig was.

 

Hy wy hom voltyds aan die dood,

maar altyd half onhandig,

sonder sisteem of plan.

Asof hy elke keer deur ons moet leer.

 

Al wen hy meermale die stryd,

kos dit hom talle nederlae,

mislukte pogings

en nuwe aanslae!

 

Soms is sy kragte selfs te power

om in die niet ‘n vlieg te vang.

En in die wedloop van die kruipers

steek menige ruspe hom verby.

 

Alle knolle en peule,

voelspriete, lugweë, vinne,

paringsgewaad en winterpels

verklap sy agterstand

en halwe werk.

 

Kwade bedoelings skiet te kort

en selfs ons hulp in oorlog en geweld

bly voorlopig onvoldoende.

 

In elke dooier klop ‘n hart.

Babaskelette word gevorm.

Sade stoot hul eerste dubbelblaartjies uit,

groei soms tot hoë bome aan die horison.

 

Wie beweer dat hy almagtig is,

lewer self die lewende bewys:

sy onmag spreek vanself.

 

Daar bestaan geen lewe wat nooit

onsterflik was nie,

al het dit maar ‘n oomblik lank geduur.

 

Die dood

kom altyd net daardie een oomblik te laat.

 

Vergeefs ruk hy aan die knop

van die onsigbare deur.

Wat iemand agterlaat,

kan hy nooit terugneem nie.

 

De mensen op de brug. 1986

 [Hervertaal deur Zandra Bezuidenhout aan die hand van Gerard Rasch se Nederlandse vertaling uit die Pools.]

 

 

Foto van 11 September

 

Hulle het van die vlammende verdiepings gespring –

een, twee, en toe nog ‘n paar,

hoër, laer.

 

Die foto het hulle lewend verstil

en hou hulle nou vas

bokant die aarde, op weg na die aarde.

 

Elkeen is nog volledig,

met `n eie gesig

en die bloed goed verberg.

 

Daar is genoeg tyd

vir hare om los te raak,

vir sleutels en munte

om uit sakke te val.

 

Hulle is nog binne die lug se bereik

binne die omvang van plekke

wat pas oopgegaan het.

 

Ek kan vir hulle net twee dinge doen –

hierdie vlug beskryf

en die laaste reël ongeskrewe laat.

 

[Uit die Pools in Engels vertaal deur Clare Cavanagh and Stanislaw Baranczak.

In Afrikaans hervertaal deur Zandra Bezuidenhout.  16 Sept. 2010.]

Wislawa Szymborska, “Photograph from September 11”. Monologue of a Dog. (Houghton Mifflin Harcourt, 2005)

 

 

Geen titel benodig nie

 

Dit het gebeur: ek sit onder ’n boom

langs ’n rivier

op ’n sonnige oggend.

Dis ’n onbenullige gebeurtenis

wat nie opgeteken sal word in die geskiedenis nie.

Dis nie soos oorloë of verdrae

waarvan oorsake noukeurig ondersoek word,

of merkwaardige tirannemoorde nie.

 

En tog sit ek langs hierdie rivier, dis ’n feit.

En omdat ek hier is,

moet ek van êrens af gekom het,

en voor dit

moet ek in vele plekke verskyn het,

net soos die oorwinnaars van koninkryke

voordat hulle uitgevaar het.

 

Selfs ’n vlietende oomblik het sy vrugbare verlede,

sy Vrydag voor Saterdag,

sy Mei voor Junie.

Sy horisonne is net so werklik

as dié wat ’n maarskalk se verkyker mag bespied.

 

Hierdie boom is ’n populier met oeroue wortels.

Die rivier is die Raba; dit het nie gister ontspring nie.

Die pad deur die ruigte

is nie verlede week gebaan nie.

Die wind moes die wolke eers hierheen waai

voordat hy hulle kon wegwaai.

 

En alhoewel niks gewigtig hier naby gebeur nie,

is die wêreld daardeur nie behoeftiger aan besonderhede nie.

Dit is net so begrond, net so noukeurig

as toe nomade dit oorwin het.

 

Sameswerings is nie al wat in stilte gehul word nie.

Optogte van redes sleep nie slegs agter kronings aan nie.

Herdenkings van revolusies mag aanrol,

maar so ook spoelklippies wat die baai omsirkel.

 

Die tapisserie van omstandigheid is verwikkeld en dig.

Die mier se soom in die gras.

Die gras gestik in die grond.

Die patroon van ’n golf geborduur deur ’n tak.

 

So gebeur dit net dat ek is en ek kyk.

