Posts Tagged ‘HJ Pieterse’

Dansende Digtersfees, H.J. Pieterse (Suid-Afrika)

Monday, April 28th, 2014

Nog ‘n Suid-Afrikaanse digter wat vanjaar tydens die Dansende Digtersfees in aksie gaan wees, is HJ (Henning) Pieterse wat in 1960 in Wageningen in Nederland gebore is. Sy digdebuut, Alruin, verskyn in 1989 en word bekroon met die Eugene Maraisprys, sowel as die Ingrid Jonkerprys. In 1998 verskyn ‘n bundel kortverhale, Omdat ons alles is. In 2001 neem hy deel aan “Dichters in het Elzenveld” (Antwerpen) en “Poetry International” (Rotterdam). Sy tweede digbundel, Die burg van hertog Bloubaard (2000), word in 2002 bekroon met die Hertzogprys. Later vanjaar verskyn sy vertaling van Rilke se Duineser Elegien wat eweneens bekroon is: met die Nedbank Akademie-prys vir vertaalde werk. Tans is hy as Professor en Direkteur van die Eenheid vir Kreatiewe Skryfwerk verbonde aan die Departement Afrikaans, Universiteit van Pretoria.

Op die webtuiste van Poetry International het Robert Dorsman hom soos volg uitgelaat oor dié veelbekroonde digter se mees onlangs digbundel, “Die burg van hertog Bloubaard”: “The first poem opens with: ‘Welcome to my castle. You seem surprised.’ We are indeed, and our surprise knows no end, as Pieterse weaves myth into his lines and takes us on trips to the stars, Stonehenge and Krakow. As in the earlier volume, there are musical interludes (Béla Bartók) and images from nature.”

Hieronder volg ‘n onlangs vers van HJ Pieterse; dié vers kan ook gelees word op die Dansende Digtersfees se amptelike webtuiste.

*

Strijdomplein

Vir Robert Lowell

Die nuwe Strijdomplein
staan blink tussen bont geure,
vlaggies en snuisterye uit die hele Afrika.
Niks sou destyds sy marmer kon kraak nie.

As kind moes ek die inwyding
van ou Strijdom se kop bywoon.
Ons het in die wit hitte gestaan
met ons vlaggies, volksliedere gesing.

‘n Falanks histeriese bronsperde
het die blou lug ingerunnik;
Hans Strijdom se gemonteerde kop
het blind noord deur ‘n fontein gestaar.

Dié dag het ek gewens ek was
in die ou Transvaal-museum,
blokke verder van die bleek plein
in skaduryke Boomstraat,

my neus gedruk teen die koel glas
van die kas met die mummie daarin,
kompleet met ‘n gat in die groottoon,
uitgevreet deur ‘n muis van tyd.

(Deesdae staan die museum en vrot
langs die nuwe groen dieretuin,
sy luike en hortjies swaar ooglede
teen die leegheid binne-in.)

Van laer af in Kerkstraat
het speserye aangewaai gekom:
koljander, paprika, peper, knoffel,
gemmer, kerrie, kardamom.

Binnekort sou die winkels se base
hul hemelse geure moes skuif
na Lotus Gardens, Laudium, Christoburg,
ver weg van wit oë en neuse.

Ek het gehyg op die teëls,
na water gesmag.
dominees en staatsmanne
het hittig gepreek deur die hele dag.

Jare later sou Barend Strydom
sewe swartmense op die plein afmaai.
Hulle het suurstof gesteel,
het hy die regter onironies meegedeel.

En daar stort die kop deur die marmerteëls,
skouspelagtig tot in die parkeerterrein,
die tombe diep onder die plein
waar ek soms gedaantes in skemer sien dwaal het.

Net Strijdom se neus het gesteek uit die puin.
Die fontein het spontaan verdroog.
Die perde met hul wilde maanhare en oë
is na groener weivelde verskuif.

Vandag loop ek weer en snuif en ruik
Afrika op die nuutgeteëlde plein.

© HJ Pieterse / 2014

Hannalie Taute. Bloubaard: vir Vadersdag

Friday, June 14th, 2013

Party mans het sagte baarde, ander harde baarde, sommige het selfs blou baarde.  My man besit geen blou haartjie, terwyl my pa, indien hy hare/baard sou had, dit blou sou wees.

Eers was daar ʼn foto nog voordat ek n gedagte was- die foto is êrens verlê tydens ons ‘groot trek’.

