Posts Tagged ‘Hillbrow’

Andries Bezuidenhout. Jou sente, jou drome, jou toekoms vol gate

Friday, April 23rd, 2010

Vlieswolke vanoggend, regte Hoëveldherfs. Iemand stuur ʼn link aan na ʼn video van Leonard Cohen – ʼn lied oor die Chelsea Hotel in New York wat hy vir Janis Joplin geskryf het.

Ek dink weer oor die Chelsea Hotel waaroor Johannes Kerkorrel geskryf het. Die een in Hillbrow. Ek het onlangs daaroor in ʼn rubriek geskryf:

Reg van onder lyk die Hillbrow-toring spookagtig vreemd.

Dis skemer en dit reën onophoudelik. ‘n Mens kan wilde reënvlae sien in die spreiligte se strale wat die groot sokkerbal om die toring se skag verlig. Dit lyk soos iets uit ‘n futuristiese fliek.

Ek wou my vriend Denver, wat op besoek is van Namibië, wys hoe lyk Hillbrow; gedink ons kan vinnig deur ry op pad Melville toe. Johannesburg se donderbuie het egter ander planne gehad.

Iewers het afvoerpype verstop en kitsriviere het van die strate onbegaanbaar gemaak. Nou sit ons in die verkeer vas tussen toetende taxi’s se aggressie en luierende busse se dieseldampe. Niemand beweeg nie, slegs voetgangers wat deur stilstaande voertuie vleg.

Die petroltenk se liggie begin flikker. Ek skakel die kar af om brandstof te bespaar.

“Weet jy darem waar ons is?” wil Denver weet. “Ja,” lieg ek, “moenie bekommerd wees nie.”

Dis dié dat ek die toring soek. As jy in Johannesburg verdwaal sê die torings vir jou waar jy is. Wel, dink ek, ons is iewers rég onder die toring.

Hillbrow voel soos ‘n vreemde land. So min van die ou landmerke is oor. Fontana is ‘n franchise in die voorstede. Estoril Books het elders heen getrek.

“Die ligte gaan aan in die Chelsea Hotel en stemme en musiek klink in elke woonstel,” hoor ek Johannes Kerkorrel in my kop sing. “Gee jou hart vir Hillbrow…”

Ek dink aan ‘n tydjie gelede toe ek en Irma ná ‘n begrafnis in Venda te kapot was om terug te ry Johannesburg toe. Net noord van Louis Trichardt het ons ‘n ouwêreldse hotel opgespoor en besluit om oor te bly.

Die kamers het ‘n mens laat voel of jy steeds in die 1970s is. Kelners in outydse uniforms het maaltye in die eetsaal bedien. Aandete het uit vyf gange bestaan: Sop, vis, ‘n hoofgereg met groente uit skottels van vlekvrye staal, nagereg, en dan kaas, beskuitjies en koffie.

Ons het gelag en gewonder of hierdie tradisionele benadering nog in Engeland bestaan. In Londen eet meer mense Sondae Indiese hoender tikka as die tradisionele “roast beef”. ‘n Mens moet deesdae Louis Trichardt toe kom vir ‘n outentieke Engelse hotelaandmaal, of dalk vele ander plekke in die voormalige kolonies.

Een van die kelners wou weet waar ons vandaan kom. Hy’t ook in Johannesburg gebly, het hy gesê. Hy’t sy oë gerek toe hy oor Hillbrow praat: “Yes, Hillbrow, that’s where all the ducktails are…”

Denver pomp my met sy elmboog. Die verkeer het weer begin beweeg. Ek skakel die kar aan en ons ry verby die Chelsea Hotel, waaroor Johannes Kerkorrel gesing het. Ek kan onthou hoe ek in die vroeë 1990s bier op die stoep gedrink het.