Bokant my fladder ’n wit skoenlapper deur die lug

met vlerke wat heeltemal syne is,

en die skaduwee wat deur my hande skeer

is slegs dit, niemand anders s’n nie, net syne.

 

Wanneer ek sulke dinge sien, is ek nie meer so seker

dat wat belangrik is meer belangrik is as die onbelangrike nie.

 

[Vertaal deur Henning Pieterse]

 

Andries Bezuidenhout. Bondige verslag oor gisteraand se poësievoorlesing

Friday, June 12th, 2009

Daar was nie dwerge met silwer skinkborde vol lyne kokaïen wat tussen skares met honger neuse rondloop nie. Daar was nie burleske dansers wat “allerliefste, ek stuur vir jou ‘n rooiborsduif” prewel nie. Daar was nie joernaliste van die smetpers om mense se indiskresies te boekstaaf nie. Daar was blykbaar van die jonger geslag sepiesterre, maar ek besit nie ʼn TV nie en kon hulle dus nie eien nie. Daar was ʼn hele paar stoele sonder boude. Ek weet nie eers of al die kopieë van In die begin was die woord eienaars met CD-spelers gekry het nie.

Maar dit was ʼn wonderlike aand met baie hoogtepunte. Ek is vanoggend (is dit nog oggend?) te moeg om alles neer te skryf. Ek het drieuur deur digte mis terug Johannesburg toe gery. Dalk was die hoogtepunt vir my toe Henning Pieterse soos ʼn monnik wat blasfeem sy gedigte deur die mikrofoon lees terwyl Riku Lätti met ʼn bierglas musiek op sy snare maak.

Ek dink dit was Niel van Deventer wat gisteraand vertel het van die blog wat hy vir homself skryf. Dis seker maar wat ʼn mens met ʼn blog doen – vir jouself skryf. Ek sal later, as ek meer energie het, vollediger vir myself verslaglewer.

Charl-Pierre Naudé. Analise van ‘n gedig deur Danie Marais

Thursday, May 14th, 2009

Al is die poësie ’n misverstand:

’n Bespreking van “Geskiedenisles” deur Danie Marais

 

Die genoemde gedig kom uit Marais se pas verskene, tweede bundel, Al is die maan ’n  verstand.

   Ek het die gedig reeds bespreek in ’n handleiding vir leserskringe as by uitstek tiperend van Marais op sy beste.

   Dis interessant dat juis hierdie gedig deur twee resensente, Henning Pieterse in Rapport asook Ampie Coetzee op Litnet (in oorwegend positiewe resensies) uitgesonder is as ’n gedig wat liefs uit die bundel weggelaat moes gewees het.

   Op my beurt is ek nie sonder kritiek op die bundel nie, maar ek beskou “Geskiedenisles” as aan die spilpunt van dit wat Marais tans tot die Afrikaanse poësie toevoeg. Dis een van die handvol belangrikste verse in Al is die maan ’n misverstand. 

   Die menings van die twee resensente oor hierdie gedig, en my eie kan nie verder uitmekaar wees nie. Beide Pieterse en Coetzee se menings lyk oorwoë. Ek glo my eie is ook.

   Hoe dan so uiteenlopend?

   Dit lyk vir my dat die konvensies waaruit Marais se gedigte put minder algemeen herkenbaar binne Afrikaanse konteks is as baie ander digters s’n, soos by Loftus Marais byvoorbeeld.  Hiermee sal Henning met my saamstem. 

   Kan dít dalk ’n aanduiding wees waarom?

   Intussen verwys ek lesers na hierdie resensies by wyse van ’n ander mening.

   Die poësie van Danie Marais is tans deel van ’n breër stroming in Afrikaans wat wys dat daar ’n behoefte is aan ‘n ander soort mimetiese grammatika in ons poësie as wat histories aan ons oorgelewer is.

    Vir my is dit veral in van die langer gedigte soos “Geskiedenisles” waarin die prestasie van die bundel lê. Nie die minste omdat die verskuiwing in mimetiese spel hier op sy opmerklikste is. Beide die langer “Kamers” en “Oom Thys en die kinders” is deur resensente uitgesonder as gedigte wat weggelaat moes gewees het. Bernard Odendaal se resensie in Volksblad lyk  my weer nader aan my eie.

   Ek gaan nou ’n analise van “Geskiedenisles” waag, maar lees eers die gedig.

 

Geskiedenisles

 

In die African Window Museum in Pretoria

voel dit of jy loop

deur die stel van ’n ou Star Trek-episode –

alles, ’n outydse weergawe van die toekoms.