Toe was daar die skets (1998, 2 jaar na haar dood) in my sterfregister sketsboek.

Ek wag al soveel dae op jou;

kyk hoe maer het ek geword van verlange.

Huidiglik werk ek hieraan om vrede te maak:

“She married him anyway” embroidery on rubber/inner tube (in progress)

Dit is natuurlik geinspireer deur die foto van hul in gelukkiger dae en die skets van 1998 asook ʼn boek met die storie van bloubaard wat ʼn vriendin vir my gestuur het.

Op die internet vind ek die wonderlike artikel sien hier, oor die burg van hertog bloubaard (die artikel is geskryf deur Carina Stander en handel oor die bundel geskryf deur HJ Pieterse.)

“Alhoewel Bloubaard soms voorgestel word as die vergestalting van die donker manlike begeerte om ontslae te raak van ‘n vrou en telkens ‘n nuwe vrou te soek, is J. E. Cirlot van mening dat Bloubaard nie deur haat gedryf word nie, maar deur verlore liefde: “The secret room of Bluebeard, which he forbids his wife to enter, is his mind. The dead wives which she encounters in defying his orders are the wives whom he has once loved, that is, who are dead to his love” (1962:xlvi).

Vanuit hierdie perspektief kan geredeneer word dat Bloubaard nie ‘n drang koester om sy vrou te vermoor nie, maar eerder om homself te martel deur die herhaling van pynlike herinneringe in ‘n poging “to restore an earlier state of things” (Freud se kursief). Inderwaarheid word Bloubaard se vrou nie vermoor nie, maar pleeg sy selfmoord deur doelbewuste oorskryding van sekere grense.” (Uittreksel uit die bogenoemde artikel.)

So ʼn jaar of wat gelede vra ‘Bloubaard’ my om ʼn heildronk op hom en sy nuwe vrou tydens sy 3de huwelik seremonie in te stel.  Bloot seker omdat my boetie nie beskikbaar was.  Ek raak die volgende kwyt:

ʼn sprokie:

Eendag nie so lank gelede was daar ʼn man:

(Kom ons noem hom kruppel.)

Hy ontmoet ʼn vrou wat hom laat huppel.

(ons noem haar silwerlokkies.)

Hulle teken op ʼn stippel.

Hy belowe om elke oggend vir haar pap te maak

Wat nie haar mond verbrand.

Met hierde belofte sal sy neus hopelik nie lank groei.

Soos die derde varkie uit steen gebou,

ʼn huwelik wat vir ewig hou?

Net soos in die verhaal van skoonlief en die ondier

Is my wens ook vir jul ʼn:

“happily ever after’

Fluit fluit my storie is uit.

So vir vadersdag wil ek ʼn nuwe heildronk instel, maar met die woorde van Johann de Lange:

Heildronk

Ek eet my toast
& drink my dooswyn
& in my hart
word alles boos rein.

Bostaande gedig is hier gevind.

 

Blikvanger: Die narratief van verlies – Die Bloubaardnarratief as interteks in “Die burg van hertog Bloubaard” deur H.J. Pieterse

Tuesday, May 7th, 2013

 

Artikel op LitNet Akademies  deur Ihette Jacobs, Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap, Unisa.

*

Die Bloubaardnarratief – veral die Bloubaard-opera van Béla Bartók, Herzog Blaubarts Burg – dien as prominente interteks van H.J. Pieterse se bundel Die burg van hertog Bloubaard (2000). In hierdie artikel word daar in die lig hiervan betoog dat dié interteks die verwerking van (outobiografiese) verlies heterologies en semanties blootlê, soos wat dit geïllustreer word deur die ontleding van uitgesoekte gedigte wat met die Bloubaardnarratief verband hou. Die argument word gevoer dat daar deurgaans in die bundel ’n parallel getrek word tussen die stemme van die skrywer en dié van veral die Bloubaardkarakter. Laasgenoemde word aangewend om te spreek van die psigiese ruimte van die digter. Op hierdie wyse word die narratiewe van dié twee stemme oormekaar geskuif, met die doel om onder meer die verlies- en verganklikheidsbesef te verwoord, te illustreer en vanuit verskeie hoeke te belig.”

Gaan lees gerus die volledige artikel. Dit is werklik ‘n besonderse studie oor ‘n monumentale werk deur een van ons vernaamste digters.

