Posts Tagged ‘IL de Villiers’

Huldeblyk.IL de Villiers (Cas Vos)

Wednesday, September 30th, 2009

IL de Villiers – skerpsinnig en kleurryk

Cas Vos

 

Die dood laat ʼn mens met sagte oë na ander kyk. Veral as jy en die oorledene dikwels oor die kronkelpaaie van die lewe gepraat het. Dit was veral laataand gesprekke oor die foon. Oorgesprekke. Nadink woorde. Wyse woorde. Woorde vol sterstof. Ek hoor nog die eggo’s daarvan.

 

Ons paaie het sê so sewe jaar gelede gekruis. Daar was van meet af ʼn aanvoeling vir mekaar. Mense met en van woorde voel ook die ander se woorde.

 

Ons het baie oor die donker en die lig van menswees gepraat. En veral saam die broosheid van menswees verstaan. Daar was die lag en die traan. Izak se verrassende humor en kwinkwoorde. Sy insig in die skuiltes van die menslike bestaan. En natuurlik het hy skyn-heiligheid verag. Hy was pylreguit en het ook sake diep gepeil.

 

Soos te verwagte het ons baie sand oor die poësie gestrooi. Ek het sy vormvernuf bewonder. Dis hy wat my aangeraai het om ʼn paar sonnette te skryf. “Hou aan totdat jy dit regkry. Moenie ophou nie.” Ek het geluister.

 

Sy Leitourgos is ʼn meesterlike bundel. Vol liturgiese en teologiese wyshede. Daar is soveel kostelike humor. As jy ʼn votum of gebed soek, is dit daar. Ek het sy twee laaste bundel hoog aangeslaan. Ryp, ryk met soveel lae.

 

Ek het vir Izak gesê dat hy die beste skrywer van godsdienstige essays in Afrikaans is. Verder dat ek ʼn paar kort verhale by hom vermoed. En nou bly alles in die laai van vergetelheid.

 

Izak se bydrae tot die Liedboek van die Kerk is magistraal. Daar word deurleefde teologie gesing. En dié klanke sal nie ophou nie. Dalk eggo dit ook in die hemel.

 

Izak, jy het my lewe verryk. Dankie vir jou vriendskap en menswees. Jy is nou in die skadu van genade.

 

Meelewing met Rina en die kinders. Al Izak se vriende dink aan julle.

 

Huldeblyk.IL de Villiers (Charl-Pierre Naudé)

Tuesday, September 29th, 2009

Nog ‘n skrywer het die pad gevat.

Charl-Pierre Naudé

 

Die verse van I.L. de Villiers was van die eerstes wat ek ooit gelees het. Ek was nog op skool, dit was dekades gelede.

 

I.L. de Villiers was ‘n omstrede man. Met alles waarvoor hy gestaan het kon almal nie altyd saamstem nie. Maar hy het die poësie na Jan Alleman gebring soos min Afrikaanse digters voor of na hom. En in oënskynlike spanning hiermee het hy onverpoos ‘n aristokratiese ideaal verteenwoordig. Sommige mense sal sê hy het hierdie ideaal minder goed verwesenlik tydens sy redakteurskap van Rapport destyds.

 

In ‘n tyd soos hierdie kyk mens na die hoogtepunte en die strewes agter die omstrede openbare persoon.

 

Ek het hom oor e-pos leer ken omdat ek as teksversorger gehelp het om sy laaste boek, Strooidak en toring, vir voorlegging gereed te kry. Agter in hierdie boek is ‘n referaat wat hy gelewer het voor die Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns oor die belang van kleiner kulture om te oorleef. Dit vertoon ‘n deurdinkte strewe en – dalk omdat dit Izak de Villiers binne ‘n verswakte Afrikaanse verband was – vertoon dit besonder edel. 

 

Die Izak de Villiers wat ek as openbare figuur geken het, het ek dikwels ervaar as antagonisties teenoor die strewes wat vir my persoonlik belangrik is. Ons was van verskillende generasies. Die een wat ek meer persoonlik leer ken het, in die kwesbaarheid – die weliswaar uiterste kwesbaarheid – van sy ouderdom het ek ervaar as iemand wat baie bewus is van sy eie teenstrydighede, pynlik bewus, soos ook blyk uit sy laaste boek, en juis daarin het hy my herinner aan hoe belangrik dit is om mens se eie strewes meer genivelleerd te sien, meer in spanning met hul eie kontrapunte, en dus helderder - strakker – binne menslike en sosiale verband.

