Posts Tagged ‘Ilze Gertenbach’

N.P. van Wyk Louw – vertaling in Engels

Saturday, January 7th, 2012

N.P. van Wyk Louw (1906-1970) – vertaal deur/translated by Ilze Gertenbach & Charl J.F. Cilliers

 

To A Urologist

 

Doctor, by courier I send again:

this fruit, fine-pressed and fair,

sifted from dark flesh: from air

distilled and cherry juice and grain.

In your flask let my scant scourings

not mingle with those sun-drunk things.

 

(Translated by Charl J.F. Cilliers)

 

 

 

Barriers

 

 Without hesitation, my naked soul will

 come to you in its simplicity,

 as from the depths of sleep our dreams,

 as against the light of dusk the trees

 reach for the cerulean moon;

 

 come with all its dark urges,

 and say the holy, unheard of

 things that people are so

 hesitant about, that waver at the edge

 of my mystic words.

 

(Translation of Grense N.P. van Wyk Louw (1906-1970,

By Ilze Gertenbach)

Totius (J.D. du Toit) – vertaling in Engels

Thursday, December 9th, 2010

Totius (J.D. du Toit) (1877-1953) – vertaal deur/translated by Ilze Gertenbach

 

The anguished thought

 

 oh The anguished thought: My child is dead! …

 as an arrow it burns in me.

 Of this the people see nothing,

 and the Lord alone knows of my suffering.

 

The days come and the nights pass;

 the shadows grow and shorten again;

 the driver’s voice of my work echoes,

 and I carry my cross on life’s roads.

 

                   *

 

 But all along my heart throbs in pain,

 it robs the glow of my life, all vain:

 Your child has died a terrible death!

 and – I grab my chest from the pain.

 

 oh The scorching thought! … Yes, darling child,

 One flash torched your little body,

 but lighting flashes numberless

 make my inners burn and bleed no less.

 

 As delicate as a butterfly was she,

 that drifted about merrily;

 her wings could break at wind’s lightest breath

 and – just look at how she entered death!

 

 How few the number of children that die this way,

 it’s a chance out of ten thousand or so,

 and oh! that it was h e r and I had to see

 in my arms she collapsed in death!

 

 oh The anguished thought: My child is dead! …

 as an arrow it burns in me.

 Of this the people see nothing,

 and the Lord alone knows of my suffering.

 

 

(Translation of Die pyn-gedagte

Totius (J.D. du Toit) (1877-1953)

By Ilze Gertenbach)

Ilze Gertenbach. ‘n Jungiaanse interpretasie van bome …

Sunday, November 28th, 2010

 

‘n Jungiaanse interpretasie van bome in die poësie

 van Sylvia Plath en Karin Boye

 

deur

Ilze Gertenbach

 

Ilze Gertenbach

Ilze Gertenbach

 

Ilze Gertenbach het aan die Universiteit van KwaZulu-Natal (PMB) studeer en in 1997 ‘n BA Hons (Afrikaans) voltooi. Daarna het sy by ‘n paar uitgewersmaatskappye gewerk voordat sy besluit het om vryskut-vertaler te word. In 2007 behaal sy haar MA (Afrikaans) aan die Universiteit van Kaapstad. Sy woon met haar man, Edgar, in Scottburgh.

  

 

Opsomming

 

Jungiaanse analise word gebruik om ‘n paar gedigte van Sylvia Plath en Karin Boye oor bome te ontleed. ‘n Kort samevatting van Jung se idees verskyn aan die begin waarna die agtergronde en invloede op die digters opgenoem word. Jung se sogenaamde “kollektiewe onbewuste” maak so ‘n vergelyking moontlik al was die digters waarskynlik nie eens bewus van mekaar nie. Die gebruik van die boom as simbool in hulle gedigte kom merkwaardig ooreen in die sin dat dit ‘n moederlike simbool is – iets wat vir Jung vanselfsprekend is. Plath bring ‘n verdere moeder-simbool in die vorm van die maan na vore, wat ook bespreek word. Die gevolgtrekking is dat die gebruik van die simbool in die eerste plek ‘n uitbeelding van die groot moeder is, en in die tweede plek op ‘n individuasie-proses dui.

 

Abstract

 

Jungian analysis is used to investigate a few poems about trees by Sylvia Plath and Karin Boye. A short summary of Jung’s ideas appears at the beginning after which the poets’ backgrounds and the things that influenced them are mentioned. Jung’s so-called “collective unconscious” enables such a comparison even though the poets were probably not even aware of each other. The use of the tree as symbol in their poetry is remarkably similar in the sense that it is a motherly symbol – something Jung would have taken as a matter of course. Plath adds another motherly symbol, that of the moon, to the discussion. The conclusion is that the use of the symbol points to a great mother symbol in the first place, and in the second place to an individuation process. 

