HP Van Coller. Vier gedigte
Tuesday, April 20th, 2010Blogfokus
| Die oue wilg
Totius
Die oue wilg se takke het al dae, dae lang, vergeeld, vergaan, in wind en kou, armoedig neergehang.
Die flenters Iê by hope langs die stofpad saamgewaai; alleen die raf- els hang nog om sy lede rond te swaai.
Sy mantel het nog kort gelee tot op die grond genaak; by windgeroer het dit geplooi en sag soos sy gekraak.
Die stasiekleed is weg en in die wind staan hy te kla: ‘n monnik net wat om sy skuld die boetekleed moet dra.
‘n Eikeboom het takke wat, soos uitgestrekte arme, in wintertyd na bo bly wys, sterk-smekend om erbarme;
maar hier is net gelatenheid bo soveel prag-berowing, en skraal geblink van bogies na die somerglans-verdowing.
o Wilgerboom, beeld van my skuld! So naak en uitgetoë is ook my siel, verarmoed en so diep terneergeboë!
Maar tog is jy, so kaal en in jou groue bedeldrag, gelyk’nis van ‘n sril geloof en immer-hopend wag.
Jou rafels is die harekleed van Gods profeet, so streng, wat by berou beloft’nis van herlewe weer kom breng.
En as die wind jou rust’loos roer, dan hoor ek hierdie spraak: “Al lyk ek nou so dubbel dood - ek sal weer herontwaak!”
|
Olea europa
HP Van Coller
Selfs die liefde duur nie sê die ietwat siniese Siënese digter, skynbaar oortuig dat min dinge ooit sal raak-raak aan die ewigheid.
Maar sý gebied is die streke van dun denne, druiwe, bosse vol skugter duiwe, bronne, beke en brame - byna asof vog en genade te veel was.
Jy, daarteenoor gedy in droogte, skraal grond, klippe om jou wortels stewig aan te anker; winde waarmee jy moet saambuig.
God self het jou bedink en fluister by tye deur jou blare, al hoor mens dikwels in jou bysyn net ou deur-die-blare- Bacchus sing.
Jou kreupelstam verberg die gang van eeue. Jou hout behou die son se blink. Jou maagdelike, suiwer sap word wêreldwyd geskink en in jou kringe en jaarringe sit jou onthou.
Mooi moet dit wees om uit te kyk op die asuurblousee, terracotta bruin berge klipperig soos grou Karookoppe; gekoester te word deur lou, souterige seewinde wat in jou vlees skuilgaan; bruin te raak van die blakende son, vrugbaar te bly deur eeue om altyd weer soos ‘n jongvrou keurig uitgedos te wees in ‘n silwer-groen bruilofskleed.
|
| Assiriese bul
N.P. Van Wyk Louw
Trots en wellustig was die tweede ding in die bleek glans van die glas: ‘n gevlekte bul; met swaar geplooide nek snuiwe hy in die kring van die droë winde wat die groot neusgate vul met die reuk van wat nie dood is; hy lig sy ronde muil en brul; en hy breek deur die skerp dorings en gaffel rond tussen die herders en hul honde met die swaai van die blink halfmane van sy horings tót hy alleen-staan. So was sy heerskappy: ‘n heerskappy van die swart hoewe en die dood; en waar hy aan die gras bloedvlekke kry, het hy die stengels rondom met sy poot gegraaf, en die klam neus in die sand tussen die struike gesteek om sag-bulkend die óu bloed te ruik.
|
II. Bul (21 April - 21 Mei)
HP Van Coller
Jy gaffel onrustig tot aan die lug se hoë nok en bied verbete weerstand - selfs teen die winde wat plant en dier bly teister en elke regsgesinde mens na binne jaag met stofdeurdrenkte broek en rok.
Jy loop alleen en toets voortdurend al die grense en limiete wat hierdie goed beskutte kamp jou stel, en weet intuïtief en sonder om jou ooit te kwel: jou lot bepaal jy self, en óók jou wense.
En word jy soms per toeval lig geraak al is dit skrams en speels word gou die spel versaak.
Dan sal geen vriend of vyand jou terug kan laat tree en sal jy verwoed verder bly veg totdat elk teëparty uiteindelik maar bes sal gee.
|
| Die moeder
Elisabeth Eybers
Die vreemde oorsprong van jou lewe het soos lig deur ‘n kristal deur my gevloei in al die maande toe ek een was met die stil geheim van jou verborge groei.
En nou kan niks ons skei - want is jy nie afhanklik en gebonde aan my bloed wat met sy onbegryplike chemie jou wonderlik gevorm het en gevoed?
En of die uur ver en vergete word, en of die jare tussen jou en my hul seile span, die see sy golwe stort, of selfs die Dood sy somber baken steek, nogtans sal jy aan my gebonde bly met die onsigb’re naelstring wat nie breek.
|
Ma
HP Van Coller
Daar’s ‘n apie aan ‘n stokkie en sy dra ‘n bloedrooi rokkie. Sy kyk stomverbaas na al die gesiggies wat steeds vreemd bly, nes die liggies wat teen Kersfees elke jaar weer nuut raak.
Sy’s sitgemaak langs oues wat in ‘n rare waak in ‘n kring sit, wagtend om te eet, want dít en slaap en skyt het hul nog nie vergeet.
Stram staan sy op - my mooi ma met silwer hare. Wie se kwetterpraat die voëls se kir kon uitdaag. Dit het Hom behaag om dit te vat en alles wat haar ma gemaak het. Selfs sat van werk het sy nagte lank my bors ingevryf met Mentholatum, En potte en - panne eiehandig - laat skitterblink met Vim.
Sy loop - gesteun, wankelend op onvaste been - sy wat op sewentig nog op haar kop kon staan, alleen, na buite, waar sy emosieloos die son betrag: weg is haar blink oë, haar sproete én haar lag.
|
| Taalles
Elisabeth Eybers
Die eerste rededele wat mens leer vóór drie jaar oud is lewenslank genoeg om die akuutste nood te formuleer soos: ek het honger .. . hou van jou … is moeg.
Plots uit die soet ontmoeting weggeruk het hulle ‘n nuwe saamkomplek ontdek om oor en oor, onnosel van geluk, toereikend te verduidelik: jy en ek …
‘n Maand daarna - want tyd bring raad - hanteer hulle moeiteloos die diggeweefde sin, die voegwoorde van kunstige verweer soos: daarenteen … ondanks … desnietemin …
|
Vier verse vir ‘n Afrikaanse morfoloog
HP Van Coller
1. Morfologiese raaisel
Ek hoor dat “lunsriem” ‘n argaïsme is, “bruidegom” weer glo ‘n etimologie. Uit ou matroostaal kry ons “kombuis”. Sê my: waar bring ek “verlange” tuis?
2. Morfeem
‘n Woord op sig maak weinig sin. Dink maar net aan “ekseem”. Krap jy net liggies, dan jeuk dit. Betekenis skuil in die morfeem.
3. Die morfoloog
Hy is aan die geoloog verwant, die morfoloog. Voortdurend moet hy diep delf in die taal se moederloog. Die mentale leksikon is nes geologiese spore en herinnering. Ysterskerp en hard sal dit oplaas deur alle lae dring.
4. Leksikon
Woordeboeke is brandkluise vir woorde. Boordenstoevol met seme, foneme en morfeme. “onthegting”, “vervreemding”, “haat”; selfs “berou”. Maar in my taal ontbreek die sin (van): “Ek hou van jou”.
|