 

 

Omslag

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Desmond Painter. Houellebecq se gedigte in Afrikaans

Friday, November 16th, 2012

Houellebecq

ʼn Paar weke gelede by die Melville Poësiefees het HJ Pieterse sy Afrikaanse vertalings van Michel Houellebecq se gedigte uit Frans voorgelees. Vir sy internasionale gehoor is Houellebecq eerstens bekend as die skrywer van die omstrede romans Atomised en Platform, twee werke waarin die ideologiese bankrotskap van Europa post-’68 en die kulturele verknorsing van die verbruiksera in die algemeen, roekeloos aan die kaak gestel word.

Myns insiens is Atomised essensiële leesstof – dit is dalk nie vergesog om te sê dat dit my generasie se L’Étranger (Camus) is nie: enersyds ʼn briljante diagnose van ʼn kulturele en eksistensiële krisismoment, maar andersyds dalk ook nie vry te spreek van die ideologiese tekortkominge (veral wat betref die omgaan met die nie-Europese ander) wat Edward Saïd in Camus se meesterwerk aangedui het nie… Dit sou beslis loon om Camus, Houellebecq en Saïd saam te lees.

Houellebecq het egter benewens romans en essays ook al etlike bundels gedigte die lig laat sien. Hy is ʼn interessante digter: veel meer vormvas as wat jy dalk sou verwag. Ek het HJ Pieterse se vertalings hierbo genoem, maar intussen het ek van nog ʼn soortgelyke projek te hore gekom. Catherine du Toit, dosent in Frans aan die Universiteit van Stellenbosch, en enkele medewerkers (meestal van haar studente) het twee essays en 80 gedigte van Houellebecq in Afrikaans vertaal. Die bundel word aan die einde van die maand deur die uitgewer Hond gepubliseer.

Ek het die manuskrip onder oë gehad en ek dink die resultaat van Du Toit en haar span se woordywer is werklik uitstekend. Dit is wonderlik om twee van Houellebecq se essays – werke wat kulkuurpolities kritiek lewer en terselfdertyd besin oor die aard en rol van die poësie – en ʼn deeglike keur uit sy gepubliseerde gedigte in soepel, idiomatiese Afrikaans te lees. Hulle het vertalings geskep wat tuis klink in die voorstedelike ruimtes, in die oopplankantore en woonstelblokke, van Bellville en Melville. Die feit dat Houellebecq bereid was om deur die loop van die vertaalproses insae te lewer, het beslis bygedra tot die geslaagdheid van die produk.

ʼn Mens kan nie die belangrikheid van sulke vertaalprojekte vir die Afrikaanse digkuns oorskat nie — dit dra by tot die ‘algemene intellek’ (Marx) waaruit nuwe kreatiwiteit in die taal kan put. Dink maar aan die invloed wat Uys Krige se vertalings uit die Spaanse en Portugese digkuns op meer as een generasie Afrikaanse digters gehad het. Ek weet nie veel van HJ Pieterse se projek nie, maar ek hoop sy vertalings verskyn ook binnekort in druk. Hoe meer, hoe beter.

Die boek word Vrydagaand 30 November (18h30 vir 19h00) in Stellenbosch (die SASOL Museum by 52 Ryneveldstraat) bekendgestel. As jy die geleentheid wil bywoon (en jy behoort!), maak seker jy laat Catherine du Toit (cdt@sun.ac.za) teen 25 November weet. Ons wil nie hê hulle moet te min wyn bestel nie.

Erotiese verse as voorspel tot jy-weet-wat

Friday, September 25th, 2009
Sharon Lynn & Paul Page uit "Just a gag" (1925)

Sharon Lynn & Paul Page uit "Just a gag" (1925)

Op Adam O’Riordan se The Guardian-blogruimte  lees ek ‘n interessante stuk oor poësie as prikkellektuur in die bed. Klaarblyklik het die Catholic Truth Society onlangs ‘n boek gepubliseer waarin paartjies aangemoedig word om eers saam te bid alvorens hulle in Bybelse terme mekaar “beken”. Die rede vir dié gebed des momentum is, volgens die skrywer  “to place within us love that truly gives, tenderness that truly unites, self-offering that tells the truth and does not deceive, forgiveness that truly receives, loving physical union that welcomes”.