 

Inleiding

 

Carl Gustav Jung

Carl Gustav Jung

Volgens die Switserse sielkundige Carl Gustav Jung (1875-1961) is die universele onbewuste beelde wat in ‘n mens se gees bestaan, oftewel “argetipes”, die elemente wat digters in hulle werk “verwoord”. ‘n Mens word met argetipes gebore wat in die kollektiewe onbewuste gesetel is. Dit is oerbeelde wat eeue lank al van ouer na kind oorgedra word (Jung 1959:5) en sluit die anima/animus, die skaduwee, die wyse ou man en die groot moeder in. Die argetipe kry ‘n persoonlike vorm of kleur aangesien mense in verskillende omstandighede gebore word wat land, tydperk, ras, ens. betref (Stevens 1994:48). Jung omskryf ook individuasie; ‘n proses waardeur hierdie onderskeie elemente verenig word en waarin die ego relativeer word (Edinger 2002:26). Individuasie is nie ‘n eenvoudig nie, aangesien die onbewuste onaangename elemente bevat. Die individuasie-proses skep ‘n balans tussen die bewuste en onbewuste waardeur die persoonlikheid meer “afgerond” raak sodat daar nie so ‘n groot afgrond tussen die bewuste en die onbewuste bestaan nie (Jung 1959:289). Omrede individuasie simbolies is en elke simbool vir elke individu anders is, word dit al eeue lank deur digters en skrywers in hulle poësie en mites geformuleer (Jung 1959:285).

Weens Jung se oortuiging van die bestaan van ‘n kollektiewe onbewuste wat die fondament vorm waarop elke individu sy persoonlike ervarings bou, is dit moontlik om die werk van digters te vergelyk al was hulle waarskynlik onbewus van mekaar. Daar is talle ooreenkomste in die beeldgebruik van Karin Boye en Sylvia Plath en in die hieropvolgende bespreking word hulle gebruik van boom-simboliek ontleed. Simbole kan weens die mens se uniekheid, van mekaar verskil al het hulle dieselfde betekenis of dui hulle op dieselfde begrip. Om hulle te kan verstaan moet mens bewus wees van die omstandighede (milieu) waarin hulle voorgekom het (Jung 1953:44). ‘n Begrip van die skrywers se agtergronde is dus nodig voordat die ooreenkomste duidelik word. Bowendien versterk biografiese gegewens die impak van ‘n gedig (Hambidge 1994).

 

1. Biografieë

Sylvia Plath

Sylvia Plath

Sylvia Plath is op 27 Oktober 1932 gebore. Sy was die eerste van twee kinders. In Oktober 1940, toe Plath 8 was, is haar pa oorlede. Plath studeer aan Smith College en ten spyte van ‘n selfmoord poging en psigiatriese behandeling slaag sy in 1955 summa cum laude. Hierna gaan studeer sy by Cambridge Universiteit waar sy vir Ted (Edward James) Hughes ontmoet en met wie sy in 1956 trou.

Plath ontvang in 1957 haar BA-graad en begin gedurende dieselfde jaar by Smith College onderrig gee. Hier werk sy nie baie lank nie voordat sy ‘n pos by die algemene hospitaal in Massachusetts aanvaar. In 1959 trek hulle terug Engeland toe waar Plath in 1960 geboorte skenk aan hulle dogter Frieda Rebecca. Gedurende dieselfde jaar word haar eerste digbundel, The Colossus uitgegee. In 1962 word hulle seun, Nicholas Farrar gebore. Nicholas is skaars ses maande oud toe Plath uitvind dat haar man ‘n verhouding met Assia Wevill het. Kort daarna besluit sy om met die kinders weg te trek.

In Januarie 1963 verskyn Plath se boek, The Bell Jar en ‘n maand later, op 11 Februarie, pleeg sy in Londen selfmoord. Hughes maak van Plath se voorbereiding vir Ariel gebruik en die digbundel word in 1965 gedruk. Plath se versamelde werke ontvang in 1982 die Pulitzer-prys.

 

Karin Boye

Karin Boye

Karin Boye is op 26 Oktober 1900 in Göteborg, Swede, gebore. Sy was die eerste van drie kinders. Al het sy nie soos Plath ‘n beduidende naasbestaande verloor toe sy nog ‘n kind was nie, kan dit wees dat die geestestoestand van haar pa ‘n vormende invloed op haar gehad het; hy is aan kanker oorlede toe sy 27 was. Die ouderdomsverskil tussen Boye se ouers (haar ma was 18 jaar jonger as haar pa) is iets wat ook in Plath se ouerhuis die geval was (haar ma was 21 jaar jonger as haar pa). Boye het aan die Uppsala Universiteit sielkunde en die onderwys studeer, waartydens Moln. (Wolke, 1922) haar eerste digbundel van vyf, verskyn.

