Posts Tagged ‘Indië’

Marcelle Olivier. Ietsie oor Holi, Agha Shahid Ali, en die ghazal

Thursday, April 28th, 2011

Gedagtes uit Indië: Ietsie oor Holi, Agha Shahid Ali, en die ghazal

Gevonde skedeltjie. Nasionale Museum, New Delhi. ©m.o.

Gevonde skedeltjie. Nasionale Museum, New Delhi. ©m.o.

ghazal vir lente

holi, delhi 2011

.

die weerklank van hitte is donker.

die volmaan bloei; die straat bly donker.

.

lente lê ‘n dagloop ver van noord.

van jou, ‘n jaarloop ver: suid is donker.

.

ek verbeel my jou vel ruik na amandels.

ek verbeel my ons praat. gode in die donker.

.

teorieë om eendersheid verskiet soos ink.

gousblomgeel buk die son voor donker.

.

onverlaat kwyn sewe stede weg: synloos, kru.

die poeier op jou tempelwang gis roosrooi-donker.

.

die weerkleur van seisoene klou.

hier slegs ewig reën, en droog, en donker.

Abir op 'n klipmonument, Mammalipuram, suid-Indië. ©m.o.

Abir op 'n klipmonument, Mammalipuram, suid-Indië. ©m.o.

Ek dink al maande lank oor die woord abir: die naam vir die kleur van ‘n sonsondergang wat tussen pienk en roospers huiwer, en ook vir die rooi poeier wat Hindoes op die tempeltrappe los en oor standbeelde van Krishna smeer. Oorspronklik gemaak van natuurlike kleurstowwe, maar deesdae helder sinteties – en dit geld ongelukkig vir beide die poeier en die Delhi sonsondergang. Daar is ‘n storie iewers in die woord, wat ‘n herinnering van rooi hibiskusblomme meebring, maar dit sit vas in my agterkop soos remolie onder vingernaels: sigbaar, effens onbetaamlik, en onwrikbaar. Iets sal binnekort daaraan gedoen moet word. Intussen sien ek abir oral op straat, selfs al is Holi reeds lank verby. Dit danksy verkopers met hulle goiingsakke vol blink poeiers wat die eentonigheid van grysbruin sypaadjies en verflenterde mense opbreek, en die verbleikte oorblyfsels van gekleurde water wat van balkonne oor mense, motors en die seildoekdakke van outoriksjas gestort is.

Ppoeierkleur-verkopers wag vir kliente in Chandni Chowk, in Ou Delhi.

Poeierkleur-verkopers wag vir kliente in Chandni Chowk, in Ou Delhi. ©m.o.

Holi is die lentefees, ‘n fees van water en kleur, wat val op die laaste volmaan van die 12de maand in die Hindoe-kalender, Phalguna (20 Maart hierdie jaar). Dit is die mees populêre feesdag in die kalender (selfs Diwali lyk effens bar invergelyking), wanneer almal ‘kleur speel’ – ‘n aktiwiteit wat die kinders veral geniet, maar volwassenes net so graag aan deelneem. Ballonne, sakkies en emmers gevul met gewone of gekleurde water, roos- en gousblomblare, en handevol droë poeiers word oor ieder en elk gegooi of gesmeer. Die oorsprong en evolusie van die fees is gekompliseerd as jy dit lateraal en logies probeer volg – die verskillende inkarnasies en mitiese volgelinge van Vishnu, en menige takke van Vaishnavistiese Hindoeïsme het baie hiermee te make – maar die basiese storie lui soos volg.

Prahlada was ‘n volgeling van Vishnu, teen die wense van die koning, sy demoniese vader, Hiranyakashipu. Self was Hiranyakashipu angstig om aanbid te word: hy was onoorwinlik as gevolg van ‘n akkoord wat hy met die god Brahma aangegaan het, en Hiranyakashipu se suster, Holika, ontasbaar deur vuur. Om Prahlada te straf het hy sy kind en suster op ‘n brandstapel vasgebind om die wêreld te wys dat Prahlada sou sterf omdat Vishnu ‘n vals god is, terwyl hy Holika sal kan ‘spaar’ van ‘n vlammedood. Soos jy kan raai was Prahlada se toewyding teenoor Vishnu sy redding, terwyl Holika op die brandstapel verbrand het, en die fees van Holi het ontstaan om hierdie gebeurtenis te herdenk. Oorspronklik sou volgelinge hierdie dag met water en vuur gevier het; in dele van Indië waar geglo word dat Holika haar lewe onselfsugtig opgeoffer het (deur haar eie godsseën in die vorm van ‘n serp aan Prahlada te skenk), speel vuur nog steeds die belangrikste rol in seremonies op vooraand van Holi.

Holi, Bankey Bihari tempel, noord-Indië. ©GettyImages

Holi-feesvierings, Bankey Bihari tempel, noord-Indië. ©Getty Images

Grotendeels is Holi ‘n fees vir Krishna, een van die vernaamste Hindoe-gode. Hy was volgens oorlewering die produk van ‘n tipe onbevlekte ontvangenis wat deur sy familie weggesmokkel is nadat sy oom, die koning, ‘n voorspelling gehoor het waarin die agste seun van sy broer hom sou vermoor – iets wat Krishna natuurlik later wel gedoen het. Krishna was ‘n fluitspelende herderseun wat lief was vir poetse bak en het dié feesdag populêr gemaak deur dit in ‘n vrolike affêre vol kleur te omskep waaraan almal kon deelneem. ‘n Ander verhaal lui weer dat die jong Krishna eens ongelukkig was met sy donker swartblou vel, en dat sy ma of suster sy gesig rooi geverf het om hom op te beur – volgens Hindoeïsme die kleur van passie vir hierdie god van heldedade en begeertes. Dit is ‘n interessante storielyn, aangesien daar deesdae ook geglo word dat deur met kleur te speel almal gelyk word; dus dat sosiale verdelings en kastes op hierdie dag wegval.