Nou ja, toe. Uiteraard is die poësie nét so geskik vir hierdie moment van vertedering en gedeelde selfloosheid, want poësie betrek immers nie net die emosionele landskap tussen twee geliefdes nie, maar ook nog die verbeelding. Nietemin, na ‘n uiteensetting van erotiese poësie in die klassieke digkuns, stuit O’Riordan uiteindelik teen die volgende kwessie: “Our concern with the erotic and recurring desire to condemn or re-evaluate the boundaries of what constitutes good taste or acceptable content leads us to a wider issue: is poetry something we come to be civilised by or is it a place where we go to unleash our desires and to hear them echoed? It strikes me this conflict is always being played out in poetry where the desire to contain, to formalise, to make safe with words comes up against an impulse towards the mind’s wilder imaginings.”

Mmm, laat ‘n mens dink, nè? En verbaas dit ons werklik? Poësie is immers tog ook die kunsvorm wat die gelyktydige naasbestaan van teenstrydighede vier, is dit nie? In die Afrikaanse digkuns bestaan daar hoeka ‘n baie lang, en stewige, tradisie van erotiese verse; dink byvoorbeeld aan die bloemlesing Die dye trek die dye aan (1998: Tafelberg/Human & Rousseau) wat deur Johann de Lange en Antjie Krog saamgestel is. Maar na die beste van my wete is die die kwessie van erotiese poësie nog nie indringend nagevors en geboekstaaf nie; miskien as gevolg van bogenoemde kwelvraag?

Hoe dit ook al sy, as lusmaker vanoggend plaas ek een van die allermooiste erotiese verse in Afrikaans hieronder: H.J. Pieterse  se gedig “Artisjok”. (Goed, toegegee: eie aan Dr. Death handel hierdie vers uiteraard oor véél meer as die erotiese; maar hel, wat ‘n skitterende vers!)

***

Vorige plasings op die webblad wat jou aandag verdien, is Bernard Odendaal se skitterende stuk oor die digter en wat hom of haar dryf tot die maak van ‘n gedig. Ook Uti Bodenstein se stuk oor Barend J. Toerien, is ‘n uiters roerende en gepaste huldeblyk aan ‘n geliefde vriend. En dan natuurlik, Yves T’Sjoen se nuwe blog oor Jozef Deleu as samesteller van die Groot Verzenboek. Hierdie bloemlesing van die Nederlandse digkuns het talle raakpunte met André P. Brink se gelyknamige bloemlesing oor die Afrikaanse digkuns en die kontroversie wat daar rondom ontstaan het.

***

Geniet dit alles en oortreef alle verwagting hierdie naweek.

Mooi bly.

LE

 

Artisjok

 

Laatnag vleg ’n skielike ritseling

My stadig los

Uit swaar arms van my geliefde,

Donker suster van my dood.

 

Dou sak heeltemal te vroeg vanjaar

Op my grasperk en plante neer.

Takke en blare ril nog waarskuwend

As ek deur die wind na my groentetuin beur.

 

My flitslig skok die grootste plant

Wat haar lang, silwergrys blare vou,

Ritselend toe, dig

Om die geheime, pers, glinsterende vrug.

 

Raak my aan, asseblief,

Raak my nie nou al aan nie.

Uit hierdie bitter grond gebore

Tussen windhande wat my wil klief.

 

Ek vou die stingels versigtig weg,

Pluk ‘n paar blare en proe,

Huiwerig om my tong,

Donkergroen, suursoet parfuum van die nag.

 

Net een maal het ek jou so sien lê

Ná ‘n laatnagmaal van artisjok.

Jou hande was lig oor jou borste gevou,

Jou bene terughoudend gekruis.

 

Laag vir laag het ek jou afgeskil

Met ‘n versigtige, moedelose tong,

Tot by die diep, geheime, bitter vrug

Wat weer terugtrek tussen jou dye.

 

Deur strelende hande van jou geliefde,

Jou lokkende suster van die slaap

Kon ek hoor: raak my aan, asseblief,

Raak my nooit meer aan nie;

 

te lig om ’n groen hart finaal te klief.

 

© H.J. Pieterse (uit: Die burg van hertog Bloubaard, Tafelberg, 2000)

 

Johann Lodewyk Marais. Van eenhorings gepraat

Sunday, August 30th, 2009

Lank, lank gelede was ek een aand teenwoordig by ‘n funksie aan die Universiteit van Pretoria, wat aangebied is na afloop van die oorhandiging van die pryse aan die studente wat in die jaarlikse skryfkompetisie as wenners in die drie hoofkategorieë aangewys is. 