In die Dertigerjare is Boye ‘n lid van die sosialistiese groep “Clarté” en stig tesame met Erik Mesterton en Josef Riwkin die literêre tydskrif “Spektrum”. Hulle vertaal TS Eliot se “Waste Land” en gebruik hierdie tydskrif om dit aan Sweedse lesers bekend te stel. Boye het vyf boeke geskryf waarvan die bekendste Kallocain (1940) is. Dit is egter weens haar digkuns dat sy bekend gestaan het as die “Stem van Swede”. Haar gedigte herinner aan Plath se digkuns: “while it matches Plath’s in intensity of manner, [it] is far more substantial and controlled” (Seymour-Smith 1985:1131). Uit die vier digbundels wat tydens haar lewe uitgegee is, was gedigte uit För trädets skull (Ter wille van die boom, 1935) die bekendste. De sju dödssynderna (Die sewe doodsondes, 1941) het postuum verskyn. Buiten die skryfwerk, het Boye tussen 1936 en 1938 by Viggbyholm onderrig gegee, ‘n sekondêre skool naby Stockholm. Dit was vir haar emosioneel uitputtende werk (Boye 1994:28). Soos Plath, ondergaan sy weens haar geestestoestand psigoanalise.

Standbeeld van Karin Boye. Gothenburg

Standbeeld van Karin Boye. Gothenburg

In 1929 trou Boye met Leif Björk, maar haar lesbinisme kon veroorsaak het dat die huwelik nie baie lank hou nie (Boye 1994:22). Hierna het sy ‘n seksuele verhouding met die Duitse Margot Hanel aangeknoop, maar dit was ‘n stormagtige verhouding. Boye het van Hanel afhanklik gebly ten spyte van diep gevoelens wat sy sedert haar studentejare vir Anita Nathorst gehad het. In die winter van 1941 word die emosionele druk vir haar te veel en word haar lyk in ‘n woud naby Alingsås langs ‘n botteltjie slaappille ontdek. Dit word aanvaar dat sy selfmoord gepleeg het.

 

 

 

 

2. Invloede op die digters en hul werk

 

‘n Digter se agtergrond behels meer as net sy oorsprong. Ten einde die gedigte beter te verstaan is dit belangrik om te weet wat die digter stimuleer het. Beide digters onder bespreking het ‘n universiteitsagtergrond gehad, en was welbelese. Boye, wat van 1932 tot 1934 in Duitsland gewoon het, is intens deur die Tweede Wêreldoorlog geraak, waar Plath eerder die uitwerking daarvan in die vorm van die “koue oorlog” ervaar het. By Uppsala het Boye sielkunde studeer en het veral belanggestel in die werk van Alfred Adler en Sigmund Freud (Plath het ook kennis van Jung en Freud se teorieë gedra). Hierbenewens is sy beïnvloed deur Edda (Yslandse digter), Vilhelm Ekelund (digter), Nietzsche en, weens haar vertaalwerk, TS Eliot. Op skool het sy almal probeer oortuig dat sy ‘n Boeddhis is, maar het later ‘n Christen geword (Boye 1994:13).

Plath het ‘n tesis oor Dostojefski geskryf, ‘n invloed wat in die vorm van die spieëlbeelde in haar werk deurskemer. Dylan Thomas se digkuns was vir haar opwindend (Stevenson 1998:38) en weens Robert Lowell se skryfseminare, wat sy met Anne Sexton bygewoon het, is dit duidelik waarom sy belydende digkuns geskryf het. Plath is egter ten sterkste deur haar man beïnvloed juis oor hy ook gedig het. Hughes het ‘n bewondering vir Robert Graves gehad (Feinstein 2002:40) en het sy boek, The White Goddess (1952), verskeie kere deurgelees. “Hughes had received a copy of The White Goddess … in 1951 … he later said this book shaped his poetic conscience throughout his whole career” (Middlebrook 2004:31). Hierdie invloed sou ook vir Plath affekteer het, aangesien Hughes haar dikwels gehelp het om haar aan die skryf te kry. Sy skryf op 20 Julie 1957 in haar dagboek, “Virginia Woolf helps. Her novels make mine possible … she is the white goddess” (Plath 2000:289). Dat hierdie manier om haar inspirasie te beskryf aan Hughes se invloed (asook dié van Graves, Wagner 2000:180) te wyte is, is nie te betwyfel nie. Dit verduidelik dalk ook hoekom Plath so dikwels oor die maan gedig het.

 

3. Die boom as simbool

 

Boye en Plath se digkuns sluit by mekaar aan deur middel van die mitiese god Pan. Met sy horings, bokbaardjie en die agterstewe van ‘n bok, was hy een van die lelike gode in die Griekse mites. Ten spyte hiervan het hy dikwels probeer om nimfe, soos Echo, te verlei. Maar sy pogings het nie altyd geslaag nie en Pitys het kuis gebly deur in ‘n denneboom te verander (Graves 1992:101). Dit is ‘n mutasie wat argetipies van belang is aangesien Jung van mening is dat: “Transformation into the pine-tree amounts to burial in the mother” (Jung 1956:425).