 

In die kafeteria bedien kelnerinne

met stadige, breë glimlagge

geroosterde ham, kaas en tamatie-toebroodjies

langs groot glasvensters uit die 70’s

teen pryse uit die 80’s.

 

Daar’s ’n waardige swart vrou

met ’n groot kliniekbril op en ’n mop

wat in streng Afrikaans verduidelik

wanneer jy in Engels vra

waar die toilette is.

 

Ek en drie ander onderwysers is daar

saam met ’n woelige, verveelde groep graadsesse.

 

’n Senuagtige – wit – museumgids

met ’n paar etniese oorbelle aan

probeer woorde vind

wat graadsesse sal verstaan.

Sy sukkel.

Die kinders luister met ongeduld na terme soos

“anthropology”, “culture” en “aesthetic”

nes hulle wantrouig kyk na Themba Ghule

se houtbeelde – Ancestral Spirits.

 

By ’n lewensgrootte replika van Rembrandt se Nagwag

verduidelik ons gids die toneel is oorspronklik geverf

in die tyd van Jan van Riebeeck.

Sy noem Van Riebeeck “the man who got so much credit

as the founder of South Africa.”

“Why is it wrong,” vra die gids,

“to say he was the founder of South Africa?”

“Because there were already people living here,”

antwoord ’n ronde swart seuntjie met blink bolwange.

“Very good,” sê die gids

met haar beste kinderglimlag.

“Do you know which people?”

“The Bushmen, Miss” –

dieselfde outjie.

“That’s right, but we say

the San people,” straal die gids.

“He really is a bright spark!” sê ’n kollega van agter.

“They are all bright sparks. Some just show it more often

than others,” korrigeer ons gids behulpsaam.

“I thought the Hottentots were here first?”

fluister ’n seuntjie onder my neus.

Geen antwoord.

 

Van Rembrandt beweeg ons na die Coert Steynberg-versameling.

“This is one of our most valuable collections,” sê die gids.

Die kinders kyk rond om te probeer verstaan hoekom.

Die beelde staan verleë rond,

figure in ’n vreemde skaakspel.

“Coert Steynberg was a sculptor from Pretoria,

but he had a farm where the workers were Ndebele people,”

verduidelik ons gids.

“He could speak Ndebele

and was very fond of the people on the farm. As you can see,

they inspired some of his work.”

Sy wys na ’n bronsbeeld van ’n vrou wat water dra.

Die lyne neig na abstraksie.

“Which one of these works would you think is the oldest?”

Bolwangetjies steek weer hand op.

“Yeees?” sê die gids afwagtend,

hande agter die rug,

soos ’n sonneblom na die kinders gebuig.

“The white lady who came with the boat,”

sê Wangetjies en wys na ’n baie realistiese

borsbeeld van Steynberg se dogter, Isa.

Isa se hare is streng in haar nek vasgebind.

Sy lyk soos ’n formidabele boervrou

uit my ouma se fotoalbum.

Daar is ’n borsspeld op haar bronsbors.

Die datum by die beeld is 1938.

“Yeees,” sê die gids,

maar dié keer onseker.

’n Rooskleurige glimlag vries ongemaklik

op haar bleek gelaat.

“It is the oldest sculpture here,

but it is not quite that old, ” kom die woorde aarselend,

voor sy ’n oomblik nadink

en skielik heftig – en nie net namens Isa Steynberg nie – sê:

 

“But this … this white lady did not,

did not,

come with a boat.”

 

’n Museumgids verduidelik aan skoolkinders die beduidenis van omringende kunswerke, en gee so tussen die reëls blyke van die herskrywing van die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Op tragiekomiese wyse kom allerlei teenstrydighede egter aan die lig. Daar word onder meer op bedekte wyse na  die manupulering van maatskaplike identiteit verwys. 

   Dit val onmiddelik op dat die gedig lyk soos prosa. En vir sommiges mag dit ’n bietjie soos ’n kortverhaal klink.

   Díe indruk mag te wyte wees aan die illusie van ’n afwesigheid van poëtiese spel waarop Marais se gedigte steun. Die gedig moet ’n gedig wees “sonder om te lyk soos een“.  Sodoende word die leser “in die lewe self“ geplaas, nie net in ’n “weergawe van die lewe“, soos by ’n konvensionele gedig waar ’n groter klem op die retoriek val. Marais verwys telkemale in sy gedigte na kameras. Die idee is teenwoordig dat sy gedigte gewone momente uit die lewe vasvang soos dit “regtig gebeur“. Ons het hier iets van die gedig as webcam. 

