Posts Tagged ‘Homeros’

Resensie: “Fragmente uit die Ilias van Homeros”, vertaal deur Cas Vos

Sunday, November 16th, 2014

Fragmente uit die Ilias – Homeros – vertaal deur Cas Vos
Resensent: Gerhard Swart (dosent in Grieks in die Departement Antieke Tale, UP)

Cas Vos praat in dié digbundel nie oor homself nie – nie oor sy lewe nie, nie oor sy loopbaan as digter, as teoloog, as akademikus, as voormalige dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Pretoria nie – ook nie oor persoonlike terugslae, soos ’n byna persklaar digbundel wat in een rampspoedige nag sowat twee jaar gelede vergaan het nie – en ook nie oor sy onblusbare ywer, om maar net weer opnuut te begin en sy kreatiewe energie in nuwe rigtings te stuur nie. Nee, hierdie bundel praat nie selfbewustelik oor Cas Vos nie; en tog hoor ek hierin ’n getuigskrif (kan seker maar sê “hoor” – het mos ook by geleentheid gesê ek “sien” hier hoe glansend en digterlik Homeros Afrikaans praat) ’n getuigskrif oor Cas Vos, die wetenskaplike en woordmeester – Vos die navorser en Cas die kunstenaar. Hierdie bundel fragmente is die werk van iemand wat by uitstek taalmens is – hartstogtelik lief vir taal; lief vir tale; vir sy (ons) taal, maar ook vir alle tale.

Kyk maar na die balans in dié bundel. Dit beslaan bykans 160 bladsye – 80 oor die Ilias, 80 uit die Ilias. Die “vooraf”-materiaal hanteer die invloed van Homeros se werke, van die antieke Griekse en Romeinse beskawings, deur die Middeleeue, die Renaissance, tot vandag toe. Vos praat ingelig en onderhoudend maar tog bondig, oor Alexander die Grote, oor Vergilius, oor die filosowe Plato en Aristoteles, oor beeldende kustenaars deur die eeue heen; oor Dante, Poliziano, Diderot; oor Chaucer, Shakespeare; oor verhaalskrywers van James Joyce tot Madeline Miller. Dit is eintlik verkeerd om te sê Vos praat oor hierdie figure – nee, hy praat met en deur hulle oor Homeros en oor die inspirasie wat vanuit die Ilias en die Odusseia ons denk-, voorstellings- en uitdrukkingswyses tot vandag toe steeds skeppend beïnvloed.

’n Kort maar insiggewende bespreking van die formeel-poëtiese kenmerke van die Homeriese eposse en hoe dit poësie in veral die 20ste eeu beïnvloed het, bring ons by Vos se eerste digterlike bydraes in hierdie bundel, waaronder een veral uitstaan: sy diep ontroerende vertaling van Konstantinos Kavafis se treurlied oor Patroklos se dood:

Patroklos se perde het begin huil
toe hulle sien hy het gesneuwel,
hy was so dapper en sterk en jonk;
hulle onsterflike natuur was gekwets,
getuies van die dood se slagting.
Hulle skud hul koppe, hul maanhare kroes,
stamp hulle hoewe op die grond, en rou
oor Patroklos, hy was sielloos – afgetakel –
sy vlees van geen waarde – sy gees verlore –
magteloos – asemloos –
het hy van hier na die groot Niks teruggekeer.
Zeus het die onsterflike perde se trane gesien
en hom oor hulle ontferm. Hy het gesê, “Ek moes
nie so onwys by Peleus se troue opgetree het nie;
as ons julle liewer nie weggegee het nie,
nie met ongeluk opgesaal het nie! Wat doen julle
by veragte mense, noodlot se speelgoed.
Nóg die dood nóg grys jare kan julle agtervolg,
nietemin teister vlietende rampe julle.
Mense sleep julle by hulle lyding in.”
Maar trane van edel diere was ’n vloed
teen die dood se eindelose rampspoed.