Buiten die feit dat Pan die gees is wat Plath en Hughes opgeroep het wanneer hulle met hulle spiritistiese bord gespeel het (Stevenson 1998:136), kom hy in Plath se “Virgin in a tree” (Plath 2000:81) voor. Strofe 2 beskryf wat voor Pan se oë met Pitys gebeur het: “… a scabbard of wood baffles pursuers, / Whether goat-thighed or god-haloed. Ever since that first Daphne …”. Laasgenoemde is die Griekse godin wat van Apollo se vervolging gered word deur met ‘n lourierboom vervang te word (Graves 1992:78). Die ek-spreker haal hierna Syrinx se metamorfose op wat in ‘n riet verander het toe Pan agter haar aanjaag. Daarna kom die gevolgtrekking dat hierdie vrouens se bekendheid bo dié van “Eva, Cleo and Helen of Troy” (reël 19) uitstyg juis omdat hulle deur die kuisheid van bas en boom beskerm word, al is dit net om die onthalwe van kuisheid (reël 30). Met die verloop van tyd, vervolg die ek-spreker, sal hulle egter moeg raak waar hulle deur die takke van die bome skeefgetrek word, want hulle kuisheid sal hulle nie op die oordeelsdag help nie (strofe 9).

Hierdie uiteensetting van die lewe van iemand wat in ‘n boom vasgegroei is, kom ook in The Bell Jar voor. Die hoofkarakter, Esther Greenwood, vertel hoe sy haar lewe voor haar sien vertak in die vorm van ‘n vyeboom vol vrugte. Elke vrug het ‘n toekomsmoontlikheid (‘n man, sukses, ens.) vir haar ingehou: “I saw myself sitting in the crotch of this fig-tree, starving to death, just because I couldn’t make up my mind which of the figs I would choose” (Plath 1963:80). Soos die Bybelse vyeblare wat haar naaktheid moet bedek, kan Esther haarself nie aan een van die vrugte oorgee nie. Haar besluitloosheid is soos die Griekse maagde, behalwe dat die “verkragter” nie Pan is nie, maar die lewe self.

Waar Plath die beskutting van die boom afkraak, is dit juis waarna Boye in “Dream” (Boye 1994:46) opsoek is. Strofe 2 lui:

            Just now in the sun

            I sang on flowering meadows

            Pan, Pan, the great Pan.

            Scornfully whisper now

            the marshes’ murmuring bubbles:

            ‘Here in the forest of the secret depths,

            here too is his dwelling!

            Do you still dare to sing

            Pan, the great Pan?’

 

Die woud wonder en waarsku dat sy moet ophou om die gevaar/Pan op te roep. Maar die ek-spreker wil nie hoor nie en die vrees van die nimfe wat in bome verander het kom duidelik na vore. Strofe 3 is ‘n uiteensetting van die gevare wat in die water skuil asook die vrees wat in die bas van die bome sit, totdat die ek-spreker uitroep: “Help, oh, help, what secret / depths, that desire me!” Dit loop uit op die rustigheid en prag van die woud wat haar omring (“My foot finds a hold among white chalices”, reël 38), sodat die ek-spreker van vooraf na Pan roep (laaste strofe), omdat sy weet die woud sal nie haar gebede of hulpgeroep ignoreer nie.

Na aanleiding van Jung is die boom hoofsaaklik ‘n moederlike simbool. ‘n Boom bied skaduwee, beskerming, het voedsame vrugte, is die bron van die lewe, is solied en permanent (Jung 1967:272). Indien die voorafgaande Griekse mites omtrent die metamorfose van die nimfe hierby gevoeg word, is die boom/ma selfs daartoe in staat om ‘n mens teen verkragting te beskerm. Dit is iets waarna Boye streef en waarteenoor Plath ambivalent staan.

