Posts Tagged ‘Innie skylte vannie Jirre’

Marlies Taljard: Kollig op Hans du Plessis

Friday, October 14th, 2011

 

Hans du Plessis (foto) se nuwe roman, “Die pad na Skuilhoek” het pas verskyn. Ek het die roman ‘n minimalistiese kunswerk gevind wat, veral as gevolg van die gestroopte aard van die vertelling en die streng dissipline wat die digter homself oplê om slégs die essensiële te vertel, sterk ooreenkoms met die digkuns vertoon. Hoewel die fokus deesdae sterk op die narratiewe elemente van die digkuns val, vertoon narratiewe tekste natuurlik eweneens tot ‘n meerdere of mindere mate trekke van ‘n poëtiese werkwyse. Dat Du Plessis van poëtiese strategieë gebruik maak in sy romankuns, behoort nie te verras nie – hy is immers ook die digter van vyf digbundels, waaronder “In die skylte vannie Jirre” beslis die bekendste is.

Hans du Plessis is op 15 Januarie 1945 in Pretoria gebore. Hy matrikuleer aan die Afrikaanse Hoër Seunskool, waarna hy aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer. Aanvanklik gee hy onderwys, maar studeer deeltyds. In 1975 verwerf hy `n doktorsgraad in Afrikaanse Taalkunde aan UNISA, en daarna volg hy `n postdoktorale kursus in die linguistiek aan die Universiteit van Harvard. In dié tyd woon hy ook skryfskole in Iowa en Oklahoma by.

Na ses jaar as hoërskoolonderwyser, word Hans by Unisa as lektor aangestel en daarna senior lektor by die RAU. In 1981 word hy professor in Afrikaanse Taalkunde aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys en in 1990 Direkteur van die ATKV-skryfskool van die NWU se Potchefstroomkampus – die eerste volwaardige skryfskool aan `n Suid-Afrikaanse universiteit. Vanjaar was Hans se laaste jaar by die NWU, en daarom wy ek hierdie blog as ‘n afskeidsgeskenk aan hom.

Hans du Plessis het reeds 160 publikasies agter sy naam. In 1978 debuteer hy as skeppende skrywer met die digbundel Kleinwild. Sy akademiese publikasies sluit taalkundehandboeke en taal- en letterkunde-artikels in nasionale en internasionale tydskrifte in. Sy skeppende werk sluit vyf digbundels, drie jeugromans en vier romans in. Daarbenewens publiseer hy ook talle gedigte, rubrieke en kortverhale. Ses dramas en musiekspele uit sy pen is reeds by verskillende kunstefeeste opgevoer. Sy dertiende boek, Die pad na Skuilhoek, `n historiese roman, het pas verskyn by Lapa Uitgewers. Hy verwerf onder andere die C.R, Swart-prys vir tienertoneel, die ATKV-kinderboekprys, `n erepenning van die SA Akademie en die CBSA-prys vir godsdienstige werk vir die digbundel, Innie skylte vannie Jirre, waarvan daar nou reeds meer as 65 000 eksemplare verkoop is.

Ek het ‘n rukkie gelede met Hans gaan gesels en hom ‘n paar vrae gevra, hoofsaaklik oor sy digterlike oeuvre.

Marlies: Hans, jy het nou al verskeie digbundels gepubliseer, maar is ook bekend vir romans soos “Dis ‘n stukkende wêreld dié, my ou”, “Verlore Paradyse” en nou pas weer “Die Pad na Skuilhoek”. Beskou jy jouself primêr as digter of as skrywer van fiksie?

Hans: Dit is een van daardie vrae wat makliker is om te vra as om te antwoord, want ek het nog nie so daaroor gedink nie. Ek weet self nie regtig nie. Ek dink mens is nooit iets nie, jy is altyd iets aan die word. Vir my is die twee ook nie van mekaar te skei nie, omdat albei met die kuns van die woord te make het. Ek gaan sit nie en dink en besluit dan wat ek gaan skryf nie. Dit kom maar sommer vanself, of soms is daar iets soos `n opdrag. Ek dink ek is `n prosaskrywer wat nooit vergeet dat alles maar eintlik poësie is nie.

Marlies: Hoe beïnvloed jou digtalent jou fiksie? Of sou jy sê jou storietalent beïnvloed eerder jou gedigte?

Hans: Die twee beïnvloed mekaar.