   Ek gebruik die woord “illusie“ hierbo – want as mens mooi gaan kyk is die spanninge van ’n gewone gedig weldeeglik hier teenwoordig, dis net versteek en op ander wyses teenwoordig.

   Maar daar is in “Geskiedenisles“ wel konvensionele klankpatrone aanwesig, hoewel spaarsamig, wat bindend en digterlik werk. Sulke klankpatrone sal dubbeld versteek wees vir diegene wat nie verwag om dit raak te sien binne ’n andersoortige metriese aanbod, wat hier ’n soort praatvers is.

   Die gedig in sy geheel het ’n elegante vloei, wat vindingryk van vaart en emosionele sleutel verander.

   Ek wys op enkele klankmatige grepe wat emblematies is van die res van die gedig: “kelnerinne/ met stadige, breë glimlagge“ (strofe 2). 

   Rym/halfrym: “glasvensters70s80sis … onderwysers … museumgids … ancestral spirits … credit  gids … miss“ (eerste strofes). Dié klankpatroon strek oor verskeie strofes heen.

   “Toilette/graadsesse“ (strofes 3 en 4).

   Merk ook ’n patroon soos die volgende : “Pretoria/Ndebele/water dra/ Isa“. Deur ’n klem te plaas op elk van die genoemde, wyd gespasieerde rym/halfrym-woorde word die knooppunte in ’n  historiese verhaal resonerend in die agtergrond gewek. Die leser behoort nou al te merk dat ons hier met ’n bedekte politiese gedig te make het.

   Tot aan die einde is die versteekte klankspel aanwesig: Die herhaling van ’n klemdraende, geslote halfklank in “not” en “boat” dra byvoorbeeld by tot die sterk ontkenningseffek in die slot.

   Dis egter belangrik om daarop te let dat die gedig vir sy spanninge nié primêr op klankeffekte steun nie. Die vernaamste eenhede wat die poëtiese spanninge verskaf is in vertelling, beelding en emosionele spel geleë, en in kombinasies hiervan.

   In bepaalde opsigte klink en lyk die gedig soos prosa. Maar die vertikale rankskikking, d.w.s. in digvorm, van terme – sinsnedes, woorde, ensovoorts – toon dat die elemente in “digterlike“ interaksie gelees wil word. Met ander woorde, die aandag word daarop gevestig dat die terme in die eerste plek metabetekenisdraend – byvoorbeeld, metafories of simbolies – is en dat die storie hoofsaaklik in diens hiervan staan. By prosa is die relasie veel meer gelyklopend.

   Die eerste reël praat van die African Window Museum in Pretoria. Maar die digterlike klem sê iets gans anders is ter sprake, naamlik “ ’n venster op Afrika“ (ons deel daarvan).  Die metaforiese lading is dermate beklemtoon dat hierdie lading nou voorop staan vir die duur van die res van die gedig.

   Die tweede beduidende term is “Star Trek“.  As dit nie die televisiereeks is wat ter sprake is nie, wat is dan? Die afstand tussen sterre, en by implikasie: ’n baie groot afstand, of gaping. Tussen wat? In die daaropvolgende reël: “outydse weergawes“ en “die toekoms“.

    In strofe 2 val een term spesifiek op: “ham-en-kaastoebroodjies“, dus kitskos (soos die gedig ontplooi blyk dit dat “gemorskos“ meer gepas sou wees). In die lig van die voorafgaande, sal die term by implikasie nie verwys na kos nie, maar na verpakte “weergawes“ van “die toekoms“.

   In ’n baie kort bestek – inderdaad ’n verdigte bestek – het Marais al veel gesê oor die nuwe Suid-Afrika.  Hier het ons ’n voorbeeld van digtheid wat min met sintaktiese beknoptheid uit te waai het.

   Die terme “langs groot glasvensters uit die 70s“ en “teen pryse uit die 80s“  aktiveer by ’n  tweede lees een van die kostelike teenstrydighede wat tiperend is van die gedig. Want gaan dit hier nie juis oor die oordra van ’n weergawe van die geskiedenis wat die 70s en 80s bevraagteken nie? In daardie jare was erge simboliese manupulering deur die bewindhebbers aan die orde van die dag. Die pas aangehaalde frases impliseer egter dat dit dieselfde ou wyn is wat hier in nuwe vate geskink word.

