Posts Tagged ‘Ingeboek deur Karen Kuhn’

Gisela Ullyatt. “Endlessly obedient citizen”: Die gedig as gestig. Deel 2.

Monday, November 24th, 2014

In Deel 1 van hierdie blog genaamd “Wintermuil: die gedig as gestig”, ondersoek ek die verbintenis tussen digterskap, gemoedsversteuring en selfdood aan die hand van enkele Afrikaanse gedigte wat oor die ervaring in ’n psigiatriese staatshospitaal berig (http://versindaba.co.za/2014/10/28/gisela-ullyatt-wintermuil-die-gedig-as-gestig/). Ek haal ook aan uit Linette Retief se insiggewende artikel, “Vloek van die muse”, waarin sy die moontlikhede tussen selfdood, gemoedsversteuring en artistieke talent aan die hand van voorbeelde soos Johannes Kerkorrel en Barrie Hough eksploreer. Ek fokus veral op die Afrikaanse digterlike verslag van psigiatriese opname. Hiermee verleen digters ’n stem aan meestal stemlose psigiatriese pasiënte (veral in staatshospitale), omdat hulle oor derglike ervaring kon besin en dus kon oopskryf, dikwels met ’n rou eerlikheid maar terselfdertyd met ’n sekere distansiëring wat die digter eers moet vind alvorens ’n gedig publiseerbaar is.

In hierdie blog fokus ek dus op die stem van die digter, alhoewel ander kreatiewe segmente van die kreatiewe samelewing soos kunstenaars en skrywers ook onder die loep geneem sou kon word.

Ter aansluiting by Jeanne Goosen se gedigte wat in Deel 1 verskyn, haal ek ook enkele versreëls aan uit “sarah (1)”  wat in elders aan diens verskyn (24):

dankie vir die hulp

dat julle my toegesluit het

en vol pille gestop het

die gideonbybel en die koek seep in die strafsaal

was fokken goeie terapie

dankie dat julle my brein gesmelt het

met liewe jesus-versies, klei en stukkies tou

dankie vir  my sanity:

maandag is wasdag, dinsdag is strykdag en op ’n woensdag

skrop ek vloere

Goosen se satiriese invalshoek waarmee sy die gestig in hierdie vers verken, word verder versterk deur die sardoniese aanspreek van die ‘julle’. Hiermee word die spreker se woede veral op ‘n briljante wyse geaktiveer en die leser se aandag word gevestig op die dodelike geroetineerde bestaan binne die institusionele ‘masjien’, wat Ken Kesey die ‘Combine’ noem in One Flew Over the Cuckoo’s Nest. David Cooper (gebore in Suid-Afrika), bekende in die anti-psigiatriese beweging, verwys na die reëls en meta-reëls van so ’n institusie in sy opspraakwekkende boek, The Death of the Family (1970). (Selfs in die tweedehandse kopie wat ek besit het een of ander persoon driftige kantaantekeninge gemaak teen Cooper se anti-psigiatriese aannames. Perdalks ‘n psigiater of psigiatrist-in-training?).

Terselfdertyd reflekteer die institusie ook norme van die samelewing: solank die ‘versteurde persoon’ gekondisioneer word om ‘normaal’ op te tree, word hy of sy aanvaar; Cooper noem hierdie verskynsel die “the well-conditioned, endlessly obedient citizen” (11).

In Goosen se gedig word norme duidelik neergelê deur simplistiese maatreëls: “gideonbybel”, “liewe Jesus-versies” en arbeidsterapie wat sommige psigiatriese pasiënte dikwels na as “spoeg-en plak”-aktiwiteite verwys. “Strafsaal” dui op selfs ’n meer sinistere maatreël wat op pasiënte uitgevoer word.