Volgens Jung het ‘n boom die dubbelsimboliek van moeder en dood (Jung 1967:304) en Graves (wat Plath beïnvloed het) skryf: “True poetry rises from a sense of the forces of life and death as they pass through nature and can be stirred forth or represented by a White Goddess” (Myers 2001:7). Dit het Plath se gedigte oor bome nie net tematies met die dood in verband gebring nie, maar ook by die “Beth-Luis-Nion”-boomalfabet wat in The White Goddess uiteengesit word. Hiervolgens is die taksusboom die letter “I”. Plath het daarvan gehou om met woorde en klanke te speel. Sy skryf in 1951 in haar dagboek “along the thin, tenuous thread of your existence there is … this particular individual which is spelled ‘I’ and ‘you’ and ‘Sylvia’.” (Plath 2000:63). Na aanleiding van haar gedigte is daar ook die eye en yew wat by analogie by “Sylvia” aansluit. “The moon and the yew tree” (Plath 1981:172) is gevolglik ‘n gedig oor die persoon Sylvia Plath. Vanuit die boodskap van die taksusboom se donkerte en stilte (reël 28) is dit ‘n uitspraak wat die gemoedstoestand van die ek-spreker (of “I”) beskryf. Die taksusboom in “Little fugue” (Plath 1981:187) sluit hierby aan deur middel van die swart kleur: “The yew’s black fingers wag” (reël 1). Graves se mitologie lui dat die taksusboom die dood verteenwoordig (Graves 1952:192) wat binne die konteks van hierdie gedigte pas volgens reël 6 van “The moon and the yew tree”, wat kopstene naas hierdie boom plaas. Dit kom ook so in reël 2 uit: “The trees of the mind are black,” dus nie daadwerklike bome nie, maar die bome in die geheue, wat uitloop op: “The light is blue”. ‘n Kleur wat Jung vanselfsprekend as van die maan bestempel, asook die “White as a knuckle” (reël 9). Blou kan ook ‘n kleur wees wat Plath met Aurelia assosieer het (Lane 1979:107), volgens reëls 17-8:

            The moon is my mother. She is not sweet like Mary.

            Her blue garments unloose small bats and owls.

Die maan kom in Plath se werk dikwels tesame met bome voor, soos reeds genoem staan hierdie taksusboom in die maanlig en “The yew tree points up … / The eyes lift after it and find the moon” (reëls 15-6). In “Purdah” (Plath 1981:242) sleep die maan bome agter haar aan (reël 11). “Childless woman” (Plath 1981:259) is een van Plath se latere gedigte en waarskynlik die enigste waar die bome deur die maan “vrygelaat” word.                                         …, the moon

            Discharges itself from the tree with

            Nowhere to go.

Vantevore was die maan op ‘n manier noodsaaklik om die bome te plaas, waar hulle nou skielik doelloos ronddwaal.

Jung haal sekere sielkundige beginsels uit die geskrifte van die alchemiste (Jung 1963:106), onder andere die alchemiste se oortuiging dat die maan op geheimsinnige wyse met die mens se denke verband hou (Jung 1963:135). Hiervolgens is die maan/luna verteenwoordigend van die onbewuste en die son/sol van die bewuste. Van nature is die maan soms helder (volmaan) en soms donker (donkermaan), maar die son is altyd helder. Sielkundig gesproke onderskei die bewuste hom só van die onbewuste, daarteenoor is die onbewuste nie net met sy eie negatiewe sy besmet nie, maar ook met dié van die bewuste (Jung 1963:148).

Buiten ‘n verteenwoordiging van haar ma, is die maan ‘n “stone madonna” (Plath 1981: 121); “a sorry mother” (Plath 1981: 144); “mum as a nurse” (Plath 1981: 157) en in “The rival” (Plath 1981: 166): “If the moon smiled, she would resemble you.” Dit is dieselfde teenstelling wat in “The moon and the yew tree” voorkom: Hierdie vrou/moeder is soos ‘n heks vol duister elemente, vlermuise en uile (reël 18). Hier kry mens ‘n sin vir die gemengde gevoelens wat Plath jeens hierdie vrouefiguur koester. Aan die eenkant wil sy hê die maan moet vir haar omgee. Plaas mens dit in die maanskyn, is die ek-spreker se onbewuste in luna – die donker sy van die maan, soos Jung dit beskryf. Die slotreël bevestig dit: “And the message of the yew tree is blackness – blackness and silence”. Wat ook die gemoedstoestand van die ek-spreker is.

Die agting wat Boye vir bome gehad het kom in haar digbundel Ter wille van die boom (1935) na vore. ‘n Gedig uit hierdie bundel, “The tree beneath the earth” (Boye 1994:124), herhaal die sinsnede: “For the tree’s sake, have mercy!”, wat weer beklemtoon wat dit vir haar beteken. Die ek-spreker se identiteit hang saam met bome, volgens “The trees” (Boye 1994:159), ‘n gedig wat ingelei word met die woorde “Alive like us” (miskien selfs soos die nimfe/maagde wat aanvanklik genoem is) en in strofe vier wat soos volg lui:

            Though no doubt we were born

            of the same ancestors.

Sy vind haar gestalte in bome en is bly by die gedagte dat sy, soos die bome, weer stof sal word wanneer sy sterf (en iets met hulle deel deur middel van hulle wortels) (strofe 5). Dit word by herhaling in “Young wills whine” (Boye 1994:127) so gestel: “You too shall strike root, / and become tree, and ripen”.

