Posts Tagged ‘Ingrid Jonker-prys’

Kortlys vir die Ingrid Jonker-prys 2013

Tuesday, October 8th, 2013

Daar is sterk kompetisie vir die 2013 Ingrid Jonker-prys vir Afrikaanse poësie. Die Ingrid Jonker Prys word jaarliks beurtelings aan ʼn Afrikaanse of ’n Engelse debuutdigbundel toegeken, die twee tale waarin Ingrid Jonker geskryf het. Aangesien beoordelaars van die prys ook gepubliseerde digters moet wees, is dit ’n prys van digters aan digters.

Die drie beoordelaars – Petra Müller, Melt Myburgh en Henning Pieterse – het die volgende kortlys opgestel (volgens van in alfabetiese volgorde):  

Donkerkamer – Fourie Botha

In die skadu van soveel bome – Hennie Nortjé

Wanpraktyk – Andries Samuel

Die lewe tussen pikkewyne – Jasper van Zyl

 

Die wenner sal op 15 Oktober bekend gemaak word.

Danie Marais is die sameroeper van die Ingrid Jonker-komitee. Die ander lede van die komitee is Ronel de Goede, Diana Ferrus, Finuala Dowling en Leon de Kock.

 

 

 

Vat vyf, Melt Myburgh: Wenner van die Ingrid Jonker-prys vir 2011

Thursday, August 11th, 2011

Melt, veels geluk met die welverdiende bekroning van jou debuutbundel, oewerbestaan (Protea Boekhuis, 2009). Jy is sekerlik opgewonde daaroor, is jy nie? Wat beteken hierdie prestigeryke erkenning van jou digwerk vir jou op persoonlike vlak?

Baie dankie, Louis. Ek is baie dankbaar vir die prys, want dit is ʼn groot eer om op dié wyse met die nagedagtenis van ʼn kultusfiguur in Afrikaans geassosieer te word. Ek dink die Ingrid Jonker is sekerlik vir elke digter die mees prestigeryke debuutprys in Afrikaans. Ek voel ook gevlei omdat die prys toegeken word deur mededigters. Ek glo ook die prys verleng die raklewe van die bundel, waarvoor ek eweneens dankbaar is.

Elsa Joubert het my pas geskakel om geluk te wens, en sy vertel my van haar ervarings toe die prys in die sestigerjare na Ingrid Jonker se dood ingestel is. Sy sê dit was ʼn geweldige emosionele tyd vir Jonker se vriende (Uys krige, Jan Rabie, Jack Cope ens.) en dat die instelling van die prys hulle gehelp het om sin te probeer maak van haar dood. Elsa vertel dat die vriende elkeen ʼn kontantbydrae gelewer het tot die prysgeld; daarom is dit so miniskuul. Maar juis daarom is die prestige van die prys vir my nog soveel meer. As mens dié geskiedenis hoor, kan jy anders as om ontroer te wees nie.

Op persoonlike vlak dra ek die prys op aan alle digters wat in Afrikaans gedebuteer het die afgelope twee jaar.

Interessant genoeg het jy reeds met Nuwe Stemme 2 (Tafelberg, 2001) as digter na vore getree. Jou debuut as solo-digter kan dus as ʼn “laat” debuut beskou word. Is jy derhalwe van mening dat jong, aspirant-digters verkieslik nie oorhaastig moet wees met daardie eerste publikasie nie?

Vir my was die “laat” debuut die aangewese ding; Oewerbestaan sou anders (en waarskynlik minder) daar uitgesien het as dit 10 of 15 jaar vroeër verskyn het. Magte buite my beheer het bepaal dat ek eers op 42 volwasse genoeg kon wees om die bundel te laat gaan. Ek dink egter nie mens moet voorskriftelik wees oor wanneer ʼn digter behoort te debuteer nie; met elke individu is dit anders gesteld. Kyk byvoorbeeld hoe jonk was Antjie Krog, Annesu de Vos, Loftus Marais en Ronelda Kamfer toe hul debute verskyn het. Jasper van Zyl is ʼn onlangse voorbeeld. Fourie Botha lyk baie jonk!

Jy is ook dosent in resensiekunde aan die Universiteit Stellenbosch. Is jy bereid om ʼn persoonlike mening te gee oor hoe jou bundel deur die resensente hanteer was? Het jy hul kommentare as aanmoediging of belemmering ervaar?