   As die terme in die res van  die gedig noukeurig beskou word, sal dieselfde vlak van digterlike spanning as wat ek hierbo aantoon, deurgaans uitgelig kan word. Een laaste voorbeeld: “die beelde staan verleë rond/ figure in ’n vreemde skaakspel.“ Hierdie uitstekende beskrywing van die rankskikking van uitstalstukke in ’n museum beteken in die eerste plek iets gans anders, naamlik dat hier ’n politieke magstryd aan die gang is.

  Ek wil nou enkele betekenispatrone uitlig waarop die gedig vir sy spanninge steun. Hierdie patrone is net so vormgewend en bindend as wat taalkundige patrone by ’n meer konvensionele soort gedig sou wees.

   Daar is die patroon van eenstemmigheid, wat die konteks van politieke korrektheid suggereer. Kyk na die volgende sinsnedes: “Very good”; “That is right”; “really is”; “They are all”; “This is one”; en dan veral, “Yees?” asook “Yees”.  Die patroon van eenstemmigheid skep die een pool van die spanning wat sorg vir die skitterende afloop van ontkenning in die laaste strofe met ”did not … did not”.

   Daar is die patroon van woorde wat aankoms suggereer. Die feit van aankoms suggereer binne gedigverband onegtheid, en sy teenpool van egtheid is “te lande ontstaan“. Die swyende implikasie is dis die “setlaars“ wat “aangekom het“ en die “inboorlinge“ wat “hier was“.  

   Dié patroon van aankoms verskaf ’n polêre spanning wat in die laaste strofe op sy kop gedraai word waar “aankoms“ en “hier was“  onverwags plekke ruil en die gids se politiek korrekte lesing in duie stort.

   Woorde of instansies wat hierdie patroon aandui is die kinders wat aankom by die museum (strofe 1); “Van Riebeeck“ (strofe 6); en ”the white lady who came with the boat“ (wat vermoedelik verwys na Van Riebeeck se vrou; strofe 7). Die teenpool, outentisiteit, word gevind in “San people”, “the Hottentots”, “Ndebele” en veral “oldest” (strofe 7).

   Verder is daar die patroon van beskouing, wat die verydelde strewe na “waarheidsverkryging“ aandui : “Window“ (strofe 1); “die stel“ (van Star Trek) (strofe 1; ’n film word besigtig); “glasvensters” (strofe 2); “museumgids“ (deurgaans; wat besigtiging reguleer); ”luister“ (strofe 5); “Rembrand se Nagwag (strofe 6); beelde (in die museum, strofe 7) en ander.

   Al hierdie patrone word opgestel om eenklaps in die laaste strofe op hul kop gedraai te word.

   En net voor ek daarby uitkom, wil ek iets oor die klem op karaktertekening sê. Al was hierdie nie ’n “propperse“ gedig nie, gaan jy ver soek in die onlangse Afrikaanse prosa vir beter karaktersketsing. Vir die noukeurige leser sal ’n beskrywing soos “In die kafeteria bedien kelnerinne/ met stadige, breë glimlagge“ op aandoenlike wyse die onbewustelik-sensuele bewegings en gebare van vroue van ’n bepaalde rassegroep oproep.

   Helaas, die karaktersketse staan egter almal ondergeskik aan ’n simboliese of metaforiese moment, dus in ’n poëtiese verdigting.     

   ’n Mooi voorbeeld is strofe 5 – die kinders wat enersyds verveeld is met die akademiese woorde (waarin hul identiteit van nuuts af uitgeworstel word), maar andersyds wantrouig staan teenoor die beelde van die heengegane voorvaders (toe hul identiteit nog vanselfsprekend was). Die digte metafoor wat te voorskyn kom vervang as’t ware die blote skets van die kinders.

   En nou, die slotstrofe, waarin die gedig se uiteindelike betekenis verstar, of stol. Soos ons elders in die gedig gesien het, verwys frases dikwels na ’n punt agter die relaas. Die betekeniseenheid “’n vrou wat kom in ’n boot” het ’n argetipiese – in dié geval, simboliese –  betekenislading en roep vele verhale op, van Nefertiti in haar boot op die Nyl tot haas enige eksotiese of “verhewe“ arrivering, insluitende dié van Van Riebeeck en sy vrou.

   Die gids is nie net besig om haar plek in Afrika op te eis in weerwil van haar eie politiek korrekte lesing nie. In ’n oogwink besef sy dat wat sy die kinders leer nié verhewe is nie, nié morele of politieke hoëgrond is nie, nié ’n arrivering is nie, maar dat dit net soos sy, “van hier“ is.

   En dus is dit deel van die wesenlike, omringende verwardheid. En die enigste troos is dat dit óns verwardheid is.