 

Hamba kahle, I.L. de Villiers. Gaan u goed. 

 

Huldeblyk.I.L. de Villiers (Joan Hambidge)

Monday, September 28th, 2009

Deur: Joan Hambidge

I.L de Villiers (1936 - 2009)

I.L de Villiers (1936 - 2009)

 

 

 

 

 

 

 

 

 

I

 

In my jongste bundel Vuurwiel (Human & Rousseau) verskyn daar twee verse vir die digter I.L. de Villiers. Die eerste is ‘n parodie van sy bekende “Huisbesoek” en die tweede gedig “Wederom” het ek geskryf nadat ek die mens in lewende lywe ontmoet het. Ons vriendskap het hoofsaaklik telefonies geskied en ongeveer drie weke gelede het hy my uit die bloute opgebel en bely dat hy siek is. Ek het iets in die dringendheid van sy stem aangevoel -  en in retrospek besef ek dat hy as’t ware afskeid geneem het van my.

So klink die twee gedigte:

 

Huisbesoek

 

vir Pater Sakkie de Vee

 

Dis waarlik betredend om agteroor te sit,

die gemeente te beskou – hoe dit alles knyp:
“Ja, dominee net gister was daar ses, my kwit,

moordsake binne die geslote kring. Dit

 

dui op die verbrokkeling van die gesin.”

Die man blameer die ANC, die vrou die stryd.

Meteens kondig die herder aan: “In die begin

was die woord wáár. Laat ons weer besin.”

 

En terwyl hul vir oulaas kniel, in ‘n kring,

dink hy, ja, “things fall apart” en weet hy vir ‘n feit

dat die koerantwese nog méér leed sal bring:

dalk ‘n gebreekte sonnet, distigon of  ‘n fyt.

 

Wederom

 

      Vir I.L de Villiers

 

Die eerste keer leer ek jou ken

in ‘n geskifte blou verseboek:

die dominee op huisbesoek.

 

Toe, later, sien ek jou tersluiks

op ‘n loom namiddag in ‘n hotel

waar jy sonder eerbied die hof hou.

 

Die derde keer beleef ek jou

by die erediens van ‘n digter -

in ‘n ryk geëmbosseerde toga.

 

Gister sien ek jou, met ‘n pers hemp

en swierig bypassende das, waarop

jy, per abuis, ‘n druppeltjie mors.

 

Un coup de chapeau, roep die Franse dit.

En ek haal my groen verbeelde hoed af

vir ‘n manjifieke digter en vriend,

 

wat van hierdie gegewe ‘n volmaakte,

rymende tersine of distigon sou maak!

 

 

II

 

Veral met sy laaste twee bundels, Vervreemdeling en Jerusalem tot Johannesburg het die digter hom by uitnemendheid bewys as ‘n digter van formaat: iemand wat verstegnies en veral met sy beoefening van die distigon ‘n besondere bydrae gelewer het to die Afrikaanse digkuns.

Oor laasgenoemde bundel het ek positief geskryf in ‘n resensie wat in Die Burger van 6 April 2008 verskyn het. Ek haal die slotparagraaf aan: “Dit is ‘n ryk geskakeerde bundel waarin vorm en inhoud altyd één is. Daar is slim toespelings op Eliot en verder terug na Coleridge en Wordsworth. Die digter praat dikwels deur konkrete beelde wat simbole word vir sy eie lot of siening van die lewe. Hy laat sy beelde práát sodat die leser by implikasie die afleiding oor die boodskap moet maak – die uitstaande kenmerk van ‘n groot digterskap. Dit is die werk van ‘n vakman met ‘n hárt.”

 

III

 

Met sy debuut Leitourgos (1972) tot die slotbundel Vervreemdeling (2008) is die leser deurgaans bewus van ‘n enorme vakbeheer. Tussenin is daar Manna oor die duine (1974), Gelykenisse en ander verse (1975), Leviet en vreemdeling (1978) en Jerusalem tot Johannesburg (2005). In die jongste Groot verseboek is hy wat my betref onderwaardeer en ‘n mens besef skielik dat veral die laaste twee bundels waarskynlik nog ‘n impak moes maak op die keurders en kanoniseerders. (Daar is vanselfsprekend ook ander publikasies: essays en religieuse mymeringe en ‘n boek oor depressie.)