Die beeld van die lewe van bome is egter redelik donker en depressief volgens “The tree beneath the earth”, reëls 7-9:

            An anguish pursues me.

            It oozes out of the earth.

            There a tree suffers deeply in heavy layers of earth.

Dit wil voorkom asof die vryheid wat mense het om te kan beweeg (strofe 3) ‘n sterk kontras skep met bome wat in die aarde vasgewortel is. Die pyn wat bome uitstraal omdat hulle nie kan beweeg nie, al is hulle hoe betowerend, is iets wat die ek-spreker in haarself raaksien. ‘n Indirekte verwysing na “Yes, of course it hurts” (Boye 1994:119) kom in reël 6 van “The tree beneath the earth” voor: “where only one drop falls of the song from the leaves”. Die lied verwys na die pyn wat in “Yes, of course it hurts” beskryf word: “Yes, of course it hurts when buds are breaking” (reël 1) en “the tree’s buds break as in rejoicing”. Klaarblyklik identifiseer die ek-spreker haar eie groeiproses met dié van bome en erken dat dit vir hulle seer moet wees om te ontwikkel. ‘n Jukstaposisie word geskep tussen die verheugde lied van die boom en die pyn wat die nuwe knoppe veroorsaak.

Die pyn van ‘n groeiproses kan verduidelik word aan die hand van reël 15 (“The tree beneath the earth”), “… the crust cracks and yields up its prey”. Indien die boom wat hier beskryf word in werklikheid ‘n omvormde nimf is wat nou Pan se prooi word deur die bas wat oopkraak, is die groeiproses vir die ek-spreker soos verraad. Die nimf mag wel verlos wees, maar daar is niks wat haar meer beskerm nie. Dit vorm ‘n parallel met Plath se verwysings na die maan wat altyd deur ‘n boom se takke in posisie gehou word. Sodra die boom nie meer daar is nie, het die maan nêrens om heen te gaan nie (Plath 1981:259).

In Ter wille van die boom verskyn daar ook ‘n gedig oor die den: “Dwarf pine” (Boye 1994:132). Dit is ‘n gedig wat soos ‘n spieël vir die ek-spreker dien in dié sin dat die moeite van sy groeiproses duidelik gestel word:

            Here in eternal gales

            dwarf pine works its way up from the stone,

            bends wearily,

            knots itself defiantly

            creeps subdued.

 

Die feit dat die den nie in gesonde grond groei nie, maar sy wortels om ‘n klip moet slinger stel dit duidelik dat sy lewe nie maklik is nie en dat die groeiproses swaar is. Tog is die ek-spreker oortuig dat die boom (of self) op iets goeds afstuur:

            to rise, a royal oak,

            a boyish birch,

            a golden virgin maple.

 

            Hide your dreams, cripple.

            Here are the outermost skerries. As far as the eye can see:

            dwarf pine.

 

Die hoop wat in die middelste strofe uitgespreek word, word deur die klipriwwe van die laaste strofe weerspreek. Asof dit vir die boompie moontlik was om vir ‘n oomblik te sien hoe dit is om ‘n majestueuse eik te wees, net om weer in die werklikheid terug te deins en in sy kreupelheid te besef dit bly maar net ‘n droom. Antieke Kelte het die den ‘n “vuurboom” genoem aangesien dit gebruik is om hulle huise mee te verlig en die harpuis om fakkels mee te maak (Vescoli 1999:128). Miskien erken die ek-spreker dat hierdie boompie een enkele keer omhoog gehou kan word om die wêreld te besigtig (“Oh, to look one single time / straight towards the light”), al is die uiteinde daarvan rook en as (dood) vir die boom. Die verwronge groeiproses wat in die eerste paar boom-gedigte beskryf is, word hier op ‘n manier voortgesit. Boye se “The maple” (Boye 1994:53) bevestig dat die middelste strofe van “Dwarf pine” ‘n soort Utopie is. Vir haar is die esdoring wonderlik: “you blossoming maple / you I love more than warriors’ scars” en later “In you is sun of divinity” (laaste reël).