Ná ’n bespreking van die Ilias se afdrukke in die Afrikaanse poësie en ’n kort besinning oor die taak en uitdagings waarvoor ’n vertaler te staan kom, volg ’n ietwat meer uitgebreide maar tog bondige oorsig oor die storielyn van die Ilias – ’n oorsig oor die inhoud van elk van die 24 “boeke” waaruit dié lang epiese gedig bestaan. Hierdie oorsig is heel gepas getiteld “Konteks”: Vos skets hier met behendige lyne die agtergrond waarteen sy vertaalde fragmente – ’n keur van tonele of insidente uit die ontsaglike skatkis wat die Ilias is – duidelik verstaanbaar afgeëts staan.

Dié deel van die bundel was nie nodig, in die sin dat dit nodig kon wees om te verduidelik waarom ’n digter soos Vos ’n vertaling van die Ilias sou onderneem nie. Dit is egter nodig en nuttig vir ’n geslag wat waarskynlik nog iets soos “epos” onthou, maar dit hoeka al verruil het vir meer opwindende vorme van kommunikasie soos Facebook en Twitter – en moontlik ’n paar ander waarvan hierdie resensent nog nie eens weet nie … Dit is ook nuttig vir dié onder ons wat al baie van die fyner besonderhede wat ons bevoorreg was om in ons jonger dae oor die antieke wêreld te leer, vergeet het.

Maar dan – as ek met die haas en ongeduld eie aan ons eeu eenvoudig hierdie bundel in die middel oopslaan, kom die seegodin Thetis onmiddellik aan die woord. Nou tree Cas Vos heeltemal op die agtergrond, sodat die Homeriese karakters – gode met menslike eienskappe en mense byna goddelik in hul durf en daadkrag – die leser se aandag direk en dwingend kom opeis. Nou is Homeros aan die woord – en ek juig om hom glansend en digterlik Afrikaans te hoor praat!

In ’n poging om die leser ’n kykie in die vertaler se werkswinkel te gee, het ek ’n toneel aan die einde van boek VII gekies – ’n kort stukkie teks (reëls 476-482) wat die opponerende magte weerskante van die stadsmuur (die Grieke buite en die Trojane binne) rustig feesvierend teken teen die dreigende agtergrond van ’n voortslepende oorlog; en hoog – so hoog soos berg Olimpus – bokant hierdie toneel is die dondergod bose planne aan’t smee dat die vonke spat. Hier volg die Afrikaanse prosavertaling deur J.P.J. van Rensburg (1952:112):

Dwarsdeur die nag het dielanghaar-Achajers toe feesgevier, en ook die Trojane in die stad, enhulle bondgenote. Maar dwarsdeur die nag het die alwyse Zeus vir hullerampe bedink, en skrikwekkend gedonder. En ’n bleek vrees het hulleoorval. Hulle het wyn uit hulle bekers op die grond uitgegiet; ja, niemandhet dit gewaag om te drink alvorens hy nie aan Kronos se oppermagtigeSeun ’n plengoffer uitgestort het nie. Daarna het hulle mos gaan lê endie gawe van slaap aanvaar.

Van Rensburg waarsku sy lesers in ’n voorwoord dat pogings om die versmaat van die oorspronklike Griekse teks “in moderne tale na te boots, meesal volslae mislukkings is” (1952:i) en hy vervolg, byna verskonend-beskeie: “Daarom het ek maar in prosa probeer vertaal”. Die epiese versmaat waarna hy verwys, is natuurlik die daktiliese heksameter – in sy eie woorde, ’n “versreël bestaande uit ses voete, wat daktiele (soos ‘hiernatoe’) of spondees (soos ‘twee-twee’) is” (Van Rensburg 1952:i). As die inhoud maar niksseggend of onsinnig mag wees, is dit redelik maklik om só ’n versreël in Afrikaans te skep – iets soos: Ja, julle weet mos, die álwyse Dis is ’n god van die Grieke.