Nadat die toesprake afgehandel is, het ons gesellig om die tafels met vingerhappies verkeer en vir ons wyn en ander drinkgoed geskink. Tussen die studente, wat al hoe luidrugtiger geword het, was die gestaltes van ‘n hele paar skrywers sigbaar: H.J. Pieterse, wat kort-kort ‘n glasie hanepoot wegslaan. Pirow Bekker, iewers onder sy bont pet. Joan Hambidge, wat ‘n lesing oor die postmodernisme kom aanbied het, en wat ek bo die geroesemoes van stemme hoor lag. Alexander Strachan, wat oral hand gee, sy hemp onder sy lang, donker jas laag oor sy borshare oopgeknoop.

Tussendeur wens ons die wenners geluk en poseer vir De Kat se fotograaf.

En skielik, tussen al die ander deur, kom daar ‘n student na my toe en sy sê:

“U het na Fransi Phillips verwys toe u gepraat het van die skrywers wat aan hierdie universiteit gestudeer het. Waar is sy?”

“Hoe bedoel u?” vra ek.

“Waar kan ek haar in die hande kry?”

“Hoekom?”

“Sy is die enigste Afrikaanse skrywer wat ek lees, want sy glo aan unicorns.”

Toe soek ek om my rond, want Fransi was vroeër die aand onder die gaste wat geduldig geluister het. Loop ‘n slag heen en weer om te kyk of ek haar nie kan opspoor nie.

“Juffrou, sy was netnou nog hier,” sê ek en kyk weer rond, maar toe het sy al verdwyn.

En Melanie Grobler kom vertel aan my dat daar glo so baie kremetartbome in Afrika is omdat gestorwenes altyd met ‘n pit in die hand begrawe word.

Toe ek ‘n paar dae later by Fransi die boek getiteld Magical beasts gaan haal het en haar van die student vertel, het sy lakonies opgemerk: “‘n Mens soek verniet na die eenhoring.”

Voor ek daar weg is, het sy my in ‘n ander boek ‘n kaart gewys waarop presies aangedui word waar drake in Europa voorgekom het.

Dit was juis Fransi Phillips wat my nog in ons studentedae daarvan bewus gemaak het dat daar ‘n plek is vir bespiegeling oor die fantastiese. Hoe ons ons in talle gesprekke daaroor uitgespreek het, kan ek net vaagweg onthou, en hoe meer ‘n mens oor die fantastiese nadink, hoe onsekerder is jy van wat die aard daarvan nou eintlik is.

Die spoor van die eenhoring loop reeds voor die begin van ons jaartelling deur Oosterse en Midde-Oosterse literatuur. Gedurende die Middeleeue het hy sy afdruk in boeke, op kunswerke en in die Christelike simboliek gelaat. Vroeë reisigers deur die Suid-Afrikaanse binneland het opnuut die spoor van oorlewering, gerugte en rotstekeninge opgeneem op soek na die dier waarvan die verband tussen teken en betekende steeds onseker was. Maar soos wat die landskap verder verken is, het die eenhoring telkens agter ‘n nuwe horison verdwyn. Hy maak egter ‘n onverwagse herverskyning in die streke van die Afrikaanse letterkunde van die laat-twintigste eeu in die werk van onder andere D.J. Opperman, N.P. van Wyk Louw, Jacques Loots, George Weideman, Barend J. Toerien, Wilma Stockenström, Johann Lodewyk Marais, Karel Prinsloo en Martjie Bosman. (Ek en Martjie het ‘n artikel oor hierdie gedigte geskryf.) Die vraag kan egter gestel word of die eietydse leser die eenhoring buite die bladsye van ‘n boek sal herken.

Johann Lodewyk Marais. Die Anglo-Boereoorlog, weer

Monday, July 27th, 2009

Die Duitse filosoof Martin Heidegger (1889–1976) het hom oor sowel die aard van die kunswerk as oor die poësie uitgelaat. In sy meesterwerk Sein und Zeit (1927) het hy belangrike vrae oor die syn gevra, sonder om egter aandag aan die kunswerk te gee. Ná die sogenaamde Kehre in sy denke word sowel die kuns as die poësie egter belangrike onderwerpe in sy geskrifte. In Der Ursprung des Kunstwerkes (1950) sê hy dat die kuns tonele is waar “die waarheid homself in werking stel” en dat hierdie waarheid ’n stryd tussen “wêreld” en “aarde” vereis.

