Posts Tagged ‘I.L. de Villiers’

Marlies Taljard: As niks meer heilig is nie

Tuesday, March 14th, 2017

Ek sal seker nooit die lied “Ek sien ʼn nuwe hemel kom” kan sing sonder om aan die digter daarvan, Izak de Villiers, te dink nie. De Villiers se bydrae tot die Liedboek van die Kerk (2001) is, volgens Cas Vos in sy huldiging van die digter, magistraal. In die Liedboek van die Kerk is 61 berymings van dié bekende digter opgeneem. Volgens Vos word daar “deurleefde teologie gesing”. De Villiers, ʼn ervare predikant, maar ook joernalis en voormalige redakteur van Sarie en Rapport, se godsdienstige siening soos dit uit gedigte en ander skryfwerk spreek, is gegrondves in praktiese toepaslikheid. Vos skryf: “ … natuurlik het hy skyn-heiligheid verag. Hy was pylreguit en het ook sake diep gepeil.” Dit het ek die eerste keer agtergekom toe ek in 1996 ʼn handleiding (saam met Pieter de Villiers) vir Afrikaans Letterkunde vir die Gautengse matrieksillabus geskryf het en op die gedig “Dietrich Bonhoeffer: brief aan homself” uit Gelykenisse en ander verse (1975) afgekom het. In ʼn sekere sin was Izak De Villiers en Dietrich Bonhoeffer geesgenote, veral in hulle nugtere beskouing van die godsdienspraktyk. Op daardie stadium het ek wel geweet wie Bonhoeffer was, maar sekere dele van die gedig het vir my duister gebly en ek het met my oom, Hans Bodenstein (nou reeds oorlede), oor Bonhoeffer gaan gesels. Baie van die insigte in hierdie blog kom dus van hom. Hy het die meeste van Bonhoeffer se werk besit en het ʼn lewendige belangstelling in sy teologie gehad.

Dietrich Bonhoeffer: brief aan homself
I.L. de Villiers

Denk mal, daß es schon reife Tomaten gibt …

Könnte ich doch wieder einen Abend im Garten zubringen! …

… Mein gnädiger Gott, bereite mir mein Grab

“Briefe und Aufzeichnungen aus der Haft”

 

as niks meer heilig is nie
word alles heilig
en die wind waai waar hy wil

ek is
ek wil
sal wees
en sal nie wees nie

was gister?

en die pad terug na kind
en kinderland is lank
selfs as jy die koers ken
maar die wind
waai alles weg
schönberg  en buchenwald
berlyn etsi deus non daretur

hoe rooi is die tamaties
op die tafel
hulle is so daar
gebring deur ‘n bewaarder
bid vir my pastor bid vir my
ek is so hier
hier in die hoek
op ‘n kombers ‘n katel
kyk die tossels roer
as ek hier raak

daar is nog rooi tamaties
iewers in tuine
hier in flossenbürg
duisende rooi tamaties
ry op ry
in kruise opgebind
soos in berlyn
toe ek ‘n kind was

as niks meer heilig is nie
word alles heilig
word die wind stil
hoor jy niks
dis winter
wit

en alles hang
hoog in die dood
groot fees van die wat vry wil wees

dit groei uit rooi tamatie-rye
uit die swart grond uit
groter en ruimer as die son
as vriend as vrou
groei uit na God
swaai aan ‘n tou

 

Dietrich Bonhoeffer (1906-1945) was ʼn Duitse Lutherse teoloog wat sterk standpunt teen Hitler ingeneem het. In 1943 word hy deur die Gestapo gevange geneem en in die konsentrasiekamp Flossenburg (die korrekte spelling van die naam het nie ʼn Umlaut op die u nie) aangehou, waar hy enkele dae voor die beëindiging van die Tweede Wêreldoorlog gehang is.