Hierdie dodelike geroetineerde bestaan in ‘n psigiatriese hospitaal word ook in  Karen Kuhn se “Op parool” (7) gekarteer:

In hierdie Crescent Clinic

word ek daagliks geleer

om te weet:

Staan soggens op,

wees betyds,

trek paslik aan,

slaap 8 ure,

eet drie maal.

Bestuur jou lewe

matig en gebalanseerd.

 

Met ontslag, leer

my tog die waansin

in die woorde: Ek wéét.

Die titel suggereer reeds dat so ’n roetine baie gelykstaande aan dit van ’n tronk is. Ongelukkig is dit dan juis ‘matigheid’ en ‘balans’ wat dikwels ontbreek wanneer die digter ’n uiters kreatiewe episode beleef. ‘Parool’ kan ook ironies gelees word omdat daar nooit algehele vryheid van ’n ernstige gemoedsversteuring bestaan nie; afhangende van die individu kan dit dan ook na selfdood lei. Nie almal kan depressie goed bestuur nie. Tog mag die tipping over van die donker hel van depressie na ‘n meer genesende uitkoms  afhang van hoeveel die digter oor sy of haar ervaring kan berig deur die oopskryf daarvan.

Ongelukkig val menige terug in herhalende siklusse van depressie of manie. Sylvia Plath is een so ’n voorbeeld; haar wipwaentjieritte tussen highs en lows is veral opmerklik in haar dagboeke. Ook dat sy deur ’n genadelose ‘innerlike kritikus’ geteister is. Hierdie tipe kritikus is ook wat Boeddhiste die ‘ego’ of monkey mind noem omdat dit aanhoudend tekere gaan soos ’n swaaiende aap en ou negatiewe gedragspatrone afdwing wat in die kinderjare gevorm is.

Karen Kuhn se “My adres” (5) illustreer die allerverskriklikste krag van so ’n kritikus, veral in die laaste reël:

Terug onder kliniese lakens,

tussendeur saalgeluide

en verdoofde denke

is ek mal

daaroor

om letters te skok en te doseer:

myself te sertifiseer.

Die neiging van die psigiatriese pasiënt om homself of haarself te ‘sertifiseer’, word verklaar deur Cooper: die persoon word totaal afgestomp en kan dus nie meer die “sane” ek vind nie; hy/sy is so

estranged from every aspect of one’s own experience, from every spontaneous impulse to action, from every bid of awareness of one’s body for oneself (rather than one’s body as an object for inspection for others in the world), from all the carefully refused possibilities of awakening change, that one might truly, and with metaphorical sleight of hand, regard this normal person as being out of his mind (1970:11).

Die nosie van sertifisering word ook gevind in Aniel Botha se pirouette (2012). Hier word pertinent gestel dat die spreker haarself in ’n psigiatriese staatshospitaal bevind en dat sy verobjektiseer word (‘Stikland’:26):

Gestroop, gevange, gesertifiseer,

sit ek op die smal staatsdiensbed.

Die lakens, geel en gaterig, sê:

Eiendom van die RSA. Diefstal

is ’n kriminele oortreding.

’n Suster roep. Ek maak die bed op,

eet pap, drink Ricoffy, verstik.

Spreek ’n dokter. Staar na my hande:

eiendom van wie?

Die “staar na my hand” versterk die idee dat alles nou “out of hand” is, dat haar hande afgekap is, dat sy haarself nie meer besit nie. Alles in ’n staatshospitaal is goedkoop soos in ’n tronk: ‘pap’; ‘Ricoffy’. Hierdie is geen weelderige privaat-kliniek nie.

