Posts Tagged ‘Ingrid Winterbach’

Andries Bezuidenhout. “Spyt” by Aardklop

Thursday, October 7th, 2010

Een van die tonele in ʼn teaterstuk wat ek nogal lank sal onthou, is ʼn oomblik in Ingrid Winterbach se toneelstuk Spyt, wat ek by Aardklop gesien het. Die karakters staan in ʼn ry, aan die agterkant van die verhoog. ʼn Stem wat vooraf opgeneem is, ʼn pa, vertel van die rugby wat hy saam met sy seun gesien het. Het hulle vis gevang ook? Ek kan nie heeltemal die strekking van die pa se vertelling onthou nie, maar die man het nie die woorde om te beskryf hoe hy die rugby geniet het nie. Al wat hy kan doen is om die woord “awesome” te herhaal. “Awesome” word ʼn refrein wat instaan vir die man se onvermoë om homself in Afrikaans uit te druk.

Terwyl hy vertel, maak die akteurs – steeds aan die verhoog se agterkant – wilde bewegings met hul lywe. Dit lyk of hulle dans, maar daar is nie musiek nie. ʼn Mens kan nie anders as om aan Jan Rabie te dink nie: “Aanhou beweeg en geraasmaak.”

Dan stap die akteurs vorentoe, in ʼn ry. Hulle herhaal die woord “awesome”. Die betekenis daarvan verander, soos hulle ophou praat en net asemhaal. “Awesome” word “asem”, soos mense in Pretoria die woord uitspreek: “ôsem”. Wat is die verskil tussen “awesome” en “asem”?

Ek sien Spyt as ʼn toneelstuk wat (onder andere) gaan oor oorvloed (“excess”) – tye waarin plesier ʼn kommoditeit word, maar waar mense die vermoë om betekenis in taal uit te druk verloor. Oorvloed en vervlakking. Een toneel, waar twee karakters die kuns van ʼn jong swart kunstenaar as ʼn goeie belegging bespreek terwyl hulle verwoede seks het, in vele posisies, komies, soos in pornografiese films, maak ook hierdie punt. Die karakters is konstant met hulle lywe besig – in die gimnasium en op die bed. Die sekstonele is deurgaans komies, of hartseer, maar een oomblik moontlik mooi – soos waar ʼn kunstenares die hoofkarakter se buitelyne op ʼn reuse stuk papier natrek (juis die punt toe baie mense uitstap).

Ek het baie in Spyt gevind om oor na te dink. Ek sou dit baie graag weer wou sien. Ek wens ek het die teks gehad om te lees. Dit was werklik goeie teater – ʼn stuk wat oor verlies rou, maar ook skreeusnaaks is by tye (veral as Donna Summer sing). Ek wil nie veel meer daaroor sê nie. Ek hoop mense wat dit nie in Potchefstroom gesien het nie, kry ʼn kans in Oudtshoorn, of elders.

Na die naweek lees ek die volgende brief op Beeld se webwerf, deur S.P. van Zyl:

“Spyt kom altyd te laat.

“Ná net tien minute is ek so deur spyt oorval dat ek vinnig ‘n vertoning van Ingrid Winterbach se stuk Spyt op Aardklop verlaat het.

“Ek voel egter steeds vuil.

“Die beskrywing van die stuk het dit nou wel duidelik gestel dat geen persone onder 16 toegelaat word nie en dat die vertoning ‘nie vir fyngevoelige kykers’ bedoel is nie, maar o wee, ek voel totaal om die bos gelei!

“‘n Waarskuwing soos: ‘Hierdie toneelstuk bevat eksplisiete seks-tonele’ of iets in dier voege sou my en menigte ander feesgangers twee keer laat dink het voordat ons hierdie walgstuk sou kyk.”

Dan is daar ʼn hele paar reaksies op die brief. Ek haal ʼn seleksie aan:

“Ek voel sekstonele hoort in die kamer en nie op die verhoog nie. Ons almal weet tog waaroor seks gaan. Het ons skrywers/kunstenaars nie meer ‘n trots op hulle taal nie. Is dit nodig om sover te daal met sulke vieslike taalgebruik en tonele. Ek is ook geskok in sommige van my gunsteling akteurs en hulle toevoeging tot hierdie verhoogstukke nie.”

“Winterbach en kie noem dit kuns en die akteurs daarin stem natuurlik saam – dit is vir my altyd vreemd dat hierdie sogenaamde ‘kunstenaars /akteurs’ altyd probeer wegkom met ‘dit is hoe dit gaan daarbuite’. Hierdie klomp dink die publiek is hoofsaaklik ‘n versameling van seksbehep, wanaangepaste, breinlose idiote. Hulle is betreurenswaardig.”