Of dit die filosofiese idee van gelykheid is, die feit dat dit deesdae spesifiek verband hou met die begin van lente, of dalk net ‘n kinderlike entoesiasme, ‘kleur speel’ bring ‘n losbandigheid te vore, en dit is nie ‘n verrassing dat soveel Indiërs Holi deesdae slegs sien as ‘n kans om met ‘n waterpistool of hand vol kleur op vreemdelinge – mans en vrouens – los te trek nie. Mense is geneig om wel tempel toe te gaan, en tuis ‘n offering te maak, en by die belangrike tempels in plekke soos Varanasi en Mayapur is feesvierings spiritueel gefokus, maar in die groot stede oor die algemeen is dit nogal ‘n anargistiese affêre wat dikwels handuit raak. Baie inwoners bly binne, kla oor die aggressie van party ‘spelers’, en is sinies oor die wydverspreide misbruik van alkohol deur bykans alle gelowe op hierdie dag. Die polisie het laasjaar meer as 5000 mense in Delhi gearresteer vir oortredings wat met Holi verband hou. Die werklikheid van Holi is dus eintlik nogal ver verwyder van die foto’s en romantiese beskrywings wat jy gewoonlik onder oë sal kry, wat impliseer dat almal en alles die kleurspeel positief of spiritueel sien.

Rooi tabak. ©Kevin Frayer

Vuur en vlam vir Holi. ©Kevin Frayer

Veral problematies is dat die goedkoop abir wat op straat verkoop word glad nie meer van natuurlike kleurstowwe gemaak word nie – swael, lood, kwik, ysteroksied en ander gevaarlike chemikalieë word gebruik om verpoeierde sement te kleur, en dikwels word baie fyngemaalde glas ingemeng om ‘n skittering aan die poeiers te verleen. Jaarliks verloor ‘n nie-onaansienlike getal fuiwers hulle sig en gehoor wanneer poeier of gekleurde water in hulle gesigte gegooi of summier gesmeer word, en velkwale, borsprobleme en maagsiektes tref beide mense en diere, veral die rondloper honde. Self was ek in die week voor Holi aan die ontvangkant van ‘n paar waterballonne, insluitende een met ‘n ‘edge’ wat deur my vel gebrand en ‘n lekker roof op my arm gelos het. Ek was gelukkig: die dag na Holi lees ek in die koerant dat ‘n vrou in ‘n buurt net om die draai van my met ‘n waterballon vol suur in die gesig gegooi is…

Koerante en goewermentsplakkate probeer mense kry om ‘organiese’ of plantgebaseerde kleure te koop of te maak (spinasie en pepermente vir groen; granaat en roos vir rooi; borrie en gousblom vir geel; jakaranda en indigobessie vir blou; en beet en rooi-ui vir pienk), maar die energie wat tuis ingesit moet word, of die duur pryse van natuurlike produkte koop, beteken dat basies niemand luister nie: 2 Rupies vir ‘n 10g sakkie kleur op straat teenoor 50 Rupies vir dieselfde sakkie van ‘n geregistreerde ‘organiese’ winkeltjie. Natuurlik probeer baie kleur-wallahs jou oorreed dat húlle produkte van kruie en blare gemaak is, maar sommer met die eerste oogopslag vertel die helder flikkering van die poeier ‘n ander storie. Maar ai, dit bly darem nogal mooi – mense wat die oggend spierwit uitgaan, en teen middagete lyk asof hulle onder ‘n buitensporige kleurvolle Jackson Pollock verfkwas deurgeloop het.

Tog wens ek steeds soms (soos ek in my eerste Buiteblik uit Delhi geskryf het) dat morele integriteit in werklikheid so ‘n implisiete en waardevolle aspek van Indiese leefwyse is soos wat mense – beide plaaslik en buitelands – jou graag vertel.

'n Gebedskoppie vol organiese kleur. ©m.o.

'n Gebedskoppie vol organiese kleur. ©m.o.

First Day of Spring

Agha Shahid Ali

.

KENT. Is this the promis’ed end?

EDGAR. Or image of that horror?

King Lear, 5.3.264-65

.

On this perfect day, perfect for forgetting God,

why are they – Hindu or Muslim, Gentile or Jew –

shouting again some godforsaken word of God?

.

The Angel, his wings flailing – no, burning – stood awed.

The Belovéd, dark with excessive bright, withdrew

and the day was not perfect for forgetting God.

.

On a face of stone it bends, the divining rod:

Not silver veins but tears: Niobe, whereunto

your slain children swaddled dark with the Names of God?

.

And now on earth, you and I, with longin so flawed

that: Angel forced to grow not wings but arms, why aren’t you

holding me this day – perfect for forgetting God?

.

You spent these years on every street in Hell? How odd,

then, that I never saw you there, I who’ve loved you

against (Hold me!) against every word of God.

.

The rumor? It’s again the reign of Nimrod.

Whoever you are, I depend on your message,

                                                                     but you –

              Angel I suspect no longer of God –

are still bringing me word from (Could it be?) from God.

.

In my vorige Buiteblik het ek ook ’n gedig van Agha Shahid Ali (1949 – 2001) geplaas, ‘n digter wat ek in my soeke deur die rakke van inheemse poësie in Delhi se boekwinkels ontdek het. Hy het gedeeltelik in Amerika grootgeword, nagraads gestudeer en later permanent daar gewoon, maar sy kinder- en vroeë studentejare het hoofsaaklik in Delhi en in Kashmir afgespeel; alhoewel hy uitsluitlik in sy ‘eerstetaal’, Engels, geskryf het, was Urdu, volgens hom, sy moedertaal. Party kritici sien Ali se poësie as emosioneel, oordrewe en, as gevolg van ‘n kontekstuele mengsel van Islamitiese en (veral Amerikaans-) Westerse verwysings, te moeisaam van proses om klaarheid op die versbodem te vind wanneer die uiterlike interpretasie van sy gedigte ook redelik ‘eenvoudig’ kan lees.

Ghazal

Agha Shahid Ali

.

Where should we go after the last frontiers,

where should the birds fly after the last sky?

Mahmoud Darwish

.

In Jerusalem a dead phone’s dialed by exiles.

You learn your strange fate: You were exiled by exiles.

.

One opens the heart to list unborn galaxies.

Don’t shut that folder when Earth is filed by exiles.

.

Before Night passes over the wheat of Egypt,

let stones be leavened, the bread torn wild by exiles.

.

Crucified Mansoor was alone with the Alone:

God’s loneliness – Just His – compiled by exiles.

.

By the Hudson lies Kashmir, brought from Palestine –

It shawls the piano, Bach beguiled by exiles.