Marlies: Jou bundel “In die skylte vannie Jirre” (Die Griekwapsalms) was besonder gewild onder alle lesers. Wat het jou gemotiveer om dié gedigte te skryf en hoe voel jy self oor dié spesifieke gedigte? Watter gedig beskou jy as jou heel beste?

Hans: Die Griekwapsalms het my van die begin af self verbaas, want dit het vir my aanvanklik nie anders as my ander gedigte gevoel nie. Vir my was dit maar net nog gedigte. Later het ek eers anders daaroor begin dink. Die Griekwapsalms het ontstaan terwyl ons met taalnavorsing oor hierdie variëteit besig was. Ons was met veldwerk in die omgewing van Douglas toe dit net by my opkom dat die Bybelse metafore vir hierdie segsmense ander sin moes maak. Hoe sou Dawid dit geskryf het as hy `n Griekwa sou wees? Dis al, dis die geskiedenis daarvan. Wat uiteindelik daarvan geword het, was grootliks genade. Die mens het, lyk dit vir my, nie altyd volle beheer oor talent nie. Daar is immers Iemand groter wat dit beheer. Beste gedig? Daaroor kan die digter nooit self oordeel nie. Gunsteling? Psalm 121:

 

Ek slat my twee oge op,

my kyk vang die verste kop.

Wavanaf sal my hulp nou kom?

My hulp is vannie Jirre, van Hom,

Hy’t nou die jimmel en Prieska gekom maak.

Sonner lat jou voete klipperse raak,

is hy skoene agterrie skaap,

Hy dink nooit nie eers oor slaap.

Sontyd is Hy hoed op jou kop,

innie nag hou Hy gevaarlikheid dop.

Hy’s mos nou da om jou op te pas,

jou siel hou Hy tissen jou ribbes vas.

Gan jy nou in of gan jy nou yt,

Hy’s oor jou, vi ewig en vi altyd.

 

Marlies: Noudat jy hopelik meer tyd op hande gaan hê, beplan jy nog ‘n digbundel? Of dalk ‘n nuwe roman? Lig asseblief die sluier so ‘n bietjie oor jou toekomsplanne.

Hans: Meer tyd is ook nie noodwendig ‘n goeie ding nie, want ons mors te maklik met oorvloed. Ek is besig met `n nuwe bundel Griekwapsalms. As dit goed gaan, kan dit volgende jaar by Lapa verskyn, bietjie meer as tien jaar na Innie skylte ….

 

Ander Afrikaanse wêrelde

Wednesday, January 20th, 2010

Een van die mooiste poësiebundels in Afrikaans is Innie skylte vannie Jirre – (Griekwapsalms en ander gedigte) deur Hans du Plessis. ’n Mens hoor so dikwels van hoe Afrikaners nóg nie genoeg “getransformeer” het nie, nog rassisties is, ensovoorts, maar hoe dikwels kyk ons na die morele prestasies van ons letterkunde wat onteenseglik wel daar is? En daar is baie, baie, baie.

   In die stilligheid transformeer die erkenning uit eie midde van wat Afrikaans is radikaal, en voortdurend, weg van “Slegs standaard-Afrikaans” na Afrikaans in sy vele gedaantes, en dit gebeur nou al oor ’n lang ruk. Boonop gebeur dit organies, wat beteken dat dit standhoudende transformasie is, nie die soort vlagswaaiende, stertswaaiende quick-fix trans-vir-maatjies van meeste regeringsinisiatiewe nie.

    Weet die ANC-regering hiervan? Waarskynlik nié. Hy lees nie Afrikaans nie, die grootste literêre taal in Suid-Afrika en die grootste inheemse literêre taal in Afrika. Want anders sou hy ook weet dat “rekonstruksie” binne Afrikaanse verband beter vaar as in meeste sfere in Suid-Afrika, veral daardie sfere onder regeringsbestuur wat meer lyk na swere.

    Net verlede jaar het Anton F. Prinsloo se Annerlike Afrikaans verskyn, ’n inventaris van Afrikaanse streekstaal. Die pragtigste verbeeldingse staan in hierdie boek opgeverf.   

     Du Plessis se Griekwa-psalms is ’n kragtoer wat nooit ophou om te vermaak en te verkwik nie. Die boek het derduisende eksemplare verkoop, so verstaan ek. Die verse is ’n herskrywing van gedeeltes uit die Bybel: Habakuk, Psalms, Die Spreuke van Salomo, en nog meer. Maar dit is nie slegs vertalings nie, dit is transponerings na die idiome en kultuur van die Griekwa-Afrikaanses. Veral moet sulke transponerings die toonaarde van ervaring binne die ontvangertaal in ag neem, en dis nie maklik nie. Daar is dalk sommige soorte reaksies op ervarings wat jy in die Bybel kry, of onder wit Afrikaanse mense, wat ander soorte reaksies gaan ontlok onder die Griekwas weens die feit dat reaksies op soortgelyke gebeure  kultuurgebonde is, en sal verskil.

