Posts Tagged ‘H.P. van Coller’

HP Van Coller. Vier gedigte

Tuesday, April 20th, 2010

Blogfokus

 

Die oue wilg   

 

Totius

 

Die oue wilg

se takke het

al dae, dae lang,

vergeeld, vergaan,

in wind en kou,

armoedig neergehang.

 

Die flenters Iê

by hope langs

die stofpad saamgewaai;

alleen die raf-

els hang nog om

sy lede rond te swaai.

 

Sy mantel het

nog kort gelee

tot op die grond genaak;

by windgeroer

het dit geplooi

en sag soos sy gekraak.

 

Die stasiekleed

is weg en in

die wind staan hy te kla:

‘n monnik net

wat om sy skuld

die boetekleed moet dra.

 

‘n Eikeboom

het takke wat,

soos uitgestrekte arme,

in wintertyd

na bo bly wys,

sterk-smekend om erbarme;

 

maar hier is net

gelatenheid

bo soveel prag-berowing,

en skraal geblink

van bogies na

die somerglans-verdowing.

 

o Wilgerboom,

beeld van my skuld!

So naak en uitgetoë

is ook my siel,

verarmoed en

so diep terneergeboë!

 

Maar tog is jy,

so kaal en in

jou groue bedeldrag,

gelyk’nis van

‘n sril geloof

en immer-hopend wag.

 

Jou rafels is

die harekleed

van Gods profeet, so streng,

wat by berou

beloft’nis van

herlewe weer kom breng.

 

En as die wind

jou rust’loos roer,

dan hoor ek hierdie spraak:

“Al lyk ek nou

so dubbel dood -

ek sal weer herontwaak!”

 

 

Olea europa   

 

HP Van Coller

 

Selfs die liefde duur nie

sê die ietwat siniese Siënese digter,

skynbaar oortuig dat min dinge

ooit sal raak-raak aan die ewigheid.

 

Maar sý gebied is die streke

van dun denne, druiwe,

bosse vol skugter duiwe,

bronne, beke en brame -

byna asof vog en genade te veel was.

 

Jy, daarteenoor gedy in droogte,

skraal grond, klippe om jou wortels

stewig aan te anker;

winde waarmee jy moet saambuig.

 

God self het jou bedink

en fluister by tye deur jou blare,

al hoor mens dikwels in jou bysyn net

ou deur-die-blare- Bacchus sing.

 

Jou kreupelstam verberg

die gang van eeue.

Jou hout behou die son se blink.

Jou maagdelike, suiwer sap

word wêreldwyd geskink

en in jou kringe en jaarringe

sit jou onthou.

 

Mooi moet dit wees om

uit te kyk op die asuurblousee,

terracotta bruin berge

klipperig soos grou Karookoppe;

gekoester te word deur

lou, souterige seewinde

wat in jou vlees skuilgaan;

bruin te raak van die blakende son,

vrugbaar te bly deur eeue

om altyd weer soos ‘n jongvrou

keurig uitgedos te wees

in ‘n silwer-groen bruilofskleed.

 

 

 

Assiriese bul   

 

N.P. Van Wyk Louw

 

Trots en wellustig was die tweede ding

in die bleek glans van die glas: ‘n gevlekte bul;

met swaar geplooide nek snuiwe hy in die kring

van die droë winde wat die groot neusgate vul

met die reuk van wat nie dood is; hy lig sy ronde

muil en brul; en hy breek deur die skerp dorings

en gaffel rond tussen die herders en hul honde

met die swaai van die blink halfmane van sy horings

tót hy alleen-staan. So was sy heerskappy:

‘n heerskappy van die swart hoewe en die dood;

en waar hy aan die gras bloedvlekke kry,

het hy die stengels rondom met sy poot

gegraaf, en die klam neus in die sand tussen die struike

gesteek om sag-bulkend die óu bloed te ruik.

 

II. Bul (21 April - 21 Mei)   

 

HP Van Coller

 

Jy gaffel onrustig tot aan die lug se hoë nok

en bied verbete weerstand - selfs teen die winde

wat plant en dier bly teister en elke regsgesinde

mens na binne jaag met stofdeurdrenkte broek en rok.

 

Jy loop alleen en toets voortdurend al die grense

en limiete wat hierdie goed beskutte kamp jou stel,

en weet intuïtief en sonder om jou ooit te kwel:

jou lot bepaal jy self, en óók jou wense.