‘n Digter word immers onthou aan die verse wat klassieke status in sy taal bereik het. In hierdie opsig is “Huisbesoek” beslis so ‘n klassieke vers en “Dietrich Bonhoeffer :brief aan homself”:

as niks meer heilig is nie

word alles heilig

en die wind waai waar hy wil

 

En in die aangrypende vers “Dit is volbring” skryf hy:

 

mens sien pas voor die oomblik van die dood

glo prente van tevore, kiekies uit ‘n laai

wat lank daar lê: die skoolkonsert, die groot

party, son op die agterstoep, ‘n skaaprib bruin gebraai

 

Vir my persoonlik is die gedig oor sy vader,  “Nagedagtenis”, een van die sterkste en aangrypendste gedigte van ‘n kind oor ‘n vader. Ons weet hoe min geld daar in die sak van hierdie stil vader is en die gedig eindig met die tréffende slot:

 

 ’n notaboekie

L. de V. gekoop Berlyn Kersfees 1936 Hebr. II vs. 13, 14

sê jy het ‘n vaderland gesoek

 

De Villiers was ‘n predikant en koerantman. In sy bundels vind ons talle religieuse gedigte en veral in Jerusalem tot Johannesburg is daar ‘n besonder aangrypende vers oor die religieuse digter Sheila Cussons. In hierdie gedig word daar in gesprek getree met haar digkuns en kommentaar gelewer op die mens wat as spirituele wese altyd deel bly van die onvolmaakte wêreld uitgelewer aan vlieë wat oor alles loop.

In die titel sien ons dan ook die paradoks wat regdeur hierdie werk loop: dit is die digter van die aardse, wêreldse bestel teenoor die religieuse. Maar die spirituele is sterker, daarom word dit eerste in die titel van die bundel vermeld. De Villiers het eweneens uitmuntende lykdigte geskryf – waarvan die een oor sy vriendin Lorna Vosloo waarskynlik my altyd sal bybly.

I.L. de Villiers se voortreflike hantering van die sonnet, distigon en tersine dwing bewondering af. Ek dink ‘n mens sou uiteraard die digter kon tipeer as die digter van die nostalgie, maar nooit as sentimentele digter nie. Daarvoor is die tegniese beheer so dwingend dat dit die sentimentele of emosionele oordaad uitwis.

Ons vind dikwels die epifaniese moment in sy digkuns, daardie oomblik waar iets oopgaan of ‘n moment verhelderend voor die waarnemer staan.

Uiteraard was die digter ‘n komplekse mens: sowel joernalis as religieuse mens en die gedigte verraai iets van hierdie twee pole. In die digkuns egter word die teenstrydighede versoen, dikwels in aangrypende verse wat om die vormbeheer veral imponeer.

Lykdig

 

   Vir Izak

 

 

Het jy ooit kon dink, ou knorpot,

dat vir Roman Polanski

na Bladsy 3 sou uitskuif

as groter, relevanter nuus?

As koerantman sou jy waarskynlik

grinnik oor só ‘n skuif.

“Wag, sit neer, ek bel jou weer!”

Wat sou jy maak van dié wandelende Jood

se onverwagse inhegtenisname in Zürich?

Dit was jý wat te vertelle had

hoe sy moeder in Auschwitz die lewe laat,

daarna die jongeling altyd op vlug;

op skool ‘n voorvelletjie gevorm uit kerswas

om Nazi-parades te fnuik; Sharon Tate se dood,

en uiteindelik die media-sirkus:

verkragting van ‘n dertienjarige.

‘n Regter wat sy woord nie hou.

Op ‘n aand kyk ek na Knife in the water,

die klank afgeskakel, toe jy bel.

Boots lewe die kuns hier na

of gebeur dit dalk als ándersom?

Nóż w wodzie.

Raak ons moeg gesluk aan lewenswalging

sodat ons begin stik aan blote verontwaardiging?

Die koerantman sou ánders as die digter beslis

omdat hy vervreemdeling én verskoppeling is.

 

Joan Hambidge

 

Vir ‘n onderhoud met I.L. de Villiers: kyk op LitNet se Absa-ketting van 22 Januarie 2007. 