Plath se “Elm” (Plath 1981:192) begin: “I know the bottom, she says”. Aangesien “the bottom” geen konteks het nie, behalwe dat sy dit met haar penwortel ken, kan dit moontlik op die onderpunt van depressie dui, wat ‘n mens naby aan die dood laat voel. Boye skryf in dieselfde trant: “My root is fixed in death” (Boye 1994:107). Dit pas by Hughes se interpretasie van sy vrou se gemoedstoestand – dat sy besig was om in haar doodskis in te klim. Hughes se Birthday Letters (1998) vorm ‘n soort rugkant van talle van Plath se gedigte. Hierin verskyn “The table” (Hughes 1998:138) wat ‘n stellasie vir Plath se “Elm” is. In “The table” word olmhout se funksie as vir ‘n doodskis uitgespel (reël 5), wat by Jung se definisie van hout pas al word hierdie spesifieke houtsoort eintlik vir skepe en meubels gebruik (Vescoli 1999:112). Hughes maak dit egter duidelik dat hy met baie liefde vir sy vrou ‘n lessenaar wou maak en nie ‘n kis nie (reëls 6 en 53). Tog besef hy dat dit die resultaat was, want sy het hierdie plank gebruik om ‘n pad na haar dooie pa toe oop te skryf (reël 13). Die ek-spreker van “Elm” sinspeel in reël 31 daarop: “I am terrified by this dark thing” (soos die vrees in Boye se “The tree beneath the earth”). Laasgenoemde kan depressie/swart/nigredo gevoelens wees, of soos Hughes meen, Otto Plath. Die slotsom waartoe albei digters kom is dat hierdie koers wat Plath inslaan doodmaak (laaste reël, “That kill, that kill, that kill”).

Al dra die gedig die naam van ‘n boom, is daar buiten die wortels (reëls 1 en 17) en die takke (reël 39) geen direkte verwysing na ‘n olm nie. Die volgende reëls uit “Elm”:

            The moon, also, is merciless: she would drag me

            Cruelly, barren.

sluit by hierdie reëls uit “The moon and the yew tree” aan:

            The moon is no door. It is a face in its own right,

            …

            It drags the sea after it like a dark crime; it is quiet

            With the O-gape of complete despair. I live here.

 

Die argetipiese beelde wat hier ter sprake kom hou almal verband met die moeder, soos reël 17 (“The moon and the yew tree”) dit stel: “The moon is my mother”. Die taksusboom wys na die maan (reël 15), maar is vanself ook ‘n moedersimbool (Jung 1956:233) en deur sy soort (taksus) ‘n boom van die lewe en dood. Hierdie maan/moeder sleep Plath rond volgens die versreëls wat “Elm” by “The moon and the yew tree” laat aansluit. Deur middel van simboliek wil Plath (taksusboom/ “I”) met die maan (haar ma) verenig wees, maar vir haar is dit ‘n pynlike ervaring omdat sy nie liefde of troos hier vind nie (reëls 17 en 27) en is die verlange dus eerder na die dood (volgens die laaste reëls van albei boom-gedigte).

In ‘n gevallestudie waarby Jung afskrifte van die mandala-beelde van sy pasiënte gemaak het asook om hulle drome neer te skryf, bring hy die twee in verband met mekaar. Hy skryf dat Mej.  X ‘n droom gehad het waarin sy van ‘n vakansie terugkeer om te ontdek dat ‘n boom met ‘n dik bas in die middel van die kamer groei waar sy werk. Nadat dit ‘n ruk lank bespreek word, is dit vir Jung duidelik dat die boom moederlike assosiasies vir Mej.  X inhou. Sy interpretasie van haar mandala-beeld ten tyde van die droom is dat dit ‘n poging was om die teenoorgesteldes rooi en blou, buite en binne by mekaar uit te bring en om die onbewustelike na die lig te bring (Jung 1959:323-24). Hierdie interpretasie dui op ‘n individuasie-proses. Boye se digkuns beeld dikwels haar gespletenheid uit, wat Mej.  X se geval ook op haar van toepassing maak, veral na aanleiding van haar gedig: “The Tree” (Boye 1994:83)

When my door is shut and my lamp has gone out

and I sit in twilight’s breathing wrapped,

then I feel around me move

branches, a tree’s branches.

 

In my room where no one else lives

the tree spreads a shadow as soft as gauze.

It lives silent, it grows well,

it becomes what some unknown one thinks.

 

Some spirit-power, power secret made,

in the trees’ hidden roots its will has laid.

I am frightened sometimes and ask in fear:

Are we so surely friends?

 

But it lives in calm and it grows still,

and I know not where it strives and whither it will.