Wilhelm Knobel sterf in 1974 aan “massiewe dosisse middels wat toegedien is in ’n poging om ’n hiperakute maniese aanval van bipolêre stoornis te beheer” (Agterplat van As die woorde begin droom). Bipolêre steurnis (veral Bipolêr 1 met hiper-maniese episodes wat afgewissel word met intense periodes van depressie) kan ’n groot bron vir digterlike aktiwiteit wees, maar terselfdertyd kan die digter dan ook tydens die depressie-fase selfdood oorweeg en selfs pleeg omdat die euforiese gevoel en maniese produktiwiteit ontbreek. Knobel berig ook in die volgende gedigte spesifiek oor sy institusionele ervaring (2005:66):

Gedig om ’n pil

Stelazine is jou naam

of liewer

so verkoop hulle jou

 – wat jou herkoms  is of samestelling sal ek vir my broer moet vra.

Vir nou’s dit genoeg dat ek weet:

            na die godsalige dag

            van smeulende son by Clifton

             is jý die koel bries oor my lyf

             in my lyf

             tot in die onderste lae van my gees

             waar die son nooit kom nie

Dáár bevrug jy sonder vertoon

                     (Halopèrydol is daarvoor daar

                       of die naald in die poot van die Taradier)

wat lank  gebroei en gegis het

en eindelik versamel

in druppels van gekoelde wyn

tot gedig

 

Kliniek (66)

 

die vet visse wat onder in die vywer

tussen die slymerige wortels van waterlelies draal

hoor nie die vals gesing in die grys gebou

oor families wat vergeet

en gedokterde tee in die luny [sic] bin

 

Uit die joernaal van ’n sieke

 

hy het so lank geleef

met die weerklank van groot sale

dat die grootheid van sy eie stem

onverwags in ’n klein lokaal

betrap

hom skielik laat besef

             hy’s alleen

Kreatiwiteit word nie as ’n normale aktiwiteit deur die groter gemeenskap beskou nie. Skrywers, digters en kunstenaars word gereeld deur familielede of beterweterige vriende voor stok gekry omdat hulle nie ’n ‘normale’ beroep beoefen nie. Digters veral word nie beloon deur die publikasie-wêreld nie; daar is geen hoop om ’n Deon Meyer van die digkuns te word nie. Die groter publiek lees gewoon nie gedigte nie, ook ’n teken van hoe diep daar gediskrimineer word teen ‘hôgere’ literatuur. Persepsies bly dus vassteek en oorgedra van generasie tot generasie.

Digters word nie hoog aangeslaan in meeste lande nie (alhoewel Nederland en selfs Pole oor ’n veel groter of wyer leserspubliek besit, al is hulle sulke klein landjies. Selfs trokdrywers lees gedigte en luister na opera, iets wat in Suid-Afrika as snobisties-vervelig beskou word).

Digters soos Wilhelm Knobel moes die pot aan die kook hou met verskeie day jobs; hy  was onder andere lektor in Frans. Hy het egter later jare gesukkel om as aaneenlopende werker te funksioneer. Die beat digter Jack Kerouac was byvoorbeeld ’n fire lookout in die woud (dalk nie so ’n slegte werk nie alhoewel die betaling nie watwonders is nie) en Charles Bukowski moes vir jare by die poskantoor werk voordat hy voltyds kon skryf. Die druk om ’n voltydse werk te behou kan egter godsonmoontlik raak vir kreatiewe persone wat aan ’n ernstige gemoedsversteuring lei. Baie verwyt hulleself daaroor.

Meermale word hierdie druk na normaliteit ook deur die familie (David Cooper hoofuitgangspunt) gereflekteer: Wilhelm Knobel was van kindsbeen af uiters sensitief, maar hierdie sensitiwiteit is byna gewelddadig deur sy pa, wat ’n boer was, onderdruk. Die familie-konstellasie as mikro-kosmos staan veral uit wanneer dit kom by vormingsjare en Wilhelm is reeds as kind deur hierdie voorbeeld geleer dat sy kreatiwiteit en sensitiwiteit ook nie deur die makro-kosmos van die samelewing aanvaar gaan word nie.