In sy Christelike beskouings was Bonhoeffer alles behalwe tradisioneel – hy is veral tydens sy lewe sterk gekritiseer, maar vandag word hy allerweë, wat sy teologiese insigte betref, as ʼn baanbreker beskou. Hy neem onder andere sterk standpunt in oor geestelike gevangenskap en soetsappige, onnadenkende interpretasies van die Bybel. Hy maak homself veral ongewild deur te verklaar dat kerke, plekke, feeste en sakramente nie op sigself heilig kan wees nie, behalwe op die oomblik wanneer dit doelbewus aan God gewy word. (“Heilig” beteken “aan God gewy”). Daarteenoor kan ʼn Christelik-inspirerende gesprek egter wel heilig wees. Bonhoeffer glo sterk in die sinvolheid van lyding en het ook sy eie lyding in Flossenburg as sodanig aanvaar. Sy dood het ʼn groot beroering onder die ganse Duitse volk teweeg gebring en hom sodoende ʼn moderne martelaar gemaak. Dit is algemeen bekend dat daar na sy teregstelling twee oop boeke op die lessenaar in sy sel gelê het – die Bybel en Goethe se gedigte.

In die gedig “Dietrich Bonhoeffer: brief aan homself” is daar, benewens die begrip “heilig”, twee belangrike simbole waarmee rekening gehou moet word, naamlik die rooi tamaties en die wind.

Die motto van die gedig, uit Bonhoeffer se Briewe en notas uit gevangenskap wat postuum verskyn het, beteken letterlik: “Dink net, daar is al ryp tamaties … As ek tog net weer ʼn aand in die tuin kon deurbring! … Genadige God, maak my graf vir my gereed.” Bonhoeffer het goed geweet dat hy gehang sou word en het homself geestelik gereed gemaak om te sterf. Tog verlang hy steeds na gewone, aardse dinge – hier gesimboliseer deur die tamaties. Die konkrete, ryp, rooi tamaties vorm ʼn soort cantus firmus in die gedig wat hoofsaaklik uit herinneringe en vooruitskouings na ʼn naderende dood bestaan. Die tamaties verbind die spreker met ‘n lewe buite die tronk: eerstens is daar tamaties in privaattuine in Flossenburg. Die tamaties wat die bewaarder vir die spreker gebring het, is verder ʼn konkrete bewys van menslikheid (ʼn konkrete geloofsdaad) te midde van die tronk- en oorlogsmilieu. Dit oorspan die brug tussen gevangenskap en vryheid – binne die konteks van Bonhoeffer se teologie, sowel konkrete as geestelike vryheid en gevangenskap. Die teenwoordigheid van tamaties in die tronk bewerk egter ook ‘n verbinding met die verlede: In Berlyn, waar Bonhoeffer ʼn kind was, het mense tamatieplante teen hulle kombuismure opgebind in die vorm van kruise. Die kruis-simbool, een van die oudste simbole wat deur mense gebruik word en wat ook in die Christelike tradisie swaar dra aan simboliek, word hier doelbewus buite sy Christelike verwysingsraamwerk gebruik, hoewel die Christelike simboliek natuurlik saamresoneer as addisionele betekenislaag, gegewe die feit dat die sprekende ek in die gedig ʼn predikant is. Die tamatie-kruis illustreer Bonhoeffer se gesigspunt dat sogenaamd heilige dinge, soos ʼn kruis, meestal eenvoudig deel is van die sekulêre wêreld en dat hulle “heiligheid” nie ingebed is in hulle konkrete daarwees alvorens hulle nie gebruik word met die intensie om hulle aan God te wy nie.

Bogenoemde insigte van Bonhoeffer word verklaar deur die refrein “as niks meer heilig is nie / word alles heilig / en die wind waai waar hy wil”. Bonhoeffer moes dikwels kritiek verduur omdat hy nie die algemene ontsteltenis gedeel het oor die verwoesting van kerke en ander sogenaamd heilige plekke tydens die twee Wêreldoorloë nie: As niks inherent heilig is nie, hoef die mens hom natuurlik nie te ontstel oor die vernietiging daarvan nie. Indien streng gehou word by die definisie van die begrip “heilig”, impliseer dit egter ook dat sekulêre plekke, dinge en handelinge heilig kan word deur die intensie van die mens om dit aan God te wy. Die verwysing na die wind wat waai waar hy wil, kom uit Johannes 3:6 en het betrekking op die werking van die Heilige Gees wat nie plekgebonde is nie. Wanneer die Gees teenwoordig is, kan alledaagse dinge in heilige dinge omskep word. By implikasie: as alles wat eens heilig geag is, deur oorlog en boosheid vernietig is, het die gelowige nog niks verloor nie, want alles (wat oor is) kan deur die teenwoordigheid van die Heilige Gees heilig gemaak word.