.

Tell me who’s tonight the Physician of Sick Pearls?

Only you are you, Desert child, by exiles.

.

Match Majnoon (he kneels to pray on a wine-stained rug)

or prayer will be nothing, distermpered mild by exiles.

.

Even things that are true can be proved.” Even they?

Swear not by Art but, dear Oscar Wilde, by exiles.

.

Don’t weep, we’ll drown out the Call to Prayer, O Saqi –

I’ll raise my flass before wine is defiled by exiles.

.

Was – after the last sky – this the fashion of fire:

Autumn’s mist pressed to ashes styled by exiles?

.

If my enemy’s alone and his arms are empty,

give him my heart silk-wrapped like a child by exiles.

.

Will you, Belovéd Stranger, ever witness Shahid –

two destinies at last reconciled by exiles?

Agha Shahid Ali

Agha Shahid Ali

Ali is bekend vir sy gebruik en bevordering in die Westerse kanon van die ghazal, soos hierbo, ‘n Persiese poësievorm met streng refrein-patrone en temas wat uit ongeveer die sesde eeu dateer en dikwels in sangvorm gebruik is; Die Indiër, Mirza Ghalib, is seker een van die mees herkende ghazal-komponiste van die afgelope twee eeue. In sy oorspronklike baadjie was die lengte van elke versreël in ‘n ghazal onbuigbaar, die stem tematies gebonde aan die geestelike of godsdienstige, en ‘n spesifieke of ‘n onbeloonde (ge)liefde, met ‘n woordpatroon wat verantwoordelik is vir ‘n rymskema (AA, BA, CA, ens.) wat deur digmaat sorg dat drama beide opbou en afbreek in elke koeplet. Laasgenoemde is een van die aspekte van die versvorm wat dit moeilik maak om suksesvol uit te voer: die skrywer moet die oorbodigheid en, dikwels, die soetsappigheid afkomstig van die noodgedwonge woordherhaling minimaal hou, maar hom of haar terselfdertyd oorgee aan die ‘vergroting’ van die sentiment. Lees gerus die volgende vers, een van Ali se bekendste ghazals.

Ghazal

Agha Shahid Ali

.

The only language of loss left in the world is Arabic –

These words were said to me in a language not Arabic.

.

Ancestors, you’ve left me a plot in the family graveyard –

Why must I look, in your eyes, for prayers in Arabic?

.

Majnoon, his clothes ripped, still weeps for Laila.

O, this is the madness of the desert, his crazy Arabic.

.

Who listens to Ishmael? Even now he cries out:

Abraham, throw away your knives, recite a psalm in Arabic.

.

From exile Mahmoud Darwish writes to the world:

You’ll all pass between the fleeting words of Arabic.

.

The sky is stunned, it’s become a ceiling of stone.

I tell you it must weep. So kneel, pray for rain in Arabic.

.

At an exhibition of miniatures, such delicate calligraphy:

Kashmiri paisleys tied into the golden hair of Arabic!

.

The Koran prophesied a fire of men and stones.

Well, it’s all now come true, as it was said in Arabic.

.

When Lorca died, they left the balconies open and saw:

his qasidas braided, on the horizon, into knots of Arabic.

.

Memory is no longer confused, it has a homeland –

Says Shammas: Territorialize each confusion in a graceful Arabic.

.

Where there were homes in Deir Yassein, you’ll see dense forests –

That village was razed. There’s no sign of Arabic.

.

I too, O Amichai, saw the dresses of beautiful women.

And everything else, just like you, in Death, Hebrew, and Arabic.

.

They ask me to tell them what Shahid means –

Listen: It means “The Belovéd” in Persian, “witness” in Arabic.

Wasdag in Port Blair. Andaman Eilande. ©m.o.

Wasdag in Port Blair, Andaman-eilande. ©m.o.

Beide Goethe en Thomas Hardy het in vroeërjare met ghazals ge-eksperimenteer, maar meer onlangs het die ‘verbasterde’ ghazal in verskeie Westerse digters se repertoires opgeduik, veral onder Noord-Amerikaners, insluitende Robert Pinsky, Maxine Kumin, Jim Harrison, Phyllis Webb, en Adrienne Rich. Krities gesproke loop die baster-ghazal op dun ys – moderne gedigte sal meer dikwels as nie slegs een of twee van die voorvereistes van die tradisionele ghazalvorm inkorporeer; die koeplet en die minimum van vyf stanzas word wel omtrent universeel gebruik, maar dan gereeld sonder die histories-belangrike rymskema of digmaat. Dus behou sekere skrywers die tema maar nie die rymskema nie; die punt aan die einde van elke versreël, maar nie die woordlengte nie; die skrywersnaam ingeweef binne die gedig self, maar dalk nie die individuele selfonderhoudenheid van elke koeplet nie. Of dit dan wel nog ‘n ghazal genoem kan word is, en dus of die baster-ghazal komponis op die historiese, langlewende gewig van die vorm kan aanspraak maak in die skrywe en betekenis van hulle eie gedig, is belangrike vrae. As mens die kritiese literatuur oor ghazals/baster-ghazals bekyk, blyk dit of dit nogal afhang van die relatiewe roem van die digter self, maar dalk is so ‘n interpretasie in elk geval selfvervullend as gevolg van die algehele kwaliteit van die skryfwerk onder oog. Hier is ‘n paar uittreksels uit die wonderlike Adrienne Rich se Ghazals: Homage to Ghalib.

7/12/68

for Sheila Rotner

The clouds are electric in this university.

The lovers astride the tractor burn fissures through the hay.

.

When I look at that wall I shall think of you

and of what you did not paint there.

.

Only the truth makes the pain of lifting a hand worthwhile:

the prism staggering under the blows of the raga.

.

The vanishing point is the point where he appears.

Two parallel tracks converge, yet there has been no wreck.

.

To mutilate privacy with a single foolish syllable

is to throw away the search for the one necessary word.

.

When you read these lines, think of me

and of what I have not written here.

.

7/14/68: ii

Did you think I was talking about my life?

I was trying to drive a tradition up against the wall.

.

The field they burned over is greener than all the rest.

You have to watch it, he said, the sparks can travel the roots.

.

Shot back into this earth’s atmosphere

our children’s children may photograph these stones.

.