Die ou debat van nature/nurture word natuurlik ook hier verteenwoordig. Dalk word daar deesdae te groot klem geplaas op bio-neurologiese oorsake wat met psigo-farmakologie begroet word. Vir sommige pasiente is dit ‘n absolute uitkoms, maar ander is weerstandig teen anti-depressante en skokterapie. Wat bly dus oor?

Die blog poog nie om wetenskaplike antwoorde te bied op hierdie terrein nie, maar ‘n moontlikheid of blik te bied op Afrikaanse digters wat oor hulle psigiatriese ervarings besin het. Ook blyk dit uit hierdie die handjievol Afrikaanse gedigte dat digters die ervaring van depressie en bipolêre versteuring reeds oopgeskryf het en dat hierdie ’n terrein is wat ’n lakuna laat vir verdere (inter-dissiplinêre) navorsing. Besondere aandag sou in so ’n blik geplaas kon word na die normaliteit wat van ’n digter verwag word deur die ouerhuis en gemeenskap.

Ek laat die laaste woord aan David Cooper oor (1967:20):

In the mental hospital, society has, with unerring skill, produced a social structure that in many respects reduplicates the maddening peculiarities of the patient’s family. In the mental hospital he finds psychiatrists, administrators, nurses, who are his veritable parents, brothers, and sisters, who play an interpersonal game which only too often resembles in the intricacies of its rules the game he failed in at home.

 

Bibliografie

Botha, A. 2012. pirouette. Kaapstad: Queillerie.

Cooper, D. 1967. Psychiatry and Anti-Psychiatry, Londen: Tavistock Publications.

Cooper, D. 1970. The Death of the Family.  New York: Vintage Books.

De Lange, J (ed.). 2011. As die woorde begin droom. ’n Keur uit die gedigte van Wilhelm Knobel. Kaapstad: Bel Monté Uitgewers.

Goosen, J. 2007. elders aan diens. Parklands: Genugtig! Uitgewers.

Knobel, D. (ed.). 2005. Wilhelm Knobel: die ongewapende man. Van kindertyd tot sterwenstyd. Kaapstad: Bel Monté Uitgewers.

Kuhn, K. 2012. Ingeboek. Kaapstad: Griffel.

’n Insiggewende en roerende DVD wat lesers beslis moet oorweeg om aan te skaf: Living with Bipolar Disorder. (2009). Medihelp.

 

Onderhoud: Karen Kuhn (Ingeboek)

Wednesday, March 21st, 2012

Karen Kuhn gesels met Amanda Lourens oor haar debuutbundel Ingeboek

Karen, baie geluk met jou debuutbundel.   Jy het ook ‘n MA in Kreatiewe Skryfwerk verwerf.  Wanneer het jy begin dig?  En kom die gedigte in die bundel almal uit een tydperk, of het hulle oor ‘n lang tyd ontstaan?

Dankie Amanda. Digkuns was maar nog altyd deel van ons huis. Meeste van die verse is gedurende my Honneurs en MA geskryf, wat ongeveer oor sewe jaar verloop het. Dit was die skryf van die verse, maar die ontstaan het lankal al gebeur. Ek glo elke vers het ‘n  inkubasietydperk en groei tot dit gereed en buite die skrywer, onafhanklik op eie bene staan. Die proses is heilig en tydsaam. Woorde verskyn in drome of sinchronisties in jou alledaagse roetine en sodra vasgepen, kan die ontwikkelingsproses begin. ‘n Mens skryf ook as jy nie skryf nie, en so word digkuns seker eerder ‘n leefstyl as ‘n afspraak in jou dagboek.

Die kreatiewe omslag van Ingeboek val die leser dadelik op en vestig onmiddellik die tema van “ingeboek” wees – met ander woorde opname in ‘n inrigting.  Daarmee saam lees ons die handgeskrewe reëls “Ek skryf / want dit is waar / ek gewoon / stil kan bly wees”, wat as’t ware die spasie vul waar die spreker se “beroep” verklaar moes word.  Probeer jy reeds met die omslag sê dat daar ‘n tuiste in die taal gevind kan word, wat dalk nie elders te vinde is nie? 