Biografiese feite sê vir ons dat Bonhoeffer nie deur sy gevangenskap verhinder is om geestelike werk te verrig nie. Deur sy lewe in diens van God te stel, het hy sy verblyf in die tronk sinvol (heilig) gemaak. Bonhoeffer se bewaarders het groot respek vir hom gehad. Hulle het selfs by geleentheid ʼn ontsnappingspoging vir hom gereël. Hoewel bewaarders dikwels gevra het dat hy vir hulle bid (“bid vir my pastor”), het hy blykbaar nooit saam met iemand gebid nie, maar het hy verkies om geestelike gesprekke met mense te voer wat op konkrete probleemoplossing fokus.

Soos die kruis, is ook die wind in hierdie gedig ʼn ambivalente simbool wat nie eensydig in sy Christelike betekenis gebruik word nie. Wanneer die spreker terugdink aan sy kinderdae, waai die wind die herinneringe weg:

ek is

ek wil

sal wees

en sal nie wees nie

 

was gister?

 

en die pad terug na kind

en kinderland is lank

selfs as jy die koers ken

maar die wind

waai alles weg

Die reëls “terug na kind / en kinderland” kom uit ʼn bekende Duitse lied, “O wüßt ich doch den Weg zurück / den Weg ins weite Kinderland” (“O, het ek tog die pad terug geken, die pad na die verre kinderland”). Hierdie lied is graag deur Bonhoeffer aangehaal ter illustrasie dat geen terugkeer na die verlede moontlik is nie en dat die mens homself nie moet teister deur te probeer om gedane sake ongedaan te maak nie. Vandaar die noem van die harde realiteit (Schönberg, Buchenwald en Berlyn) direk in aansluiting daarby. Die frase “etsi deus non daretur” (“asof God nie ʼn gegewe is nie”, oftewel “asof God nie bestaan nie”) verwoord die skreiende kontras tussen die hede en die sorgvrye kindertyd toe God waarskynlik deel van die sprekende ek se realiteit was. Dit is inderdaad waar dat Bonhoeffer dikwels daarvan beskuldig is dat hy nie die God van die Lutherse Kerk verkondig nie. Uit hierdie reëls sou wel die afleiding gemaak kon word dat hy vertroue in die kinderlike geloof en in ʼn goeie God verloor het.

Die laaste verwysing na die wind binne die gedig staan eweneens binne ʼn nie-geestelike semantiese paradigma:

as niks meer heilig is nie

word alles heilig

word die wind stil

hoor jy niks

dis winter

wit

Indien die wind hier weer – soos die eersre keer wanneer dié simbool opduik – na die Heilige Gees sou verwys, sou die stelling nie sin maak nie. ʼn Mens sou die wind hier waarskynlik kon interpreteer as simbool van stilte na ‘n storm: wanneer die lewe as sodanig heilig geword het (en aan God gewy word), word die onrus stil. (Op outobiografiese vlak weet ons dat Bonhoeffer vrede gemaak het met sy naderende dood). Hierdie geestelike waarheid kom veral ook binne die Oosterse filosofiese en godsdienstige tradisies voor. Dan bereik ʼn mens ʼn toestand (van satori) waarin die wêreld en wat gebeur geen invloed meer op die individu het nie en die dood ʼn bevryding geword het: “en alles hang / hoog in die dood /groot fees van die wat wil vry word”. Natuurlik kan ook hierdie reëls meerduidig geïnterpreteer word. “Dood” sou kon verwys na ʼn toestand waarin alles heilig geword het en waarin die mens immuun (dood) geraak het teen die verskrikkings van die lewe (soos byvoorbeeld ook in ʼn toestand van diep meditasie). Die mees voor die hand liggende verwysing is natuurlik na die naderende dood van die spreker. Die “fees van die wat wil vry word” is eweneens ʼn ambivalente beeld wat kan verwys na sowel die mens wat deur die Gees bevry wil word, as na die kannibalistiese fees van die oorlogvoerende magte in ʼn goteske poging om bevry te word van iets wat waarskynlik lank reeds sy betekenis verloor het.