In the red wash of the darkroom, I see myself clearly;

when the print is developed and handed about, the face is nothing to me.

.

For us the work undoes itself over and over:

the grass grows back, the dust collects, the scar breaks open.

.

8/4/68

for Aijaz Ahmad

If these are letters, they will have to be misread.

If scribblings on a wall, they must tangle with all the others.

.

Fuck reds    Black Power   Angel loves Rosita

and a transistor radio answers in Spanish: Night must fall.

.

Prisoners, soldiers, crouching as always, writing,

explaining the unforgivable to a wife, a mother, a lover.

.

Those faces are blurred and some have turned away

to which I used to address myself so hotly.

.

How is it, Ghalib, that your grief, resurrected in pieces,

has found its way to this room from your dark house in Delhi?

.

When they read this poem of mine, they are translators.

Every existence speaks a language of its own.

Rooifort, Agra. ©m.o.

Rooifortstories, Agra. ©m.o.

Dalk moet ons die ghazal krediet gee vir die inherente ego en sinswaarde in elk van die vorm-voorskrifte, eerder as om die persepsie te kweek dat die vorm slegs kan bestaan as dit streng-tradisioneel geskryf word (in welke geval ons alreeds, deur dit vanuit die Persiese agtergrond te pluk vir gebruik buite die kulturele en linguistiese parameters van geboorte, besoedel het). Elke bestaan praat ‘n eie taal. En alhoewel hy ‘n sterk voorstaander van die tradisionele ghazal is, het Ali self ook in van sy vertalings vorm geheel en al laat vaar: om die tematiese aspekte van die Pakistani digter Faiz Ahmed Faiz (1911–1984) se ghazals te behou, het hy byvoorbeeld al die ghazal-komposisies in die bundel The Rebel’s Silhouette in vryevers omsit.

Daniel Hall skryf in die voorwoord van Ali se the veiled suite: The Collected Poems (2009) dat ‘given the stringencies of the ghazal, it may not be possible to achieve a translation that preserves the form.’ Hy gaan voort: ‘However, in a later translation of Faiz’s ghazal, “Memory”, Shahid chose to work the poem into Sapphic stanzas, of all things. It was an audaciously intuitive decision, to translate a ghazal – a Persian form that predates Chaucer – written in Urdu by a modern Pakistani poet, into an adaptation of the classical Greek stanza at least as unforgiving as the ghazal itself. The miracle is that the finished English poem is a heartbreaking masterpiece.’ Ek sou graag my laaste Buiteblik vanuit Indië met Faiz se gedig soos vertaal deur Ali afsluit, maar ek is bevrees die internet en die biblioteek het my hierdie keer gefaal. In plaas daarvan dus ‘n ander Faiz-ghazal, soos deur Ali vertaal – omdat ek tog ook onthou dat dit herfs is daar onder in Suid-Afrika.

August 1952

Faiz Ahmed Faiz

.

It’s still distant, but there are hints of springtime:

some flowers, aching to bloom, have torn open the collars.

.

In this era of autumn, almost winter, leaves can still be heard:

their dry orchestras play, hidden in the corners of the garden.

.

Night is still where it was, but colors at times take flight,

leaving red feathers of dawn on the sky.

.

Don’t regret our breath’s use as air, our blood’s as oil –

some lamps at last are burning in the night.

.

Tilt your cup, don’t hesitate! Having given up all,

we don’t need wine. We’ve freed ourselves, made Time irrelevant.

.

When imprisoned man opens his eyes, cages will dissolve: air, fire,

water, earth – all have pledged such dawns, such gardens to him.

.

Your feet bleed, Faiz, something surely will bloom

as you water the desert simply by walking through it.

.

Vertaal deur Agha Shahid Ali

Spoke, Ross-eiland, Andaman-eilandgroep

Spoke dwaal op Ross-eiland, Andaman-eilandgroep. ©m.o.

 

Marcelle Olivier. Krieketspelers op die dak, en ander brokkies

Sunday, February 13th, 2011

Nuus uit Indië: Krieketspelers op die dak, en ander brokkies

'n Bietjie kleur

Daar is ‘n groep van sewe Sikh-mans wat krieket speel op ‘n half-voltooide dak wat ek vanuit my studeerkamer-venster kan sien. Die veldwerkers staan gebukkend in ‘n halfsirkel omtrent 5m weg van die kolwer wat met oorbodige swierigheid die bal grondlangs, so tussendeur almal se bene, muur toe probeer stuur. Die bouler drink iets uit ‘n bottel en doen ‘n jubellende dansie na elke bal. ‘n Groot aap sit op die satellietskottel van die woonstelblok hier oorkant my en staar terwyl hy bietjie krap, ook besig om die kort lopies te tel en dalk, soos ek, te wonder wat gaan van die spel word as iemand per ongeluk ‘n ses slaan. Drie parkietgroen parkiete swaai op die telefoondraad wat vier verdiepings op tussen Blok B 10-18 en Blok B 19-30 hang. Ek kan honde en autoriksjas hoor blaf. Dis ‘n gewone rookmistige geel namiddag in Delhi.

My selfoon lui. ‘Hallo, Marcelle wat praat,’ antwoord ek in Engels.

‘Hallo?’ skree iemand. Dis normaal dat mense hier oor die telefoon skree.

‘Hallo?’ sê ek. ‘Kan ek help?’

‘Hallo?’ Dan iets onverstaanbaars. ‘Hallo?’

‘Met wie wil jy praat?’ Wie weet, dalk is dit die man van die bank, dus vra ek maar eers.

‘Hallo? Harish!’ Dié keer is daar bietjie meer geskreeuery in Hindi, en noodgedwonge stop ek die spreker halfpad deur ‘n sin.

‘Jammer, hier is geen Harish hier nie.’

‘Harish!’

‘Nié Harish nie. Dis nie meer sy nommer nie.’

Stilte, vir ‘n oomblik.

‘Hallo? Harish?’

Ek sug en sit die telefoon neer. Ek is so moeg van Harish.