Ek het die resensies van my bundel deurgaans as positief en opbouend ervaar en het baie geleer uit wat kritici te sê gehad het. Ek is hulle dankbaar. Wat my wel opgeval het, is hoe sommige resensente die fiksionele aard van poësie ontken en die bundel in alle opsigte streng biografies gelees het. Vir my is die proses van Media24 se boekeblaaie (boekeblad?) om resensies meer toeganklik vir die breë leserspubliek aan te bied, en die reaksies van skrywers en ander rolspelers soos wat dit onlangs hier op Versindaba uitgespeel het, ʼn interessante verskynsel wat ek deurgaans monitor. Ek het simpatie met die dilemmas waarin almal hulle bedink. Verwikkelinge op die internet om resensies te ontwikkel is opwindend. LitNet Akademies se resensie-essay-projek is iets om beslis dop te hou. Vir my lyk dit onafwendbaar dat die kloof tussen die dikwels hoogs akademiese boekeblad-inhoud en die populêr-georiënteerde algemene koerantleser op die een of ander manier oorbrug gáán word.

Die afgelope aantal jare is ons beslis geseënd met ʼn hele aantal sterk debute. Ook bestaan daar nogal konsensus dat die verskeidenheid van tema en verstegniek ʼn opwindende faktor is by die meerderheid van hierdie nuwelinge. Stem jy saam met so ʼn stelling?

Absoluut. As ek kyk na die werk van die digters wie se stemme die afgelope paar jaar opgeklink het, is die verskeidenheid in tema en tegniek heerlik! Daar is beslis nog skop in die Afrikaanse poësie! Antjie Krog sê onlangs vir my sy is jaloers oor die jong digters wat deesdae so oor allerhande goed skryf.

Uiteraard is jy tans besig met die finale reëlings rondom vanjaar se Versindaba wat volgende maand op 23 en 24 September in Stellenbosch gaan plaasvind. Wil jy nie dalk solank, by wyse van lusmaker, ietsie daaromtrent sê nie?

Die Versindaba-program sal in die laaste week van Augustus beskikbaar wees. Ons bied onder meer ʼn huldigingsgeleentheid vir Adam Small aan – ʼn pragtige idee wat deur Iris Bester geïnisieer is. Tot op datum het nie minder nie as 21 digters aangedui dat hulle verse vir dié geleentheid op 24 September sal lewer. Chris Chameleon kom gesels ook met Louise Viljoen oor sy jongste Ingrid Jonker-album. Ek is besig om die finale drade bymekaar te knoop vir die res van die program.

*** 

Let wel:

  • Luister môre-oggend, 12 Augustus, om 07h45 op RSG na Cobus Bester se onderhoud met Melt Myburgh.

 

  • Volgende Woensdag, 17 Augustus, sal Mariëtta Kruger tussen 12h00 en 13h00 tydens RSG Kuns op RSG met Melt Myburg in gesprek wees.

 

Ten slotte, vir jou leesplesier, die volgende vers:

 

upington

 

tussen rietbevlekte oewers, geliefde stad,

sny die gariep jou middeldeur,

sodat jou fasade, sonverskroei,

‘n trae refleksie op die water bly:

 

mirador van ‘n oewerbestaan,

hawe vir woestynskepe in sandstorms verdwaal,

in die siedendste vloed staan jou palms onverstoord

terwyl vlermuise onderstebo tussen dadels skuilte soek.

 

reisigers wat in u koelte vertoef, verkwiklike stad,

moet vooraf weet: Die roete wat huiswaarts

deur die naelstring knoop, word gerig deur ‘n kompas

sonder naald.

 

Uit: Versindaba 2008, Marlise Joubert, [samesteller], Protea Boekhuis, 2008

 

 

 

Reglemente vir die Ingrid Jonker-prys

Wednesday, March 23rd, 2011

Reglement

Ingrid Jonker

Ingrid Jonker

Tydens haar “tweede begrafnis” in Julie 1965 het vriende van die jong en geliefde digteres Ingrid Jonker besluit om ʼn prys met haar naam vir debuutdigters uit te loof. Skrywers en vriende het geld bygedra, en die uitgewers en skrywers het alle inkomste uit die boeke In memoriam, Ingrid Jonker en Die Sestigers geskenk. So is die Ingrid Jonker-prysfonds gestig.