 

Hoewel Heidegger die poësie as die essensiële vorm van die kuns beskou, maak hy in die essay gebruik van voorbeelde uit die argitektuur (’n Griekse tempel) en ’n skildery (’n werk deur Van Gogh). Vir die doeleindes van hierdie kursoriese aantekeninge wil ek aan die hand van Heidegger na enkele ander toepaslike voorbeelde verwys. Die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein, die Kaiser-Wilhelm-Gedächtnis-Kirche in Berlyn en die Vietnam Veterans Memorial in Washington DC is almal opgerig om mense te gedenk wat aan oorloë deelgeneem en gesterf het. My argumentasie in verband met die Vrouemonument sou in bepaalde opsigte ook vir die twee ander voorbeelde kon geld.

 

Die Vrouemonument, wat deur die beeldhouer Anton van Wouw ontwerp en deur die argitek en bouer Frans Soff gebou is, is op 13 Desember 1913 in Bloemfontein onthul ter nagedagtenis aan die meer as 26 000 vroue en kinders wat tydens die Anglo-Boereoorlog in konsentrasiekampe gesterf het. Hierdie monument het van vroeg af mense se verbeelding aangespreek. Die ontwerp van die monument is eenvoudig soos uit die volgende aanhaling uit Wêreldspektrum (Deel 29) blyk:

 

“Die monument bestaan uit ’n 37 m hoë gedenknaald van bruin sandsteen met ’n beeldgroep aan die voetstuk en geskiedkundige panele aan weerskante. Dit word deur ’n ringmuur ingesluit. Die sentrale beeldgroep simboliseer smart en hoop, terwyl die reliëfpanele ervarings van vroue en kinders tydens die oorlog uitbeeld.

 

[…]

 

“Daar is ook besluit om ’n Godsman, ’n staatsman en ’n krygsman aan die voet van die monument te begrawe. Die keuse het op dr. J.D. Kestell, pres. Steyn en genl. De Wet geval. Nadat Emily Hobhouse in 1926 in Engeland oorlede is, is haar as in die voetstuk van die gedenksuil geplaas. Mev. Rachel Steyn is langs haar man begrawe.”

 

Deur middel van sy eenvoud en teenwoordigheid slaag die monument daarin om ’n impak op die besoeker te maak. Maar waarom? Wat die kunswerk (en terselfdertyd natuurlik die Vroumonument) regkry, is om, volgens Heidegger, ons uit die “ryk van die alledaagse weg te voer”. “Hoe meer essensieel die werk homself openbaar, hoe duideliker word die uniekheid van die feit dat hy bestaan in plaas daarvan dat hy nie bestaan nie.” Die monument is egter nie volkome representatief van die werklikhied nie, sodat die betekenis van die monument nie maklik uitgeput kan word nie. Die Vrouemonument van 1913 spreek ons byvoorbeeld meer aan as die latere byna hiperrealistiese beelde van Danie de Jager wat op die terrein bygevoeg is en gedurende die 1980’s tot heelwat omstredenheid gelei het.

 

Heidegger se konsepte van wêreld en aarde wil ek kortliks soos volg op die Vrouemonument van toepassing maak. Die Vrouemonument herinner ons aan die groot kwessies wat van belang is in ons bestaan: lewe, dood, oorwinning, nederlaag, skande, hoop, geregtigheid. Sodoende open die monument vir ons ’n besondere blik op die wêreld.

 

Met aarde bedoel Heidegger dit wat die grondslag is waarop ons bestaan, die fondament waarop ons bou. Die aarde “beskut” die syndes wat daaruit “opstaan/opkom”. In wese is die aarde die misterieuse bron waaruit ons spruit. Op die Vrouemonuent “toegepas”, kan ons melding maak van die besondere plasing van die monument op die Vrystaatse landskap. Die soberheid van die monument versterk hierdie ervaring. Die besoeker word bewus van ruimte: die ruimte wat deur die monument geskep word, maar ook die ruimtes van die Vrystaat en waarskynlik ook van die hele Suid-Afrika wat in ’n misterieuse besef van hierheid voor jou oopgemaak word.

