Posts Tagged ‘Ingrid Jonker Prys 2017’

Wenner van die Ingrid Jonker-prys vir poësie

Thursday, August 31st, 2017

Hilda Smits

Wenner van die Ingrid Jonker-prys vir poësie 2017

 

Omslag

Die wenner van die Ingrid Jonker-prys vir 2017 is pas bekend gemaak. Dit is Hilda Smits se digbundel die bome reusagtig soos ons was.

Die bundel word deur een van die beoordelaars bestempel as “ʼn boeiende debuut” wat die leser by die hoogs persoonlike betrek en wat tegelykertyd ook betekenis aan die universele belewenis gee. “Wat die digter hier vermag het, is enorm,” skryf ʼn ander beoordelaar.

Die verse beskryf die belewenis en hunkering van die expat ˗ dit is “poësie van die diaspora wat na die vaderland terugreik, na ’n verlede en tye toe dinge eenvoudiger was”.  In die beoordelaars se verslae word sterk klem gelê op die rol van die geheue en herinneringe. Die titel berei die leser reeds voor op ʼn onthouproses, “op hoe dinge met die verloop van tyd anders onthou of vertolk word”. Die bundel voel vir een van die beoordelaars “soos ‘n intieme gesprek waarop die leser instap, maar dit is die digter in gesprek met haarself, asof sy die deur tot haar geheue oop vergeet het”.

Die beoordelaars loof die “geweldige visualiteit” van die verse, met die oog, die kamera, foto’s en waarneming wat sentraal staan. In die rekonstruksie van die verlede ontgin die digter die visuele deur die oormekaarskuif van beelde, plekke en tye. Die gedigte word meestal as bewussynstroom aangebied, met ʼn besonder sterk assosiatiewe basis; by tye selfs surreël. Die gedagtespronge wat die digter maak – gepaardgaande met verbluffende sintaktiese ontginning – is “besonder indrukwekkend”. Tyd en ruimte word hier “so goed vasgevang, dat jy voel jy stap in die strate en ry in die busse van verlange langs Hilda Smits”.

Elf bundels is voorgelê en die kompetisie was straf. Die beoordelaars het groot lof gehad vir die ander twee bundels op die kortlys: Hendrik J. Botha se Atropos en Bibi Slippers se Fotostaatmasjien. Die beoordelaars was Johann de Lange, Louis Esterhuizen en Nathan Trantraal. Ronel de Goede is die sameroeper van die Ingrid Jonker-komitee. Die ander komiteelede is Leon de Kock, Finuala Dowling, Vincent Oliphant en Beverly Rycroft. Danie Marais, vorige sameroeper, tree as adviseur op. Die prys word op 16 September by die Tuin van Digters in Wellington oorhandig. Simone Jonker, dogter van Ingrid Jonker, sal die prys oorhandig.

Kontakpersoon: Ronel de Goede (Foster), rf@sun.ac.za; sel 083 79 707 92

Lees ook:

1.Digstring deur Hilda Smits

2.Resensie: Die bome reusagtig soos ons was. Hilda Smits.

Resensent: Dr Amanda Lourens

3.Onderhoud met Hilda Smits

Die 2017 Ingrid Jonker-Prys vir Afrikaanse Poësie

Monday, May 29th, 2017

DIE 2017 INGRID JONKER-PRYS VIR AFRIKAANSE POËSIE

 

Stuur asseblief drie eksemplare van enige Afrikaanse debuut-digbundel wat in die jare 2015 en 2016 verskyn het en volgens die reglement* vir vanjaar se Ingrid Jonker-prys vir Afrikaanse poësie in aanmerking kom, vir beoordeling na:

Die Ingrid Jonker Prys-komitee

Posbus 657

STELLENBOSCH

7599

 

Die sluitingsdatum vir voorleggings is 30 Junie 2017.  Die kortlys sal teen 15 Augustus bekend gemaak word en die wenner sal op 1 September aangekondig word.

Ronel de Goede, Sameroeper van die Ingrid Jonkerprys-komitee

 

* Vir die reglement, sien: http://versindaba.co.za/2011/03/23/die-ingrid-jonker-prys/