 

 

I.L. de Villiers oorlede

Monday, September 28th, 2009
I.L. de Villiers

I.L. de Villiers (1936 - 2009)

Dit is met spyt dat Nuuswekker vanoggend die afsterwe van I.L. de Villiers, een van ons mees bekende en geliefde digters, moet bekendmaak. Hy is Saterdagaand gedurende sy slaap oorlede. Izak de Villiers het in die Paarl grootgeword en aan die Hoërskool Paarl Gimnasium gematrikuleer. Nadat hy hom as predikant bekwaam het, het hy vir 19 jaar lank as predikant gedien in verskillende gemeentes van die NG Kerk, waaronder Albertinia, Bonnievale en Constantia. Hy het in hierdie tyd 47 beroepe ontvang. Na ‘n periode waarydens hy vryskutwerk gedoen het vir verskeie instansies, het hy in 1982 die pos as redakteur van die vrouetydskrif Sarie aanvaar; ‘n pos wat hy met groot onderskeiding behartig het. In 1991 is hy aangestel as hoofredakteur van Rapport en het ook vir etlike jare op die direksie van Rapport-Uitgewers gedien. 

Vyf digbundels het uit I.L. de Villiers se pen verskyn, te wete: Leitourgos (1972),  Manna oor die duine (1974), Gelykenisse en ander verse (1975), Leviet en Vreemdeling (1978) en Jerusalem tot Johannesburg (2005); almal deur Tafelberg Uitgewers uitgegee. In sy lewe is sy werk ook verskeie kere bekroon, onder andere die D.F. Malan-medalje (vir diens aan die Afrikaanse taalgemeenskap) van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in 2002. In 2003 ontvang hy die Best Publication Award van die Christelike Boekhandelaarsvereniging en in 2005 die Goue Toekenning van dié vereniging. Die digbundel Jerusalem tot Johannesburg is met die MNet-prys vir Poësie (2006) bekroon. Sy jongste digbundel Vervreemdeling, het in 2008 by Tafelberg uitgewers verskyn.

Izak de Villiers word oorleef deur sy vrou en twee seuns.

***

Graag vestig ek jou aandag op enkele nuwe plasings op die webblad: op sy blog spreek Charl-Pierre Naudé ‘n belangrike politieke aangeleentheid aan, naamlik in welke mate die staat binne ‘n demokratiese bestel aanspraak kan maak op burgerlike gehoorsaamheid al dan nie.  Dan is ons ook verheug om die derde Nuusbrief van De Contrabas te kon ontvang. Gaan lees gerus en vergewis jou met wat die knelpunte is waarmee daar tans in die Nederlandstalige letterkunde geworstel word. Ons eie maandelikse Nuusbrief aan hulle is ook gedurende die naweek op hul webblad geplaas en kan hier gelees word. Ten slotte, soos beloof, het Bernard Odendaal teen die einde van verlede week sy resensie van Breyten Breytenbach se nuutste bundel oorblyfsel / voice over geplaas en ‘n mens kan nie anders as om absoluut verstom te staan voor die magdom verwysings en nuanses wat Breyten in ‘n oënskynlike eenvoudige teks weggelê het nie; inderdaad ‘n besonderse toevoeging tot ons digkuns. 

Voorspoed vir die week wat voorlê. Hieronder, as ‘n huldeblyk, volg een van I.L. de Villiers se treffendste vroeë verse.

Mooi bly.

LE

 

By ‘n sterwende kindjie

Eddie, kan jy my hoor?
Dis ek, oom Dominee.

Jy moenie bang wees nie,
die Here Jesus sal jou self kom haal,

jou handjie vat,
Jy is mos lief vir Hom.
Weet jy, die stad waar Hy woon
is so mooi, met pêrelpoorte
en fonteine. Sagaria, die profeet, sê
oral op die pleine en die strate
speel die kindertjies
Moet ek dit vir jou lees?

Jy wou iets sê?
Wag, ek kom nader-
kon nie mooi verstaan nie.

Jy wil nie gaan nie

(c) I.L. de Viliiers (uit: Leitourgos)

 

‘n Ringdig vir Vrouedag!