Hallo! Harish? Ek wag vi' jou oppie treinspoor in Kolkata... (c) Rajarshi Chowdhury

Hallo! Harish? Ek wag vi' jou oppie treinspoor in Kolkata... (c) Rajarshi Chowdhury

Alhoewel jy deesdae kan betaal om jou telefoonnommer te behou, was dit tot baie onlangs permanent gekoppel aan jou selfoondiens en moes jy ‘n nuwe een kry as jy van een verskaffer na ‘n ander wou verander. Daarom Harish, wat natuurlik vergeet het om sy kontakte te laat weet dat hy ‘n nuwe nommer het. Daar is ander probleme met die telekommunikasie-industrie in Indië. Selfoon- en internetkonneksies is power, en jy kan op enige plek, enige tyd, jou sein verloor. Dit is wel ongoddelik goedkoop om binnelands te bel en SMS’e te stuur, maar Krishna behoed jou as jy enige normale, behulpsame kliëntediens in ruil vir jou lojaliteit benodig. Om ‘n boodskap vir iemand te los verg ‘n tog deur ‘n nommerdruk-doolhof wat jou meer tyd neem as ‘n SMS, en dit is totaal en al onmoontlik om nié gemorspos op jou selfoon te ontvang nie: Nee, ek stel nie belang in ‘n bona fide diploma in aptekerswese van ‘n top Amerikaanse universiteit vir slegs ‘n $100 registrasiefooi nie; nee dankie, maar ek dink nie ek gaan in ‘n nuwe Ayurvedic-medisyne vir natuurlike gewigsverlies belê nie, en nee, ek wil glad nie ‘n bouperseel in Gurgaon koop nie.

En dan was daar die 2G-spektrumvendusie skandaal. Die voormalige minister van telekommunikasie, Andimuthu Raja, het die reëls, wel, sal ons sê ‘effe verontagsaam’, en wetende spektrum-lisensies aan sekere individue en maatskappye vir ‘n appel en ‘n ei verkoop (as vir uie was sou dit dalk nog iets werd gewees het; die swak oeste vanjaar was ‘n ekonomiese ramp vir die armer klasse), en sodoende die land meer as Rs1.76 lakh crore (‘n lakh is honderd duisend, ‘n crore tien miljoen, dus sowat R250bn in ons geld) gekos. Wat blykbaar nogal baie is. Sover dit my aangaan is die grootste issue natuurlik Harish, maar ek is bereid om te aanvaar dat andere nie dieselfde mag voel nie. Die korrupsie-ding is dalk bietjie meer universeel-belangrik.

Ek maak koffie, sien dat die kolwers op die dak omgeruil het, en loer weer na die koerant op die lessenaar. Delhi en sy buurstaat, Haryana, is betrokke in ‘n hittige gesprek oor wie verantwoordelik is vir die besoedeling van die Yamunarivier wat deur die ooste van die stad loop. Ek gebruik die woord ‘rivier’, maar dit is eintlik ‘n oop drein wat die riool dra van duisende onwettige woonstelblokke in digbeboude buurte op die rivierwalle. Daar is soos gewoonlik ‘n paar foto’s van vermiste kinders (gelukkig lees ek The Hindu; in die Times of India is daar ook elke dag foto’s van onbekende lyke in verskeie state van ontbinding vir wie die polisie identifikasie soek), en ‘n storie oor ‘n jong meisie wat blykbaar as menslike opoffering vir ‘n kinderlose egpaar vermoor is.

Op soek na iets bruikbaars in die besoedelde Yamunarivier

Op soek na iets bruikbaars in die besoedelde Yamunarivier

Ek blaai om, opsoek na ietsie ligter. Sigbaarheid op die aanloopbaan by Indira Gandhi Internasionale Lughawe was vir sewe ure gisteroggend minder as 100m as gevolg van lugbesoedeling. Wel, dis nou nie asof mens juis nódig het om die aanloopbaan te sien as jy ‘n vliegtuig land nie, is dit? Of dat mens longe nódig het om asem te haal nie? Verder: die nuwe metro-link tussen die lughawe en die stad, wat op 3 Oktober 2010 al in aksie moes wees om Statebondspele-toeskouers te karwei, is uiteindelik in die finale toetsfase: ‘As perfeksie nodig is, sal daar vertragings wees’, sê die Minister van Delhi, Sheila Dikshit. Hmm, perfeksie? In Delhi? Ek wonder of Tannie Sheila regtig hier woon…

Daar is ‘n artikel oor die Surajkund Mela wat op die oomblik aan die gang is, waar ek ook bietjie gaan rondsnuffel het. Mela is die woord wat gebruik word vir enige byeenkoms waar verkopers saam kom om handewerk uit te stal. Dit kan ‘n groot of klein affêre wees, met kosstalletjies of daarsonder, vol juweliersware, klere of meubels, van goeie kwaliteit of so swak dat selfs die apies neusoptrek en weier om iets te steel. Die Sarajkundfees, wat elke Februarie gehou word, bring tesame kunshandewerk van al 28 state van Indië, asook van Nepal, Tibet, Sri Lanka, en vanjaar selfs Afghanistan en Uzbekistan. Volgens die artikel is die groot verkoper hierdie jaar blykbaar die Pochampally-weefwerk, afkomstig van Andra Pradesh met sy pragtige ou hoofstad Hyderabad (tot en met 1948 ‘n onafhanklike Islamitiese staat): ‘n ingewikkelde weefstyl genaamd ikat, waar elke garing individueel deur ‘n tie-dye proses gekleur word. Ek stap op en af tussen die stalletjies, koop ‘n romp of twee, ‘n paar lappe, ‘n tafelbeker en glase gemaak van geel keramiek, en ‘n turkoois ring uit Nepal, en kyk vir ‘n rukkie na ‘n helder opgetofte eunug-danstroep. Die dansers aanvaar Rs10-, Rs100- en selfs Rs500-note in hulle monde, van mense wat foto’s saam met hulle wil neem.