Ek wonder of dit die toneel met die kunstenares is wat die volgende reaksie ontlok het:

“So word ons ou volkie verlei deur seks wat eintlik net vir die huwelik bedoel is.Maar nou oop en bloot op ‘n verhoog blootgestel word,maar die komuniste het tog gese verlei hulle met seks sodat verbastering kan plaasvind.Gaan lees Deutr.11.”

Iemand wat ook by Aardklop was:

“Dankie SP van Zyl vir jou kommentaar, ek ondersteun jou heelhartig. Ons was ook daar en het ook uitgeloop, dis die swakste vorm van kuns wat ek in my hele lewe nog gesien het. Dit wil voorkom of al die skrywers/kunstenaars opdrag gekry het om seks te propageer. Die skrywer het die vooraf advertensie van die stuk baie interessant laat klink met woorde soos: ‘’n Verhoudingsdrama met ‘n verskil. So verskriklik vermaaklik….’ Ons is om die bos gelei en stukke soos hierdie het my totaal genees van kunstefeeste!”

Seks propageer? Het ek ʼn ander toneelstuk gesien? Nog kommentaar:

“Seks, seks, seks en vloek, vloek vloek. Ek is al so gatvol daarvoor. Dit word gebruik om goed te verkoop, om mense te vermaak en vir talle ander dinge. Dit word gedurig in ons kele afgedruk. Seks as ‘n goedvoel daad tussen twee toestemmende volwassenes het lankal sy waarde en betekenis verloor. G’n wonder die samelewing is so siek nie. Oorlading van seks en ‘n gevloekery (hallo, Jack Parow) desensitiseer mense en maak van hulle niks meer nie as ‘n klomp agtertangse barbare met min of geen morele waardes.”

“Mense, skrik wakker. Daar is maar MIN ‘kuns’ hierdie dae wat nie ‘polities korrek’ of vulger is nie. As ek nie 100% seker gemaak het voor die tyd nie, gaan ek nie om my te laat besoedel nie. Dan kla die sogenaamde ‘kunstenaars’ dat Afrikaners ongekultiveerd is. As ek die gemors wat vandag as kuns opgedis word moet waardeer om as gekultiveerd beskou te word, wel dan bly ek maar ‘ouderwets en dom’ (uit ‘Vooruitgang’). En aan die slim, gekultiveerdes wat so ‘oe’ en ‘aah’ daaroor, kan ek net se: DIE KEISER WAS NOG NOOIT SO KAAL SOOS VANDAG NIE!”

“Dan wonder ons nog waarom is SA een van die gevaarlikste lande in Afrika? Dis ook een van die vieslikste lande met vrye pornografie, gay regte, aborsie… noem maar op!”

“Aardklop het ook maar net weer die vertoonvenster geword van die Afrikaner se morele verval. Die groot getal Afrikaners met hulle walglike sedes verdien ‘n Zuma en Malema. Dankie SP van Zyl vir die moed van jou oortuigings!”

Dan is daar ook ʼn opmerking oor Marlene van Niekerk se teaterstuk:

“Het een van julle dalk ‘Die kortstondige raklewe van Anastasia W’ gesien?? Wat ‘n klomp bol! Ek sien die stuk het nogal ‘n prys of wat gewen, laat my nogal wonder oor die klomp ‘kenners’ wat die pryse uitdeel.”

Nou wonder ek oor myself. Hoekom vind ek soveel aanklank by ‘n “walgstuk”? Hoekom walg dit my nie? Hoekom is dit vir my vol deernis en rou? Is my morele afstomping so akuut dat ek ʼn heel ander toneelstuk sien as my duidelik beter opgevoede en meer behoudende landgenote wat hier skryf? Is ek ʼn karakter in “Die groot vrot”?

________________________________

Die oorspronklike brief en kommentaar daarop is hier.

Bernard Odendaal. Allooi van woord en beeld

Thursday, July 9th, 2009

ALLOOI

van woord en beeld

Uitstalling: Volksblad-kunstefees, 14-19 Julie 2009

Produksies waarin woord- en toonkuns saamspan, is redelik bekend op Afrikaanse kunstefeeste. Minder algemeen tot dusver was egter produksies waarin tweegesprekke gevoer word tussen beeldende en woordkunswerke.

In opvolging van die visuele en woordkunsuitstalling “Uit die palm van die land” wat tydens die Volksblad-kunstefees van 2008 groot getalle toeskouers gelok het, word ’n soortgelyke uitstalling vir 2009 se fees beplan. Dis geïnisieer deur my en Ben Botma (hoof: Beeldende Kunste aan die Universiteit van die Vrystaat) en die titel daarvan is ALLOOI.