Die prys word jaarliks beurtelings aan ʼn Afrikaanse of ʼn Engelse debuutdigbundel toegeken, die twee tale waarin Ingrid Jonker geskryf het. Die prys word slegs vir ʼn werk met ʼn ISBN toegeken wat gedurende die twee jaar voor die jaar van beoordeling verskyn het. Dit wil sê, vir die 2011 Ingrid Jonker-prys vir Afrikaanse poësie kom bundels in aanmerking wat in 2009 en 2010 gepubliseer is.

 

  1. Geen gesamentlike toekenning mag gemaak word nie (met ander woorde: die prys kan nie gedeel word nie) en ʼn digter kan slegs een maal vir die prys in aanmerking kom.
  2. Slegs debuutbundels wat deur Suid-Afrikaanse uitgewers gepubliseer word, kom in aanmerking vir die Ingrid Jonker-prys.
  3.  Slegs digters met Suid-Afrikaanse burgerskap, of digters met óf permanente verblyfreg óf vlugtelingstatus wat in Suid-Afrika woon en werk, sal vir die Ingrid Jonker-prys oorweeg word.
  4. ‘n Digter wat reeds ‘n bundel in Afrikaans gepubliseer het, kan nie daarna ‘n Engelse bundel voorlê nie, en omgekeerd. Vertalings sal ook nie vir die prys in aanmerking kom nie. Indien ‘n skrywer egter reeds boeke in ander genres (prosa of drama) gepubliseer het en dan ‘n eerste Afrikaanse of Engelse digbundel die lig laat sien, kan hy/sy wel vir die Ingrid Jonker-prys oorweeg word.
  5. ‘n Bundel wat gedigte/tekste in Engels en Afrikaans bevat, mag wel voorgelê word. Die uitgewer sal egter in so ‘n geval moet besluit of die bundel vir die Afrikaanse of Engelse prys voorgelê word – ‘n bundel kan net een keer voorgelê word.
  6. ʼn Tweetalige komitee van vyf lede (bestaande uit sowel gepubliseerde Afrikaans- as Engelssprekende digters) vergader wanneer nodig. Ten minste twee van die vyf lede moet Engelse of Afrikaanse digters wees.
  7. Indien ʼn komiteelid bedank, wys die komitee ʼn ander lid aan. Die komiteelede moet almal gepubliseerde digters wees.
  8. Die komitee wys drie beoordelaars aan. Die beoordelaars moet ook almal gepubliseerde digters wees – die Ingrid Jonker-prys is ‘n prys van digters aan digters.
  9. Alle meedingende bundels word deur die betrokke uitgewers goedgunstiglik aan die drie beoordelaars geskenk, een eksemplaar vir elkeen.
  10. Die beoordeling vind so spoedig moontlik ná ontvangs van die bundels plaas.
  11. Elke beoordelaar kies drie topbundels. Die bundel wat eerste geplaas word, kry 5 punte, die tweede plek 3 punte, en die derde plek 1 punt.
  12. Elke beoordelaar skryf ‘n kort verslag oor die bundel wat hy of sy eerste geplaas het.
  13. Die bundel wat altesaam die meeste punte van die drie beoordelaars ontvang het, wen.
  14. Tot en met die puntetoekenning, sal die beoordeling vertroulik en individueel geskied. Voor die puntetoekenning mag geen gesprek tussen die beoordelaars gevoer word nie.
  15. In die onwaarskynlike geval van ‘n gelykop-uitslag kies die beoordelaars tussen die twee bundels wat ewe veel punte ontvang het.
  16. Indien die werke volgens die meerderheid van die beoordelaars (dit wil sê twee uit drie) nie op peil is nie, word geen prys toegeken nie.
  17. Indien slegs een bundel in ‘n gegewe jaar ter beoordeling voorgelê word, sal daar steeds drie beoordelaars aangewys word. Sou die meerderheid van die drie beoordelaars meen dié bundel is bekroningswaardig, sal die prys toegeken word.
  18. Die prys behels ʼn herinneringsmedalje deur die beeldhouer Bill Davis en die rente op die belegging. Die belegging kan te enige tyd deur skenkings aangevul word, maar die prys is ‘n onafhanklike een. Borgskappe deur instansies wat kommersiële belange deur hul borgskap wil bevorder, is dus nie wenslik nie.
  19. Die prys word by ʼn gepaste publieke geleentheid oorhandig.

 

 

THE INGRID JONKER PRIZE


Rules and regulations

 

During her “second funeral” in July 1965, friends of the young and beloved poet Ingrid Jonker decided to honour her memory with a prize for debut poets.  Writers and friends contributed money, and a publisher and writers donated all income from the books In Memoriam, Ingrid Jonker and Die Sestigers.  Thus was the Ingrid Jonker prize instituted.