 

Ons word terselfdertyd by die Vrouemonument terdeё bewus van die konflik tussen wêreld en aarde. By die aanskoue van die Vrouemonument skree die Britse regering se verskroeideaardebeleid ten hemele. Dit word ’n protes soos ook die volgende gedig van Martjie Bosman met dieselfde titel uit die bundel Landelik (2002), waarin daar ook met ’n perspektief op die hede vorendag gekom word:

 

VERSKROEIDE AARDE

 

Van dié geskiedenis kan ons slegs brokke agterhaal:

Grootouma Geldenhuys met vier kinders

in ’n oop beestrok na die kamp by Merebank,

’n paar stuks vee behoue in die walle van die Vaal,

Grootoupa te velde wie weet waar.

Die rooi huis is gekonfiskeer as hospitaal –

gerugte van soldate begrawe onder die leiklipstoep,

die erfgenaam naamloos in ’n seepkis iewers in die sand.

Ek erf uit ouma Makkie se beroertemond

twee bitter woorde: smaad en hoon

en die droewe wete van familiegrond

vir geslagte tevergeefs bewoon.

 

Waaroor het die hedendaage digters dit as hy/sy oor die Anglo-Boereoorlog skryf? Om hierdie vraag te antwoord, kan dit meer verhelderend wees om aan die hand van Heidegger na die aard van die poësie te kyk. Vir Heidegger is die poësie dit wat die mens in staat stel om waarlik te woon. Poëtiese beelding stel ons in staat om na die teenwoordigheid van die onbekende of selfs die transendentale (in die lig van die era ná Nietzsche en die geestelike krisis tydens die twintigste eeu) uit te reik. “Poetry cannot cause the unknown god to come near, but poetry can put forward words that enable this presence to show itself,” sê Patricia Altenbernd Johnson in Heidegger (2000).

 

Heidegger maak daarom ’n onderskeid tussen gewone en poëtiese taalgebruik. Iets soos die “Die Anglo-Boereoorlog het van 1899 tot 1902 geduur”, is byvoorbeeld ’n gewone, alledaagse uitspraak. Vir Heidegger is poësie egter nie ’n bron vir spesiale estetiese plesier op grond van die niegewone taalgebruik nie, maar eerder die krag wat ons wêreld kan openbaar en ons bestaan kan transformeer. In sowel die lewe van die digters as die geskiedenis van ’n volk is die helder en kreatiewe oomblikke seldsaam; die res is onoorspronklik en afgeleid. Taal behoort vir die mens ’n ryk bron van openbaring te wees. Vir Heidegger is “Alledaagse taal vergete en daarom ’n opgebruikte gedig, waaruit daar kwalik ’n geroep uit voorkom.”

 

Ander hedendaagse digters soos Wilma Stockenström, T.T. Cloete, Heilna du Plooy, Trienke Laurie, Hennie Aucamp en H.J. Pieterse betrek nog steeds die Anglo-Boereoorlog in hulle werk. Ten slotte gaan ek na een gedig kyk waarin die Anglo-Boereoorlog op ’n besondere manier aanwesig is. My keuse val op die sanger en liriekskrywer Piet Botha se “Staan saam burgers” uit sy CD ’n Suitcase vol winter (1999). Op hierdie CD kom daar terloops nog een ander snit voor wat oor die Anglo-Boereoorlog handel, naamlik “Van Tonder”. Botha se teks klink soos volg:

 

STAAN SAAM BURGERS

 

By die goue vallei het ons so lank gewag

Op ’n antwoord wat kom uit die noorde

Staan saam burgers staan saam

 

Siener van Rensburg kyk na sy hande

En sê ek kan dit nie verstaan

Iewers op die vlakte

Begin ’n jakkals tjank

Die boodskapper kom in die nag

Het gekom en gegaan

Staan saam burgers staan saam

 

Hoekom het jy ons nie gesê nie

Die man se perd was swart,

Net soos die nag

Dit was nie Van Tonder nie

Net so tussen my en jou

Vir wat dit werd is

Ek dink die duiwel het ons ’n streep getrek

Staan saam burgers staan saam

Staan saam burgers staan saam

           

Wanneer hierdie woorde deur Piet Botha gesing word, kom daar sekerlik ook ander elemente by wat hierdie kunswerk sy karakter gee. Die groot trefkrag van hierdie lied is vir my (en ek glo vir baie ander) egter juis in die woorde geleë, wat by ons ’n herkenning van die land(skap), die geskiedenis en iets baie wesentliks van die Afrikaanse taal oproep. Hierdie herkenning word by die luisteraar deur die woorde wakker gemaak. In die Afrikaanse taal kan woorde soos “saamstaan”, “burgers” en “boodskapper” maklik in verband met die Anglo-Boereoorlog gebring word. Die landskap wat hier beskryf word, is ook tipiese Suid-Afrikaans: die geografiese ruimte waar die oorlog afgespeel het. Charles van Onselen het die Hoëveld wat in Botha se lied ter sprake is in The seed is mine: The life of Kas Maine, a South African sharecropper, 1894–1985 (1996) soos volg beskryf:

 

“[The] hot, dry and expansive plains of the subcontinent provide the country with its most characteristic landscape, and a distinctive terminology which singles out for special attention any geomorphological feature which so much as hints at either height or water. Koppie, krans, pan, platteland, rand, sloot, spruit, vlakte, and vlei – are all Afrikaans words that defy easy translation and which have been incorporated holus-bolus into the vocabulary of all urban South Africans. They are quintessentially highveld words; words that give life to the ways in which one senses and experiences much of what it is to be South African.”

 

Die gedig handel dus oor ’n essensiële Suid-Afrikaanse stuk landskap. Daar word ook in die gedig ’n figuur soos Siener van Rensburg betrek in wie daar die afgelope jare groot belangstellings in die Afrikaanse gemeenskap was en oor wie Trienke Laurie se digbundel Ek sien ’n rooi bul storm (1999) handel. In dié bundel is hy “self aan die woord en vertel van angswekkende gesigte wat bewaarheid is, onder meer die lyding van vroue en kinders in die Engelse Oorlog, generaal De la Rey se tragiese dood, en die verlies van drie van sy eie kinders. Hy vertel ook hoe God hom as boodskapper gebruik het, soos in die geval van ons eie Rooi See-wonder, toe generaal De Wet en sy krygers deur die Engelse teen ’n vol rivier vasgekeer is. Hy voorspel die opkoms van swart mag in die land, en ’n donker tyd vir die Afrikaner totdat hy hom voor God verootmoedig. Verder in die toekoms sien hy wit tente in die Karoo staan soos vervolgde Christene uit ’n oorlogsgeteisterde wêreld hierheen vlug,” aldus die flapteks.

 

Na aanleiding van die voorafgaande aantekeninge wil ek graag enkele afleidings maak:

 

1.                   Die Anglo-Boereoorlog is ’n multidissiplinêre aangeleentheid waartoe ook die kunstenaar en die digter ’n bydrae kan lewer.

2.                   Die Anglo-Boereoorlog word vandag nog steeds (ook) in Afrikaanse woorde en in gedigte bewaar en herdenk, wat dit steeds ’n gebeurtenis van buitengewone belang maak.

3.                   Die Anglo-Boereoorlog word op so ’n manier in die Afrikaanse poësie uitgebeeld dat dit die Afrikaner met sy historiese situasie konfronteer.

4.                   Die Anglo-Boereoorlog is ’n kwessie waaroor die afrekening van die Afrikaanse digter se kant af klaarblyklik nog nie afgehandel is nie.

Woensdag, 10 Junie 2009

Wednesday, June 10th, 2009
Steak & Ale, Lyttelton

Steak & Ale, Lyttelton

Op sy blog-inskrywing verlede Vrydag vertel Andries Bezuidenhout van ‘n wonderlike geleentheid môre-aand, 11 Junie, by die Steak & Ale in Lyttelton. ‘n Hele span digters en musikante gaan naamlik die koue aanvat en daarvan iets plesierigs maak. Die digters wat gaan optree, is: HJ Pieterse, Johannes Prins, Ronel Nel, René Bohnen, Braam Smit, Niel van Deventer en Kabous Verwoed (wat gedigte lees op die maat van musiek deur Dawie de Jager) en (dalk) Martjie Bosman. Die musikante is Andries Bezuidenhout, Brixton Barnard, Riku Lätti en Jon-Henry Opperman van Klopjag. Wat ‘n program! En dit alles net vir R60, met kaas en wyn ingesluit. (Kyk hier vir al die inligting.)

Terloops, ons sien uit na jou verslag hieroor, Andries, want hierdie ene gaan ‘n gróóte wees; inderdaad, ‘n bloubulgeleentheid soos min. Sterkte vir julle almal, en ja – ons beny julle dié vreugde; veral om Die Hertog weer in aksie te kan sien! Ai, ai, ai. (As lusmaker kan julle solank Carina Stander se skitterende artikel, Die Heelalburg van Hertog Bloubaard, hier lees.)

Mooi bly.

LE