   Du Plessis se transponerings inkorporeer die fonetiese aspek baie sterk, want dis belangrik dat die leser hierdie Griekwa-uitspraak kan “hoor”.

     As mens dink watter register van vertaling ter sprake is by so ’n transponering, verskil dit nie veel van wat betrek word in enige sogenaamde “oorspronklike” kreatiewe produk. Die oorspronklike digter transponeer tog ook sy of haar “ervaring” na “woorde”? En daar is aan die ander kant, vele sogenaamde “oorspronklike” produkte wat net blote naskrywings is van bestaande en maklik toeganklike ervaringsmodusse. Met ander woorde: “oorspronklike” gedigte is soms minder oorspronklik as sommige “vertalings” …     

     Só klink een vers uit De Plessis se Griekwa-psalms:

 

DIE GEBED VAN JABES

 

(1 KRONIEKE 4:10)

Jirre, stier tog nou U se wolklikheit,

en goi U se drippelse op onse koppe yt.

Gjee onse weidingse meerderder gras

en hou ons tog oener U se vlerkense vas.

Keer die beerlou* van onse lyfte af weg

en draai tog net onse lewe bietjie reg:

lattie hyl ons nie innie nagte so matlik slattie,

ennie trane ons nie oppie mirrag skierlik vattie.

 

*’n Aaaklige, mitologiese wese.

 

Hierdie is suiwer poësie van ’n hoë orde. En dit hoef nie terug te staan vir enige iets in standaard-Afrikaans nie.

     Maar nou moet mens jouself ook voortdurend onder die loep neem. (Dis nie net die regering wat rassisties is nie.) Soms is van ons beste, mees menslike reaksies eintlik rassisties. Dis vreeslik om dit te sê, maar dit is waar.

     Toe ek nou die aand die Griekwa-psalms aan ’n gewaardeerde vriendin voorlees, was haar reaksie: “Ag, my moeder, dis kostelik!”. Dit het my laat dink aan Nederlanders wat praat van standaard-Afrikaans as “een leuke kinder taalje”.

     Sy het haar in die Griekwa-taal verkneukel, nes Nederlanders in Afrikaans, maar wat gaan skuil in daardie waarderende opmerking van haar? Dit sê: “Watter pragtige kindermensies is die Griekwas nie!”

     Nee, die Griekwa-psalms is poësie in volle, volwasse en eie reg. Net soos die Griekwa-kultuur.

     Die volgende stap is dat ons die historiese geheuens van die “ander Afrikaanse” mense sal konsulteer om oplossings te vind vir ons huidige politieke probleme, want politieke projeksie is aan die rokspante van historiese ervaring vasgebind. Watter ander moontlikhede skuil daar nie in die ander Afrikaners nie? Dis nie moeilik om te sien dat die blanke Afrikaner se historiese geheue (en daarmee saam die omskrywing van die toekomsprojeksies wat hy in staat is om te vind) sterk ingegee is deur die Boereoorlog. Dus: guerillastryd, sabotasie, verassingsaanvalle, die tipering van opposisie as per definsie vyandig, eerder selfmoord as oorgawe, ensomeer.

     Hoe het daardie Afrikaners, wie se historiese geheue byvoorbeeld omskryf word deur eeue se onderwerping aan slawerny, histories met die omringende werklikheid onderhandel? Hulle nasate is steeds in ons midde, dit beteken hulle het oorleef, en hulle praat Afrikaans! Sal dit nie goed wees as ons bietjie gaan navorsing doen in die ander Afrikaners se histories geheuens nie? Daar skuil dalk oplossings van ’n verbeeldingsgehalte wat wit (middelklas) Afrikaanse verbeelding ver agterlaat. Dalk skuil ons enigste toekoms juis daar. Laat ons dit in gedagte hou voor ons hulle soos kinders benader.