Ten slotte wil ek, suiwer op grond van biografiese feite oor Bonhoeffer, ‘n interpretasie waag van die slotstrofe. Natuurlik resoneer baie ander interpretasies, simbole en metafore in die gedig mee en dra by tot die veelvuldige betekenislae wat hierdie uitsonderlike gedig onderlê:

dit groei uit rooi tamatie-rye

uit die swart grond uit

groter en ruimer as die son

as vriend as vrou

groei uit na God

swaai aan ‘n tou

Dit sou in pas wees met Bonhoeffer se teologie dat vryheid groei uit konkrete beoefening van die mens se geloof (soos vergestalt deur die rooi tamaties en die grond waaruit dit groei), dat vryheid beteken om na God toe te groei (heilig te word), dat vryheid groter is as aardse dinge en ons lewe op aarde. Die dood is dus die simbool van finale vrywording. Ons weet immers uit Bonhoeffer se dagboek dat hy nie bang was om te sterf nie.

Gisela Ullyatt. Ballade van ’n tweedehandse bibliofiel.

Friday, February 19th, 2016

Boeddha en boeke

Die reuk van tweedehandse boekwinkels is onmiskenbaar: dié van muf en ou sigarette. Sommige word deurdrenk met die giftige geur van motbolle. Uit ander sypel ’n ongedefinieerde, suurderige klankie.

Dikwels sit daar ’n triest persoon agter die kasregister. Soos in die winkel-in-‘n-stegie wat ons gedurende ’n kort besoek aan ’n ander stad ontdek het. Ter wille van veiligheid is daar ’n deurklokkie om toegang tot dié ‘boeketronk’ te beperk. Geroeste burglar bars; ruite bespikkeld met ou vuil. Metaal-hard klik die veiligheidshek oop. Toegang op eie risiko.

Die plek ruik na nat mat en verlatenheid. Agter die toonbank staan ’n bejaarde dame (dalk chronologies nie só bejaard nie). Haar gesig is gevlek; haar mond ingeplooi soos dié van ’n skilpad. Bebrilde oë volg elke beweging.

Swak ventilasie: ’n waaiertjie hersirkuleer die benoude lug.

Ons begin van ’n punt af: bibliofiele is immers ou strydrosse wat (byna) enigiets sal trotseer. Spoedig het ons ’n hele stapeltjie bymekaar: Ernst van Heerden se Etikette op my koffer en Wolk van die mooi weer. Opperman se Naaldekoker en Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan. Etienne Leroux se Onse Hymie. Plus ’n paar interessante selfhelp-boeke in Engels. ’n Biografie of twee. Die FAK-sangbundel, derde druk: 1963.

Ons vorder fluks tot by die toonbank. Die dame kyk na elke boek voordat sy die pryse intik. Vra ons hoekom ons so baie van Afrikaanse boeke hou. Die meeste lesers is immers versot op Engels. ’n Paar gawe woorde later en haar ingetoënheid verander in ’n gebreekte damwal waardeur woorde spuit. Dis asof haar skouers minder hang.
Al meer as twintig jaar wat sy vir die eienaar van dié winkel werk.
My man grap dat dit meer na ’n vonnis klink. Haar oë word vogtig: Ja, seg sy.
Weinig customers oor die jare  het die moeite gedoen om na die storie van ’n old biddy soos sy te luister.  Soos haar man.

Dié is jare terug geboard. Stook glo soos ’n ou koolstoof. Sit-lê heeldag voor die tiewie. Sy jeremiades en rookasem kan sy nie meer verduur nie. Vyf-en-veertig jaar van haar lewe, gemors op ’n hypochondriac.
Maar wat, vra sy, is die alternatief?