Willem Jacobs, die ontwerper, het saam met my besin oor die omslag. Die idée was om van die staanspoor af die idee te skep van die spreker wat haarself in woorde “inboek”. Die handgeskrewe woorde is daar om ‘n meer persoonlike inslag te gee, met ‘n klomp inligting wat die spreker irrelevant vind. Die Rorschach-skets agterop die bundel sluit aan by die tematiek van die pasiënt in die inrigting. Onder geen omstandighede ondermyn ek die potensiaal van die sielkunde en wat medikasie in vandag se tye kan verrig nie. Ek glo net daar word ook wegbeweeg van die primordiale aard van die menslike psige, die dinamiek van die kollektiewe onbewuste en oerwysheid en insig wat binne elkeen opgesluit is, wat antwoorde bied vir die neuroses en komplekse waarmee ons elke dag worstel. Nie alles is ‘n “quick fix” of kitsoplossing of wegneemete nie. Woorde is een van die maniere om weer met die Self te konnekteer.  “Inboek” binne ‘n reis word ook opgeroep, met vrae oor bagasie en items om te verklaar. So is reis ook ‘n manier van terugkeer na die self, die innerlike reis na familiariteit, terwyl mens jouself buite in die vreemde vind.

Dit is ook interessant om te let op die Jung-aanhaling wat as motto gebruik word: “Words are animals, alive with a will of their own.”  Die leser let hier reeds ‘n kontras op: tussen die toestand van “ingeboek” wees en die vryheid en kragdadigheid wat daar in taal skuil.  Is hierdie kontras berekend daargestel? 

My akademiese besinning vir my MA het gehandel oor enkele verse van Sheila Cussons wat gekoppel is aan die werke van die psigoanalis Carl Jung. Ek het ‘n ongelooflike bewondering vir Jung. Hy noem dan tereg: “Only the paradox comes anywhere near to comprehending the fullness of life”. Sodra die toestand van “ingeboek” in woorde betree word, moet die spreker hom/haar oorgee aan die vryheid en eie wil van die

Woord. Die digkuns is ‘n medium en draer van die paradoks. Om maar ‘n enkele voorbeeld te noem: Die vers: ‘Jy’s Gauloises’ eindig met die woorde: “[…] / lewe en dood is één in dieselfde asem”.

‘n Laaste aanhaling van Jung: “The unsatisfied yearning of the artist reaches back to the primordial image in the unconscious which is best fitted to compensate the inadequacy and one-sidedness of the present.”

Op p. 4 word die leser uitgenooi om hom/haar in die bundel te kom tuismaak: “Met jou, wat onrustig jaag / om net tydelik te ontsnap, is ek. / Kom boek hier in / hier is geen kettings nie.”  Waarna sou die “geen kettings” verwys?  Lewer dit kommentaar op die aard van spesifiek jou digkuns, of die aard van taal of die digkuns in die algemeen?

Ek dink “kettings” kan metafories vir die leser beteken waar ook al hy/sy hom/haar binne ‘n alchemistiese reis bevind. In die geval van die spreker is “kettings” alles waarvan die spreker wil ontvlug: kettings binne oordeel, verslawing, medikasie, prognose, verwagting, teleurstelling. En met verslawing verwys ek nie noodwendig na dwelmmiddels nie, maar na alles wat die stilte begin verdoesel het.

Die woorde “met jou” loop soos ‘n tema deur die hele bundel.  Onwillekeurig kom daar eggo’s van Ingrid Jonker se bekende gedig “met hulle is ek” – waarin die digter haar solidariteit met die verdruktes, die randfigure toon – by my as leser op.  Was daar enige poging tot ‘n intertekstuele oproep van Jonker se gedig?  Of is die ooreenkoms toevallig?

