Posts Tagged ‘Hilda Smits’

Digstring: “Vir Primo Levi” (Hilda Smits)

Monday, March 13th, 2017

vir Primo Levi

 

klein man. jy sing vanuit die diep long van ’n tweede graf,

selfs nou vertel die uile van jou hande die storie van jou

eerste dood. ek luister na die alewige drup van die groot

honger teen jou slape. hier marsjeer almal op krukke, hoor

die musiek soos ’n enkele skoot teen die kop. jy slaap op

’n brokkie brood, op die bloederige hart van ’n mossie –

droomlose nagte in die spelonk van jou hol maag. elke rooi

oggend, klam oog van die dood. hoeveel jaar klein man in

een dag? marsjeer marsjeer marsjeer jy nog? of verken jou

voete uiteindelik diep poele slaap, wit sneeu, nuwe dae

soos stilgeboortes sonder einde? om tent op te slaan teen

die hange van jou hart, kan ek nie maar ek luister klein

dapper man na jou droomlose slaap in vlak waters van

פחד.                 aufstehen! word wakker in skrywe, ek luister,

ek luister. in die honger donker (en in die lig) spits ek die

vlamme van my ore, stil stewels van geweld, die stom val

van die sneeu.              marschieren! met die swak bene

van ’n kleuter. klein man. hier herkou almal aan die

benerige oorskot van die vroeë dood.

 

 

  1. Wanneer het jy dié gedig geskryf. Hoe het dit ontstaan?

 

Tydens Versindaba se beeldgedigkompetisie in 2013. Ek dink die gedig het twee harte. My man, Ben, se ouma, ‘n Auschwitz-oorlewende, wat ek vroeër daardie jaar ontmoet het. En Primo Levi. Ek het sy outobiografie, If this is a man, net voor die kompetisie gelees.

 

  1. Kon jy dié bepaalde gedig vinnig tot in sy finale vorm afrond, of het dit deur verskeie weergawes na sy finale vorm ontwikkel?

 

Die gedig was baie hardkoppig & het vir ure halsstarrig vasgeskop. Ek skryf nie van nature met ‘n spesifieke onderwerp in gedagte nie, so die proses het nie vir my organies gevoel nie. Ek moes die eerste paar reëls soos water uit ‘n klip pers & daar was geen vloei nie. Dit was eers toe ek die swaar liggaam van die beeldgedig soos ‘n wafferse lid van die mafia oorboord gegooi het, toe sy soos ‘n vis haar grate begin wys het, toe ek my oor teen haar flank kon lê.

 

  1. Hoeveel van dié vers is aan jou “gegee” en hoeveel daarvan was die resultaat van wroeg en sweet?

 

Ek dink nie die “gegee” kan van die wroeg & sweet geskei word in hierdie geval nie. Die hele storie het gevoel soos om ‘n wilde merrie in te breek, eers wild & toe mak & toe weer wild maar soos iets wat my hande ken.

 

  1. In welke mate het die vers sy finale vorm bereik? Het jy byvoorbeeld die een of ander ordeningsbeginsel toegepas?

 

Ek dink die ordeningsbeginsel is op my toegepas. Ek hou van die gedig soos wat sy nou hardloop.

 

  1. Het jy die vers gedurende sy vormingsproses aan iemand gewys en of mee bespreek? Is daar iemand (of instansie) wat jy as klankbord gebruik terwyl jy aan ’n vers werk?

 

My suster, Alet, het destyds saam met my in Londen gebly. Ons het by ‘n local pub ‘n bier gaan drink & ek het die gedig vir haar voorgelees. Ek was onseker, maar sy het baie van die gedig gehou.

 

  1. Hoe lank na die vers voltooi is, het jy dit laat publiseer? Waar het die betrokke vers die eerste keer verskyn?

 

Die gedig is kort daarna op Versindaba gepubliseer, en later daardie jaar in Nuwe Stemme 5.

 

  1. Kan jy ietsie sê oor die kwessie van “feit” en “fiksie” in dié vers?

 

Ek dink die kwessie van feit & fiksie is ‘n tweeling. Daar is die interpretasie van feit, die blinde voel van vingers na die onderliggende, na die oorsprong van water, na Auschwich. Miskien as deel van dit die soeke na ‘n narratief, ‘n storie wat op vaste voete onder die hof se strak ligte & onder ster lig kan staan. Feit & fiksie ook as Bruno Schulz, die skrywer van The street of crocodiles, ‘n verskyning maak met “…hoor die musiek soos ’n enkele skoot teen die kop…”.

 

  1. Kan jy kortliks sê waaroor die vers, volgens jou, handel?

 

Oor ‘n klein man, oor ‘n man, oor Primo Levi. Oor Rosa Eisenberg. Bruno Schulz. Oor probeer diep luister.

 

  1. Was daar dalk iets (boek/musiek/film/skildery) wat ’n bepaalde invloed op die tot standkoming van dié betrokke vers gelei het?

 

Primo Levi se outobiografie, If this is a man.

 

  1. Het jy ’n bepaalde leser, of gehoor, in gedagte wanneer jy aan ’n vers werk?

 

Die gehoor is saam met die beeldgedig oorboord gegooi sodat ek die gedig beter kon hoor. Ek dink Vilhelm Hammershøi het die regte idee beetgehad deur sy vroue in hoeke & agter tafels te posisioneer & van agter te skilder.

 

  1. In welke mate verskil hierdie vers van jou ander gedigte?

 

Ek hou nie regtig daarvan om aan verskille tussen my gedigte te dink nie. Ek moes wel meer wroeg & sweet, en was verlig gewees om te sien dat ‘n gedig soos water uit ‘n klip gepers ook hart het & klop.

 

  1. Is daar iets in dié vers wat jy as tipies “Suid-Afrikaans” sal beskou?

 

Nie regtig nie. Miskien iets van taal self, die manier hoe sy soos Jona se vis alles insluk & haar eie maak.

 

  1. Kon jy dié vers tot ’n bevredigende punt afhandel, of het jy dit maar ten einde laas “versaak”?

 

Soos genoem, ek hou van die gedig soos sy is.

 

  1. Was jy tevrede met die lesers se reaksie na die skryf (of publikasie) daarvan?

 

Ek was bly oor my suster, Alet, se reaksie.

 

  1. ‘n Laaste vraag, ter wille van die interessantheid: Kan jy nog die eerste vers wat jy ooit geskryf het, onthou? Indien wel, vertel ons ietsie daarvan?

 

Ek was (9). My ma het vir my ‘n boek met bruinpapier oorgetrek, “Hilda se versies”, omdat ek alewig woorde gesoek het om te laat rym. Die gedig het ook vir jare in my ouma se kombuis gehang.

 

daar dans ‘n gans

op my ma se vloer

voel politoer

hy het toe gegly

en ons was te bly

hy het nie seergekry

ons plaas hom toe terug

onder die brug

hy was tog te bly

hy is weer vry.

 

(c) Hilda Smits / Maart 2017

Erkenning: Die konsep van Digstring is ingegee deur Brian Brodeur se benadering op sy weblog “How a poem happens”.