Sy lyk verniel soos die winkel se weeskinders van papier.
Lankal uit druk. Moontlike waterskade. Gevreet deur silwermotte van die verlede.

Die tweedehandse dame is alleen. Sans assistent. Maar sy ken haar plig: om boeke uit bokse te pak, te sif, te organiseer. Daar is nie ’n boek in hierdie boekegrot wat nié deur haar onversorgde hande is nie.
Hier is sy die enigste doeane: sy ken elke immigrasie- en emigrasiewet van boeke op die punte van haar stomp vingers. Maar immers is die doeane niemand se vriend(in) nie.

***

Daar is ’n paar redes waarom ek die weeskinders onder boeke so bemin: elkeen is soos ’n outydse lucky packet. Jy weet nooit wat jy tussen die blaaie gaan ontdek nie: boekmerke, vergeelde resensies. Vergete briewe. Onderstreepte woorde wat eens iets vir die leser beteken het. Aantekeninge, notas; sommige netjies neergestip in potlood, ander vernielsugtig in blou of rooi ink.

Ek deel met lesers ’n paar voorbeelde van tweedehandse Afrikaanse digbundels en boeke oor poësie wat ek in die laaste jaar of wat ontdek het.

Wilhelm Knobel se Mure van mos (1970) is besonder goed opgepas en reukloos.

Wilhelm Knobel

Die eienaar was kennelik ’n musiekliefhebber: twee knipsels oor die komponis, Arnold van Wyk, die onderwerp van die reeds-bekroonde Nagmusiek deur Stephanus Muller. Die eerste knipsel dateer uit Die Volksblad van Saterdag, 20 Oktober 1979. Prys: 14c + 1 c belasting= dus ’n hele 15c. Die opskrif: “Roomse mis in ’n N.G. Kerk”. Van Wyk self is die outeur van hierdie artikel wat handel oor sy ‘Missa in illo tempore’ wat reeds in 1945 in ’n sketsboek deur dié komponis aangeteken is. Eendag hoop ek om genoeg te spaar om Muller se Nagmusiek aan te skaf.

Arnold v Wyk 2 Arnold v Wyk 3

Ook vind ek die agterkant van knipsels mateloos interessant. In hierdie geval is dit ’n veelbesproke boksgeveg tussen Gerrie Coetzee en John Tate wat ‘omstreeks 22h20 gebeeldsaai’ sou word. Voorgevegte: omstreeks 18h15: een van hulle tussen Kallie Knoetze en Randy Stephens van die VSA. Wie het uiteindelik geseëvier?

Boks paradoks

Knipsel 2 oor die Van Wyk-Mis is ongedateer en moontlik ook uit Die Volksblad geknip. Die joernalis/resensent was ene ‘D. de V’. In die resensie word dit aangedui dat die Mis in die NG Kerk Dalsig, Stellenbosch, uitgevoer is. Groot lof is Van Wyk toegesing.

Arnold v Wyk 1

Die eerste druk van Breyten Breytenbach se Kouevuur (1969) bevat ’n interessante knipsel (sommer ingegom).

Breyten 1

Dié kort resensie is in Engels deur ene ‘D.M.’ geskryf. Daar is egter geen aanduiding van die koerant nie (lesers is ongelukkig nie noodwendig navorsers nie). Die Engels klink plek-plek onaf: “Breyten Breytenbach lives today in Paris” […] “Even high up in the pressurized aircraft, he can feel the heat and smell the sweat”. En “Then the poet cries: ‘Africa, my Africa, the land which is God to me. You dare not remain just an abstract, not for me.” Sela.

Breyten 2

NP van Wyk Louw se Berigte te velde. Opstelle oor die idee van ’n Afrikaanse Nasionale Letterkunde (derde druk, 1971) het twee gefotostateerde gedigte: die een, “Hansie en Grietjie” en die ander, “Die slagoffer”.

Van Wyk Louw 1

Beide is gedigte van Eveleen Castelyn uit die bundel, Hemel en aarde. Verder blyk dit dat die persoon die tema wat deur beide gedigte aangespreek word, dalk persoonlik ervaar het en daarom die knipsels bewaar het. Of dalk was hulle bloot voorgeskrewe gedigte op universiteit.