Só klink Ilias, boek VII, reëls 476-482, wanneer dit in daktiliese heksameters in Nederlands vertaal word (Van Zuydewijn, 1980:115):

Ze richtten een feestelijk maal aan;
heel de nacht aten en dronken de ‘t haar lang dragende Grieken,
en in de stad de Trojanen en bondgenoten van Troje.
Maar de verstandige Zeus bezon zich die nacht op hun onheil;
roffelend liet hij de donder weerklinken en vaalgroen van doodsangst
goten zij wijn uit hun bekers over de grond uit en niemand
durfde te drinken, aleer hij de grote Kronide geplengd had.
Toen ging een ieder naar bed en genoot het geschenk van de nachtrust.

’n Vertaler wat só te werk gaan, weerspieël wel iets van die poëties-tegniese eienskappe van die oorspronklike teks, maar mens wonder tog of die verlies aan vryheid wat hierdie ietwat gedwonge patroonmatigheid inhou, nie groter is as die winste nie.

Om poësie te vertaal, is geen maklike taak nie. Die eise van inhoudelike getrouheid (wat dikwels as woord-vir-woord-getrouheid verstaan word) enersyds, en vormlike getrouheid andersyds, weeg soms swaar om die enkels van ’n vertaler. In Fragmente uit die Ilias wikkel Vos hom los uit die knelgreep van beide dié boeie. Die resultaat wat hy sodoende verkry, is pragtige, beeldryke, boeiende, epiese Afrikaans (Vos 2014:103):

Die Achajers vier dwarsdeur die nag fees. Ook die Trojane
en hulle bondgenote laat feesvure vlam. In die voue van die nag
bedink Zeus egter rampe vir hulle. Oral flits blitse terwyl donder
dreun. Bleek vrees oorval hulle. Hulle gooi die wyn in hulle bekers
op die grond. Daarna gaan lê hulle. Slaap slaan haar arms om hulle.

Op byna dieselfde wyse gaan Vos te werk met elk van die 24 boeke van die Ilias.

’n Kunstenaar wat sy kunsvorm goed beoefen, verdien applous; ontvang applous; erken applous. Cas Vos rond sy bundel Iliasfragmente gepas af met ’n dubbele toegif. Ná sy digterlike vertaling van boek XXIV volg ’n epiloog: Die begrafnis van Sarpedon, ’n gedig van Konstantinos Kavafis, met ’n besliste sinspeling op tonele uit boek XVI, gevoelvol uit Grieks vertaal deur Vos self. Daarop volg nog ’n eie skepping: Helena, ’n peinsende monoloog gerig aan die skim van die vrou – só ’n vrou – vir wie soveel bloed en trane gevloei het.

Op ’n sekere manier is 2014, die jaar waarin ons die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 herdenk, net die regte oomblik vir die verskyning van die vertalerdigter en digtervertaler Cas Vos se Fragmente uit die Ilias. Hiervoor verdien Protea Boekhuis beslis ook ’n pluimpie.

Bronnelys

Van Rensburg, J.P.J. 1952. Homerus: Die Ilias – uit die oorsronklike Grieks vertaal deur J.P.J. van Rensburg. Stellenbosch: Pro Ecclesia-Drukkery.

Van Zuydewijn, H.J. de R. 1980. Homerus: Ilias: De wrok van Achilles. ‘s-Gravenhage: Martinus Nijhoff.

Vos, C. 2014. Fragmente uit die Ilias – Homeros. Vertaal deur Cas Vos. Pretoria: Protea Boekhuis.

 

Marlies Taljard: Homeros se afdrukke in Afrikaans

Thursday, October 30th, 2014

 

“Every great work of literature is either the Iliad or the Odyssey” – Raymond Queneau.

