Ingeprent op woorde
Tuesday, January 19th, 2010Vir ’n oomblik kon ek nie onthou wie was die man met die ganse nie. Die man wat wou wys en bewys hoe inprenting werk by diere, in besonder pasgebore of pasuitgebroeide diere. Na ek deur ’n paar name in my geheue geblaai het (Linnaeus, Pavlov, Robert Ardrey), gaan blaai ek toe maar deur ’n paar boeke in my kas. Konrad Lorenz, dis die man. Hy het ganskuikens met die uitbroeislag op homself laat inprent, sodat hulle hom as hulle gans-ma (en ganse ma?) beskou het en oral gevolg het.
Ek dink dié inprent-ding is min of meer die metafoor waarna ek soek om iets vreemds te verduidelik. Want – om die storie van “woordgebore” bietjie verder te vat – ek reken my bewussyn (of onderbewussyn) is ingeprent op woorde.
Eendag lees ek in ’n artikel oor geheuetruuks dat mens prentjies moet gebruik om feite te onthou. Want, sê die skrywer, dis ’n wetenskaplik bewese feit dat mens in beelde dink. Wanneer jy byvoorbeeld aan iemand dink wat jy ken, sien jy daardie persoon in jou gedagtes. ’n Bewese feit? Nie aan dié kant van my oë nie. Ek dink in woorde. Ingeprent daarop, reken ek.
Wanneer ek aan iemand dink, sien ek sy of haar naam, letterlik uitgespel in my kop. Selfs as ek aan my ouers dink, sal ek die woorde “Mamma” of “Pappa” in my gedagtes sien, eerder as hul gesigte. Ek sal sien “Pretoria” of “Kaapstad” eerder as ’n beeld van die Uniegeboue of Tafelberg. Ek sal, bewus van my oortreding, die Engelse woorde sien wat ek soms in gesprekke gebruik – obviously, anyway. Ek het probeer dink of ek nie in elk geval hele sinne so in my gedagtes sien afspeel nie, asof dit op ’n skerm uitgetik word. Maar dit is ’n bietjie soos om jouself te kielie, jy kan nie werklik tot ’n gevolgtrekking kom nie.
Ironies genoeg, is dit nie maklik om iets nuuts te laat gebeur in so ’n woordkop wat heeldag in woorde week nie. Jy het iets nodig om alles deurmekaar te krap, soos ’n Scrabble-bord waaroor die kat gehardloop het. Dit is vir sulke oomblikke wat ek wag, hier tussen die lettervenstertjies van my skriptorium. Kom, Kietsie-kietsie …