Hansie en Grietjie

daar was eendag ’n woud
aan die kant van die son,
die maan is ’n flou olielamp,
saans brand honderde kersies,
die volgende môre word die kindertjies
afgelaai by die heks se huisie
hulle huil tot vanaand
na-vyf, na-werk kom die
stiefmammies en -pappies hulle haal
met ’n ysterswaan
die nuutste model blaas rook
en jaag oor riviere teer
tot by kelders parkering
dan word hulle opgehys
gebad en gevoer in ’n hok
moet hulle soet gaan slaap
eennag [sic?] het hansie en Grietjie
weggeloop, bo-oor die tralies geklim
en fyn en flenters geval
op die paadjies sement
ver van die huis af

Eveleen Casteleyn knipsel 2

Die slagoffer

Ma het toesig verkry oor my
volgens ’n hofbevel
op voorwaarde dat:

Pa my al om die ander naweek
kan kom haal en elke vakansie
moet ek by hom ook gaan kuier

hoekom haat hulle mekaar so dat
hulle my wil verskeur
en soos ’n pop
rondpluk aan my arms?
hulle verwyte steek
gate in my lyf
die semels loop uit
my maag voel hol
van verlange

my ma en my pa,
Mammie en Pappie,
Moeder en Vader
het my almal kwaadwillig verlaat

Eveleen Castelyn knipsel 1

Groot was my vreugde toe ek DJ Opperman se Komas uit ’n bamboesstok by ’n boekmark opspoor.

Opperman 1

Talle potlood-aantekeninge kan in hierdie kopie gevind word, soos gesien in ‘Vreters van die Bossie’ (56).

Opperman 2

Sommige van die gekrabbel kon ek egter nie uitmaak nie. Ek haal die versreëls aan wat hier betrekking het en dui die dienooreenkomstige aantekeninge in hakies aan wat ek wel kon ontsyfer:

in die Donker Kolk [Marais] die swart serpentyn […]
en in die vreugde van die laterale lyn
die ongeordende, evangeliese walrus
preek [Erasmus Smit] […]
en wilder die goue kruier rol –
almal na die jonger nimf in blinker skubberok
wat haar treurlied tussen Drie Ankers sing [Ingrid Jonker]
in benede- en in bowetone
voor die opper- en die ondermane

Opperman 3

Eenkant wei afwykende amfibiane; [Van Wyk Louw]
diepseeskilpaaie deur lou waters […]
en die seeluis en slierdrelle
van die eerste kwalle uit die Dal, [Patrioters? (Sic?)]
[…] visse van die stok en spies, die glad en die glibberige [Peter Blum]
tong, die bekbroeiers en die horingslakkies
wat in vlakwaters vroetel
met die blaasoppies en muntelose meerminbeursies
oor die streep gespat. [die vier laaste reëls word genoteer as: ‘groepering homoseksuele digters’]

Opperman 4

Marié Blomerus se Fosforblom (1968) sluit ’n briefie tussen bladsye 54 en 55 in.

Marie Blomerus

Die gedig op eersgenoemde bladsy is ‘L’hirondelle’ wat ‘swaeltjie’ in Frans beteken:

Al die swawels is weg.
Soms haal ek een baie somers oud
wat soet soos water ruik
uit skemer sakke van my jurk
en blaas in sy neus
blaas in sy bek:
sy vleueltjies wil nie sprei
sy oë wil nie roer
hy sit
gebalsem in my hand.

Die briefie is hartseer en in ’n kinderlike handskrif. Dis gerig aan ‘Marie’, maar is nie Blomerus (Marié) nie, maar vermoedelik die vorige eienaar van die bundel, wat Mari sonder ’n ‘e’ gespel word voor in die bundel. Ek haal verbatim aan, sonder redigering van taal- en spelfoute:

Liewe Marie

Ek wil graag saam marie vakansie hou
speel in die kamer
met my asb
baie dakie
vir alles
baie dankie vir
die mooi
brief. Ek sal baie na marie vallang as marie
weggaan
ek sal eensaam
wees

maro marcelle

briefie 1briefie 2

’n Resensie oor I.L. de Villiers se Manna oor die duine (1974) word voor in die gelyknamige bundel gevind.