  • 1 The prize is awarded alternately for a debut volume of poetry in English and a debut volume of poetry in Afrikaans, the two languages in which Ingrid Jonker wrote. The prize can only be awarded to a volume with an ISBN published within the two years before the year of adjudication. In other words, only debuts published in 2009 and 2010 will be eligible for the 2011 Ingrid Jonker prize for Afrikaans Poetry.
  • 2 No joint awards of the prize will be made and a poet can only be eligible for the award once.
  • 3 Only first volumes of poetry published by a South African publisher will be considered.
  • 4 Only poets who have South African citizenship, or poets who are based in South Africa and have either permanent residency or refugee status, will be eligible for the Ingrid Jonker prize.
  • 5 A poet who has already published a volume of poetry in Afrikaans may not then submit a collection in English, and vice versa. Translations will not be eligible for the prize either. If, however, a writer has already published in other genres (prose or drama), and then publishes a first English or Afrikaans volume of poetry, he/she will be eligible for the Ingrid Jonker prize.
  • 6 A volume that contains poems/texts in English and Afrikaans may be submitted. However, in such a case the publisher will have to decide whether the book is submitted for the English or Afrikaans award – a volume of poetry may be submitted once only.
  • 7 A bilingual committee of five members (consisting of published poets writing in English and Afrikaans) meets whenever necessary. At least two of the five members should be English and two Afrikaans.
  • 8 If a member of the committee resigns, the committee appoints another member. All the members of the committee have to be published poets.
  • 9 The committee appoints three judges. All the judges have to be published poets as well – the Ingrid Jonker prize is an award made by poets to poets.
  • 10 All submissions for the prize are given gratis by the relevant publishers. Three copies of each book must be submitted.
  • 11 The adjudication takes place as early as possible after all the submissions have been received.
  • 12 Each judge selects the three best volumes. Five points are awarded to the first choice, 3 points to the second choice and 1 point to the third choice.
  • 13 Every judge must submit a brief report on the volume he or she selected as a winner.
  • 14 The debut with the greatest number of points is declared the winner.
  • 15 Up until the stage where the judges submit their points, the adjudication is done confidentially and individually. The judges are not allowed to have any discussions before their points have been awarded.
  • 16 In the unlikely event of a tie, the judges will be asked to vote between the two tied works.
  • 17 If the works are not considered of high enough standard by the majority of judges (i.e. at least by two of the three), the prize will not be awarded.
  • 18 If only one book is submitted, three judges will still be appointed. If the majority of judges decide the volume is of sufficient merit, the prize will be awarded.
  • 19 The prize consists of a medal by the sculptor Bill Davis and the interest on the investment. The invested amount may be increased through donations at any time, but the prize should maintain its independent status. Sponsorships from institutions wishing to pursue commercial interests with their sponsorship are therefore not desirable.
  • 20 The prize will be awarded at an appropriate public function.

 

 

Joan Hambidge. Ingrid Jonker-prys

Tuesday, August 31st, 2010

Brief aan Die Burger. 31 Augustus 2010

 

Dit is met verbystering dat ek kennis geneem het dat die Ingrid Jonker-prys, vanjaar vir ‘n Engelse debutant, nie toegeken gaan word nie. Daar is só min pryse vir digters en dan word hierdie een nou versmaai. In feite beteken dit dat ‘n digter nou met meer digters sal kompeteer oor ‘n langer tyd. Dit is onregverdig teenoor debutante. Daar is glo in Maart besluit om die reëls te hersien. Dis nou amper ses maande later. Kon die sameroepers nie die probleme opgelos het nie?

Ek gaan volledig met Daniel Hugo akkoord:

“Die reëls is glashelder en eenvoudig – daar is beslis geen nodigheid vir ­‘presieser reëls’ nie.”

Ons verneem ook dat konsultasie met die komitee nie noodsaaklik was nie? Wat beteken dit? Dat die hele tradisie van die Ingrid Jonker-prys, wat uit ‘n komitee bestaan, bloot negeer word?