Vir ‘n tyd lank was die gebou stukkend; slierte verf het aan die mure gehang en die vensters is met plate saamgeperste hout toegespyker. Nou is dit weer in mooi skakerings geel en beige oorgeverf. Dis nie meer ‘n boheemse hotel nie, maar ‘n gewone woonstelblok. Die art deco-styl het darem behoue gebly.

Dinge verander so vinnig. Daar is soveel wat verval, of sommer in duie stort. Soms word daar weer opgebou, oorgeverf. Ek slaan my oë op na die sokkerbal teen die toring. Hel, dink ek, is dít waar ons hulp vandaan moet kom?

Op die sypaadjie stap ‘n vrou met ‘n baba op haar rug. Haar gesig blink in die reën. Sy weet dit nie, maar iewers is daar nog ‘n Hillbrow met ducktails. Hulle herkou steeds aan taai stukkies kougom en spin wheelies met Sheilas agterop hulle motorfietse.

Maar dis nie in Hillbrow nie. Dis in die geheue van ‘n kelner by ‘n hotel net noord van Louis Trichardt.

Lees die oorspronklike rubriek hier.

Andries Bezuidenhout. Hul laaste dae in Johannesburg, skets 1d

Monday, November 16th, 2009

1
Teen skemer die halfdonker lug,
die lae son wat laaste helder kleure
onder ʼn donker wolkmat invee –
die mynhope se geel, sinkdakke se rooi,
jakarandas se pers en almal hou asem op,
selfs die verkeer op die M1,
vir daardie helder stilte in ʼn oomblik…
nou nog stil, stil… en dan
die dreuning, ʼn blits, ʼn knal.
In die bosveld, selfs die woestyn, of die see;
ʼn moontlike onderwerp vir Constable of Turner

maar waar ons woon:
soos patrollieligte
teen ʼn agterstraatmuur.

Asblikke as wakers
rommel as stakers.

2
“It would not occur to us to demand a prescription for nostalgia. Yet in the seventeenth century, nostalgia was considered to be a curable disease, akin to the common cold. Swiss doctors believed that opium, leeches and a journey to the Swiss Alps would take care of nostalgic symptoms. By the twenty-first century, the passing ailment turned into the incurable modern condition. The twentieth century began with a futuristic utopia and ended with nostalgia. Optimistic belief in the future was discarded like an outmoded spaceship sometime in the 1960s. Nostalgia itself has a utopian dimension, only it is no longer directed toward the future. Sometimes nostalgia is not directed toward the past either, but rather sideways. The nostalgic feels stifled within the conventional confines of time and space.” – Svetlana Boym.

3
Toe hy vanoggend werk toe ry moet hy lank by die kruising met Bezuidenhoutstraat wag vir ʼn aantal vragmotors om verby te ry. Agterop is mans in rooi oorpakke, sommige het helms met perspex visors op hulle koppe. Op hulle rûe staan in wit: “Red Ants.” Die skoktroepe van stedelike vernuwing. ʼn Hele tyd gelede het hulle begin met die restourasie van die Chelsea Hotel in Hillbrow. Dis in verskillende skakerings beige geverf. Seker nie onvanpas vir ʼn Art Deco-gebou nie. Maar dis nie meer ʼn hotel nie.

4
Liewe Laetitia, ek het lanklaas geskryf,
jy weet, dinge gaan maar rof in hierdie bedryf,
geen tyd meer vir vriende, of tyd om te onthou,
ʼn vinnige e-mail om kontak te hou.

My kitaar is vol stof waar dit staan in die hoek,
na die trek van die Kaap af is al my LP’s nou soek,
daar was bokse vol foto’s, leggers vol briewe,
die uitsorteer laat ek nou maar oor aan die diewe.

En ek weet nie meer vir wie om my hart te gee nie
en tog het ek nooit daai ou songs verleer nie.
Dis net werk toe wat ek nog deur Hillbrow ry…

Jy weet, ek ry nou die dag verby die Chelsea Hotel,
vensters toegespyker, haar dae is getel,
geen Mini-Cult Cinema, geen Estoril Books.
Hoe gaan dit in Londen, het jy gevind wat jy soek?