Izak de Villiers 1

Die eerste eienaar (1974) word aangedui as iemand wat woonagtig was in Strand waarna dit in 1995 aan ’n persoon in Stellenbosch behoort het. Die publikasie van die knipsel word nie aangedui nie, maar val onder die rubriekhoof ‘Boekbeskouing’. Die resensent word as JJM aangedui.

Izak de Villiers 3

Op die agterkant van die resensie is daar ’n interessante brief (’n leser?) van iemand genaamd GM Daneel van Pretoria; die opskrif: ‘Liefde vir swart medemense’. Wat sou die reaksie op so ’n ‘progressiewe’ brief wees?

Izak de Villiers 2

Antjie Krog se Otters in Bronslaai (1981) is in ’n goeie kondisie, behalwe vir die dele wat kwistig in blou ink genoteer en onderstreep is.

Krog 1

Dalk die swaar hand van ’n gefrustreerde student?

Krog 2

Die laaste voorbeeld van my tweedehandse boek-ervaring is geweldig sinchronisties. Ek en my gabba, Ilisna Nel, gaan verken een van die winkels in Bloemfontein. Ons steek vas by die Afrikaanse digbundels, meeste vir ‘n appel en ’n ei te koop. Ek soek vir haar twee bundels uit (maar sonder om binne-in te loer), een daarvan NP van Wyk Louw se Gestaltes en diere (1972-uitgawe).

Gestaltes en diere

Dieselfde aand kry ek ’n paar whatsapp’e van haar: ‘check bietjie wat kry ek binne-in …’
Die eerste gefotostateerde knipsel is deur ene G.T.:

Conception

At a time of such uncertain certainties
such certain uncertainties
– it’s dark in this room –
what do we know of the light beyond the windows –
of the morning which will come noisily tomorrow
using our face to call our name?
All you, for whom hurting
is synonymous with living –
I live.
I also live –
shielding my modest flame with my hand
as in a storm –
I open the door of the tomb
and go in …

Empie 1

Die tweede whatsapp lees: is hierdie digter familie van julle?

Three ways of Hearing a Solitary Bird
(for Diane)

Whispering of …
terribly far off…
my lady,
my love,
a solitary bird calls.

A solitary bird calls:
my lady my love
lady my love
my love my lady
love my lady
my lady my love
a solitary bird calls,
and I ride upon its song.

Across the empty desert lands,
a solitary bird sings,
a whisper on the wind terribly far,
and you are with me,
my lady,
my love.

Inderdaad ken ek toe die digter. A.G. Ullyatt oftewel Tony, my man. Dié gedig het verskyn in Unisa English Studies (1975). Soos menige digter voel hy dat hy hierdie ou gedig eenvoudig wil junk. Die foto wys die oorspronklike tipografie wat ongelukkig deur Word Press omgekrap is.

Empie 3

Toeval, sal party dit noem.
Vir ’n tweedehandse bibliofiel bestaan die woord ‘toeval’ nie.
Daarvoor is die kanse nét te skraal.

Bibliografie
Blomerus, M. 1968. Fosforblom. Kaapstad: Nasionale Boekhandel.
Breytenbach, B. 1969. Kouevuur. Kaapstad: Buren.
De Villiers, I.L. 1974. Manna oor die duine. Kaapstad: Tafelberg.
Knobel, W. 1970. Mure van mos. Kaapstad: Human & Rousseau.
Krog. A. E. 1981. Otters in Bronslaai. Kaapstad: Human & Rousseau.
Louw, N.P. Van Wyk. 1939 (1971). Berigte te velde. Kaapstad: Tafelberg.
Louw, N.P. Van Wyk. 1942 (1972). Gestaltes en diere. Kaapstad: Tafelberg.
Opperman, D.J. 1979. Komas uit ’n bamboesstok. Kaapstad: Human & Rousseau.
Ullyatt, A.G. 1975. “Three ways of hearing a solitary bird”. Unisa English Studies, 13(1), 26.