Girl standing in a veranda wearing a Pochampalli sari, deur Hermann Linde

Girl standing in a veranda wearing a Pochampalli sari, deur die Duitse skilder Hermann Linde

Eunugs vervul ‘n interessante niche in Indië. Hulle is Hijras, ‘n derde geslagsgroep wat verskillende mense van ‘n verskeidenheid dubbelsinnige seksualiteite insluit. Baie eunugs kies self om as deel van dié gemeenskap te leef, maar baie word as kinders ontvoer, gekastreer en dan op straat geforseer as bedelaars of uitverhuur om geld te verdien. Mense nooi Hijras na troues toe om geluk te bring, en eunugs word by geleentheid baie betaal om goeie seënwense uit te deel. Maar daar is terselfdertyd ‘n vrees dat Hijras kan vervloek, en dus wydverspreide diskriminasie teenoor hierdie gemeenskap: hulle word gereeld verbaal en fisies aangerand. Die koerant vertel dat die Delhi munisipaliteit laasjaar uiteindelik ingestem het om ‘n pensioen van Rs1000 per maand (ongeveer R160) uit te betaal vir eunugs wat geregistreer is, maar dat daar bitter min kans is dat hulle ooit die geld gaan sien omdat daar blykbaar nie ‘genoeg’ rupees daarvoor in die staatskoffers is nie. Leë beloftes aan onderdrukte kastes, 4×4’s vir die Tannie Sheila’s en Oom Raja’s van die wêreld. Die korrupsie hier is soveel erger as in Suid-Afrika; die afstand tussen ryk en arm soveel wyer.

Geelgeverfde eunug-danser by die Sarajkund kunshandewerkfees

Geelgeverfde eunug-danser by Surajkund se kunshandewerkfees

My foon tril weer. Nee, dankie, ek wil onder geen omstandighede inskryf om ‘n weeklikse horoskoop teen Rs45 p/w te ontvang nie. Delete message? Yes! Yes! Yes! Dalk moet ek maar nog ‘n ‘unsubscribe’ SMS vir Vodafone stuur; soos hulle sê: 84th time lucky? Ek kyk op en vind dat die parkiete en die aap op die satellietskottel verdwyn het, maar is net betyds om te sien hoe ‘n krieketbal oor die muur van die dakstoep bons. Al sewe mans hardloop kant toe en leun oor om af te skreeu na die dhobi op die hoek wat besig is om klere met ‘n koolstrykyster te stryk en die vrugte-wallah wat met sy waentjie vol druiwe, appels en enorme groen guavas straatop stap. Die dhobi skree iets terug en twee klein seuntjies materialiseer van agter die baksteentafel; hulle begin naarstiglik in die onwelriekende hopies blare en plastiek en uitskeidings rond te krap. Na ‘n minuut of twee verloor die Sikhs belangstelling in die soektog vir hulle bal, trek ‘n paar stoele nader en bring bierbottels te voorskyn. Hulle sit daar tot lánk na sonsondergang.

Partykeer sien ek ‘n ou man geklee in oranje en wit op dieselfde stukkie dak bid; een keer per dag vee hy die dakvloer skoon, stadig, rug effens krom. Menige kere hang ‘n jong meisie met blinkswart hare wasgoed uit sodat die stof dit kan droog en soms kom sit ‘n roofvoël op die watertenk.

Maar ek twyfel of hulle ooit die dak gaan klaar bou.

*

I Dream It Is Afternoon When I Return to Delhi

deur Agha Shahid Ali

.

At Purana Qila I am alone, waiting

for the bus to Daryaganj. I see it coming,

but my hands are empty.

“Jump on, jump on,” someone shouts,

“I’ve saved this change for you

for years. Look!”

A hand opens, full of silver rupees.

“Jump on, jump on.” The voice doesn’t stop.

There’s no one I know. A policeman,

handcuffs silver in his hands,

asks for my ticket.

.

I jump off the running bus,

sweat pouring from my hair.

I run past the Doll Museum, past

headlines on the Times of India

building, PRISONERS BLINDED IN A BIHAR

JAIL, HARIJAN VILLAGES BURNED BY LANDLORDS.

Panting, I stop in Daryaganj,

outside Golcha Cinema.

.

Sunil is there, lighting

a cigarette, smiling. I say,

“It must be ten years, you haven’t changed,

it was your voice on the bus!”

He says, “The film is about to begin,

I’ve bought an extra ticket for you,”

and we rush inside:

.

Anarkali is being led away,

her earrings lying on the marble floor.

Any moment she’ll be buried alive.

“But this is the end,” I turn

toward Sunil. He is nowhere.

The usher taps my shoulder, says

my ticket is ten years old.

.

Once again my hands are empty.

I am waiting, alone, at Purana Qila.

Bus after empty bus is not stopping.

Suddenly, beggar women with children

are everywhere, offering

me money, weeping for me.

Sonsondergang, Delhi

Sonsondergang, Delhi

* marcelle olivier spandeer tans ‘n bietjie kreatiewe dink- en skryftyd in Indië. New Delhi, die hoofstad, vier vanjaar sy 100ste bestaansjaar.

Marcelle Olivier. Betekenis in ‘n platoniese verhouding

Friday, January 7th, 2011

Gedagtes uit Indië: Die betekenis in ‘n platoniese verhouding

Lodhi Tuine, Delhi

In Lodhi Tuine, Delhi

Om mee te begin ‘n gedig deur die liriese skrywer en digter Gulzar, gebore in 1934 in ‘n deel van Indië wat nou in Pakistan lê. Sy poësie is vol van aardsheid, sensitief en netjies vertolk, en hy is bekend vir ‘n sterk visuele fokus op alledaagse details wat wyer tematiese konteks en interpretasie uitlok (‘n rede hoekom ek op hierdie skrywer besluit het). Onverrassend dalk dat hy ook ‘n bekende film-maker is. Die twee verse hieronder is oorspronklik in Urdu geskryf en is vertaal deur Pavan K. Varma.

*

Meaning

From the square, through the mandi, past the market

Along the red street floats the paper boat

Helpless, bobbing about in the unclaimed, orphaned waters of the rain

In the wanton streets of the town, frightened, it asks:

If every boat has a shore

Will I too have mine?

.

What torment an innocent child has wrought

On a piece of waste paper

By giving meaning to the meaningless

*

Hulle is besig om Connaught Place, die eens-impressiewe sentrale sirkus van New Delhi se Koloniale argitektoniese meesterplan, op te grawe. Nuwe tonnels moet gebou word, fasades moet herstel word, parkeerareas moet van modder na teer verfraai word. Dis is werk wat begin het nog vóór die Statebondspele laas Oktober en is soos meeste dinge in Indië nooit voltooi nie. ‘n Stowwerige bordjie wat maande gelede omgeval het proklameer trots ‘Connaught Place: The Lifestyle Destination’; iemand het sylangs en sonder dink paan oor die letters gespu.

