Posts Tagged ‘insekte’

Hannalie Taute. Orde

Thursday, May 9th, 2013

Ek kyk op en af na die insekte….waar sal my hulp vandaan kom?

In my hunkering na ‘orde’ asook my seunskinders se nuuskierigheid en opgewondenheid oor insekte het ek nie te lank gelede ʼn reeks insekte (15) uit elke ‘orde’ geborduur.  Die reeks was ook geinspireer deur die boek “Ons eie insekte’ maar voor dit nog deur die boek “Siegfried” deur Willem Anker waar een van die karakters ook behep was met insekte. Om op binnebande te borduur was gedeeltelik geinspireer deur die boek: “What wives wish their husbands knew about women”.

ʼn Paar dae glede lees ek hier dat daar gedigte van Johann Lodewyk Marais, geinspireer deur insekte, geplaas gaan word.

Hier volg een:

Reusestokinsek. Palopnus reyi deur Johann Lodewyk Marais

Heelnag lank beweeg sy van tak tot tak
en vreet bietjies-bietjies van die lower
voordat sy met dagbreek doodstil bly sit.
Wanneer sy opskrik, flits haar vlerke oop
en word ’n dubbele mopanieblaar.

“Orde- Phasmatodea” borduurwerk op rubber/binneband

“Die wyfie le van 100 tot 1300 eiers op ʼn sorgelose manier deur dit bloot op die grond te laat val.  Omdat hulle min rondbeweeg, ontstaan die probleem dat ʼn wyfie dikwels nie ʼn mannetjie kan vind nie. Gevolglik is dit ʼn algemene verskynsel by stokinsekte dat die wyfie kan voortplant sonder dat sy gepaar het, en soorte is selfs bekend waar mannetjies glad nie bestaan nie.” uit die boek “Ons eie insekte

Ek sien uit na Johann se ‘miskruier-geinspireerde’gedig wat teen die 14de Mei op Litnet geplaas gaan word.

Terug op my eie planeet was dit verblywend dat ek vandag ʼn boodskap kry van Sjaka S Septembir met nog ʼn gesprek (deel twee) tussen my en hom na aanlyding van my gesig vermommings (facepaint Fridays on Facebook).  Die gedeelte bevat ook insekte! Hoe het hy geweet van my beheptheid met entomologie vra ek myself….

Swart hanswors deur Sjaka S Septembir

galbraak primadonna
haat vonkel in jou glimlag
pyn strek vanuit die martelkamers van jou stem
jy’s die koningin van die luise & spinnekoppe
jou gedagtes kokkerot skarrel in alle rigtings
swart hanswors, braak nog bou-stene vir hierdie aarde
met sy verdorde hart
kots nog mense in wording
hou jou kraan van pyn vol oopgedraai
om ons met jou perdeby gemoed te verswelg na niks
na, minder as stof
vervuil elkeen van ons se laaste atoom oorblyfsels
& lag jou mal lag
wanneer alles
absoluut alles
in die donker ewigheid
van niks
wegsink
totaal verdwyn
soos die laaste sweempie stank
van weggespoelde kak

(gedig vir die swart masker)