Vanjaar se deelnemende kunstenaars is gevra om indiwidueel en/of in pare (van 1 beeldende kunstenaar en 1 woordkunstenaar elk) telkens 2 nuwe kunswerke te lewer waarin beeld en woord geïntegreerd funksioneer. Laasgenoemde is wat die uitstallingtitel wil aandui. Dit gaan om ’n “samesmelting” van woord en beeld.

Ek hoop om mettertyd visuele materiaal oor die uitstalling op my blog te wys.

Geen riglyne t.o.v. tema, media, styl, en derglike is voorgeskryf nie. Die enigste voorwaarde wat gestel is, is dat elemente van sowel visuele as woordkuns in elke kunswerk moet voorkom. 

Waar net Vrystaatse kunstenaars aan verlede jaar se uitstalling meegewerk het, word die net hierdie keer wyer gespan. Bekende Afrikaanse kunstenaars uit ander dele van die land, asook twee digters uit België en Nederland, het ingestem om mee te werk.

Een van hulle is Ingrid Winterbach. Sy is al herhaaldelik vir haar Afrikaanse romans bekroon, maar is ook as beeldende kunstenaar werksaam. Dieselfde geld vir Carina Stander, ’n opgeleide beeldhouer wat in 2006 met die geprese bundel die vloedbos sal weer vlieg as digter gedebuteer het. Hulle lewer op indiwiduele basis werke waarin woord en beeld “saampraat”. (Een voorbeeld is te sien in ’n onlangse blogbyrae deur Carina op die Versindaba-webwerf hiernaas.)

Die Kaapse digter Danie Marais het drie pryse vir sy debuutdigbundel in die buitenste ruimte gekry, en span met die animasiekunstenaar Diek Grobler saam om twee van die verse daarin visueel voor te stel.

Luuk Gruwez en Willem van Toorn, die een uit België en die ander uit Nederland, het reeds baie louere ingeoes vir hul digwerk. Gruwez munt onder meer as portretdigter uit. Hy is gevra om Nederlandse woordkunsekwivalente daar te stel van twee Suid-Afrikaanse portreskilderye uit die kosbare versameling van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Dieselfde uitdaging is aan Van Toorn gestel, maar na aanleiding van twee Suid-Afrikaanse landskapskilderye.

Uit die groep Vrystaters wat verlede jaar met “Uit die palm van die land” vorendag gekom het, het die volgende dié keer as pare saamgewerk: Ben Botma en ek; Markus Steinmann en Hennie van Coller; Pauline Gutter en Jaco Jacobs; Janine Allen en Gilbert Gibson.

My en Ben se werk dra die titel Vlugskrifte uit ’n onverklaarde burgeroorlog. Dit bestaan uit pare selfoonbeelde en –tekste wat oor net 12 onlangse voorvalle van ernstige geweld in die sentrale Vrystaat-streek ‘berig’. Die essensie van koerantberigte is telkens as haikoes in sms-taal vasgelê. So wou ons, d.m.v. die ‘geweld’ van die gedronge vers- en taalvorme, iets vergestalt van die fisiese en psigiese geweldpleging wat mense moes ervaar.

In my gedigtekamer elders op die Versindabawerf is die 14 sms-haikoes te sien wat ek met die oog op die projek geskryf het.

Die uitstalling was reeds te sien tydens die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se eeufeessimposium op 24-27 Junie 2009 in Bloemfontein (soos Carina reeds op haar blog vertel het). Die moontlikheid bestaan dat die uitstalling na afloop van die Volksblad-kunstefees na Stellenbosch vervoer sal word vir ’n uitstaltydperk by die Universiteit van Stellenbosch.

 

Johann Lodewyk Marais. SENSAL se teleurgang

Sunday, July 5th, 2009

Hoe lyk die situasie in Suid-Afrika ten opsigte van erfenisbewaring (en dus ook die bewaring van bronne vir die bestudering van die Afrikaanse poёsie)? Ek wil enkele fasette aanraak in die lig van my eie ervaring by die destydse Sentrum vir Suid-Afrikaanse Letterkundenavorsing (SENSAL) van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) waar ek van 1983 tot 1990 ’n navorser was. Die rede daarvoor is dat daar tot dusver min gedoen is om ’n bestekopname te maak van SENSAL se rol veral gedurende die 1980’s, en om sekere fasette van die instelling se bestaan krities te beskou.