En ek weet nie meer vir wie om my hart te gee nie
en tog het ek nooit daai ou songs verleer nie.
Dis net werk toe wat ek nog deur Hillbrow ry…

Bernoldus en Kerkorrel is albei dood
en Kombuis se kinders is al amper groot.
Laetitia, ek weet ek moet jou keuse respekteer,
maar tog moet ek sê ek het iets geleer:

Al weet ek nie vir wie om my hart te gee nie
en al weet ek nie hoe het ek liefhê verleer nie.
Dis net huis toe wat ek nog deur Hillbrow ry
tog is ek vasgeanker, moet ek hier bly,

is ek deel van hierdie land met liefde en haat,
het ek te veel gegee en te veel gevat
om die donker land nou te verlaat,
om die donker, donker land nou te verlaat.

So nag, liewe Laetitia, jy moet lekker slaap,
ek druk alweer “delete”, laat ons dit hierby laat.
Droom sagte drome in die noordelike nag,
in die suide van Afrika sal ek vir jou wag.

5
Elke dag ry hy met Empireweg langs tot in Louis Bothalaan. Hy kan nie help om te lag oor die name van die twee strate nie. Wanneer word die bordjies verhang? Van Hillbrow se mooiste woonstelblokke is op hierdie kruising. Tegnies is dit seker Berea, nie Hillbrow nie. Hy kom op ʼn boek af in ʼn muwwerige boekwinkel. Die boek se naam is Lost Johannesburg. Dit gaan oor al die geboue wat in die stad gesloop is. Dit het ʼn foto van hoe die interseksie van Empire en Louis Botha lank gelede gelyk het. Daar was ʼn verkeersirkel. Pragtige woonstelblokke. ʼn Bushalte. Fonteine. Die hele sirkel het ʼn argitektoniese eenheid gevorm.

6
Uitvalgrond.

7
Verwysings: Svetlana Boym. 2002. The Future of Nostalgia. Basic Books; Pamila Gupta. 2009. “The Future(s) of (Colonial) Nostalgia or Ruminations on Ruins.” Johannesburg Salon, volume 1, pp. 55-57.

Andries Bezuidenhout. Francois en Francois Pienaar

Thursday, October 29th, 2009

Kan jy die verskil sien? Ek kan nie die verskil sien nie. Kan jy die verskil sien? Ek kan nie die verskil sien nie. Kan jy die verskil sien? Ek kan nie die verskil sien nie.

My ondigterlike grappie vir die dag. N.a.v. Melt Myburgh se foto van Lorca en Dali en die akteurs wat hulle speel. Ek lees toevallig op die oomblik Lorca se New York-gedigte.

Ek ry in spitsverkeer werk toe. Ek het my rekenaar by die huis vergeet. Ek ry terug huis toe. Die verkeer is rustiger. Daar is Casspirs in Hillbrow. My rekenaar is nie by die huis nie. Ek vind dit in die kar se kattebak. Ek ry terug werk toe. Die strate is nou heeltemal stil. Ek is al een wat oor is op die pad. Is dit die wegraping, of is almal in Lindela opgesluit?

Johann Lodewyk Marais. In die helfte van ’n sin

Sunday, August 23rd, 2009

Die ou biblioteek in die stadsaal op Harrismith is vir my omtrent net so belangrik soos die Queen Vic in Hillbrow, waar ek gebore is. 

In daardie biblioteek het my groot lees begin. En eendag het ek oom Nic Duursema, burgemeester en eienaar van die VC-kafee, vir Miss Ivy Petty, die bibliotekaresse, hoor sê: “Ek is lief vir boeke. Ek kan tot laat in die nag lees en sommer in die helfte van ‘n sin ophou.” 

Ek was gekweld. Enkele jare daarna by ‘n toespraak oor lees deur die beroemde George Steiner wou ek my hand opsteek en vra of hy miskien weet wat oom Nic bedoel het.