 

En word jy soms per toeval lig geraak

al is dit skrams en speels

word gou die spel versaak.

 

Dan sal geen vriend of vyand jou terug kan laat tree

en sal jy verwoed verder  bly veg

totdat elk teëparty uiteindelik maar bes sal gee.

 

 

 

Die moeder   

 

Elisabeth Eybers

 

Die vreemde oorsprong van jou lewe het

soos lig deur ‘n kristal deur my gevloei

in al die maande toe ek een was met

die stil geheim van jou verborge groei.

 

En nou kan niks ons skei - want is jy nie

afhanklik en gebonde aan my bloed

wat met sy onbegryplike chemie

jou wonderlik gevorm het en gevoed?

 

En of die uur ver en vergete word,

en of die jare tussen jou en my

hul seile span, die see sy golwe stort,

of selfs die Dood sy somber baken steek,

nogtans sal jy aan my gebonde bly

met die onsigb’re naelstring wat nie breek.

 

Ma   

 

HP Van Coller

 

Daar’s ‘n apie aan ‘n stokkie

en sy dra ‘n bloedrooi rokkie.

Sy kyk stomverbaas na al die gesiggies

wat steeds vreemd bly, nes die liggies

wat teen Kersfees elke jaar weer nuut raak.

 

Sy’s sitgemaak langs oues wat in ‘n rare waak

in ‘n kring sit, wagtend om te eet,

want dít en slaap en skyt het hul nog nie vergeet.

 

Stram staan sy op - my mooi ma met silwer

hare. Wie se kwetterpraat die voëls se kir

kon uitdaag. Dit het Hom behaag om dit te vat

en alles wat haar ma gemaak het. Selfs sat

van werk het sy nagte lank my bors ingevryf met Mentholatum,

En potte en - panne eiehandig - laat skitterblink met Vim.

 

Sy loop - gesteun, wankelend op onvaste been

- sy wat op sewentig nog op haar kop kon staan, alleen,

na buite, waar sy emosieloos die son betrag:

weg is haar blink oë, haar sproete én haar lag.

 

 

 

Taalles   

 

Elisabeth Eybers

 

Die eerste rededele wat mens leer

vóór drie jaar oud is lewenslank genoeg

om die akuutste nood te formuleer

soos: ek het honger .. . hou van jou is moeg.

 

Plots uit die soet ontmoeting weggeruk

het hulle ‘n nuwe saamkomplek ontdek

om oor en oor, onnosel van geluk,

toereikend te verduidelik: jy en ek …

 

‘n Maand daarna - want tyd bring raad - hanteer

hulle moeiteloos die diggeweefde sin,

die voegwoorde van kunstige verweer

soos: daarenteen ondanks desnietemin

 

Vier verse vir ‘n Afrikaanse morfoloog 

 

HP Van Coller

 

1. Morfologiese raaisel

 

Ek hoor dat “lunsriem” ‘n argaïsme is,

“bruidegom” weer glo ‘n etimologie.

Uit ou matroostaal kry ons “kombuis”.

Sê my: waar bring ek “verlange” tuis?

 

 

2. Morfeem

 

‘n Woord op sig maak weinig sin.

Dink maar net aan “ekseem”.

Krap jy net liggies, dan jeuk dit.

Betekenis skuil in die morfeem.

 

 

3. Die morfoloog

 

Hy is aan die geoloog verwant, die morfoloog.

Voortdurend moet hy diep delf in die taal se moederloog.

Die mentale leksikon is nes geologiese spore en herinnering.

Ysterskerp en hard sal dit oplaas deur alle lae dring.

 

 

4. Leksikon

 

Woordeboeke is brandkluise vir woorde.

Boordenstoevol met seme, foneme en morfeme.

“onthegting”, “vervreemding”, “haat”; selfs “berou”.

Maar in my taal ontbreek die sin (van): “Ek hou van jou”.

 

 

Luuk Gruwez - vertaling in Afrikaans

Tuesday, November 17th, 2009

Luuk Gruwez - vertaal deur H.P. van Coller

[http://versindaba.co.za/2009/04/01/onderhoud-met-luuk-gruwez/]

 

 

MOEDERS

 

 

Mens herken hul van ver en van vroeër: altyd in rep en roer,

altyd die bekende rumoer. Of ons nie te koud kry nie

miskien, dat ons ons truie toe moet knoop, dat ons

van daardie slegte vriende liewers weg moet bly. Ensovoorts,

 

ensovoorts. Hulle is van oordosisse versigtigheid vervul,

van lewenslange ensovoorts, rare roeringe in buik en boesem.