Gedurende die Spele het hulle die strate leeggemaak van diegene wat op die sypaadjies eetleefslaap, werkende mense op ‘n Goewerments-gesubsidieerde vakansie gestuur sodat die verkeer kon lig loop, en duisende jong boompies geplant om die eis dat Delhi die groenste stad in Indië (dalk ‘ter wêreld!’, as jy die advertensies op die busse wil glo) is, te versterk. Nadat die Statebond-toeriste en die media verdwyn het, het die stad sonder om oog te knip weer teruggeglip in sy voormalige klere: ‘n kleurvolle, reukvolle, treurvolle gemaal van 22 miljoen Delhiwallahs, rondloperhonde, beeste en muskiete. Die nuwe boompies is omgery deur motorfietse of platgetrap deur die menslike duisendpoot wat elke dag deur die stad sirkel (hulle moes vinnig weer herplant toe Barack Obama in November kom kuier het en selfs van dié stingeltjies is nou net ‘n droewige klomp takkies oor); die straatkinders met hulle blink hare en hartseer rofies is terug op elke hoek, al tik-tikkende aan jou kar se vensterruit; en die gedruis van konstruksiewerk in Connaught Place oorheers weereens die toetery en brommery van die groen-en-geel outo-riksjas.

Die winkeleienaars hier kla want nou is hulle alweer sonder telefoonkonneksies, en dus ook sonder ‘n meganisme om die kredietkaarte van beide die ongemaklikte oorsese toeriste en die Gap- en Reebok-draende middelklasse te aanvaar. Die stalletjie-eienaars in die ondergrondse Palikabazaar is eweneens kwaad: van die voetgangertonnels is toe, van die voerpaaie heeltemal afgesper, wat dit natuurlik moeiliker as gewoonlik maak vir, wel, daardie selfde ongemaklike toeriste om sover te kom om te veel Rupees op ‘n oulike standbeeldjie van Ganesh te spandeer. En die taxi-bestuurders skree blou moord oor hulle nêrens mag parkeer om klante op te tel en af te laai nie – en dít is ‘n baie ernstige aanklag aangesien jy eintlik orals in Delhi kan stop selfs al is daar ‘n streep of ‘n bordjie wat sê jy moenie.

'n Normale dag se rookmis en verkeer in Connaught Place

'n Rustige dag se rookmis en verkeer in Connaught Place (c)Scott Dexter

Maar niemand sal luister na die winkeleienaars se pleidooie nie en, op die ou einde, sal die taxi-bestuurders in elkgeval oor die sypaadjies ry en in werksvore parkeer. Niemand in Delhi luister na enigiemand anders nie – mense leef verbymekaar ten spyte van die feit dat jy nooit verder as ‘n voet van iemand anders se asem verbyloop nie. Daarom dalk tog: kyk na jouself, want niemand anders het die tyd of die geld of die emosionele hulpbronne om ‘n uitsondering vir jou maak nie. Ek dink dit is ‘n natuurlike gevolg van ‘n groot populasie en beide die saamgeweefde godsdienste, en die kastesisteem van Indië. Soos Yann Martel se hoofkarakter dit in Life of Pi dink: Hedge your bets – doen wat gedoen moet word om hopelik dit tot die hiernamaals te maak. Karma sorg nie regtig vir selfloosheid nie: daar is nie ‘n innigheid in hulp, in dank, in trots, in vertroue hier nie. ‘n Plakkertjie van Ghandi of Shiva op jou kar se paneelbord bied genoeg veiligheid, laat jou onbesorg die wonderlike drama van Delhi se ringpad infoeter. Straatrommel het ‘n eie plek in die lewe en dit is niemand anders se bekommernis of beslommernis behalwe vir dié wat gebore word om hulself daarmee besig te hou nie.

*

Barren Woman

No spark bursts into flame in this cold body

Borken threads of breath hang from my throat

Bubbles of water are caught in my frozen blood

Sleep lies perched on eyes turned to stone

The night is still, it lies with me like a piece of wood

.

No spark bursts to flame in this cold body

She who gave me birth must have been some barren woman.

*

Ek weet dit klink simplisties, maar om hier te woon is so totaal anders as om vir ‘n paar weke deur die land te reis as toeris (en, in vergelyking, ligjare verwyder van my ervaring van leef en woon in Amerika, Engeland, Suid-Afrika, en Zambië); die verstandhouding wat jy opbou met die kultuur, en meer spesifiek eintlik met die daaglikse lewe, word besoedel deur ‘n tipe hardkoppigheid om te wees, te is, te bestaan in ‘n land waar ambisie, selfs al word dit uiterlik volbring, in praktyk net ‘n hipotese is. Ek besef ook dat ‘n mens eeue van geskiedenis en filosofie kan aanhaal om te bewys dat Indië wel kompleks en betekenisvol is en tog, ten spyte daarvan, het ek begin wonder of simplisme nie juis jou hele oorlewing in hierdie stad – ‘n stad wat ‘n volle derde van die hele Suid-Afrikaanse mensdom beslaan! – verseker nie. Dat as die Indiese visie van tegnologie, universele demokrasie, en wêreldleierskap wat daagliks die koerante vul wel tot vrug sou kom, dit eintlik geen verskil aan negentig persent van die inwoners sal maak nie.

Nuwe sosiale, ekonomiese of praktiese ‘reëls’ wat uit so ‘n verandering sou spruit sou niks beteken in relasie tot daardie negentig persent se eet-leef-slaap nie. Enige poging om herorganisasie sal aanvaar en dan geïgnoreer word, en die lewe sal voortgaan soos altyd – kla sal mense, ja, maar almal verstaan dit is eintlik net ‘n gejaag na die wind. Hier is dit makliker om saam met ander te leef as jy die reëls erken, maar nie daarby hoef te hou nie. Dus, oppervlakkige samehangendheid – op sosiale, ekonomiese, en ritualistiese vlak – bepaal oorlewing.