 

Toe SENSAL in 1981 met dr. Charles Malan as hoof tot stand gekom het, het die Sentrum weliswaar ’n voorloper gehad. Dit was die Dokumentasiesentrum vir Afrikaans, wat in 1970 binne die Instituut vir Taal, Lettere en Kuns onder leiding van prof. P.J. Nienaber geskep is en hoofde soos drr. P.G. du Plessis en Pirow Bekker aan die roer gehad het. Prof. Nienaber se privaat versameling Afrikaanse boeke het aanvanklik die ruggraat van die Instituut gevorm, terwyl hy ook ’n Bibliografie van Afrikaanse boeke en ’n Bronnegids by die studie van die Afrikaanse taal en letterkunde opgestel het om die wêreld van die Afrikaanse boek te karteer. Prof. Nienaber het egter groter planne gehad en NALN in 1973 in die hartjie van Bloemfontein tot stand gebring om as museum met uitstalruimte en as navorsingsentrum vir die Afrikaanse letterkunde te dien.

 

Veral onder dr. Du Plessis se leiding het die Instituut vir Taal, Lettere en Kuns ’n redelike profiel as bewaringsinstelling vir die Afrikaanse literatuur gehad. Sedert die stigting van SENSAL onder dr. Malan het die navorsingsprofiel egter enorm vergroot en is geywer om ’n leidende inset te lewer tot die stimulering en koördinering (’n geliefde SENSAL-oriëntasie waarvoor iemand soos prof. Merwe Scholtz geen ooghare gehad het nie) van veral literêrsosiologiese navorsing oor die Suid-Afrikaanse literature. Waar SENSAL nie self oor die kapasiteit beskik het om hierdie navorsing te doen nie, is van kundiges buite die Sentrum gebruik gemaak. ’n Ambisieuse én suksesvolle uitvloeisel van hierdie inset was die reeks van ses literêre jaaroorsigte, getiteld SA literature/literatuur, saamgestel deur dr. Francis Galloway.

 

Benewens vir literêrsosiologiese navorsing is ook ruimte geskep vir die bestudering van progressiewe Sestigerskrywers soos Etienne Leroux, Bartho Smit en Breyten Breytenbach. Gedurende hierdie jare was daar byvoorbeeld publikasies oor die esoteriese Leroux, waaraan ’n hand vol “uitgelese kenners” eksklusief meegewerk het, wat tot die hemelhoë kanonisering van dié skrywer se werk gedurende die 1980’s bygedra het. (Toe die Universiteit van die Vrystaat enkele jare gelede ’n seminaar oor Leroux aangebied het, is die vraag gestel of hy intussen vergete geraak het.)

 

Op 1 Oktober 1990 het SENSAL ophou bestaan en ’n jaar later is die dokumentasie wat intussen in die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Kunste-inligting bewaar is na die Staatsargief oorgeplaas, waar dit sedertdien geen verdere aandag gekry het nie. In hierdie tyd het formele navorsing oor die Suid-Afrikaanse letterkunde en die befondsing daarvoor in die RGN tot ’n einde gekom. Die einde van SENSAL, waaroor géén literêre haan gekraai het nie, het gekom toe dr. Tjaart van der Walt president van die RGN was en die organisasie te midde van snelle politieke hervorming en die meegaande navorsingstendensies ’n dramatiese koersaanpassing gemaak het.

 

Van die ideale tydens die RGN se herstrukturering was om groter legitimiteit te verkry (in daardie jare bykans ’n onbereikbare ideaal) deur navorsing te doen wat deur kliënte van buite befonds word. Terloops, indien genoeg geld vir letterkundige navorsing van buite die RGN beskikbaar was, sou dit moontlik gewees het om hierdie navorsing voort te sit. Weliswaar sou kunstenavorsing wat nie ’n sterk dimensie van gemeenskapsbetrokkenheid gehad het nie (iets soos dr. Gerard Hagg se kunstesentrums) voortaan met groot wantroue bejeën word.

 

Hierdie agtergrond is myns insiens belangrik wanneer na besluite gekyk word wat by SENSAL (en die RGN) ten opsigte van erfenisbewaring geneem is. In die lig van die groot klem wat op navorsing van ’n literêrsosiologiese aard gelê is, het SENSAL gou afskeid geneem van ’n navorser soos me. Rothea Olivier (iemand wat vergelykbaar is met NALN se me. Erika Terblanche), wat vir die aanwins en hantering van die dokumenteversameling verantwoordelik was. Me. Olivier (1983) se verhandeling oor onder andere die skryfster M.E.R. (onder studieleiding van prof. Elize Botha) en haar boek oor Jochem van Bruggen is as uit pas met die nuwe rigting in SENSAL beskou, terwyl die oorblywende deel van die Nienaber-boekery as van min waarde beskou is.