Ek was by geleentheid ‘n beoordelaar vir die Engelse prys. Jy lees die bundels, maak ‘n aanbeveling en konsulteer met die ander beoordelaar(s). Jy kan dit per e-pos doen of iemand skakel. Boonop moet iemand vir Rustum Kozain inlig dat hierdie prestigeryke prys nie ‘n  groot geldprys is nie, maar ‘n simboliese toekenning met ‘n bronsmedalje.‘n Prys waar digters ander digters bekroon. Iemand soos ‘n Tania van Schalkwyk se puik Hyphen. Engelse debutante soos Arthur Attwell (Killing Time), Sarah Johnson (Personae), Kim McClenaghan (Revisitings) en Fiona Herbst (Time and Again), verder terug in die tyd, behoort ook protes aan te teken namens ander debutante. Daar is nog tyd tot die Versindaba om ‘n toekenning te maak. Opskud, manne!

Dit is helaas ‘n mini-skandaal.

Joan Hambidge

 

 

Spesiale Nuuswekker. Nog ‘n prys vir Loftus Marais

Wednesday, October 21st, 2009
Loftus Marais

Loftus Marais (Foto: Michael Hammond)

Ons is omtrent in die seisoen van pryswenners lyk dit my. So is dit pas bekend gemaak dat Loftus Marais vanjaar die Ingrid Jonker-prys ontvang vir sy debuutbundel Staan in die Algemeen Nader aan Vensters (Tafelberg, 2008). Vorige pryse wat hy reeds met dié bundel ingepalm het, is die Eugène Marais-prys (wat hy met Rondelda S. Kamfer deel) en die Universiteit Johannesburg se debuutprys. Die amptelike persverklaring deur die reëlingskomitee lees soos volg: 

Marais se poësie word aangeprys vir die gesofistikeerdheid en vernuf daarvan, asook vir die ironie wat terselfdertyd ontdaan is van sarkasme. Een beoordelaar sien die spreker as ‘n  “geïnspireerde flâneur” wat aan ‘n veronderstelde gespreksgenoot die absurde in die alledaagse uitwys. Dieselfde beoordelaar bestempel ook hierdie poësie as sterk intellektueel en vormvas, en as “heilige spot”. Nietemin, soos ‘n ander beoordelaar dit stel, is dit ‘n bundel wat tot Jan Alleman uitreik vanweë die leesbaarheid van die gedigte. Die bundel word ook aangeprys vir die vernuwing wat dit in die Afrikaanse digkuns bring.

Die beoordelaars het ook daarop gewys hoe moeilik dit was om ‘n wenner te kies, en beskou Ronelda S. Kamfer se Noudat Slapende Honde (Kwela, 2008) as ‘n baie sterk naaswenner. Haar poësie, sê een van die beoordelaars, word gekenmerk deur belydenis, “maar dan ‘n belyding wat ‘n gat deur die bladsy brand.” Nog ‘n beoordelaar stel dit so: “‘n Totaal onderbeligte deel van die Afrikaanse taal-demografie praat deur haar in ‘n besondere sterk stem op ‘n manier soos nog nooit tevore nie.”

Die Ingrid Jonker-prys word elke jaar aan ‘n debuutbundel toegeken, alternatiewelik vir poësie in Afrikaans en Engels. Die prys sal op 28 November tydens die jaarlikse Versindaba op Stellenbosch aan Marais oorhandig word.

Trienke Laurie, Petra Müller and Charl-Pierre Naudé was die beoordelaars.

***

Veels geluk, Loftus! Ons klap saam hande. Myns insiens was hierdie groep debutante ‘n besonder sterk groep en om as wenner uit dié besonderse groep aangewys te word, is geen geringe prestasie nie. Die ander bundels wat beoordeel was, (in aflabteiese volgorde, volgens outeur) is: Retoer (Andries Bezuidenhout), Noudat slapende honde (Rondelda S. Kamfer) en Onbedoelde land (Bernard Odendaal). Mag hierdie debutante se loopbaan as digters veelvuldig en roemryk wees.

Ter wille van volledigheid – Vorige wenners (Afrikaanse afdeling) is soos volg: Danie Marais (2006), Ilse van Staden (2004), Martjie Bosman (2002), Zandra Bezuidenhout (2000), Trienke Laurie (1998), Charl-Pierre Naudé (1996), Gert Vlok Nel (1994), PJ Bosman (1992), HJ Pieterse (1990), Rosa Smit (1998), Donald Riekert (1986), Johann Lodewyk Marais (1984), Johann de Lange (1982), TT Cloete (1980), Marlene van Niekerk (1978), JC Steyn (1976), Leon Strydom (1974), Lina Spies (1972), Sheila Cussons (1970), MM Walters (1968) en DPM Botes (1966).

Ander name sluimer nog …

Redaksie