     Die opvallende aspek van die Griekwa-psalms is dat dit geskryf is deur ’n nie-Griekwa, naamlik die digter Hans du Plessis. Van die groot probleme wat mens kry by die opvang van “naiewe” poësie (lees: poësie deur basies-geletterdes), het nie hier ter sprake gekom nie. Ek praat van probleme wat ter sprake kom as die digter self die een is wie sy/haar uitinge neerpen, en daardie digter self net basies onderlê is in die taal waarin hy/sy skryf. Onder sulke dilemmas sal tel: Hoe ingrypend mag ’n uitgewer herskryf? Wat tel as poësie? Kan basies-geletterdes ook digters wees? Baie mense sal sê, nee, jy moet die gereedskap van jou medium eers “onder die knie” hê (watter knie?). Helaas, daar is egter voorbeelde uit die verlede wat die teendeel laat blyk. Wat van bluesmusiek se woorde? Wat van volksrympies? Wat van die skaapwagtersliedere van die Karoo wat David Kramer opgeteken het? Wat van die “Alibama”?

     Dit bring my by verse wat geskryf is deur die township-digter, Yabadaka Shamah. Hy het die titelgedig geskryf van die versamelbundel My ousie is ’n blom (saamgestel deur myself). Dis ’n bundel “eiesoortige gedigte”, waarin ek juis iets te kenne wou gee van die uiteenlopendheid van die eietydse Afrikaanse digkuns (wat histories maar bra homogeen is). Die samesteller André Brink het in sy Groot Verseboek (2008) ’n besonder afwesige luister verleen aan hierdie uitinge. Dit terwyl sommige middelklasmymerings soms voorkom waarvoor liefs geen boom afgekap moes gewees het nie.

     Só lui Yabadaka Shamah se gedig “My ousie” (ousie hier beteken meisie, of beminde)

 

My ousie,

OO!, sy is so PRAGTIG, MOOI,

dáár is ’n duur geskenk

van die Hemel af, ja daar ons

praat van volle liefde,

my ousie het ’n goeie verstaan 

    

luister, haar stem is soet,

van ver af dit klank musiek

my ore kry heuning soet kos

as ons gesels, OO!, my ousie maak

my voël soos ’n koning

rêrig my ousie is ’n blom en

ek sal haar elke môre en naand met

’n haart vol van liefde naat maak

 

(dankie vir die liefde,

asb. bly net bietjie by my)      

    

 

Daar is oorgenoeg spanlyne in hierdie gedig om dit as gedig te kan eien.

     Maar ek vra myself: Is hierdie bloot geradbraakte Afrikaans, geskryf deur ’n Sotho-spreker wat daarvan hou om in Afrikaans te skryf eerder as in sy eerste taal? Of is die geradbraaktheid gelyk aan die legitieme wordende taalstruktuur van ’n alternatiewe Afrikaans? Het die geradbraaktheid ’n wyer sanksie, weens maatskaplike taalkreolisering? Of is dit net ’n indiwidu hierdie wat nie die taal behoorlik magtig is nie?

     My antwoord sal wees: beide. Hier is geradbraakte taalkreolisering wat reeds maatskaplike struktuur geword het binne hierdie gemeenskap (soos byvoorbeeld “my ousie het ‘n goeie verstaan”). Maar daar is ook die indiwidu se persoonlike taal-onbeholpenheid: “van ver af dit klank musiek”. Helaas, in beide voorbeelde so pas genoem is ’n skeppende gees te bespeur.

     Die beste voorbeeld is “’n haart vol van liefde naat maak”. In die geval van “haart” lyk dit of die digter se spelling, sowel as sy oor, “haard” (kaggel, soos in “huis en haard”) verwar met “hart”. In die geval van “naat maak”, bedoel hy oënskynlik “natmaak”, maar nie sonder spesmaas nie.

    Dit is duidelik dat ondanks die taalverwarring, hier die oor en die vindingrykheid van ’n digtende gees te bespeur is. Die seksuele konnotasie in “naat” is trefseker, so ook die dubbelbetekenis in die klankspel van “haart”.

     En dan is daar deurgaans bedrewe klankspel, hoofsaaklik vokaalryme. Wat beeldbeheer betref, kyk hierna: my ousie maak/ my voël soos ’n koning/

rêrig my ousie is ’n blom …/.  “Voël” verwys beide na penis sowel as ’n regte voël wat ’n blom besoek vir nektar. Die dubbelsinnigheid, en sekure plasing van “voël” ten opsigte van “blom” trek die reëls baie slim saam. Die konnotasie van nektar is reeds vooruit gesuggereer in “heuning soet kos” (reël 9). Dieselfde aanvoeling vir die gespanne reël is af te lees uit die mooi slotkoeplet.