It is sweet and bewitching to live so near

one whom one does not know …

Strofe 1 skep ‘n beeld van beklemming. Die ek-spreker wil tot rus kom, maar is bewus van iets in haar kamer en kan haar vinger nie daarop plaas nie, sy interpreteer dit as takke. Al word die ek-spreker se private ruimte binnegedring, bestaan daar nie ‘n gevoel van bedreiging nie. Dit skep eerder ‘n sagte “skaduwee” wat die ek-spreker in strofe 3 tog ‘n bietjie bang laat. Die tweespalt van haar gevoelens jeens hierdie “boom” word in “bewitching” saamgevat: betowerend en begoëlend. Daar is reeds op gewys dat bome simbolies na die moeder terugwys en dat Boye op hierdie manier van die boom as simbool gebruik maak. Na aanleiding van Jung: “The motif of entwining is a mother-symbol. The entwining trees are at the same time birth-giving mothers” (Jung 1956:246-47). Met ander woorde, al kom die ek-spreker tot die slotsom dat sy nie weet “wie” die boom is nie, weet sy dat dit ‘n persoon is en onbewustelik erken sy haar ma in daardie beeld. Indien dit teenoor Mej.  X se droom geplaas word en haar pogings om teenoorgesteldes te verbind, kan ook van Boye gesê word dat sy haarself met haar ma probeer vereenselwig. Boye se lesbinisme was vir haar ‘n kruis (Boye 1994:18) en ‘n versoening met ‘n moeder wat heteroseksueel is, kan dui op ‘n aanvaarding van wie en wat sy is. Plath het soortgelyke teenstrydige gevoelens jeens Aurelia gekoester; aan die een kant is daar die behoefte aan iemand wat omgee, aan die ander kant is daar die woede jeens hierdie mens wat die vermoë het om die ek-spreker te versmoor.

 

Gevolgtrekking

 

Plath en Boye se gebruik van boomsimboliek dui op ‘n terugkeer na hul “boombestaan” in die holte van ‘n argetipiese groot moeder. Die beelde wat gebruik word is egter nie staties nie. Hulle voortdurende vervorming het betrekking op ‘n individuasie-proses wat nooit voltooi is nie omdat hulle albei selfmoord gepleeg het. In hierdie verband is dit ironies dat Jung skryf “the dead are delivered back to the mother for rebirth” (Jung 1956:233) aangesien bome uitgehol word om as doodskiste gebruik te word. Met betrekking tot hul eie moeders blyk dit uit hulle gedigte dat Plath haar lewe lank ambivalent teenoor Aurelia gestaan het. Boye had altyd ‘n behoefte aan ‘n moederfiguur wat sy dalk nie by Signe Boye gekry het nie. Die Jungiaanse benaderingswyse tot hierdie gedigte bring die gedigte nie net in verband met mekaar nie, maar ook die digters en hul problematiek.

 

Bibliografie

 

Bachrach, A. G. H.; De Grève, M.; Weisgerber, J.; Würzner, M. H. 1980 Moderne encyclopedie van de wereldliteratuur Haarlem: De Haan.

Boye K. 1994 Complete Poems: Translated by David McDuff Groot Brittanje: Bloodaxe Books Ltd.

Edinger E. F. 2002 Science of the Soul: A Jungian Perspective Kanada: Inner City Books.

Feinstein E. 2002 Ted Hughes: The Life of a Poet Londen: Orion Books Limited.

Graves R. 1952 The White Goddess: A Historical grammar of poetic myth Londen: Faber and Faber.

-. 1992 The Greek Myths: Volume One Middlesex: Penguin Books.

Hambidge J. “Ingrid Jonker ís bohaai werd: Pose van onskuld maak juis haar werk so aangrypend” Beeld 2: 23 Junie 1994.

Hughes T. 1998 Birthday Letters Londen: Faber and Faber.

Jung, C. G. 1953 Psychology and Alchemy (Collected works Vol. 12) Londen: Routledge and Kegan Paul.

-. 1956 Symbols of Transformation (Collected works Vol. 5) Londen: Routledge and Kegan Paul.

-. 1959 The Archetypes and the Collective Unconscious (Collected works Vol. 9. Part 1) Londen: Routledge and Kegan Paul.

-. 1963 Mysterium Coniunctionis: An Inquiry into the Separation and Synthesis of Psychic Opposites in Alchemy (Collected works Vol. 14) Londen: Routledge and Kegan Paul.

-. 1967 Alchemical Studies (Collected works Vol. 13) Londen: Routledge and Kegan Paul.

Lane G. 1979 Sylvia Plath: New Views on the Poetry Londen: John Hopkins University Press.

Myers L. 2001 Crow Steered Bergs Appeared: A Memoir of Ted Hughes and Sylvia Plath Verenigde State van Amerika: Proctor’s Hall Press.

Middlebrook D. 2004 Her Husband: Hughes and Plath – A Marriage Groot Brittanje: Little Brown.

Plath S. 1963 The Bell Jar Londen: Faber and Faber.

-. 1981 Collected Poems Londen: Faber and Faber.

-. 2000 The Unabridged Journals of Sylvia Plath 1950-1962 New York: Anchor Books.

Seymour-Smith M. 1985 Guide to Modern World Literature Londen: MacMillan Reference Books.

Stevens A. 1994 Jung: A Very Short Introduction Oxford: Oxford University Press.

Stevenson A. 1998 Bitter Fame: A Life of Sylvia Plath Engeland: Penguin Books.

Vescoli M. 1999 The Celtic Tree Calendar Verenigde Koninkryk: Souvenir Press Limited.

Wagner E. 2000 Ariel’s Gift Londen: Faber and Faber.

 

(Alle regte voorbehou. November 2010)