 

Gedurende my tyd is min navorsing oor die dokumente in SENSAL se besit gedoen en skenkings (soos dié van Bartho Smit, Henk Rall en Koos Prinsloo) kon nie meer tot hulle reg kom nie. Buite SENSAL is min opleiding aan studente gegee om hulle voor te berei om argivale navorsing te doen en talle verhandelings en proefskrifte is gekenmerk deur blootstelling aan nuwe teoretiese benaderings (onthou dit was ’n era van paradigmawisseling) en pogings om dit op aanvaarbare tydgenootlike skrywers se werk “toe te pas”. Dat figure soos proff. Nienaber en Jacques P. Malan (laasgenoemde die hoofredakteur van die vierdelige Suid-Afrikaanse Musiekensiklopedie) minder aanvaarbaar geword het en mettertyd binne die RGN as dinosourusse uit die verlede beskou is, was ’n logiese gevolg van hierdie aanpassings.

 

Boeke met Nienaber se ex libris voorin en Africana-boeke wat kort vantevore nog onder spesiale omstandighede bewaar is, het mettertyd vir R1 stuk op die RGN se uitverkopingstafel beland. Dit wat ons in Karel Schoeman se Afskeid en vertrek (1990) en Ingrid Winterbach se Die boek van toeval en toeverlaat (2006) oor die devaluasie van biblioteekversamelings gelees het, het in die wêreld daarbuite gestalte gevind. Dit wat binne enkele dekades tot stand gebring is, is “laat sterf”, om J.C. Steyn se woorde in die gedig “Vrede” in Die grammatika van liefhê (1975) te gebruik. Dit is beslis nie net die nuwe regering wat vir hierdie tendens verantwoordelik was nie.

Andries Bezuidenhout. Too old to rock ‘n roll…

Wednesday, June 17th, 2009

… too young to die. Ek dink dis Neil Young se woorde. ʼn Paar jaar gelede speel ek saam met die Brixton Moord en Roof Orkes by Oppikoppi. Ek het pas ʼn toer deur die land saam met die Belgiese sanger Guy Swinnen onderneem. Ons gig by Oppikoppi was die laaste in die reeks, maar hierdie keer saam met die hele band.

Guy het eers op sy eie gespeel en toe ʼn cover van “The guns of Brixton” saam met die orkes gedoen.

Toe is dit ons beurt. Mense kan maar sê wat hulle wil, blasé wees, maar dis goed vir die ego as ʼn hele paar duisend mense jou band se naam ritmies uitskree: “Brixton! Brixton! Brixton!”

Die vertoning was redelik chaoties, soos die meeste maar was, maar dit het nie gelyk of die skare omgegee het nie. In ʼn stadium het ek in die lug gespring en my hare agtertoe gegooi. En toe, in daardie oomblik voor ek weer op die verhoog land, het ek iets onthou: Ek het vanoggend bloeddrukpille gedrink.

Daardie oomblik, dáár in die lug bo Oppikoppi se verhoog, was ʼn keerpunt in my lewe. Ek het terug aarde toe gekom en kort daarna was die Brixton Moord en Roof Orkes iets van die verlede.

Dis nie ál wat die band se einde veroorsaak het nie. Om die waarheid te sê, dis maar ʼn klein deeltjie van die verhaal. Moord Greeff, ons drummer, is Kanada toe en ons het nie werklik daarin geslaag om die energie bymekaar te skraap om ʼn volgende CD op te neem nie. Soos Brixton Barnard gesê het: Ons het ʼn kabaretband van onsself geword.

Dit was lekker om hierdie naweek vir Bloedskande, een van Johannesburg se jonger bands, te sien speel. Veral omdat die sanger – Jan Smart – gereeld in die gehoor gesit het as ons gespeel het. Hy is een van die min mense wat die ironie in wat ons gedoen het raakgesien het.

Daar was baie mense by die Belavista Lounge. Na die gig het ons op die gebou se dak gekuier, ʼn konkavuur aan die gang probeer hou.

Daar was ‘n ongelooflike mooi vrou en ek het vir haar gesê sy lyk soos ʼn jong Ingrid Winterbach. Sy het gesê sy weet nie wie Ingrid Winterbach is nie. Daar was ook iemand wat presies soos ʼn jonger Blixa Bargeld (in die foto hier bo) gelyk het, maar nie geweet het wie Blixa Bargeld is nie.

Ek het nie eers probeer verduidelik nie.