     Dis ’n gespanne en musikale uiting wat mens meermale kan lees sonder om dit uit te put. Daar is nie ’n enkele fasiele, geykte of nageskrewe moment in hierdie skamele uiting nie.

     Nou ja, sommiges sal steeds redeneer dis nie ’n uitgemaakte saak dat alles wat hierdie outeur voortbring poësie is nie. Ek twyfel self. Maar dat in hierdie “naïewe” uitinge  ’n onnabootsbaarheid in sit, ’n vreemdsoortige eie stempel, is nie te betwyfel nie. Kyk maar na sy vreemde manier om twee titels aan sommige gedigte te gee, en nié sonder effek nie. Ook die gebruik van hoofletters (wat spruit uit karige skoolopvoeding).

   Oordeel maar self uit die verse hier onder.

   

                                                            PAS

 

NUWE DOMPAS

 

DING-DONG DING-DONG

 

“WIE IS DAAR?”

 

MÔRE BAAS,

EK VRA VIR DIE TUINWERK, ASSEBLIEF.

 

HET JY I.D.?”

 

NEE MENEER.

 

“O JAMMER,

EK KAN NIE HELP NIE.”

 

O ASSEBLIEF, MY BAAS,

EK IS BAIE HONGER EN

EK HET TWEE KINDERS EN ’N VROU,

ALMAL VAN HULLE KYK NA MY

OM IETS TE KRY.

 

“MAAR JY WEET MOS DIE I.D.

IS BAIE BELANGRIK,

SONDER ’N ID., NEE VERGEET,

HOE SAL EK JOU DAN KEN?

NEE, EK IS BAIE JAMMER

JY MOET EERS DIE I.D. KRY.

 

DAN KAN ONS PRAAT,

DANKIE, HOOR.”


                                                HOEK

 

VREDEHOEK

 

EK WIL IETS SKRYF

MAAR DIT GEBEUR NIE

DIE LEWE IN KAAPSTAD

IS BAIE STIL EN VREESLIK

 

DIE HOND WAAR EK BLY

IS VOL RASSEHAAT

SY HAAT MY NET

WANT EK IS ’N SWART MAN

SY WIL MY BYT

 

EN DIE KAT

IS OOK BANG VIR MY

SY SPAANDER ALTYD

AS EK MAAR NADER KOM


 

                                                                        WIT

 

WIT NÈ

 

WAT SOEK HIERDIE TWEE HIER?

DIE IS MOS ’N WIT BAR.”

 

“EI, JAH-MAN, HIERDIE PLEK

IS VOL VAN DIE WIT WOLF.”

 

“JY MOENIE WORRY,

ONS SAL HULLE SLAAN MET AL KAIDA,

WAG MAAR.”

 

“MIDDAG ASSEBLIEF, JA!

ONS KOM VAN DIE ANC

ONS HET NET GEDINK ONS KAN

’N PAAR KOELDRANKE KRY.

 

JY SIEN MOS ONS SAKKE BULT

SO ONS MOET AL HIERDIE MBOWENI*

NOU SPANDEER.

 

JY KEN HOE WERK KORRUPSIE,

JÝ WEET MOS.” 

 

*beteken “geld” in die townships, dikwels onwettige geld (vernoem na die voormalige president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, Tito Mboweni).


 

                                                POINT

 

POINTLESS

 

APARTHEID WAS WIT OP SWART.

SO, AS EK NOU SKRYF MET ’N SWART PEN

OP ’N WIT PAPIER

WAT NOEM JY DIT?

IS DÍT MESKIEN VRYHEID?

EK WEET NIE.

 

JALOERS IS SWART OP SWART,

MAAR WAT IS DIT?

EK HOOR NOU SWART EN SWART

IS BROERSKAP,

EN WIT EN SWART

IS ’N SPAN.

 

O EK HOU MOS SO VAN

TEE SONDER MELK!

SIEN, DÍS SWART,

 

IS EK DAN NIE VRY NIE?


 

                                                VUUR

 

WAGVUUR

 

OORLOG BEGIN HEEL EERSTE

IN DIE GESIN EN DAN BREI DIT UIT

NA DIE GEMEENSKAP EN DIE NASIE

TOT IN DIE WÊRELD

 

WANT HOEKOM?

DIE GEREEDSKAP VAN OORLOG WORD GESMEE

IN DIE ONMIDDELLIKE FAMILIE

 

MENS KAN SÊ DIE OORLOG GIS HÍÉR

 

RONDOM ONS

IN DIE MENSE WAT STERF

IS AL DIE GESNEUWELDES