Met hierdie aanhaling begin Cas Vos die inleidende deel van sy nuwe bundel Fragmente uit die ‘Ilias’. En indien dit so is, dan het die hedendaagse leser waarskynlik ʼn agterstand betreffende kennis van dié twee groot eposse. Aangesien Grieks, Hebreeus en Latyn deesdae skaars meer op skool geneem kan word, kan bitter min lesers dus die oorspronklike tekste van byvoorbeeld die Ilias, die Odusseia of selfs Vergilius se Aeneïde lees, en die beeld- en klankskoonheid van die oorspronklike werke geniet. In Afrikaans bestaan daar een grondige vertaling van die Ilias, naamlik dié van J.P.J. van Rensburg. In sy voorwoord tot dié vertaling verduidelik Van Rensburg waarom hy ʼn teks wat oorspronklik in poësie geskryf is, in prosa vertaal. Ek haal hom aan:

Die versmaat van die oorspronklike heet die Daktiliese Heksameter, d.w.s. ʼn vers wat uit ses voete bestaan, wat of daktiele (soos die Afrikaanse woord “hiernatoe”) of spondees (soos “twee-twee”) is. Daktiele, in Afrikaans en ander moderne tale, is maklik te vinde, egtes en gemaaktes, maar spondees is nogal skaars. Buitendien praat ons in die moderne tale van beklemtoonde en onbeklemtoonde lettergrepe, terwyl dit in die ou tale om lang en kort lettergrepe gaan. Dié twee feite verklaar waarom die pogings om die daktiliese heksameter in moderne tale na te boots, meesal volslae mislukkings is.

In sy Fragmente uit die ‘Ilias’ het Cas Vos dele van die Ilias van Homeros in poësie vertaal – eintlik moet ek sê “omgedig”, want ʼn woordelikse vertaling is dit nie. Op p.37-39 van die teks verskyn notas waarin die digter besin oor sy vertaaltegniek. Hy verduidelik dat hy wel die kultuurhistoriese konteks van die Griekse bronteks in ag geneem het, maar dat hy hom ook laat beïnvloed het deur die klankrykheid van die Grieks en dat hy dié emotiewe impak probeer vertaal het. Tog moet ek sê dat die digter/vertaler besonder naby aan die oorspronklike teks beweeg en dit nie na die moderne konteks probeer oorplaas nie. Hy behou die belangrikste stylkenmerke van die Homeriese epos in sy vertaling – wat ek hieronder kortliks probeer opsom.

Waarskynlik dié mees uitstaande stilistiese kenmerk van die Ilias en die Odusseia is die gebruik van die gewoontebepaling of epiteton (Eng. epithet), bv. “… Die krygslustige Menelaos en Alexandros, deur wie / die twis ontstaan het, moet alleen veg vir die kroon, die skone Helena / en al die besittings.” Volgens baie teksinterpreteerders is gebruik van formule-agtige taal ʼn kenmerk van die orale digstyl – ons moet onthou dat die Ilias (of dele daarvan) waarskynlik lank voordat dit neergeskryf is reeds deur sangers aan die howe van regeerders voorgedra of gesing is. Milman Perry omskryf gewoontebepalings as formules “… which are made up of a noun and one or more fixed epithets … created to help the poet set the heroic tale to hexameters. The noun has a metrical value which allows little change, but by adding to it an ornamental epithet one can make a phrase of the needed length which, since the epithet has no bearing on the idea of the sentence, can be used [freely].” Hierdie  bepalings was daar vir die gebruik van alle sangers of digters en hulle het vryelik van die gewoontebepalings wat in ander werke voorkom, in hulle eie werk gebruik gemaak. Dit is ook nie ongewoon dat ʼn digter soos Homeros dieselfde gewoontebepalings verskeie kere in die Ilias en die Odusseia gebruik nie. Die bepaling “die vlugvoet-Achilles” kom byvoorbeeld by herhaling in die Ilias voor. Wanneer ek verwys na Homeros moet in gedagte gehou word dat daar nie sekerheid is of ons hier van een digter of van verskeie digters praat nie – die debat woed vandag steeds voort!