Die woorde “met jou” wat eintlik elke afdeling inlei, is juis daar om in gesprek met Ingrid Jonker te tree. Die tematiek van “ontvlugting” uit “hierdie Valkenburg” kom direk in verband met die nosie van “ingeboek”. So dan ook die uitnooi van die buitestander om hier in verse tuis te voel, probeer oorgedra word. In die laaste vers van die bundel, “Silent”, word daar met groot respek intertekstueel na ‘n paar digters in Afrikaans verwys met die openingsreël: My ontvlugting is die argief / […]. Ek het waardering vir digters wat vreesloos en genadeloos kan dig: Sylvia Plath en Anne Sexton wat Jonker voorafgegaan het; ek sidder eintlik oor die potensiaal van die profetiese waarde van die woord.

Reis, veral met Parys as bestemming of plek waar vertoef word, is ‘n sterk tema.  Het jy self tyd in Parys en elders deurgebring? 

Ek het baie spesiale vriende in Parys en het die voorreg gehad om etlike kere die stad te kon besoek. Die band tussen sowel die mense as Parys self is vir my ‘n ontdekkingsreis; die sagtheid, die taal, die leefstyl is alles buite my verwysingsraamwerk en gemaksone en die ongemaklikheid is ryk in leerprosesse en so hoop ek om weer periodiek terug te keer na die stad.

Dit wil ook voorkom asof daar ‘n verband getrek word tussen die idee van reis en taal, soos blyk uit die gedig op p.50, naamlik “Ode aan ‘n tableau” met Londen as agtergrond waar die eie taal kennelik herken word.  Die slotstrofe lui: “Mense stamp my rond / hierdie aksent is meer werd / as ‘n verlore pond.” Hoe hierdie gedig tot stand gekom – is dit gegrond op ‘n werklike ervaring?  En wat behels die kommentaar in die slot alles?

Na my Honneurs het ek tasse gepak en in Liverpool in ‘n kombuis gaan werk. Gedurende hierdie tyd het ek gereeld Londen toe gegaan en ook so nostalgies geraak oor SA, so ja, die vers is gebaseer op ‘n werklike ervaring. Daardie jare was dit nog relatief maklik om in die VK te gaan werk, en alhoewel ek lief is vir reis, is die kommentaar een van patriotisme teenoor ons eie land en taal.

Jy maak heelwat gebruik van tipografiese eksperimente, wat besonder treffend is – byvoorbeeld in “Uurglas” (p.42) waar inhoud en vorm saampraat.  Vertel ons ‘n bietjie hoe jy te werk gaan om so ‘n sterk vormbewuste gedig te skep.

Hendrik Venter het die konsep van “konkrete verse” aanvanklik aan my bekendgestel. Ek het die afgekom op Guillaume Apollinaire se gedig “Il Pleut” (“It Rains”) wat reën voorstel en besef dit is ‘n ou konsep; dit was die motivering. Vorm is net so belangrik as inhoud en ek glo die belangrikheid hier is dat die twee in “simbiose” is. Die diversiteit van poësie is opwindend: praatvers, konkrete vers, vrye vers en vormvaste verse, iets vir elke geleentheid. In Pomp 2011 het foto’s verskyn waar ek saam met my kollegas by die filmskool ‘n projek aangepak het waar woorde op menslike lywe uitgebeeld is, met die idee om meer interaktief die lyf, die woord en die wyse waarop dit geskryf is, uit te beeld. Ek is nou nie seker of ek werklik vertel het hoe ek te werk gaan nie; die titel of konsep kom sekerlik eerste vorendag en dan soos die woorde geskryf word, word daar terselfdertyd aan die vorm getimmer.

Godsdiens is nog ‘n tema wat in die bundel ondersoek word.  In ‘n gedig soos “Patrone” lees ons: “Jesuskind timmer / aan sy eie kruis / – Hy vorm self.”  ‘n Mens vermoed ‘n diep kompleksiteit in hierdie gedig.  Wil jy ons dalk help met die interpretasie?