Opvallende besonderhede, eeueoud van eenvoud: spermavlekke wat hulle

stil, met dromerige oë uit die lakens van hul seuns uitwas,

 

meisies wat hul halsoorkop uit die vroue uit moet vee

wat hulle intussen ook geword het. Dit kan in goeie ma’s

geweldig sneeu, veral wanneer geen mens

dit ooit verwag, begin November, sodra die gestorwenes koning kraai.

 

Hulle gee aan kleuters wolserpe en moffies mee. Piesangs.

lets weerbaars teen trane. En van hul eie ma’s, wat hulle

al hoe meer ontglip, raak hul die laaste moeders. Tot hulle

die hande wantrou wat hul nie langer vas kan hou nie.

 

November word dit nooit nie, November breek aan. Soos aand.

Lug verplaas sy diepste rooi in blare van beuke en eike.

en vanweë alles wat hul nie meer vas kan hou, hou hy op:

hul wêreld van ensovoorts, en so voort tot die dood.

(vertaling: Hennie van Coller)

 

 

 

MOEDERS

 

 

Men herkent ze van ver en van vroeger: altijd in rep en roer,

Altijd dat vertrouwde rumoer. Of wij het niet te koud hebben

misschien, dat onze jas wat hoger moet geknoopt, dat wij

die slechte vrienden beter kunnen mijden. Et cetera,

 

et cetera. Zij zijn van overdosissen voorzichtigheid vervuld,

van levenslang et cetera, stupide stuwingen in buik en boezem.

Fluorescente details, eeuwenoud van eenvoud: spermavlekken die zij

stil, met dromerige ogen uit de lakens van hun zonen wassen,

 

meisjes die zij halsoverkop uit de vrouwen moeten wissen

die zij tussentijds geworden zijn. Het kan in goede moeders

allemachtig sneeuwen, voornamelijk wanneer geen mens

het al verwacht, begin november, zodra de doden victorie kraaien.

 

Zij geven kleuters sjaals en wollen wanten mee. Bananen.

lets dappers tegen tranen. En van hun eigen moeders die hun

meer en meer ontglippen, worden zij de laatste moeders. Tot zij

de handen wantrouwen die hen niet langer vasthouden kunnen.

 

November wordt het niet, november valt. Als avond.

Lucht verplaatst zijn diepste rood in bladeren van beuk en elk.

En wegens alles wat zij niet meer kunnen houden, houdt hij op:

hun wereld vol et cetera, et cetera en totterdood.

 

© Luuk Gruwez

 

 

 

 

DIKKE MENSEN (BG, bl. 90)

 

I

 

Dikke mensen weten alles van de liefde,

tot in de meest verloren uithoek van hun lijf,

de catacomben van hun vlees.

 

Hun buik is buitenland waarin zij wonen,

aldoor verlangend naar de slankste tailles

die hen doen watertanden als gebak.

 

Er is geen mens oprechter droef,

zo goedlachs treurig in die afgelegen balg,

die verre tenen en die bolle billen,

 

alsof zij slechts uit overschot bestaan:

zo ’n kleine honderd kilo niets

die niemand ooit zal willen.

 

II

 

Zij kunnen zich zo dwaas vermaken met hun vlees

dat aast op suikerspin of speculaas,

tot in hun laaste kilo ridicuul

op zoek naar al het zoets der liefde.

 

Hun lichaam is het hunne niet.

Elk klein teveel is groot gemis.

Maar stropen zij het zwoerd af van hun ziel,

zij blijven ingeduffeld in hun vet

 

dat zij nooit ontberen kunnen:

alsof zij slechts van buik en billen

niet al te onbemiddeld zijn

en enkel dat behouden willen.

 

Want ieder afscheid weegt hun zwaar.

Wie staat er klaar met gul applaus

wanneer zij straks in aller ijl

de glijbaan naar het graf afgegaan?

 

(c) Luuk Gruwez 

 

 

 

 

VET MENSE

 

I

 

Vet mense weet alles van die liefde,

tot in die verste uithoeke van hul lede,

die katakombes van hul lyf.

 

Hul buike is die buitepos waarin hul woon,

voortdurend hunkerend na die slanke lyf

waarna hul smag soos na koekstruif.