Nog ʼn stylkenmerk van die Ilias is die Homeriese vergelyking wat uit 3 duidelik herkenbare dele bestaan, naamlik (1) konstatering van ʼn eenvoudige vergelyking (“die manne is soos bye”); (2) beskrywing van die ding/saak waarmee die eerste ding/saak vergelyk word (hoe bye hulle gedra) en (3) terugkeer na die oorspronklike saak (“manne”). Die volgende voorbeeld kom uit Van Rensburg se vertaling, Boek II, reëls 88-93:

En die manne het saamgedrom. Soos swerms bedrywige bye wat gedurig in nuwe aflosspanne uit die uitgeholde rots uitkom en na die lenteblomme toe vlieg, soos druiwetrosse; in digte menigtes vlieg party hierheen, ander daarheen: so het hulle in baie skares in gelid van hulle skepe en hutte af al langs die breë strand in hulle afdelings na die vergadering toe gekom.

Omdat Cas Vos in sy vertaling/omdigting so ver as moontlik die Homeriese styleienskappe probeer behou, mag dit dalk vir diegene wat nie met die teks van die Ilias vertroud is nie, geforseerd klink. Vir my is dit beslis ʼn bate van Vos se werk dat hy nie so vry omdig dat Homeros totaal verraai word nie. Ek haal – ter illustrasie van die Homeriese vergelyking – Thetis se weeklag uit Boek I uit Vos se werk aan:

Thetis huil skaamteloos. “O, my kind, my kind, waarom

het ek lewe aan jou geskenk? As jy maar traanloos sonder

droefheid langs jou skepe gesit het. Jou lewe vliet

soos ʼn skoenlapper sʼn verby. Jy fladder in die wind

en dan is alles opgeskryf in die boek van vergetelheid.”

 Wat betref die daktiliese heksameters, is dit duidelik dat Vos teen die gebruik van hierdie versmaat besluit het. Hoewel sy verse meesal min of meer dieselfde aantal lettergrepe het en hy redelik getrou by jambes en daktiele hou, is daar niks geforseerd in die versmaat nie en het dit nie die tipiese slagritme wat die daktiliese heksameters soms het wanneer dit na Europese tale oorgedra word nie. Vos se teks is besonder klankryk en het ʼn bekoorlike, voortstuwende ritme wat besonder geslaagd voorgedra kan word. Ek haal hier graag een van my gunstelingdele uit die bundel aan. Dit is die stryd tussen die Trojane en die Achajers uit Boek XI:

Moedige Trojane glip soos skadu’s langs die strydlustige en slim

Odusseus. Maar die dapper held beweeg blitssnel en weer

die aanslag met sy spies af. Aias skuif al hoe nader en beskerm

hom. Die Trojane spat in alle rigtings. Hy spring tussen die Trojane in

en gooi Priamos se buite-egtelike seun, Doruklos, op ʼn doodsbed neer.

Aias jaag oor die vlakte soos ʼn rivier wat na die leegte stroom

en talle eikestompe en dennebome meesleur; op die bruisende

water dryf opdrifsels soos dooie hande. Hy ontsien geen perd

of man nie. Hektor veg om lewe en dood op die walle

van die Skamandosrivier. Die een kop na die ander waai.

Hy pleeg angswekkende dade.

 Ek vind hierdie oor die algemeen ʼn geslaagde vertaalprojek, veral ook weens die konteks wat deur die inleidende deel geskep word. Die eerste helfte van die boek word bestee aan ʼn uitvoerige agtergrond oor die Ilias, oor Homeros, asook die invloed van Homeros en sy werk op die wêreldletterkunde en die Afrikaanse poësie. Die digter gee deeglik rekenskap van sy vertaalstrategie.

Die Ilias is – soos ek reeds hierbo gesê het – vandag ʼn redelik onbekende werk, en daarom beskou ek dié gedeelte waarin die 24 boeke van die Ilias kortliks opgesom word om die verloop van die verhaal duidelik uit die verf te laat kom, as ʼn besonder belangrike afdeling. Hierdie afdeling dien ook die doel om die 24 poëtiese fragmente wat in die hoofdeel van die bundel staan, te kontekstualiseer. Ook die illustrasies in die boek, maar veral die verruklike omslag, verplaas die leser onmiddellik na die sfeer van die antieke teks. Dit is werklik ʼn besonder goed versorgde boek waarvoor Protea Boekhuis die hoogste lof verdien en ook die digter/vertaler ʼn pluimpie in sy hoed kan steek.