Die nosie van patrone wat hulleself herhaal, en die breek van ‘n patroon word ondersoek. ‘n Patroon om iets te skep, ‘n patroon om iets te vernietig en eindelik ‘n patroon as ‘n beskermheer word aangespreek.

Met die lees van “Lees” kom die leser diep onder die indruk van die mistieke, wat versterk word deur die opdrag (“vir Sheila Cussons”).  Ook kom Cussons en Van Wyk Louw eksplisiet aan bod in “Père Lachaise”, en lees ‘n mens “plektrum” raak in “Silent”.  Het Cussons se digkuns – ook haar aangetrokkenheid tot die mistieke – ‘n betekenisvolle invloed op jou eie poësie? 

Indien nie dié grootste nie, is Cussons beslis een van die grootste mistieke digters in die Afrikaanse digkuns. Deur haar gedigte te bestudeer, tesame met Carl Jung se teorie, is ‘n lewenslange leerproses en invloed. As jong debutantdigter is daar so baie om te leer van ‘n digter soos Cussons: haar beheerstheid wat vorm en inhoud betref, hoe elke woord oorweeg en heroorweeg is en dan die oorgawe en dinamiek van haar woorde wat tot nuwe en ander insigte lei.

Vertel ons ook meer van die kommentaar op die aard van Afrikaans in “Taalles”?  Daar is baie sensuele ondertone – is ek reg?

Dit is maar een blik op die taal, as ‘n sensuele vrou, wat heelwat geliefdes het in terme van ander tale se invloede op en vorming van Afrikaans. In plaas van die angs oor die voortbestaan van die taal en eksklusiwiteit word diversiteit eerder aangemoedig en word ‘n bewustheid van die taal in die buiteland ook voorgestel. Ek dink dieselfde geld vir digkuns –  poësie vorm deel van die chora van ‘n taal en is noodsaaklik om toeganklik te wees vir sy/haar sprekers. So is dit dan nou ook ‘n voorreg om myself in Poznań, Pole te bevind, as deel van professor Jerzy Koch se departement saam met kollega Tertius Kapp, waar o.a. Afrikaans en Afrikastudies aan die Adam Mickiewicz Universiteit as vakke aangebied word.

Daar is ook enkele – volgens my van die sterkste verse in die bundel – wat handel oor die interaksie met die Ander, maar waar ‘n mens ook ‘n metafisiese aspek vermoed.  Hier dink ek veral aan “Kennismaking” en “Handdruk”.  Is dit wel die geval?  Ek wil graag vir die lesers “Kennismaking” aanhaal – so ‘n ryk gedig in die bedrieglike eenvoud daarvan:

Soos ek my tot jou rig

staan ek meer verleë.

Nader aan jou lig,

al groter my skaduwee.

Interaksie met die Ander en die metafisiese is alles komplekse, abstrakte onderwerpe. Die digkuns is een medium waardeur gepoog word om dit te konkretiseer. Dit is ‘n lewenslange proses en ontdekkingsreis en dit is inderdaad fassinerend om so ‘n proses via skryf te kan ervaar.

 

 

Tot onlangs was Karen Kuhn betrokke by ‘n filmskool in Kaapstad waar sy o.a. klasse in die skryf van ‘n draaiboek aangebied het. Sy het haar MA in Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad voltooi. Die akademiese besinning het gehandel oor die alchemistiese transformasie wat in enkele gedigte van Sheila Cussons plaasvind, hierdie proses is gekoppel aan die hand van C. G. Jung se teorie. Meeste van die verse in die bundel is dan ook tydens die periode geskryf. Sy vertrek in Maart 2012 na Poznań in Pole toe waar sy Afrikaans en Afrika Studies by die Adam Mickiewicz Universiteit gaan doseer en ook terselfdertyd inskryf vir haar Ph.D.