 

Daar is geen mens só hartlik hartseer nie,

só doodtevrede treurig in die afgeleë pens,

die veraf tone en die bultende boude,

 

asof hul uit oorskot slegs bestaan:

so amper honderd kilo niks

wat niemand ooit wil hê nie.

 

II

 

Hul kan hulself so dwaas vermaak met hulle lywe

wat aas op suikerdons of spekulaas,

tot in hul laaste lawwe kilogram

op soek na soetheid in die liefde.

 

Hul liggaam is hul eie nie.

Elke klein oordaad is groot gemis.

Maar pluk hul ooit die siel se vetlaag af,

hul bly soos in ’n jas gehul in vet

 

wat hulle nooit kan mis nie:

asof hul slegs van boude en buik

nie al te arm is nie

en slegs dít wil gebruik.

 

Want elk afskeid is vir hulle swaar.

Wie staan gereed met gul applous

wanneer hul later in aller yl

met die glybaan na die dood toe pyl?

 

(c) HP van Coller

 

 

Johann Lodewyk Marais. ‘n Nederlandstalige bloemlesing

Saturday, June 20th, 2009

Oor die jare heen het daar in Suid-Afrika ’n hele aantal bloemlesings uit die Nederlandstalige poësie verskyn, veral met die oog op die voorskryfmark. Hierdie bloemlesings wat deur Suid-Afrikaanse letterkundiges saamgestel is, het ons studente in staat gestel om met baie eeue van Nederlandstalige letterkunde kennis te maak. Vandag kan dit boeiend wees om ’n uitgebreide studie van hierdie bloemlesings te maak (soos wat H.P. van Coller en B.J. Odendaal dit ten opsigte van Afrikaanse bloemlesings gedoen het).

 

Twee van my dosente aan die Universiteit van Pretoria, S. Strydom en H. Ohlhoff, was die samestellers van Van Middeleeue tot Goue Eeu (1976). In my eerste jaar het prof. Strydom, ’n uitmuntende dosent, die boek met sy interessante literatuurgeskiedenis, illustrasies, woordverklarings, kommentaar en vrae ingewy. Maar self het hy nooit nodig gehad om in die boek te kyk wanneer hy ’n gedig met ons behandel nie! Hy het immers al die gedigte (’n fragment uit die Marialegende Beatrijs, “Heer Halewyn”, “Egidius”, “Maria die zoude naer Bethlehem gaen”, P.C. Hooft se “Galathea”, ens.) uit die kop uit geken en gevoelvol voorgedra. Vandag nog onthou geslagte studente prof. Strydom hom groot waardering en agting.

 

Sedert Van Middeleeue tot Goue Eeu het daar na my wete ongelukkig geen nuwe bloemlesing uit die Nederlandstalige poësie in Suid-Afrika verskyn nie. Die kulturele boikot, die kleiner getal studente wat Afrikaans en Nederlands op ons universiteite neem en die uitskakeling van ’n Nederlandse voorgeskrewe boek op skool het sekerlik almal baie hiermee te doen.

 

Ek en Ad Zuiderent het met Ons klein en silwerige planeet: Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing (1997) wel gedigte van 35 hedendaagse Nederlandstalige digters opgeneem. My en Zuiderent se bloemlesing, waarin die drie tale in “eenheidsverband” aangebied word, het egter nie die behoefte aan ’n nuwe bloemlesing uit die Nederlandstalige poësie onnodig gemaak nie. Om ons die rykheid van die hedendaagse Nederlandstalige poësie te toon, het ons ’n publikasie nodig wat ons ruim met hierdie dinamiese poësie kan laat kennis maak. Suid-Afrikaanse bloemlesings met Nederlandstalige poësie (waarvan party nog in gebruik is soos stokou vliegtuie in derdewêreldlande!) het bowendien niks oor die digters wat ná die Vijftigers op die toneel verskyn het nie.

 

Die normalisering van bande tussen Suid-Afrika en die Lae Lande het wel tot nuwe interaksie gelei, maar in Suid-Afrika het die geïnteresseerde leser steeds moeilik toegang tot die Nederlandstalige poësie. Waarom is ’n boeiende digter soos Hans Faverey (om net één voorbeeld te noem!) hier by ons so onbekend en is daar, na my wete, byna geen Afrikaanse digter wat al met hom “in gesprek getree” het nie?

 

Johann Lodewyk Marais