Go to a tea shop anywhere along the Ganga, sir, and look at the men working in that tea shop – men, I say, but better to call them human spiders that go crawling in between and under the tables with rags in their hands, crushed humans in crushed uniforms, sluggish, unshaven, in their thirties or forties or fifties but still ‘boys’. But that is your fate if you do your job well – with honesty, dedication, and sincerity, the way Gandhi would have done it, no doubt. I did my job with near total dishonesty, lack of dedication, and insincerity – and so the tea shop was a profoundly enriching experience. […] I used my time at the tea shop in Laxmangarh to spy on every customer at every table, and overhear everything they said. I decided that this was how I would keep my education going forward – that’s the one good thing I’ll say for myself. I’ve always been a big believer in education – especially my own.

'n Platform by Nizamuddin in Delhi

Tussen treine, tussen stasies: die lewe op 'n platform by Nizamuddin in Delhi

My goeie voorraad (inheemse) gin & tonics maak my meer filosofies en, ek is bevrees om te sê, ook meer subjektief oor my verhouding met die stad. Die lesers wat dalk nog nie Aravind Adiga se ‘The White Tiger’ gelees het nie, moet dit gerus op die bedkassie sit; die drie kort uittreksels hier aangehaal in kursief kom uit dese boek. Dit is ‘n goeie storie met swak struktuur wat sleg geskryf is, ‘n Booker-pryswenner wat die beoordelaars verstom het met sy eerlikheid oor die onveranderbare baatsugtigheid wat Indië kenmerk eerder as ‘n werk van merkwaardige literêre deug. Al wou ek dit nie alles glo voordat ek self hier op die boonste vloer van ‘n woonstel sonder warm water in die kombuis, in ‘n buurt met die romantiese naam van South Extension Part Two, aangeland het nie, kan ek jou nou al sê: dit wat jy in dié boek gaan lees, is waar. Vergeet Sam Miller se genotvolle staaltjies oor niks en niemand, en William Dalrymple se uitstekende historiese kommentaar in ‘City of Djinns’ of ‘The Last Mughal’ (wat ongelukkig in sulke onverdraaglike egoïstiese prosa geskryf is dat jy wens dat jy ook midde ‘n wolk van as en wierook op die Ganges kan wegdryf). Vergeet die betowerende intellektuele tekstuur en karakters van Roy, Naipaul, Rushdie, Seth en Narayan: hierdie is verhale wat die kultuur diep aanraak, maar nie die gesetelde en bewonderingswaardige oppervlakkigheid van bestaan eksplisiet verwoord nie. Subtiel is nie ‘n tema wat Indië goed pas nie – ‘n moeilike, godslasterlike ding om te sê, maar iets wat die leser midde-in elke onderhandeling tussen Adiga se karakters sal opmerk: ‘n kern is nie noodwendig subtiel nie.

Go to Old Delhi, behind the Jama Masjid, and look at the way they keep chickens there in the market. Hundreds of pale hens and brightly coloured roosters, stuffed tightly into wire-mesh cages, packed as tightly as worms in a belly, pecking each other and shitting on each other, jostling just for breathing space; the whole cage giving off a horrible stench – the stench of terrified, feathered flesh. On the wooden desk above this coop sits a grinning young butcher, showing off the flesh and organs of a recently chopped-up chicken, still oleaginous with a coating of dark blood. The roosters in the coop smell the blood from above. They see the organs of their brothers lying around them. They know they’re next. Yet they do not rebel. They do not try to get out of the coop. The very same thing is done with human beings in this country. […] Here in India we have no dictatorship. No secret police. That’s because we have the coop.

Oorlewing hier moet simplisties wees, dit kan nie anders nie: You can put the key of his emancipation in a man’s hands and he will throw it back at you with a curse. Adiga skryf dat die rede hiervoor is dat jy gebonde is aan diegene rondom jou in n letterlike lewe-en-dood situasie, maar ek sou dink dat selfs so ‘n verduideliking te intellektueel, te gekompliseerd is. Op die ou einde is dit net te veel moeite – selfs al sou ‘n honderd miljoen individue uitbreek sal dit niks aan die land verander nie. Daar bly nog negehonderd miljoen mense oor wat nie omgee oor jou nie en wat nie hulle lewe kan of wil verander nie. Dus mag jy jou persoonlike ambisies bereik, maar om hier te bly leef sal jy steeds met die res van die samelewing moet kommunikeer. Niemand sal ernstig luister nie, almal sal voortgaan soos altyd. Of jy nou ‘n hoender of ‘n slagter is of die slagter se baas se baas is, ‘n oppervlakkige samehangendheid bevoordeel almal. Dit is iets wat ek waardeer, en waarop ek op n vreemde manier jaloers is.

Ek hou van Indië en Delhi, maar nie op ‘n uitspattige manier of spirituele vlak wat dalk nodig is om in te val met die romantiese ‘idee’ van hierdie land wat mense so graag wyd en suid proklameer nie. Ek en die stad het ‘n emosionele maar platoniese verhouding. Die geskiedenis van die sub-kontinent is oorweldigend en soms moeilik om mee tred te hou, en dus bewonder ek die feit dat mense dit so maklik van hulle daaglikse lewe kan distansieer én terselfdertyd kan verpersoonlik, sonder verwyt of skuld, soos hulle dit benodig, ten koste van ander. Enige priester by enige tempel in Delhi sal jou ‘n deal maak: die béste god vir jou bekom teen ‘n goeie prys. Dis maklik en goedkoop. En as jy bietjie straataf rondsoek wed ek jou jy kry ‘n ander priester wat jou vyftig Rupees minder sal vra vir dieselfde god se seën, dalk sommer ‘n ietsie ekstra bygooi want hy het ‘n spesiale konneksie met ‘n spesifieke inkarnasie. Dit is nie innig nie, maar dit ís wel uiters belangrik. Hedge your bets, en die toekoms sal blink wees! Dus, moet my nie misverstaan nie: simplisiteit en oppervlakkigheid in hierdie samelewing as geheel is nie verkeerd of sleg of dubieus nie. Inteendeel, dit is wat dit is – prakties en vertroud, en daarom ongelooflik om in te kan meedeel. Soos ‘n Indiese vriend onlangs oor Delhi geïnsinueer het: as jy nie môre meer geld gemaak het as vandag nie, het jy te hard daaroor gedink.

My stukkie sonsondergang in die suide van 'n groot stad

My stukkie sonsondergang in die suide van 'n groot stad

* marcelle olivier spandeer tans ‘n bietjie kreatiewe dink- en skryftyd in Indië. New Delhi vier vanjaar sy 100ste bestaansjaar.