Monday, August 10th, 2009
Vrouedag

Vrouedag

Nou ja, toe. Gister was Vrouedag en só is dit goed en is dit reg. Ek kan my beswaarlik ’n man indink wat nie met akklamasie die vroue in ons geledere sal wil toejuig (en koester) nie. Soms weliswaar met geknersde kake of bedremmelde gemoed, maar objektief beskou is dit immers vroue wat die aanhou en uithou in hierdie lewe die moeite werd maak. Nietemin, ter viering van vrouedag het ons dit goedgedink om ’n aantal digters te nader met die versoek om elkeen ’n reël tot ‘n ringdig oor vroue by te dra. Liewe hemel, wat ’n gedoente! Uiteraard is dit beslis nié ’n goeie idee om so iets op ’n Vrydag voor ’n langnaweek te probeer nie, want mans werk mos, sien. En natuurlik kan jy nie die vers na ’n volgende persoon aanstuur alvorens jy die reël van die vorige persoon ontvang het nie. Dus – wag en wag. Later bel. En uiteindelik is dit klaar; met gebreke en al.

Laat my nogals dink aan sóveel “manlike” situasies waar die man so dikwels vergewe moet word vir ’n bra gebreklike produk of optrede met dié woorde: “Toe maar, dis tog die idee wat tel.”

As stimulus vir die ringdig het ek die openingsreël uit NP Van Wyk Louw se gedig nr. LXV in Tristia geneem. Waarskynlik was dit nié ’n goeie keuse nie, want die verwagte darteldans van sinne en beelde het helaas nie gematerialiseer nie … Dalk ook maar vanweë die “einde-van-die-week-sindroom”?

In ieder geval, hier onder volg ons poging, met al die gepaste blosings en vroetelings wat ’n groepwoeps so dikwels tot gevolg (behoort) te hê. Die digters wat hieraan deelgeneem het (in streng alfabetiese volgorde ten einde identiteit te verbloem), is: Andries Bezuidenhout, Gerrit Brand, IL de Villiers, Louis Esterhuizen, Daniel Hugo, Danie Marais, Johann Lodewyk Marais, Charl-Pierre Naudé, Bernard Odendaal, Christo van Staden (aka JC Van) en Cas Vos. Veral dankie aan Johann Lodewyk Marais wat darem by wyse van slot die vers op ’n manier tot iets met leesbare potensie kon bekook. Ook – my apologie aan die twee digters wie se reëls liggies aangetas moes word ter wille van die geheel.

Dan is dit ook vir ons besonder aangenaam om bekend te maak dat prof. Bernard Odendaal ingestem het om as residensiële resensent vir die webblad op te tree. Dit beteken dat hy nuwe digbundels eksklusief en uitsluitlik vir Versindaba gaan resenseer. Te midde van die uitgesponne debat oor die stand van ons resensie-bedryf wat die afgelope jaar of wat in die media gevoer word, wil ons glo dat die aanstelling van ‘n vaste resensent voordelig gaan wees ten opsigte van kontinuïteit, gehalte en objektiwiteit. ‘n Verdere voordeel wat dié forum aan prof. Odendaal bied, is dat daar geen lengtebeperking geld ten opsigte van sy resensies nie. Ons glo dat hierdie ‘n uiters belangrike toevoeging tot die funksionaliteit van die webblad is. Intussen kan u prof. Odendaal se resensies oor onlangse bundels lees wat hy goedgunstelik vir plasing deurgestuur het. Sy resensie van Jelleke Wierenga se “Bloot mens” sal eersdaags geplaas word.

Lekker lees aan al die nuwe inhoud op die webblad en geniet die rusdag.

Mooi bly.

LE

 

RINGDIG VIR VROUEDAG

9 Augustus 2009

 

 

Die vrou die word glo magies vasgesnoer
deur die liefde as heilige of as hoer –

altans, sy stel haar in sonlig so voor

en glimlag klandestien van oor tot oor.

           

Maar, ag, sonlig, dis net die duister se verwyl

as sy onder geskroeide vlerke skuil

en hemel toe versug, maar neerwaarts hel

sonder om sente of soentjies te tel.

 

Die vrou, glo gebore om te bekoor,

laat vallend beelde skeur, repe skildery

ontheg: sigself is skoonheid nie genoeg.

O vrou, wat ‘n vreemde vreugde is jy!

 

Ek rond my soet en kortstondige verblyf

af met ’n welgeluksalige en verleё wuif.